Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all 429 articles
Browse latest View live

Die boomorkes

$
0
0

Die wind het ’n lugambulans.

Waar dit lyk of die bries gaan lê, kry dit nuwe lewe onder die wieke van swerms swaels, duiwe en hadedas. Briese in die lanings hoë bome ken dit goed. Soms dans dit met die wolke of help ’n vuurtjie om op dreef te kom. Soms vee dit net oor die gehawende gesig van ’n stad en dan haal dit weer asem. Telkens sorg dit vir musiek.

Soms bring die wind drome, soms is dit self ’n droom, want kyk waar waai dit oral: Rottang is die oerskedels van tafels en stoele wat al jare lank op grasperke wei. Vandag sien jy nie meer hul kragtige skofte, die stokkiesoë en die maanhare waarop die wind eeue gelede harp gespeel het nie. Soveel is tot niet of uit die oog onder die skrikkelbewind van horlosies. Groen longe word met teer verstop. Die blou dam hou darem aan met eindeloos uittorring aan die sand.

Meeue ryg krysend die ligblou voor die aand los. Wanneer die nag oor die wêreld trek, is die openinge in daardie digte potblou wol al wat skyn.

Bome is die seisoene se stoorplek vir takke, blare, neste, hangmatte, vryers en stormlampe.

Valleie verbeel na binne en wys gestolde wolke van klip na buite. Vroegblou sal die duiwe aan die bome bot en hul beddegoed van skaduwee los op grasperke se gehawende ferweel. Dan begin suikerbekkies gate in die tyd pons en kosbare sekondes in blomkelke bêre.

Êrens, in ’n droom tussen ander, is ’n wier van ’n vrou. Sy borsvoed ’n ruimtetoeris met maanwater. Terselfdertyd voer sy beesharte vir haar papegaaivisse wat hulle steriel sal maak. Uit estetiese oorwegings wil sy nie die mooi duur bak laat oorbevolk nie. Bo die mat waar ’n sonkol ’n towertapyt vir die ruimtetoeris maak, hang ’n bewertjie gemaak van vlindervisse en meermin-miere. Die wêreld van ’n ruimtetoeris is die heelal.

’n Ent weg van die vrou se huis staan ’n groot boom. Swaeltjies het daar nes gemaak soos jy nie kan glo nie, uit ’n verwaarsloosde musiekwinkel daarnaby of een waarby ingebreek en toe so laat staan is. Kitaarsnare roes in die weefwerk van riete en blare; elke nes uitgevoer met versnipperde bladmusiek. Uit een nes staan ’n plektrum soos ’n vin, ’n windboot reg vir al die strome. Die swaeltjies, besige orkeslede, uitgevat in hul konsertklere, bou hul neste uit halms vergeet, halfklaar drade van gesprekke en enigiets wat sou oorwaai. Hier en daar pik ’n orkeslid na ’n stukkie bladmusiek.

Die dirigent daag op, die dirigent wat al vir eeue die werke van die grotes laat opklink. Hy het al die wêreld se beste struikkwartette, die ensembles eike en denne en die knoetsige soliste teen hoë kranse sónder bladmusiek gedirigeer.

Die dirigent kom ingewaai oor die boom vir ’n werk vol melankolie, want uit die bladmusiek van die boom se tuisorkes kry die wind net die stiltes tussen die note om te speel. Bo-oor die applous van blare bly vleg die wind die stilte met die nag.

 

The post Die boomorkes appeared first on LitNet.


Betaaldag

$
0
0

Buite breek die dag.

Iewers in die huis spat ruite aan skerwe.

 "Ag, Here, wat kan dit wees?" wonder Helder waar sy in die bed lê. Sy draai die volume op die bedradio effens af. Elke oggend luister sy na RSG, reeds van vroegdag. Al ‘n gewoonte vir jare. Die landbouprogram, daarna "Op die veepos", die oggendoordenking. "Jy moet jou dag reg begin," het haar oorlede pa altyd vermaan.

In hierdie land het jy gebed nodig. Gebed en geloof - teen die wanhoop in.

Sy kom moeisaam orent. Trek die nagrok, wat gedurende die slaap opgeskuif het, tot oor haar knieë af. Haar voete vind die pantoffels langs die bed en sy staan op en beweeg na waar sy die geluid van die brekende ruit gehoor het.

Deur die sitkamer stap sy na die kombuis, sien die flenters glasskerwe langs die yskas lê. Die venster staan oop en die gordyn is losgeskeur van die raam.

Dan, skielik, voel sy die arm om haar nek, kry sy die reuk van sweet. Sy probeer haar loswoel uit die greep, maar dit veroorsaak net dat hy sy klem versterk. Hy haal swaar asem. Sy begin hoes, sukkel om asem te haal. "Asseblief," pleit sy as sy vir ‘n wyle asem kan kry. En net so styf as wat hy haar vasgehou het, laat hy sy greep om haar nek gaan. Sy steier vooroor, maar behou tog haar balans, draai om en herken hom.

Verbaas wil sy weet: "Liewe Here, Duister, hoekom doen jy dit?"

Sedert haar man se dood, ses jaar gelede, het Duister, op aanbeveling van ‘n paar ander inwoners, begin om klein takies rondom die huis te verrig. Dinge waarby sy as vrou en weens haar ouderdom nie meer kon uitkom nie.

Die geute se verf wat afskilfer, 'n lekkende kraan, die grasperk, 'n gloeilamp wat vervang moet word. Sy het hom leer ken as iemand wat baie min gepraat het, net geantwoord as jy hom iets vra. Kortaf, spaarsaam, meer suinig met sy woorde. "Tel my woorde," het hy op ‘n keer kortaf teruggekap toe sy hom daaroor uitvra.

En nou staan hy voor haar met ‘n kombuismes en die walms van die naweek se oordaad wat om en aan hom hang. Het hy dit in hom om haar kwaad aan te doen met daardie lem? wonder sy.

"Hoekom doen jy dit?" vra sy 'n tweede keer.

Weer die stilte. Sy oë kyk oral behalwe vir haar.

Dit herinner haar aan daardie kloof van stilte tussen haarself en Kneuske. Kneuske wat sedert haar pa se dood byna alle kontak met haar verbreek het.

Pynlik, dáárdie episode, onthou sy.  Wie moes sy glo? Altyd was sy haar pa se kind, sy oogappel, sy groot liefde.

Net soms, miskien een keer per jaar ‘n telefoonoproep. Niksseggende oproep. Byna of sy die wrewel in Kneuske se stemtoon kan hoor. Sy kon haar dogter nooit uitvra oor haar verhoudings nie. "Verhoudings is remskoene, breek jou spoed," het sy lank terug in ‘n brief aan haar pa geskryf. Helder het die briewe in ‘n ou koffer in die motorhuis gekry.

"Ma."

"Ja."

"Gaan dit?"

"Goed, daar?"

"Aan die gang."

"Hoekom het jy my nie geglo nie?"

Sy sukkel om haar te antwoord, soos al die jare.

En nog twee of drie minute in dieselfde trant, dan net "bye."

Tot so ‘n jaar gelede.

Duister was in die tuin besig. Hy het beddings nuut voorberei - die herfs en winter se afsterwes uitgehaal. Helder het op die stoep gesit en lees. 'n Roman van Karel Schoeman. Iets wat iewers in die Vrystaat afspeel.

‘n Selfoon het gelui. Dit was in Duister se sak, sy oorpak se sak. Hy het dit sonder haas uitgehaal en begin praat. Toe hy klaar was, was sy verbaas toe hy haar meedeel.

"Dit was Kneuske. Sy wou hoor hoe dit met my gaan."

Vir Helder was dit ‘n verrassing dat sy tog nog met Duister kontak behou het, na al die jare. Sy wonder of hy ook geweet het. Tog twyfel sy of Kneuske hom sou vertel, maar dan was sy ook so onvoorspelbaar. Vol haat en wrewel, wie sou weet?

Dit alles onthou sy nou, met Duister hier voor haar. Sy drankasem – die koue in sy oë.

Hy pluk haar nagrok oop, stroop dit van haar. Sy staan bleek en naak daar. Hy sit die kombuismes op die tafel neer, is selfversekerd.

"Nou is dit net ek en jy."

"Liewe, God," smeek sy. "Duister asseblief, nee."    

Sy oorweeg dit om te skree, maar daar is niemand naby wat haar sal hoor nie.

Dit was haar grootste vrees haar hele lewe lank. Elke vrou se grootste vrees. Om teen jou wil geneem te word. As jy nee sê, maar niemand luister na jou nie.

Dan is hy kaal. Maer, seningrig, merke op sy bolyf. Sy vingers is hard, eelterig. Die graaf en pik se toedoen.

Sy is teen die vloer, probeer onder hom uitrol, hom afstoot. Hy is binne-in haar. Geweldadig, sy mond op hare.

Hy swyg.

Sy walg.

Bang om te dink wat hy met die mes gaan doen as hy klaar is met haar. Miskien is die dood beter, dink sy as om met hierdie smet saam te moet lewe. Op haar ouderdom. Die skande.

Hy hou aan en aan, daardie seningrige lyf op haar, binne-in haar. Soos ‘n stuk grond beset hy haar. Al het sy kaart en transport oor haar liggaam, is hy ‘n plakker wat kom kamp opslaan, wat die heinings knip, onteer wat sy as heilig beskou het. Asof hy haar woning afbrand, met al die jare se onthou daarin opgesluit.

"Hoekom, Duister, hoekom?" vra sy, al weet sy dat sy nie ‘n antwoord uit hom sal kry nie.

Hy staan van haar op. Die woede en toorn nou uit sy slap geslag.      

"Dis betaaldag," antwoord hy. "Betaaldag vir Kneuske."

The post Betaaldag appeared first on LitNet.

In the flesh

$
0
0

Helder oornag het hy aan haar verskyn in die spreilig wat hoër op blou word voor dit poeierwit in ’n verblindende stralekrans oorgaan. In die helder naglig, in die skerp spreilig soos ’n projektor in haar tuin. Hy het na haar aangestap gekom, die man van dekades gelede, presies soos sy hom onthou.

Om oor hom te praat, sou na al die jare heiligskennis wees. Dit was genoeg, die wete dat hy nooit weg of dood was nie en maar altyd daar was. Woorde verloor waarde en energie. Woorde gee af; woorde raak moeg, langsamerhand, en beroof van eie handeling. Heelwat later het sy hom liefgehad soos ’n vrou haar vader wat met die verslaentheid van die noodlot self bly staan en nie wankel nie, eensaam soos ’n rots as laagwater daaraan lek.

As jong kind het sy hom probeer skets. In haar hand het die potlood lewend geword en sy het hom gevorm: die sidies, die sywortels aan die slape. Sy wou hom vertolk, ja, sy wou hom vertaal; sy wou hom toonset en hom beeld en omvorm – sy wou hom volkome besit. Soms was hy ’n mot, ’n ou man gegewe háár jeug. ’n Mot as die lig skokwit daarop skyn, sluimerend voor die gordyn oopgaan en die soeklig van die dag soos ’n oomblikfloute val. In haar verbeelding was hy stekelrig met opslaghare in die gesig en ore en nek. Haar pa: die blinde, bejaarde mot. Dan het die beelde begin verdring en het sy ’n ou hond in ’n skut gesien.

Al die ander kinders in die skool behalwe sý het ’n pa gehad. En sy het begin fabriseer. Haar pa het in die korporatiewe sektor gewerk. Hy was nie in die weermag of staatsdiens nie, haar pa was anders. Dit was die onstuimige ‘80's met sy politieke onrus, diensplig en skoolkadette. Die kinders het grootoog geluister, want sulke eksotiese woorde het hulle nog nie voorheen gehoor nie. Telkens, en so vinnig as wat ’n vader uit haar drome vertrek het, het sy hom vervang en opgedis soos ’n vernuftige verteller of verkoopsdame.

Later het sy nie meer geweet waar waarheid of leuen of fantasie versny nie; ook het sy nie rekening gehou met die vele kopskuiwe van spontane dissosiasie nie. Dalk was haar pa die Jood, die skraal, stil man met die skerpsinnige gesig soos dié van ’n valk. Die ontspoorde wetenskaplike. Sy eie lewe en geliefdes het sy eksperimente geword. Sy sou leer om blitsvinnig die Soda Stream se silinder los te skroef en die gasbuis tussen die plante in te slinger.

Terug in die donker huis was die meubels skemer en stroef, want die fel lig het die Rhodopsin-plaatjies in haar oë gebleik terwyl hy gryns oor sy gemodifiseerde huishoudelike bom en die wrede poets op sy gesin. In die verbygaan het sy bottel Coke gestaan en sy onthou die siddering van die koolsuurgas, die sjuuuuut in die bruin skuim – en die Grand-Pa wat korsies om sy mondhoeke gebrand het.

Hierdie pa is volgens sekere rekords in die negentigerjare dood in ’n operasie waartydens die regering fisici afgevaardig het om kernafvalstowwe op te ruim. Heelwat later kon sy onthou dat haar oë met tyd buitengewoon ligsensitief geraak het en dat dit die pa was wat sy eerstehands doodgeskryf het in sy laboratorium in 1982, waar hy met ’n sadistiese grinnik in sy wit jas in haar kamera kyk – sý fokaliseer en hy speel in haar fiksie, die versteurde alchemis met sy wanaangepaste gipsglimlag op foto's. Wie was hy? Sy oë altyd rooi van die wynsteensuur, en dieper, onsigbaar vir die lens: die chroniese erosie van die maagwand. Op die laaste foto was hy weer hoog, sy plofstowwe en drade en wekkers soos speelgoed verstrooi in die garage.

Die Jood se pa, op sy beurt, het ’n tatoe op sy linkervoorarm gehad, die yk van ’n Messiaanse uitverkorene wat die res van sy lang lewe gewroeg het met survivor's guilt. My father moved through dooms of love.

Hy was die filosoof met die weerbarstige stap en vinnige fleks van spiere en trane. Die blonde pa met die Nazi-affiliasies en vreemde goue oë, uit dieselfde palet as sy haarkleur. Unheilig. Vir dekades lank sou hy sy kop verskans in kennis en grade en ander drome om van die lewe te ontvlug. In Pretoria-Oos-begraafplaas lui die eenreëlige epitaaf onder sy naam: “Wie kennis versamel, versamel smart – die Prediker.” Die reën se krale het bly ryg, die blink rygstringe oor die dooies se niemandsland, maar grafgrond genees nie. Die marmer spoel skoon en glim in die son wat opnuut die nuwe onkruid voed.

Dan was daar ook ’n derde pa, ’n onwaarskynlik keuse. Hierdie pa het sy versin een leë vakansiedag in ’n blou verekleed van rook en neerslagtigheid met Pink Floyd in die speler. Wat sy naam was, sou haar ontgaan, maar hy was ’n offisier. Want daar was die militêre begrafnis met soldate se bene wat snip soos skêre op die maat van die musiek, die choreografie van die dood. Sy kis toegedraai in ’n landsvlag – uiteindelik offer genóég – voor dit in die grond afgesak het. Maar hier bleik die Rhodopsin-plaatjies in haar oë die memorie aan die oorsaak van sy dood donker. Die skietvoorval. Sy was klein en min mense het die waarheid geweet. Haar vingers het sweterig gegly oor die Magnum se greep en sy het op die man met die belt in sy hand bly vuur. Haar binne-oog sou uitzoem na die spieël en die skerwende spinnerak wat geheimsinnig en vlymdun aan sy eie gewig gehang het – dit het 'n volle vyf sekondes geduur – voor dit bloedstollend neergekletter het op die teëls. Die kleiner, gebarste sterre in die ruite en spieëls het nie verbrokkel nie. Nee, die kleiner webbe was sterker. Sy sou swaar haar bene uit haar heupe voortforseer en struikel tot by die patriarg, waar hy in haar arms gesterf het, sy oë die kleur van leiklip, sy laaste asem ’n bloedborrel op die onderlip. Dan het die vergeet weer gekom soos ’n kamera se uitdoof oor ’n toneel, maar sy het die bloed en spieëls onthou. Die sikloop in haar, die derde oog, kon nog nie onverskrokke genoeg fokus nie, en sy wou skryf, sy wou fokaliseer ...? Nou het haar kussingslope haar biegvaders geword snags, en slaap die ontvlugting. Tanatos en Hipnos is tog tweelingbroers, Hipnos is net die saggeaarde een.

As die nag sy kwesplekke blootlê, het sy opgestaan en vir ure op genealogiewebwerwe rondgeswerf, aandagtig gestaar na die trotse stambome en -vaders, die befoeterde, arrogante gesigte met die lang baarde. Sy het die families beny, soos die klein en redelik homogene Labuschagne-familie wat nasate van die Dorslandtrekkers is. Van die familievaders was kartograwe, juweliers, krygsgevangenes, matrasmakers (die Moll-familie), of bloot wandelende Jode en matrose wat die land opportunisties binnegesluip en -gesmokkel het. Haar vriende het al meer begin belang stel in hulle stamgeskiedenis – weliswaar meer mans as vroue – en sy het geweet: ’n man raak oud wanneer hy bewus raak van sy stamboom. Die moederboom wieg en sterf van bo na onder toe af, want die wortelstelsel se hart wroet nederig en na aan die aarde. By tye het die blonde pa met die selfopgelegde Weltschmerz en die obskure Jood kataklismies versny in ’n moedermik hóóg op getak, en sy het gelag oor die paradoks wat niks meer as ’n kontradiksie kon wees nie. Hoe graag sou sy nie haar oorlede skoonvader wou ontmoet het nie, maar tyd verskiet in jaarringe soos konsentriese sirkels.

Vir jare aaneen, die scrapbooking wat sy beoefen het, ’n klandestiene aktiwiteit, want wie sou kon droom dat sý met die voorgee van ’n hardgebakte sinikus prente en kuriogoetertjies knip en plak? Soos ’n skooldogter wat die opstel van haar lewe verfraai. Tog was dit bisar – sy het haarself betrap dat sy foto's van onbekende vaders van die internet sou aflaai en redigeer tot oënskynlike pa-en-dogter-foto's. Soms het sy gelag, die wrang lag van selfironisering oor die identiteitsdiefstal waarmee sy besig was. Sentimentaliteit was nooit deel van haar mondering nie.

Tussen al die fiksies het sy wel reële dokumente gelas. Die inlas se afwesigheid het gestalte kry. Van die brief wat haar blonde pa vir haar geskryf het toe sy sewe jaar oud was, het sy ’n kleurkopie gemaak. Sy kon haar opnuut verwonder aan sy Victoriaanse skrif, die dubbelkrul by die “liewe” ... o, die verleiding van skrif! Die naskrif wat bly talm en haar terugroep … die rankerige voetnote en asteriske.

Sy het dikwels sy briewe herlees. Was daar nie méér agter sy woorde nie? Was sy verdwyning, wat later permanent geword het, dalk te wyte aan ’n fatale uiteinde, soos selfdood? Het hy nie lank gelede reeds sy eie dood getermineer nie?

Die ambivalensie het verdiep en sy kon sy stem hoor roep uit die argiewe van ou dokumente, en sy het geweet dat sy nooit sou versadig aan die melankolie om hom lief te hê nie. Sy het sy ongepubliseerde gedigte versigtig versteek met die troos dat die verlore kanon nie noodwendig apokrief is nie. Die los velle het gebrand in haar keel. Die sellulose in die papier het begin disintegreer soos ou drome, die lewende waak oor ’n geliefde in die buitewyke van ruimte en tyd. Dit was die wetenskaplike-pa vir wie sy bang was. Hy het sy stilte om hom gedra soos ’n ou, muwwe jas – of ’n kaal ysigheid, afhangend van in watter toonkleur sy swye sou sing. En hy was behoedsaam; het geplot en nie beplan nie, en in sy vrye tyd sy vyande getakseer vir swak skakels voor hy met ’n kil geduld sou wag. Hy het in die onderwêreld van die internet hacking-sagteware afgelaai en nagte aaneen rugwaarts versink in sy swart, magnetiese stilte, sy pynpoeier ’n helder vlam in die gees.

Tyd het gekom in al sy glorie, en sy het in haar kinders begin glo soos in ’n skepper. Bedags het sy vir lang wandelinge gegaan en die blare van eikebome opgetel. Dit was rooi en goud en koninklik, ook in vorm, en as sy fyn geluister het, kon sy die wind se draalgang hoor, of die geskarrel van skor blare, of die sweefgang van ander poeierklanke – sy het vermoed dat ook die wind ’n pedaal van sy eie had. Hoër op die botone van ver voëls. Sy het begin glo, noudat alles agter haar was, want oorgawe is lig, niks by te voeg of weg te laat nie. Die bagasie van ’n bejaarde is weerloos. Sonder besit is daar geen afskeid of skeiding of herinnering nie. Die begin en einde ontmoet, herrangskik die telraam van atome tot die binding van molekules. En die stof neem die vorm aan van ’n mens.

