Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all 428 articles
Browse latest View live

Tora

$
0
0

Tora is tier en tier is moed, vertel my man my. Ek skenk nie aandag nie. Ons is in Tokio. Dis al maande.

Om ons: nywerhede en korporasies, dynserigheid op stil dae, die stadskap sodra ek iewers heen gaan. En tog woon ons tussen bamboes en keistene. Reën val op die ou, swaar dakteëls en loop met bamboesgeute af. Snags hoor ek die gedrup en die lopende water.

Soggens is Theo vroeg op vir meditasie en oefeninge. Sit ek regop, sien ek sy figuur, verdiep in die voorgeskrewe bewegings. Ek hoop hy maak nie die kind wakker nie. Maar die kind is self gou genoeg op.

Ek speel met die kind en ons stap mark toe. Ander kinders hou van hom, soos hy van hulle. Hy het aangepas. Ek dwaal van stalletjie na winkel en glimlag gespanne vir die vroue. Theo probeer my leer. Wakarimasen beteken ek weet nie. Shirimasen ook, maar dis anders. Hy sê ek moet op die oop sillabes let en dis omtrent net -n wat sillabes toemaak. Soos in shodan, wat Theo probeer verwerf.

Hy pendel ’n uur na die klub toe. Ek kan my voorstel: sweterige voete op houtvloere, diep steune en skril krete, harde kneukels, af en toe bloed. En dan poseer hulle vir foto’s, arms om die skouers. Ek sien die foto’s. Ek hoor hom en sy gaste praat.

Hulle drink ryswyn en praat hard, op die kussings in die sitkamertjie, oor verset, tegniek, uithouvermoë. Af en toe die kind. Nooit oor my nie. Hulle weet seker ek luister. Hulle weet seker my bloeddruk styg. Ek ken ook verset, tegniek, uithouvermoë.

Hoe laf klink die mans onder die goedkoop Japannese kunsafdrukke teen die mure. Hulle is gelukkig weens die wyn, en luid, verwyder van die streng maniere wat hulle gewoonlik vertoon, terwyl hulle “Tora Tora Tora” sê en goedig stry. Theo verduidelik nie meer lank nie. Hy sê: “Dit verwys na die aanval op Pearl Harbour in 1941. Daar is ’n fliek wat albei kante van die stryd wys.”

Ek beur voort. “Jy het my belowe dit sal my lewe verander.”

“Jy laat jouself nie toe …”

Ek loop eerder na die kind in die tuin. Hy staar na iets wat oor sy hand kruip en ek vee dit weg. Hy skree.

Die kind is in ’n dagsorgsentrum. Dis stil by die huis. Ek slaap baie. Dan besef ek ek mors my tyd. Ek moet iets doen. Ek maak die huis deeglik skoon.

Die tuin kan my besig hou, maar dis Theo se gimnasium. Sy voete verniel die blomme en plante soos hy sy maneuvers vervolmaak en dis nie sinvol om aandag aan onderhoud te gee nie. Hy konfronteer ander mans daar. Hulle oefen met stokke, houtmesse, bamboesswaarde, elke hou afgerond met ’n irriterende uitroep.

“Hoe gaan dit met jou kursus?” vra ek.

“Wil jy teruggaan? Nog steeds?”

“Ek vra net.”

“Ek gaan nie binne ’n paar maande gereed wees nie. Dis punteneurige mense en ek sal moet uithaal en wys. So jy wil nie bly nie?”

“My plek is aan jou sy,” sê ek en spoel die bitter smaak met cream soda weg en gooi die laaste mondvol vies in die tuin uit.

“Jy maak modder,” sê Theo. “Ek moet môreoggend daar oefen.”

Tog is daar oomblikke wat my onkant vang – en my amper verlei, as ek net verleiding wou toelaat. Maar die laaste keer wat ek dit gedoen het, moes ek Japan toe trek.

Laer af in die straat woon twee vroue. Die een se huis leun oor ’n hoek sodat ek skemeraand daar bewus is van lamplig en ’n televisieprogram. Die ander vrou het ’n windklingel wat afgryslik eensaam klink. Wanneer die vroue mekaar sien, buig hulle. Hulle is pragtig in hulle kimono’s met die groot strikke op hulle rue. Theo sê die een was ’n geisha.

“Hoe weet jy? Sy is dalk bloot yamasaki watsenaam.”

“Dis Yamato-damashii, om tradisoneel Japanees te wees.”

“En jy sien met hulle oë?”

“Mono no aware. Kyk met die oë van die hart.”

“Jy is nie …”

“Dis ’n ingesteldheid wat baie aanspreek. Jy het hulle ontmoet. Harde, trotse mans wat iets wil bereik wat die moeite werd is.”

“Miskien is dit die kommunis wat eerste sy swart gordel kry. Of daardie harpoenier. Of wat van die een wat nooit sy oë knip nie?”

“Jy weet nie waarvan jy praat nie.”

“Ek weet kommuniste hunker terug na die revolusie. Harpoeniers hunker na walvisse. Ek weet jou Tora wou op die skip klim en niemand wou hom Amerika toe neem nie.”

“Dis Yoshida Shoin en Kommodoor Perry kon hom nie neem nie. Daar was ’n verbod op reis. Japan was afgesonder.”

“Ai, die eksklusiwiteit.”

Ek maak oogkontak met die veronderstelde geisha, wat glimlag. Terug by die huis ruik ek die denneboom waarom Theo binneband gedraai het met ruwe tou bo-oor. Hy oefen sy vuishoue daarteen.

“Hoekom neem jy nie klasse nie?” vra hy. ''Daar is ’n ikebana-skool by die stasie. ’n Bekwame vrou bestuur die plek. Die instruksiemetodes is fel, maar doeltreffend.”

“Ek bly so ver moontlik uit die kastestelsels.”

Ek en die kind gaan iewers heen. ’n Trein, ’n bus, ’n ent se stap verby busse en fietse en daar is ’n Shinto-fees. Skoolkinders in uniforms se gesigte is opgemaak met twee kolletjies tussen die wenkbroue, swaardjies in hulle gordels. Toeriste praat oor die belang van die fees vir die visvangseisoen. In ’n wit geboutjie is daar niks, geen standbeelde nie, nie plek om te sit nie. Net lig. Ek weet nie of ek moet bid of vlug nie. Buite kom ons op ’n mostuin tussen rotse en bome af. Die kind druk met sy vingertjies aan die mos. Water wel op.

In die nag reën dit: “Wat het van Tora geword? Is hy toegelaat om die land te verlaat?”

“Hy is onthoof.”

“A, ’n gewelddadige dood. Dit spreek seker tot jou krygersiel. Hai jai!” sê ek en maak ’n snybeweging met my plat hand.

“Hy was ongehoorsaam aan die stelsel.”

“Want hy wou weggaan?”

“Die land was om baie goeie redes geïsoleerd.”

“Want hy het sy eie inisiatief gevolg?”

“Dis dappan genoem, ’n daad van verset en wegbreek. ’n Baie ernstige oortreding.”

“Want hy wou sy droom uitleef?”

“Dis seker waarop dit neerkom. Dat hy sy droom wou uitleef.”

“Hoekom is jy so afgetrokke?''

“Van die ouens kom hiernatoe.”

“Vir baklei?”

“Ons wil ’n heildronk instel. Iemand gaan Indië toe.”

“Dis reg. ’n Kameraad, ’n mede-soldaat. ’n Kersiebloeisel.”

“Hoekom die sarkasme?”

“Ek wil jou iets wys. Ons was by ’n plek. Ek het ’n mostuin gesien.”

“Maak vrede met jou bestaan hier.”

“Die probleem is ek moet vrede maak met jou bestaan hier.” Ek hoor die hek. “Jou makkers is hier.”

Vier mans oefen in die tuin en is later nat van die sweet. My man is nie die beste atleet nie, maar lomp, oorskadu deur sy metgeselle. Hy word van sy voete af geswiep en teen die denneboom gedruk. Die mans merk my op by die venster. Ek gaan lees in die slaapkamer.

Hulle kom in die huis in: “Iss hogai. Banzai. Op Indië! Osu!” Dan vertrek die besoekers, miskien in verleentheid oor my. Ek hoop so.

“Ek gaan terug,” sê ek slapenstyd. Die futon bly knopperig.

“Jy kan nie netso opgee nie.”

“Dis nie my lewe hierdie nie. Dis joune.”

“Die seun het woorde aangeleer,” sê my man verdedigend.

“Ek ook. Wakarimasen. Ek weet nie. Wat ek hier maak nie.”

“Ek moet die ding volvoer.”

“Jy’s Tora. Jy omhels Japanneeswees met moed. Maar ek is ook Tora. Ek gaan terug na die Suid-Afrikaansheid toe met my moed.”

“Dit klink soos wegvlug.”

“Watse tier sterf ooit vir sy tierwees?” vra ek.

“Alle tiers sterf vir hulle tierwees.”

Ek neem ’n kombers sitkamer toe.

Theo kom sê: “Ek gaan self weg.”

Ek gaap hom aan. “Waarheen?”

“Indië.”

“Verlaat jy Japan? Is dit nie die oortreding dappan nie?”

“Ek let op jou ontevredenheid.”

“Wat is in Indië?”

“Ek stel belang in sekere meditasietegnieke. Ek moet by ’n jogi uitkom. Ons gaan in die wildernis wees, afgesny van die buitewêreld.”

Hy vertrek. Terwyl hy weg is, kry ek pos van my ma af. Sy skryf oor my susters se mans. Ek weet sy probeer om my beter te laat voel oor Theo. Sy het aandenkings gestuur: ’n natuurreservaat-brosjure, ’n stadsfoto, karton uit voedselverpakking gesny. Die kant van ’n Jungle-hawermoutboks het ’n prent daarop wat my as kind gefassineer het. Die tier se oë maak my ongemaklik, maar die kind hou daarvan en gou teken hy sy eie weergawes van tiers wat figure in kimono’s bekruip.

Een van Theo se medekrygers bring nuus. Theo se oorskot is in die noorde van Indië gekry. Iets wild het hom aangeval. Ek dink dis die afgryslikste grap wat ek in my lewe gehoor het.

Sy oorskot is by die huis voor ons is. Ons wag vir ’n vragskip. Ons vertrek uit die hawe. Daar is lang, groot golwe en seesiekheid. Meestal is die see kalm en die vordering goed. Ek probeer die kind vermaak wat tiers teken.

The post Tora appeared first on LitNet.


Die rooi leunstoel

$
0
0

Hier by ons in Huis Najaar praat mense in die alledaagse wandel nie juis oor die hiernamaals nie. Die verwisseling van die tydelike met die ewige is in enige ouetehuis redelik algemeen. Omdat sommige van ons inwoners nie doodseker is of die lewe na die dood vir hulle beter as die ondermaanse een gaan wees nie, vermy hulle enige bespreking van die onderwerp. Hier gesels almal eerder oor hulle pyne, siektes, operasies en allerlei werklike en gewaande geneesmiddels en behandelings. Dis asof ons almal die dag wat min of meer om die draai is, ignoreer en nie daarvoor wil beplan nie - as so iets ooit moontlik sou wees.

Sondag gebeur hier toe egter iets wat dié reëlmatigheid kortstondig versteur. Die gewone oggenddiens by die tehuis word deur ’n bejaarde besoekende predikant gelei en tot meeste van ons se verbasing wei hy in grafiese besonderhede uit oor die angswekkende oordeelsdag wat voor die deur is; hoe die skape van die bokke geskei sal word en dat dit gelukkig nog nie te laat is om ons te bekeer nie. Ek veronderstel ons besoeker het nie ’n kwade motief vir sy boodskap gehad nie – meer waarskynlik het hy bloot deur sy ou preke geblaai en gedink dié besondere een is gepas om die ou garde weer te laat besin.

Na die diens en tydens middagete is daar min reaksie op die vermaning. Iemand mompel agteraf dat hy hoop die tehuis hoef nie vir die preek te betaal nie. Dis al kommentaar. Maar dan moet ek ook sê dat daar normaalweg nie by Sondagmiddagetes tyd vir allerhande geselsies is nie. Die disse volg mekaar gewoonlik teen ’n spoed op, “want die personeel wil vroeg huis toe gaan.’’

Na dié vroeë middagete gaan ek sitkamer toe om soos gebruiklik ’n wyle op die gemaklike rooi leunstoel te sit en deur die koerante te blaai. Ek is alleen, want die ander kan gewoonlik nie wag om ’n rustige Sondagmiddagslapie in te kry nie. Die koerant is propvol vervelige transformasie en kolonialiseringstories en dit is nie lank nie voor ek self lomerig begin voel het.

“Sit jy maar net so, of dink jy dalk aan iets opwindends?” vra iemand langs my skielik. Toe ek gesteurd opkyk, sien ek een van ons aangenamer en aansienliker vroulike inwoners het haar op ’n gemaklike stoel langs my kom tuismaak.

“Ek weet nie juis of my gedagtes opwindend is nie,” sê ek versigtig, “maar ek peins oor die kerk, die dominee se preek en die hiernamaals.”

“So Jacobus, oorweeg jy dit nou uiteindelik om die vermanings ernstig op te neem en jouself te bekeer?” verneem sy belangstellend.

“As dit sou behels dat ek moet ophou om baie wyn te drink en met ’n begeerlike oog na vrouens soos jy te kyk, sien ek nie nou al daarvoor kans nie. Daar moet ’n makliker uitweg wees,” glimlag ek.  

Sy laat haar nie van stryk bring nie. “Jy wil met jou sondige lewe volhard maar die ewige vuur van die hel, soos die dominee dit gestel het, vryspring.”

“Dis darem meer gekompliseerd! Sê nou maar daar is nie regtig ’n hemel of ’n hel nie en dat dit net ’n Bybelse vorm van beeldspraak is. Dan sou ek al my wêreldse plesiertjies in my laaste dae verniet opgeoffer het.”

“Maar,” sê sy dadelik, “jy kan nie honderd persent seker wees daar is nie ’n hel nie. Daar is ’n baie goeie kans dat jy verkeerd kan wees en dan sal jy vir ewig moet betaal!”

“Dis waaraan ek pas gedink het,” sug ek bedruk. “Wat ek regtig nodig het, is ’n betroubare versekeringsproduk. Iets waarvoor ek maandeliks betaal en wat my geloofwaardige vrywaring sal bied teen die moontlikheid dat die hel werklik bestaan. Maar, ongelukkig bied die kerke en die versekeraars nie tans so ’n innoverende opsie nie.”

Sy kyk my skepties aan. “Jy dink tog nie regtig dat die kerke ooit so ’n bedrogspul sal bemark nie – ’n versekeringspolis om die hel af te weer!”

“Dis nie onmoontlik nie,” sê ek. “Daar was ’n tyd toe jy in sekere kerke kon betaal om kwytskelding van jou sondes te kry – was dit nie net versekering om die warm plek te ontsnap nie?”

“Maar sal dit nie die einde wees van die kerk soos ons dit nou ken nie?” vra sy onseker.

“Dis dalk nie so ’n slegte opsie nie,” gaan ek ongesteurd voort. “Die kerkstruktuur oor die hele wêreld word onbetaalbaar duur. Dink net hoeveel geld word aan geboue spandeer en dan het ons nog al die dienaars van die kerke wat betaal moet word. Daar moet goedkoper en doeltreffender maniere wees om die bokke van die skape te skei! Die koerante sê juis alles moet  transformeer en dekolonialiseer – selfs die kerke. So miskien is daar nog ’n geleentheid hier vir ’n ondernemende sakeman wat die risiko’s kan evalueer.”

“Wat het jy in gedagte?” verneem sy beleefd.

“Om ’n nuwe soort kerk hier in Suid-Afrika tot stand bring,” sê ek pront. “Ons kan dit Die Getransformeerde Kerk van Suid-Afrika noem. Wat uniek sal wees is dat hierdie kerk geen kerkgeboue, predikante of eredienste sal nodig hê nie. Die hele kerk sal bedryf kan word uit ’n enkele kantoor met ’n skootrekenaar en ’n koffiemasjien.

“Om aan hierdie opwindende nuwe generasie kerk te kan behoort,” vervolg ek, “sal jy vanselfsprekend moet behoorlik registreer (met al jou FICA-dokumente byderhand) en ’n voorafbepaalde maandelikse bydrae moet betaal. Die kerk weer, sal ’n geskikte toep vir selfone beskikbaar moet stel sodat almal gerieflik en tydig die stand van hul finansiële verhouding met die kerk kan naspeur. Dit sal ten alle tye krities belangrik wees om nie dié kerk geld te skuld nie, anders verval jou versekering!”

Sy verstaan nie mooi nie. “Dit klink darem baie vreemd. Hoe sal blote lidmaatskap van die kerk keer dat jy in die hel opeindig? As die kerk nie geloofwaardige resultate kan waarborg nie is dit mos niks anders nie as net nog ’n Ponzi-skema wat in die hof gaan beland.”

Hier moet ek lig loop, weet ek. “Waarborge is inderdaad problematies, maar nie onoorkomelik nie. Dis jammer dat daar ’n kommerwekkende gebrek aan deursigtigheid oor die hiernamaals is. Die Bybel gee weinig leiding hieroor. Daar is egter uiteindelik net twee alternatiewe scenario’s.

“Die eerste moontlikheid is dat daar ná die dood geen hemel of hel is nie. In hierdie geval het ons versekerde lidmaat, in ruil vir sy finansiële bydraes, groot vrede vir sy siel gekry toe hy nog gelewe het. Hy kon saans rustig slaap en hom nie oor die dood bekommer nie. Sy Getransformeerde Kerk het hom voorwaar alles gebied waarvoor hy gevra het en hy het goeie waarde vir sy geld gekry.”

“Maar sê nou maar aan die ou einde van die dag, soos Naas sou sê, is die dood inderdaad nie die einde van die storie nie?” vra sy dadelik.

“Die antwoord is meer gekompliseerd en vereis nogal verbeeldingskrag,” erken ek huiwerig. “Kom ons veronderstel ek kom tot sterwe. As daar lewe na die dood is, moet ek iewers wees. Dink aan ’n groot ruimte, iets soos ’n lughawe se vertreksaal waar daar voortdurend nuwe reisigers (afgestorwenes) aankom. Meeste van hulle is stokoud en sukkel om oor die weg te kom. Al die aankomelinge word so gou doenlik administratief geprosesseer om chaos te voorkom. Daar is duidelike aanwysings op groot elektroniese kennisgewingborde wat nuwe aankomelinge maan om dadelik te registreer en ek val ook in die lang tou in.

“Uiteindelik word ek bedien deur ’n aantreklike jong dame. Om die vereiste profiel van my vir hulle databasis te skep, benodig sy al die gewone inligting: volle name, laaste permanente adres, ID-nommer, epos-adres en naaste familielid. Die inligting word spoedig in die rekenaar gevoer en dan kry ek ’n nuwe identiteitskaart vir die hiernamaals.

“Daarna val ek weer in ’n lang tou by die volgende toonbank waar skeptiese personeel in donker uniforms (soos doeanebeamptes) elke aankomeling ondervra en evalueer. Hulle besluit of jy hemel of hel toe gaan en daar is geen appèl moontlik nie.

“Toe ek mettertyd aan die beurt kom, moet ek eers my ID oorhandig. Dit word in die rekenaar gevoer, wat ’n beknopte intelligensieverslag lewer. Die nors amptenaar oorweeg die inligting vlugtig. Hy sê hy benodig meer besonderhede oor hoe dit met my kerksake staan. Dis dán wat ek my selfoon te voorskyn haal, op die Getransformeerde Kerk se toep klik en dit aan die amptenaar oorhandig. ‘Ten volle opbetaald,’ sê hy dan tevrede. ‘Baie professioneel. Jy kwalifiseer maklik vir ’n groen stempel op jou kaart. Volg die groen roete.’  Van daar af is daar inderdaad twee roetes. Die rooi roete gaan met ’n lang roltrap na ’n laer verdieping. Ek sidder as ek dink waar dit eindig. Die groen roete lei ook na ’n roltrap, maar dié een gaan boontoe. Aan die bopunt van die roltrap is daar ’n groot, ondeursigtige glasskuifdeur –  soos by die aankomssaal van ’n lughawe. Wanneer die deur oopskuif, sien ek baie mense wat met groot afwagting saamdrom om onlangs afgestorwe vriende en familielede te kom ontmoet. Party hou plakkate met die name van geliefdes in die lug. Ander staan entoesiasties gereed met kameras.

“Ek wonder senuagtig of ek iemand sal herken. Sê nou al my gestorwe geliefdes is dalk met die rooi trap af? Was dit nie vir die Getransfomeerde Kerk nie sou ek seker ook daaronder in die hitte van die stryd  beland het ...

“Gelukkig sien ek gou iemand wat hulpvaardig lyk. Op sy lapel staan dat hy van die Openbare Skakelafdeling is en ek sê dadelik vir hom dat ek ’n nuwe inkommer is. Waarheen nou?” vra ek.

“Gelukkig hóéf jy nie êrens heen te gaan nie,” lig hy my in. “Ons logistieke reëlings hier is weliswaar ietwat lukraak maar op een of ander manier werk dinge tog sonder veel moeite. Die kultuur hier is amper soos dié van Nieu-Zeeland. Almal gehoorsaam die reëls en aanvaar dat daar nooit iets opwindend sal gebeur nie. Gelukkig het die Kiwis darem rugby om verveeldheid teen te werk.”

Sy antwoord prikkel my belangstelling. “Kry julle darem nuusdekking hier oor die ondermaanse rugby?”

 “Hoegenaamd nie. Volgens ons gedragsreëls word rugby en dans gesien as swak verskonings vir allerlei onheilighede. Terloops, hier is vir jou ’n kopie van ons nuwe hersiene en bygewerkte reëlboek.” Hy skuif ’n lywige dokument in my rigting. Op die voorblad is ’n hemelse foto met dié gepaste logo: Niks om te doen of jou oor te bekommer nie. En vir ewig tyd daarvoor!

Ek voel ’n benoudheid in my opstoot. En ek het nogal my premies so gereeld betaal ...

Teetyd kry geskokte inwoners oom Jacobus op die rooi leunstoel.

“Hy’s dood,” bevestig die suster wat aan diens is.

Almal kyk met groot oë na die eienaardige, beswaarde uitdrukking op sy gesig.

“Lyk asof hy na die verkeerde plek toe is,” fluister iemand later agterlangs.

The post Die rooi leunstoel appeared first on LitNet.

Verraad en liefde

$
0
0

Dit is ’n bitter, genadelose winter op die Hoëveld oos van Ermelo.

Die koue sny soos glasskerwe deur die verflenterde klere van die Boerekommando wat op die plaas Leliefontein in en om die verwoeste opstal skuiling soek. Klein vuurtjies wat nie in die nag van ver gesien kan word nie, brand tussen huis- en kraalmure wat stukkend en swart gelaat is nadat die Britse troepe daar deurgetrek het, alle vee doodgemaak het en vroue en kinders na die konsentrasiekamp weggevoer het.

Die kommando het pas ’n verrassingsaanval geloods en wapens, ammunisie en ander voorrade gebuit. Verskeie van die gehate Kakies het gesneuwel, verskeie is gewond, en meer as twintig is gevange geneem. Hulle is uitgeskud en nakend in die vrieskoue veld ingejaag, om te oorleef as hulle kan.

Die grootste buit was twee jong Boere, wat National Scouts geword het. Nou moet hulle verhoor en gestraf word.

Kommandant Johannes Steenkamp en sy krygsraad van vyf manne sit in die enigste vertrek van die ou plaashuis wat nog ’n mate van privaatheid bied.

“Al wat ons hier van ons plase oorhet is ’n toneel van skreiende verwoesting,” sê hy bitter. Hy kry so koud dat sy tande liggies klapper. “Hierdie bouval was mý woonhuis, wat ek self met die hulp van my plaasarbeiders gebou het. Nou is alles wat ek en julle besit het, verwoes soos die Kakies daaroor trek, afbrand, uitroei en hoop om ons só te laat oorgee.”

Hy kyk na die ander kommandolede. Soos hy, lyk hulle uitgeteer, moeg, vuil. Dit ruk hom aan die hart om sy manne so te sien. Hulle is almal gekwel deur wat voorlê. Hy moet hulle moed en oortuiging inpraat. Maar waar kry hy dit vandaan? Hy is so moeg. So diep geskok, dit is soos ’n lem in sy hart.

“Verdomde gespuis,” hoor hy die veldkornet sis. “Ons families sit nou in die konsentrasiekamp soos ’n trop brandsiek skape in ’n kraal. En mense soos dié Vermaaks lewer hulle uit. Gaan ons, ná al ons en ons mense se opofferings en skade, genadig wees teenoor ons eie mense wat ons aan die vyand verraai?”

Kommandant Steenkamp trek sy baadjie stywer om sy lyf, al help dit nie veel teen die koue nie. “Afgedankste satansgebroedsel. Ingekruip in die holle van die genadelose vyand wat die brood uit ons en ons families se monde neem en ons wil oorheers. Ons veg vir ons vryheid teen ’n groot oormag. Ons het goeie vegters weens dié vervloekte verraad verloor. Hoeveel erger is dit nie as jou eie mense, ook bloed van jou bloed, jou in die rug steek nie?”

Gewapende burgers bring die twee National Scouts in. Hulle is nog jonk. Nicolaas Vermaak is twintig jaar oud. Sy broer Petrus is agtien. Die twee Scouts is asvaal van vrees en kommandant Steenkamp let op hoe erg veral Petrus bewe.

Hy moet sy hart teenoor dié kind verhard. In ’n poging om sy rykdom te red, het hulle vader liewer aan die Engelse oorgegee. Almal weet dat National Scouts se familie kastig as “vlugtelinge” onder Britse beskerming by die konsentrasiekampe ingeneem word, waar hulle beter behandeling kry as die families van die mense wat voortveg.

Hy kyk streng na die verraaiers. “Julle, Nicolaas Jacobus Vermaak en Petrus Gerhardus Vermaak, het as verkenners opgetree vir ’n Britse kolonne, ’n mag van die 5th Victoria Mounted Rifles oftewel die Bushmen, wat ons mense genadeloos uitdelg. Dit is júlle wat hulle na hierdie plaas en die ander in die omgewing gelei het. Julle het nie slegs verkenning gedoen nie, maar ook die wapen opgeneem teen die kommando waarvan julle voorheen lede was. Mense wat so veragtelik optree, het die reg verbeur om te lewe. Wat het julle hierop te sê?”

