Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 432

Brandstigting

$
0
0

Ek weet nie of dit net die ouderdom is nie, maar in die laaste twee maande het ’n paar goed by my ordentlik uitmekaar geval. Eers beseer ek my voet so erg, dat ek na ’n maand nog steeds rondhuppel, en toe, waarskynlik te danke aan die krukke, slaap ek een aand boonop my skouerblad in ’n klipharde knop.

Skarrelkat is immobiel. Wat ’n krisis!

Dis nie al nie. Toe ek weer sien, bevind ek myself op Tinder. Na ’n lang jaar van oormatige partytjies en ’n lang verhouding se einde, besluit ek om te kyk wat daar buite aangaan. Hoe lyk dit met die romanse? Waar is die ridders vir die dames op krukke? Goeiste! Niemand het my voorberei nie, nogtans gee ek dit ’n kans.

So ry ek toe die een Saterdagaand na ’n afspraak. Die jong man wat ek gaan ontmoet, is ’n kulkunstenaar en het die aand ’n vertoning in die Wynland. En dis in ’n woud, met buikdansers … Dis eenvoudig net te aanloklik om nie by te woon nie. Ek skerts met my vriende: “Ek weet ongelukkig nie of ek die aand in die helfte deurgesaag gaan word, en of hy geld agter my oor gaan uitpluk nie.” ’n Paar lag in hul mou.

Na die vertoning gaan drink ons ’n glas wyn. Hy noem, met ’n ongemaklike laggie, dat dit nogal ’n watergat vir die gepeupel (studente) is. Ek steur my nie daaraan nie, want ek kom van Bellville en onthou met nostalgie die Starlight Diner van destyds. Boonop was daar ’n kroeg in menige huis.

Tog, die volgende dag, bly die voorval my by. Die pronkende pouvere wat ek moes beleef. Ek besit nie eens ’n stofsuier nie, wel ’n besem. ’n Vrou van 40 sonder ’n oond of mikrogolfoond, met slegs twee gasplate. En ek begin wonder of ek hiervoor kans sien. Veral toe die boodskappe op my foon begin deurkom soos koeëls uit ’n AK47. Die een na die ander instroom. Vrae. Stellings. Spelfoute. Verskonings vir spelfoute. Hoe gaan dit? Al weer. Wat maak jy? Nou? En nou? En … nou? Ek skakel my foon af en gaan spuit my tuin nat. Net om later in te klok toe goeie maniere my aanval. Ek het in die tuin gewerk, dit gaan baie goed met my. En die data word afgeskakel voor die koeëls weer kom.

“Ek het jou op Tinder ontmoet en ons het op ’n afspraak gegaan. Jy moet nou met my praat!” Argh!

Dis juis daardie oggend wat ek wakker word met die pyn in my skouerblad. Ek gaan deur die dag sonder om te veel daaroor te tob, want dit sal mos soos die dag vorder verbeter? Toe nie. Dinsdag gaan ek dokter toe, en Donderdag sit ek verlof in vir Vrydag, sodat ek die hele dag met ’n warmwatersak agter my skouer en vol pille op my bed kan lê.

En Tinder biep en blaas in die agtergrond. Mense word kwaad, want ek is nie heeltyd daar nie. Antwoord nie. “Unmatch” my. Gooi hul AK47s in die water. Ek gluur sylangs na my foon.

Snaaks die skuldgevoelens wat mens ontwikkel … Soos ek wat in die week nie vir die kulkunstenaar kon vra om asseblief minder boodskappe te stuur nie, en eerder net my data sporadies afgesit het. Net so het ek die Donderdagaand sleg gevoel om ’n fliek te kanselleer, want ek het dit immers twee weke vantevore gedoen. Ek ry dus kiertsregop dorp toe, net om daar te kom en te hoor my vriendin het hierdie keer gekanselleer. Dit kom van mens se data afsit. Vies vir myself besluit ek tog om dan nou maar die fliek te kyk, al is die stoel ongemaklik. Tipies sukkel hulle met die klank en besluit om dalk ’n ander fliek te wys. Ek is te moedeloos om kwaad te raak en het reeds ’n glas wyn gekoop wat moet klaar, maak nie saak watter fliek vertoon word nie.

Na tien lang minute werk die klank tog wel en ons kyk en luister. Dis slegs 45 minute lank, maar die fliek gryp my verbeelding aan en roer ’n snaar wat ’n dekade laas geroer is. Die nomadiese malkop in my ontwaak. Daar stap twee jong mans elkeen met ’n branderplank oor strawwe terrein na ’n verlate baai om vir nege maande in die wildernis noord van die Arktiese Sirkel te gaan bly in ongure weer. Sonder sein en sonder ’n blyplek (hulle bou ’n skuiling uit strandrommel) en kos wat hul gratis kry omdat die vervaldatum verby is.

Dis pragtig verfilm. Maar wat my bybly is dat die een outjie sê daar is so min wat gebeur, 'n mens het die tyd het vir daardie min om in te sink. Daar is niks wat daardie gedagte in die rede val nie. Die min hou lank en het betekenis.

Ek stap uit die flieklokaal en gaan staan alleen en opgewonde op die sypaadjie. Ek weet wat ek wil hê. Dis beslis nie Tinder nie. Daar is ’n ander vlam wat ek weer aan die brand wil kry. Dit sal my skouer ook oplos besef ek. Want om vir ses maande in Suid-Amerika rond te reis beteken ek kan nie meer agter ’n lessenaar sit nie. Dit beteken ek sal ’n ander plan moet maak om ’n gereelde inkomste te kry in plek van ’n standaard salaristjek. Ek het ’n passie herontdek wat behoeftigheid gaan kortwiek.

My partytjie “FOMO” verlaat my. Skarrelkat gaan krul op ’n bed by die see vir die naweek en spin in die beddegoed in. Sy lag haar bors los, eet vars vis en drink goedkoop wyn in skurwe kroeë met uitsigte oor die see soos die son sak. Stap met die strand langs en kry haar klere en hare sopnat.

Weer tuis sê ek vir die kulkunstenaar toe hy weer sy AK47 afvuur, “Ek was see toe en het ’n nuwe mens teruggekom. Tinder is nie my tipe avontuur nie.”

Hy’s vir ’n oomblik stil. “Vir my ook nie.”

Melanie Carstens

The post Brandstigting appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 432