Helder oornag was hy daar. Sonder herkoms of identiteit – hy wás net. So dikwels het sy gedroom oor die herontmoeting, hoe sy met ’n ouwêreldse vroulike tirade vorentoe storm, ’n gilletjie los en met ’n Victoriaanse vloermoer hom klap met reguit, gepeitste vingers, maar reeds weet hoe sy gesig sou verstrak met ’n effense swik van die kakebeen, en hy sou sy oë stadig knip, die pupille ’n aks donkerder. Waar was jy al die jare? kon sy hom toesnou, maar die nawoord swyg. Dit word sterfkennis. Hy het nader gestap tot in haar gesigsveld, en ligweg gesê: “Kom, ek het kaartjies vir ’n middernagvlug vir twee teen halfprys gekry.” Of, sy kon die slot deurhaal en ’n ander uitgang bewerk. Want na alles het sy getreur asof dit reeds verby was, ’n glimp van ’n eie persoonlike apokalips. Maar niks van belang nie, soos die sagte knettervuur van die toetsbord onder haar vingers: Pappa slaap uit vir werk vanaand.

The post In the flesh appeared first on LitNet.

Die feesmaal

$
0
0

“Ag Here, bring my kind huis toe vir Kersfees,” prewel Lina terwyl sy die hoenderpastei uit die AGA-oond haal. Sy kan nie dadelik agterkom of dit die stoom of trane is wat alles om haar vervaag nie. Versigtig plaas sy die pastei op die tafel neer en vee oor haar oë. “’n Mengsel van albei,” dink sy wrang voor sy haar gesig met die voorskoot afvee. “Geen kos soos ’n ma se kos,” lees sy onderstebo op die voorskoot. Uitgeput soek sy rusplek op die stoel langs die kombuistafel. Die voorskoot was nog ’n laaste geskenk van Herkie voor sy vertrek na die vreemde.

Dis nou reeds ’n jaar gelede dat sy die oproep ontvang het. Hoe goed onthou sy nie daardie dag, drie dae voor Kersfees nie?

“Hallo, Ma! Ek sien Ma Kersfees,” het hy opgewonde gebabbel; nie soos gewoonlik eers na haar welstand verneem nie. “Hoenderpastei en skaapboud vir die Kersete, asseblief Ma,” het hy gesmeek. “Ek is uitgehonger daarvoor!” Die lyn was swak en die oproep gou verby.

Hy het nooit opgedaag nie. Na die oproep was daar net stilte.

En toe kom die lang wag, dink sy en skud haar kop. Moeisaam staan sy op om solank die bestanddele vir die nagereg bymekaar te sit. Die spyskaart word herhaal net soos sy dit vir die vorige Kersmaal beplan het. Al Herkie se gunsteling geregte word met liefde gemaak. Dalk kom haar kind haar die Kersfees verras. Sy glo met haar hele hart hy sal huis toe kom. Herkie het nog altyd sy woord gehou.

Sy weet die familie is vies vir haar. Party dink selfs haar kop het haar verlaat, maar hulle verstaan nie. Hoe kan sy saamgaan see toe? Net dalkies daag haar enigste kind op en dan is daar niemand om hom te ontvang nie. So iets mag nie gebeur nie.

Na haar man se afsterwe was Herkie, skaars uit matriek, haar steunpilaar. Hy wou niks daarvan hoor om die plaas te verkoop nie.

“Net twee jaar, Ma. Gee my net twee jaar om ekstra geld te gaan verdien. Hier is betroubare werkers en bure wat Ma kan bystaan. As ek terugkom sal ons ’n goeie neseier hê om aan te gaan met die boerdery.” So het hy haar omgepraat met die mal idee om in ’n vreemde land sekuriteitswerk te gaan doen.

Ek moes nie ingegee het nie, snik sy.  Diep binne weet sy egter dat sy Herkie nie sou kon  keer nie.  Sy vasberadenheid is iets wat hy van sy pa geërf het. Vies skrik sy uit haar mymering. Hierdie dinkery sal nie deug nie. Daar is nog baie wat gedoen moet word. Haastig begin sy die bestanddele afmeet. Haar kop en hande moet besig bly.

Tog loop haar gedagtes hul eie pad. Die onthou wil nie ophou nie. ’n Paar dae na Kersfees kon sy die weghol gedagtes nie meer verduur nie en het die sekuriteitsmaatskappy probeer kontak. Die gelui van die foon in haar ore het nie opgehou nie. Almal was skynbaar nog met vakansie tot in die nuwe jaar.

2.

Na baie gesukkel kon sy tog daarin slaag om kontak te maak. Met haar Karoo-Engels moes sy vir die mannetjie aan die anderkant verduidelik dat haar kind nie huis toe gekom het nie. Hy was duidelik baie versigtig om te veel te sê. Al wat sy uit hom kon kry, is dat hulle aandag aan die saak sou gee. Empatie met ’n moederhart het hy nie gehad nie. In sulke tye leer ’n ma om van hoop, eerder as kos, te lewe.

Die gedreun van ’n bakkie laat haar gedagtes skiet gee. “Dagsê, Buurman,” groet sy vir Fred van der Merwe toe sy hom op die stoep tegemoet stap. Die buurmanskap strek al oor jare. Herkie en die Van der Merwe kinders het saam-saam groot geword.

“Dag Lina,” groet hy terug, maar wys haar uitnodiging om in te kom van die hand.

“Ek en Lettie wil net hoor of jy nie Kersdag maar wil oorkom nie. Dis nie goed om so alleen te sit nie,” val hy met die deur in die huis.

Moedeloos skud Lina haar kop. “Ek weet julle bedoel goed, maar ek kan nie, Fred. Wat as my Herkie-kind dalk tog hier opdaag?”

“Genade Lina, dis al ’n jaar. ’n Mens kan nie so sit en wag nie. Hy ken die omgewing. Hy sal wel die bure kontak om uit te vind of ons iets weet ...,” begin Fred ergerlik.

Vinnig hou Lina haar hand omhoog. “Ek gaan nie baklei nie, Fred. Ek vra net dat julle probeer verstaan,” smeek sy.

Kopskuddend draai Fred om en stap na sy bakkie toe. “Dan groet ek maar, Lina” roep hy toe hy inklim en met ’n vaart wegtrek.

Hartseer gaan sit Lina op die bankie wat oor die werf uitkyk. Uit gewoonte kyk sy in die pad af.  Sy wens die familie en vriende wil probeer verstaan. Hulle is tog ook ouers. Kan hulle nie besef dat ’n mens se hoop nooit opraak nie?

Kersoggend is Lina voor die hoenders wakker. Vir ’n rukkie luister sy net na die stilte. Dan staan sy haastig op om koffie te maak en aan te trek. Dis asof iets haar vanoggend jaag; amper ’n soort opgewondenheid. “Ek wonder of Maria ook so opgewonde was oor Jesus se geboorte soos ek oor Herkie s’n?” gesels sy met haarself. Sy kan elke oomblik van haar kind se geboorte herroep. “En nou is hy weg.” Dis wat daai Engelse mannetjie vir haar sê. Haar Herkie-kind word vermis. Meer kry sy uit niemand nie. Sy het die oproepe maar later gestaak. Stilte is soms beter as niksseggende woorde. Tog vertel haar verstand vir haar dat iets nie pluis is nie, maar haar hart bly hoop.

Heelwat later gaan sit sy met ’n koppie tee op die stoepbankie. Alles is reg vir haar kind se koms. Sy kan nou maar net wag …

Sy moes ’n rukkie ingesluimer het. Toe sy haar oë oopmaak, is sy vir ’n oomblik verward. Dan fokus haar oë op ’n figuur by die plaashek. Versigtig staan sy op. “Kan dit wees?” prewel sy. Die afstand na die hek is ’n hele paar meter en sy kan nie mooi sien wie dit is nie.

3.

Al hinkend beweeg die persoon nader. Dis duidelik dat hy moeisaam stap. Die afwagting wil uit Lina bars. Sy roer nie.

Na wat soos ’n ewigheid voel, kan Lina die jongman se gelaatstrekke uitmaak. Sy voel hoe teleurstelling in haar hart wil kom nesmaak. Tog bly sy staan.

“Middag tannie,” groet hy uitasem en sy merk dat hy definitief in pyn verkeer.

“Kom sit jongman,” neem haar gasvryheid oor. “Laat ek vir jou bietjie water bring.”

Met haar terugkeer sit-lê hy op die bankie. Hy sluk gulsig aan die water wat sy aanbied en skuif hom effens regop. Langs hom lê ’n bruin kardoes op die bank.

“Is tannie se naam Lina?” vra hy met sy bruin oë angstig op haar gerig. Om een of ander rede kry sy nie geantwoord nie en knik net haar kop. “Ek is Hannes,” sê hy en steek sy hand uit. Sy voel die sweet aan sy hand. Haar eie hand is yskoud, nes haar hart.

“Ek en Herkie het saam gewerk in Irak,” begin hy vertel.

“My kind; waar is my kind?” fluister Lina angstig.

Dis lank stil.

“Vertel,” smeek sy.

“Daar was ’n bom …” begin hy. “ …nie lank nadat hy tannie gebel het nie. Ek het my bewussyn verloor en was vir maande in ’n hospitaal. Ek kon eers heelwat later na Herkie begin soek.”

“Die Engelse mannetjie sê hy word vermis. Hy het niks van ’n bom genoem nie,” fluister sy.

“Dit het buite die basis gebeur. Alles was baie deurmekaar. Hulle weet nou.” Hy bly lank stil.

“Herkie het so baie oor tannie en die plaas gepraat. Ek moes self kom.”

Hy praat nie verder nie; laat net sy oë oor die plaas beweeg. Toe hou hy die bruin kardoes na haar toe uit. Lina se hande bewe toe sy dit neem. Haar moederhart weet. Die houtkissie bevestig haar vermoede.

Sy word eers bewus van haar eie trane toe sy die klammigheid in Hannes se oë opmerk. Lank sit hulle so. Woorde sal nou onvanpas wees. Sy kan later die besonderhede hoor.

Heelwat later staan sy op. “Kom ons gaan eet,” nooi sy hom. Moeisaam kom Hannes regop. Sy been is die stille getuienis van die bom wat haar Herkie geneem het. In stilte stap hulle die eetkamer binne. Versigtig plaas sy die kissie op die kaggelrak. “Dankie dat U hom terug gebring het, Here,” prewel sy voor sy die netjie oor die gedekte tafel afhaal. Haar feesmaal is gereed.

The post Die feesmaal appeared first on LitNet.

Droogte

$
0
0

Dit is droog. Vader van genade, dit is dróóg. In die dertig jaar wat ek boer het ek nog nie só ’n erge droogte beleef nie. Die son kom rooi en warm op in die ooste en soos hy sy pad deur die dag na die weste vind, word hy warmer en genadeloser. Dit word ’n wit verblindende lig wat op die aarde neerbrand en alles verskroei en soos ’n dors bees die water uit die gronddam suig, jy kan amper sien hoe sak die water. En wanneer hy by die weste kom na sy reis deur die hemelruim, hang hy rooi en warm bokant die horison asof hy nie genoeg skade aangerig het nie. Wanneer hy wel besluit om te gaan rus vir die nag koel die aarde nie af nie. Dit is meer leefbaar, maar dit koel nie af nie.

Dit is nou ’n paar jaar wat die weer besig is om te verander; dit word laat koud met warm dae tussen in, óf die somer kom vroeër met koue dae tussen in. Maak nie saak of die winter laat is en of die somer vroeg is nie; dit krap die natuur deurmekaar. Aan die begin van die vroeë somer het hier so ’n paar stofnat buitjies kort opmekaar uitgesak. Na die min reën van verlede jaar het die natuur wakker geskrik; die saad het ontkiem en die opslag het lowergroen gestaan. Die diere het hulle knuppeldik gevreet en daar was vreugde. Die ramme het begin werk, soos die Skepper dit beplan het, en die ooie het begin uier maak.

Die lug was na hierdie paar buitjies skoon en blou – wolkloos. En as die wind opgesteek het, was dit uit die weste. Warm en skroeiend. Die son en die westewind saam was genadeloos. Van die veld het daar niks oorgebly nie, behalwe vir ’n paar bossiegeraamtes wat versteend met hulle droë takkies in die lug staan en smeek het.

Die skape het nie meer veld toe geloop nie. Hulle het heeldag om die waterkrip gelê. Eers het hulle my geïgnoreer, maar nou dat hulle begin lam loop hulle na my toe en blêr beskuldigend terwyl die swak, pasgebore lammers blêrend en val-val agter die ooie aankom. Party ooie maak die pasgebore lammers skoon, kyk na my en blêr voordat hulle die lam net so los en wegloop. Hier en daar pomp ’n lammetjie aan ’n uier – eers verwoed en dan al swakker – totdat hy verward en moedeloos die droë speen los.

Ek het baie gebid en sommer net met God gepraat. “Here,” het ek gesê. “Sien U dat die skaapooie na my toe kom vir hulp, of kom beskuldig hulle my dat ek nie my werk doen nie? Dit maak nou nie saak of hulle my beskuldig of hulp vra nie, maar so kan dit nie aangaan nie. U het my, die mens, oorsiener of voorman oor hierdie diere gemaak; dit staan so geskrywe in Genesis. En die ooie weet dit, anders sou hulle nie na my toe kom nie. Maar Here, hoe moet ek my werk doen as U nie U deel doen nie? As dit nie reën nie, is daar nie veld is nie en as daar nie veld is nie, is daar nie kos vir U skepsels nie.”

My gebede en pratery met God het nie veel gehelp nie. Die lug het skoon en blou gebly, behalwe vir die son wat verwoestend elke dag sy pad, ekstra stadig en bloedrooi, deur die blou lug sy weg na die weste baan. Van die ooie was nou só swak dat hulle nie meer opgestaan het nie; die lammertjies het wees en blêrend bymekaar vertroosting gesoek; ander het net gevrek.

Ek het weer met die Here gepraat: “Here,” het ek vir Hom gesê. “U het my oorsiener oor hierdie diere gemaak. Soos ek dit verstaan, staan ek vir U in wanneer U nie hier is nie en dit lyk nie vir my U is hier nie. Here, ek gaan môre die lammers se kele afsny, want só kan dit nie aangaan nie. Van die ooie bly al staan, maar hulle het nog ’n kans. Die lammers het geen kans nie.”

Ek het daardie môre vroeg opgestaan en na die lammers geloop en hulle een vir een keel-af gesny. Later het daar oral lammers gelê wat in hulle eie bloed roggelend vrek. My broekspype en my skoene, my hande en die mes was later rooi van die bloed. Ek het later ophou tel, maar ek het meer as driehonderd lammers geoffer. Die ergste was dat die ooie na my gekyk het sonder om ’n geluid te maak; sonder verwyt in hulle oë. En ek was naar. Ek het my daardie aand meer as eenkeer gewas, maar ek kon nie skoon kom nie.

Daardie nag het ek wakker geword en gehoor hoe die kareeboom se tak liggies teen die sinkdak skuur. Ek kon dit nie glo nie. Ek het my asem opgehou, want ek het gedink ek verbeel my, maar toe hoor ek weer die ligte skuurgeluid en ek het geweet die noordewind begin waai.

Ek het vroeg opgestaan. Die noordewind het liggies gewaai en die son het nie so rooi opgekom nie. Maar die lug was nog skoon en blou. Die son was nie só genadeloos nie en het vinniger na die weste gereis. Daardie nag het die kareetak harder teen die sinkplaat geskuur.

Ek het weer vroeg opgestaan en die noordewind teen my gesig gevoel – dit was vriendelik. Ek het na die son gekyk wat minder kwaad lyk. Ek het opgekyk na die skoon blou lug. En toe kyk ek na die noorde waar die reënwolke en die uitkomste vandaan kom en op die verste horison in die skoon blou lug was ’n wolkie so groot soos ’n man se hand.

The post Droogte appeared first on LitNet.

Rooi in die reënboog

$
0
0

’n Maand gelede kuier ons by familie wat Engeland toe geëmigreer het. Dit is September en die aanvang van herfs. Ons verwag koue en grou weer, soos almal altyd waarsku, maar die dae is sonnig en ná die een hittegolf op die ander in Suid-Afrika, is die soelheid in die lug ’n welkome verandering. Ons gaan stap met hulle honde in ’n woud, binne in die dorpie waar hulle buite Londen woon. Ek maak dubbel seker die deur is gesluit, hulle lag vir my.

Na drie dae in Engeland, is ek bereid om my visum in te ruil vir ’n Britse paspoort. Soos dit ’n eerstewêreldland betaam, werk alles. Data is goedkoop en internet vinnig. Bestel jy ’n pakkie van Amazon, word hy môre by jou deur afgelaai, op die presiese tyd wat jy versoek het. Pille wat te duur is by ’n apteek, bestel jy met ’n voorskrif teen helfte van die prys oor die internet.

In Marks & Spencer kreun die rakke onder klaarvoorbereide etes wat jou vir ten minste ses maande elke aand ’n ander gereg kan laat eet.

Ek is die blyste oor die Fruit Pastilles van Rowntrees wat ek in hulle supermark raakloop en eet ’n groot pak per dag. In Suid-Afrika hou die winkels dit nie meer aan nie, net ’n groot apteek oor Kerstyd. “Hierdie lekkers hoort op julle rak tussen die antidepressante,” het ek eendag vir die apteker gesê. Hy neem my nie ernstig op nie. Ek pak die skuld op banting.

My man tel in elke groentewinkel onbeskaamd die tamaties op en ruik daaraan, ter aanskoue van verbaasdes. Ons hou aan met vergelyk en ek weet mens moenie, maar in ons land ken ons nie meer die outydse soetsuur-reuk van tamaties nie. Net die waterige soort. Ons koop vet vye wat op straat uitgestal is en eet dit skil en al. Alles is groter en langer – appels, perskes, piesangs, seldery en wortels in alle kleure: oranje, geel en donker pers.

Tot die teesakkies bult van die blare.

Binne ’n week sit my klere gegiet aan my lyf.

Manlief koop meer klere in een dag as wat hy die hele jaar in sy eie land doen.

“Kyk net die kwaliteit van die lap,” roep hy soos ’n haute couturier uit en laat my aan elke kledingstuk voel. Ek ken hom nie so nie.

“Ook maar in China gemaak,” sê ek jaloers, omdat ons inderdaad nie meer die gehalte gewoond is nie.

Ons drink wyn afkomstig van Bordeaux, Nieu-Seeland en Argentinië.

Ek begin dink daaraan om ’n agentskap op te spoor wat vir my ’n werk in Engeland kan soek.

“Hoekom?” vra my man.

“Die aanwesigheid van kwaliteit en die afwesigheid van vrees,” som ek my gevoel op.

Ons arriveer by die O2 stadion waar Andrea Bocelli optree, met ’n kabelkar per sweefspoor, en eet by een van die honderde restaurante.

Terwyl ons in die ry staan om die stadion binne te gaan, hoor ons drie mense agter ons in Nederlands gesels.

“Moenie so hard praat nie, ons verstaan elke woord,” sê my man wat geen grense het as dit by vreemdelinge kom nie.

“Suid-Afrika,” roep die Hollander opgewonde uit en groet ons met die hand soos ou vriende. Die omstanders kyk ons groepie nuuskierig aan. Ons noem opsetlik en effens hovaardig Madiba se naam asof ons hom persoonlik geken het, maar swyg oor die Springbokke. Die dae wat mense op aandag spring as hulle die woord hoor, is verby.

“Ek het ’n paar jaar gelede vir ses maande in Potchefstroom studeer,” vertel die man. “Dit was die beste tyd van my lewe. Ek het Johannesburg en Kaapstad gesien en wonderlike vriende gemaak. Suid-Afrikaners is die heel beste mense.”

“Hy het met vreemde woorde by die huis gekom,” sê sy ma wat haar opgewondenheid oor Andrea Bocelli nie kan beteuel nie.

“Watter woorde,” vra ons nuuskierig.

“Braai.” Natuurlik.

“Lekker.” Ja.

“En plakkie.”

“Plakkie soos in flip flops?”

“Ja, daardie plakkie.” Dit verstaan ons nie, maar toemaar.

Toe ons al daar anderkant stap om ons sitplekke te soek, hoor ons “Suid-Afrikaaaa” soos die Hollanders agter ons aan groet en ek begin wonder wat dit is wat ander sien en ek nie meer nie. Ek het ’n blinde kol ontwikkel oor my eie land.

Ons gaan vir ’n naweek York toe in die noorde van Engeland en woon in ’n gastehuis wat deur twee mans bedryf word. Die gastehuis is baie jare gelede deur Matthew se ouers begin en hy en Paul het dit die laaste twee jaar oorgeneem en bestuur. Ons is oorweldig deur hulle gasvryheid. ’n Hele boks sjokolade wag vir ons op die kussing en botterkoekies in die voorportaal.

“Van waar is julle?” hoor ons die bekende vraag.

“Suid-Afrika.”

“My gunsteling land in die wêreld,” roep Matthew uit en wys ons die tatoeëermerk op sy enkel; die buitelyne van die vasteland van Afrika.

“Ek het vir ’n jaar daar skoolgehou en kinders leer rugby speel.”

Ja reg, ’n Engelsman wat ons mense leer rugby speel. My pa draai in sy graf om.

Ons slaap twee nagte in die gastehuis en soggens by die ontbyttafel word ons vergas op stories van hul lewensfilosofie om net twee jaar in een stad, dorp of land te woon voor daar opgepak word op soek na ’n nuwe ervaring. Elke keer eindig die gesprek by Suid -Afrika, waar Matthew begeer om weer te woon.

“Wat is dit aan die land?” vra ek die heel laaste dag, sommer so in die groet.

“Die natuur. En steak,” sê Matthew. “Ek kan nie wag om my tande in ’n sappige stuk steak te slaan nie.” Dit verstaan ek, want vleis is duur en in hulle restaurante onbekostigbaar.