Nicolaas Vermaak kyk hom half uitdagend, half smekend aan. Dié seun ken hy van sy babadae af en Nicolaas hoop seker dat hy tog genade sal betoon. Hy en kommandant Steenkamp se seun, Lafras, het dan van kleins af saamgespeel.

Lafras wag in duidelik gefolterde spanning saam met die ander kommandolede om te hoor wat Nicolaas se uiteinde gaan wees, maar eintlik verwag hy die ergste. Dit is vir die kommandant swaar om sy seun se ontsteltenis te aanskou.

“Kommandant, die hele land is reeds verwoes.” Nicolaas se stem is skor. “Ons en Oom…Kommandant se familie is na die Bethal-konsentrasiekamp geneem. Baie van die burgers is al weggestuur na krygsgevangenekampe. Ons het die oorlog verloor, maar julle wil dit nie besef nie. Julle sal aanhou veg tot niks oorbly nie. As ons Scouts is, kry ons mense minstens kos in die kamp. Vader is daar, en Moeder, en julle familie. Daar is kinders…”

“Ja, die National Scouts se mense kry genoeg kos terwyl die ander mense van honger vergaan, maar dit is die bitter brood van verraad,” val kommandant Steenkamp hom in die rede. “Ons Boere stik van dié boosheid.”

Hy beraadslaag met sy krygsraad. Almal se gesigte waarop die swaarkry, die ontnugtering, die minagting en afkeer duidelik geëts is, stem saam dat summiere teregstelling moet geskied.

Kommandant Steenkamp kug, steek weg hoe emosioneel hy meteens raak toe hy opmerk dat jong Petrus homself uit vrees natgemaak het. Die kind met blonde hare en blou oë soos sy ma s’n.

“Voordat ons die vonnis oplê, mag julle vir oulaas iets sê.”

“Ek is spyt oor wat ons gedoen het,” sê Petrus, sy jong stem skril van paniek. “Wees my asseblief genadig.”

“Doen met mý wat julle wil,” sê Nicolaas, bitter gelate. “Praat en smeek sal tog niks help nie. Ek vra net dat julle my broer genadig moet wees. Hy is nog jonk. Gee hom liewer tien houe lyfstraf en hou hom gevange. Wat ook al, maar moet hom nie doodskiet nie.”

“Hy is al agtien jaar oud, nie meer ’n kind nie,” sê kommandant Steenkamp streng. “Hy het net so goed soos jy geweet hy verraai sy mense.”

Na verdere beraadslaging spreek hy die vonnis uit. “Nicolaas Jacobus Vermaak en Petrus Gerhardus Vermaak, julle twee verraaiers sal om dagbreek gefusilleer word. Julle kan vanaand aan julle mense skryf en julle laaste gebede aan ’n regverdige God rig. Mag onse Heiland julle genadig wees.”

Hy gee opdrag dat die twee hulle eie graf moet grawe. Die twee jong mans word uitgeneem. Daar is net een graaf en hulle gebruik dit om die beurt. Trane loop by hulle wange af, maar hulle doen dit sonder om te praat of te smeek.

Daarna neem vier gewapende kommandolede hulle en bind hulle vas aan die wiele van ’n wa wat by die Australiërs gebuit is. Die kommandolede gee vir hulle hul laaste maaltyd en skryfgoed sodat hulle die laaste briewe kan skryf. Hulle skryf egter niks. Die kommandolede hou wag.  Brandwagte is om die kamp gepos.

Dis of daar ’n doodsheid oor die kamp hang. Niemand wil hul eie mense tereggestel sien nie, maar geregtigheid moet geskied. Karige aandetes word by die vuurtjies geëet. Die verkluimde burgers en die perde bondel saam. Hulle asems is mis wat in die ysige lug hang. Hier daal die nagte se temperatuur tot onder vriespunt. Uithou tot die sonlig van die volgende dag is ’n uitgerekte beproewing.

Lafras Steenkamp roep ná ete sy vader eenkant en praat saggies. “Here, Vader, dis darem vreeslik dat ons vir Nicolaas en Petrus so moet sien sterf. Ek kan nie glo hulle het teen ons gedraai nie, al is dit uit nood.”

“Ja, my seun, maar moenie oor hulle die Here se naam ydellik gebruik nie. As mens lafhartig genoeg is, verloor jy jou skaamte en eergevoel en gee jy jou aan skande oor. Ek het altyd gedink ou blink Stefaans is ’n verdekselse maaifoedie, maar tant Lettie wou hom opsluit hê.” Hy sug. “Sy was ’n mooi en gesogte nooi maar Stefaans was mos ’n ryk wewenaar. Saf, swak van inbors en te lief vir gerief. Nou sal dié seuns voor hulle doodgaan en daar sal geen nageslag meer wees wat die naam Vermaak kan voortdra nie.”

Lafras se oë blink van trane.

“My seun, jy is nie môre in die vuurpeloton nie, want dit sou darem te erg wees om dit van jou te verwag, maar jy sal teenwoordig moet wees en jou sterk hou. Ek wil nie sien dat my seun knak nie. Ek wil my nie vir jou skaam nie.”

Lafras kyk verwytend na sy vader. “Ek sal daar wees, Vader, al is dit vir my ’n saak van weemoed. Ek sien Nicolaas nog soos toe ons kinders was, en maats. Dit maak my hart seer. Maar ek weet darem dat Nicolaas sy straf verdien. Dis vir Petrus wat ek die jammerste voel…”

Kommandant Steenkamp praat bars. “Petrus is net so skuldig soos sy broer. Gaan slaap, as jy kan. Môre, ná die teregstelling, moet ons oos trek. Die Kakies gaan ons wil afslag oor ons die Australiërs so verniel het.”

*

Sy hande bewe erg van koue en spanning toe hy die tou om die polse van Petrus Vermaak sny. Die jongeling lyk half bewusteloos verkluim en hy moet hom skud. Met sy vinger oor sy lippe wys hy dat Petrus nie ’n geluid moet maak nie. Nicolaas, wat ineengedoke teen die ander wiel lê, word nie wakker nie. Die wag het naby hulle aan die slaap geraak, half verkluim, toegewikkel in sy verflenterde kombers, geweer oor sy skoot.

Hy beduie dat Petrus moet weg. Die nag is besonder donker, die maan ’n dun sekel en die sterre flentertjies ys. Snerpblink lê die ryp oor alles.

Die jong verraaier skarrel weg, verdwyn die duisternis in. Miskien vang hulle hom weer, miskien nie. Dalk verkluim hy op die vlakte. Minstens het hy nou ’n halwe kans om te oorleef.

Lafras Steenkamp skrik orent toe pandemonium om hom losbars.

“Die een het ontsnap!” hoor hy iemand roep.

“Soek hom,” hoor hy sy vader skree.

Hy kyk hoe die burgers rondhardloop, uitwaaier. Hy kyk hoe Nicolaas vervaard opkyk. Hoe dankbaar hy lyk. Hoe die trane by sy wange afrol. Sy hart krimp van bejammering.

Petrus Vermaak het verdwyn, blyk dit gou.

“Los die gesoek, ons het nie tyd daarvoor nie,” sê kommandant Johannes Steenkamp. “Ons sal moet gou maak met die teregstelling en laat spaander.”

Hy laat die vuurpeloton vinnig opstel. Die graf is vlak, maar nou sal daar net een lyk wees. Die vyf mans wat met gewere regstaan, is almal ontstig. Een staan met geboë hoof en bid met ’n mond wat woorde geluidloos vorm. Dit is vir dié Boere vreeslik om een van hulle eie mense te skiet, al het hy hulle verraai.

Die geblinddoekte gevangene word na die graf se rand gelei. Hy wil geen laaste woord spreek nie. Sy hele lyf bewe so erg dat almal dit kan sien. 

Al die omstanders se asems kom wasemrig by hul monde uit. Almal is stil. Kommandant Steenkamp dra met ’n hees stem ’n stuk voor uit die Bybel wat hy so goed ken en so dikwels aanhaal. Hy is bewus daarvan dat Lafras eenkant tussen sy makkers staan en van afgryse sidder. Hy roep die bevel uit. Die vuurpeloton lig hul gewere. Nicolaas Vermaak gooi sy hande in die lug, skree een keer. Die gewere bulder. Donker kolle verskyn op sy lyf. Sy knieë knak en hy val reg agteroor in die vlak gat.

Lafras se lyf het ook geruk, sien kommandant Steenkamp. Lafras kreun, draai om en strompel weg. Hy wil natuurlik nie sien hoe hulle die lyk met grond toegooi nie.

Lafras bestyg sy perd. Hy leun oor na sy vader wat langs hom sy perd se buikgordel stywer trek. “Vader vra nie ...”

“Ek wil liewer nie weet nie,” val die kommandant hom bars in die rede. “Opsaal, manne, laat ons wegkom.”

*

“He’s alive, but barely,” hoor Petrus Vermaak die Britse stem, maar hy is stokstyf gevries en halfdood van die water van die pan. Alles pyn. Hy kan nie reageer nie, sy mond is dood, sy tong ’n stuk ys.

“Give him brandy, lieutenant ... might still survive, but he’s frozen ... hidden in the pan ... must have spent hours in the icy water ... have to take him to Bethal ... camp ... hospital ...

*

Die Kerkraadsvergadering is in oproer. Stefanus Vermaak staan voor die vyandige lede wat hom aangluur, soos voor ’n krygshof.

“Julle Judasboere en National Scouts is nie welkom in ons kerk nie,” sê ouderling Johannes Steenkamp bruut, hard en duidelik.

Die ander lede stem luidkeels saam, hoewel die dominee paaiend probeer praat. “Broers, gee die man tog kans om sy saak te stel.”

Stefanus maak keel skoon. “Ons het die wapen teen julle opgeneem sodat julle nie ons land in die afgrond indwing nie. Ons moes iets doen om julle te laat ophou.” 

“Moenie maak asof julle dit uit edele motiewe gedoen het nie,” sê Johannes minagtend. “Julle het uit lafhartigheid gehensop.”

Josias Brits (wat nog steeds deur sommige mense as Veldkornet aangespreek word), roep uit: “Ons is verpletter. Die kerk is nou ons enigste volksraad. Ons sal julle straf deur julle onder sensuur te plaas. Ons sal nie die sakramente aan vuilgoed soos julle laat bedien nie. Ek sit nie langs ’n volksverraaier in die kerk nie.”

“Ons sal nie julle kinders in dié kerk doop nie,” sê ’n ander man wie se klere ook verslete en gelap is. “Julle het ernstige sonde teen julle eie mense gepleeg.”

“Miskien as julle om vergiffenis smeek, broer …” begin die dominee, maar die klomp kerkraadslede rumoer. Vandag het hulle nie lus vir praatjies van vredemaak en vergiffenis nie en vind dit moeilik om respek teenoor die versoenende kerkman te betoon.

“Gaan stig gerus julle eie Scoutkerk, Stefaans Vermaak,” sê Johannes Steenkamp. “Judasboere is wat ons julle noem. Dit is julle wat gemaak het dat ons die oorlog verloor. Die Britte minag julle vir jul verraad, al het julle hulle gehelp. Hulle het julle net gebruik en julle was maar te gewillig, swerkaters ...”

“Ons vergewe en vergeet nie,” sê een aggressiewe kerkraadslid.

Johannes sit met vuiste gebal. “Julle Vermaaks is nie welkom in ons huise, op ons plase of in ons kerke nie.”

Stefanus Vermaak is spierwit in die gesig. Hy draai om en loop uit, maar sy skouers is nie fier nie. Hy lyk asof hy slae gekry het.

Johannes kyk hom met haat agterna. Dít is die man wat sy geliefde voor hom weggeraap het. Stefaans word gehaat en geminag maar sy plaas is nie so verwoes soos die Steenkamps en ander bittereinders s’n nie. Sy vrou het nie in die kamp omgekom nie. Sy behou een seun.

Verraad en liefde loop hand aan hand. Hy het gestraf, maar uit liefde het hy ook gered.

The post Verraad en liefde appeared first on LitNet.

Pluk vir my ’n ster

$
0
0

’n Storie van twee verskillende harte wat aanmekaar vasgeknoop is, maar wat nie weer kan loskom nie

My mens, dis nou al drie jaar wat ek by die Smaailie-kind werk. Hy is seker al so in sy dertigs, maar vir ’n vrou van 63 jaar oud, is dit mos maar ’n kind. Sien? Ek kan nog so goed onthou hoe ek hier by hom beland het, soos gister sit dit nog in my gedagtes vas.

Daai dag, in Dorothy se winkeltjie wat aan die onderpunt van die stofpad staan, toe hierdie snaakse mannetjie by die winkel ingekom het om nogal garing-goed te koop, was die dag toe die Here Homself vir ons twee, onwetend, aanmekaar kom vasknoop het.

Ek het hom maar Smaailie begin noem. Hy het daardie dag sy regte naam vir my gegee, maar ek kon nie daai naam onthou nie. Een of ander Engelse naam en ons hier op die Namakwalandse Weskus kan mos glad nie Engels praat nie. Ons ken net van yes en no. Ons is gewoond daaraan om mense byname te gee. Koos Vis, Langpiet-lekkerlag. Dis omdat hier so baie Kose en Piete is dat mens maar aanlasname of byname gee.

Toe vat ek maar die naam Smaailie en so sal dit wees. Hy het mos daai manier van smile wat mens se hart sommer saf maak. Saf soos ’n ma se hart.

Soos dit die Here se wil is, het ek by hom begin werk. Maar net skottelgoed, bietjie huis regtrek en klere opvou. Dit was darem ’n ekstra geldjie in die blik.

Ek het hom op ’n keer gevra, toe ons in die kombuis gesit het, wat hy nou juis hier op die vissersdorpie kom doen het. Dis dan so alleen en afgesonder hier. Die naaste groot dorp is omtrent twee ure se ry hiervandaan, en dit nogal grondpad. Hy het stoksielalleen hier opgedaag. Geen ander asem saam met hom nie.

Ek onthou dat ek hom sommer so reguit in sy gesig gevra het, want die nuuskierigheid het my klaar. Dit het aan my bly klou, soos wanneer mens aan ’n sopbeen sal sit en suig.

“Kyk hier Smaailie, sê nou vir my hoekom het jy nou juis hier in die baai kom bly?” het ek versigtig gevra. Sommer daar in die kombuis. Ek het my hande met my voorskoot en kopdoek besig gehou om die senuwees stil te kry. Mens vra mos nie ’n vraag sommer so uit die bloute nie. Jy vat hom stukkie vir stukkie.

Mens, het ek die kind jammer gekry toe dit lyk of sy oge vol trane wil skiet.

“Ag my liewe engel, ek het sommer kom sterre pluk,” was sy antwoord, toe smile hy.

“Nou wat maak jy nadat jy daardie ster gepluk het?” wou ek weet en ek sou aanhou karring met die ding totdat ek die antwoord kry wat ek wil hê.

“Ek vryf hom blink, dan bêre ek hom onder my kussing,” het hy gesê.

Dis asof die kind ’n antwoord vir alles het. En daai antwoorde kom so sonder dat hy eers dink. Ek verwonder my daaraan.

“En dan as die ster onder my kussing lê, droom ek soete, blink drome. Drome van jou,” het hy gesê voordat ek nog verder kon vra.

Mens, ek het op die kombuisstoel gaan sit en hom aangekyk soos mens vir ’n spooksel in die donker sal aankyk.

Ek het my hande so in my voorskoot gevou en toe my kopdoek dieper oor my voorkop getrek.

“Maak daar vir ons ’n koppie rooibostee, toe man Smaailie,” het ek toe maar gevra. Dis asof ek klaar die antwoord gekry het op die vraag van hoekom hy hier kom bly het. Sien, ek het geweet wanneer om te praat en wanneer om nou maar die ding te los.

“Maak jy vir ons tee, toe my ou engel. Jou tee proe moes so lekker soos wyn.”

“Sal jy nou ’n duiwelsding oor my kom uitspreek?” het ek kamma geraas met hom. Mens kan nie vir die kind kwaad word of raas nie.

“Watse duiwelsding?” het hy gevra met oë wat soos pierings lyk. Ag vadertjie tog, dis asof ek my eie tong kan afbyt as ek ’n ding aanpraat wat liewer kon bly. Ek weet mos dat Smaailie-kind altyd agter ’n storie aan is.

“Ag nee, Boerkind, ek praat sommer. Sit daar die ketel aan, dan maak ek die tee. Kyk hoe mooi lê die see daar agter. Vandag kom die skuite weer leeg in,” het ek die ding anderpad toe gepraat.

Ek het hom begin Boerkind roep. Die hele gemeenskap het al begin prate en sê dat ek hom soos my eie kind behandel, en hy vir my soos ’n ma. Amper soos daai Fiela se kind-storie.

“Hoe weet mens wanneer die snoek loop en wanneer nie, Lydia?” het hy aan die ander ding begin krap. Ek het toe maar besluit om die vraag oor die see en snoek te los en te vertel van my vervalling in die wynbottel.

“Nee man, lank terug toe my man nog geleef het, het ek mos verval in die bottel,” het ek begin vertel. Mens, ek praat mos nie eintlik oor hierdie ding nie, maar ek praat voor Smaailie asof dit die regte ding is. So sonder om skaam te wees. Sien, soms weet ’n mens net dinge.

“Haai, Lydia my engel. Hoe bedoel jy dan nou?”

“Ja, ek was diep in die bottel gewees,” het ek so in die tee-maak vertel.

“Haai, my liewe engel. Gelukkig is dit verby. Dis gister-dinge.” Het hy gesê en my hand gevat. Op daai dag was dit asof daar ’n ketting aan ons harte vasgemaak is. ’n Ketting wat nie losgemaak wil word nie. Dis ’n vir-altyd-ding.

 “Jy weet, my oorlede ou man het al baie keer sy klere gevat, weggeloop net om later weer terug te kom. Maar ek het in die bottel gebly.”

“Wanneer het jy toe die bottel gelos?”

“So paar jaar nou. Dalk so ag jaar wat ek hom nie meer vat nie. Dis nou net die rook wat my nog vashou, maar hy is bietjie beter as die wyn.”

Smaailie het toe by die kombuistafel langs my kom sit. Hy het ’n slukkie van sy tee gevat, by die venster uitgekyk en die beskuitblik nader getrek.

“Ag nee, Lydia, kyk, die blik is dolleeg. Wanneer het die beskuit dan opgeraak?” Net soos sy maniere maar was. Hande en arms in die lug met ’n stem wat te hoog is vir ’n man van sy ouderdom.

“Dis jy wat die beskuit so eet. Ek weet mos dat jy in die nag opstaan en die beskuit saam met melk eet,” het ek gesê.

“Hoe weet jy dit?”

“Dis wat die ‘wit-vergeet-bossie’ vir my gesê het,” het ek sommer so aspris gesê net om die aandag af te kry van die leë beskuitblik, want ’n leë beskuitblik beteken dat daar vandag geknie moet word en my elmboog is reeds nie lekker na laas nag se koue wat oor die baai kom lê het nie.

Ek kon sien dat hy die storie van die wit-vergeet-bossie soek.

“Lydia, my geliefde engelmens, wat vir ’n ding is die wit-vergeet-bossie?”

Jong, ek kon nog nooit verstaan hoekom hy altyd ge-engel en ge-darling het nie. Ek het mos ’n naam, maar sien, dis die eerste keer in die 64ste jaar van my lewe dat ’n witmens my so engel en darling. En om by te sê, die ander bruinmense in die baai was dik jaloers.

“Boerkind,” het ek begin en hy het geweet as ek eers “Boerkind” dan kom daar ’n storie. “Die ou mense het geglo dat as mens daardie spesifieke bossie in die veld pluk, hom fyn druk en dan kou, het mense geglo wat jy praat. Soos as jy moet hof toe gaan, kou jy die wit-vergeet-bossie sodat die smaak in jou mond sit. Of as jy stout was en jy moet ’n storie maak vir jou ma, kou jy vir wit-vergeet-bossie.”

“Maar my darling, dis mos klomp snert daai.”

“Dis die Godsewaarheid. Daai bossie groei hier agter in die veld as jy Doppieskraal se kant toe stap. Hy het sulke fyn blommetjies wat lyk soos katoenklossies. Ons het hom dan gepluk en gekou. Daar was die tyd toe ek en my broer van daai geel appelkosies by ou Cohen se winkel gesteel het en ons gevang is. Daar was nie tyd om nog Doppieskraal toe te hardloop om die bossie te pluk nie, toe sê my broer dat hy nog ’n takkie van gister se pluk in sy sak het. Ons het sommer so kop onderstebo op pad kafee toe aan die ding gekou. Ou meneer Cohen was streng en ons was so bang dat hy vir onse ma en pa sou vertel. Dan wag daar ’n helse pak by die huis vir ons. Meneer Cohen vra toe of ons die appelkosies gesteel het en ons sê uit een mond nee. Toe sê hy ons lieg mos nou dik. Hy het hulle getel en toe ons by die deur uit is was daar vier weg. Waar is hulle heen?” vertel ek die storie, maar ek las maar stukkies by om die storie dikker te maak.

“Haai nee, my darling, het hy toe vir jou ma vertel?”

“Wag eers, moenie die storie daar voor loop haal nie. Ons sê toe vir hom dat ons regtig nie die appelkosies gevat het nie, toe sê hy vir ons dat ons maar daardie bossies kan uitspoeg, dit werk tog nie.”

“En toe? Vertel nog.”

“Ek kyk toe vir my broer en sien hoe hy daai bossie afsluk. Ek sluk toe ook maar. Ons was skoon bewe-bang. En daar gaan meneer Cohen aan die lag en sê dat as mens die wit-vergeet-bossie insluk, jou derms gaan knoop.”

“Het jou derms toe geknoop, Lydia?”

“Nee wat, maar meneer Cohen het gesê dat net kasterolie ons derms weer gaan loskry. Toe jaag hy vir ons drie groot poedinglepels vol van die bittergal in.”

Toe ek weer sien, is Smaailie van die stoel af, staan op sy knieë voor die kombuiskas. Ek dog eers dat hy van die stoel afgeval het van lag, maar nee, hy grou in die kas rond.

“Wat maak jy nou?”

“Ek soek die meel en suurdeeg. Ons moet knie. Hier is nie brood in die huis nie,” het die kind die ding sommer so in die lug loop vang.

“Jy gaan knie, nie ek nie. Ek het ’n elmboog aan my.”

“Ek sal knie, maar dan gaan jy die oond dophou as ek middagslapie gaan vat.”

“Ek sal die oond dophou.” Man, die kind het mos die manier om in die middae te slaap. So van twaalfuur se kant af tot drieuur. Hoe hy nog slaap oorhou vir die nag, verstaan ek glad nie. 

Daar sit ek toe en kyk hoe Boerkind die meel beginne meng en dit toe knie, net soos wat ek hom geleer het. Dit smaak my sy knieëry maak die trane in my los.

“Jy knie daai deeg te droog en te styf,” het ek sommer gesê om die trane te keer.

“Issie, Lydia my darling, jy het vir my geleer dat ek hierdie deeg so moet oorvou en hom dan uitknie sodat dit soos ’n bul se kop met horings lyk. Kyk, so ...”

Genade, mens, ek het sommer hartseer gevoel. Dis mos die einste hoe ek vir hom geleer het. Dit smaak my dat die broodbakkery nog ’n ketting was wat ons aanmekaar vasgeknoop het. Ek vat toe maar die broodpannetjie en beginne hom met botter uit te smeer. Stadig van hoek tot kant, veral in die hoekies. My hande het geblink van die botter. Ek vat toe die bak waarin die brood moet swel en spoel hom uit. Ek droog hom goed af. Ek skud toe die plastieksakkie uit waarmee ons hom gaan toedraai. Toe vat ek die kombers, stap tot by die kombuisdeur en skud hom uit.

My mens, toe die kind die deeg klaar geknie het, vou hy hom in. Hy gee dit vir my aan en ek sit dit mooi netjies in die skottel om te rys. Ek bind die plastieksakkie om hom vas en vou hom in die kombers toe.

“So, nou kan hy maar op sy tyd rys,” het ek gesê. So vat Smaailie die toegevoude deeg en stap kamer toe.

“Wat gaan jy met die deeg maak?” het ek verbaas gevra.

“Ek gaan hom in die bed sit sodat hy sommer lekker kan rys. Dis mos warm so onder die komberse van ’n kooi.”

Ek het darem wonderlike goete by Boerkind gesien. Iets wat ek gedink het ek nooit in my hele lewe sou sien nie. Hy het by my kom sit. Sy voete in die son wat deur die kombuisdeur val. Ons het vir die see gesit en kyk, maar in onse gedagtes was daar baie prate wat gepraat is. 

“Lydia, my darling, daai blinkgevryfde ster wat ek onder my kussing sit, is ’n ster vir die wynbottel waarin jy verval het, maar uitgekom het. Dis ’n ster vir die wit-vergeet-bossie toe jy die appelkosies gesteel het. ’n Ster vir die deeg in die kooi, ’n ster vir die brood wat jy my leer bak het. En ’n ster, net vir jou ...”

The post Pluk vir my ’n ster appeared first on LitNet.

Rooi son

$
0
0

Grant se spesialiteit was sy regtervuishou. Daar sou hy staan, bruin gordel om die middel van sy wit karatepak, sy regterbeen na vore, sy gewig na agter op die gebuigde linkerbeen en wanneer sy opponent naderkom, leun hy vorentoe en daardie vuis skiet soos ’n slangpik uit.

Hy het natuurlik ander bewegings geken of hy sou nooit sy bruin gordel verwerf het nie, maar in gevegte het hy nie belanggestel in skoppe of in houe anders as die hou wat hy met daardie hand na voor gelewer het nie. In boksterme kan jy van ’n jab praat. In Japannees is dit kizami-zuki genoem.

Grant was bekend in Kaapse karate-kringe en ek het hom selfs in die koerant sien poseer met ’n trofee wat hy in Mexiko gewen het. Een keer het ek die kizami-zuki gesien gebeur.

