Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Jammer, Sjeherazade

$
0
0

Sjeherazade was nog altyd my rolmodel – haar verbeelding! haar vernuf! om 1001 nagte aanmekaar stories uit haar duim te suig om haar eie lewe te red! - maar ek brand hoegenaamd nie van begeerte om haar hartland te leer ken nie. Die fabelagtige Persië van weleer, wat deesdae Iran genoem word, klink nou eenmaal nie soos 'n land waar 'n parmantige vrou soos ek tuis sou voel nie.

Die naaste wat ek ooit aan Sjeherazade se wêreld gekom het, was twee dae in Qatar, net oorkant die Persiese Golf. Nes Iran is Qatar ook 'n Midde-Oosterse woestynland waar jy met 'n sweep geslaan of met klippe doodgegooi kan word vir 'n wye verskeidenheid van 'misdade' soos om wyn te drink, spek-en-eiers te eet of homoseksueel te wees. En waar vroue min of meer dieselfde regte as honde het. Kortom, nie my soort plek nie.

Maar ek moes onlangs haastig van Frankryk na Kaapstad vlieg en die enigste bekostigbare vlugte was met Qatar se nasionale lugredery ...

Ter wille van my beursie het ek dus besluit om my vurige verontwaardiging oor Sharia-wette lank genoeg te sluk om 'n uur of drie op Doha se lughawe vir 'n aansluitingsvlug te wag. Ek sou darem seker nie op 'n internasionale lughawe gestenig word vir my vele sondes nie.

Maar toe vertrek die vlug ure laat uit Parys, en teen die tyd dat ons in Doha land, het die lughawe soos 'n ramptoneel gelyk. Blykbaar is ál die lugredery se vlugte daardie dag vertraag, en honderde passasiers het met wasige oë rondgedwaal op soek na hulp, soos oorlewendes ná 'n bomontploffing. Ander het geskel en geskreeu en die ouens met wasige oë uit die pad gestamp om eerste by 'n toonbank uit te kom. Nie dat dit hulle gehelp het om uit Doha te ontsnap nie.

Die meeste van ons kon eers die volgende dag weer 'n vlug vang.

Ons is beveel om in 'n ry te gaan staan om 'n tydelike visum te kry sodat ons die lughawegebou kan verlaat. My protes dat ek nie die lughawe wíl verlaat nie, het op dowe ore geval. Met my splinternuwe visum vir gedwonge toerisme het ek in nóg 'n ry beland, dié keer om te wag vir 'n bus wat ons na 'n hotel sou vervoer.

Die busbestuurder het na 'n verlate parkeerterrein gery, stilgehou en uitgeklim om 'n sigaret te rook. 'n Kwartier later kom ons spul passasiers van verskeie lande agter ons bestuurder het spoorloos verdwyn – en ons is in die bus vasgekeer want die outomatiese deure kan nie van binne af oopgemaak word nie. Ons het benoud teen die ruite gestamp en al hoe harder om hulp geroep, maar daar was geen siel in sig om ons te hoor nie. Toe 'n breedgeskouerde Skandinawiër begin om die nooduitgang se ruit uit te stamp, kom 'n ander busbestuurder doodluiters aangeslenter, klim in en ry verder.

Ons het hom in minstens 'n dosyn tale probeer vra wáárom sy kollega ons soos misdadigers in 'n vangwa toegesluit het, maar hy het sy skouers opgetrek en voorgegee dat hy nie een van ons tale kon verstaan nie.

Daarna het hy ons aan die buitewyke van die stad afgelaai, voor 'n gebou wat soos 'n skoolkoshuis op die Suid-Afrikaanse platteland lyk. Ek belowe ek is nie 'n hotelsnob nie. Ek het al salig geslaap in vlooihole in groot Europese stede en in agterkamers in Mexiko en in Amerikaanse motelle wat aan Hitchcock se Psycho herinner. Maar hierdie hotel met oranje-bruin dekor uit die jare sewentig en hysbakke wat nie behoorlik werk nie, was in 'n klas van sy eie.

Die soort plek wat alleen draaglik is as mens 'n bietjie dronk is - om Uys Krige aan te haal - behalwe dat drank natuurlik buite die kwessie was in 'n Sharia-land.

Ek het na die eetsaal gevlug om 'n plaasvervanger vir 'n glas wyn te vind. In die middel van elke tafel het 'n boks snesies soos 'n blomrangskikking gestaan, en teen die muur was 'n houer met kookwater en pakkies sigorei-poeier en 'n enkele blikkie soet gekondenseerde melk. Toe ek besef dat regte koffie ook onverkrygbaar is, het ek 'n taxi gaan soek om die strate van Doha in te vaar. Nie omdat ek Doha wou verken nie, maar omdat ek dringend koffie wou drink.

Die taxi het my voor die tradisionele mark, Souq Waqif, afgelaai. Teen die tyd dat ek agtergekom het daar is geen geur van koffie (of enige teken van lewe) in die smal stegies nie, het die taxi so spoorloos verdwyn soos die busbestuurder vroeër. Daar was geen ander taxi's in die omgewing nie, want die mark sluit tussen twaalf en vier smiddae. Presies die tyd toe ek daar opdaag.

Maar volgens 'n stadskaart op my slimfoon was ek binne stapafstand van die museum van Islam-kuns. Die kunsversameling is glo asemrowend, maar wat my aan die stap gekry het, was die hoop dat die museum 'n ordentlike koffiekroeg sou hê. Ek het omtrent 'n uur gestap − sonder om 'n enkele ander voetganger teë te kom.

Dit het soos 'n spookstad gevoel, hoë nuwe kantoorgeboue langs breë nuwe strate vol blinknuwe motors, maar g'n mense buite te sien nie.

Toe ek eindelik by die indrukwekkende spierwit museumgebou uitkom – ontwerp deur dieselfde Pei wat Parys se befaamde glaspiramide opgedroom het – kon ek stééds nie koffie kry nie. Die museum is toe op Dinsdae. En my onvergeetlike dag in Doha was 'n Dinsdag.

Ek het 'n taxi terug na die hotel gehaal en Al Jazeera-nuus gekyk tot ek die volgende oggend Kaapstad toe kon vlieg.

Met die retoerreis moes ek weer 'n volle dag in Doha wag – maar hierdie keer het ek volstrek geweier om die lughawegebou te verlaat.

Ek glo nie ek sal dit ooit nader aan Sjeherazade se wêreld waag nie. Ek wéét nou ek sou nie 1001 nagte in haar Persië oorleef het nie. Eén nag in 'n dranklose, koffielose Midde-Oosterse hotel was genoeg vir my.

The post Jammer, Sjeherazade appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Trending Articles



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>