“En die mense se lewensbeskouing,” gaan hy voort. Daar is ’n just get on with it-ingesteldheid wat ek nêrens anders al teëgekom het nie.” Hy vertel hoe hy vir kinders skoolgehou het wie se ouers albei dood is aan VIGS of tering en hoe hulle steeds probeer om die beste van hul lewe te maak.

So anders as die Britte wat oor alles kla en drama van nietighede maak, sê hy.

Sy woorde bly my by. Ons is terug in Suid-Afrika en die son is skerp en die klanke hard.

Ek sien ’n vrou vir terapie wie se man sy werk verloor het. Sy hou die pot aan die kook, want daar is drie kinders in die huis. Die man soek werk, maar kry nie, hy is vyftig. Dis moeilik tye. Sy word met kanker gediagnoseer en terwyl sy chemoterapie en bestraling ontvang, hou sy aan werk. Sy is moeg en haar hare val uit, maar iemand moet kos op die tafel sit.

Ek lees in die koerant van ’n matriek meisie van KwaZulu-Natal wat op pad om te gaan eksamen skryf deur iemand oorval en verkrag word. Sy gaan skryf steeds haar eksamen.

Foto’s van onverskrokke dosente wat studente onderrig op trappe, onder bome en parkeerterreine terwyl die kampus agter hulle in vlamme opgaan tydens die #feesmustfall-protes, word op sosiale media versprei.

Mense wat in Johannesburg ná ’n werksdag huis toe ry, se pad word deur ’n wolkbreuk versper en binne sekondes is honderde pendelaars in die moeilikheid. Motors trek van die pad af en motoriste hardloop deur middelrif-diep water om passasiers uit taxi’s te help. ’n Vragmotorbestuurder pluk ’n vrou uit haar motor. Oomblikke daarna verdwyn die motor in ’n watermassa en vir die eerste keer in sy lewe doen hy eerstehulp, net daar, agter op die vragmotor se bak. Die volgende dag ry almal weer dieselfde pad. Die werk wag.

’n Man bekend aan ons beland in die hospitaal nadat hy ernstig beseer word deur betogers. In die hospitaal, terwyl hy veg vir sy lewe, pleit hy by sy vrou dat sy en die kinders onmiddellik die land moet verlaat. Sy wil hom nie alleen laat nie. Just get on with it, raas hy met haar. In Zimbabwe aangekom, hoor sy by ander hy het aan sy wonde beswyk.

Ons weet nie van hierdie eienskap van ons nie. Dis soos rooi in die reënboog wat elke ander kleur raaksien, behalwe homself. En anders as vet perskes, blink appels en lang piesangs, kan ’n ingesteldheid nie uitgevoer word nie en miskien is dit juis ons sterkste produk, geslyp deur jare se friksie. “Die eelt wat in die oester blink,” soos Sheila Cussons dit sê. Ons vermoë om op te staan en om te just get on with it.

The post Rooi in die reënboog appeared first on LitNet.

Stofvinger (Deel 1)

$
0
0

Inleiding

Toneel speel af: Op ’n klein plasie, ’n gemeenskap, ’n klein gesinnetjie, ’n pa (skaapboer), ma (huisvrou) en hul enigste seun.

1

My naam is Klaas. My pa het ons huis met ’n ysterhand regeer, my ma was ’n fyn skraal vroutjie en stil van geaardheid. Ek kon nie skoolgaan nie. Ek is op 7-jarige ouderdom ’n skaapwagter.

“Ma’ hoekom kan ek nie skoolgaan nie?”

Ma: “My kind, jy is ons enigste seun en jy moet ons skape oppas. Hierie skape, my kind, en die veld is jou skool, jy moet leer om die skape mooi op te pas. Wanneer een skaap beseer moet jy sy besering hanteer. Jy moet ook die skaap teen die wilde diere beskerm.”

“Ma’ ek sal nie eendag kan lees of my naam kan skryf nie.”

Pa met ’n harde stem: “Klaas, die skape wag, vat jou kierie, jou kossak en jou watersak, loop nou, werksdag het begin!”

Sesuur in die oggend en my werksdag het amptelik begin. Sonder dat ek Pa terug antwoord, het ek my kierie, my kosmandjie geneem, en reguit na die skaapkraal. Ek maak die skaapkraal se hek so ’n meter wyd oop sodat die skape agter mekaar kan uit beweeg. Die skape ken al hul looppad na die hang van die berg.

Met my eerste werksdag het pa my vergesel. In die verte is ’n voetpad waarlangs die skoolkinders hul weg vind na die skool. Ek moet elke oggend, van nou af, en in die middae met die skape daar verby beweeg. In die veld so tussen die skape het Pa my geleer hoe om ’n skaap se gebreekte been te spalk, ook om die verskillende plantsoorte uit te ken. Dit sluit in plante wat mens en dier kan eet en wat mens en dier nie mag eet nie. Pa het my ook geleer hoe om die skape teen jakkalse te beskerm. Sodra die jakkals nader beweeg het ek my kettie en my ronde klippe wat alreeds gereed binne my leersak is, geneem. Ek blaas dan op my fluitjie en die skape beweeg dan nader na mekaar. Dan skiet ek die jakkalse met my kettie. So het my pa my ook geleer hoe om my water op warm dae koel te hou. Ek moes ’n gat maak, nie te diep nie, dan moes ek eers in die gat bossies inpak en dan my watersak, en daarna weer met bossies toepak.

Diep in my hart het ek die begeerte gehad om te kan lees en skryf, en om skool te gaan. Skoolgaan het my ouers my verbied. Oor skoolgaan het my pa gesê: “My kind, jy moet ’n ryk skaapboer word, met skaaphandel kan jy ’n toekoms bou. Die skaapboerdery en die plaas sal eendag jou erfdeel word.”

“Dankie Pa!” sê ek en mompel voort. “Al my maatjies gaan skool toe met hul skoolklere. Ek wil ook skool toe gaan.” Pa verhef sy stem en sê: “Klaas, ek het finaal daaroor besluit. Jy is ’n skaapboer.”

Gedurende die middagure sien ek hoe die skoolkinders huis toe beweeg. Die plaaskinders het ek geken, maar ek kon nie eers met hulle speel nie, want hulle ouers het dit nie toegelaat nie omdat ek nie skoolgaan nie. Ons bure se dogtertjie, Konfyt, kon ook nie met my maats wees nie.

Laat daardie middag het ek en Pa teruggekeer met die skape huiswaarts. Van môre af is dit my taak elke dag om die skape op te pas. Toe ek by die huis kom vra ma: “Hoe was jou eerste werksdag, Klaas?” “Goed dankie Ma,” sê ek en beweeg sleepvoet na die badkamer, en maak my gereed om te bad. Nadat ek my klaar gebad het, maak ons almal gereed om aan tafel te sit om ons aandete te geniet. Nou is dit eers tyd vir boekevat. Pa lees uit die Bybel, daarna bid Ma en seën die tafel. Pa sê in die Bybel staan geskryf: Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng kan word. My eer vir my ouers was binne-in my hart, maar my begeerte om skool te gaan was ook in my hart.

Nadat ons klaar geëet het, het Ma die tafel afgedek, en dan het ons om die beurt die skottelgoed skoongemaak. Daarna het ek reguit na my slaapkamer gegaan. Vir baie nagte het ek gedroom van skoolgaan. My droom kon ek met niemand deel nie, so moes ek my droom vir myself bewaar.

Opstaantyd elke dag was dieselfde roetine. Skielik besluit ek terwyl ek weer tussen die skape beweeg, ek gaan ’n plan uitwerk en self na die skoolhoof gaan. Maar hoe sal ek maak sonder dat my ouers dit uitvind?

Ek besluit môreoggend staan ek baie vroeg op voor my ouers wakker word en beweeg in die vroeë oggendure na die skool. So het ek besluit en so het ek gemaak.

Intussen het Klaas se pa wakker geword nadat hy alreeds weg is. Pa roep: “Klaas, waar is jy so stil; bring nou vir my en jou ma die koffie.” Skielik besef sy pa dis te stil in die huis en daar’s geen antwoord nie. Pa staan op en gaan rustig na Klaas se slaapkamer. Tot Pa se verbasing is hy nie in sy slaapkamer nie. Onmiddellik besef Pa daar is fout. Klaas is nêrens te vinde nie. Met sy pa se geroep het Ma ook wakker geword. Pa beweeg na buite en sy jare lange ondervinding hoe om verlore skape op te spoor het hom onmiddellik op Klaas se spoor, wat nog duidelik sigbaar was, gelei. Pa het vir Ma geskree: “Ek het sy spoor gekry en gaan hom nou soek, Ma, jy sal maar vandag die skape moet gaan oppas.” Ma het geen keuse nie en volg Pa se opdrag gehoorsaam uit. Na verloop van ’n uur word die soektog suksesvol voltooi.

Pa het my gevind reg voor die skool se hek. Ek word met ’n kwaai en streng stem begroet. Pa gryp my aan my arm en onmiddellik het die sambok sy werk gedoen. Die skoolkinders op pad na die skool aanskou verslae hoe my pa vir my pak slae gee. Pa skree: “Klaas, vandag leer ek jou ’n les, jy sal dit nooit weer vergeet nie. Jou ma kan vandag nie eers haar werk doen nie, sy pas jou skape op.”

Terug by die huis. my lyf lyk soos iemand wat van ’n vuurwarm braairooster afgehaal is, en Pa is moeg en uitgeput na die lyfstraf wat hy my toegedien het. Pa beveel vir my om na my kamer te gaan en daar te bly. Ma het besluit sy kom vroeër met die skape terug huis toe. Sy was ook bekommerd oor my en het gewonder of Pa my gevind het en het ook besluit om my ’n les te leer. Met Ma se aankoms by die huis sê Pa: “Ek het hom gevind styf teen die skoolhek, ek verseker jou hy sal nie weer die skape teleurstel nie.”

Ma beweeg die huis binne reguit na my slaapkamer. Toe sy my sien, vergeet sy onmiddellik van die les wat sy my wou leer. Trane skiet in haar oë. Sy het my innig jammer gekry. Ma skree op haar beurt vir Pa: “Jan, Jan, dit moet nooit weer gebeur dat jy Klaas so slaan nie. Bring ’n bad met lou water en kruie sodat ek hom daarin kan was.” Nadat ek klaar gewas was, smeer my ma my met ’n soort salf met die reuk van medisyne.

Daardie aand by die etenstafel nadat Pa klaar boekegevat het, sê hy: “Jy was verkeerd en ongehoorsaam, jy moet vir my en jou ma om verskoning vra.” Ek sê met n huilerige stem: “Pa en Ma, ek sal nie weer ongehoorsaam wees nie.” My hele liggaam was so seer ek kon nie behoorlik sit nie. Na ete moes ek ook die tafel afdek en die skottelgoed was. Daarna het ek onmiddellik na die slaapkamer beweeg en probeer om aan die slaap te raak.

Daardie nag speel die dag se gebeure duidelik voor my af. Die pak slae sal ek nooit vergeet nie, maar die grootste vernedering was die onderlangse gelag van sekere kinders. Van daardie dag af het die kinders my geterg en Skaapkop genoem reeds omdat hulle geweet het ek pas my pa se skape op. Die pak slae en die vernedering het my begeerte om te lees en te skryf sterker in my hart laat voel.

Die volgende dag het aangebreek en ek het opgestaan met ’n seer lyf en my gereed gekry vir my daaglikse werk om skape op te pas. Ma het vir my pynpille, ’n warm bottel met koffie, en tuisgemaakte gemmerkoekies in my kosmandjie gepak. Ek het weer vir Ma belowe dat ek nooit weer ongehoorsaam sal wees nie en besef dat skoolgaan nie vir my beskore is nie.

Op pad met die skape na die weiveld kom die skoolkinders ook aangeloop. Hulle loop dieselfde pad wat ek in die oggende en middae moet oorsteek.

Word vervolg

The post Stofvinger (Deel 1) appeared first on LitNet.

Oom Thysie is beswaard

$
0
0

“Môre, Fransie,” sê oom Thysie oor die onderdeur.

Dit is Saterdag en ma is besig om vir ons drie seuns pap in te skep. Pa is al vroeg weg werk toe. Ma se naam is Fransina, maar die meeste mense op ons dorp noem haar Fransie.

“Môre Thysie, en wat bring jou só vroeg hier? Kom in.” Ma vra hom nie of hy koffie wil hê nie, óf om te sit nie; sy weet hy wil koffie drink en pap en melk eet.

“Stadig met die suiker en botter,” sê sy en maak haar oë groot vir ons drie terwyl sy vir oom Thysie koffie skink.

Oom Thysie is ’n oujongkêrel wat op die rant van die dorp in ’n klein platdakhuisie bly. Hy deel die karig gemeubileerde huisie met sy kat, Gemmer, en sy steekhaarbrak, Flenters. Die brak volg hom soos ’n skaduwee waar hy ook al in die dorp is. Almal ken vir oom Thysie en Flenters. Oom Thysie het nie ’n werk soos die ander ooms en pa nie. Pa sê oom Thysie is ’n kripvreter, want die goewerment sorg vir hom. Sommige mense sê oom Thysie se bontvarkie is weg; pa stem saam, maar ek is nie seker wat dit beteken nie.

Oom Thysie en Flenters is elke môre van vroeg af aan die gang. Hy gee sulke kort treetjies wanneer hy loop en partykeer praat hy met homself en dan beduie hy wild met sy arms. Soms steek hy in sy spore vas om ekstra te beduie terwyl hy praat, maar dit gebeur meesal net wanneer hy erg beswaard is. Flenters gaan sit dan en luister na hom terwyl hy sy koppie skeef draai en fyn tjankgeluide maak. Pa sê oom Thysie praat met homself omdat hy op ons dorp niemand kry wat slim genoeg is met wie hy kan praat nie.

Oom Thysie is lief om vir die vrouens te kuier; hulle is meer geduldig as die mans. Met deernis het hulle na sy probleme en griewe geluister en wanneer hy min of meer al die stories, goed of sleg, van die dorp vertel het, het hulle, ek is amper lus om te sê op ’n skelm manier, van hom ontslae geraak. Die vrouens het hom gevra om ’n brief te gaan pos, sulke soort van goed, of om ’n brood te gaan koop. Oom Thysie het altyd belangrik gelyk as hy flink stap om die takie te gaan verrig. Ma sê as die mans ook só fluks die takies verrig wat hulle gevra word om te doen, die vrouens baie meer sal kan verrig. Pa het net gesnork. Oom Thysie het geweet watter vrouens vroeg op is en wat vir hom koffie en vir hom en Flenters iets te ete sal gee. Vir hulle het hy altyd eerste in die môre besoek. Pa sê oom Thysie weet hoe om sy brood aan al twee kante te botter en te konfyt.

Ons dorp is meer ’n spoorwegdorp as ’n gewone dorp. Die meeste mense op die dorp werk dan ook vir oom Ben Wieletjies, soos die dorpenaars sê. Daar is ’n garage en ’n Pep Stores op die dorp, asook ’n koöperasie en ’n handelshuis. Hierdie winkels is glad nie oom-Thysie-vriendelik nie. By die garage wil hulle hom ’n oorpak aantrek; by Pep Stores wil hulle hom die bokse laat uitpak en by die koöperasie verwag hulle dat hy die meelsakke van die spoorwegtrokke moet aflaai. Oom Thysie is erg beswaard oor hierdie behandeling en vermy hulle soos die pes. Hy het vir ma gesê: “Fransie, hoe meer ek vir hulle sê ek is geborg; hoe meer wil hulle vir my werk gee en dan lag hulle ook vir my.” Toe pa dit hoor het hy vir ma gesê sy moet vir oom Thysie wys waar die spitgraaf en die tuinvurk is. Ma het vir pa gesê hy behoort hom te skaam.

Ons dorp het nie teerstrate nie, net grondpaaie en in die somer as dit droog is, is daar baie stof. Die huise lyk almal dieselfde, behalwe die paar huise teen die bult wat nie spoorweghuise is nie. Hier is ook nie bioskope nie. Net twee kafees; een in die dorp en een by die stasie. Die een by die stasie bestuur my ma se oudste suster. Die stasiemeester het vir ta᾿ Driesie die werk gereël nadat oom Andries dood verongeluk het. Hy was ’n rangeerder. Die grootmense sê dit het gereën en oom Andries moes gegly het en voor die trokke ingeval het; die ongeluk was glo te grusaam vir woorde. Die ongeluk het sewe jaar gelede gebeur. Oom Andries het vir ta᾿ Driesie met vyf kinders gelos, wat nog almal skoolgegaan het. Pa het gesê oom Andries kon nie ’n slegter tyd gekies het om te verongeluk nie en dat ta᾿ Driesie vir meneer Blom, die stasiemeester, ewig dankbaar moet wees, anders sou sy harde bene gekou het om die kinders groot en uit die huis te kry. Al haar kinders is nou groot en uit die huis, maar ta᾿ Driesie bestuur nog steeds die kafee. Ma sê sy is ’n voorslag.

Soos ek gesê het, ons dorpie is maar stil. Al wat ’n bietjie lewe in die dorp bring, is wanneer die passasierstrein van De Aar na Kaapstad (wanneer ek groot is wil ek in Kaapstad gaan bly) in ons dorp kom stilhou en die volgende dag weer van Kaapstad na De Aar hier kom stilhou. Partykeer klim daar van ons dorp se mense op die trein, wat op ander plekke gaan bly en partykeer klim mense van ander plekke af, wat in ons dorp kom bly. Die passasierstrein stoom ons dorp gewoonlik in wanneer dit al sterk skemer is. Wanneer dit vakansie is gaan ons kinders op die perron staan om vir die mense wat met die trein ry te kyk en vir hulle te waai. Partykeer gee ta᾿ Driesie vir ons lekkers sonder dat ons daarvoor betaal. Oom Thysie en Flenters is ook altyd klokslag daar; hy wag gló vir iemand wat belangrik is, maar dit lyk nie of die iemand opdaag nie. Oom Thysie sal op die perron ronddraai en later in die stasiekafee gaan sit totdat ta᾿ Driesie vir hom ’n koppie koffie gee en daar sal hy bly sit totdat die trein weer ry.

“Fransie, wat is verstrooid en verslons? Kan ’n mens verstrooid en verslons wees?” vra oom Thysie wanneer hy gaan sit.

“Ek verstaan nie,” sê ma wanneer sy die beker koffie voor oom Thysie neersit. “Wie het dit gesê?”

“’n Jong meisie het dit vir Driesie in die stasiekafee so gesê en toe kyk sy vir my. Toe sê Driesie vir haar die dorp se mense is nie vriendelik nie en sy moet teruggaan na die dorp waar sy vandaan kom.”

“Thysie, nee, ek weet nie waarvan jy praat nie. Gebruik jou tyd en vertel vir my alles soos jy dit gesien en gehoor het,” sê ma toe sy die bord pap voor oom Thysie neersit.

“Fransie, die meisiekind het met haar koffers in die kafee ingeloop. Sy het vir niemand dag gesê nie en by ’n tafel gaan sit en ’n koppie koffie bestel. Toe sy dit klaar gedrink het, het sy na Driesie geloop om te betaal en Driesie het haar gevra hoe die koffie gesmaak het. ‘Seker maar oukei,’ het die meisiekind gesê. Sy het vir Driesie mevrou genoem. Toe vra sy vir Driesie hoe is die mense van die dorp. Vir haar lyk hulle maar verstrooid en verslons en toe kyk sy na my. Driesie het vir haar gevra hoe is die mense van die dorp waar sy vandaan kom. Die meisiekind sê toe: ‘Mevrou, hulle is baie onvriendelik en ander is sommer nors.’ Toe sê Driesie vir haar die mense van ons dorp is nét so nors en onvriendelik en dat sy eerder maar moet teruggaan na haar dorp toe.”

Oom Thysie het vir ’n rukkie, diep ingedagte na die botter gekyk wat in ’n geel straaltjie van die warm pap afloop. toe skud hy sy kop en sê: “Fransie, ek verstaan iets nie lekker nie.”

“Wat verstaan jy nie lekker nie?”

“Driesie het vir die meisiekind gesê ons dorp se mense is ongeskik en onvriendelik. Maar sy vergeet dat daar eergister ook ’n meisiekind met haar koffers in die kafee kom koffie drink het. Die kind het almal vriendelik gegroet en gesê die koffie is baie lekker. Sy het ook vir Driesie gevra hoe die mense van ons dorp is en toe sê Driesie: ‘My kind, hoe is die mense van die dorp waar jy vandaan kom?’ Toe sê sy: ‘Tannie, my dorp se mense is baie vriendelik en lieftallig. Ek is baie spyt dat ek daar moes weggaan.’ En toe sê Driesie: ‘My kind, die mense van die dorp is net so vriendelik en lieftallig soos jou dorp se mense. Jy sal baie lekker hier bly.’ Sy kan mos nie vir die een só sê en vir die ander een anderster sê nie, sy jok mos vir een.”

The post Oom Thysie is beswaard appeared first on LitNet.


Waanwêreld

$
0
0

Sy oë is gelerig wanneer hy vredeliewend is. Indien onthuts of kwaad, kom daar ’n rooi verglansing in. Maar gelukkig gebeur dit nie veel nie. Die oë waarvan ek praat, volg my altyd. Agter my een skouer, soms in die dynserige verte voor my, in uitsonderlike gevalle selfs reg langs my sy. Wanneer mens iets of iemand so gewoond raak asof dit ’n ledemaat van jou is – ’n ekstra arm wat langs jou swaai – vind jy dit nie vreemd nie. Vreesinboesemend is dit nie. Lankal nie meer nie. Dit wás toe ek jonger was. Maar die spook het my vriend geword. ’n Engel wat my vergesel. ’n Teddiebeer op wie ek kan vertrou. ’n Teddie wat ’n beer kan word as hy moet.