Dit was in die sportsentrum by die Universiteit van Kaapstad waar ek ook deelgeneem het sonder dat ek juis ver gevorder het. Ek onthou dat ek, nadat ek na drie gevegte uitgeskakel is, verlig was dat ek nie teen Grant te staan sou kom nie, wat seker ’n aanduiding van my eie bevoegdheid of die tekort daarvan was. Hoewel ek in die gevegskunste belanggestel het en hard daaraan gewerk het, het die talent en moed my ontbreek om ’n faktor in kompetisies te word.

Toe Grant se geveg van daardie dag se kompetisie begin, het sy opponent, wat waarskynlik sy reputasie geken het en korte mette van hom wou maak, hom met ’n lang skop na sy kop bevlieg. Grant het eenkant toe getree, vorentoe geleun en geslaan en die opponent teen die wang getref. Dit was ’n klassieke kizami-zuki, met die voorste hand gelewer en soos  die slangpik wat dit is, teruggetrek het sodat hy daarna vuis in die lug in die rondte getol het, triomfantelik. Die opponent het op die vloer inmekaargesak en daar gelê en ruk. Beamptes het om hom gebuk. Na ’n minuut of wat was hy by en het mense hom weggelei. Grant is die punt en die uitslag van die geveg toegeken.

“Hulle loop in die hou in,” was sy kommentaar toe iemand verwytend “haai, Grant” sê. Hy het so ’n trek in sy een mondhoek gehad wat ek vandag nog nie seker is of dit weens verleentheid of geamuseerdheid was nie.

Hy het daardie dag heelwat aandag getrek, meer as gewoonlik. Daar was senior Japanese karateka in die sportsentrum en hulle was daar om mense te werf vir ’n oefenprogram in Japan. Hulle was op soek na talentvolle jong vegters wat 18 maande kon afstaan.

Ek was natuurlik nie in dieselfde klub of dorp as Grant nie. Tog het nuus oor hom deurgesyfer, danksy my klubleier, sensei Maureen, wat gereeld in verbinding met die groot klubs was. Sensei Maureen was reeds in haar vroeë sewentigs, maar energiek en vlug van begrip, sodat sy ons jongmense sonder moeite gelei het. Sy het vertel dat Grant in die berge in die sneeu geoefen het. En dat die klub in Tokyo klein en bedompig was. En dat hy ’n sessie van ’n week op ’n afgeleë eiland meegemaak het. En dat hy na ’n volgende gordel gegradueer het en dat die gradering so streng was dat hy aan die einde daarvan gebewe het, byna soos die mense wat hy met sy kizame-zuki bygedam het. En dat hy klaarmaak met sy tyd in Japan en terugkom huis toe.

Met Grant se terugkeer was daar ’n kompetisie by Rondebosch-klub aangebied. Eintlik was dit vir my ’n dag om te vergeet, want ek het op die vloer gevries en kon nie ’n enkele karatebeweging onthou nie sodat ek gediskwalifiseer is, en ek sou die gebeurtenis heeltemal uit my geheue gewis het was dit nie vir die figuur van Grant nie. In die 18 maande wat hy weg was, het hy ’n entjie gegroei, aan spiermassa ook. Hy het regop geloop, sy gesig uitdrukkingloos, iets wat ek al vroeër van goeie karateka opgemerk het. Hulle gee niks weg nie.

Nog ’n man wat niks weggegee het nie, was die Japannees in sy geselskap. Ons het van hom as sensei Morita gepraat. Hy was heelwat kleiner as Grant sonder dat hy aan uitdrukkingloosheid en miskien selfs arrogansie te kort geskiet het. Hy het hard en kwaai gelyk en wanneer hy deur Grant aan mense bekendgestel was  ̶  altyd die senior karateka en nie ons jongeres en minder ervares nie  ̶  het ’n kopbuiging vir ’n glimlag ingestaan.

Hulle was nogal iets om te aanskou, die twee met hulle swart gordels en die demonstrasie wat hulle aan die einde van die dag gelewer het. Hulle bewegings was hard en skerp, hulle posture wanneer hulle stilstaan, gegiet. Hulle was toonbeelde van toewyding. Ons het in rye op die vloer gesit en kyk hoe hulle aan ons wys wat karate eintlik is en dit was iets om te sien, daardie twee lywe in wit geklee, in die daglig wat deur die oostelike vensters geskyn het. Hulle krete was diep en dierlik en ek is seker ek is nie die enigste een wat daar weg is met voornemens om harder te oefen nie.

Iets wat sensei Maureen aan my uitgewys het, is dat Grant se gevegstyl verander het. Hy het nie meer van die kizame-zuki gebruik gemaak nie. Sy het gesê sy vermoed hy het nie ver daarmee in Japan gekom nie en moes noodwendig sy taktiek verander en sy tegnieke verruim.

Sy het, soos ek reeds duidelik gemaak het, haar vinger op die pols van gebeure in die karate-wêreld gehad. Dis danksy haar dat ek een aand ’n gas was in ’n restaurant met ’n Japannese tema in die stad.

Wat ek die beste van daardie aand onthou, is die Japannees Morita se ontevredenheid met alles: die dekor, die ryswyn, die kos. En sy ontevredenheid met Grant. Telkens wanneer Grant vooroor sou leun om aan die bakkie ryswyn te teug, of sy eetstokkies gebruik, of aan iemand anders aandag gegee het, het Morita geblaf. Dis hoe hy gepraat het, sulke kort blafgeluide wat dadelik Grant se gedrag net daardie effens aangepas het. Dit was vreemd om te aanskou hoe die Suid-Afrikaner blykbaar afgerig word in Japanese maniere.

Ons was agt mense om die lae tafel, elkeen op sy eie kussing en seker almal lugtig vir die befoeterde Morita. Die een mens wat wel uit haar eie met hom probeer praat het, was sensei Maureen wat in haar lewe al baie gereis het, onder meer na Japan. Sy is keer op keer met die blafgeluid en ’n frons afgewys. Hy het wel met die senior Suid-Afrikaanse mans gepraat, in ’n mengsel van Japannees en Engels. Uit die Engels kon ek aflei dat hulle oor die keiser van Japan praat en oor Japan self, wat volgens Morita aan die agteruitgaan was onder Westerse invloed.

“Japan het ’n temapark vir Westerlinge geword,” het hy met ’n swaar aksent gesê, “soos ’n groot Disneyland.” Hy het na die restaurant om ons beduie, die kerse in die papierlanterns, die bamboesplantjies, die afdrukke van Japannese skilderye wat ek toe besef het moontlik nagemaak is. Teen ’n muur was die Japannese vlag met die rooi son daarop. Dit het meteens vreemd in Suid-Afrika gelyk. As ’n mens deur sy oë begin kyk het, kon jy byna aanvoel hoe vals die wêreld in werklikheid is. “Dis vertoon hierdie. Japan het ’n trotse kultuur gehad.”

Van die mans het versigtig met hom saamgesels. Sensei Maureen het nie weer probeer nie en eerder na my gedraai toe sy, nogal hard, kommentaar oor die lekker kos en die aangename atmosfeer van die restaurant lewer. Grant was stil. Nie dat ek hom eintlik voorheen sosiaal geken het sodat ek met sekerheid kon sê hoe hy gewoonlik optree nie, maar ek moes aflei dat hy geïntimideer was deur sy vriend. Hy het baie afgekyk, onthou ek, baie. Jare daarna sou ek foto’s van seuns in ’n inisiasieskool in die Oos-Kaap sien en ek sou hulle kyke herken, die onderdanigheid en selfs skrikkerigheid.

“Ons weet nou wie van Grant se kizame-zuki ontslae geraak het,” het sensei Maureen aan die einde van die aand gesê toe ons terugry dorp toe. “Dis hartseer. Die man is darem onbeskof.”

Grant sou nog een keer waarvan ek weet die koerant haal. Dit het gebeur ’n ruk nadat hy weer terug is Japan toe. Want terug het hy gegaan om sy lewe daar te hervat. Ek was opnuut afgunstig aangesien my eie ambisies vir my soms so klein en beskeie gelyk het. Na skool het ek rekeningkunde gaan studeer. Toe het ek by ’n maatskappy gaan werk wat sportskoene maak.

Vroeg in my loopbaan daar het ek ’n ruk in die fabriek gewerk, as deel van ’n program wat my oor al die areas van die vervaardigingsproses touwys moes maak. Op ’n dag het ek vroeg opgedaag en in die ontspanningsarea gesien iemand het die vorige dag se koerant tussen die vuil koffiekoppies gelos. Die skoonmaker was reeds besig om op te ruim. Ek kon die koerant net-net red.

Die berig oor Grant was op die tweede bladsy. “Suid-Afrikaner sterf in gepoogde staatsgreep in Japan.” Daar was ’n foto van Grant soos ek hom geken het toe hy nog kizame-zukis uitgedeel het. Hy staan in sy karatepak, kop skuins, trek om sy mond wat verleentheid of ’n glimlag kan wees, ’n mens kan nie sê nie.

Wat gebeur het, is dat Morita ’n beweging gestig het wat hom daarvoor beywer het om mense op te lei in tradisionele Japannese waardes. Hy wou ook terugkeer na ’n ouer tegnologiese wêreld en het dit as verfoeilik beskou dat Japan so goed vaar in die ontwikkeling en vervaardiging van wat hy as Westerse goedere in ’n Westerse era beskou het: motors, kantoortoerusting, rolprente. Japan moes terug na ’n ouer tyd. Dit het Morita geskryf, in ’n verklaring wat by sy liggaam in ’n regeringsgebou in Tokyo gevind is.

Morita en volgelinge het die bestuurder van ’n staatsdepartement gaan spreek onder die voorwendsel dat hulle ’n projek aan die departement wil verkoop. Daar gekom, het die volgelinge die bestuurder aangehou terwyl Morita in ’n atrium aankondig dat hy die regering met die hulp van die werknemers in die gebou wil oorneem. Die mense wat voor hom vergader het, meestal kantoorwerkers hoewel ook enkele besoekers en toeriste, was eers verbaas en het hom toe uitgelag. Morita het die kantoor binnegegaan, gekniel, sy tuniek oopgeknoop en die punt van ’n swaard in sy maag gedruk. Grant het as sekondant opgetree en die swaard hanteer waarmee Morita onthoof is sodat sy lyding nie te erg word nie. Daarna het iemand anders vir Grant onthoof. Die oorlewendes is in hegtenis geneem. Aanvanklike reaksie in die Japannese pers was dat die daad bisar, buitensporig en argaïes was.

In die fabriek het die volgende skof se mense ingekom en van hulle het my gevra hoekom ek so geskok lyk. Daar was niks om te sê nie. Ek het nie meer karate beoefen nie en ek het Grant in elk geval nooit werklik geken nie. Wat ek wel geken het, was die manier waarop een mens ’n invloed op iemand anders kan uitoefen. Ek het ook geweet dat ’n mens deur ’n saak of tydverdryf begeester kan word en dat dit jou kan oorneem. Ons soek seker almal na ’n manier van lewe wat goed en reg is, of dan vir onsself so lyk.

Ek dink baie terug aan die kompetisies en die karakters, ook ander mense wat ek by oefeninge en demonstrasies leer ken het. Selfs nou dink ek terug, jare nadat ek na ander belangstellings aanbeweeg het. Vandag is ek ’n syferman in murg en been en ek is trots op die finansiële portefeulje wat ek vir my en my gesin kon opbou, maar selfs al was ek ’n prokureur, werktuigkundige of toesighouer op ’n plaas iewers, sou ek volhou dat ’n mens jou eerste groot geesdrif nooit heeltemal afsterf nie.

Dus kyk ek soms laataand op die internet na karate-videos, of ek lees oor verskillende style en ek sien die jong sterk manne van destyds is die ou manne van vandag. Na hulle moet ons ook luister.

The post Rooi son appeared first on LitNet.

30 Junie 2016

$
0
0

Sy sal terugkom. Sy sal uitvind en terugkom. Sy sal weet dit was ek, hoe ook al sy uitvind. Sy moet net uitvind. En as sy uitvind sal sy weet ek is nou wat sy wou gehad het. Ek moet net seker maak sy vind uit. En dan sal sy terugkom.

Dit sal wees soos aan die begin, soos toe sy vir al my lame jokes gelag het. Toe sy als met emoji’s reply het. Toe dit nie nodig was om iewers heen te gaan om ’n goeie tyd te hê nie. Voor ons oor die fokken domste goed begin baklei het.

Ek moet dit net doen. Ek moet dit môre doen.

As ek nie … sal alles seker uitspeel soos elke liewe ander dag daarvoor.

Ek sal wakker word met die eerste note van Deafheaven se “Dream House” wat my uit my halfdroom skeur. 06:59. Ek gaan opstaan en my blaas leegmaak, in die badkamerkassie-spieël kyk en die warm kraan oopdraai, my hand onder die water laat lê. Ek gaan die slaap uit my oë was en my nagklere uittrek (Metallica 2009 World Tour-hemp en Woolworths boxer), die stortkraan oopdraai, wag en inklim. Ek gaan my kop onder die stortkop laat hang en kyk hoe die water in stringe van my voorkop afloop. Op die wit teëls onder my voete neerval. Ek gaan die sjampoe van die rakkie afhaal en my baard begin was. Ek begin altyd met my baard. Daarna die res van my harige lyf, in seperige hale, voete laaste. Na ek die krane toegedraai het gaan ek myself afdroog en terugstap kamer toe, die dag se klere uitsoek. Die weervoorspelling sê bewolk, 17/9. Ek gaan my gordyne ooptrek, uitkyk en self besluit. Dis gewoonlik my swart hoodie en jeans; beanie en handskoene as dit nodig is. My woonstel kyk uit oor ’n besoedelde riviertjie. Daar bly bergies onder die treinbrug om die draai. In die kombuis gaan ek die ketel vol water maak en aansit. Die melk uit die yskas haal. Ek sal besluit tussen ProNutro en Oatso Easy, dit hang maar altyd net af hoe ek voel. Ek sal vir my koffie maak (twee teelepels, geen suiker). Ek drink net kitskoffie en Black Label, as iemand vra. Filterkoffie maak my bewerig. En craft-bier is vir pussies.

Om met ’n bordjie pap en ’n koppie koffie in my kombuis te sit, dís my gunsteling deel van die dag. Ek hoor voetstappe bo my plafon, deure wat oop en toe gaan, karre wat onder aanskakel. Maar ek bly sit, vat nog ’n sluk koffie. Ek gaan my bordjie en my beker in die wasbak sit as ek klaar is. Daar’s min dinge wat ek so haat soos skottelgoedwas. (Thendeka kom op Dinsdae.) Ek gaan weer badkamer toe stap en my tande borsel. Na ek my mond uitgespoel het sal ek my gesig weer met warm water afwas. Vir oulaas in die spieël kyk. Ek sal na my slaapkamer toe stap en seker maak ek het alles wat ek vir die dag kort (laptop, selfoon, beursie, sleutels), my bed halfgat opmaak. Die woonstel sal nog koud wees as ek die voordeur toemaak en sluit. Ek sal wasem uitblaas soos ek by die trappe afstap; ek bly op die tweede vloer.

My kar is buite geparkeer. Wit Mazda 323 130, ou Brolloks. Ek het hom nou al vir sewe jaar. Dit was my pa se kar voordat hy vir hom ’n ou Mercedes gekoop het; hy was nooit ’n man vir duur karre nie.

Die ruite gaan toegewasem wees en ek gaan eers die air-con vir ’n rukkie op full blast moet sit. Ek het nou die dag Evil Empire in ’n ou Red Hot Chili Peppers CD-boksie gekry en besluit ek het dit heeltemal te lanklaas geluister, so dit is wat nou in my kar speel op pad werk toe. Die radio? Nee wat, ek dink nie dis eers ingestel nie.

Dis ’n kort entjie verby die begraafplaas en die treinstasie, dan sal ek die verkeer vang. Maar ek sal my tunes hê, so ek sal orraait wees. Ek zone gewoonlik uit by robotte. Speel tromme op my stuurwiel. Dink aan ander goed. Werk, al die jobs. Metal riffs, Marelée. Daai fokken USB in my laai …

*** Die karre voor my sal wasem uit hulle uitlaatpype hoes; dis deesdae koud op pad werk toe. Ek gaan sit en rondkyk, dink hoe mooi Stellenbosch is, veral in die herfs. Die mis oor die wingerde, dit laat my altyd dink aan Woods of Desolation se musiek. Ek gaan lank so sit; ’n mens wag lank om by die verkeerslig op die Strandpad Tegnopark toe te draai. ’n Toet agter my sal my laat wakker skrik en vorentoe laat ry.

Ek werk in Tegnopark as ’n coder by ’n startup wat digital marketing doen. Ons help besighede om hulself te help, is wat Neels altyd in meetings sê. “Gee vir hulle die spieël om na hulself te kyk.” Neels Badenhorst. CEO en Founder. “Hierdie is my breinkind,” sê hy ook altyd.

Ons kantoor is spierwit en hipermodern. Marius sal al by sy lessenaar wees as ek by die kantoor in cruise. Hy is elke oggend al by sy lessenaar as ek daar aankom. Ons praat min; soms oor musiek. Hy’s into Scandinavian metal; of games, hy het altyd die inside scoop op die nuutste games. Sy meisie skryf reviews vir Vice Canada se gaming section. Hy’t lang blond-oranje hare, gewoonlik in ’n ponytail. Sy vel lyk altyd ongesond en gross. Nie dat ek kan praat nie.

Ek sal eerste ding my laptop en my PC aanskakel, deur my mails sif. Seker vinnig deur die internet scroll vir tech nuus en music updates. Daar’s nie rêrig enigiets wat oornag gebeur nie, maar ek hou daarvan om my dag informed te begin. Neels kom gewoonlik so halfnege groet vir updates op jobs. En daarna hou dit nie op nie. Ons was saam op skool in Oudtshoorn; hy was ’n jaar na my. Sy pa is die groot prokureur op die dorp; sy ma het altyd melkterte vir die kerkbasaar gebak, doen seker nog steeds.

Hulle het gesê coding is die taal waarin die toekoms geskryf is. Die internet gaan die toekoms skryf. Kom aan boord en skryf saam, of bly agter. Dit was die talk in Londen, al waaroor enigiemand in die kollege gepraat het. IT entrepreneurs opgenoem wat coders was voordat hulle die jackpot geslaan het. Wasay Jackson: FingerPrint. Tobias Collingwood: Look, World. Silicon Valley super stars, living the online dream.

Leila sal so negeuur se kant insluip, gewoonlik met ’n koppie koffie en rooi oë agter ’n sonbril. Leila, ek noem haar die pop-punk prinses. Sy’s ’n coder slash copywriter slash blogger slash skrywer. Sy het al vir elke reality TV show in Suid-Afrika ingeskryf, maar nog nie vir een van hulle tot in die tweede rondte gekom nie. Sy bly in ’n woonstel in Dorpstraat. Sy luister Lana del Rey en Grimes en Soko. Ons gesels nie eintlik oor musiek nie, maar sy hou daarvan om my van haar musiek te vertel. Elke nuwe liedjie op Soundcloud. Enigiets te vertel, eintlik. Pokémon Go memes, Kim Kardashian tweets, Ted Talks oor THC oil en “what it means to be a Good Feminist”. Sy’s besig om ’n boek te skryf, het sy laasweek aangekondig, oor ’n meisie met groen hare en haar asexual boyfriend (albei is engele), wat iewers in die toekoms internetbegraafplase gaan opsoek om onderhoude te voer met die geeste van dooie online profiles of iets. Channel 6, is haar voorlopige titel.

Sy behoort môreoggend pienk hare te hê. Maar mens weet nooit. Leila het die afgelope twee maande al rooi, pers en blonde hare gehad. Sy gaan nie ophou praat nie. Sy’s ’n internet generation ADD-kind. Dis hoekom ek voor nege-uur my headphones moet ophê. Ek het laasweek die befokste Bose headphones op takealot gekoop. Op special. Ek gaan op die oomblik weer deur ’n massive post-rock fase, en wat is dan nou beter as post-rock met befokte headphones? Godspeed en Swans se ou albums. En ’n paar nuwe gunstelinge: In Silence We Yearn, The Bones of a Dying World, Departure Songs. Kitare wat huil. Dromme wat reën. Fok, ja. Explosions in the Sky en Sigur Rós op kalmer dae. Wat omtrent nooit is nie. Die werk hou nie op nie.

Leila het nou die dag gesê dat, like, ons hou onsself heeldag besig op die internet, maar voordat ons die internet gepopulate het was dit net hierdie onsigbare leë saal, right. En ons het besluit waarmee ons dit vol maak, wat ons teen die mure opplak. En vandag is die grootste deel van die internet spam en porn. So al wat ons eintlik gedoen het, en ons kon enigiets kies, is om gullible oumense se geld te steel terwyl ons oor Russiese teenage meisies masturbate. Laat jou dink nè, het sy na my kant toe gesê. Leila sê min iets betekenisvol, maar soms trap sy op iets wat jou laat regop sit. Dit het my nogal laat dink, oor my werk en kak. Oor alles, eintlik. Ek skryf in ’n manier ’n deel van die internet, so ek moet seker daaroor dink. Maar die internet is ook maar net ’n reflection van die wêreld daar buite. Hier buite. Fok. Maar maak dit ’n verskil of jy binne of buite is, of is dit twee halwe lewens? Wie weet? Ek sal maar gaan dink en hoor wat Leila te sê het. Sy sal definitief ’n opinie hê.

Sy gaan ook die hele dag lank nie ophou eet nie. Sy’s konstant verveeld en sy's verslaaf aan suiker. Die tannies by die kafeteria weet al presies wat op haar lysie is. Sy sal van so tienuur af vir die res van die dag ’n hoofpyn hê. Sy sal môre dalk haar bril dra, dit hang af hoe rooi haar oë is. As Leila haar swart dikraambril dra laat sy my dink aan Marelée. Wat altyd agter haar laptop gesit en werk het. Soms opgekyk het.

Marelée het twee jaar gelede Amsterdam toe getrek. ’n Operageselskap daar gaan manage. Ek was te bang om haar te volg. Daar’s oorgenoeg startups en social media companies, en hulle betaal in Euro, ’n coder sal vir die volgende tien jaar nog in demand wees; my twee jaar in Londen was net so ’n donker tyd, ek kon net nie weer daai leap maak nie. Nou is ek 34 en ek verdien R18 000 ’n maand voor tax. Ek bly alleen in ’n weggesteekte kompleks en ek sien my vriende vir twee biere oor ’n Stormers-game in Gino’s of Trumpet Tree.

Sy het altyd gesê ek het nie die guts om my gat te lig en iets te doen nie. As ek hierdie ding doen sal sy ’n ander tune sing. 

Deur die dag sal ek vir so vyf of ses smoke breaks gaan. Dis al wat my deur ’n twaalf uur werksdag kry. Lucky Strikes, as iemand vra, al vandat ek sewentien is. Conraad in accounting is gewoonlik game. Ons staan op die boonste stoepie wat oor Helderberg uitkyk en chat oor series en rugby. Soms oor aandele. Hy bly in Welgevonden saam met sy meisie. Hy het op ’n plaas buite Robertson grootgeword en Rek op Stellenbosch geswot. Sy meisie werk vir ’n ad agency in Stellenbosch en hulle beplan om volgende jaar Afrikana toe te gaan.

Ek sal deur die loop van die dag ten minste drie oproepe van 011-666-nommers kry. Iewers is my selfoonnommer op ’n baie lang spamlys. Lewensversekering, meneer Mulder. Dis nie ek nie, my van is nie Mulder nie. Ek ken nie die persoon nie. Jy weet nooit wat kan gebeur nie. Nog ’n kredietkaart? Tracker system. Drie selfone op een kontrak. Jy kan nou aansluit by The Future is Female! Maar ek is nie … Hospitaaldekking. ’n Kaart waar jy punte kry as jy inkopies doen of petrol ingooi. Was u gelukkig met die diens by u banktak tydens u laaste besoek? Goedkoper motorversekering. Kan ons staatmaak op jou stem in die komende verkiesing, Meneer van Heerden? Soms ’n robotstem wat praat.

Daar is dae wat ek wens ek doen iets anders, maar hierdie call centre mense, ek kry hulle rêrig jammer, die Here weet. Hulle gee my dieselfde gevoel as bedelaars. Maar hulle bedel namens iemand anders. Advertensies wat nooit ophou nie, wat jou bel. Ek het al gevra dat hulle my van hulle databasis delete, maar dis blykbaar onmoontlik.

Leila het nou die dag gesê sy het op LivesOn geregistreer. Hulle hou jou Twitter profile lewendig nadat jy dood is. Maar fok. Wie sal ooit my dooie tweets wil lees? My enigste Likes kom al klaar net van sex bots.

Dalk moet ek ook ’n boek skryf, soos Leila. Channel 7, oor ’n hacker wat verlief raak op ’n meisie by ’n gaming company, wie se online profile hy hack. Peroldt kan my dalk ophook met iemand. Hy skryf mos onderhoude vir Die Burger.

Ek en hy moet weer in daai garage in Obz gaan jam. Jirr. Ons het laas net-net geraak aan speed metal, ek sweer, daar was vir drie weke lank nog eelte op my hande. Aan die einde van die session was ek helemal natgesweet en kláár, maar ek het nog nie weer so lewendig gevoel soos in daai moment nie – dís al wat ek weet.

Die mense het altyd gesê skryf is in my bloed, maar ek weet nie, ek was nooit goed met tale op skool nie; die beste wat ek kan doen is code skryf. Wiskunde en Rekenaarstudie was my enigste goeie vakke op skool.

Lewe as ’n hacker is seker meer fun, meer geek rock ’n roll; so wat, stoner-punk? Of ek kan op die DeepWeb gaan werk. Dis waar die regte geld is, al betaal hulle in Bitcoins.

Ek sal tussen aguur en halfnege by die werk oppak; Marius sal nog by sy lessenaar sit. Ek weet nie of hy ooit huis toe gaan nie. Dalk het hy ’n kamer iewers in Tegnopark, wie weet. Ek sal iets kry om te eet by die 24 Hour Woolworths by die Engen-garage. Die Woolworths het gewoonlik lekker ready-made meals. By die woonstel sal ek vir my ’n episode Game of Thrones of Walking Dead opsit. Terwyl ek eet en kyk sal ek deur my Twitter feed gaan: Generations of Metal, Hellth, NANOX, Terrorizer Magazine, Iron Fist, Decibel, Metal Hammer.

