Die Pilanesbergkom is vanjaar besonder mooi in die laatsomer. Wuiwende grashalms wat heuphoogte op die vlaktes staan, getuig van goeie reëns in die vroegsomer. Vir diegene wat bloot kom leeus soek is dit nie die ideale scenario nie, maar vir die wat die skoonheid van ongerepte Afrika kom inadem, kan jy geen mooier skilderdoek kry nie.
Oral wei reusetroppe rooibokke, blouwildebeeste en sebras. Langnek-kameelperde vreet stom aan die blare van die hoogste toppies. Die logge ou grotes, renosters en olifante sien jy met gereelde tussenposes. Die hartklop van Afrika is immer hier teenwoordig.
Wat my besoek aan die Pilanesberg-natuurreservaat vanjaar ekstra spesiaal maak, is my reisgenote. Albei my ouers, reeds in hulle laat sewentigerjare maar springlewendig en gesond, my broer en sy vrou wat in die Wildernis, Suid-Kaap woon en my suster wie se woonplek deesdae Köln, Duitsland is, is almal hier om heerlik saam te kuier.
Soggens vroeg word die koffieflesse volgemaak en wanneer die hekke oopgaan, is ons in een of twee voertuie op pad om wild te soek. Die vier koedoekoeie wat ons onverwags op ’n draai aantref, laat almal se harte vinniger klop. So fyn en manjifiek staan hulle daar, afgeëts teen die kliprantjies. Om die volgende draai wag ’n renosterkoei met haar kalf so naby aan die pad, ’n mens kan byna aan hulle raak.
Voordat die son se kop te hoog in die lug is, word daar iewers by ’n piekniekplek stilgehou om ’n heerlike noenontbyt aanmekaar te slaan. By Fish Eagle is die inwonende bedelaar ’n astrante patrysie wat reg staan om enige krummel wat van die tafel af val, met ’n verbysterende spoed op te pik. Na liggaam en gees versadig is, vertrek ons dan weer ’n rukkie later, steeds op soek na die katte wat ons altyd ontwyk.
By twee geleenthede gebeur dit dat net ons vyf Steenkampies in een motor ry. Talitha, Francois se vrou, het werk om te doen en sy bly dan in die kamp agter. En so ry pa en ma en boet en sus en ek kruis en dwars deur die reservaat terwyl ons heerlik kuier.
Wat ’n besoek aan die park so spesiaal maak, is dat ’n mens jou dag se agenda na willekeur kan aanpas. Woensdag is ons slaggereed om vir ontbyt te braai maar uiteindelik sit ons te lank en wyn drink op die pragtige Bakubung Lodge se stoep, en ons besluit om sommer vir ’n ligte middagete stil te hou by Pilanesberg-sentrum. Dis daar waar die watergat en die soutlek sorg vir immer teenwoordige besoekers, meestal blouwildebeeste wat malend om die homp sout draai. Langnek-kameelperde doen hier vlak voor ons ’n grasieuse buiging om by die water uit te kom. Astrante apies spring rats nader om niksvermoedende toeriste se kos uit hulle borde te steel en word dan met groot fanfare deur die personeel verwilder.
Vir ons beplande piekniek die volgende oggend kies ons ’n roete na die westekant van die park. Een van die paaie in die omgewing staan bekend as die Moloto-roete. Die roete is weliswaar sonder die taxi’s en busse wat teen ’n verbysterende spoed voortbeur op die gelyknamige pad noord van Pretoria. By ’n watergat wag daar byna ’n noue ontkoming toe ’n alleenloper olifantbul skielik vir ons laat weet ons versper sy voetpad na die water. Blitsvinnig skuif Francois die motor en ons kyk rustig verder na die lui seekoei wat uit die water dryf en wei-wei op die oewer in die kort grassies aanbeweeg.
Vanoggend is dit weer net ons vyf in my broer se voertuig. Ons hou bo by die Moloto-piekniekterrein stil vir ontbyt. Aangesien ons die enigste gaste by die piekniekplek is, word daar vrolik gelag en gekuier. Daar is byna konsternasie toe ons besef dat my moeder die rooster en die pan waarin ons die eiers moet bak, agter in my pa se motor vergeet het. Plan B word vinnig in werking gestel. Daar is gou-gou vyf leë bierblikkies beskikbaar, en op die vuurmaakplek wat deur die park voorsien word, kook ons al die eiers gaar. Perfek gekookte eiers: wit hard, geel sag soos nie eers my elektriese eierkoker in Centurion dit kan regkry nie. Ons skerts en lag en wonder verspot of ons die foto’s vir Castle Light moet stuur want dis danksy ons Castle Light-bierblikkies wat ons vanoggend die eiers kon gaar kry.
Wat ’n wonderlike oggend word dit nie. Dis nie aldag dat ’n mens die kans kry om alleen met al die mense met wie jy kleintyd ’n huis gedeel het te kuier nie. ’n Mens vergader mos aanhangsels langs die pad. In die koelte van ’n groot ou wildevyeboom skuil ons teen die son wat ongenadiglik neerbak. Net Heleen, wat pas deur die Europese winter geworstel het, is bereid om die son te trotseer. Daar en dan wens ek ek kan die oomblik in ewigheid vasvang. Wens ek ek kan die klok met sowat veertig jaar terugdraai om weer eens die geborgenheid en veiligheid en kommerloosheid van my kinderdae te ervaar. Tussen die gelag en nonsens praat besef ek tog hoe bevoorreg ek is om hierdie ervaring te kan geniet.
Uiteindelik word dit tyd om te ry. Naby aan die piekniekplek is daar ’n reeks uitkykpunte bo op die plato. Die son is reeds besig om teen die kim af te sak en die Mankwe-dam lê soos ’n blink spieël onder in die kom. Meteens val my oë op die woorde wat op ’n bronsplaatjie op die bankie by die uitkykpunt, aangebring is: “Herinneringe, mooi herinneringe, is die droë brandhout wat elke mens vir hom versamel vir die donker winternagte wat vir een en almal van ons êrens op die ver paaie wag.”
In my hart is daar vandag ’n stille vrede want ek weet al gaan ons binnekort weer in verskillende windrigtings uitmekaar spat, sal die herinneringe, wat ons hierdie week soos droë brandhout bymekaar gemaak het, altyd genoeg wees om die vuur in ons harte hoog te laat brand.
The post Pilanesberg in die laatsomer appeared first on LitNet.