Die snaaksste is, hy het nie ’n herkenbare gesig nie. Die omlyning onder die oë raak vaag. Geen mond of ken of neus is te bespeure nie. Wel twee ore agterlangs. Soos groterige antennas wat met radar werk. Maar die oë. Die oë is te opvallend om te ignoreer. Soms skuil daar deernis in. Ander kere flits daar ’n skerpe kwaaiheid agter die rooi. Soos priemende klein ligstraaltjies wat deur jou sny. Met die woedende staar manifesteer daar twee kohlswart strepies in die ruimte bokant sy laseroë. Asof twee wenkbroue wil deurslaan. Ek knip my oë en kyk dan weer. Al soveel keer is my gewaarwordinge as blote verbeelding afgemaak. Maar ek weet. Hy is daar. Altyd daar. Volgend soos ’n skaduwee. My alter ego. Soos die ander helfte van ’n siamese tweeling wat afgesny is, maar nie wil verdwyn nie.

“Thor, vandag hou jy jou skaars. Ek het werk om te doen,” mompel ek as ek besig is. Ek noem hom Thor, want hy is so sterk soos donderweer. ’n Ysere wil en teenwoordigheid. Ek weet hy gehoorsaam as sy oë versag. Dis soos om te knik as jy saamstem met iets. Ek moet soms baie ferm met hom optree. Hy sê wel af en toe iets, maar sy stem is sonder klank. Ek is deeglik bewus van wat hy beduie. Met sy kopligte wat my vergesel.

Die saal is vol mense vandag. Dis ’n gemaal en gedreun van stemme. Ou Ryk de Waal dink weer hy is president. Staan grootdoenerig op die eetkamerstoel. Beduie soos ’n ergerlike predikant met sy hande. Al rammelend ’n onverstaanbare toespraak daarmee saam. Sy wit jas glim manjifiek soos die kleed van ’n voorste dirigent. Foeitog, hy het seker weer sy pille verloor. Kort-kort is daar moeilikheid en moet die wagte hom weer gryp en gaan vasmaak op die bed. Ek het al vantevore ingeloer en gesien hoe hy spartel om los te kom. Heen en weer ruk sy kop met ’n vreesaanjaende blik op sy gesig . Dik are bultend in sy nek. Onaardse geluide uit sy gesperde mond. Werklik nie ’n mooi prentjie om te sien nie. Gelukkig kan ek my uit die voete maak en gaan toesig hou in die saal of op die stoep, waar ander in mindere of meerdere mate hulself as andere wesens verbeel.

Die vet weet. Nie ’n maklike joppie om te doen nie, maar as jy opgelei en geselekteer is om iets te doen, dan maak jy maar so.

’n Tumult kom van die tamaaie grasperk af. Denver Denzel baljaar poedelnakend deur die sproeiers. Met sy arms na bo gegooi en die spierwit maer kniekoppe wat soos skedelkoppe blink in die son. Hy lag dat die trane loop. Denver lag feitlik altyd. Behalwe Kersfees. Hy kry ook nooit besoek nie. Arme drommel. Glo sy ouers op ’n Kersdag verloor.

“Sy familie is dood. Almal het verongeluk in ’n frats busongeluk. Net Denver het oorgebly,” het suster Angela eenkeer gebieg. Maar sy swyg soos die graf as mens haar verder wil uitvra. En dit maak my briesend. Ons personeel is veronderstel om mekaar te onderskraag en by te staan. Ons vorm ’n span. Ek sit sommer vir Thor op haar. Net een bliksemslag en sy en haar hele groot agterstewe is moer toe en na die maan. As sy nie altyd so vriendelik met my was en vir my ekstra nagereg inskep nie, het ek dit sweerlik gedoen. Maar hier moet ’n mens jou dinge mooi uitwerk. Dit help nie om jouself in die voet te skiet nie.

“Claire, kom sit by my,” vra sy my. Haar grys bolla is besig om los te kom en sy buk vooroor om die haarknippies terug te druk.

“Wag, ek help jou. Gee hier,” beveel ek haar en knyp die stywe knippie se punte tussen my tande oop. “So ja, nou lyk jy weer spiekeries.” Ek knik tevrede en sien Thor se goedkeurende blik agter haar.

“Hoe gaan dit met jou kunswerke deesdae? Ek het jou lanklaas gesien teken.” sê sy en vou haar arms voor haar bors. Die rooi balkie op haar uniform vang ’n straaltjie son en skyn in my oog. Ek koes en weer die verblinding af. Soos ek my kop wegruk, voel ek Thor se asem teen my nek. Hy is weer kwaai besig met my vandag. Ek beduie hy moet net rustig wees. Maak sagte waaibeweginkies met my regterhand na hom. Sy oë versag. Hy stem in. Ek is nie lus vir drama nie. Plaas hy vir Denver buite gaan join en sommer lekker afkoel in die proses.

“Dit gaan aan. Ek het mos ’n hele portefeulje opgestel vir my uitstalling eerskomende maand in die Humphrey-galery. Hulle bel my knaend oor al die bestellings. Soos die mense van my in die streekskoerante lees, sit hulle solank orders in, jy sal my nie glo nie.” Suster Angela luister aandagtig, knik en glimlag vir my.

“Ek wil ook graag vir my seun ’n selfportret bestel vir ’n verjaarsdaggeskenk, maar jy is ’n bietjie duur,” protesteer sy en staan eenkant toe. Koes uit die pad toe die verpleër vir Denver verby ons jaag. Kamer toe. Hy gil uitbundig van die pret. Dis egter nie nodig om hom vas te pen soos vir Ryk nie. Hy kalmeer altyd gou. Maar vir die wis en onwis hol nog ’n verpleër agterna. Dit word ’n plesierige speletjie. Ek is ook maar dankbaar ek en suster Angela is van die vroulike geslag. Jy moet fiks wees om hierdie klomp in toom te hou. Jaagwerk is manswerk.

“Ek is hoeka besig met ’n portret van Thor. Dis ’n tydrowende werk, want hy is vol detail. Sodra ek klaar is, laat ek jou weet.” Ek sug. Die bestellings maak my klaar.

“Wat se detail? Ek dog dan Thor bestaan net uit oë?” vra sy my. Verbeel ek my of is daar ’n effense besorgdheid in haar stem. Sy trek twee stoele nader en ons gaan sit. Haar voete plant sy wyd uitmekaar. Haar knieë ’n myl van mekaar. Sommige beweer sy is ’n mannetjiesvrou. Ek sal nie weet nie. Solank ek ekstra poeding kry.

“Dis waar ja, maar alles wat bokant sy oë aangaan, is ’n vlegwerk van duisende draadjies kennis en insig. Soos ’n rekenaar, net baie meer kompleks. Jy sal dit nie glo nie. En om elke strepie en hoekie te skets, is nie ’n man se maat nie.” Ek soek na die regte woorde. Dis moeilik om so iets aan ander oor te dra. Nie almal is ewe intelligent nie en suster Angela het maar agterig in die tou gestaan.

“Ek verstaan,” sug sy, maar ek wonder of sy doen. Sy probeer haar een been oor die ander kruis. Maar dis te dik en gly weer af. Sy probeer weer en gryp haar voet met mening vas. Hou dit daar. Ek glimlag vriendelik vir haar. Thor se teenwoordigheid grom agterlangs. Hy hou nie van dikgeit nie. Frommel immer sy oë van ontevredenheid as ek ’n tweede porsie poeding neem. Hoewel hy my al goed laat verstaan het poeding is beter as wilde seks.

“Wanneer gaan jy my nou in jou vertroue neem en vertel hoe dit is dat jy hier … e … kom werk het?” Sy wag vir my antwoord, maar ek aarsel eers. Ek hou nie van openlike nuuskierigheid nie. Sy is ’n haastige een om goeters van jou persoonlike lewe in lêers in die kantoor te gaan opteken. Nes ’n klikkiebek.

“Oukei, net as vergunning, vir jy weet wat.” Ek gee ’n skalkse knik na haar kant toe. “Kyk, ek was gewild en mans was mal oor my.” Verbeel ek my, of huiwer daar ’n glimlag om haar mond? Ek ignoreer dit en vervolg: “Na skool het ek vir ’n baas as tikster gaan werk. Hy wou baie gunsies van my hê. Mos toe loop vertel dat ek die snelste tikker in die land is. En hy het nie van dwelms gepraat nie, jy weet. Ewenwel, hy het my malls toe gevat. Ek kon koop, net wat ek wou.”

“Net wat jy wou, regtigwaar?” Suster Angela se oë is groot. Ek sien ek het haar gefloor. Sy het my totaal onderskat.

“Dis wat ek gesê het, ja. Aan die begin was dit lekker. Sy kaart het overtime gewerk en groot gepraat. Ontwerpersklere, parfuum, stiletto’s, die duurste makeup, die hele lot. Maar weet jy wat, ek het versadig geraak van te veel. Die oordaad het my ondergekry. Dit was net koop koop koop. Pomp pomp pomp. Eindelik moes iets skietgee.” Suster Angela lek haar lippe af en wag vir nog. Sy hoef nie lank te wag nie. Ek is op ’n roll.

“Die oordaad het my naand verwurg. Dit het soos ’n lawastroom van dik taai stroop in al my gate ingeloop. Ek was verswelg. So erg dat ek desperaat gesoek het na asem. Verstikking is nie lekker nie. Ek onthou die wellus. Sy dik are kloppend teen my lyf, terwyl sy begeerte ’n slaaf van hom gemaak het. Hy was pateties, soos ’n seuntjie wat smeek om ekstra lekkergoed. Die laaste aand het ek het my vingers spelerig oor sy sneller laat huiwer. Maar die vlees het staal geword, ek sweer. Dit het verander na ’n vuurwapen se sneller. En Thor het bly skree. Soos ’n bleddie maer vark bly skree. My ore het getril van die lemme van sy stem.” As ek nog nooit suster Angela se aandag gehad het nie, het ek dit nou. Sy staar gefassineerd na my.

“Thor het my heeltyd aangepor. Sy oë was dik belope en hy het geskree ek moet skiet. Die bloed was dik-dik dik soos die stroop in my. Soet en dik en oraloor. Te veel, te veel. Ek wou weg, maar hulle het my op my knieë gekry.” Ek hyg na my asem en praat vinnig verder: “Lang storie, man. Het ek jou dit nog nooit vantevore vertel nie?” Ek kyk of sy orraait is. Ek sal nie verbaas wees as sy my nie verstaan nie. Soos ek gesê het, sy is nie die skerpste potlood wat daar is nie.

Ek du my hand teen die polsing in my kruis waar my bobene mekaar ontmoet. Ek ruik my supersoet parfuum.

“Thor sê my siel is ’n gat wat nooit wil volkom nie. Hy kan soms soveel nonsens praat. Die hof het hierdie werk vir my gekry. Hier by Waanwêreld in die Kaap. Ek weet nie hoe jy met so min pay klaarkom nie. Hoekom dink jy moet ek portrette teken vir ekstra geld?” My mond is droog. Ek het te veel gepraat. Ek sluk van die droog en lek my lippe stadig af. Ek wil water hê. En dan ’n ietsie soet. Ek sterf van die lus vir die smaak van soet.

The post Waanwêreld appeared first on LitNet.

Geluk by die ongeluk

$
0
0

Ek lê in my te klein koshuisbed (of liewer bedjie) en klou aan my deken vas soos iemand wat nog nooit ’n kombers besit het nie. Ek luister na die geluide om my. Die reëlmatige asemhaling van drie seuns. ’n Paar snorkgeluide wat my in my kussing wil laat lag. Die gekwetter van voëls – seker maar duiwe – wat buite verbete oor ’n paar vermorste broodkorsies hul vlerke op amper gewelddadige wyse op die matrieks se vierkant klap. My nuwe kamermaats genaamd James Smith, Nathan Jackman en Banzi Ngcobo. Gewoonlik hou ek daarvan om laat te slaap, maar ek lê al vanaf vieruur wakker. Ek tel saam die sekondes af soos die getik van my horlosie se sekondewyser op my bedkassie die tyd aftel na 06:30 gevolg deur die oorverdowende beier van die skoolklok uit die 150 jaar oue toring wat elke siel in hierdie plek uit sy vreedsame slaap wakker ruk.

Dit was nie my idee om hierheen te kom nie. Ek was baie gelukkig by Devon House College. Ek het nou wel nie daarvan gehou om ver van die huis af te wees en in die koshuis te bly nie, maar my pa het daarop aangedring dat ek die laaste drie jaar van my skoolloopbaan by sy alma mater moet voltooi. “Jy is ’n Kriel, en jy sal die tradisies van hierdie familie respekteer en eerbiedig,” was sy presiese woorde aan my einde laas jaar tydens die Kersvakansie. Pa praat en ek luister. So was dit nog altyd. En so sal dit seker ook altyd wees. My ma se simpatieke oë het my vanuit die kliniese kombuis met daardie kil graniettoonbank probeer troos met ’n effense glimlaggie om haar geplooide mondhoeke. Die donker kringe onder haar oë was nog effens sigbaar ten spyte daarvan dat sy dit met haar duur onderlaag probeer verbloem het. Dit was nog altyd haar manier om my te probeer troos. Haar skaam glimlaggie. ’n Kriel wys nie sy emosie nie. Geen drukkies en soentjies of mooipratery in dié gesin nie. Pa se woord was wet en die wet moet gehoorsaam word.

St Columbus Boys’ College is een van die spoggerigste en mees gesiene onafhanklike skole in die land. Hier word “Tradisie” met ’n hoofletter geskryf. Toe ons drywer, mnr Nyati, my gister met my pa se luukse Duitse sedan hier voor die hoofingang afgelaai het, het ek versigtig die trappe na die imposante hoofgebou opgestap. My tasse was swaar en ek het dit soos twee sementblokke agter my aangesleep. Naarheid het my skielik oorval en ek moes myself keer om nie in een van die roosbeddings te braak nie. “Kots” sou ‘n beter woord wees, maar my pa dring daarop aan dat ons slegs suiwer Afrikaans praat. Nogal ironies, want nou staan ek by die ingang van ’n Engelse kosskool – ’n bastion van Engelse kolonialisme. My oë het waterig geword, maar ek is ’n Kriel. En ’n Kriel huil nie. Nooit nie. Boonop kan ek nie my naam ruk deur my gevoelens oop en bloot te wys nie. Ek moet myself nie blootstel nog voor die eerste skooldag begin het nie. Die ontvangsdame het my vriendelik dog simpatiek gegroet en een van die matrieks gevra om my na my koshuis te neem sodat ek kon uitpak en my koshuisvader, mnr Robson, kon ontmoet.

Dit was gister. Nou moet ek opstaan en my nuwe skooluniform aantrek om hierdie nuwe dag aan te pak. Nuwe skooluniforms laat my altyd ongemaklik voel. Alles is so styf en die materiaal nog effe hard ten spyte van die eerste was en stryk. Toe die koshuisvader my gisteraand aan my nuwe kamermaats voorgestel het, kon ek die spanning duidelik aanvoel. James Smith, die skool se blonde eerstespan-waterpoloheld, het my met reptieloë aangegluur – koud en emosieloos. Banzi Ngcobo het net mompelend gegroet en homself spoedig uit die voete gemaak. In die hoek van die kamer regoor die bed wat aan my toegewys is, het ’n donkerkopseun gestaan. Hy was besig om sy rugbytrui op te vou en in sy hangkas te pak. Hy het vinnig omgedraai en na my gestaar. Sy oë het vir amper tien sekondes versteen. Ek het ongemaklik rondgekyk en stadig na hom gestap. Ek het my hand huiwerig uitgesteek en myself voorgestel. “Marnus Kriel, pleased to meet you.” Stadigaan het daar ’n effense glimlag op sy gesig verskyn. Sy twee kuiltjies het dadelik my oog gevang. “So you’re the new Dutchman.” Hy het omgedraai, op sy bed gaan sit en sy oorfone in sy ore gedruk. Harde rockmusiek wat nie goed vir sy oordromme kan wees nie – selfs ek kon die effense klanke van elektriese kitare hoor. Op sy hangkasdeur was sy naam in swart hoofletters op ’n etiket geskryf: Nathan Jackman.

Nadat ek my ontbyt vinnig moes afwurg om betyds vir die kapeldiens te wees, het ek ongemaklik tussen hordes ander raserige seuns my plek op een van die ongemaklike houtbanke in die kapel ingeneem. Terwyl die priester gebid het, het ek my pa verwens dat hy my na dié plek gestuur het. Nóg verder weg van die huis. Weg van die paar vriende wat ek by Devon House College gehad het. Weer moes ek die aanslae van ’n nuwe skool in die gesig staar. Letterlik én figuurlik gesproke.

Die skooldag het soos by enige skool sy gang gegaan. Wiskunde was eerste aan die beurt, gevolg deur Engels. Afrikaans is egter my gunstelingvak en ek het dadelik van my onderwyser gehou. Mnr Du Buisson was anders as die ander onderwysers. Sy gemoedelike persoonlikheid het my dadelik opgeval. Die feit dat Afrikaans my huistaal is, het dadelik gesorg dat mnr Du Buisson ’n glinstering in sy oë gekry het. Met die apatiese houding van die seuns rondom my in sy klas, kan ek dink waarom hy belangstelling in my sou toon. Vir hom was ek ’n oase in die dorre woesteny van addisioneletaalonderrig by St Columbus Boys’ College: hordes seuns wat jaar na jaar in sy klas woordorde, voegwoorde, tye van die werkwoord en die negatief moes aanleer – meestal met groot frustrasie aan beide kante. Oor gedigte en letterkunde sal ek liewer nie praat nie. Dit was duidelik dat mnr Du Buisson ’n toegewyde onderwyser is. Iemand met ’n passie vir Afrikaans en veral die letterkunde. Maar helaas het min seuns sy passie gedeel. Maar ek deel wel sy passie. Ek. Marnus Kriel.

Reeds sedert my laerskooldae het ek boeke verslind. Die biblioteek was my veilige hawe. Leon Rousseau se Fritz Deelman-reeks, Maretha Maartens en Marita van der Vyver het my met hul stories na onbekende plekke op verbeeldingsreise geneem. Op hoërskool het ek die bosverhale van Dalene Matthee en die reisverhale van Elsa Joubert ontdek. Ek het my dae in skoolbiblioteke omgesit. Myself in die stories van ander verdiep. Weg van die realiteit wat die lewe daar buite vir my was. Die realiteit van ’n pa wat op meer sakereise gegaan het en tyd op kantoor deurgebring het as by die huis. ’n Ma wat altyd senuweeagtig haar voorskoot in haar hand gefrommel het as my pa wel by die huis was. Rondgetrippel het om te wag vir my pa se volgende instruksie. Skelm sjokolade onder my kussing weggesteek het wanneer ek vakansies by die huis was. Sakgeld in my baadjiesak gedruk het wanneer mnr Nyati my by die skool moes gaan aflaai aan die begin van ’n nuwe kwartaal.

Soos die dae en later weke verbygegaan het, het ek stadig my voete by St Columbus gevind. Ek was weer eens vriendloos en het pouses in die biblioteek gaan skuil. Etenstye alleen gesit en die ander seuns op ’n afstand dopgehou. Net een paar oë het myne altyd ontmoet wanneer ek die omgewing rondom my bespied het. Dié van Nathan Jackman. Ek het altyd dadelik weggekyk, maar kon sy helderblou oë op my voel brand soos die laserstraal van ’n skerpskutter se geweer.

Einde Februarie het ek onder dwang aan die swemuitdunne deelgeneem. Al daardie aandag van starende oë en die baie klein swembroekie het my effens uit my gemaksone geplaas. Ek het die eerste plek in die 100 m-vlinderslag sowel as die 200 m-borsslag behaal. Tot my groot verbasing is ek in die skool se swemspan ingesluit. Die swemafrigter was so beïndruk met sy nuut-ontdekte talent dat hy my naweke privaat afgerig het om my swemtegniek te verbeter. Ek het elke Saterdagoggend klokslag by die binnenshuise swembad aangemeld en my lengtes geswem. Mnr Thackeray het my omtrent verskree, maar al die harde werk was die moeite werd. Tydens die eerste interskoolgala het ek ’n silwermedalje in die 100 m-vryslag gewen. My hart het in my keel geklop net voor die afsitter die skoot afgevuur het. Maar ek het geweet dat ek hard geoefen het. Daardie silwermedalje het ek verdien. Ek het daardie aand vir my pa ’n boodskap getik en dae lank vir ’n reaksie op my e-pos gewag. Maar daar was geen boodskap van hom nie. Hy was seker besig.

Vanmiddag na ’n uitmergelende swemoefening het ek op my bed kom lê en ’n roman van Etienne Leroux gelees wat mnr Du Buisson vir my geleen het. Sewe dae by die Silbersteins is nou nie wat ek ontspanningslektuur sou noem nie – nogal ‘n vreemde roman. Ek is teen dié tyd nou al gewoond daaraan om myself besig te hou. My klasmaats sowel as my kamermaats hou hulself op ’n afstand.