Dalk doen ek pushups. Ek sê dit nou al vir vier maande. So don't count on it. Daar’s nie rêrig tyd vir oefen nie. Ek sal probeer om voor twaalfuur in die bed te wees. Ek hou daarvan om elke aand ’n halfuur of so te lees. Enigiets fantasy is cool, van Wheel of Time tot Neil Gaiman of Robin Hobb. Ek lees op die oomblik een van die boeke wat my pa vir my gegee het. Ek het nog nooit rêrig gehou van die boeke wat hy vir my gee nie, dit voel als soos self-righteous hippy bullshit. Of hipster bullshit, ek weet nie meer nie. Maar die een waarmee ek op die oomblik besig is ... ek dink ek begin bietjie vang wat die boek probeer sê. Seker die solitude of iets.

Maar wie weet? Wie weet? Dalk is môre die dag wat ek daai virus wat Peroldt vir my gegee het op ons system laai, “3RR0r$”. Dit sal wees asof ek ons kantoorgebou afbrand, behalwe ek het die sleutels vir die firewall. Dit sal voel asof ek in ’n droom is, waar goed om my gebeur en ek weet wat gebeur, maar waar ek niks wat gebeur kan beheer nie. Dit gebeur net. Ek sal voor my rekenaar sit en smile, terwyl ’n onsigbare vuur al hierdie useless data vreet en vreet en wegvreet.

The post 30 Junie 2016 appeared first on LitNet.

Die vrou met die piering

$
0
0

Ek hou my piering in my linkerhand en my teekoppie in my regterhand; presies soos Ma my geleer het. Al is ek in die Wimpy.

My vyftigjarige hande is skurf. My naels is kort en gesplinter. Sunlight liquid en Handy Andy is nie jou maters nie. Ek moes liewers my naels as my hare laat doen het vir tant Sus se begrafnis.

Dit moet ’n bom wees, dink ek as ek die geluid hoor, maar ek het nog nooit ’n bom gehoor nie. Ek sien die dak val. Ek dink dit val vinniger in as wat dit vir my lyk. Daar is baie stof.

Dis asof ek ’n fliek kyk. Ek bly net so sit totdat iemand my aan die elmboog beetkry en skree: “Hardloop!”

Ek word saamgesleep. Daar is baie geraas. Iemand skree. Dalk skree almal. Dis net in my kop wat dit stil is. So stil soos die nag met Pa en die geweer. Ek weet ek moes dit gehoor het. Ek het dit dan sien gebeur. Maar dit was doodstil. Daarna ook. Niemand het ooit oor daardie nag gepraat nie. Die begrafnis was ’n feestelike affêre. Soveel skaapboude. En al die blomme. Ons was mos nie ryk mense nie. Ek het gevra. Ma het gesê: “Die Voorsienigheid sorg vir alles.”

Dit kan tog nie wees nie. Is die Voorsienigheid dan simpel om van Pa ontslae te raak? het ek gewonder.

Ek voel benoud. Daar is nie uitkomkans nie. Daar is te veel mense. En hulle skree. En skree. Almal beur tegelyk vorentoe. Soos Pa se Afrikaners in die drukgang. Soos toe ek swanger raak en Ma ewe saaklik sê: “Dan het ons ’n troue om te reël.”

Toe reël ons ’n troue. Nie heeltemal so spoggerig soos Pa se begrafnis nie. Maar daar was ook skaapboude. En dit was ewe jolig. Daar was glad ’n orkes en als. Ek het ’n wit rok gedra met ’n sluier en ’n sleep en Ma het gesê: “Mens stal nie jou vuil skottelgoed uit vir inspeksie nie.”

Die joligheid het nie lank gehou nie.

Buite is dit skielik baie helder.

Ek kyk op my horlosie. Gelukkig het ek vroeg in die pad geval. Daar is nog genoeg tyd. Ek kan nog betyds wees.

Dis so vrek ver om te ry vir ’n begrafnis. Van Polokwane af tot in Potchefstroom. Maar dis die laaste van die tantes. Ma sou wou hê ek moet gaan.

Ek sien ’n stofstreep op my dienlike swart langbroek en my gesondheidskoene is glad vaal van die stof. Selfs my mooie nuwe wit hempie is nie ongedeerd nie.

’n Paar mans dra ’n vrou uit en lê haar op die gras neer. Haar langbroek is nat. Siestog.

Sien, dis vir tye soos die dat mens altyd ’n verskoninkie onderklere in jou handsak saamdra. Soos Ma my geleer het.

My handsak. Ag, my genade, my handsak is nog daarbinne. En my kar se sleutels.

Alewige agterlosige ek. Soos die dag toe ek die eiers gaan uithaal het en die hoenderhok half oop gelos het. Hond het baie pret gehad. Maar dit was die einde van die hoenders. En van die hond. Ma het hom aan die boom vasgemaak. Ek moes hom skiet. Met Pa se geweer. Ma was slim met straf uitdeel. Ek het dit nooit weer vergeet nie.

Nie dat ek ophou foute maak het nie. Dit was net die onthou wat gebly het.

Dis makliker om in te kom as wat dit was om uit te gaan. Ek wil giggel. Onthou hoe maklik dit was om die hand vol pille te sluk. Maar om hulle uit my maag te kry was ’n aaklige spul.

Die pyp wat hulle in my keel afgedruk het het my so naar gemaak. Die dokter was woedend.

“Wat de hel het jou besiel? Jy het alles loop staan en verongeluk.”

Sy hande was so hard soos sy oë en die trek om sy mond. Nie so sag en toeganklik soos hulle in die maanlig in sy motor by die buurdorp se dam was nie.

Binne is dit nou stil. Maar vuil. Pype drup water op die stowwerigheid.

Op die tafel lê my sleutels en handsak langs die onderstebo koppie. Ek glip my handsak oor my arm en tel dan my sleutels op.

Vir ’n oomblik staan ek die chaos en bekyk. Wie gaan die gemors opruim? Ek haat opruim. Die dat ek die skottelgoed daai keer so netjies onder die omgekeerde piering opgestapel het.

Dit was die dag na my egskeiding toe Ma dit op haar geneem het om die wildvreemde dominee te bring om my te beraad. Nie dat Ma iewers ’n dominee sou kry wat vir my bekend was nie.

Gelukkig het ek die vuil skottelgoed mooi netjies gepak, dag ek ewe toe ek en Ma die kombuis inloop met haar melktert, vleispasteie en parlementskoek.

“Ag Anna,” het Ma gesug, “Mens kan tog mos nie ’n week se vuil skottelgoed onder ’n piering wegsteek nie.”

Hoe is dit dat Ma altyd ander se foute so duidelik kon sien?

Ek stap byna tydsaam uit.  Mense kyk my vraend aan. Wel, het hulle gedink ek moet my handsak en sleutels daar binne los?

Ek sien iemand het ’n kombers oor die vrou op die gras se gesig getrek. ’n Verskoning onderklere vir haar is nou omsons. Maar daar is ’n begrafnis om te reël.

Wie sal tog opdaag as ek begrawe moet word? My Anchen-kind. Ek is seker sy sal kom al moet sy sewentien uur op die vliegtuig sit om van daar onder af te kom. En dit sal ook genoeg wees.

Die gemeentesusters sal darem ook opdaag. Ja, na Ma se berading het ek maar ’n kerk loop soek en gesorg dat my skottelgoed skoon bly.

Die kassiere by Pick n Pay sal dalk na my begrafnis kom. En die karwag met die eentand-glimlag. Nie die ander karwagte nie. Net sy. Maar wie sal hulle laat weet? Ek beter ’n briefie op die yskas sit as ek by die huis kom sodat Anchen sal weet om hulle te nooi.

Ek moet op daai briefie ook sit daar moet nie skaapboude op my begrafnis wees nie. Liewer net toebrode. En dalk frikkadelle. Ma het frikkadelle gehaat. Gesê dis arm-mense-kos. Ek het nie verstaan nie. Ek dag ons was arm mense.

Ek draai om. Kry my ietwat afgeleefde Honda in die oog. Ek is moeg. My arm pyn. Watter arm pyn as mens ’n hartaanval kry? Ek wil nie die vrou onder die kombers wees nie.

Ek sukkel om my kar se deur oop te kry. Plaas het ek al vir my een van daai nuwe motors gekoop wat so met die wys van die sleutel en ’n mooi geluidjie oopsluit.

My handsak hou aan om teen my arm af te glip. Ek kan nie mooi sien om die sleutel in die gat te kry nie.

Is soos die dag toe ek al Ma se Queen Anne-koppies op een slag kombuis toe wou dra. Ek wou uit. Dit het gereën. Die gronddam sou vol wees.

Toe laat val ek die Queen Anne-koppies wat Ma van haar ma geërf het en net uitgehaal het vir belangrike gaste.

“Ag Anna, dis oor jou kop altyd op ’n ander plek is,” het Ma voor die gaste gesê, maar ek het gehoor wat haar oë sê.  Ek het daai dag die gronddam en die mooie water gemis, maar elke haal oor my skouers en rug getel.

’n Man staan nader. Hy bied nie aan om te help nie. Hy vra: “Dame, hoekom hou jy die hele tyd die piering bo jou kop?”

Ek giggel. Steek ietwat skaam die Wimpy-piering langs die onderkleertjies in my handsak. Ek gebruik nie my sakdoekie soos Ma my geleer het nie. Sommer met my hand vee ek my neus en wange af.

Ek gee ietwat te vinnig vet. My verbleikte motor skop baldadig klippies op.

Dalk was Ma darem oor een ding reg. Alles is Voorsienigheid. Tant Sus se begrafnis en die Wimpy se dak en die piering. Sou mens selfs ’n mens se eie stommiteite op Voorsienigheid se boek kan skryf?

By die eerste rooi lig voel ek hoe my voet op die rem bewe. Ek vis my beursie en ID-boek uit my handsak uit. Skuif hulle half onder my sitplek in. Toe draai ek die venster af en prop die baie dienlike handsak met sy twyfelagtige inhoud in ’n verbaasde straatverkoper se hande voordat ek ’n tweede keer vandag te vinnig vet gee.

Nou moet ek my oë oophou dat ek nie die verkeerde pad vat nie. Ek gaan nie begrafnis toe nie. Nie vandag nie. Tant Sus sal my nie mis nie. En Ma? Ma is al anderkant die spieël en die raaisel. Sy het nie meer ’n sê dié kant nie.

As ek roer kan ek nog vanaand by die see slaap. Ek het ’n ganse lewe om in te haal. Sonder Ma.

The post Die vrou met die piering appeared first on LitNet.

Bloedgrond

$
0
0

Sy kyk na bo asof die hemel met haar praat, dan hoor sy ’n vreemde, gedempte dreunsang, byna soos die bitter inkantasie van roubeklaers. Of is dit die geprewel van die populierbos in die wind? Ja, die bome beaam dit: beloftes en gerugte van reën, ’n smeekgebed om verlossing van die vuur van die son en van die verraad van lugspieëlinge.

Santa gaan sit op haar hurke en bekyk die landskap om haar. ’n Opgekrulde duisendpoot, boomwortels wat hulself uit die aarde wring, verwelkte kakiebos en boombas, opeengehoop in ’n droë watervoor. Bleeksiek veld. Aswit middag. Vinke in die palmiete. Rooiborsies wat onderstebo teen die swaartekrag beur. Die aarde het opgehou om te lag, dink sy. Net soos sy, het die landskap willoos en droefgeestig geraak.

Santa kom orent en stap terug na die plaasopstal. Die rooi gepoleerde voorstoep is koel onder haar kaal voete. Geraamde wit-en-swart foto’s van bemindes, aangetroudes, lank vergete stroefgesigte en afgestorwenes hang teen die gangmuur. Museum van herinneringe, katakombe van verloopte drome, onbewoonde kamers wat opgehou asem haal het. Santa trek die laai van die buffet oop. ’n Kaart en transport van die plaas, ’n opgefrommelde nuusbrief van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie, haar pa se knipmes, ’n geboortesertifikaat. Santa Vorster, gebore op 11 Oktober 1975. Eniggeborene, vasgeënt teen die donkerland van soveel voorgeslagte. Ingedagte frommel Santa die geboortesertifikaat op, sit dit terug in die buffetlaai en loop met geboë skouers na die kombuis.

Vasgevang in die impasse van hier, van nou. Meegesleur deur die sieldodende roetine van die dag. Vanoggend opgestaan in die reeds versengende hitte om kospakkies vir die plaasarbeiders voor te berei: koffie met kondensmelk, kaas-en-stroop-toebroodjies, verkoelde energiedrankies vir later. Kos en water vir die honde. Hawermeel, lymerig gekook vir haarself en die huishulp. Alles op dieselfde tyd, dieselfde uur. Die maandelikse uittog na die koöperasie om rekeninge te betaal en voorraad aan te koop. Entstof, diesel, paraffien, waterstewels, speensalf vir die koeie, hoendervoer vir moeder se lêhennetjies.

Ai, die hennetjies was haar trots. Die gladde loop van geel uit die eierdop, die wit wolke van geklopte eierwitte. Daagliks sit sy hier by die kombuistafel totdat laatmiddagson sagte strepe op die plankvloer uitrol en die kantgordyne uitbol teen die aandwind. Hand onder die ken luister sy na haar ouers se geredekawel, die ondeunde gefluister van neefs en niggies wat iemand ’n poets wil bak, na meneer Oberholzer se resonante stem as hy gedigte vir die matriekklas voorlees uit Belydenis in die skemering. Maaltyd vir ’n enkeling: rogbrood, lewersmeer, ’n glas semi-soet witwyn. Dan, die gewyde ritueel van skottelgoedwas, laataandnuus op RSG, die trae deurtog na haar slaapkamer asof sy in haar slaap wandel.

Sedert die moord op haar ouers twee jaar gelede, het sy haarself probeer losmaak van die familieplaas, wou sy haarself ontwortel van hierdie nalatenskap. Grond, godverdomde grond! Tog, in haar besluiteloosheid en byna kinderlike vrees vir die vreemde ruimtes daarbuite het sy aangebly en vasgevang geraak in ’n tydlose leegte van vergetelheid. Die illusie van gister en nou, die illusie van realiteit: die grond in hierdie land het nog nooit aan haar of haar voorgeslagte behoort nie.

Kort voor daardie aand het haar ma dikwels oor afskeid en verlies gepraat. “Maar, my kind, as ’n mens die dag sterf, dan glip jou geboortegrond onder jou uit nes die skadukant van die maan.” En dan beduie sy met haar waterige oë na die familiebegraafplaas skuins agter die bloekomplantasie.

“Erfgrond is bloedgrond,” het haar pa een aand stug verklaar na ’n derde sopie brandewyn. “Grond is bloed. Bloed is grond. God behoed die siel wat dit minag.”

Die swartryp van die nanag het reeds dik op die grasveld gelê toe die aanvallers toeslaan. Eers het hulle haar ma oorval. Daar was vyf of ses van hulle. Al om die beurt het hulle by die ou vrou se lyf ingegaan. Vasgevang tussen wurggrepe en brandende poele van wellus en haat, het haar lyf skielik stil geword. Haar pa was reeds dood.

Daardie aand het Santa gaan wegkruip in die geelhout-linnekas. God reken my dit nie toe nie, ek kan nie vir Mammie of Pappie help nie. Opgebondel tussen haar ma se handgeborduurde lakens en kersiepitwerk het sy geluister na haar pa se geroggel, haar ma se geroep om hulp, dreigende voetstappe op die plankvloer, die oop-en-toegaan van die sifdeur in die kombuis. ’n Warm geel straal het langs haar lieste afgestroom. Die reuk van urine, kamferolie en naftalien was oorweldigend. “Pê, wê, Santa pisgat! Santa papbroek!” het die kinders haar een oggend op skool geterg. Juffrou het glo geweier dat sy moes kamerverlaat. Daar was ’n groot plas onder haar stoel. Wat kon sy doen? Kaalvoet- meisiekind jy moet huis toe gaan, het sy haarself gepaai. Terug na die vuur van Mammie se Aga-koolstoof om jou bang handjies te troos. Terug na die spens om te kap, te kerf, te stop. Hier om te bly. Santa, ná veertig jaar, Ma se deugsame oujongnooi. “Kom nou kind, droog jou trane af, dan bak ons Pa se gunsteling dadelbrood.”

Na die begrafnis het dominee sy hand op Santa se skouer laat rus. Sy het anderpad gekyk. Sy wou nie nuuskierige weldoeners op die plaas hê nie. Geen simpatie-kaartjies nie, geen blomruikers nie, geen baksels van medelye nie. Niks nie. Net haarself oorgee aan die eggo van haar eie asemhaling en verslaentheid. Soos vanaand. Hier waar sy in die slaapkamer sit, ontwyk sy haar eie blik in die spieël, die terugkyk van klaargeleefde oë. Sy luister na die gefladder van ’n mot, die nimmereindigende gespartel van vlerke. Die pynlike gevroetel van pote en voelers. In sy klein nuttelose sirkelgang, al om die bedlamp – ’n solovlug na die dood.

Die verpletterende stilte, die swygsaamheid van die landskap, die troostelose geteem van ’n waterkiewiet. “Kom nou, kind,” hoor sy haar ma sê, “drink jou doepa teen al die duiwelsdrome. Lorasepam 2mg, sluk stadig. Lê jou kop op die kussing neer. Slaap sag, my verdwaalde lam, dit word laat.”

Santa klim in die bed en draai haar gesig na die muur, ’n tydelike verskansing tussen haar en die buitewêreld. Sy onthou die biddag vir reën op die dorp, die veraf gerammel van donderweer asof die wederkoms aangebreek het. Vervlietende momente uit ’n verre verlede. Die gepeuter met herinneringe en fantome van gister totdat liggaam en siel verlam word deur ’n diep slaap en die onderbewussyn ’n stortvloed nagmerries ontsluit.

By die voetenent van die bed sien Santa die silhoeët van ’n onbekende, die ritmiese kaatsing van sy grimas in die kwiksilwer en lasuurblou vuur van weerlig. Brandende vonke uit ’n geweerloop. Of het sy dit gedroom? Duiselend lig sy haar kop op. Sy voel hoe ’n bloedkol opdam teen haar nagjurk. Vreemde hande om haar nek, warm hande wat langs haar dye ingly. Sy sluit haar oë. Dis goed so, fluister sy. Dit het God behaag om haar te verlos van dié bloedgrond. Buitekant blaas die eerste reëndruppels ’n sagte asem uit oor die verlate plaaswerf.

The post Bloedgrond appeared first on LitNet.


Affodille in die winter

$
0
0

Hoe kan haar hart nog klop wanneer dit voel of dit heeltemal uitgeruk is, wonder Marlene toe sy op die sementbankie neersak, haar handsak styf geklem op haar skoot, ’n eenvoudige horlosie en troupand in haar hande.

Die karige hospitaaltuin het orals van dié sementbankies, almal nou leeg, want die koue laat selfs die mees geharde rokers twee keer dink. Netnou wanneer dit warmer word, sal hulle dit so stuk-stuk na buite waag na die groot sandsementbakke wat in die vierkant geplaas is. Dié wat van vroeg af son kry, het die meeste sigaretstompies in. Die arme mense is ook verban soos die melaatses van destyds.

Sy voel soos ’n melaatse, ’n uitgeworpene.

Die vroeë wintersoggend byt aan hande en gesig. Sy vee haar hare agter haar ore in. Hulle is ten minste kouer as haar hande. Dit voel of haar hande nooit weer gaan ontdooi nie.

Die bankie is yskoud en effens klam, maar dit is net nog een van daardie veraf gewaarwordinge. Die skerp rand van die sementtafel wat teen haar rug druk, voel sy skaars.

Dit is finaal. Hy is regtig weg. Die suster het gedink dit gaan troos gee as sy weet dat elke bruikbare orgaan ’n nuwe huis gevind het. Hulle het hom soos ’n ou geroeste kar uitmekaar gehaal en die onderdele vir ander, wat dit dalk nog kan gebruik, gestuur.

Sy druk met haar hand teen haar bors waar sy haar hart voel klop. Al wat sy voel is leegheid. Sy is opgehuil. Opgebaklei. Opgealles.

Marlene kyk na Altus se horlosie en trouring wat sy vasklou. Sy het dit verlede Woensdag net daar op die bedkassie gelos. Of was dit voorverlede Woensdag? Haar brein voel suf. Sy het die papiere geteken en soos ’n lafaard die hasepad gekies. Sy wou nie by wees wanneer hy sy laaste asem uitblaas nie.

Sy het hom dalk skaars ’n week terug begrawe, wat oor was van hom in elk geval, maar in haar hart het sy hom al ’n maand terug begrawe. Dit was toe haar laaste hoop deur die dokter se woorde vertrap is.

"Jammer, Mevrou. Daar is niks meer wat ons kan doen behalwe om hom gemaklik te hou nie." Dit was min of meer die party line.

Dis so maklik om te sê: skakel af die masjiene. Maar niemand het haar gewaarsku teen die hel wat dit op haar gewete sou hê nie. Sy, wat nie eers spinnekoppe doodslaan nie, het haar man vermoor.

Die begrafnis het gevoel of sy deur al nege van Dante se sirkels van hel geloop het. Sy moes glimlag, maar nie te breed nie. Nie te opsigtelik huil nie, want sy het mos die masjiene laat afsit. Sy moes haar kop knik en dankies prewel asof sy dit opreg bedoel. Dan was daar die trooswoorde en drukkies. Die bejammerende kyke en die agteraf fluisteringe waarvoor sy haar doof gehou het. Alles wou haar laat gil totdat sy nie meer asem oor het om te gil nie.

En nou sit sy hier.

Dalk het daar tog goed uit sy dood gekom. Iewers daar buite is dele van hom nog lewend. Die laaste gedagte kikker haar effens op.

Die horlosie met sy deurleefde leerbandjies het ook ’n stryd verloor. Sy sal ’n nuwe battery moet insit. Dis al wat sy van hom oor het en al wat sy wou hê. Die res het aan liefdadigheid gegaan.

Die wind dra die ou rook saam met die soet blommegeur by haar aan.

Sy kyk na die helder affodille en ranonkels wat vrolik in die winterson wieg, die sluimerende grysbruin gras. Oor ’n paar maande is dit weer groen en vol lewe. Sal sy ooit uit hierdie winter van haar lewe kom?

Rooi en geel was Altus se gunstelingkleure. ’n Vrolike geel vir die kombuis het hy gesê toe hulle, pasgetroud, besig was om te stry oor hoe hulle hulle huis gaan tooi. Altus het geglo kos en eet is vir vrolik wees. Hy wou die leefkamer rooi hê, want dis ’n warm uitnodiging vir almal om daar te kuier. En hulle huis was altyd vol lewe met almal wat daar gekuier het.

Sy skuif die ring oor haar duim. Dit sit effens los. Fyn skaafmerkies versier die eenvoudige band. Sy draai dit in die rondte. Altus het nooit sy ring afgehaal sedert hulle troudag nie. Die herinnering laat haar effens glimlag. Hulle troudag ... Sy het amper oor haar voete geval op pad kansel toe, want sy was laat. Nie “fashionably late” soos die meeste bruide nie. O, nee. Hulle het ’n pap band gekry op pad kerk toe en soos die duiwel dit wou hê, het alles verkeerd geloop. Verkeerde grootte spaarband en die domkrag was nie daar nie. Sy het duimgegooi uit desperaatheid en ’n jolige klomp studente het haar opgelaai. Sy was ’n volle uur laat, maar sy was verniet bekommerd. Hy het voor in die kerk vir haar gewag met die breedste glimlag en hy het haar in die gangetjie kom haal onder die luide toejuiging van haar nuwe vriende wat summier genooi was vir die geleentheid.

Sy skrik en laat val haar handsak toe sy die plastiekfluit van Pep-slippers op die sement hoor. Met ’n sug sak sy af op haar knieë. Die nat syfer deur tot op haar knieë. Sy skraap die inhoud van haar handsak nader en loer onderlangs na hom.

Hy loop moeilik. Stadig. Soos een wat van voor af moet leer loop. Hy het ’n donkerblou kamerjas aan en in sy een hand klem hy ’n drupstaander vas. Sy het aanvanklik gedink hy is oud, maar soos hy nader kom, skat sy hy is nader aan haar ouderdom. Vroeë veertigs. Dis sy gesig wat haar aandag hou. Sy kan nie anders as om te staar nie. Karaktervol. Deurleefd. En effens bleek onder die sonbruin vel. Iemand wat daarvan hou om te leef.

Hy skuifel in haar rigting. Dalk moes sy nie so na hom gekyk het nie. Sy kyk af na die verfrommelde sneesdoekies, opgevoude papiere, penne, kleingeld, lipglans, lipstiffie en net gewone Lip Ice. Spur-sweeties wat sy gewoonlik net ingooi na sy die rekening gekry het. Sy sal regtig hierdie spul goed moet uitsorteer wanneer sy netnou by die huis kom.

’n Entjie verder lê die bruin-en-goud papieromhulsel van ’n halwe pakkie Rolo-lekkers.

Hy tel dit kreunend op. Skuifel tot teen die bankie. Marlene staan op. Die nat kolle donker teen haar knieë. Sy hou haar handsak teen haar lyf asof haar kan verweer daarmee.

"Mag ek maar?" Sy stem verras haar en Marlene knik haar kop en sak stadig neer op die sementbankie. Sy tol die ring verder om haar duim. Hy skuif hom reg op die koue sementbankie.

"Die mure van daardie hospitaalkamer druk my nou al te lank vas." Hy het een van daardie strelende radiostemme. Hy gee die pakkie lekkergoed terug vir haar. Dit was Altus se gunsteling. Sy het altyd gesorg dat sy ’n pakkie in haar handsak het.

"Hoe lank is jy al hier?" vra Marlene. (“Waarvóór?” wil sy éintlik vra, maar doen dit nie.)

"Ruan." Hy steek sy hand uit na haar. Sy hand vou warm en vertroostend oor hare. Sy sê haar naam outomaties en kan nie anders as om wrokkig te voel teenoor hierdie vreemdeling met die mooi stem nie.

