Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all 432 articles
Browse latest View live

RE:

$
0
0

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Ek erken hiermee ontvangs van die kurrikulumuitleg, handboeke en leesboeke. Soos u versoek het, sal ek weekliks verslag doen oor haar vordering met taalvaardighede, kuns-en-kultuur-opdragte en wiskunde. Verder sal ek ook laat weet oor haar gesondheid en algemene gemoedstoestande.

Na ons vorige gesprek in u kantoor oor my bevoegdheid om tuisonderrig vir Anna te gee, wil ek sommer nou al laat weet hoe dit met haar gaan. Ons het onlangs al leesboekies verbrand en om die vuur gedans uit pure vreugde en die bevrydende besef dat sy nooit weer sulke twak hoef te lees nie. Susan kry ’n nuwe pop. Regtig? Hier is ’n voorstel vir ’n meer relevante verhaal. Susan kry nuwe hoop vir die lewe na sy gediagnoseer is met Arterial Septal Defect. Ek lees daagliks vir haar voor uit Cormac McCarthy se The road. Heel gepas vir ’n pa se stryd om vir ’n kind ’n beter lewe te probeer gee. Sedertien skryf Anna haar eie stories, en haar vaardigheid itv storielynvorming en karakterisering is noemenswaardig. Kuns-en-kultuur-begrippe is nog in die beginstadium aangesien daar geen sulke begrippe in die vyf jaar wat sy in u skool was, gevestig is nie. Die “kuns” in u kantoor (aka selfhelp-printouts van Pinterest af) dui op die onderwysdepartement se kollektiewe beskouing van wat “kreatief” is. Haar wiskunde het dramaties verbeter en sy tel al soos ’n droom. Vandag is ons al by 34 – heel toevallig die aantal dae wat ek haar al tuis onderrig. Dit is ook die aantal dae wat haar “maatjies” anderpad kyk as sy nader kom.

Groete

John

 

Re: Project icecream

John, I need an extra 5k tonight or the deal is off. Don't fuck around, 'cause I don't.

Mister X

 

RE: Anna peetouers

Yebo

Ek weet actually nie hoe om dankie te sê vir julle bereidwilligheid om Anna se peetouers te wees nie. Dis moerse lekker om te weet jou eie broer is up for it. Na Deirdre se dood het ek ’n paar klippe laat val en een hiervan is om te verseker dat Anna oukei gaan wees indien iets voorval. Ughh! Klink aaklig om dit so te sê, maar you know what I mean. Aangeheg is al die docs vir die lewensversekering stuff. Jy moet net teken en terugstuur. Jammer vir die admin.

Ek skuld jou ’n bottel Jack.

Lekker

John

 

RE: Project icecream

Mister X

The agreement was that you get everything sorted for the 15k cash I gave you last week. If this doesn't go through, rest assured that I will spill all the beans and track you down. This is about my kid. So please get this sorted asap.

John

 

My allerliefste, Deirdre

Dit is so verfrissend om ’n brief te kan skryf en alles uit te blaker. Verskoon maar as dit jou swaarmoedig maak daar op die ander plek in die heelal. Dinge is maar net heavy.

Ons mis jou. Ek en Anna speel gereeld jou gunstelingmusiekstuk: Tchaikovsky se “Dance of the Sugar Plum Fairy.” Sy trek haar balletrokkie aan en ek buig laag, neem haar hand en dan is ons op ’n groot verhoog. Sy raak so gou moeg dat ons bykans na elke draai gou ’n break moet vat vir ’n bietjie asemskep.

Die dokter sê daar is ’n 90%-kans dat dit hierdie keer gaan werk. Die chirurg wat laasjaar die botch job gedoen het, die een met die mooi hemde en spikey hare … hy was bloot oneerlik. G'n mention van die risiko's nie. Ek het elke liewe sent wat ek gehad het, vir hom gegee. En by almal geld geleen. Ons pensioen is in sy sak. Ek mis jou kalm hand op my skouer. Jy sou geweet het wat om te doen.

Soos ek hier sit en skryf, hoor ek hoe swaar sy asemhaal. Ons leef maar van two-minute noodles en tuna. So nou en dan is daar geld vir bacon en eggs en ’n bier vir my.