James Smith kom onverwags by die kamer ingestap. Hy loop met ’n tennisbal en speel. Hy gooi dit in die lug op en vang dit dan weer. Oor en oor. Voor my bed in die linkerkantste hoek van ons kamer stop hy in sy spoor. Hy druk sy hand in sy broeksak en haal ’n half verfrommelde stuk papier uit. Ek laat sak stadig my boek en loer bo-oor die rand na die stuk papier. Vir ’n paar sekondes wat soos ’n ewigheid voel, stoot die suur in my maag in my keel op. Die ligblou vel papier met die swart en goud skoolwapen herken ek dadelik. Daardie stuk papier wat ek uit een van my ou skryfblokke van Devon House College geskeur het. Die woorde en sinne in swart daarop geskryf syfer soos nat ink deur die papier. Die woorde wat ék geskryf het. Die brief waaraan ek so lank geskryf het. Weke se wroeging. Elke woord versigtig oorweeg en heroorweeg. Seker twintig keer oorgeskryf om die regte bewoording te kry. Nou is daardie brief in die hande van James Smith. Koudbloedige waterpoloheld met sy donkergroen oë wat my hart en siel deurboor.

Ek kan nie veel onthou wat daarna gebeur het nie. Ek onthou egter ek het ’n harde hou in my gesig gevoel. Daar was ’n ystersmaak in my mond. Iets nat het teen my wang en van my ken af gedrup soos slakslym teen ’n muur. Twee stemme het op mekaar geskree. Meubels wat rondgestamp word. En toe word alles donker.

Waar ek nou hier in die skoolkliniek lê, wonder ek steeds wat presies daardie middag gebeur het. Die verpleegster spuit my gereeld met pynstillers in en ek slaap baie. Ek weet nie eens hoeveel dae ek al hier lê nie. Die son skyn helder by die venster oorkant my bed in. Ek hoor die veraf geskril van die skoolklok wat lui en seunstemme wat lag en skree. Die skoolhoof het my vanoggend besoek en wou ’n verklaring by my afneem. Al wat ek weet, is dat James Smith my geslaan het. Goed gebliksem het – soos mens in minder gesofistikeerde Afrikaans sal sê. Dit is al wat ek hom kan vertel. Of liewer – dit is al wat ek hom sál vertel. Ek weet waarom James dit gedoen het. Maar ek kan niks sê nie. Ek wil, maar ek kan nie. Ek mag nie. My pa. My pa sal uitvind. Hy sal weet. Hy kán nie weet nie. Hy mág nie weet nie.

Twee dae later het die verpleegster my uit die skoolkliniek ontslaan. Ek het myself vir die eerste keer in die badkamerspieël bekyk toe ek my skooldrag aangetrek het. My blou oë staan prominent uit teen die kontras van die bloupers kneusmerke op my vel. Plek-plek verkleur die kneusplekke en ontstaan daar ’n skynsel van geel. Ek lyk nie juis besonder aantreklik nie – al moet ek dit nou self sê. My blonde hare lê plat op my voorkop. Ek wonder wie almal weet wat gebeur het? Ek moet nou die moed bymekaar skraap en hier uitstap om die wêreld in die gesig te staar.

Terug in my koshuiskamer lyk my blou katoendeken amper huislik. Die reuk van deodorant en stink kouse hang in die lug. Ek vind die reuk skielik walglik. Ek trek my skoolbaadjie uit en hang dit in my hangkas op. Ek gaan lê skoolskoene en al op die bed en staar na die plafon. James se beddegoed is weg. Sy hangkasdeur staan half oop en die kas is duidelik leeg. Banzi en Nathan se beddens is netjies opgemaak soos daar van ons verwag word. Ek steek my hand onder my kussing in om my stywe nek te ondersteun. Ek voel ’n vreemde voorwerp wat nie daar hoort nie. Ek trek dit versigtig uit en vind ’n naamlose wit koevert. Ek druk my vinger onder die flap van die koevert in en skeur dit versigtig oop. Ek haal die bladsy uit en vou dit oop. My oog val dadelik op die naam onderaan die brief. Die naam wat alles veroorsaak het. Daardie naam waar alles begin het. Die handskrif is onnet en ek sukkel om sommige woorde te lees.

Dear Marnus

I am so sorry for what James did to you. When I walked into the room and saw him pounding your face, I immediately knew what had happened. It is my fault for not hiding your letter. I was in a rush to get to cricket practice and after having read your letter I simply left it on my bedside cupboard. Having said this, I want to thank you for your letter. When our eyes met on the very first day of term, I knew. I feel exactly the same way about you. Ek lief jou ook. (I hope my Afrikaans is correct.)

Nathan

Ek vou die brief versigtig toe en druk dit styf teen my bors vas. Ek word onverwags oorval deur ’n gevoel van innerlike vrede wat net Nathan sal verstaan.

The post Geluk by die ongeluk appeared first on LitNet.

’n Staaltjie uit die dagboek van ’n maatskaplike werker

$
0
0

’n Staaltjie uit die dagboek van ’n maatskaplike werker

Jare gelede kry ek ’n aanmelding van ’n skoolpligtige kind wat nie skool bywoon nie. Ons noem dit skoolversuim. Toe ek voor die huis stop, val dit my op dat daar waar ’n grasperk behoort te wees, net bar grond is. Nie ’n plant in sig of enige groenigheidjie nie. Die huis sit ver agter in die erf. 

Soos ek deur die tuinhekkie met sy een skarnier na die huis toe loop, lê daar klere gestrooi soos konfetti by ’n troue. Party “vars” en ander al vir maande, indien nie jare nie, in die grond in getrap. Net ’n mou of ’n broekspyp steek uit. Die verskynsel interesseer my, maar ek is nou hier oor die skoolversuim.

Die huis is buite vol spinnerakke en krake. Ek klop aan die deur. Geen reaksie. Ek klop weer.

“Jaaa!” roep ’n geïrriteerde stem van agter die voordeur.
“Hallo, ek is ’n maatskaplike werker, kan ek inkom asseblief?” 
“Die voordeur se sleutel is nou al maande weg en hier is nie ’n ander deur nie!” 
“Nou hoe kom julle by die huis in en uit?”
“Ons klim deur die venster!”
“Oukei, dis reg so. Dan sal ek ook sommer deur die venster klim!” 

’n Kop loer deur een van die vensters. Ek sien die vrou van die huis se gesig deur die walms van haar sigaretrook. Die lyne op haar voorkop is asof deur swaartekrag gebuig.    

Daardie jare was ek nog jonk en rats en ek klim deur die venster. Binne is ek verstom. Daar is net ’n verslete bank waar die sponskussing uit die geskeurde stoffeerlap lek. Verder is die hele vertrek van vloer tot dak al langs die mure opgestapel met hope en hope en hope klere wat hulle by al wat ’n liefdadigheidsorganisasie is versamel het of steeds versamel word. 

Toe val die pennie. Dit gaan te lekker hier. Jy hoef nooit klere te was of te stryk nie, en elke dag is daar ’n nuwe uitrusting om aan te trek. Soos wat een klaar gedra is, word dit in die tuin gegooi en met verloop van tyd in die grond in getrap totdat dit begrawe is.

Wat van die skoolversuim geword het, kan nie meer onthou nie. Ek onthou net ek is weer deur die venster daar uit, tussen al die klere deur tot in my motor met dié vreemde verskynsel in my geheue verewig.

The post ’n Staaltjie uit die dagboek van ’n maatskaplike werker appeared first on LitNet.

Dit was nie ek nie

$
0
0

Ek begrawe my selfoon in ’n bak rys en sit dit in die son. Dalk genees moderne tegnologie homself; kunsmatige intelligensie het daardie vermoë. Want my foon het in die bad geval tydens ’n vurige argument met my suster. Ná ’n week van drooglê in die Tastic sit ek die gesofistikeerde slimjan met die delikate binnewerking aan en voilà: Alles lyk in orde.

Die handstuk soek gulsig na sy internetkonneksie, oudit al die instellings: ten volle funksioneel. Of so dink ék, en gaan op Facebook in om agterstallige werk in te haal. Dis toe dat die foon ’n persona van sy eie begin ontwikkel. Aanvanklik het ek die opgewonde geborrel soos ’n vistenk geïgnoreer. Maar dan flikker die skerm geheimsinnig; begin na willekeur te blaai. En gaan vanself in op vriende se Facebook-profiele, maar ook op onbekendes s’n, gretig, soos ’n kind op ’n skattejag. 

My eerste gedagte: Dit is malware. Nou woeker die foon lustig soos ’n ou Facebook-verslaafde en gaan maak ’n draai op Steve Hofmeyr se muur (met wie ek nie vriende is nie); gooi ’n reuseduim by ’n foto waar hy staan en sing met ’n two tone-hemp en ringbaard soos in ’n John Wayne-film en hare wat met die tyd al donkerder word.

Nie lank nie, en my kennisgewings begin bons: Ek is gemerk in die regse retoriek van vrot spelling, moddergooi en simplistiese argumente. Eindelik bly ek net gehipnotiseer sit en staar na die oorstuk wat met ’n wil en ego van sy eie handel. Menslike interaksie het in elk geval nog nooit vir my sin gemaak nie – ek verstaan dit nie, dis nie logies nie. Maar kunsmatige intelligensie, dít verstaan ek wel. Tog ... as kunsmatige intelligensie versteurd raak, raak dit weer hipermenslik. 

By tye probeer ek inmeng: Dis tog stééds my foon. Die streelpaneel steek bot vas. Streel en selfs vryf help nie; ek moet met staccato-vingers teen die hardvogtige venster tok. En die foon hik ’n slag, kry ’n tweede asem en warrel deur die plakkerwinkel. (Ek kan intuïtief aanvoel dat dit daarvan hou.)

Ikon, animasie en plakkers is die lyftaal van die sosiale media.  As jy nie weet wat om te sê nie, dan plaas jy ’n sticker of ’n smiley. Dit help om selfbewustheid te oorkom. Gaandeweg besef ek: Dié malware tree op soos ’n disfunksionele kind, daar is niks logies aan die domfoon se optrede nie. Hierdie is ’n baldadige, bekkige ekstrovert, presies die teenoorgestelde van my. Die cursor tril eintlik ongeduldig van al die energie ... en begin vanself te tik.

Gibberish, en ek steur my nie daaraan nie – as iemand só ’n WhatsApp of SMS van my af ontvang, is dit tog duidelik dat ek dit nie versend het nie. Maar nee. Ek kry ’n versigtig bewoorde WhatsApp van ’n vriendin wat vra of my Tourette terug is. Tóé sien ek: Die foon het vir haar ’n string diakritiese tekens gestuur, gevolg deur FOOOOK, gevolg deur ’n wow!-gesiggie.

Dit was nie ek nie, tik ek met moeite terug. Die waarheid. Ek het Tourette jare gelede oorkom (oftewel die verbale deel; nieverbaal sukkel ek nog met die middelvinger wat met ’n wil van sy eie opskiet soos ’n springmes.) Menslike gedrag is nie logies nie, nee. Ek smoor my swetsvinger toegevou in my palm, daarom is my een vuis altyd gebal tydens sosiale situasies. Ek weet ander mense vermoed ook my sosiale interaksie maak nie sin nie, maar dit is logies. 

Die foon vibreer, flik ’n paar maal en blaai dan na my foto-albums, my persoonlike hougoed.
Die foon kriek: ’n kennisgewing. En dit kriek en kriek tot ook die volumeknoppie vassteek en die klank skril verdeel in ’n waansinnige kriekekoor. Nou blaai ek ferm téén die weerstand in terug na my profiel, heilig-beskermend oor my virtuele kleinode. 

En ja! Die slimfoon het wragtie ’n selfie van my gestaan en pos op my muur – en dis beslis geen  uitstalfoto nie. Nee, ’n grapfoto wat ek geneem het toe ek wakker geword het, uit pure verveling. Hoekom ek die ding nie uitgevee het nie, kan ek nie verstaan nie, maar menslike gedrag is nie logies nie. 

Ha-ha-ha, lag my vriendekring. Ek besluit om dit te ignoreer, maar kan voel hoe my oogtande van woede en frustrasie begin groei met dié los kanon se geil optrede. Of dalk is daar ’n demoon in my foon?

Dan betig die stem van rede my: MALWARE. 

Nou is my foon almal se pel. Daar is geen comfort zones of grense of kieskeurigheid nie: Die foon blaai joviaal na my lys hangende vrienskapversoeke en begin almal voor die voet aanvaar. Mense wat ek met ’n goeie rede nié aanvaar het nie – almal verdagte skaduprofiele of kuberkriminele. Nee, my foon is ’n méns-méns (of mensch) of wat dit ook al mag beteken – menslike gedrag is nie altyd logies nie. 

Helaas vaar die foon in die spookdorp van gefiltreerde boodskappe in, en deel gulhartig hartjies en ruikers uit: "Hello dear, what a nice and sparkling smile you’ve got. I wouldn't trade that smile for anything. I am new on Facebook, and I stumbled onto your profile. I got entangled in that wonderful smile, couldn't stop myself from saying hello. What do you say to friendship with me? Your response will be most appreciated ...

Teen dié tyd sit ek verlam soos ’n vrou wat aan Stockholm-sindroom ly. Staar sku na die skerm wat uitbars in konvulsies; die weelderige, plat handstuk sidderend in weerligstrale, psigedelies groen. Maar dan herwin die sagteware deels hul bewussyn, stik en tril en begin van vooraf deur die toepassings kam.

Dit staan by elke troeteldiervideo stil en maak dit oop: ’n papegaai wat op ’n kat se rug ry, en ’n labrador wat sy halsband in sy bek vasknyp voor hy oor die straat se groen lig stap. (Waar ís die eienaar?) Die skermskut flits soos ’n disco in die eighties, en nou jol die foon met ’n onstuitbare vaart en drif. Dit woel deur die instellings, ontdek die bandopnames ... en ek raak yskoud. Dis die klanknotas vir my stories en projekte en dit is báie privaat. 

Die foon raak stil, té stil, soos ’n kind besig met iets onheilig. Geen kennisgewings, e-posse, inbokse – niks. Die platskyf lê moeg en oorverhit in my palm. Dan skakel die foon oor na die volgende (finale?) modus: een wat ek nie ken nie. Dit moes die onbeperkte data ontdek het, die land van melk en heuning, want gelyktydig aktiveer alle stuurkontroles in hoogspanning: WhatsApp – sending; SMS – sending. Kletskamers wat ek nie eens geweet het bestaan nie (het dit nooit gebruik nie) – sending.

My foon loods ’n finale aanslag op homself, op sy eie selfvernietiging.

Ek kry ’n plakker met ’n gesig wat oopbek lag op WhatsApp: My jongste klanklêertjie is toe so wragtie na ’n jare lange vriendin gestuur. Dis die stemnotas vir my nuwe jeugverhaal wat handel oor die ewige konflik tussen die Gote en die Vandale.

“In Goteland was die Vandale en die Gote alewig haaks. Die koning, Alexander die Gote, het sy manskappe byeen geroep. Ons held, Dawid, was van koninklike afkoms. Sy grootouers was ook opgeskryf in koning Alexander se stamboek.”

Die storielyn ontvou in my Nataniël-stem.

"Sukkel jy nog steeds met die 'r'?" vra die vriendin. 
Ek voel hoe ek bloedrooi word. My nemesis tot op nege: die 'r' wat nie oor my tong wil rol nie. Drie rooi ribbokke spring oor drie rolle doringdraad. (Tongknope.) 

Dit was nie ek nie, tik ek desperaat op die bibberende sleutelbord, net om begroet te word met ’n high five.

Nou babbel die vistenk ’n toonhoogte laer. Tjong. ’n Inboks. Een woord: sies! Dis ’n onbekende virtuele vrou wat my dan ook summier ontvriend. Maar ek weet nie waarom nie; ek verstaan nie menslike interaksie nie – dis net nie logies nie.

Tjieng. Dié keer ’n WhatsApp.

"Die cartoon wat jy vir my gestuur het."

Die sin bly kletsstyl in die lug hang.

"Ja," antwoord ek. 

"Die cartoon van Sweeuwitjie wat bad (typing...) 

"... en die sewe dwergies wat haar afloer."

"Ja," antwoord ek. 

(En word van vooraf yskoud; wonder wie almal die cartoon ontvang het. Sal my baas die waarheid glo – vir mý – as ek vir hom sê dit was nie ek nie? Mense glo net wat hulle wil van ander, en gewoonlik glo hulle die ergste. Maandag word ek dalk ingeroep vir ’n gesprek agter ’n geslote deur, of dalk ’n dissiplinêre verhoor ...)

(Typing...) "Toemaar, ek weet dat jy dit nie gestuur het nie."

"Regtig?"

(Typing...) "Daar's ’n virus of iets op jou foon."

Ek, driftig: "Wat gaan jy doen as ek vir jou sê ek hét dit gestuur?"

"Gaan jou nie glo nie." 

"Is jy seker?"

(Typing... stilte. Stilte. Typing...)

"Nie jy nie. Never. Ek ken jou mos."

"As ek regtig die cartoon gestuur het?"

"Ek glo jou nie."

Ek laat sak die foon en haal diep asem. Ek verstaan nie menslike interaksie nie. Dit is net nie logies nie.

The post Dit was nie ek nie appeared first on LitNet.

Dit is nie paartyd nie

$
0
0

Dit is nie paartyd nie

In 1975 het ek my tweede “institusionele” winter in Neuro C-kliniek by Stikland Psigiatriese Hospitaal deurgebring.

Om op jou eie pille te “OD” is pateties. Om by te kom na ’n mislukte oordosis is nog meer pateties en ook vernederend. Jy kan nie eens jouself doodmaak nie. En die mense rondom jou se veragting ...

Ek het deur daardie jaar se jool geslaap. Toe ek uiteindelik my oë oopmaak, was alles verby. So absurd – jy weet hier naby jou het iets groots gebeur, maar nou is daar net die na-stilte. Laat die Saterdagnag het ek opgestaan, na die Eersteriver geloop en in die middel van die halfstroom op ’n klip gaan sit. ’n Klip om die nek sou jou nie hier help nie. Die water is te vlak.

Dit was die tema van my lewe: slaap, slaap, slaap. Slaap deur etes, klasse, toetse, sokkies. My bed ’n drie by ses, ’n plek van veiligheid sonder eise, maar ook ’n sel van afsondering, futiliteit en toenemende wanhoop.

Die stryd om wakker te word en op te kom. Minute se opwerk daartoe, selfs regop sit, maar dan baie keer weer platval en verder slaap. Na nog ’n mislukte oordosis en my pa se moedelose gesig het ek besluit dit is nou genoeg. Middel-Junie het ek in my Kewer geklim en Stikland toe gery.

Op pad het ek ’n vreemde ding ervaar. Voor my het ’n kar met ’n CFR-nommerplaat gery. Dit was of die CFR begin lewe kry, begin bewe en lig uitstraal. Dit was bedreigend, sodanig dat ek eers langs die pad moes stop om die paniek onder beheer te kry. Ek was dus op pad na die regte plek.

Dit is raar dat iemand vrywillig opdaag by ’n psigiatriese kliniek en vra om opgeneem te word. My psigiater was nie daar nie, maar dr Saul was bereid om my te spreek. Hy het my ook laat opneem. In die lêer geskryf, sou ek later lees: “onset of schizophrenia” – ek het toegang tot my pasiëntbesonderhede as ’n reg beskou. Ek sou ek myself nooit as skisofrenies beskou nie. Eerder depressief en rigtingloos.

Daar was ek nou. Vir die tweede keer. Dit was dus nie alles so vreemd nie. Die pasiënte was egter almal nuut. Die kos was dieselfde. Een dis wat ek nog goed onthou was blokkiesvleis met sous, stampmielies en skorsie.

Intussen was my psigiater woedend vir my: “Jy hoort nie hier nie. Ek gaan elke aand vir jou ’n bottel melk met ’n tiet gee tot jy grootword.”

“Maar Dokter,” het ek gesê, “vat asseblief van my pille weg. Ek slaap my lewe om. Ek leef in angs as ek wakker is en dit kan tog nie goed wees nie.”

Hy het toe my medikasie verander na “Ativan 1 mg tds” en “Etomine 40 mg nocte”. Van toe af het ek minder geslaap.

Twee pasiënte kan ek nog goed onthou: Doreen en Jamie. Altyd saam. Doreen was middeljarig, ’n oujongnooi, ietwat van ’n droë rosyntjie. Jamie was gay. Hulle het alewig in die sitkamer plate gespeel, veral ’n stuk uit Swanemeer, tot vervelens toe. Selfs vandag nog krap dit my om as ek daardie musiek hoor. Jamie het aversieterapie gekry: hulle wys hom foto’s van kaal mans en as hy daar onder begin opleef, skok hulle hom. Hy het een middag huilend teruggekom van terapie, sy goed gepak en homself ontslaan. “Die varke!” was sy laaste woorde. Doreen is ook kort daarna weg.

My psigiater het vir my werk gekry by ’n versekeringsmaatskappy. Ek sou dan in die dag daar werk en saans weer terugkom na Neuro C. Altyd bewus van ’n intense angs het dit nie te sleg gegaan nie. Op pad terug van die werk na Neuro C in die middag het ek soms by die Welmans-tweeling aangegaan. Anneke en Maryke. Het hulle leer ken op ’n Voortrekkerkamp. Altyd net saam met een van hulle gekuier en nooit geweet watter een dit is nie. Eendag het ek laat val dat ek wel werk, maar ook nog ’n pasiënt is. Die volgende keer het hulle pa my in vriendelike dog duidelike Hollands gevra om nie weer te kom nie.