Hoekom kon dit nie Altus se warm hand, vol lewe, gewees het wat sy nou gevoel het nie?

"Ek is nou drie weke hier, maar oor ’n week kan ek huis toe gaan." Dit vat ’n oomblik vir die woorde om by haar te registreer.

"Ek is bly om dit te hoor," sê Marlene outomaties. Haar oë gly af na sy hande, waar sy nie ’n trouring kan sien nie. Sy kry onmiddellik skaam daaroor. Altus is nog skaars koud en sy soek al ’n plaasvervanger.

"Was julle lank getroud?" Hy beduie na die ring en horlosie in haar hande.

"Vyftien jaar." Vyftien van die beste jare van haar lewe.

"Hoe ...?"

Sy gee hom nie kans om die sin te voltooi nie. Sy't die vraag soveel keer beantwoord dat dit vanself kom.

"Motorongeluk. Hy het hoofbeserings opgedoen en was breindood verklaar."

"Ek wou eintlik vra hoe ’n tipe mens was hy."

Marlene bly stil en oordink die vraag. Probeer om haar gedagtes te orden. Niemand het haar dít ooit gevra nie. Om oor Altus te praat nie. Elkeen is te besig met hulle eie proses van rou en om oor hom te praat is soos om daardie sere rouer te krap as wat hulle wil. Hulle wil die roof laat gesond word. Vergeet van hoe sy hom te gou van hulle weggeneem het.

Die woorde het eers stadig en versigtig gekom. Hoe meer sy gepraat het, hoe makliker het dit geword. Dit was naderhand ’n stortvloed. Hy laat haar begaan. Sy het gepraat soos sy nog nooit tevore oor Altus gepraat het nie. Die eerste dae toe hulle die verliefste paartjie in die heelal was. Die spreekwoordelike sewe sakke sout wat hulle saam opgeëet het. Die besluit om nie jonk kinders te hê nie, en later het dit net nooit gebeur nie, maar ook hoe hulle nie weer daaroor gepraat het nie. Die dingetjies wat haar grensloos geïrriteer het en die klein dingetjies wat hy gedoen het wat haar laat straal het. Later die ongeluk. Hoe verpletter sy was na die dokters hom breindood verklaar het. Hoe sy die masjiene laat afskakel het.

Die gesprek het koers gekry, weg van Altus af. Ruan het vrae gevra en sy het net vertel.

Die oggendson het hulle naderhand reg van bo geteister. Marlene se gemoed was heelwat ligter en dit het gevoel of hulle al jare bevriend was. Ruan het opgestaan en na die hospitaaldeur beduie.

"Ek moet teruggaan. Middagete word bedien en wat sê dit van my as my mond water vir hulle kos?" Hy knipoog speels.

"Dankie vir die geselskap." Marlene staan op en bêre die ring en horlosie in haar handsak. Sy tel die pakkie Rolo op toe hy weer praat.

"Na my operasie het ek hierdie vreeslikste lus vir ’n Rolo." Hy skud sy kop en begin aanskuifel. Twee tree verder draai hy om.

"Ek het gewonder of ek jou kan uitneem vir ete?"

Marlene staar na die Rolo in haar hande. Hulle het lekker gesels, maar die idee dat sy iemand van voor af moet leer ken, voel soos om op ’n roller coaster te klim wat in ’n miswolk wegkruip.

"Nie dadelik nie. Ek moet nog gesond word en jy moet eers klaar rou. Maar oor ’n paar maande, as jy reg is daarvoor."

Sy weet die verligting staan seker in swart koki op haar gesig geskryf, maar sy knik instemmend.

"Dit sal lekker wees."

Hy begin weer aanskuifel na die deur toe. Marlene byt op haar lip. ’n Skuifeltreetjie op ’n slag?

"Ek sal môreaand kom inloer? So ’n bietjie geselskap as jy kans sien?" sê-vra sy.

Hy draai om. Glimlag breed.

"Ek is in Saal H, kamer 201. Kardiologiesaal."

 

The post Affodille in die winter appeared first on LitNet.

My Kroon

$
0
0

“Is jy seker jy sal alleen regkom by jou Tate, my kind?”

“Moenie worrie nie, Mame, die winkels wag nie.”

Hy kyk hulle agterna tot hy seker is Japie Toi se motor is op die teerpad en daar is nie meer omdraaikans nie. Hy het dié dag lank genoeg uitgestel; die afstand was sy verskoning vir sy afwesigheid. En dit terwyl hy gelate ingestem het om provinsies vol te loop smous.

Vandag is dit hy en sy pa. Sy Kroon, soos hy in die jare weg smalend aan hom gedink het. Tyd vir konsert, Tate, soos Mame en haar kerkkoor al die jare met Krismis gehou het – heel voor met haar gestyfde kraag.

Hy kry die Bybel voor sy ma se bed, verflenter soos hy dit onthou, engeltjie geplak oor die plek waar Mies Henta se naam eers was. 

“Here, ek is ’n kindjie klein, maak my rein.”

Die ou man lê in die agterste kamer. Dié steun toe hy hom toerol in die lappieskombers. Hy tel hom op en is verbaas oor hoe swaar sy pa is, al lyk hy so beenderig.

Op die stoep sit hy hom neer in die leunstoel wat terugkyk, skuur se kant toe. Sy pa se kop val half agteroor, asof hy na asem snak, en sy oë trek skrefies in die vreeslike lig wat hy nooit meer sien nie.

Hy self gaan sit op die kerkbankie oorkant hom, een van dié wat uitgedeel is met die afbreekslag van die ou wit kerk. Mame het mos daar ook uitgehelp.

Lank sit hulle so, hy en die invalide wie se oë wild in hulle kaste roer.

Hoeveel keer het hy nie hierdie toneel in sy kop laat kom nie: die dag van afrekening. Toe sy ma met Sofina saam van die beroerte laat weet het, het hy besef hy sou nie meer sy pa met geweld hoef sit te maak nie.

Hy begin blaai in die swart boek, sy vingers aan die soek na die eerste boek van Samuel.

“My Kroon,” sê hy eindelik, uit sy maag.

Die klank van die woorde wat soveel jare in hom gepiekel het, laat hom geskok stilbly. Maar dan kry hy sy keel skoon: “My Kroon, ken jy die speletjie wat ek, Naatjie, Sofina en Flora toentertyd gespeel het? ‘Koning, koning, ek wil op reis gaan.’

“Eers staan almal in ’n groot kring om die ene wat aan is. Hy moet die ander so lank moontlik van hom af weghou, dié wat sê: ‘Koning, koning, ek wil op reis gaan.’ Hulle kan op enige manier nader aan hom gaan: skuifel-skuifel, hande-viervoet hol, eenbeen spring. Hy tel en laat mens een, twee of drie treë op ’n slag naderkom voor hy skree: ‘Stop!’ Nes jy kon uitdink, kon jy vra om die koning by te kom. En of hy wil of nie, hy moet jou laat kom.

“Jy raak al hoe blyer soos jy naderkom om die koning te touch. Dis die een speletjie waar jy wil aan wees, want dan is jy die een wat die ander kan rond order, al bly jy ’n benoude baas met ’n hoed wat uit gebruikte foelie geprakseer is.

“Vandag, my Kroon, voel ek weer daardie bang blyheid om voor te wees.”

Hy kyk lank in die ou man se oë wat net nie tot rus kom nie. Hy wil hom bedink, dis nie soos die woorde moes uitgekom het nie. Hy wou eers gepraat het van ’n ander speel – van die siter.

“Dis die bose gees, my Kroon, dis wat jy sou gesê het as jy nog woorde gehad het. En dalk was dit. Eers net die wynbottel met sy uitgeklopte bodem onder die kraantjie by die boer, en later, toe die hongerloon ’n bietjie meer geword het, die vuurwater.

“Dan het jy my laat speel.”

Die bitterheid wil maak dat hy amper nie gepraat kry nie, maar dié woorde het hy oor jare op die ver paaie geoefen. 

“Met hierdie duim, met hierdie voorvinger, het ek gespeel totdat dit met jou beter geword het. Want ek was die ene wat guns in jou oë gevind het. Ek, jou Dawid, klein en rooierig.”

Sy pa se lippe trek van simpelheid oor sy tande, al in die een die hoek in.

“Die Here weet, die predikant se ‘vader van die huis’. Hoe Mame en die meisiekinders jou aanbid het.

“ ‘Ag Vossie, gaan haal jou Tate by die skuur my kind, dis al ampers donker en die diere kom al aan. Jy kyk altyd so mooi na hom.’ En ek soebat, ‘Ag, Mame, laat ’n slag vir Flora gaan.’ ”

Het sy ooit bekommerd gewees oor ’n klein kind wat skemeraand wegbly?

“Ek het nie geweet hoe dit met my is nie. Mame en die kasterolie. Dis hoe ek as Dawid gesalf gekom het. Ek was die een wat bloed geskyt het die longdrop in. Dit was my pismatras wat soggens son toe is en waaroor Mame bly skel het. Ek was die een wat my hand gewas en gewas het by die pomparm.”

Maar daar is ’n vuil wat die skuim van die varkseep wat vanaf die groot werf aangedra is, nie kon afwas nie.

Hy weet die woorde dreun harder in sy kop as wat hy dit sê. Maar teen dié tyd is sy mond droog en hy is bang die winkels sluit al.

“Nou gaan ons klaar speel, my Kroon,” probeer hy met nuwe drif.

In die toemaakdonkerte soos al daai jare.

“Ons gaan skuur toe. Dat ek jou lewe kan spaar. Jy sal moet hard praat en jammerte betoon, soos Saul.

“Ek, jou Dawid, gaan met ’n groot stem uitroep: ‘My heer die koning!’

“Ek sal met die punt van die kombers van die honderde stukke lap waarmee Mame ons mae vol gehou het terwyl jy dronkgat was, in my hand staan. Met hierdie lem sal ek dit afsny, en dit ophou na jou toe sodat jy om vergiffenis kan vra. Dis hoe dit sal wees, my Kroon. Jy moet weet wat die dink in jou kop doen as jou lyf vas is.”

Hy tel sy pa oor sy skouer en begin loop. Die flertsies materiaal sleep deur die sand: die wit van Klein Henta se trourok, die lapgoed vir Naatjie se aanneming voor sy met die lieplapper hier weg is. Die dorpsvrouens se bont, die cream van die doodsrokke, dit alles het eindelose ure later deur die trapmasjien klaargekom.

So ’n voorslag, het die mense gesê. ’n Man wat dag in en dag uit tussen die skaapdrolle sit en suip en kyk hoe staan sy reg by die kerk en vir haar kinders.

Die hele ent pad na die klipgebou meet hy sy treë, soos in ’n stoet. Hy sit die ou man in die deur van die skuur neer, half in die lig, half in die skadu, sodat dié se oë heel toe bly.

“Jou swaard,” sê hy as hy die sekel van die haak aflig en dit onder sy pa se arm insteek. Die lem steek wild by sy slap nek verby.

Dan haal hy weer sy knipmes uit sy bosak en slaan dit oop. In die diep donker van die skuur vee hy eers die sweet van sy gesig af.

Hy wag. Hy wag vir die vrees vir die vasdruk wat jou gorrelpyp toewurre. En hy wag vir die magteloosheid van woede om hom sterk te maak.

Hy vat die hef stywer vas.

Hy dink. Hy dink aan al die aande wat sy begerentheid vir sy vrou te gou bly stol het. En hy dink aan al die jobs wat hom bly ver vat het en ruik weer die bedompige brood wat in blink papier met liefde saamgegee is.

Hy luister. Hy spits sy ore om weer die geluide te hoor. Die gehyg. Die gestamp van die sorteertafel se pote. En eindelik die skaap wat al hoe nader blêr.

Maar al wat hy hoor, is die trae gekraak van die sinkdak. En die oumensklapgeluidjies van die hopie mens in die deur.

Hy trek sy skoene uit en loop op sy sokkies tot by sy pa. Met sy linkerhand gryp hy die punt van die kombers in sy vuis en kyk stip na die fyn stekies wat die lappies bymekaarhou. Hy kyk en kyk totdat die bontspul voor sy oë vervloei.

“Vossie, stop!”

Dis sy ma. Sy staan verskrik voor die opening, uitasem en rooi in die wange van die bak onder die voorruit van Japie Toi se kar.

“Wil jy jou hand teen jou Tate lig?” vra sy, en versit verdwaas ’n pakkie wat sy nog onder die arm klem.

“Nee, Mame,” sê hy. “Ons speel net. Ons speel hier in die skuur soos destyds.

“Maar miskien het ek en hy mekaar nou lank genoeg beroer. Miskien moet ek en jy liewers praat, Mame. Oor dit wat die Singer al die jare doodgetrap het.”

The post My Kroon appeared first on LitNet.

Huldeblyk

$
0
0

Anton de Bruin blaai na die volgende bladsy in sy ma se telefoonboekie. Dis leeg. So ook die laaste drie bladsye.

"Is dit alles, Ma?"

Sit dan sy selfoon met 'n sug neer toe sy knik. Vir seker die meeste oproepe wat hy nog ooit op een dag gemaak het en die meeste daarvan na familie en kennisse wat sy pa die DDT-mense genoem het. Mens sien of hoor net van hulle tydens ’n doop, dood of troue. Hy grinnik. Sy pa weet nie hoe reg hy was nie, dink hy en trek die koppie met tee nader.

"Wag, ek maak gou ’n vars koppie. Daardie een is al maklik ’n halfuur oud," bied sy suster, Leandri, aan.

"Hierdie is reg, dankie. My keel is nou so rou van al die praat dat ek nie kans sien om dit verder te brand met kookwater nie." Hy drink dit vinnig en staan op. "Kom ons gaan sit binne. My gai is ook seer en die stoele daar is ten minste sag."

"Sy is nogal baie kalm," fluister hy vir Leandri op pad woonkamer toe.

"Ek dink dis die dokter se kannie-worry-pil wat werk."

"Kan wees," antwoord hy en sak neer op die gemakstoel waar sy pa altyd gesit het. "Dink jy hy sal omgee dat ek hier sit? Hy was altyd so heilig oor sy plek."

Leandri gee ’n laggie, tel die TV se afstandbeheer op en skuif dit oor die koffietafel na Anton.

"Miskien sal hy jou vergewe as jy daarin sit en rugby kyk met ’n bier in die hand en die skeidsregter luidkeels kritiseer as hy ’n strafskop teen Province toeken."

Anton lag hardop. "Dis iets om te noem in sy huldeblyk." Dan kyk hy strak na Leandri. "O, shit. Wat sê mens alles van hom? Nee, jig, die gewone goed steek my altyd dwars in die krop. Dit laat ’n dooie mens al te veel na ’n klein godjie klink en Pa was ’n méns."

"Maklik," antwoord sy, "vertel wat jy alles van hom onthou soos die hengse pak slae wat hy jou gegee het oor ..."

"... ek in die kerk gepoep het," val hy haar laggend in die rede en moet na sy lagbui trane uit sy oë wegvee.

"En wat lag julle twee so lekker?"

Sy ma staan voor hom met ’n rooi lêer in die hand. "Sommer oor dinge wat ons van Pa onthou." Hy vat die lêer by haar. TESTAMENT staan daarop. "Regtig Ma, is dit nou nodig. Ek wonder of hy al koud is in die ondernemer se yskas."

"Ja dit is. Hy was baie gesteld daarop dat hierdie lêer die eerste ding is wat ek vir jou moet gee en behalwe vir sy testament, is daar ook ’n brief vir julle."

Heel bo in die lêer is ’n kort nota: “Sê vir jou ma hierdie is ’n verouderde testament. Jy soek die lêer waarop staan Aandele. (Nie dat daar meer iets van oor is nie.) My jongste testament is daarin.” Hy sê dit vir sy ma. Sien haar frons. Weet sy dus nie daarvan nie, wonder hy en vou sy arms. Terwyl sy wegstap, leun hy agteroor en trek groot oë vir Leandri. Haar gesigsuitdrukking kan maklik aan ’n speler by ’n Pokertafel behoort. Weet sy dalk hoekom Ma klaarblyklik niks daarvan weet nie? HKGK, dink hy en hoop hy is verkeerd.

Hy maak die voulêer oop. Die datum bo-aan is ongeveer twee weke tevore. Daarna die opskrif INSTRUKSIES. Tipies Pa. Regeer uit die graf. Ander mense kon dit dalk  waardevolle notas genoem het. Hy vluglees die eerste bladsy.

My dierbare kinders:

Dis nie maklik om hieroor te skryf nie, maar ten tye van ’n sterfgeval is mens emosioneel en dink jy regtig nie aan alles nie, tog is dit nodig om sekere dinge te doen en ander nie. Ek weet julle sal dalk aan meeste hiervan kan dink, maar niemand weet alles nie. Veral nie van my nie.

Moet nie dadelik die bank van my afsterwe in kennis stel nie. Hulle mag dalk besluit om my rekenings te vries en in die proses debietorders soos byvoorbeeld versekeringspremies en die mediese fonds se paaiement terug te stuur. Verder gaan julle ook kontant nodig hê vir die begrafnis/verassing, waarop julle ook al mag besluit.

Daarna volg ’n langdradige bespreking van redes waarom die bank nie dadelik van sy afsterwe moet hoor nie. Ook detail oor hoe om op sy bankprofiel aan te teken en bedrae van oorplasings tussen rekeninge om vir hulle ma bykomende kontant beskikbaar te stel.

Mamma se e-mail is gekoppel aan die hosting van debruinskryf.co.za. Dit word gedoen deur Afrihost.

Bla-bla-bla ...

Die volgende twee bladsye lees hy met aandag. Dit bevat stappe om te volg vir die omskakeling van selfone, versekering, internet-rekeninge wat toegemaak moet word en vele ander items. Heel laaste ’n punt rakende onbekende mense.

Buiten die gewone familie en vriende wie se nommers julle by Mamma sal kry, is daar ’n paar mense wat ek wil hê julle moet laat weet ek is oorlede voordat dit op Facebook geplaas word. (Mamma sal nooit aan hulle kan dink nie, want nie een van hulle val binne haar, of ons gesamentlike vriendekring nie.):

a. Piet Joubert (nie die generaal nie, ʼn gholfmaat. 😊 083 485 1120
b. Melani van Zyl 076 252 9934 (My uitgewer, sodat sy sal weet om my instruksie rakende tantieme en kopiereg deur te voer.)

Gmf! Hy het geweet sy pa het probeer skryf, maar ’n instruksie oor tantieme en kopiereg aan sy uitgewer? Flippen hel. Hoeveel gee die ou man so op ’n skinkbord weg en aan wie?

c. “Anna Serfontein 082 888 1461 (ʼn Vriendin in die boekebedryf.)
d. Thea Wolfaardt (Ook ʼn vriendin in die boekebedryf.) 083 074 0702
Moenie verbaas wees as sy huil nie. Alhoewel baie ver van mekaar, was ons baie naby aan mekaar.
e. Nig Bettie 073 120 1515 (Sy antwoord nie meer haar foon nie. Hardhorend, maar lees wel ʼn WhatsApp.)

Bliksem. Anton sit asof versteen. Kan dit moontlik wees? Jou vriende, ons vriende en my vriende? En een van laasgenoemde so close dat sy dalk kan huil. Fok, dit klink soos ’n saamgestelde gesin. Jou kinders, my kinders en ons kinders en pa as die ramkat in die middel. Dan nog ’n nig Bettie. Iemand van wie hy nog nooit gehoor het nie!

Hy moet homself staal om nie die vraag te vra nie. Plak dan die drie bladsye op die koffietafel neffens hom neer en kyk vir sy ma.

"Nogal volledig sou ek sê, maar niks wat nie tot môre kan wag nie."

Tog weet hy dat hy later, en buite die geselskap, ten minste twee oproepe gaan maak. Ja, okei, en ’n WhatsApp stuur. Sy pa se laaste versoek sal hy uitvoer. Ten minste is die ou man tot ’n mate eerlik. ’n Beter mens as hyself. Sulke inligting sal hy liewer saam met hom graf toe neem.

Leandri neem die A4-grootte koevert, wat Anton vir haar uithou, in haar hande. ’n Laaste brief? Néé! Dis nie wat sy wil hê nie! Hy moet steeds hier wees! Haar binneste wil vulkanies tussendeur haar ooglede uitspoel. “My liefste doggie,” lees sy die aanhef en snuif. Haar troetelnaampie terwyl sy op laerskool was. Dan swem die letters voor haar oë en weet sy die maskara gaan swart strepe oor haar wange trek. Sy spring op, stap haastig uit en klap haar eertydse kamerdeur agter haar toe. Sy wil alleen huil. Nou. Oor haar Dadda. Die pa wat haar beskerm het teen die aanslagte van die lewe en die man wat hom oor ’n modderbesmeerde brakkie ontferm het.

Op pad huis toe het ’n hond onder sy kar se wiele beland en het hy stilgehou om die dooie dier uit die straat te sleep. Eers toe hy haar opgetel het, kon hy sien sy is in melk. Hy het begin soek en ’n piepklein reuntjie gevind. Sy ogies was kwalik oop. Hy het albei in die kar gelaai en huis toe gevat, die ma onder die perskeboom begrawe en die kleintjie skoon gewas. Toe met ’n pipet begin melk voer.

"Wat de duiwel dra jy hier in?" het haar ma gillend gevra toe hy die hondjie op ’n voetekombersie langs die stoof neerlê. "Vat weg! Jy weet mos ek duld nie ’n hond in die huis nie!"

Pa het uitdagend voor haar gaan staan. "Dis myne," het hy sag geantwoord, "en die een wat hom hier wil uitjaag moet nog gebore word. Verstaan jy my?"

Ma het hom een gluur gegee, omgedraai en met afgebuigde mondhoeke weggestap. Vir dae nie met Pa gepraat nie en vir Vlekkie geïgnoreer. Pa moes alles vir hom doen. Kos gee, was, sy kombersie buite gaan uitskud. Selfs later, toe daar, wie weet hoe dit gebeur het, ’n slang in die kombuis was en Vlekkie hom bestorm en dood gebyt het toe hy Ma wou pik, het sy hom steeds soos ’n misbaksel behandel. Arme Vlekkie. Hoe sou hy kon weet sy koms was die waterskeiding in ’n huwelik?

Leandri vee haar oë droog met ’n snesie. Ook Pa was nie haar misnoeë en toorn gespaar nie. Sy kon net nie meer op ’n menslike toonhoogte met hom praat nie. Hy kon ook net mooi niks reg doen nie. Fokkol! Nie eens ’n verjaardag- of Kersgeskenk was goed genoeg ’n ordentlike dankie nie, maar Pa het homself gebly. Bedagsaam gewees, vriendelik en aangehou om vir hulle te sorg asof niks verkeerd was nie.

Sowat een jaar later moes hy op een dag twee uiteenlopende brokkies nuus ontvang. Vlekkie is dood aan katgriep en sy jongste boek het voorblaaie gehaal as topverkoper. Ma se reaksie was kort en kragtig. "Dankie tog, nou sal die huis nie meer na hondepis ruik nie."

Ouboet het verkies om neutraal te bly. Sy voel hoe haar hartseer in woede omskakel. Blerrie manteldraaier. As hy saam met Pa was, het hy vir Ma beswadder en andersom. Die dag daarna het Pa die spaarkamer betrek. Leandri wens sy weet hoeveel keer sy daar in die oggend ’n nat kussingsloop afgetrek en met haar hande gaan uitwas het. Later het dit wel opgehou. Leandri glimlag vir die eerste keer. Dit was kort voor die pakkie.

’n Boetiek se inkopiesak het in die kar gelê toe hy haar een middag by die universiteit kom oplaai het. Sy het gebrand van nuuskierigheid en vinnig gekoekeloer toe hy by ’n vulstasie uitgeklim het om vir die brandstof te betaal. Dit was ’n chemise, gemaak van die sagste satyn denkbaar. Sy het dadelik gewonder of hy wraggies gaan probeer opmaak, maar wou nie uitvra nie. Geweet hy sou self kom vertel. Daarvoor moes sy wag tot na aandete. Hy het by haar kamer ingekom met die pakkie in die hand.

"Ek het by die garage gesien jy loer."

Sy het skuldig afgekyk.

"Draai dit asseblief toe en maak ’n pakkie op. Ek wil dit wegstuur. Dan vertel ek vir jou ’n geheim."

Tot vandag toe weet sy nie hoekom sy nie geskok was nie.

 "Ek is bly vir jou, Paps," was al wat sy kon sê. Sy het die nagklere uitgehaal en die prysetiket afgeknip. Hel, sy het nooit kon droom dat hy soveel vir so ’n klein stukkie lap betaal het nie.

Sy lees verder aan die brief. ’n Verduideliking oor hoekom die testament lyk soos hy lyk; ’n verwysing na ’n polis wat direk aan haar ma as begunstigde gaan uitbetaal en dat sy pensioen ook aan haar oorgedra sal word. Die volgende sin laat haar mond oophang: “Ek het nog ’n geheim om op te klaar. Ek het vir jou gelieg oor Hannes. Dis nie my kind nie.” Nogmaals swem die letters weer voor haar oë. Tog kry sy dit reg om klaar te lees. Jirre, Pa! Vyftien jaar en jy fokken sê my nou!

Sy spring op badkamer toe, was haar gesig en trek haar klere reg, bekyk haarself in die spieël. Dis die staal in haar pa se grou oë wat vir haar kyk.

Daar speel ’n grynslag om haar mond toe sy fier en met ’n ferm tred uitgaan in die gang. Sy steek vas en spits haar ore toe sy Anton se stem, op sy venynigste, hoor.

"Ma weet, wat my die meeste van alles die moer in maak, is dat ons, wat altyd daar was vir hom, niks kry nie, maar die kind van daardie Nig-Bettie-slet, kry die huis. Fok!"

Leandri bly staan vir haar ma se antwoord: "Ja, Boetie, maar kind of nie kind nie, al wat ek jou kan sê is ek gaan geen begrafnis hou nie. ’n Diens by die ondernemer se kapel is goed genoeg. Daarna kan hy bráái in die goedkoopste kis wat beskikbaar is."

Leandri stap die woonkamer binne.

"Nè!"

Soos sy verwag het, ruk albei se koppe in haar rigting.