Ek is verskriklik lief vir jou en wanneer Anna vra wat met ’n mens se siel gebeur na jou lyf dood is, dan tel ek haar op my skoot en begin maar neurie. Liefde kan ’n leemte vul, maar nie ’n gat in ’n kind se hart toestop nie. Die operasie is oor ’n paar weke. Ek is bang. So, so bang. Met wie gaan ek dans as die operasie uitfok?

John

 

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Dit gaan baie goed met Anna. Sy is steeds moeg, maar ons streng akademiese roetine hou haar aan die gang.

Ons dae begin douvoordag om nege-uur. Sy kom by my kamer in en slaan my met ’n kussing oor my kop en spring op die bed. Iets wat ons beide weet totaal en al aanvaarbaar is in ons huishouding. Dan volg die hersiening van belangrike lewenskeuses. Rwandese koffiebone moet altyd growwer gemaal word as Ethiopiese bone. Hierna volg dagbeplanning en droomuitleg. Leuens en verdraaiing van werklike drome van die vorige aand word aangemoedig vir die doel van absurditeit en karakterontwikkeling.

Elke les word noukeurig nagesien en punte word gegee vir vordering. Swak storielyne en herhaling van vorige drome word swaar gestraf met drie bladsye se dramatiese voordrag uit Graeme Smith se biografie. En ons werk ook pret by die strafproses in, byvoorbeeld: Elke keer wanneer die woord “bat” of “batting” verskyn, moet daar met gepaste klanke die swiervlug van ’n vlermuis uitgebeeld word.

Gebruik gerus hierdie werkswyse in u skool. Dit sal uitnemendheid verseker.

Groete

John

 

RE: John Testament vir Anna

Beste Ma en Pa

Dankie vir die teken van hierdie dokument. Julle is reg, dit is vreemd dat ek nie iets agtergelaat het vir Kobus nie. Hy is my broer, maar hulle het nie plek op hulle erf vir ’n 1998 Toyota Corolla met ’n uitlaatpyp wat meer rook as ’n staalfabriek nie. Die kar is max R15k werd en dit gaan direk na Anna se universiteitsfonds toe. Sy kry al my boeke, maar die selfhelpgoed wat tannie Sonja vir my elke jaar vir Kersfees gee en dan kom kyk of ek dit op my boekrak het, moet asb in die donkerste hoek van die aardbol opgeskeur en vertrap word. Verder kry sy maar goed soos die printer en die art deco bank in die sitkamer. O ja, Deirdre se trourok en haar trouring gaan na Kobus toe tot sy 18 is.

John

 

RE: Project icecream

John

We are good to go. But need the 5k. We got a guy in the office that needs to do the final clearance. He usually charges 10k to do the job. So count yourself lucky. You have until tonight to do this. Btw, should you decide to track me down or fucking open your mouth on anything … I know where you live. And I also know more about you than you think.

Mister X

 

RE: Bredell Property Management

Geagte meneer Bredell

Ek vra verskoning dat ek nog nie die huurkontrak vir volgende jaar vir u gestuur het nie. Weens persoonlike omstandighede gaan ek dit ongelukkig moet kanselleer. Die kontrak bepaal dat sou ek minder as twee maande kennisgewing gee, ek die helfte van die deposito verloor. Sal u asseblief so gaaf wees om die oorblywende R8 000 aan my terug te betaal? Moenie worry oor die rente nie. Wanneer sal u hierdie kan uitsorteer?

John

 

My allerliefste, Deirdre

Ons was vandag weer by die dokter. Hy sê Anna verswak redelik drasties. Die bloed wat nie suurstofryk is nie, kies blykbaar kortpad en meng met die ander bloed wat wel suurstof het. Haar voete is daagliks meer geswel en haar konsentrasie hou nie langer as vyftien minute nie.

Op ’n ander noot: Daai pienk fiets wat jy vir haar op haar vierde verjaarsdag gekoop het, het gister weer ’n bietjie die buitelug gesien. Ons het maar die kantwieletjies weer vasgesit en interessante outfits gekies vir die tog deur die woonbuurt. Victorian top hat en ’n geborduurde sambreel. Als vir R200 by die Crazy Store. Sy is ’n natural met die Britse aksent. Ek het gesê: “Dear Anna, would you be so kind as to accompany me to my abode for an afternoon cup of tea?” Sy het van haar fiets afgeklim en gecurtsy: “John, I will be delighted to join you. Shall we go horseriding in the afternoon?”