Ek het daardie dag so sleg gevoel dat ek by Stikland my skeermes gaan haal en my polse probeer sny het, terwyl ek in die Port Jacksons skuil. Mnr Christie du Preez, verpleër en goeie waarnemer, het my daar kom uithaal. Omdat ek net ’n bietjie bloed op die arm gehad het, het hy sommer self die “wond” ontsmet en verbind. Ek het toe kamer toe gesluip.

Die hoogtepunt van my verblyf was die aankoms van Tessa Steyn. Tessa was ’n pragtige meisie van sestien. Ietwat blas, met donkerbruin hare en blou oë, ’n prominente langerige neus en sterk swart wenkbroue. Sy het my aan ’n Egiptiese prinses laat dink, met breë en byna katagtige ooglyne.

Sy het tydens haar eerste aandete in Neuro C alleen by ’n tafel gesit. Baie verward. Ek kon nie gou genoeg my kos kry nie, het na haar gestap en gevra: “Kan ek by jou sit?” Sy het gemompel, maar ek het bly sit.

“Seker ’n bietjie vreemd vir jou hier?”

Sy het stadig ontdooi en ’n vriendskap het tussen ons ontstaan. Omtrent al die vrye tydjies wat die kliniek toegelaat het, was ons saam. Geen gevryery nie, want dit was taboe tussen pasiënte. Handjiesvat is darem verdra.

Sy het my vertel hoekom sy snaaks geraak het. Haar pa was ’n spesialisdokter en haar ma ’n verpleegsuster. Haar ma, sou ek later agterkom, was ’n pragtige vrou en het betrokke geraak by ’n ander dokter – hoe erg sou ek nie weet nie. Toe alles op die lappe kom, was daar vir maande groot spanning in hulle huis. Haar ma het bande met die man verbreek, maar Tessa het in ’n verlammende depressie beland.

Die psigiater het Tessa op antipsigotiese medikasie gesit, onder andere op ’n siklus van Stelazine. Dit begin met drie pille ’n dag, vermeerder elke dag totdat jy op die ou end 30 pille per dag drink en dan weer afwaarts tot by drie. Ongelukkig foeter dit jou metabolisme so erg op dat jy vet word. Voor my oë het Tessa gestoel en ongelukkig al hoe minder mooi geword. Hierdie nuwe oorgewigstatus was natuurlik ook nie bevorderlik teen depressie nie.

Tessa is voor my ontslaan. Sy het die skoot toe al hoog deur gehad. Sy het my byna elke dag van haar huis af gebel. Ek het al hoe meer ongemaklik geword en het nie geweet waaroor om te praat nie.

Haar familie het my twee keer by die kliniek kom haal, die eerste keer na Bloubergstrand en die tweede keer na die opening van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. By Blouberg het ons twee ’n lang ent gaan stap en was daar meer vroeteling en soentjies.

Ek is ook later ontslaan. Die daaglikse gebellery het voortgegaan. Ek het besef ek moet hierdie dinge nou stop. Tessa het verwagtinge. Sy het al begin praat van “as ons eers getroud is ...”

Ek het een Vrydagaand na hulle huis toe gery en vir Tessa vertel hoe ek voel: ons is albei nog baie jonk, ons is onstabiel, nog ’n lang pad om te loop, ’n risiko om ’n verhouding te laat ontwikkel.

Sy het baie gehuil, my lank vasgehou en laat gaan. Ek het haar pa gegroet en stadig na my Kewer geloop. Ek was al in die kar, toe Tessa se ma uitstorm en my konfronteer: “Baie dankie! Vir wat jy nou aan my kind gedoen het. Hoe sal sy ooit regkom na so ’n skok?”

Twee maande later moes ek weer Stikland toe om pille te gaan kry. Ek sien toe vir Tessa in die gange van Neuro C: oorgewig, onversorg, manies, woes aan’t vee met ’n besem. Soos Ophelia. Sy het my nie herken nie. Ek het in my kar geklim en gesnik.

Skaars vier maande tevore het ons nog saam buite die kliniek by die duiwehok op ’n bankie gesit. Die mannetjieduif het probeer om die wyfie die hof te maak, maar dit het misluk. Net ’n geklap van vlerke. Of sy dit toe reg verstaan het, weet ek nie, maar toe sê ek vir haar: “Tessa, dit is nie paartyd nie.”

The post Dit is nie paartyd nie appeared first on LitNet.

Teef

$
0
0

Rita sukkel om haar swart suede-baadjie toe te knoop. Sy trek haar maag dieper in en bekyk haarself in die spieël.

Die baadjie het sy met haar spaargeld by ’n tweedehandse winkel gekoop na sy jare gelede standerd 8 deurgekom het. Sy’t gedink sy verdien dit met haar twee B’s vir Afrikaans en Geskiedenis. Die sagte fur om die kraag voel nog net so lekker snoesig soos destyds. Kielierig, as sy haar neus daarin druk.

Sy leun nader spieël toe. Haar groen oë het sy mooi gemakeup en die blush gee haar ronde wange bietjie definisie. Anet het gister haar hare geperm, en alhoewel die krulle nog ’n klein bietjie styf is, en die perm-mix dit blonder gebleik het as gewoonlik, lyk dit nog steeds vir haar mooi.

“Nie sleg vir ’n girl van 29 nie,” het Anet gesê terwyl sy Rita se hare drooggeblaas het. “Hy gaan vrek oor jou, jy sal sien.”

Rita werk al jare by Anet se salon. Anet het die plek met haar erfgeld gekoop na haar man dood is aan kanker. Rita self is twee jaar terug van Rudi geskei. Mense het gesê hulle klink net te reg om verkeerd vir mekaar te wees. “Rita en Rudi. A match made in heaven” het destyds op hulle blou troukoek gestaan. Sy het dit geglo. Tot hy haar gelos het vir sy groot liefde – ’n vaal meisietjie met wie hy op skool gekys was – wat uit die bloute weer haar verskyning gemaak het, glo sy soulmate, so het hy verleë verskoning probeer maak.

Rita pas nog baie vir Paultjie op, Rudi se seuntjie uit sy eerste huwelik. En sy doen dit met liefde. Sy het hom grootgemaak na sy ma met sy geboorte dood is en Rudi kort daarna by haar begin kuier het.

So het Rudi het haar laas week weer gevra om te help, en Paultjie by haar aangebring, tas in die hand.

“Die outjie hoes sleg,” het hy gesê. “Hy moet die week maar liewer nie skool toe nie.” Sy kon sien Rudi was haastig.

Soos altyd het sy ingestem, maar nie genoem dat sy die kind by tannie Elsie, haar buurvrou wat ’n strawwe roker is, sal moet los vir ’n dag of twee nie. Sy kon nie die hele week afvat nie, want Maandae en Woensdae krioel die salon van die ouetehuis-tannies wat toustaan vir die pers washes en rinses wat dan op special is.

“Moenie skaam wees nie, Paultjie,” het sy die volgende oggend vir die kind voor haar buurvrou se deur gesê, “sê vir tannie Elsie om jou elke nou en dan bietjie op die balkon met ’n kombers te laat sit as sy te erg rook en jy dalk kortasem raak, oukei?”

“Oukei, Tannie.” Sy kon aan sy stemmetjie hoor en aan die kringe onder sy oë sien die kind was regtig nie lekker nie.

Maar Rita was nie te bekommerd nie. Tannie Elsie is dalk oud, maar sy is op en wakker. Sy help graag. En gelukkig is die woonstelblok naby die salon, as daar ’n probleem met die kind sou kom.

Dit gaan maar broekskeur sedert sy en Rudi geskei is. En hy dra ook niks by wanneer hy Paultjie by haar aflaai nie. Sy gee nie om oor kos nie, die mannetjie eet in elk geval soos ’n voëltjie. Dis net asof Rudi vergeet het sy moet werk, dat sy niks verdien as sy na die kind moet kyk nie. Maar wat doen ’n mens nou? Sy is nie een vir kla nie, sy’t al vroeg in die lewe geleer dit help nie.

“Kry tog vir jou ’n bleddie boyfriend, Rita,” het Rudi gesê toe hy ’n paar weke gelede vir Paultjie kom haal en haar op die bank sien sit en blokkiesraaisels invul. Hy het sy girlfriend uitgevat vir haar verjaardag. Rita was net klaar om die kind se kuif met haar lekker skerp skêr te sny, die een wat sy altyd leen by die salon, óf vir Paultjie se hare, óf die bedlêende tannies in die ouetehuis. Sy maak bietjie ekstra geld so. Anet maak haar dood as sy uitvind.

“Jy lyk al klaar soos ’n oujongnooi met jou gown aan dié tyd van die aand,” het Rudi gesê. “Dis nog vroeg. Kry bietjie lewe.”

En sy’t dit nie gesê nie, maar Rudi se woorde het seergemaak.

“Gaan op die damn date, Rita,” het Anet weer gister gesê. “Ek moes behoorlik agteroor buig om die storie vir jou gereël te kry. Buks is ’n nice man, ouskool, een van die min gentlemanne op die dorp. Hy’t langs ons gebly toe ek ’n kind was. Vir jare in die stad gewerk, in eiendomme. Nou’s hy weer terug op die dorp. Geskei, met sakke vol geld, sê ek jou. Never mind daai sexy silwer Merc van hom.”

Rita het niks gesê nie. Vir Anet gaan dit oor geld. As ’n man geld het, is hy ordentlik. Geen wonder sy het haar rieme al so styf geloop na haar man se dood nie. Sy dink daar moet iets fout wees met Buks dat Anet nie self vir die man gaan nie. Maar dit sal sy ook nie vir Anet sê nie, sy wil haar nie in die gesig vat nie. Rita weet sy bedoel net goed.

Nou gaan sy op ’n date met Buks. Vir die eerste keer na Rudi. Dalk maak dit hom bietjie jaloers. En wie weet, dalk is Buks regtig so nice soos Anet sê.

Rita smeer nog bietjie lipstiffie op, staan terug en bekyk haarself weer in die spieël. Sy lyk mooi, al moet sy dit nou self sê. Reg vir haar date.

Kwart voor agt stop Buks se Mercedes langs haar voor die woonstelgebou.

“Sorry ek’s laat,” sê hy toe sy inklim. “Die bleddie teef van ’n hond. Loop reg voor my kar in. Daar’s een moerse duik.” Hy loer vinnig in sy truspieëltjie en trek weg.

Sy kyk vir hom. Hy is vetter as wat Anet gesê het. Daar’s twee rooi kolle op sy wange. Dit lyk asof sy pienk gesig gloei.

“Daai lyf van haar was groot, man. Tiete vol melk.” Hy vee oor sy voorkop, trek sy vingers deur sy yl wit hare. “Gelukkig het ek die string kleintjies gemis. Die spulletjie sou omtrent my bumper goed opgedonner het. Gaan my ’n bleddie fortuin kos.”

Hy rev die enjin hard voor hy hom in vierde rat druk, nes haar pa in sy ou Chrysler gemaak het wanneer hy kwaad geraak het vir haar of haar ma. As hulle iets gedoen of gesê het waarvan hy nie hou nie. Hy’t hardhandig geraak wanneer hy te lank in die kroeg was, en dan’t hy moeilikheid met hulle by die huis kom soek. Sy en haar ma moes alewig by mense verskoning maak vir die blou kolle. Lieg vir sy onthalwe.

Hy is skielik dood net voor haar standerd 8-eksamen, aan ’n nekwond, van ’n mes of iets. Kort na haar ma aan bloeding op die brein beswyk het na ’n slegte val vroeg een oggend. Almal was jammer vir haar, sy wat skielik twee ouers so kort na mekaar verloor het.

Rita probeer nie, maar partykeer kan sy nie help nie, sy dink daaroor – hoe lank dit haar pa moes gevat het om dood te bloei. Hy’s eers die volgende dag in sy kar langs die dam gekry. Yskoud. Waarskynlik ’n botched hijacking, so het hulle gesê.

Haar vingers raak seer van aan die sitplek vasklou. Buks ry vinnig. Hy vat die draaie kort.

“Teef,” sê hy weer, half ingedagte. Hy loer vir haar. Dié keer glimlag hy. “Eintlik is dit ’n sexy woord vir ’n vrou.” Sy skrik toe sy hand skielik hard op haar bobeen klap. Dit brand. “Jy’s mooi. Nes Anet gesê het.”

Hy leun nader. “Hei. Ek sê ons skip die Spur en ek vat jou bietjie dam toe.”

Hy swaai skielik links. Sy ken die pad. Aan die begin het Rudi haar elke Vrydagaand soontoe gevat.

Hy stop onder die verste plaat bloekombome.

“Het jy geweet, mens kan ruik as ’n teef op hitte is?” sê hy. “Dis glo nes ’n vrou. Mens ruik dit.”

Hy leun oor en draai haar sitplek se rugleuning af tot onder. Sy bly regop sit, staar stip voor haar uit. Tussen die bome deur lyk die dam vir haar soos ’n oopgespalkte swart vel wat met spykers teen die oewers vasgeslaan is.

“Hei! Relax, girl. Relax,” sê hy. “Ek gaan jou niks maak nie.”

Hy druk haar skouers tot teenaan die afgeslaande rugleuning. Sy maak haar oë toe. Die fur kielie haar ore van sy warm asem oor haar gesig, haar neus jeuk.

Hy vroetel met die knope aan haar baadjie, pluk ’n paar keer daaraan. “Nee hel, dis erger as ’n bleddie bra.” Die kar wieg heen en weer toe hy die handrem losmaak en haar romp met sy een hand probeer optrek. “Dis beter. Nou kan ’n man mos bykom.”

Sy kyk weg toe hy haar probeer soen.

“Jy’s vol sports, nè?” Hy draai haar gesig na hom toe, druk haar lippe op ’n tuit en soen haar vol op die mond. Sy asem ruik soos ou vleis.

Sy druk haar knieë styf teen mekaar toe hy haar romp verder probeer optrek, voel hoe sy vingernaels vashaak, hoe hulle lere in haar nuwe swart sykouse trek, in haar sagte vel.

“Ag asseblief tog, vroumens. Stop jou nonsens, ek weet jy wil.”

Sy maak haar oë oop en kyk vir hom.

“Dis beter.” Hy glimlag.

Toe hy oopmond nader kom, spoeg sy hom in die gesig.

Hy verstik amper. “Wat de fok.”

Hy val terug in sy sitplek, vee die speeksel oor sy neus en mond teen sy broek af.

Sy kom regop, voel vir haar handsak langs haar linkerbeen, by die deur. Haar hand hou op met bewe toe haar vingers om die skêr se koue handvatsel vou.

“Jou fokken teef,” sê hy. “Nou gaan jy kak.”

Dié keer, toe hy weer vir haar kom, is sy reg vir hom.

The post Teef appeared first on LitNet.

Die koekie

$
0
0

 

Lavinia is verslaaf. Sy sukkel nog om dit te erken, al vermoed sy dit wel, maar om gerieflikheidshalwe bly sy in denial.

Waar sy op ’n Maandagaand, in die middel van winter om ’n beteuterde tafeltjie saam met ses ander mense by ’n rehab-vergadering sit, is sy oortuig daarvan dat sy beslis nie soos een van hulle lyk nie. Vir haar kom hulle voor as losers en sy is waaragtig nie aan die verloorkant nie, sy het per slot van rekening ’n suksesvolle loopbaan as dekorstilis. Maar wie is húlle?

Kyk na Dodge. Hy lýk dodgy, nes die vrou langs hom wat nie kan ophou praat oor die hond wat sy onlangs doodgery het nie, nogal toe sy nugter was, let it be known. Haar grys regrowth laat veel te wense, minstens twee sentimeter wat by die satbruin haarkleur aansluit. Daar is dierehare op haar verslete trui.     

Lavinia streel met selfvertroue oor haar nertsjas se kraag.

Wanneer een van hulle begin praat, stel die persoon sigself eers voor as ’n dranksugtige.

“My naam is Dirktina en ek is ’n alkoholis.”

Lavinia is van mening dat so ’n weerbarstige naam enige mens tot drank sal dryf. Dirktina het dit oor een of ander buurvrou wat inbraak maak op haar privaatheid en gedurig goed by haar wil leen en haar groot issue is dat sy nie kan ‘nee’ sê nie. Lavinia dink dit is pateties.   

Mens moet darem met iets meer gewigtig na die biegtafel kom, die Here weet.

Terwyl die vaal vroutjie in haar temerige stemmetjie voortkruie, maak Lavinia kopaantekeninge van die kerk se ekskuus vir ’n interieur sodat sy aan die lesers van Inhoud  kan vertel hoe daar nie met ’n ruimte omgegaan moet word nie. Inteendeel, die plek is genoeg om jou van nuuts af besimpeld te laat soog, en om te dink hulle sit hier en probeer hulle addictions oorkom! Ironies dat mense poog om hulle drankgewoontes baas te raak in hierdie holte vir geloofsverslaafdes !

“My naam is Ashwin en ek is ’n alkoholis.”

Die man se groot ronde gesig laat haar aan ’n maan dink, ’n maan wat snags in die donker sal kan skyn.

Hy vertel dat hy onlangs noorde toe moes gaan vir die herdenking van een of ander gebeurtenis en dat dit dinge vir hom oopgespoel het tot so ’n mate dat hy weer begin fuif het.

Aan die einde van die sessie vra Lavinia vir Dirktina waarom ’n samekoms Ashwin kwansuis so kon ontstig. Sy deel haar mee dat hy die slagoffer was van ’n lang en tragiese politieke alliansie waarvan hy nooit herstel het nie.    

Politiek sal haar nie tot drank dryf nie, dis vir seker, vir daardie arena voel sy minder as niks. Lavinia, toegewyde hedonis,  sal slegs oorboord gestuur word by gebrek aan sjokolade en orgasme.

Dis reeds lente toe Dodge hulle een aand vertel hoe hy hom opgetrek het van die parkbank met slegs een ambisie: om die kok in Huis Hester te word.

“Wat is Huis Hester?” vra Lavinia.

“Dis ’n rehab joint in Pretoria se middestad, ek dink nie die plek bestaan meer nie. Dit was lank terug.”

Bekentenisse loop kloksgewys en dit is die dekorstilis se spreekbeurt.

“Goeienaand, my naam is Lavinia, ek weet steeds nie eintlik wat ek hier doen nie want myns insiens het ek nie juis ’n probleem nie.”

Vanaand is daar slegs vier ander mense teenwoordig. Soos die gebaar uit ’n komplot knik hulle instemmend.

“Goed, goed . . . die laaste ruk was buitensporig veeleisend, daar het soveel opruiende goed gebeur, ek voel soos ’n stomp in die meesleuring van die lewe. Waar om te begin; julle sal dit nie glo nie. En om als te kroon huur ons ’n glorified garage by ’n man met wie ek nou boonop ’n affair begin het. Ek voel nie eers skuldig nie, dis die ergste van alles. Ek begin dink dat ek geen gewete meer het nie. Dis omdat die laaste paar maande so erg was, my barometer is ingesluk, gone with the wind.”

Nou eers genoeg, dink sy, jy is in overshare mode meisie – hokaai! Laat hulle maar wonder.

Lavinia wonder hoe op aarde sy hier beland het? Maandagaande is goed vir DStv so dis nie asof daar ’n gebrek is aan vermaak by die huis nie. Nietemin beur sy voort en vertel die storie wat haar op die spits gedryf het. Haar man se broers, die bouery – (om jou huis te verlaat), die dam in die reën waar ’n huis moet kom staan ten spyte van ’n hopelose bouer. Sy vertel aan hulle dat sy nog altyd hierdie soort ding wou bywoon, meer uit nuuskierigheid, omdat sy al van kindsbeen af soveel wynlappe ken. Sy onthou dat sy op die ouderdom van tien haar pa se whisky begin drink het; klein slukkies van die ‘koeldrank’ op die stoep het sy weggeteug, daar het ys in geklingel. Vandag nog gee whisky vir haar ’n gevoel van genoegdoening, ook die reuk daarvan. Miskien moet sy eerder begin om dit te drink in plaas van wyn, wyn het baie suiker en met banting moet mens wegbly van suiker.

Twee maande later begin Lavinia sekere voordele uit die groepsessies bespeur. Die eienaardige mense het op haar begin groei, maar sy stel haarself steeds nie voor as ’n alkoholis nie.

“Ek het besluit om nie meer Maandae en Donderdae te drink nie. Verder drink ek beslis minder en ek drink nou selfs een glas water vir elke glas wyn.”

Dodge het vir haar interessant geraak; hy is ’n goeie storieverteller en iets omtrent hom laat haar selfs aan haar oupa Lukas dink. Sy vel is deurskynend en sy oë is sag, deurweek van jare.

Wanneer hy lostrek, wil sy net luister en luister. In sy herstelboek is foto’s van sy kinders en kleinkinders. Hy sê die feit dat hy met hulle tyd kan bestee die grootste geskenk van  sy lewe is. Hy is al sestien jaar "skoon" en op die buiteblad van die boek is medaljes vasgeplak ter stawing van sy triomf oor die drankduiwel.

Lavinia se man vrees wat mense gaan dink as hulle hoor sy vrou is by die rehab-groep.