"Addergeslag, skaam julle," sis sy. “Die man wat sy lewe lank vir ons gesorg het en aan wie ons alles wat ons het te danke is, is dood." Sy bly ’n oomblik stil. "En voor die dag om is beswadder julle hom oor geld! Sies." Sy kyk Anton in sy oë. "Vertel vir ons hoeveel van jou lugkastele Pa gefinansier het. Toe, vertel."

"Dit was altyd op die basis van ’n lening."

Sy knik. "En hoeveel daarvan het jy terugbetaal?"

"Asof jy niks gekry het nie. Verbeel ek my of het jy ses maande lank op Pa se koste in Amerika rondgeflenter?"

"Hoor jy my kla?"

Sy rig haar tot haar ma toe hy nie antwoord nie. "Moenie vir my sê Ma verstaan nie die woordspeling oor nig Bettie nie. Ek was self by toe hy vir jou vertel het van die tannie wat op sterwe gelê het en toe vir die dominee gesê het sy moet die oom verskoon as hy weer trou. Sy het gesê hy moet. Kan nie eers ’n knoop vir homself aanwerk nie. Daarby is hy nog jonk genoeg om weer geluk te kan vind. Toe antwoord die oom mos so droogweg dat hy en nig Bettie reeds dieselfde onderwerp bespreek het."

Haar ma ruk haar skouers styf.

"So, wat het dit met my te doen?"

"Ma het hom voortydig in die spreekwoordelike nig Bettie se arms ingejaag op soek na liefde en huislikheid."

"Se gwhar! Hy het alles hier gekry wat nodig was."

"Nou wie dink Ma het Pa se knope die afgelope twintig jaar aangewerk? Hmm? Sy sokkies gestop, sy gunstelingkos gemaak en ’n huislike atmosfeer geskep toe hy dit nie hier gekry het nie? En dit te midde daarvan dat sy net aalmoese gekry het om in ’n enkelwoonstel aan die lewe te bly."

"Vertel dan. Jy het ons nou nuuskierig, want dit smaak my jy weet meer van my huwelikslewe af as ekself," antwoord haar ma smalend.

"Carol, Ma. Carol Strachan. En vir Ma se inligting, Johannes Jurgens de Bruin Strachan is nie haar of Pa se kind nie. Ma behoort te weet. Jy het hom self by die hospitaal gaan haal na die operasie wat hom sy van manlikheid ontneem het."

"Hoekom dra die kind dan sy naam?"

"Dis sy kleinkind, Ma. My kind. As jy net een maal navraag gedoen het sou jy geweet het ek was nie in Amerika nie, maar vier blokke hiervandaan. In ’n inrigting vir ongehude moeders. Die pa kon nie met my trou nie en ek het nie kans gesien om hom in ’n liefdelose omgewing groot te maak nie. Toe teken ek hom af en ek het vanaand uitgevind dis sy wat hom aangeneem het, ter wille van Pa."

Nie Anton of haar ma sê iets nie.

"Net môre gaan ek vir my pa ’n begrafnis reël soos wat hierdie gemeenskap nog nie gesien het nie. Die begrafnisbrief sal plein wees. Soos hy altyd was. Net ’n foto voorop en ’n uittreksel uit ’n gedig van Jan F E Cilliers: ‘Stil, broers, hier gaan ’n man verby.’" Sy vou haar arms en stoot haar bors uit.

"Nou moet julle my asseblief verskoon. Ek het ’n kind om te leer ken en ’n huldeblyk om te skryf."

The post Huldeblyk appeared first on LitNet.

Die restaurant

$
0
0

Die restaurant

Die stad is ’n dier met buie. ’n Oerdier wat ’n mens verswelg en jou deel maak van hom sodat die definitiewe lyn waar jý ophou en die stad begin, vervaag. Hier word jy deel van ’n groter geheel, ’n chromosoom wat saam met derduisende ander die DNA dra deur sy betonskelet. Die kollektiewe effek van elke individu se daaglikse bestaan skep ’n enkele groot wese, ’n saamgestelde bewustheid wat groter is as die somtotaal van al die individue saam.

In die strate van Johannesburg word jy onwillekeurig bewus van hierdie intieme verhouding tussen jou en die skynbare chaos van jou omgewing. Soos ’n geliefde kom lê hy hier teen jou lyf en jy voel sy asemhaal, jy hoor sy hartklop en die gerammel in sy maag kreun diep vanuit die strate. Jy beleef sy armoede in die vullis bestrooide steë en voel sy geel oë in jou nek in die skemer beligte arkades wat ruik na dagga, urine en ou sweet. Jy voel sy geweld in jou maag en sy angs klop benoud in jou bors. Jy hoor sy kreet in die toeter van karre en geloei van sirenes. Jy verlang saam met hom as die trein by Parkstasie soos ’n hond vir die maan huil na ver plekke.

Vandag is die stad egter uitbundig. Die winter lê reeds oud in die stowwerige sypaadjies en die kaal wit takke van die groot ou bome wat smekende uitreik na die hemel. So anders as daardie reëndae wanneer donker grys oor die stad sak en die stad se geboue laag-vir-laag onheilspellend voor jou uittroon – die naaste geboue blou-donker en soos jou oë die vertikale lyne op navigeer, die hoër grys geboue agter en dan op-op nog hoër die reuse-, spookagtige torings wat dynserig oprys die wolke in met net hier en daar die helderste ligte in die geboue sigbaar. Dan die illusie dat daar selfs hoër onsigbare geboue agter die hoogstes staan. Hoër en hoër in skets jou verbeelding hierdie onsigbare strukture in jou gedagtes.

Vandag bring die vars van vroeë lente ’n sagte mistigheid wat hierdie rye en rye betonmure toewasem.  Die oggendbries vroetel deur die boomtakke. Voetgangers stap haastig (soos altyd) in alle rigtings.  Studente loop uitbundig, uitspattig geklee en gesels en lag.  ’n Skaatsplankryer gly onverskillig in die besige straat voor ’n taxi in. Die taxibestuurder skel iets onhoorbaar na die skaatsplankryer wat ongeërg voortgly in die straat af.

Teen die swartgeverfde muur oorkant die restaurant poseer modelle vir ’n kameraman en sy regisseur. Ongeduldig skreeu hy sy instruksie bo die gedruis van die straat uit en met komieklike gebare vir die modelle (klaarblyklik amateurs) probeer hy verduidelik wat om te doen. As dié nie werk nie, hardloop hy onverskillig deur die besige verkeer oor die straat om binne hoorafstand te kom. Daar gee hy ’n reeks instruksies aan die assistente met die silwer weerkaatsende borde – ongeduldig – en skuif dan een of twee modelle dié kant toe en dan dáárdie kant toe en hol dan weer terug voor toetende karre verby.  Verfilming, lyk dit vir my, is ure se rondstaan en instruksies gee en ’n paar minute se shooting.

***

Die stad se uitbundigheid dring die restaurant binne. Die plekkie is stampvol. Studente en kantoorpersoneel druis met dieselfde uitbundigheid bo die musiek uit. Langs die toonbank staan ’n rak met ou viniel-langspeelplate en ’n platespeler met ’n kopie van Creedence Clearwater Revival wat lui-lui draai. Teen die mure is ’n reuse--swart-en-wit-foto met ’n toneel van ’n Italiaanse restaurant met ’n dikwielfiets teen ’n boom, lendelam houttafeltjies met laggende vrouens, ’n verliefde paartjie wat sy aan sy sit, kelners met stapels borde, ’n seun – bottel bruiskoeldrank in die hand  ̶  wat ’n bal loop en skop en ’n statige man in ’n grys oorjas wat staan en koffie drink by die toonbank. Dit is asof die uitbundigheid van die mense op die foto oordra na die mense om my in die restaurant. Of is dit net andersom? Is dit die ekstase van die stad wat weerspieël in die indruk wat die foto maak?

Om my is elke tafeltjie beset met klante. Daar is kantoorpersoneel met hulle koppies koffie en notaboeke wat probeer om in die geraas ’n vergadering te hou, hul stemme wat só moet rys bo die gedruis dat ek onwillekeurig die gesprek kan afluister: ’n Bemarkingstrategie; die mees onlangse syfers van een of ander promosie; besigheid en nog besigheid ...

In die hoek teen die vertoonvenster sit ’n student met haar stapels notapapier, ’n bordjie met toebroodjies, ’n glas koeldrank en ’n skootrekenaar waarop sy aandagtig doenig is en dan af en toe sal opkyk en sonder om werklik te kyk, te staar na die gebeure op die sypaadjie. Dit is asof die speling van lig en skadu haar hipnotiserend meesleur.

In die kombuis word luidrugtig gewerskaf. Daar is ’n geklingel van potte en panne wat dan en wan onderbreek word deur die sjef wat sy instruksies uitbulder vir wie ook al moet luister. As die groot houtswaaideur oopswaai sal die reuke van varsgebak (brood?) en gebraaide spek en ’n mengelmoes van soet reuke soos die van konfyt wat gekook word, uitpeul en die chaos in die restaurant omspoel. Met elke oopswaai van die deur sal ’n kelner verskyn met die produk van die skynbare wanorde in die kombuis, of ’n kelner sal verdwyn met die oorskot van die feestelikheid net om oomblikke later weer te verskyn met ’n vol skinkbord belaai met die volgende bestelling. In en uit soos miere van die stad voorsien die kelners aan die stad se bui, binne die kleine van die restaurant.

Meteens staan die kelner hier langs my, amper teenaan, binne hoorafstand en met ’n strak gesig vra hy: "Kan ek vir u nog iets bring, meneer?"

Afrikaans? In hierdie plek? Die man sien die verbasing op my gesig en wys met sy oë na die boek wat op my tafel lê.

Dis ’n groot man met ’n welige bos baard. Beide arms is oordadig getatoeëer en hy dra ’n swart T-hemp met die gotiese logo van ’n rock band half weggesteek agter wit stof van wat lyk soos broodmeel. Ek skat sy ouderdom laat twintigs, vroeë dertigs. Dit is nooit maklik om ’n man met ’n baard se ouderdom te skat nie.

"Brink," sê hy en wys met sy oë, nog steeds ’n strak gesig, na die boek voor my op die tafel. "Nie aldag dat ’n ou so iets hier rond sien nie!"

"Latynse reise," lees hy die titel hardop. Voordat ons die boek verder kon bespreek word ons albei se aandag getrek na ’n vrou buite die winkel.

Sy kyk reguit na ons deur die restaurant se vertoonvenster. Gou besef ons albei egter dat sy nie na óns kyk nie, maar na haar eie weerkaatsing in die venster. Sy vroetel haar hare reg met haar vingers en vee een van die laaste blare van die winter van haar skouer af. Sy loop in en met die oopmaak van die deur waai ’n koel lentebries verfrissend saam met haar by die restaurant in. Sy is formeel geklee. Kantoordrag. Haar ligte bruin hare omvou haar ronde gesig liefderyk tot onder haar ore en haar bruin oë glinster vriendelik om die ligte blos op haar wange te komplimenteer. Haar gelaat is sag. Sy's nie baie lank nie en het ’n ietwat voller figuur wat haar vroulikheid meer beklemtoon.

Sy stap, amper skamerig, na die toonbank en groet die man agter die toonbank vriendelik. Sy word meteens onderbreek.

"Sylvia!" roep ’n manstem van die oorkant van die restaurant en waai na haar.

Sy draai vinnig in sy rigting en toe sy die man met die waaiende arm gewaar waai sy opgewonde terug en haar gesig maak oop met ’n glimlag. Sy stap vinnig na die man en groet hom met ’n ligte omhelsing voordat sy oorkant hom gaan sit by die klein wit tafeltjie. Beide se lyftaal is versigtig toenaderend. Tipies dié van ’n nuutgevormde vriendskap.

***

My cappuccino is klaar, my etensuur op ’n einde, my paar minute se rus-en-vrede en leestyd is daarmee heen. Ek neem my Brink-boek, betaal my rekening en begin stelselmatig my gedagtes terugforseer in die modus van kantoorwerk en lessenaars en rekenaarskerms en fone wat lui.

Die stemming in die restaurant het bedaar want meeste kliënte, veral kantoorpersoneel het reeds verkas. Buite kan ek sien hoe die stad in een van sy twee daaglikse woedebuie uitbars. Karre tou by verkeersligte en die getoeter neem toe in intensiteit. Die wind is nou meer as net ’n bries en die laaste paar herfsblare word wild in die straat rond gefladder.

Sylvia sit met haar hande saamgevou op haar knieë en gesels aandagtig met haar vriend terwyl dié af en toe ’n sluk koffie vat, instemmend knik en vriendelik terugvoer gee. Meteens sit hy sy koppie neer en vroetel nog ’n herfsblaartjie los uit haar hare. Sy ruk ietwat senuagtig, dog vriendelik, terug vir hierdie skielike gebaar en lag dan verleë as hy haar die blaartjie wys.

Vir oomblikke kyk hulle mekaar net woordeloos aan. Dit is asof die stad en die wêreld om hulle meteens uitgesluit word deur ’n onsigbare kapsule. Hierdie stadsdier met sy hartseer en blydskap en haat en liefde verskuif en verdoof weg van hulle. Die blos op haar wange word ’n dieper roospienk. Die gevroetel met die blaartjie het ’n toutjie hare wanordelik oor haar voorkop laat hang. Nóg ’n paar oomblikke skuif stil verby voordat hy weer sy hand na haar uitsteek. Dié keer ruk sy nie weg nie. Sy glimlag net. Weer die plooitjies in die hoeke van haar oë wat sy knip-knip as hy sorgvuldig en delikaat met sy vingerpunte die toutjie hare weer terug rangskik op hulle plek. En toe, asof iets afgehandel is, asof wat gesê moet wees nie meer nodig was nie, sit hulle bloot in stilte en vrede en drink hulle koffie verder.

***

By die restaurant se deur uit word ek onvriendelik begroet deur die, nou kouer, lentewind. Ek trek my nek dieper in my baadjie se kraag en met my hande in my baadjiesakke, boek onder die arm vasgeknyp, val ek in gelid met die res van die skarrelende miere op die sypaadjie. Ek word weer ingetrek in die stad se golwe van menslike stroomversnellings. Die bewuste van die stad kom sit weer in my onderbewussyn. Ek merk op dat die filmspan en modelle ook weg is, dat die straatveërs weer op hulle poste is, krom gebuig oor hulle besemstokke en, net vir ’n oomblik, soos ’n fladdering, spring my gedagtes terug na Sylvia en haar vriend en die verliefde paartjie op die groot foto teen die muur. En toe waai dit ook uit my gedagtes.

The post Die restaurant appeared first on LitNet.

Delikaat

$
0
0

Delikaat

Delikaat. Jy kon haar deur ’n ring trek. Sy het by ’n Estee Lauder-toonbank gewerk, skoonheid van vervloë dae met ontnugterde oë. Sy het ’n walm gehad van gekneusde hoop en skerp parfuum, dalk om ’n ander een te verbloem. Op ’n gewone Saterdagoggend vat sy haar man se BMW en ry volspoed in ’n muur vas. Die lugsak kneus haar verder maar die heelal wil hê sy moet voortgaan. Fier en seningrig soos ’n oud-ballerina, maar met stiller oë en ’n sterker walm.

The post Delikaat appeared first on LitNet.

Jonathan

$
0
0

Sy was nog altyd ’n lysie-mens. Dit hou haar hande besig en haar gedagtes georden.

Vandat Myra kan onthou maak sy lysies van haar gedagtes, boeke wat sy wil lees, plekke wat sy wil besoek, resepte wat sy wil probeer en, natuurlik, inkopielysies.

Nou, meer as ooit, het sy hierdie lysie-gewoonte van haar broodnodig. Dit help dat sy al die nodige aktiwiteite moet onthou vir die afhandel van Theuns se lewe en sommer om haar te help fokus sodat sy nie in ’n bondeltjie verdriet verval nie. Verdriet is tydmors, sou Theuns kort en bondig verklaar het as hy hier was. Dit dien geen doel nie. Wat verby is, is mos verby en die lewe gaan aan.

Myra gaan sit swaar by die kombuistafel met haar pen en notaboek om die lysie aan te vul en regmerkies te maak teenoor dié wat afgehandel is. Begrafnis, regmerkie. Skriftelike bedankings, regmerkie. Bankbestuurder en reëlings, regmerkie. Prokureur en testament, regmerkie. Theuns se klere uitsorteer, geen regmerkie nie. Theuns se garage en visgoed uitsorteer, geen regmerkie nie.

Sy staar uit oor die heuwel met fynbos en die donkergrys massa water met die skuimkoppe, links van die heuwel. Die wind waai nou al vir dae aanmekaar en sy kan dit skaars uit die huis waag. Sy is dankbaar vir Theuns se visie om ’n ordentlike en stewige huis hier te kom bou. Alles is goed beplan, net van die beste en ideaal vir alle weersomstandighede. Dis net jammer hy het nie lank genoeg geleef om sy droomhuis te geniet nie. Laat verlede jaar, net voor sy aftrede, is die huis klaar gebou en drie weke gelede moes sy hom begrawe.

Haar trane het al die tweede dag opgedroog. Nou bly ’n dowwe leegheid oor. Sy het iewers gelees dat mens deur ’n paar stadiums van rou gaan. Die skok het net ’n dag of twee gehou; toe kom die ontkenning, waarin sy nog steeds vasgevang is. Sy weet nie wanneer die woede, onderhandeling en aanvaarding gaan kom nie, want die ontkenning maak dat sy nog steeds twee plekke by die tafel dek. Sy het selfs gister nog sy gholfklere op die bed uitgepak, want Woensdae was gholfdag. Sy het dit gisteraand voor slaaptyd weer sorgvuldig opgehang.

Wat die res van die proses aanbetref, het die depressie al klaar in haar lyf kom nesmaak. Sy wens net sy kan nog huil sodat die aanvaarding gouer kan kom.

Haar oog vang die foto oorkant die muur met ’n glimlaggende Theuns en Tamara wat op sy rug sit soos ’n klein apie. Myra glimlag en onthou daardie dag soos gister. Dit was hulle enigste dogter se tiende verjaardag en sy het aangedring dat haar pa haar vir oulaas op sy rug abba om die huis, want van die volgende dag af sou sy amptelik ’n tiener wees wat op haar eie voete moet staan. Die kind het altyd ’n ding gehad vir drama en Theuns het gemoedelik meegedoen. Wat Tamara wou hê het sy gekry.

Nou is Theuns onder ’n hopie sandgrond van Verlatenbaai waarvoor hy so lief was en Tamara hop van die een Europese land na die ander met haar loopbaan as verhoogaktrise. Weliswaar ’n baie onbekende een, maar in haar wat Myra se oë is, die beste wat hierdie land nog opgelewer het. Sy is so spyt die kind kon nie nog ’n week bly nie, maar die stiltes tussen hulle was nog altyd te veel vir Tamara se borrelende persoonlikheid.

“Ek moet werk Ma, dis al hoe ek Pa se dood kan verwerk.”

Haar pragtige gesiggie met Theuns se groen oë was treurig en trane het geluidloos oor haar wange gestroom. “Ek belowe sodra hierdie produksie klaar is, kom ek huis toe vir ’n maand. Dan gaan toer ek en Ma die hele Suid-Afrika. Ma sal oukei wees, ek weet. Ma is ’n fighter.”

Hier, alleen by haar kombuistafel in haar huis in die piepklein vissersdorpie in die Wes-Kaap, skud Myra stadig haar kop. Sy kon nie vir Tamara antwoord nie. Het net geglimlag en haar trane met ’n outydse sakdoek afgevee. Nou, hier met die fynbos en die see voor haar antwoord sy vir Tamara.

“Nee my kind, ek is nie ’n fighter nie. Ek is ’n lafaard wat nooit my eie lewe gehad het nie. Ek het weggekruip agter jou en jou pa. Net met my hoërskoolloopbaan, my lysies, my liefde vir julle en my boeke, het ek seker gemaak julle lewens verloop seepglad terwyl myne in ’n wentelbaan om julle gedraai het. My simpel gediggies het ek geskryf as julle uithuisig was en diep binne in my kas weggesteek. Ek het geweet julle sal dit net kritiseer en afmaak as amateuragtig.

“Jou pa se loopbaan was myne ook. Ek het saam met hom gestap met elke krisis, elke oorwinning, elke bevordering, en ek was saam met hom toe hy die hartaanval in die winkelsentrum gekry het. Saam in die ambulans toe hy vir oulaas sy oë toegemaak het. Sonder ’n woord of ’n laaste kyk in my rigting. Soos in die lewe, so was hy in die dood. Gerig op sy wêreld en wat die volgende stappe moes wees. Ek was altyd ’n nagedagte vir hom, en jammerlik, vir jou ook.”

’n Beweging buite trek haar aandag en dwing haar terug na die hede. ’n Seemeeu swiep heen en weer voor die kombuisvenster, al krassend en beurend teen die wind, maar vasberade in sy vlug. Die seemeeu gaan sit op die breë, beskutte vensterbank waar hy vir ’n wyle kan rus teen die wind. Sy klein ogies en lang snawel slegs ’n paar meter van haar af. Sy sit doodstil, te bang om haar teenwoordigheid weg te gee. Dan sien sy die gekoekte vislyn om sy poot. Dis iets wat ’n gereelde gesig op die strand is – beangste en verminkte seevoëls met vislyn wat die laaste lewe uit hul wurg of hulle kniehalter in vlug en beweging.

Myra moet hierdie dier probeer red. Al hoe sy naby hom gaan kom is om hom te lok met kos. Daar is nog gevriesde sardientjies van Theuns se laaste visvang-ekspedisie op die rotse.

Pynlik stadig staan sy op en retireer na die spesiale aasvrieskassie om die hoek, haar blik vasgenael op die voël daarbuite. Toe sy buite sy gesigsveld is, ruk sy koorsagtig die vrieskas se deksel oop en grawe tussen die stinkende aas rond totdat sy ’n pakkie vasvat met die piepklein gevriesde vissies in. Myra gril tot in haar tone, maar hou haar asem op terwyl sy een loswikkel en in die badkamer se wasbak gaan afspoel. Sal die seemeeu die ding ooit vreet as dit gevries is? Sy dink nie so nie, maar dalk is hy honger genoeg.

Met die yskoue vissie in haar hand stap sy treetjie vir treetjie tot by die kombuisvenster. Toe die voël haar gewaar vlieg hy vervaard op maar die visnet haak aan die venster se handvatsel vas en hy klap verbouereerd sy vlerke teen die glas. Myra is so naby sy kan sweer sy sien vrees in die diertjie se kraalogies. Sy hou die vissie soos ’n offer uit terwyl sy die venster oopmaak. As sy haar arm uitstrek kan sy hom aanraak maar die krassende snawel weerhou haar daarvan. Sy sit die sardientjie op die vensterbank neer en draai om om ’n sker te kry vir die visnet. Hoe sy dit gaan afkry van sy poot af, weet nugter alleen!

Die volgende oomblik is daar ’n lawaai van vlerke wat klap en skottelgoed wat breek. Myra swaai om en sien hoe die voël sukkel om sy balans op die wasbak te kry. Met die gespartel het hy by die venster ingevlieg en bo-op die wasbak beland. Sy weet sy moet gou speel voor die arme ding nog seerder kry en sy gryp ’n handdoek wat in die wasmandjie langs die wasbak staan. Sy bid dat die plan moet werk en met dié gooi sy die handdoek oor die seemeeu. Wonder bo wonder val dit netjies oor sy kop! Sy gryp na hom en voel dat sy beheer kry oor die wriemelende dier.

Met die handdoekbedekte seemeeu vasgeknyp onder haar linkerarm grawe sy in die laai vir die skêr en vat dit genadiglik vas met die eerste probeerslag. Myra begin saggies met die voël praat soos destyds met Tamara as die kind ontsteld of bang was.

Sy is verbaas oor haar eie kalmte en behendigheid terwyl sy die visnet losknip. Terwyl sy aanhou om met hom te praat voel sy waarlik hoe die voël minder en minder spartel. Gou knip sy al die netstukke van sy poot af en met sy kop nog steeds bedek, stap sy yskas toe om van die brood uit te haal. Hopelik trek hy nie sy neus op vir die stysel nie, aangesien sy eerste keuse ’n blink vissie was. Terwyl sy die brood aan die een punt vashou, druk sy die ander punt onder die handdoek in. So stap sy terug na die venster om die dier vry te laat, seker daarvan dat hy niks gebreek het of nog bloei van die visnet nie. Met een beweging trek sy die handdoek van sy kop af en sit hom op die vensterbank neer.

Met ’n laaste kyk van sy swart ogies en ’n geskreeu wat haar vir ’n oomblik doof laat, lanseer die seemeeu homself van die vensterbank af, reg in die wind. Sy staan vir ’n lang ruk en kyk hoe hy hoër en al krassende verdwyn.

The post Jonathan appeared first on LitNet.

Ysige liefde

$
0
0

Dis ysig vanaand. Ekstra kombersie ysig. Twee aparte lywe ysig.

George staan vir ’n oomblik en kyk na die verweerde lyf in die enkelbedjie, dan vou hy die sagte grys kombersie om haar voordat hy die beddegoed weer om haar benerigheid reg skik. Vanaand voel ’n mens die sneeu op die bergtoppe in die windjie. Sy is so maer en broos, haar vel so dun dat sy maklik koud kry. Boonop is haar metabolisme aangetas deur die langdurige medikasie na die operasie jare gelede, nog voor haar menopause. Hy probeer homself dwing om nie te dink aan die tyd toe haar vriendinne gesê het dis normaal om warm gloede te kry nie. Om terug te dink aan die tyd wat hy so bitter was en gevoel het dat ’n groot deel van sy lewe hom ontneem is, doen hom nooit goed nie. Wat ’n hoogtepunt moes wees toe die kinders selfstandig was, het ontaard in ’n vreemde tydperk wat hy nie in sy wildste drome kon voorsien nie. Nagmerries is nie drome nie. Dis makliker om terug te dink aan die beroepsleer wat hy doelgerig en bestendig geklim het, dit het hulle finansieel gemaklik gemaak en hy het uitgesien na reis en ander dinge wat hulle ontbeer het om die twee dogters groot en geleerd te kry. Twee maats. Hy vryf oor sy oë en skud sy kop, asof hy die realiteit kan wegskud, draai dan terug na die bondeltjie bene, vel en hare.