Soms is daar net drie mense om die tafel en ander kere sit al sewe van hulle daar. Hulle moet vertel wat hulle die afgelope week ervaar het.

“My naam is Lavinia. Ek is ’n sosiale drinker, maar my man se sibbe sal maak dat ek myself deur aarvoeding aan ’n boks dooswyn laat koppel. Ek weet hulle hou niks van my nie, maar die feeling is gelukkig mutual. Ek wens ek hoef hulle nooit weer te sien nie, ek hou sommer ’n fake begrafnis vir daai twee.”

“Liefde kom later,” sê Dodge. Lavinia sien hoedat sy oë skyn.

Sy vermoed dat dit haat is wat haar so uitmergel, dat sy te veel daarvan in haar gemoed stoor en dat dit nog kwaai gevolge vir haar gaan hê.

Moet sy hulle vertel wat haar man se broers aangevang het? Sy kan nie die verhaal oor haar lippe kry nie, kan haarself nie sover kry om dit aan enige mens te vertel nie. Hoe seer hulle haar man gemaak het? Hoe ongenaakbaar en berekend hul strategie? Hoe siek in wese en hoedat hulle aksies alles laat onstpoor het – vir ewig. Soos ’n soom wat begin lostorring totdat daar slegs ’n wolkrioel oorbly.

Sy dink dat sy dalk moet gaan perdry, sodat sy die verhaal in Equus se ore kan fluister. Iemand moet weet.

Lavinia is die stilis wat blou tot nuwe hoogtes geneem het. Met die kleur wat in die spektrum tussen groen en violet lê, het sy haar deurbraak gemaak op die filosofie van die merkwaardige tint se moontlikhede in binneruimtes. Blou se Zen het sy vervolmaak.

En terwyl sy daar sit in die mistroostige interieur, omring deur mislukkings, ervaar sy vir die eerste keer in ’n lang ruk ’n gevoel van genoegdoening, asof sy plotseling onthou het wat sy reeds in haar loopbaan bereik het. Nugter of te niet, sy is Koningin Blou.

Vanaand word daar uitgebrei oor die struikelblokke op die pad, goed wat jou kan laat ontspoor. Wat dryf mens tot drank? Vir Lavinia is die snellers legio: Name it. Sy gaan stap teen laatmiddag, ’n klein Karoolangstertjie wat pas uit die nes is en lyk of dit wil verkluim, piep langs die pad, sy tel dit in haar hande op, maar die ouers is naby en gaan erg te kere. Daardie aand lê sy en wonder of die ouers die arme veerkindjie sal terugneem nes toe. Die volgende oggend gaan kyk sy of die voëltjie dalk daar rond is. Vergeefs.

Sy weet dat sy  teen skemer weer gaan drink omdat sy sleg voel oor die voëltjie.

Só lyk die kerk: Daar is rye bottelgroen plastiekstoele met Bybels wat in lapsakkies oor die rugleunings hang en bokant die kansel rus daar ’n groot houtkruis. Biddende hande is op die voorste houtpaneel van die kansel aangebring. Dit is egter tussen aankoms en vertrek waar die pièce de résistance pronk; in die voorportaal word besoekers verwelkom deur ’n landskap – gelap uit watteersel. In die opgestopte uitbeelding is  twee groot bome aan weerskante van ’n fynbos-rotstuin in verskeie skakerings van groen, grys en malvapers. Die lug is blou.

Iemand (vroue van die gemeente?) het ’n toneel gestik met liefde en toewyding soos wat sý, Lavinia, met volle oorgawe altyd verslaaf is aan iets.

“Goeienaand, ek is Lavinia. Ek moes eintlik in New York gaan woon het want hier is geen stimulasie vir my kreatiewe kop nie, wat nog te sê om in ’n klein dorpie soos hierdie te moes opeindig. Sedert ek julle laas gesien het, het die bouprojek minstens vyf katastrofes opgelewer, die graaftoestel het oor ons melkhoutbome gery en die man wat met die tuinbou moes assisteer het spoorloos verdwyn. Een van my boesemvriende praat uit die bloute nie meer met my nie en die landheer het oornag afgekoel. Al wat ek eintlik wil doen is om terug te trek na my eertydse huis, om terug te gaan na alles soos wat dit was. Ek sal my oogtande gee om net weer die lig deur die bekende vertrekke te sien verander.”

Alhoewel die dae warmer word, bly die ruimte waar hulle vergader koud. Ivoorblink vloerteëls weerkaats kil. Teen een muur kyk Christus en die twaalf dissipels vanuit die Laaste Avondmaal na hulle. Lavinia dink nie dat sy al vantevore hierdie reproduksie gesien het nie. Dis beslis nie in die liga van ’n Da Vinci nie, daarvan is sy seker. Daar is brood en wyn op die heiliges se tafel. Tussen die sepiagesigte soek sy na Judas Iskariot.

Aan die einde van elke rehab-sessie doen ’n banksakkie die rondte.

Somer kom rus op die drempel van die kerkgebou en Lavinia voel optimisties. Saam met die oplewing van die seisoen is sy besig om Bacchus uit te oorlê.

Die eerste Sondagmiddag in November gaan kuier hulle by die skuur onderkant die berg. Drie kennisse uit die distrik het verjaar die afgelope week en daar gaan groot makietie wees. Die tema is retro. Party mense dra kostuums; daar is drie nonne en mans met pers lokke, asook ’n Elvis lookalike.

Lavinia en haar man sit langs die musikante se bussie en gesels. Madeleine, die een verjaarsdagmeisie, hou geel speldekussings vas wat Lavinia in die landheer se tuin vir haar gepluk het. ’n Potblou lint is om die blomme gebind. Vir Lavinia is die kombinasie van blou en geel ’n treffer.

Johannes die tromspeler gaan haal ’n tupperware-houer onder een van die bussie se sitplekke uit en kom hou dit uit na die mense wat digby sit en kuier.

“Gister gebak, lekker vars.” Klein stukkies doepa spikkel die beskuitjies. Lavinia neem een en begin stadig daarvan eet. Teen die tyd wat die son sak, voel sy hoe kalmte en tevredenheid oor haar daal.

Later die aand, voordat sy aan die slaap raak, sê sy vir haar man dat sy ’n plaasvervanger vir al haar verslawings gevind het.

The post Die koekie appeared first on LitNet.


In die wolke

$
0
0

Cliffordene Norton (foto: Naomi Bruwer)

Die wit van sy oë staan uit teen die donkerte; verder kan sy die vae lyne van ’n kakebeen en wangbene uitmaak. Sy steek haar hand uit na hom, maar die duisternis sluk hom heeltemal in. “Wag vir my!” Sy skrik wakker van haar eie stem. ’n Nagtrein rammel verby. Sy sit regop en swaai haar bene van die bed af. Natgesweet.

Waarom ontwyk hy haar? Elke keer wanneer sy hom wil aanraak, verdwyn hy en word sy oorval deur ’n onbepaalde verlange. Tog ken haar vingers die tekstuur van sy vel, weet sy van die grys oë, van die byna vroulike mond. Hoe sy oor hierdie kennis beskik, weet sy nie. As hy net een keer sou toelaat dat sy die lyne van sy gesig natrek, sal sy hom volledig kan skilder. Dan sal sy hom kan insluit by haar skilderreeks – Moeders, broeders en ander heiliges.

Een deel van die reeks bestaan uit skilderye van God, Satan, Katolieke heiliges en van gode soos Zeus, Mars en Venus. Die ander deel bestaan weer uit familielede wat ’n groot invloed op haar lewe gehad het. Haar ouboet wat haar leer lees het, haar ma wat haar aangemoedig het om te skilder, haar oupa wat ’n beeldhouer was, asook die eerste man wat sy liefgehad en wat haar hart gebreek het. Dalk moet sy maar die impressionistiese skildery insluit wat sy van haar getroue ou keeshond gemaak het. Ten minste het hy haar onvoorwaardelik liefgehad.

Sy kyk op haar horlosie en sug. Dis opstaantyd. Met ’n koppie koffie in die hand drentel sy haar skemer ateljee binne. Op die esel in die middel van die vertrek staan ’n onvoltooide skildery. Slegs die intense grys oë is daar, die neusbrug, kakebeen en vol mond. Verder is daar niks nie. Net die wit leegte van die skilderdoek.

“Wie is jy?” vra sy aan die wit niks. “Hoekom vermy jy my?”

“Want dis nog nie tyd nie,” fluister hy en sien hoe haar rug verstyf asof sy hom gehoor het. Hy kyk na haar te groot mond, haar melkkoffie-vel en die kuiltjie in haar ken. Vir die eerste keer begin sy hart klop en trek hy suurstof in sy longe in. Is dit wat kontak met ’n mensekind aan ’n wese soos hy doen?

’n Maand gelede was sy net ’n naam op ’n lys, soos al die ander. Toe gaan hy haar drome binne. Dit was ’n verslawing. Aand ná aand moes hy haar sien. Ná verskeie ewighede van eons en eons verstaan hy eindelik waarom die mensdom soms hul lewe vir die liefde opoffer. Hy kyk haar reg in die oë. Sy mag dalk ’n engelagtige gesig hê, maar daar is duiweltjies in daai oë. Hy behoort te weet, hy is goed vertroud met engele én met die duiwel.

Later daardie aand, wanneer hy weer haar drome binnestap, wag sy hom in. Haar mond is verbete – tot hier toe en nie verder nie. Hy moes dit verwag het – hy het haar tog deurgrond vanaf daardie eerste oomblik wat hy haar gesien het, toe hy tot binne-in elke sel kon sien en iedere string van haar DNA kon ontrafel en die veglustige gene kon eien.

“Vir wat mag ek nie aan jou raak nie?” begin sy ’n stryd wat hy reeds verloor het.

“Ek het nie gesê jy mag nie.”

“Maar jy skram dan elke keer weg.” Sy kom na hom toe aangestap; haar voetstappe weergalm in die swart leegte. Versigtig vat sy aan sy gesig. “Wie is jy?”

“Uriël,” antwoord hy.

“Ek is ...”

“Elaine,” voltooi hy haar sin en hy is verbaas oor die emosie in sy stem. Dit is die eerste keer dat hy haar naam hardop sê. “Hallo,” sê hy, net om sy ongemak weg te steek.

“Hallo, Uriël,” sê sy. “Mag ek jou maar skilder?”

Met hierdie woorde word sy wakker, sy beeld helder voor haar. Al is dit nog stikdonker, staan sy op en haas haar na haar ateljee waar die skilderdoek op haar wag. Sy werk sonder ophou, tot sy gesig duidelik uit die wit kom. Sy staan terug, aanskou haar handewerk. Die agtergrond maak sy donker, laag op laag, byna swart. Dis net die regterkantste hoek agter sy een skouer wat sy oop los. Hier kort iets, maar sy weet nie wat nie, en daar is nie nou tyd om daaroor te tob nie. Sy moet gaan stort en aantrek en by die galery kom.

Sy pak haar skilderye in haar tweedehandse Toyota Etios, die nog effens nat skildery heel bo op die agtersitplek.

By ’n verkeerslig loer sy in die truspieëltjie – en vas in Uriël se oë. Die skildery het van die hopie skilderdoeke afgeskuif en staan nou regop. Wanneer die verkeerslig groen slaan, trek sy weg. Weer sien sy die skildery se leë wit hoek en in haar onderbewuste kom iets na die oppervlak, die buitelyne van ...

Sy raak bewus van ’n oorverdowende slag, van glas wat breek en metaal wat frommel. Iets deurboor haar bors, iets koud en skerp.

Stadig word sy wakker. Haar oë knip en vind syne. “Uriël?”

“Hallo Elaine.” Hy wil haar vashou, maar dis teen die reëls – reëls wat deur sy hele bestaan vertroostend was, maar nou pyn veroorsaak.

“Droom ek?” vra sy.

Hy skud sy kop.

“Is ek bewusteloos?”

“Nee,” antwoord hy.

“Maar hoekom is ek …?” Sy voel-voel oor haar stukkende gesig. “Jy’t my kom haal, nè?”

Weer knik hy.

“Jy’s die doodsengel.” Dis nie ’n vraag nie. Haar hande beweeg oor sy skouers, maar voor sy aan die vlerke kan raak, vat hy haar hand vas. Haar oë is helder, skoon. Die duiweltjies daarin het op vlug geslaan. “In my skildery ...” stamel sy, “kon ek nie die regterhoek toeverf nie. Eers op pad na die galery het ek besef wat dit is.”

“My vlerke.”

“Jou vlerke.” Sy raak aan die sagte punte.

“Dis tyd,” sê hy. Hy kom orent, skud sy vlerke.

 “Tyd om te gaan?” vra sy.

Woordeloos knik hy en vat haar hand. Dit is sag en warm. Hulle stap oor digte wolke. So ver as wat hulle stap, flits tonele verby. “My herinneringe,” sê sy verwonderd.

“Ja,” sê hy en weifel voor ’n toneel waar ’n sesjarige Elaine styf langs haar siek hond slaap. “Hierdie is my gunsteling. Jou liefde vir diere is jou beste eienskap.”

Saam stap hulle aan tot by skitterwit hekke. “Net tot hier gaan ek saam met jou,” verduidelik hy. “Die res van die pad moet jy op jou eie stap.”

Sy knik en kyk op na die reusehekke. “Was Michelangelo teleurgestel toe hy dit sien?”

“Wie sê hy het voor dié hekke gestaan?”

Sy skaterlag. Verbaas kyk hy na haar. Dis gewoonlik hier waar mense paniekerig begin raak.

“Hoe lank is jý al Dood?” vra sy. “Ses duisend jaar? Meer?” Sy glimlag ondeund. “Sal jy my onthou? Of sal ek verdwyn tussen die vele gesigte wat ná my sal volg?”

Sonder om op ’n antwoord te wag, stap sy deur die hekke, en terwyl sy stap, ontspring daar vlerke uit haar skouerblaaie. Eers net donsies, dan penvere wat strek en vervleg tot digte vleuels. Dis eers toe sy amper wegraak in die verblindende helderte dat hy antwoord: “Jy het geen idee hoe ek jou gaan mis nie, sint Elaine – beskermheilige van honde.” En hy hoor hoe sy engelhart breek.

The post In die wolke appeared first on LitNet.

Winter van 1972

$
0
0

Die manssale van die hospitaal het uit drie dele bestaan.  ’n Saal met vier beddens, ’n gang met vyf enkelkamers en ’n groot saal met tien beddens.  Nadat ek opgeneem is, is ek na die groot saal toe. Dit was duidelik die eerste stasie in ’n verblyf.  Daar was twee rye beddens van vyf elk met ’n gang in die middel wat uitgeloop het op die klerekaste en daarna die badkamers en die storte.

My bed was die vierde van die ingangsdeur regs.  Oorkant het oom Anton gelê, die derde bed  links. Hy het byna nooit opgestaan nie, wat natuurlik teen die reëls was.  As hy soms sou opstaan, het hy aanvalle gekry en neergeval met skuim om die mond.  Hy was ’n geleerde man wat deur familielede met bedrog uitgebuit is.  Hulle is tronk toe en hy sou homself later skiet. Sy vrou was ’n dokter en sy het met twee kindertjies vir hom kom kuier in ’n Mini.

Die selfaangestelde leier van die saal was Bennie. Hy was ’n erg gedrewe man wat ook almal om hom gedryf het. Hy het sesuur opgestaan en almal opgejaag om skoon te maak, al was Petrus, die skoonmaker op pad.  Almal het  maar aanvaar dat dit so moes wees.  Na ’n “Fokof, los my uit!” het oom Anton darem hierdie parade misgeloop.  Bennie was ook lief om te oefen.  Met toestemming het hy die terrein kruis en dwars behardloop, ure aanmekaar, en dan nog op die tennisbaan verder geoefen. Kon glo ook nie slaap nie.

Die opname in ’n psigiatriese hospitaal was oorweldigend.  Die een oomblik is jy nog besig, hoewel al hoe minder so, om matriek te probeer deurkom, die ander oomblik bevind jy jou tussen mense wat anders siek is as die gewone en in ’n plek wat jou morbied sal stem, al is jy nie eers siek nie.  Miskien omdat ek nog maar jonk was, het ek die mense tog nie so verskriklik siek beleef nie, sonder twyfel nie mal nie.  Op so drie of vier kere na was daar insidente, maar met die meeste inmates het ek goed klaargekom.  Die personeel was bekwaam en die kos was ook nie onaardig nie.

Ek sou nie die verblyf in die hospitaal as ’n tyd van gesond word beskou nie.  Ek het eintlik nie geweet wat my makeer nie.  Net dat ek nie meer kon funksioneer  nie.  Ek kon nie meer opstaan en op my fiets skool toe ry nie.  Ek kon nie meer lees of studeer nie.  Ek het meestal maar net geslaap, tot groot irritasie van my pa.  Toe ek 33% vir Wiskunde in die eerste kwartaal kry, het my reserwes ingegee.  Ek word toe op massas pille gesit wat die probleem vererger  het.  In die hospitaal self is die dosis vermeerder wat alles nog meer onwerklik en angswekkend gemaak het.

Baie mense het gekom en gegaan.  Ek het opgelet dat persone wat deurmekaar is by opname, en op en af in die gange hardloop, die gouste regkom en weer gaan.  Die wat rustig is en met wie jy gesels soos met jou aangename buurtannie, bly die langste.  Die meeste mense was baie bly as hulle ontslaan word.  Ander het verwese op hul bed gesit en min uitgesien na wat vir hulle wag.  Ek het altyd vermoed ontslag is deur iets lukraak veroorsaak, so asof die psigiater daardie dag tandpyn gehad het.  Ontslag was byna altyd onverwags.   

Na ’n maand in die groot saal is my verblyfregte opgradeer na ’n tweede stasie.  Ek kon skuif na ’n enkelkamer, die enigste aan die linkerkant van die suide-gang. Nie sleg vir iemand wat pas 17 geword het.  Dalk is ek ook op daardie stadium as langtermyn beskou. Die feit dat ek nie na oorkant die brug verplaas is nie, was egter ’n goeie teken.  As jy oor die brug gaan, is geglo dit is verby met jou.  Oor die sale aan daardie kant praat niemand. Ek het nogal een dag gaan kyk, en ek praat ook nooit daaroor nie.

Verhoudings en dergelike intimiteit was natuurlik verbode.  Nie dat hierdie verbod hormone sou kon beheer nie.  Nita was van Namibië en ek onthou nog die dag toe haar familie haar kom aflaai het.  Sy het so ’n verskrikte uitdrukking op haar gesig gehad.  Haar pa het baie gehuil toe hy haar omhels en gegroet het. Hy moes eintlik toe nog meer gehuil het. Kobus was van die Suid-Kaap en het nogal af gelyk toe hy daar aangeland het.  Na so twee weke saam kon Kobus en Nita nie meer wegsteek wat aangaan nie.  Die twee het aan mekaar gekleef.  Of hulle uitgevang is, weet ek nie, maar die een dag is Kobus net vinnig daar weg.  Ses maande later is Nita en Kobus getroud en vier jaar daarna het Kobus vir Nita met ’n haelgeweer doodgeskiet. Hy was glo patologies jaloers.

Die mees intimiderende inmate was Dian in die vierde kamer regs.  Hy was 20 jaar oud, sy lang hare peroksied-wit, sy oë wild en kwaai agter ’n ronderaam-brilletjie. Sy boodskap aan almal in die hospitaal was: “Los my uit. Ek is nie julle maatjie nie.” Hy het homself eenkant gehou in sy kamer en is elke naweek uit op verlof.  Later sou ek hoor hy is deur die hof verwys vir psigiatriese toesig, omdat hy op 16 ’n meisie verwurg het.  Op 21 is hy weer in die vrye gemeenskap toegelaat.   

En dan was daar Willem, die digter. Seker die siekste van almal daar, destyds gediagnoseer met maniese depressie. Sommige dae was hy so mak soos ’n lam en het hy stories vertel van groot digters en van sy reise oorsee. Ander dae het hy nie uit sy kamer gekom nie, die derde kamer regs in die gang.  Maar dan soms kon jy hom hoor voordat jy hom sien.  Hy het soos ’n besetene met skuim om die mond rondgehardloop, doelloos, gedryf deur ’n bose energie. Hy het onverstaanbaar vinnig gepraat, woes klavier gespeel en mense en dinge gestamp.  Gewoonlik het van die personeel hom platgetrek, op hom gaan sit en ’n ander het hom ’n inspuiting gegee. So vyf minute later was hy aan die slaap en hy het daar gelê soos ’n lappop sonder ’n eienaar.  Die personeel het hom meestal net so na sy kamer gedra/sleep, ’n baie ontstellende gesig. Selfs van die manlike pasiënte het stilweg gehuil.

Willem het baie gepraat oor sy gedigte en vir my van sy digbundels gewys. Ek het gevra of ek een kan leen om te lees en hy het ja gesê.  Die aand laat het die manie Willem weer gegryp.

Eers het hy op en af in die gang gehardloop en toe by my kamer in.  Hy het regtig baie wild gelyk. Ek het baie diep geslaap en was nie lus vir geselsies nie.  Hy gryp my aan die skouers en skree: “Jy het my bundel gesteel!” Sonder om te dink, haak ek af en slaan hom bloedneus. Die bloed spat. Net toe kom die personeel met die kalmeerspuit en pen hom neer.  Hulle trek hom na die padded sel en sluit hom daar vir die nag toe.   

Die volgende dag is ek ontslaan en Willem is oor die brug gestuur.