Die donsduvet en ekstra kombers is nie genoeg vanaand nie en hy wou nie wag dat die personeel hulle laaste rondtes doen nie. Nina vroetel effens dieper in die sagtheid van die grys fluwelerigheid van die kombersie en vir ’n oomblik is daar ’n trek om haar mond wat wys dat sy die sorg voel. Die enkele grys haarsliert wat bokant die beddegoed vlerk, neem hom terug na die dae wat hy sy hande kon verstrengel in haar hare, as hy saggies weer teruggekruip het in die bed en met sy lyf teen hare gelê het, totdat haar sagtheid outomaties begin reageer het op sy nabyheid en hulle met onderlywe teen mekaar en dan amper vanself ín mekaar gegly het. Maar toe was haar hare swart, soos haar oë net voor ... Hy stop doelbewus sy gedagtes, die bitterheid oor wat kon gewees het. Oor wat móés gewees het. Oor wat voortydig nie meer was nie, toe hy in sy fleur was.

Hy gaan sit op sy bed en kyk vir haar totdat sy rustig is en hy seker is dat sy gemaklik is, voordat hy by sy rekenaar gaan sit. Dit knaag al die hele dag aan hom dat hy nog nie eers vandag sy koerante klaar gelees het nie, normaalweg doen hy dit douvoordag, maar Nina was van vroegdag af onrustig en hy moes kort-kort help of aangee of vryf, daar was ’n ongewone rusteloosheid in haar. Voordat hy op sy ‘Koerante’ folder in sy Bookmarks kliek, kyk hy eers gou of Ona se groen kolletjie by Messenger verlig is wat aandui dat sy aanlyn is.

“Jy al in die bed?”

“Nee, en jy? Is Nina nou rustiger?”

“Ja, sy slaap nou. Dankie weer vir vandag! Lees gou die koerante klaar.”

“Night!”

“Dankie, nè?”

“XXX”

As hy fyn luister, kan hy Ona se bewegings in die kamer langsaan hoor. Dit was sy voorwaarde toe hulle na die kleiner woonstel in die aftreeoord getrek het, dat hy twee woonstelle langs mekaar koop. Met die laaste skuif in sy lewe het hy vir die eerste keer sy eie behoeftes ook op die weegskaal gepak – sy eie, en dié van Ona. Die groter eenhede in die aftreeoord was wel geriefliker, maar Nina se versorging het net eenvoudig te veel vir hom geword. Haar emosionele versorging veral. Hy kon net nie meer alleen die volle verantwoordelikheid dra om ten volle vir ’n ander mens verantwoordelik te wees nie. Dit was erg genoeg, die las om haar emosioneel te dra het oor die jare net erger geword, maar toe die fisieke versorging bykom, moes hy ’n besluit neem.

Die blokkie met Ona se naam verskyn onderaan sy skerm, voordat hy kan kliek op New Message.

“Hoekom slaap jy nog nie?”

“Ag ek sit sommer en dink aan vandag. Jirre, Ona! Hoe kan jy my so help met Nina?”

“Ag dit voel half of sy my verantwoordelikheid ook geword het.”

“Jy weet, toe ons vyf  jaar gelede hier ingetrek het, het ek die hele tyd skuldig gevoel teenoor Nina, maar meer nog teenoor jou. Hierdie tweesnydende swaard het skerper geword met die jare. Ek weet nou nog nie wat sou die beste oplossing wees nie.”

“Jirre, George.”

“Ja, ons jirre-jirre mekaar nog al die jare, maar wat het dit gehelp?”

George kyk op as hy Nina se onrustige gekarring sien. Hy vou sy Kindle toe en gaan sit op sy bed. Die spasie tussen die twee enkelbeddens voel skielik soos ’n onoorbrugbare kloof. Hy skakel sy rekenaar aan.

“Ona, ek kan nie meer nie, ek is klaar.”

“???”

“More doen ek aansoek vir Nina vir Fase 2 tengersorg. In die tengersorgeenheid.”

“... ”

“Ek doen nou wat ek twintig jaar gelede moes gedoen het, ek skei van my vrou, al is dit nou net emosioneel en nie wettig nie. Dit was ’n onreg teenoor almal van ons toe ek nie wou skei nie, ter wille van haar. Dit het haar uiteindelik ook nie gelukkig gemaak nie, maar vaster in daardie neurotiese spiraal gedraai, omdat sy my emosionele afstand voel groei het.”

“Ek wens jy kon omstap dat ons kan gesels.”

“Ek ook, Ona, ek ook!”

“As ek maar tyd kon terugdraai!”

“Ja, George, as jy maar kon. Maar moenie so hard op jouself wees nie, jy ...”

“Hou óp om so fokken verstandig te wees en alles net te aanvaar!”

Die geluide van sy sleutelbord waarop hy vinniger en harder as gewoonlik tik, laat Nina onrustig vroetel en die beddegoed skuif af. Hy staan op om dit reg te trek. Van die baie was, het die sagtheid van die silwergrys kombersie  ̶  wat hom aan die begin aan gepoetste platinum laat dink het met diamantjies waar die lig dit gevang het  ̶  skielik pluiserig laat word en dit voel korrelrig onder sy vingertoppe, eelterig van die jare voor die rekenaar. Hy streel oor die eens blinkgladde kombers, skielik ’n dowwe grysgrou en let op dat dit presies die kleur van Nina se hare is.

“George?”

“Ona, ek is jammer. Regtig.”

“Ek is te bang om te sê ek verstaan ...  😉 Maar dis goed as die ridder soms ook van sy perd affoeter, anders sou ek sukkel met jou.”

“Ona ...”

“Jirre, George! Jy moet net doodseker maak dat jy rustig is oor jou besluit.”

“Glo my, ek is. Ek kán nie meer nie. Vanaand het ek jou sagtheid nodig, wat ek myself al die jare ontsê het.”

George glimlag in sy enigheid as hy dink aan haar sagtheid, wat hy beter ken as wat sy dink. Sy wat sagtheid en troos vind in die kleur en fluweeltekstuur van die dieprooi voue van haar trooskombers.

Vandat hy daardie kombersie vir haar gekoop het ’n paar jaar gelede, was dit altyd naby haar. Rooi en warm, soos haar wange; en haar hart. Snoesig, soos haar voete. In die somer het sy dit op ’n stoel drapeer. Vir sagtheid altyd naby, soos sy oë, het sy eenmaal gesê. Vir troos teen die alleen. Sy wat haar hele lewe alleen was, al het sy twee mans begrawe.

George ruk wakker. Vir ’n oomblik is hy deurmekaar en verdwaald in die verkeerde gang van ’n hospitaal, op soek na sy toiletsakkie. Dan besef hy dat dit net ’n droom is. Hy skud sy kop en vryf sy hare deurmekaar, asof hy só die angs van die droom van hom afskud en staan dan strammerig op om badkamer toe te gaan. Sy hartklop bedaar geleidelik. Dan besef hy dit is sy foon wat gelui het wat hom wakker gemaak het. Dit begin weer en sy luitoon “Imagine” klink skel so in die nag. Hy sien  dat dit 03:40 is as sy foon se gesiggie terselfdertyd verlig. Hy skuif die rooi foontjie na links op die skerm, ’n oproep hierdie tyd van die nag kan net een ding beteken. Hy is nie gereed hiervoor nie, al het hy baie lank vir hierdie oproep in die nag voorberei. Hulle sal weer bel.

Daar is ’n sagte kloppie aan die deur en Sweetness se oë is ekstragroot in die donker gesig as sy die deur oopmaak.

“Oom George! Oom George, Sister he says Oom moet gou kom.”

“Loop maar, ek kom.”

“Maar oom George, Sister he says ek moet saam met jou loop.”

“Loop sê jy vir Suster ek kom.” Hy bind sy japon se gordel sorgvuldig vas, spoel sy gesig af asof die ekstra paar sekondes die onvermydelike gaan uitstel. Hy trek sokkies aan, selfs die skaapvelpantoffels maak nie sy voete warm nie. Dan stap hy die duisend myl na die tengersorgeenheid in die gebou langsaan.

Suster Wiese buk oor Nina toe hy inkom. Dan draai sy om en praat sag, naby sy oor.

“Dis tyd, Oom. Jy moet haar groet, daar is ’n effense opflikkering, maar dit gaan nie lank aanhou nie.”

Hy kyk in Nina se oë as hy sy hande weerskante van haar gesig vou, hy vryf met sy duim oor haar wang, soos toe hulle jonk was, in hulle intieme oomblikke. Hy sluk sy trane weg.

“Vergewe my, my man.” Haar stem is sag, sonder emosie. “Ek het jou gevange gehou met my afhanklikheid. Ek moes, anders het ek jou verloor, verloor aan die lewe.” Hy moet mooi luister, haar stem word al sagter.

Haar stem is skaars hoorbaar, maar haar lippe vorm die woorde duidelik: “Gaan na Ona toe, sy wag al jare vir jou. Jy moes ...”

Vir die eerste keer is George bly dat die woonsteldeure nie slotte het nie. Die sekuriteit is baie streng om hulle veiligheid te verseker, maar dit het hom lank geneem om aan hierdie reël gewoond te raak. Hy glip by Ona se woonstel in. Hy beweeg saggies, sodat sy nie wakker word of skrik nie. Hy staan vir ’n oomblik en kyk na die sagte lyf in die dubbelbed, dan lig hy die beddegoed en kruip vas teen die warm holte van haar rug, snoes sy benerige heupe teen haar molligheid, voordat hy die rooi kombersie om hulle lywe regtrek.

Dis ysig vanaand. Ekstra kombersie ysig. Vanaand voel ’n mens die sneeu op die bergtoppe in die windjie. Maar as Ona in haar slaap omdraai en haar een been om sy heupe vou, haar voete warm teen sy blou-koue been, word dit somer in sy toegedekte hart.

“Sy is weg,” fluister hy vir die slapende vrou. Hy besef eers sy is wakker as sy die laken onder sy wang indruk om die trane op te vang, dat die kussing nie nat word nie.

The post Ysige liefde appeared first on LitNet.


Chemo

$
0
0

“Hashtag lêers en admin.”

Lucky het haar vertroueling geword; sy kan haar frustrasie met die verpleegpersoneel in sy rigting uitsis.

Hy wip van die kant van die hospitaalbed af op, lig sy selfoon en neem ’n foto van die saalpersoneel by die diensstasie. Hy lê maklik die aanbreek van die driekwartier vas waartydens die kankersaal op stuuroutomaat voortfoeter en pasiënte wat verstik, sterf of uit ’n bevuilde doek gehaal wil word, self deur hulle dilemmas moet kom.

“Los dit net, Lucky.” Haar seun se oë en stem het saam hol geword, saam ingesink, onredbaar.

“Maar dis ’n bewysstuk, Leon. Hoe lank lê jy al en wag dat iemand jou moet kom skoonmaak? Hel, Bra, was dit nie vir die pype en sakke en goed aan jou nie, het ek dit self gedoen. En jou dan onder die stort gekry.”

Só, kakebeen op twee saamgevoude hande, lê hulle as hulle op hulle laaste is. ’n Enkele vriend bly in die privaatkamer oorkant die diensstasie, rakel iets op wat lankal nie meer saak maak nie: “Onthou jy daardie tyd toe jou ma bang was jy trou eendag met ’n Chinkie, en Chen Li bel om te hoor waar jy draai en jy ruik soos death warmed up?”

Gaan shower, man. Jy het weer jou ma en my pa se lykshuis huis toe gebring.

Lucky het eintlik maar saam met Leon in die lykshuis grootgeword.

Ná Leonard se selfmoord moes sy selfonderhoudend word. Sy moes dikwels stad toe ry. Haar kop was uitgehaak, haar verstand benewel, haar sig aangetas. Die grafstene in die begraafplase by Botshabelo het vir haar soos skroot in groot skrootwerwe gelyk. Soms soos tente in ’n vlugtelingkamp. Ja, het sy gedink: daar is onwettige immigrante daar. Hulle het na dié skuilplek gekom, gehoor dit is wat die naam beteken. Skuilplek.

Sy het die begrafnisstoete begin opmerk, veral soggens vroeg, wanneer die towenaars van die nag slaap en sowel die lewendes as die gestorwenes veilig is.

Hoe is dit moontlik, het sy een middag laat op pad terug gedink, dat ek dié grafstene tussen die rante, dié tientalle kruipende begrafnisstoete, nog nooit raakgesien het nie?

Sy het Magasane Phali gaan spreek. Hulle het die tandemsprong gewaag, die kursus gedoen, geslaag, ’n vervalle huis, toonbanke, rakke, verf en ’n koeler gekoop en die deure van Phali & Lotz Funeral Services drie maande later vir meestal bedroefde mense van alle stande en kulture oopgemaak.

Magasane Phali, Lucky se pa, was haar geestelike mentor, valkoog-informant, selfaangestelde lyfwag, en moeilike mede-eienaar van Phali & Lotz Funeral Services.

“Dié man word veras, Miss Maggy. Die begrafnis is oor vier uur. ’n Dokter moes sy pasaangeër kom uithaal het: ons kan hom nie so in die kis sit nie.”

”Hoekom nie, oom Phali?” Leon was so tien jaar oud gewees, sy irisse helder soos nuwe albasters.

Lucky het sy vinger oor die uitstulping laat gaan. “Hoe lyk ’n pasaangeër, Ntate? En wat kan gebeur as hulle hom so veras?”

“Daardie ding kan in die oond ontplof; niemand mag met ’n radio-aktiewe inplanting in die krematorium se vuur ingaan nie.”

Magasane Phali het vreemde voorwerpe raakgevoel en -gekyk. Hy het die wense en eise van die voorvaders, die nagwake, die asbesmeerde vensters en toegedekte televisiestelle van die week voor die begrafnis vir haar verduidelik. Hy het haar geleer van die plek van die naaste familie aan die een kant van die graf, die bose planne van toordokters en hekse, die rites van gestorwenes wat ’n bottel met grafgrond vul en daarmee in ’n prosessie huis toe gaan.

“Die een wat afgesterf het, loop saam met die een wat die grond dra na die huis waarin hy saam met dié wat nog lewe kom bly. Maar hy en al die ander voormense saam met hom laat hulle nie pla nie. Hulle rus en hulle supervise.”

Dit was hý wat die note uit die kontantlaai gehaal het. “Gaan Pep Stores toe, Lucky en Leon. Koop ’n XXXL bra, die goedkoopste wat julle kan kry. Toe, julle moes al terug gewees het!”

Gereeld het die twee op hulle fietse gespring: Leon voor, met Lucky wat hom altyd inhaal en verbysteek. Wanneer die naasbestaandes vergeet het om netjiese onderklere saam met die kisklere af te gee, het Magasane Phali gesorg dat die lyk reg aangetrek kom: “Enigeen kan die antie se rok kom oplig, Miss Maggy. Of die laken voordat ons klaar met haar is.”

Lucky het Leon se inkontinensieluier met die inkom in die kamer geruik. Hy het met die oë beduie: “Weer diarree? Hulle het tog die samestelling van die buisvoeding verander?”

“Sorry,” het Leon gemompel. “Ek stink. My ma het vir die suster gaan vra dat iemand ...”

Lucky op die kant van die bed, linkerhand op die ploegskaarskerp heup onder die laken. “Ek ruik niks nie.”

“Dan is jý vrek siek, Bru.”

“Oukei.” Lucky frons. “Onthou jy wat my pa altyd gesê het? Dít is waar die kwaliteit van ’n begrafnisondernemer se werk wys: onder die laken.”

’n Wenkbrou wat lig, irisse dof soos sestig jaar oue albasters.

“Dit, Bra, is waar die kwaliteit van dié hospitaal se diens wys: onder die lakens. Ek sal hier opstaan en hulle iets gaan aandoen.”

“In jou ‘hashtag fees must fall’-T-shirt? Jy gaan die sesde student wees wat in hegtenis geneem word, Lucky.”

“Maar jy ... dis so ’n damn uphill battle vir jou, en hulle ...”

Lucky het die onkoloog se term sy eie gemaak: opdraande stryd.

Wat hy geweier het om te aanvaar, was Leon se galgehumor in die tyd toe hy nog die krag gehad het om ’n ordentlike gesprek te voer: “Eendag sal jy vir jou vrou en kinders kan vertel jy het ’n pel gehad wat met ’n klein oumansmoesie op sy neus gebore is. Eendag het die dokter besluit dat ’n tiener nie met so ’n oumensding op sy gesig moet rondloop nie, toe word dit uitgesny. Drie jaar later was dit ’n melanoom, die vinnigste soort velkanker aan die mens bekend. En so kon jy en jou pel toe nie saam varsity toe gaan nie. Eendag sal jy vir jou kinders van twee uphill battles vertel, jou struggle en jou pel s’n. “Dat jou pel nie aan ’n melanoom op sy neus wou doodgaan nie ...”

“En dat ék nie my kanse in die lewe waaroor ons by Phali & Lotz Funeral Services gepraat het, soos ’n klomp pasaangeërs in ’n krematoriumoond wou sien ontplof nie.”

“Kom sit hier, Lucky.”

Die toneel is onwerklik, onmoontlik. Weer en weer word dié oomblikke in die mens ingebeitel, ingekerf. Iewers kry jy jou beurt; iewers is jy die sandsteen, die ma wat alles sien kom, die een wat wil breek en nie mag nie.

“Dink jy my chemo gaan werk?”

Die kontrolepuntinhibeerders met hulle newe-effekte, die noukeurig-geteikende terapieë, die interferon, die Temodar en DTIC, die biochemotarapie-eksperiment. Dit kan sy tumors laat krimp, Mevrou, maar die prognose by fase 1V ....

“As jy nie jou uphill battle geveg het nie, Bra ... As jy dit nie gedoen het nie, was jy dalk nou al jammer.”

Hulle gesigte is na aan mekaar; waar paaie uitmekaargaan, fluister dié wat ’n rukkie lank saam geloop het, hulle woorde vir mekaar.

“En fees must fall, Lucky?”

“Black Lives Matter in die VSA, die Slut Walk teen verkragting ... Dit het mense laat dink. Dit is die begin van verandering: om mense aan die dink te kry. Partykeer werk dit wat mens waag, partykeer nie. Geen protesoptog in die wêreld kon keer dat die Amerikaanse bondgenootskap Irak sou inval nie.” 

Hulle het die pad tot by hierdie plek geloop. Hulle grootworddorp was in die middel van oukakiebruin wintervlaktes, ’n onbelangrike gehuggie met ’n kerk in die middel daarvan, ’n laerskool en klein biblioteek. Hulle het lank geglo dat dit die middelpunt van die aarde is, die wêreld. Lucky het later deur die skrefies na buite begin kyk en prokureurs, advokate en hofsale anderkant die vlaktes gesien.

 Leon het teen sy neus vasgekyk. So het hy op ’n dag, lank voordat hy na hierdie plek gebring is, gesê.

“Ons gaan dit máák werk,” hoor sy Lucky sê. “ Jy gaan jou fight wen, Bru.”

Natuurlik glo Lucky homself nie meer nie.

Haar seun is moeg, die opdraand is vir hom te steil. Sy stem is soos sy oë: besig om weg te raak. “Eintlik is alles in die lewe ’n uphill battle. Gaan doen jou march, Bra. Voluit.”

Hoe woedend was sy nie oor die verwoesting gewees nie. Die ondankbaarheid, die onverantwoordelikheid van die studente, die disrespek! Maar vir Leon kon sy dit nie sê nie; hy was te siek, sy stryd was te groot.                                

Lucky staan op. Die hande wil nie laat los nie. Dit is asof ’n sterker mag hulle van mekaar af moet losskeur.

Hy loop by die laaste kamer van die kankersaal uit, die sterfkamer. Haar seun draai sy kop, lig sy hand asof in ’n klein saluut. Sy lippe, sien sy, begin weer bars. Hy haal weer vlak asem; dit gaan ’n lang nag wees.

Ek gaan aan ’n moesie op my neus sterf, Lucky. Aan velkanker. Die melanoom het hom nie laat keer nie; die kanker is my hele lyf vol. Niks kan dit stuit nie. My chemo werk nie.

Lucky maak ’n gebaartjie in haar rigting, vlug buitentoe.

#FeesMustFall skreeu die woorde op hemp. Sy rug is krom soos dié van ’n ou man wat met ’n swaar bondel op sy skouers oorlog toe gaan.

The post Chemo appeared first on LitNet.

Tannie Hessie en die koorsblare

$
0
0

My mens, ek en ou mister Babinski wat die antieke winkel het, daar tussen die sentrale en die poskantoor, sit nou die dag op sy rooi stoep en gesels.

Ek het weer op die lekker leunstoel gesit wat ek baie eerder in my voorkamer sou wou hê, maar hy wil heeltemal te veel vir die ding hê.

Die ou man het so skelm streek in hom. Hy loer orals op die klein plekkies waar hy rondkerjakker na die mense se antieke meubels. Ewe hulpvaardig verneem hy of hulle van die meubels wil verkoop. As hulle wil, bekyk hy die stuk van bo tot onder terwyl hy deur sy dik snor brom. Dan sê hy met groot spyt in sy stem dat dit nie veel werd is nie, maar hy sal uit die goedheid van sy hart vir hulle ’n goeie prys gee. Mense trek maar swaar na die droogte en die peste en enige onverwagte geldjie is welkom, want kinders moet eet en nuwe skoolklere kry. Hy koop dit dan by die stomme mense teen ’n appel en ’n ei en verkoop dit ten duurste aan die ryk boere in die omgewing.

Mister Babinski bly vingeralleen in die woonstelletjie bo-op die winkel. Hy het blykbaar ’n vrou gehad, maar dié het hom gelos en met die ryk Griek weggeloop wat die kafee op die hoek gehad het.

Siestog, mister Babinski is eintlik ’n goeie mens, ek veronderstel “business is business”. En vol wyshede.

“Miesies Benson ...” sê hy die dag vir my en trek sy bolip op sodat sy dik snor tot so teen sy neus gaan. Dan byt hy weer sy onderlip vas en speel met sy bolip oor sy baard. Met dié sien ek dat daar op sy bolip ’n koorsblaar sit wat hy kort-kort nat lek. Dis ’n aardigheid om te aanskoue. Lyk kompleet soos een van daai oerdiere. Ek hoor hulle sê om ’n man met ’n snorbaard te soen is soos om sop met ’n vurk te eet, jy kan net nie genoeg kry nie. Ek weet darem nie. Met daai ding op sy bolip …

“…hierdie nuwe teachertjie in die dorp is net moeilikheid,” sê hy.

“Haai oe, mister Babinski. Hoe bedoel jy? Ek hoor dan sy doen sulke knap werk. Sy doen niemand kwaad nie en sy doen so goed met die Rudolph-kind wat so sukkel om te spel.”

Mense, ek moet sê, ek hou nie daarvan om na stories te luister nie, maar hierdie storie kan vir my vat, ek sien hom.

“Yes, sy stap altyd hier verby met daai mooi rokkies aan. Sy kyk dan so onder haar kuifie deur na my kant toe. Dit laat my mos vreeslik ongemaklik voel. Party kere kom sy hier in en kyk na my ou meubels, maar nog niks gekoop nie. Loop van vertrek tot vertrek, beloer, begrou en bekyk. Dis ’n ongemaklikheid, miesies Benson.”

Dat die ou Jood vir my miesies Benson sê is ’n aardigheid. Hoekom noem hy my nie maar net Hessie nie?

“Mister Babinski, hoe weet jy dat sy onderlangs loer? Hou jy haar dan so fyn dop?”

“No, no miesies Benson. Ek sien wat ek sien.”

Ek besluit om die ding te los en nie verder met die ou Jood te stry nie. Dit raak soms net ’n onaardigheid.

“Miesies Benson, ons moet so thankful wees,” praat hy in ’n ander rigting, “kyk hoe mooi sit die wolke in die hemel en daai blitse sê dit gaan enige oomblik reën. Die boere het dit so nodig.” Mister Babinski was nog aan die praat toe is ek met die stoeptrappies af huis toe. Ek wou nog raad gee met die seertjie op sy lip, maar die reën wat aangerol kom het toe my kop heel oorgevat.

Hy roep nog agterna, maar as die reën eers val dan kan ek maar al my gedroogde perskes wat op die sifdraad in die son lê, weggooi. Hulle is so amper-amper droog.

By die huis gekom, help die oom om die sifdraad onder die dak in te kry.

Hierdie jaar is ’n wonderlike jaar vir perskes. Ons lê behoorlik in, kook konfyt, droog uit en eet sommer net so vars. Veral daardie Rooiwangperskes is heerlik vir konfyt. Almal wat perskes werk maak vir my pitte bymekaar. My oorle' ma het altyd gesê ’n mens gooi niks weg nie. Alles het ’n doel en kan gebruik word.

Toe die sifdraad veilig onder die afdak is en ek besig raak met aandete beginne vreet die juffroutjie wat so vir mister Babinski loer. Sy is ’n mooie jong dametjie wat enige man kan kry en ou Babinski … wel laat ons maar net sê hy is nie ’n oil painting nie.

’n Paar weke gaan verby, die perskes is mooi gedroog en verkoop op die dorpsmark toe ek een Vrydagmiddag toevallig die skoolklok hoor lui vir huis toe gaan. Die kinders stroom uit soos beeste wat vir weke lank op kraal gestaan het en nie nat of droog oor hulle lippe gehad het nie.

My tuinhekkie is nie te ver van die skool af nie en as ek mooi staan kan ek die skool sien.
En net soos ek sit met ’n koppie tee om asem te skep voor die brode in die oond gaan, kom die juffroutjie ook uitgestap.

Mens, te pragtag en so fyn. Sy het ’n bont sonrokkie aan met ’n mooi kragie, ’n stylvolle hoed met ’n slap rand wat so oor die een oog hang en plat toetoonskoene. Netjies. Prentjiemooi … lyk soos ’n filmster soos sy stadig straat-af stap onderdeur die peperbome.

Soos sy voor my plekkie verbygaan groet sy vriendelik met ’n “middag Mevrou”.

“Middag Juffrou,” groet ek terug. Sulke mooi maniere.

En terwyl ek gou gaan kyk of die plante by die hekkie nie aan’t verdroog is nie, kyk ek agter die oulike kind aan soos sy in mister Babinski se winkel se rigting stap.

My mens, daar aanskou ek ’n ding. Mister Babinski vlieg by daai deur uit asof die duiwel self agter hom aan is.

Soos die juffroutjie nader aan die antieke winkel stap, staan mister Babinski al nader aan die kant van die stoep. Dan kom die juffrou nog nader en hy gaan sit eintlik met sy een boud op die rooi muurtjie van die stoep en leun na die blombedding se kant toe aan die agterkant van die muurtjie.

Juffrou kom aangestap en mister Babinski loer.

Die juffroutjie kyk nie eens links of regs nie, sy stap net aan en teen hierdie tyd lê mister Babinski behoorlik agteroor en loer so aan die agterkant van die sementhoekpilaar verby.

“Haai tog, dat my oë tog nou dit moet aanskou,” sê ek so in my binneste. G’n wonder die man het sere op sy lip nie. Dis sy hormone wat hom jaag. En net daar stoot ek my hekkie oop.

Die hekkie skreeu met die oopmaak en skreeu met die toemaak.

Ek suiker toe in die grondpad af, verby die perskebome en dan die peperbome tot ek by mister Babinski se winkel kom.

Teen die tyd wat ek daar aankom sit hy ewe onskuldig op my stoel en lees kamstig ’n Engelse koerant.

“Afternoon, middag miesies Benson,” groet hy en sit die koerant op sy skoot neer en haal sy bril met die halwe lense af.

“Middag mister Babinski,” groet ek, “hoe is besigheid, mister Babinski?” vra ek.

“Oh, very quiet. Dis vreeslik stil.” So asof ek nie Engels kan verstaan nie.

En terwyl mister Babinski nog so praat oor sy winkel wat stil is, sien ek daardie rooi kol en die blasie op sy bolip. Die ding lyk soos iets wat op sy gesig aan’t groei is en ek kan dit deur die baard sien. Dit trek my oog soos ’n hond se slagyster op ’n sementpaadjie.

“Why are you looking at me like that? As miesies Benson nou so vir my kyk?” vra hy ongemaklik.

“Mister Babinski, ek wil my nou nie bemoei met jou dinge nie en ek is ook nie iemand wat ongevraagd raad gee nie, maar daai seertjie op jou bolip beteken jou binneste is nie lekker nie.”

“Nooit, never. My insides are fine. My binnegoed makeer niks.”

As mister Babinski op sy senuwees raak praat hy eers Engels en sê dan dieselle ding weer in Afrikaans. Dit het net my vermoede bevestig dat die juffroutjie se verbystap sy kliere skoon opgeklits het.

“Ek ken ’n koorsblaar as ek hom sien. Wag net hier, ek kom,” sê ek toe.

Ek stap vinnig terug huis toe, kry ’n paar perskepitte wat ek in ’n ou koffieblik in die stoorkamer hou.

Die blou botteltjie met my “natuurmiddel” soos ek dit nou maar noem wanneer ek die oom se natuur so bietjie moet afbring, staan altyd gereed. My mens, ek wil nou nie graag sê wat daarin is nie, maar ek sal dit noem, ter wille van ou Babinski. Ek trek ’n blikkie doepa en duiwelsdrek op ’n bottel kookwater en dit word ingegee – een eetlepel drie keer per dag, voor maaltye.

Ek kry ook die bottel kasterolie in my kombuiskassie en daar stap ek terug na mister Babinski se antieke winkeltjie toe.

“Kom, mister Babinski, kap hierdie pitte vir my oop. Ek wil so drie of vier pitte hê. Moenie hulle fyn kap nie, maak net seker dat jy die binnekant mooi uithaal,” order ek die man.

Mister Babinski kap die perskepitte en ek maak die binnekant van die pitte fyn. Ek meng dit in ’n enamel-skotteltjie saam met ’n bietjie kasterolie en sit dit vir hom in ’n klein botteltjie.

“Ditsem. Nou vat jy hierdie salf en smeer dit aan op jou nugter maag, elke oggend,” beveel ek hom. "En dan vat jy twee eetlepels van die natuurmiddel, drie keer per dag voor ete, gemeng met bietjie lou water en bietjie bruin suiker vir jou binneste."

“Moet ek dit op my maag smeer?” vra die man vir my.

“Nee man, moenie stuitig wees nie. Dié smeer jy aan die koorsblaar, maar op ’n nugter maag. En dié drink jy vir jou …” ek moet eers aan die woord dink  “... insides. Jy moet eers aansmeer en drink, dan kan jy ontbyt eet,” probeer ek die storie verduidelik. Ek wou dit nog in Engels doen, maar ek weet nie wat 'nugter maag' op Engels is nie.

Ek los die mengsel by hom en toe ek so met die vier trappies afstap, kom juffroutjie die trappies op.

O mens, dis asof daardie mister Babinski ’n toeval kry.

Ja, mister Babinski, dink ek so in die wegstap. My populierblaarmengsel wat in die bokvet gemeng is het genoeg skop om jou kliere onder beheer te kry … Jou emosionele senuwee het ’n goeie ruskans nodig en dalk koop die juffroutjie iets as jy nie heeltyd vir haar loer nie.

Halfpad huis het ek begin giggel en teen die tyd wat ek in die kombuis kom het ek ’n maag wat behoorlik pyn van die lag.

The post Tannie Hessie en die koorsblare appeared first on LitNet.

Die kat

$
0
0

Hoe dit gebeur het dat Kat my verantwoordelikheid geword het, weet ek nou nog nie. Dit was een van daardie vinnige transaksies tussen ma en kind en voor jy jou kon kry, besef jy dat jy ingeloop is. Die ratsheid van drukkies, redenasies en komplimente wat jy eers agterna as kulkuns herken. My kinders is goed daarmee …

So gebeur dit dan dat Kat na die Desembervakansie nie deel is van die bagasie terug universiteit toe nie. Die swart, benerige en uiters verbale kat, maak haar tuis in my kothuis om te bly. Ek verstaan die kat nie en die kat verstaan my nie, maar dit dompel my nie in ’n eksistensiële krisis nie. Ek verstaan mý ook nie en in hierdie stadium van my lewe, verstaan ek nog minder wat mense dryf om te wees soos wat hulle is. Daaroor wonder ek soms wél as insomnia sy swart mantel oor my kop trek. Of ek luister na my eie asemhaling en verwonder myself teensinnig aan die feit dat geen kognitiewe denke of besluit, die liggaam se drang om te wil leef kan uitkanselleer nie. Ten tye wat die siel kies om nie meer te wil wéés nie, bly die hart getrou suurstofryke bloed pomp. Bly asemhaal ’n onwillekeurige reaksie van ’n liggaam wat tot oorlewing geprogrammeer is.

Kat praat in tale en sy leer my ook in tale praat. Wat de hel soek jy? Kos? Water … of het jy nou bloot jou gat gewip oor ek jou alleen by die huis gelos het? Mettertyd begin ons mekaar se tale tog ontsyfer. Kat het haar eie fiemies. Kat eet nét as sy sien dat ek ’n vars skeppie kos in haar bak gooi. Kat drink water in die bad, en dan ook net as die water nóú getap word. En net ’n kleinerige dammetjie want Kat hou nie van nat voete nie.

Ek het ook my eie fiemies … Ek hou nie van ’n skuurdery nie en as Kat saam met my wil nuus kyk, moet sy uit my spasie uit bly. En ek verdra nie ’n saamslapery op een bed met ’n dier nie. Daai een verstaan Kat egter nie en net soos die kinders, kry sy later tog haar sin. Sy hou haar darem by die voetenent.

Synde die slapery op een bed, mag Kat nie buite speel nie, want by vlooie in die bed trek ek ’n besliste streep in die sand. Die buitehonde help om Kat binne te hou. Die verste wat sy dit waag, is om op die stoep se reëling te sit en die wêreld vanuit haar superieure hoogte te bekyk. Jy verbeel jou verniet, daag die honde haar uit! ’n Keer of wat is daar ’n onderonsie by die voordeur as Kat wil inkom, maar andersins bly hulle uit mekaar se pad.

Op ’n dag is daar fout met Kat. Sy kerm die aakligste geluide op ’n desibelhoogte wat my nerwe stukkend vreet. Sus Google … Kat is op hitte, Ma! Ek vererg my terstond. Hoe op hierdie aarde hou ek nou ’n hitsige kat in die huis opgesluit? Vir klein katte sien ek beslis ook nie kans nie en ek visualiseer die verdrinkingsproses in die swembad. Na ’n week van ween en tande kners, is Kat se origheid verby en dit vat my nog ’n dag of wat om haar te vergewe.

Dit blyk egter ’n herhalende probleem te wees … Kat is weer hitsig belus en ek is beneuk oor die kleinkinders wat die stoepdeur oop los as hulle kom kuier. Kat glip soos blits uit en selfs die honde kry haar hierdie keer nie gestop nie. Drie uur die nag kom krap sy aan die venster om in te kom. Ek skel haar vir al wat sleg is, maar sy trek net haar oë op vermakerige skrefies en maak haar salig tuis by my voete. Die klein slet!

Die natuur laat hom nie voorskryf deur wensdenkery nie, en ek gooi ’n blinde oog vir Kat se dikker wordende middellyf. Jy kry te veel kos, raas ek, maar Kat vreet en slaap haar dae salig om. Kat gaan babatjies kry, roep Sus kloekend uit tydens ’n af naweek. Nie in mý huis nie, swets ek brommend. Ek laai haar so gou soos nou by die DBV af! Of by die buurvrou wie se gemmer mannetjieskat breëbors en uitdagend heen en weer op die grensmuur tussen ons erwe pronk.

Ek tel nie kalenderdae af nie en die verhouding tussen my en Kat raak strammer by die dag. Hoe dikker sy raak, hoe meer vervies ek my vir haar heiliger-as-jy houding. En ek mis happy hour … Kat se uitspattige spelery saans om nege wat retrospektief tóg die saaiheid van lang aande opgekikker het. Sy stel ook nie meer belang in die nuus van die dag nie en haar dragtige lyf word warm op die bed, dus kry sy nie meer haar lê in die waai van my bene nie. Ek mis die ekstra asem as ek snags wakker lê en na die drogbeelde teen die mure staar. En daaroor is ek ook die vieste in. Ek het immers kognitiewe besluite geneem om nooit weer afhanklik te raak van ’n tweede asem in my kamer óf in my kleinserige naby-spasie nie.

Een nag kom klim Kat tog in. Slaapdronk voel-voel ek na die bedlamp se skakelaar en maak myself gereed om haar goed die leviete voor te lees. Dis immers ’n ongeskrewe reël wat nog altyd strafregtelik afgedwing word. Sy hou haarself bó die beddegoed! Dis haar plek …

Ek pluk die kombers oop en my skrikvlakke spring in een asemteug hemelhoog. Die kombers val uit my dom hand om die gedoente te bedek. Wat doen ek nóú, pluk paniek aggressief aan verflenterde binnesnare. Bel ek vir Sus? Nee, dis twee uur in die nag, sien ek.

Ek bly versteen sit en paniek en woede los mekaar oorhands af. Ek dóén nie bloed en beserings nie! Vra enige iemand wat my ken. Deur die genade van Bo was daar nog altyd ’n buurvrou of vriendin byderhand om my kinders se kleintyd-beserings met salf en pleister te behandel. Nou sit ek met ’n kat wat besluit het dat my bed ’n kraamsaal is en ek het geen begeerte of behoefte om vroedvrou te speel nie.

Diere kry hulle kleintjies sommer in die veld, kalmeer ek myself. Hulle weet van nature hoe om te maak ... Die beste wat ek nou kan doen, is om in Sus se leë bed te gaan inkruip. Tog kry ek dit net nie oor my gewete om weg te stap nie. Daar is nie iemand anders om te help of raad te gee nie en dit is nie sommer net ’n verdwaalde straatkat wat op my stoep wil kleintjies kry nie. Dis Kat ... Ek byt op my tande en lig die hoek van die kombers weer stadig op.

My oë pas stadig aan by die skemer van die veilige hawe wat sy self kom kies het. Ek skuif dieper en nader onder die beddegoed in … Kat se oë glim moeg, maar dapper en triomfantlik. Sy draai op haar rug om vir my te wys … Teen haar maag lê die klein rotagtige dingetjie, mooi skoon gelek en reeds aan ’n tepel geheg. Kat druk haar kop liefderyk teen my vinger wat oor die ragfyne rugstring van die kleintjie vryf.

Daar is ’n vreemde gorrel-geluid agter in haar keel. ’n Primitiewe taal wat ek dadelik eien as barensnood. Oeroue woorde van sus en aanmoediging glip deur my droë keel soos ek deel word van hierdie magiese klein tafereel van lewe gee. Ek onthou opeens ook elkeen van my eie kinders se geboortes. Die pyn en doodsbenouing, maar ook die liefde met eerste oogopslag. Ek onthou die reuk van melkasempies en babapoeier … Die melk wat inskiet as ’n roosknop mondjie snuffelend soek.

Ek huil … oor ek moeg is en nog nie klaar geslaap het nie. Ek huil oor die volmaakte beplanning in dag een tot ses van die Skeppingsverhaal en dat ek deel kan wees van die gestalte daarvan. En ek ween onbeheersd oor my eie kinders se pa wat na agt en dertig jaar gekies het om soos ’n jagse mannetjieskat die pad te vat …

Uitgehuil vee ek my trane met die laken af en ek weet dat ek lankal só moes gehuil het. So totaal aards en in die oomblik. Sonder om voorgeskiedenis te probeer herskryf en sonder om angstig te beplan aan die toekoms. Gestroop van dogmatiek en ’n eksegetiese uitleg van voorafbestemming en dat daar iets beters wag vir dié wat glo, want soms is die lewe net pleinweg nie fair nie!

Ek krom my lyf om Kat en die nuwe lewe wat soos ’n naelstring tussen ons lê en vir die eerste keer in ’n lang tyd, voel ek deel van die onmiddellikheid van ’n geheel vol diepte en ruimte wat verby my eie kleinserige grense strek. Ontspan my vel onder die aanraking van beddegoed en ek verbeel my dat ek en Kat tóg eenselwige tale sal kan praat, noudat sy ook ma is.

Al ek hou nie eers van katte nie …

The post Die kat appeared first on LitNet.

As die naaimasjien die fan tref

$
0
0

Hesmarie Jordaan is nie ’n mak mens nie. Puntenerig soos ’n ou wiskunde-onderwyser, vind fout met alles. So trots, dit grens amper aan hoogmoed.

Miskien het sy rede, want haar man is een van die vernaamste boere in die Middelburg-distrik en sy self kom van ’n baie welaf familie. Vir haar man is Hesmarie die perfekte trofeevrou. Sy dra klere van grênd boetieks, laat doen haar hare en naels twee keer ’n week en verlaat nooit die slaapkamer sonder ’n gegrimeerde gesig nie. Hulle wine ’n dine saam met die elite in die kontrei, meestal met Hesmarie aan die stuur van sake. Die foutlose gasvrou met haar gourmetdisse en oordadige oorsese wyne.

Hesmarie Jordaan is my skoonma. Ek het haar altyd op haar naam genoem. Nie tannie Hesmarie of Ma nie, net Hesmarie. Want agter al die fasade van rykdom, roem en boetiekuitrustings is sy vir my ’n doodeenvoudige pyn in die gat.  Omdat ek van Pick n Pay Clothing se rakke af aantrek, verkies om te werk eerder as heeldag by die huis te sit en teepartytjies hou en nie genoeg guts het om my man se kredietkaart my slaaf te maak nie, is ek nie haar idee van ’n perfekte skoondogter nie. Ek is getroud met een van haar twee seuns. Die oudste boer saam met sy pa op die familie se spogplase. My man het, goddank, besluit om in Swellendam te kom boer. Ver genoeg van Heksmarie Jordaan en haar gemanikuurde vingertjies wat gedurig krap waar dit nie jeuk nie.

Oukei, ek gee toe, Hesmarie het darem een goeie eienskap ook: sy is baie erg oor haar kinders. Versmoor hulle met liefde en beskerm hulle soos ’n regte mammabeer. Die mammabeer is nie skaam om vir haar bababeertjies se vroue te grom nie. Die kos wat ek maak is nie voedsaam nie, die vriende (wat ek kastig gekies het) is nie geskik vir ons nie en my huis is nie netjies genoeg na haar sin nie. Weet nie juis hoekom sy my daarop moet wys nie, want sy self lig nie ’n hand in haar eie woning nie. Los alles vir die dosyn bediendes. Miskien is dit wat sy dink ek vir my man moet wees. ’n Bediende wat sý kan hiet en gebied om om te sien na die behoeftes van haar klein kroonprins.

So tussendeur al haar streke en dinge was Hesmarie darem al een keer in haar lewe nice met my ook. Twee jaar terug, met ons troue. Die laaste maand voor die troue was chaos. Daar was baie los drade en ek het gespartel om alles klaar te kry. My ouers en bruidsmeisies is in Brackenfell waar ek grootgeword het. Al was hulle baie gretig om te help, was die afstand tussen Swellendam en die Kaap net te groot en het dit gevoel of ek in elk geval alles alleen doen. Vir Hesmarie het ek niks hulp gevra nie. Al het sy heeltyd gesnoep en gevra of sy hand moet bysit. Ek het haar so ver moontlik van die reëlings en beplannings probeer hou. Sy het haar oudste seun se troue so bekruip en oorgeneem. Sy spog (of kla) vandag nog oor al die baie werk wat sy moes doen vir die troue van die jaar. Ek het nie kans gesien vir Hesmarie se oorywerige “behulpsaamheid” nie. Veral nie toe die naaimasjien die fan tref drie weke voor die troue nie. Ja, gewoonlik is dit die pôpô wat die fan ingeslinger word, maar my krisis het niks met vrugte te doen gehad nie.

Al die reëlings was so te sê klaar, dit was nog net die drie bruidsmeisies se rokke wat moes afgehandel word. Infinity-rokke was toe baie gewild. Deur aanbeveling van ’n goeie vriendin het ek gebruik gemaak van ’n rokkemaker in Bloemfontein. Sy het pas haar besigheid begin, maar sy was so vriendelik en gaaf oor die foon en die prys was verby billik. Die deposito is betaal en die rokke was goed op dreef. Maar toe laat weet sy my op ’n dag dat een van haar werknemers oornag die pad gevat het en dié is vort met van die kliënte se bestellings. Ek is toe wraggies een van die unfortunate kliënte. Daar was ’n paar slapies oor voor my troue en ek was minus my bruidsmeisierokke! My moed was in my skoene. Asof troue reël nie genoeg stres veroorsaak nie! Ek het die vrou se storie geglo en haar amper meer jammer gekry as vir myself. Sy het belowe hulle sal hul bes doen en deurnag werk om binne vyf dae my bestelling oor te doen en gereed te hê vir pos.

Vyf dae het gekom en gegaan. Ek het nie geweet watter kant toe nie. Dit was twee weke voor die troue. Vir die bruidsmeisies en my ma het ek niks gesê nie, gehoop ek kon die dilemma uitsorteer op my eie. Na dae se stilbly en broei oor die ding pak ek een aand na werk snot en trane by my verloofde af. Sy voorstel was dat ons sy ma moet vra vir hulp. Sy ken mos ’n paar ontwerpers wat vinnig ’n plan sal maak. Ek wou nie. Het hardegat vasgesteek by die  rokkemaker van Bloem. My verskoning was dat ek nie die deposito wou verloor nie. Al moes my bruidsmeisies in swartsakke by die paadjie afstap, sou ek steeds nie Hesmarie Jordaan se hulp vra nie. Ek het die trane vinnig weggevee en met nagemaakte kwaaigeid my aanstaande man verseker dat ek wel die rokke by die vrou sal kry. Kom wat wil.

Ek het gebel, ge-epos, op Facebook en WhatsApp boodskappe gelos, maar ek kon net sowel probeer kontak maak het met ’n dooie mens. Die rokkemaker van Bloemfontein was so stil soos ’n Sondagskoollokaal op ’n Maandagmôre.

Die drama met die rokke het my kop seergemaak. So seer ek moes een oggend afvat by die werk en tuisbly met ’n helske migraine. Dit was twaalf dae voor die troue. Ek was nog in my pajamas en voor die rekenaar. Spree en Takealot moes my help met die nuwe soektog vir bruidsmeisierokke.

’n Klop aan ons voordeur het my aanlyn soektog onderbreek. Die hand wat geklop het, behoort toe aan ’n afleweringspersoon van die een of ander koeriermaatskappy. In sy ander hand was ’n groot boks. Ek het vir die pakkie geteken, die man bedank, gegroet en die deur toegemaak. In die kombuis het ek gesien die pakkie is van Hesmarie af. En dit was aan my geadresseer. Vreemd, want sy stuur gewoonlik net pakkies vir haar seuntjie. Bederfies met biltong of duur aftershave. Maar hierdie boks was van haar aan my. Ek het die naaste groentemes gegryp en die boks getakel. Pleks dat ek sit voor ek die boks oopmaak, want toe ek die inhoud sien, val ek byna agteroor.

Dit was my bruidsmeisies se rokke. Al drie van hulle, presies soos ek hulle bestel het by die rokkemaker van Bloem. Saam met die rokke was ook ’n jammersêbriefie van die rokkemaker. Sy het om verskoning gevra vir die oponthoud. Vir die ongerief van die situasie het sy my verseker dat ek nie die balans hoef te betaal nie.

My mond het oopgehang, die migraine was vergete. Ek wou nie, maar ek moes. Ek het dadelik vir Hesmarie gebel. Hoe, wat, wat, waar en wanneer?

Ek weet: sy het ’n luisterapparaat in ons huis laat inplant, so sy weet presies wat alles gedoen en gesê word. Dis hoe sy toe weet dat die rokke nog nie klaar was nie. Toe klim sy op haar besem, vlieg Bloemfontein toe, wurg die rokke uit die rokkemaker uit en toor die arme vrou in ’n veldrot.

Nee, dit is darem nie heeltemal waar nie. Ek neem aan haar seuntjie moes haar, agter my rug, van die rokke vertel het. Hy was tog die enigste persoon wat daarvan geweet het. Hesmarie het deurgery Bloemfontein toe en die rokkemaker gaan aanvat. Die rokke was nooit gesteel nie, sy het net van die bestelling vergeet en toe sy daarmee moes begin, het sy nie geld vir die materiaal gehad nie. Vra ek jou, waarvoor betaal mens dan deposito’s? Wat Hesmarie als vir die vrou gesê (of toegesnou) het, sal niemand weet nie, maar ek het my rokke betyds gekry en hulle was foutloos.

“Niemand hoef hiervan te weet nie,” het Hesmarie oor die foon gesê, “daar is net een voorwaarde.”

“En dit is?” wou ek versigtig weet.

“Van nou af noem jy my Ma.”

Ek het nie gestry nie, was maar net te dankbaar.

Die troue was pragtig perfek. Geen verdere dramas het opgeduik nie. Niemand het geweet van die marakkas met die rokke nie. Die geheim was myne en Hesmarie s’n. Die wenkbroue het wel vreeslik gelig toe ek dadelik die woordjie “Ma” vir Hesmarie gebruik. Ek self was verbaas oor hoe maklik ek dit kon regkry.

Hesmarie is steeds haar ou self. Niks het verander nie en as ek vandag aan die troue en die bruidsmeisierokke terugdink, kan ek skaars glo dat Hesmarie tot die redding gekom het. Die woordjie “Ma” het nie veel aan haar verander nie. Vind steeds fout en soek skoor vir die eerste span. Ek verduur haar. Maar in my hart voel ek tog dat sy wel tot ’n moederfiguur in staat is vir haar onperfekte skoondogter. Sy het immers al een keer haar mammabeerkostuum ook vir my aangetrek, die dag toe die naaimasjien die fan getref het.

The post As die naaimasjien die fan tref appeared first on LitNet.

Anna

$
0
0

Anna van die Noord-Kaap doen dinge met oorgawe. As sy die Here soggens prys daar in die sitkamer oorkant die straat, dan prys die voëls en die honde en die posbode van die hele buurt saam. As sy ’n skollie bespied vanuit haar uitkykpunt, is versterkings binne sekondes op die toneel. As sy aan jou dink, doen sy dit elke dag en word jy getrou daaraan herinner deur ’n mooi versie of bossie blomme op WhatsApp.

Dié aand kon Anna ’n konsert met skoolkore en -orkeste bywoon, nadat bouwerk die oorspronklike kaartjiehouer iewers in die Moordenaarskaroo vasgepen het. En ’n groot deel van die genot van die aand was om Anna se onbevange en opregte waardering daarvan op die stoel langs my te beleef. Sy sit amper op die punt van haar stoel en bekyk en beluister die kunstenaars en lewer so nou en dan entoesiasties kommentaar of vra ’n vraag. Niks ergers as die mense wat kug, hoes of snuif, of die klein kindjie wat kriewel of die fotograaf wat sy toerusting verskuif of mense wat foto’s op hul selfone neem van die wonderlikhede wat daar op die verhoog afspeel nie.

Maar sal die ou suurknol wat voor ons sit, skielik omdraai en sis omdat hy dit net nie meer kon verduur nie. Dis asof Anna skielik die helfte kleiner geword het langs my en die seuntjie op my skoot met ’n naald geprik is en ’n vulkaan in my opborrel. Daar is maniere, en daar is maniere om dinge wat jou nie aanstaan nie, aan te spreek. Maar vir Anna van die Noord-Kaap wat die Here prys met blye galme, gaan jy nie so in my teenwoordigheid afjak nie. For that matter, al is jy die hoofhaan oor honderd, gaan jy niémand so in my teenwoordigheid toesnou nie. Toe die koor asem skep is ek reg in sy oor: dis mý gas en sy geniet en waardeer die musiek met oorgawe.

Toe die koor drie nommers later met “Ukuthula” wegval, het Anna weer uitgerys soos ’n baksel mosbeskuit na die tweede knieslag, en dis net-net of sy uit volle bors wil inval saam met die koor. Want, soos Anna later in die kar vir my seuntjie sê wat verontwaardig die voorval met die suurpruim weer ophaal en sê die oom was darem regtig lelik met haar: die een wat die seerste gekry het, was die een wat lelik opgetree het.

The post Anna appeared first on LitNet.

Viewing all 428 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>