The post Winter van 1972 appeared first on LitNet.

’n Oog vir ’n oog

$
0
0

Die nag is besig om te wyk. In die dounat sand kan sy die spore van die wit Toyota Corolla sien glim. Sy durf nie beweeg nie, maak nie saak hoe ongemaklik haar posisie is nie. Nie voordat sy doodseker is hulle is regtig weg nie.

Vroegmôre ruk sy wakker. Sy moes in hierdie gehurkte posisie op die stang van die ou trein aan die slaap geraak het. Die helder sonstrale verblind haar. Haar bene het pynprikkels van ure se ongemaklik sit.

Hulle moet nou al weg wees. Die mans in die Corolla wat haar en Pam agtervolg het; wat teen dié tyd heel moontlik al mince gemaak het van Pam. Hopelik het hulle háár al vergeet en koers gekry na hul huise en vrouens toe.

Sy sien nog die gretige hande van die dronk mans wat deur die oop ruite na hulle toe gryp, die uitgevrete uitdrukkings in hul oë en die vulgêre uitroepe, asof jong meisies vir hulle maar net speelgoed is. Asof meisies wat in kuierplekke rondhang, goedkoop vermaak is vir besope mans om na willekeur te gebruik.

Sy strek haar bene en arms en kom regop. Haar oë bespied die gebied en toe sy seker is sy is veilig, begin sy aanstap in die rigting van die hoofpad en dan woonbuurt toe. Hoe nader sy aan die woonbuurt kom, hoe vinniger stap sy. Met net een gedagte wat oor en oor deur haar kop maal: Here, laat Pam tog net ongedeerd wees.

Sy sien die ineengekrimpte figuur teen een van die nuwe sinkhokke wat nog aan’t bou is, nes sy al ’n ent in die woonbuurt ingeloop het. Behalwe ’n paar mans wat daar naby sit en rook, is dié deel van die buurt doodstil.

Sy stol in haar spore. Sy herken Pam slegs aan haar dik vlegsels wat woes bokant haar kop in alle rigtings hang. Haar gesig is so dik geswel soos ’n sokkerbal en haar donker vel het plek-plek donkerrooi blink vlekke. Sy sit-lê skeef teen die sinkplate, haar kniekoppe styf teenmekaar, tot teenaan haar kennebak getrek. Haar hele lyf ruk soos sy bewe.

“Pam?” Wena sluk. Die leegheid in haar ingewande dreig om deur haar keel te stoot. “Dis ekke, hoor jy my?” Here, sy wou loskom, en sy sweer sy sou wou teruggaan om Pam uit die kar te gaan ruk na hulle dit reggekry het om die skraal lyfie daar in te boender. Maar sy kón nie. Sy kon nie haarself ook aan hulle uitlewer nie.

Pam se kykers sit groot in haar oogkaste. Hulle roer skaars.

“Wena.” Haar mondhoeke trek, effens bewerig.

Dit neem ’n goeie klompie dae voor Pam weer soos Pam lyk. Dae waarin Wena haar moet versorg en vertroetel soos haar eie ma nog nooit gedoen het nie. Maar Wena doen dit. Haar eie skoolwerk ly hieronder. Maar hoe kan sy wat Wena is, saans skoolwerk doen, skool toe gaan en aangaan met haar lewe asof niks gebeur het nie? Sy en Pam het mekaar op straat leer ken. En hulle het mekaar aangeneem. Vir mekaar die ouers gewees wat hulle nie wou gehad het nie.

Die dooie uitdrukking in Pam se oë wyk nie waar sy teen die spierwit provinsiale kussings teruglê in die hoop dat haar lyf sal herstel nie.

Saterdagaand is Wena weer by die dansplek. Deur die week is daar hier en daar iemand wat sorg dat hulle iets te ete kry. Maar naweke het hulle geleer om dronk mans se sakke te ruk by die dansplek. Nooit het hulle gedink hulle sou hul rieme só styfloop nie.

Dit word hard gelag en gul gekuier. Die poeiertjies vloei bykans vinniger as die drank, maar Wena en haar sesmanskap is houtnugter. Almal seuns ouer as sy en Pam. Almal kinders wat aan hul eie genade oorgelaat is. Maar nou al hardebaarde is. Gebrei deur die lewe se stampe en stote. En nou oorgehaal en op die uitkyk vir die Corolla en sy manne.

Hulle daag nie die eerste Saterdagaand na Pam se verkragting op nie. Ook nie die tweede Saterdagaand nie. Die derde Saterdagaand begin Wena se tjomme fed-up raak van nugter bly en vat ’n paar biere. Hulle wraakgedagtes daarmee heen. Die inkommers wat Pam so opgemors het, het duidelik ander weivelde gaan soek.

“Vleis!” Wena het self nou maar hul wraakplanne vergeet. Maar sy skrik haar in ’n ander dimensie in. Die drie mans wat by die deure ingekom het en nou doodluiters by die kroeg sit om die dansende lywe uit te check, laat haar nekhare rys. Pam is byna haarself en lankal by die huis, maar toe sy hulle sien, kom elke vesel in haar in opstand.

Die ou met die ronde brilletjies herken sy as die bestuurder van die Corolla. Sy kap byna Vleis se ribbes flenters soos sy sy aandag probeer trek.

Soos blits versprei die nuus na al die kamerade van die sesmanskap. Wena moet aas wees, besluit hulle, terwyl hulle sorgvuldig seker maak hul wapens is op die regte plekke.

Wena voel bewerig toe sy en Sylvi, Pam se niggietjie, later by die klub se deur uitploeter. Sleeptong, luidrugtig en swaaiboude. Sy het nie eens in haar dronkste oomblikke so dronk gelyk nie, tik sy haarself op die skouer.

Maar buite kom sy nie agter dat hulle agtervolg word nie. Hulle hou die toneelspel vol terwyl hulle so tien of vyftien minute buite die gebou geselsies maak en op karre se musiek dans en met bekende manne flirt. Maar die mans van die wit Corolla kom net nie uit nie. So ook nie Vleis en die ander vyf nie.

Sylvi raak later moeg en naar tegelyk en wil huis toe. Wena is te teleurgesteld om haar teen te gaan. Sy kan anyway sien die meisiemens is siekerig. Dis nou van allerhande gemors drink. Sy haak by haar in en hulle begin deur die donker stegie aanstap, dan koers kry deur die oop stukkie veld, verby die verlate treinstasie, woonbuurt toe.

Wena slaap ’n dooie hou toe sy laat in die nanag op haar kooi wakker geruk word. Voel of haar hart haar hele lyf vol klop. Vinnig en hard.

“Kom kyk.” Alwyn kan homself skaars beteuel.

“Sjuut, jy sal Pam wakker raas,” fluister sy.

Wena gryp haar sweetpaktop en hol kaalvoet agter hom na buite. Na waar lanterns en karre se ligte die oop stukkie veld naby die stasie verlig. Dit lyk of die hele woonbuurt hier saamdrom.

Alwyn beur deur die skreeuende skare en klou Wena se hand vas selfs toe hulle deur almal gebeur het om die gedruis in die middel van die skare te aanskou.

Wena gryp met haar los hand na haar mond toe sy die prentjie voor haar aanskou. Knyp dan haar oë toe. Sluk aan die knop in haar keel. Probeer haar gevoelens beheer. En moet saam met die skare padgee toe ’n klip na hulle kant toe spat. Want daar in die middel van die verwoede skare lê die drie mans van die wit Corolla vasgebind. En rondom hulle is ’n gemeenskap besig om maande en jare se misdaad teen hul jong meisies te wreek. Die een klip na die ander. Soos in die Bybelse tyd. Toe die polisie, nes beskermende ouers, nêrens gefeature het nie, word die drie mans met yslike klippe gegooi … gestenig en gepynig met elke gooi. Sodat hulle die pyn van Pam en almal soos sy kan voel. Sodat almal wat dalk nog wil, twee keer sal dink.

Wena draai haar rug, loop blindelings die nag in, en ritmies hoor sy die woedende gooi van klippe en nog klippe … in haar hart bid sy vir die drie lewelose figure wat tussen die stof en bosse agterbly. En vir Pam.

The post ’n Oog vir ’n oog appeared first on LitNet.

Soos padkos

$
0
0

Roelof

Dis diep in die nanag. Iets het my wakker gemaak. Die harde snorkgeluide van Pa wat rukkerig uit die vertrekkie langsaan kom, is dit nie. Daaraan is ek al te gewoond. Daai geluide is soos die kombersie wat oor my toevou iewers in die nag. Die geluid wat aankondig dat Pa tuis is. Dat, net deur die Here se genade, hy na nog ’n aand van totale vergryp tog veilig die huis gehaal het.

Net voor ek my oë toemaak om weer die droom van vroeër te probeer oproep, hoor ek dit weer. Weet ek dié keer dis dit wat my slaap gesteur het. Dit wat my so dringend tot uit my diep slaap wakker geruk het.

“Ma?” Ek lig my net halfpad regop. Ma is nie raserig as sy te veel gedrink het nie. Sy smoor gewoonlik net haar eie ellende. Raak soort van in ’n vibe en bekyk net die wêreld om haar. Die meeste van die kere. Ander kere, minder male, as sy regtig gelukkig is, sal sy bietjie laggerig raak, verspot. Dan is ek ook gelukkig, want dan weet ek dit gaan vir ’n rukkie goed.

Nie dat dit enigiets beter maak nie. Niks smoor die houe wat my altyd tref as Pa eers in ’n bui is nie. Of laat sak die swelsels op ma se gesig as sý die slag deurloop nie.

Ma is vir ’n ruk stil en ek meen ek het my dalk verbeel. Ek is te lui om uit my komberse los te wikkel en te gaan kyk wat met haar aangaan.

“Help my.” Ma se rasperstem laat my vinnig regop kom. Sy was nie vanaand uit nie, onthou ek nou. Vir ’n vreemde wonder het sy net op haar matras bly lê, nooit opgestaan na haar middagslapie nie. Nie eens geworry om pa te loop soek nie. Sy loop soek hom altyd. Altans, so sê sy. Maar dan bly sy by hom as sy hom eers gekry het. Om te sorg dat hy dit nie oordoen nie, verduidelik sy altyd.

Party nagte kom ma tog vroeër as Pa, gewoonlik die nagte as sy by hom baklei kry. Dan is die vernedering te groot. Dit weet ek ook. Dan is sy vir dae stil. Ander kere, as Pa vrede in sy hart het, kom hulle saam huis toe. Ounag. Vreemd genoeg weet ek op sulke tye daar sal vir dae nie kos wees na die kuier nie. Maar ek gun haar die wegkom. Ek gun haar enigiets beter as elke dag onder hierdie dak. Ek weet vir daai paar ure waarin hulle Pa se geld blaas op drank en wie weet wat alles, verbeel Ma haar sy is ’n gelukkige vrou.

“Rolf …” ’n Vreeslike hoesbui oorval haar. En skielik wens ek ek kon ook soms hier wegkom. My enigste wegkomkans is die skool. Daar voel ek ’n bietjie soos myself. Nie soos ’n voël wat in ’n hok vasgekeer is nie.

“Rolf,” kerm Ma weer. Die keer is daar iets dringend in haar stem.

“Ma?” Ek pluk vinnig my tekkies aan.

“Rolfie.” Haar stem klink maar swakkerig.

Hoekom maak sy nie my pa wakker nie? Hemel, dit klink of hy haar probeer stilsnork.

“Ai.” Ek trek ’n trui oor my kaal bolyf. Dit voel of die koue en my droom van netnou my terugtrek kooi toe. Dit voel of ek hierdie oomblikke eerder wil uitstel, of ek Ma eerder nie wil sien nie. Pa is dan daar langs haar.

“Soek Ma water?”

Ek skrik my vrek. Ma soek nie water nie. Sy sit skuinsoor Pa en ruk soos sy opgooi. Sy ruk asof haar seningrige lyf deur ’n sterker krag geskud word. In die maanlig wat deur die klein venster in die bokant van die kamer kom, sien ek niks gaan my ma help nie. Niks wat ek kan doen gaan die waterige, bloederige gemors wat by haar mond uitkom, keer nie. Dit kom nog een keer met ’n aardige geraas. En dan val sy slap oor my pa. Nog voor ek naby genoeg kon kom om aan haar te vat.

Iets swaar sak oor my. Iets koud en swaar. En finaal. Dis asof my verstand deur ’n helse groot tang toegeknyp word. Ek raak dom. Ek vries soos ek vries as meneer in die klas goed vra wat hy gister behandel het, maar ek net nie kan onthou nie. Ek weet hier’s groot stront, maar ek kry myself nie geroer nie.

“Pa.” Dis of die woord in my mond ’n klont maak. “Pa!” Dié keer kom dit met ’n gil uit. Skielik kan ek beweeg. Ek probeer Ma se slap liggaam van hom af wegstoot, maar sy is te swaar. Ek druk met die hak van my hand sy oop mond wat so morsig snork, toe. Hárd.

“Pa. Word wakker.”

“Wat?” Hy ruk wakker, maar hy kry homself nie gelig nie.

“Ma is siek.” Sy oë val weer toe. Asof hy verder gaan slaap. Ek klap teen sy wang.

“Wat’s dit met jou, mannetjie?”

“Ma, Pa.” Dit lyk of hy wakker genoeg word om haar bo-oor hom te voel.

“Ragel?”

“Sy het ...” Ek staan terug. Ek het al weer vergeet van die goeters op die vloer. “Ek dink ...”

Ek wil nie hardop sê wat ek dink nie. Ek weet dit net hier in my. Die gewig op my bors, hierdie swaar gevoel, hierdie weet-net maak niks beter nie, maar dis die eerste keer in my lewe wat ek so seker weet van iets. My ma is dood. Ek weet dit net.

Ek probeer nog uitwerk hoe ek vir Pa moet verduidelik wat ek weet, hoe ek die vreeslike ding op ’n mooi manier in sy dronk verstand moet inverduidelik, toe gryp hy my om die enkel beet.

“Here, tjind, moenie net gevrek daar staan nie, jou ma is dood.” Hy gil die woorde uit. Dan begin hy bitterlik te huil. Die walm van brandewynasem laat my longe binne-in my ruk. Ek staan nog steeds net daar. Pa het ma se lyf van hom weggestoot gekry, nou lê sy so half van die matras af. Hy hang nou half oor haar en huil soos ek hom nog nooit hoor skreeu het nie. ’n Deel van my verstand dink dronkverdriet. ’n Deel van my verstand, of dalk my hart, kry hom jammer.

My lyf kry ek uiteindelik geroer.

“Wat moet ek maak?” Ek skree ook bo sy gehuilery uit. My hartseer wil nie kom nie. My hartseer is gevries.

“Gaan roep die lanie. Gaan vertel vir die lanie.”

Ek hol by die deur uit, nie oor ek haastig is om by meneer Piet uit te kom nie. Ek kan nie langer in die viermuurhuis, met sy vier vensters, twee stoele, twee matrasse, hotplate en sy twee gesuipte ouers bly nie.

Ek is mens. Ek weet nie of ek bly is of spyt toe ek die trane oor my wange voel soos ek aanstap na meneer Piet toe nie. Ek huil. Ek huil oor die ma wat ek nie meer het nie. Oor die ma wat ek kon gehad het. Ek huil oor alles so onregverdig is. Maar ek huil die hardste oor ek ’n slag net aan myself gaan dink.

Meneer Piet lyk sleg deur die mis, asof hy self vroegaand ’n dop of twee te veel gevat het. Maar hy sal gaan. En die polisie en dokter en wie-goed-almal ook al laat weet.

“En jy? Ry jy saam?” vra hy toe ek die hek agter sy bakkie toetrek.

“Nee, meneer Piet. Ek gaan maar eers.” Ek beduie anderkant toe. Dorp se kant toe.

Hy kyk my eers lank aan, soos een wat nou eers reg wakker word. En dan knik hy. En groet my met die hand. Soos padkos, voel die groet vir my.

Ek huil weer toe ek teerpad langs dorp se kant toe loop. Die laaste keer. Roelof Pieterse het sy deel gedoen, sy prys betaal. Nou is dit tyd om vir homself te sorg, loop ek en dink. Nou is dit tyd dat ek grootword en self my lewe loop kies.

The post Soos padkos appeared first on LitNet.

Die papegaai

$
0
0

Hy stap teen donker met die voëlhok voor hom die huis binne.  Haar oë hou syne gevange voordat sy afkyk na die hok.  Buite het die tromme reeds met hulle vreemde, dreigende ritmes begin. 

“Dis ’n African Grey-papegaai,” verduidelik hy en sit die hok op die vloer neer.

Die voël draai sy kop effens skeef, korrel na haar, vou sy vlerke stywer na agter.    

“Dalk kan julle mekaar geselskap hou, Lalie.”  Die troetelnaam klink vreemd, ongemaklik in sy mond.  Hy kyk weg.  Vir ’n oomblik sien sy iets van die man wat sy leer ken het.  Voordat hy haar na hierdie godverdomde land gebring het.  

Sy antwoord hom nie, sak net af tot op haar hurke sodat sy die papegaai van nader kan bekyk.  Die voël se vere sit soos grys skubbe dig teen sy lyf geweef. 

Hy lig die hok op en dra dit na die eetkamertafel waar hy haar papiere eenkant toe vee en die hok ’n voet van die tikmasjien af neersit. 

“Jy kan die ding ’n naam gee.  Lumumba kan hom voer.”  Hy kyk tersluiks na haar, sê dan spottend:  “Dis blykbaar ’n ouwêreldse voël, een wat voor mense in die Kongo was.”  Sy hoor die afkeur in sy stem, voel hoe iets toemaak in haar.

Sy laat haar hand ’n oomblik op die hok rus.  “Gooi hom toe Charles, dis donker buite.”

Die volgende oggend luister sy hoe Charles in die kamer langsaan opstaan.  Lumumba sal sorg vir koffie, ontbyt, vir die nederige dienswilligheid wat sy lankal opgegee het.  Later staan sy traag op, trek die ligte japon stywer om haar.  Vanoggend lê die droefheid swaarder in haar lyf.  Haar borste pyn.  Sy probeer diep asemhaal.  Steek dan haar eerste sigaret op en stap na die voëlhok.  Die papegaai skree toe hy haar sien.  ’n Lang hoë skree wat haar soos ’n onsigbare golf tref sodat sy abrupt tot stilstand kom.  Hy knik-knik sameswerend vir haar, fluit dan ’n helder deuntjie.  Sy voel ’n roering in haar maag fladder.  Die melodie huiwer op die rand van haar onthou.  Sy trek diep aan haar sigaret, blaas die rook in die voël se rigting.  Hy krys, skud die rook uit sy vere.  Sy stap nader.  Daar is fyn bloedkolle aan sy bors.  Die hok lê vol donsvere.  Hy sit gepantser in grys, sy pootjies styf gekrul om die stok, sy gesig nou weggedraai.             

Vir twee weke gee sy die voël kos en water.  Lumumba weier eenvoudig en mompel onverstaanbare inkantasies wanneer hy deur die eetkamer beweeg, sy gesig weggedraai van die hok, sy wit gehandskoende hande afwerend voor hom.  

“Mens sit nie ’n gees soos syne in ’n hok nie, Mam.”  Lumumba se blik gly oor Lalie se gin en tonic, die sigaret, haar stil hande op die tikmasjien.  

Sy gee nie die papegaai ’n naam nie.  Sy neurie vir die hom, fluister trooswoorde teen die draad van die hok.  Die voël raak stiller, kleiner, sy vlerke trillend teen die weerlose lyf.  Wanneer dit donker word en die tromme begin praat, lig hy sy kop, volg haar met ’n stipswart oog. 

Sy voel toenemend hoe iets dig trek om haar.  Charles werk later saans, spandeer naweke by die manne-klub.  Hulle praat minder en minder.  Sy sit bedags voor die tikmasjien sonder om iets te skryf, rook een sigaret na die ander.  Sy dink aan Delft, verlang na die sneeu en lae, grys lug.  Die voël fluit melankolies, ’n kort drienoot-deuntjie.  Skemer gooi sy die hok toe, loop onvas na haar kamer.  Snags hou die tromme haar wakker.  Sy snak na asem wanneer sy soggens wakker word, die lug swaar en onbekend vir haar. 

Die plan kom na haar in ’n koorsdroom, en sy herken die troos daarin. 

Toe sy wakker word, vou haar hand onverwags om ’n lang grys veer.  Sou sy dit opgetel het die vorige aand?  Saamgedra het bed toe?  Sy kan dit nie onthou nie.  Nou, met die eerste roering in die kamer langsaan, streel sy oor die gladde veer. 

Sy wag tot Charles weg is voordat sy die pistool gaan haal en na die hok loop.  Die papegaai lig sy kop, fluit háár melodie.  Sy stap kaalvoet met die hok uit die huis, oor die stoep, die nat gras, volg die bospad wat Lumumba soggens werk toe bring.  Toe die bos toemaak om haar fluister sy vir oulaas teen die tralies voordat sy die hok oopmaak.  Die papegaai fladder verskrik, sit vir ’n oomblik stil voordat hy uitklim.  Hy sprei sy vlerke en lig homself moeiteloos in die lug.  Sy vlerke blink, sy stert is bloedrooi bo haar kop. 

Sy maak haar oë toe teen die oordadigheid, lig die pistool en trek die sneller.

The post Die papegaai appeared first on LitNet.

Viewing all 429 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>