Anyway. Ons mis jou baie en ek is verskriklik bang. Nie net oor die operasie nie.

 

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Ek volg net op aangaande die versoek om die R2 350 skoolfonds wat my nog verskuldig is. Net weer in kort: Anna se laaste maand by die skool voor sy siek geword het, was in Mei en ek het aan die begin van die jaar betaal tot Junie. Wanneer sal hierdie vereffen word?

 

RE: Project icecream

John

I got the money, thanx. All clear. I will SMS you the login details and the name you must use for all admin. If you do not send the email on the date and time we agreed on, you will die.

Mister X

 

RE: Anna peetouers

Ahoi, Brother

Ma sê julle gaan binnekort weg vir twee weke. Is daar nie dalk ’n kans dat julle net kan uitstel met ’n week nie? Ek hou ’n groot party vir wanneer Anna uit die hospitaal kom en ek wil baie graag hê julle daar moet wees. Asseblief, man. Doen dit vir haar.

Ns. Ek verskaf bier.

 

RE: John Testament vir Anna

Beste Ma en Pa

Sorry ek mail nou, my foon is nie lekker nie.

Ek en Anna mis julle baie. Kan ons nie dalk sommer vanaand gou ’n draai maak so 19:00 se kant nie, dan eet ons iets? Gaan nie ’n draai by die winkel kan maak nie, maar ek nooi julle sommer nou al vir die party wat ek hou vir Anna as sy uit die hospitaal uit kom.

Laat weet gerus!

Ns. Anna is mal oor steak.

 

My allerliefste, Deirdre

Ek kan nie meer nie. Het die week ons flat begin oppak en ek het gister op die vloer gaan lê en huil. Slaap al vir sewe ure straight. Ek het ook vir my broer en my ouers gejok. Daar sal nie ’n party wees nie, want ek het nie eens meer ’n flat dan nie. As jy hier was, sou jy net daai mondhoeke van jou getrek het en gesê het ek moet chill want alles is vir ons dogter.

Ek is in diep moeilikheid, lief. Oor ’n week val alles uitmekaar. Behalwe Anna. Sy begin ’n nuwe lewe. Op alle fronte. Ek was nog nooit so gefokus nie. Stuur emails en vul vorms in om seker te maak alles is reg vir als wat na die operasie gaan gebeur.

Lief, ek is so so bang. Ek is bang hulle slaan my. Ek is bang Anna cope nie. Ek is bang almal verwerp my. Hulle gaan my slaan, Lief. En alles net vir ’n kind met ’n gat in haar hart.

Al wat ek eintlik wil doen is om ’n roomys saam met haar op die strand te eet. Net nog een laaste keer na sy uit die hospitaal kom. Ek twyfel of dit gaan gebeur. Ek wil saam met haar stap op die strand, en dan miskien as sy al krag het, saam met haar in die vlak water staan en spring en skree as ’n brander ons vang.

Nog twee, drie dae voor sy onder die ligte gaan lê en lomerig raak van die narkose.

Ek is bang, Lief. Bang vir alles.

Roomys saam met Anna. Dis al wat ek wil hê.

 

Out of office: John Verwey

To whom it may concern

I will be unavailable until further notice.

Regards

John

 

Deirdre

Anna is gesond!

Ek kan nie nou lank skryf nie. Sy het weer haar arms om my nek gegooi en onbedaarlik gehuil. Nog slaperig. Sy lyk al hoe meer soos jy.

My liefste, liefste mens. Hoe lyk dit in die hemel? Dink jy daar is ’n plek vir my?

 

RE: Pa en Ma

Ek is jammer oor als.

Dit is nie julle skuld nie.

Ek is baie lief vir julle. Kyk asb mooi na Anna.

 

RE: Anna peetouers

Brother

Ek is jammer oor alles.

Jy hoef my nie te vergewe nie. Kyk mooi na haar. Vat haar vir ’n roomys op die strand as jy kans kry. Sien jou wanneer ek jou sien.

 

Dokter Carr

Ek het onlangs baie e-posse geskryf, maar hierdie een doen ek met die hand. Sonder jou hande sou Anna nie vanoggend haar arms om my nek gegooi het en daarop aangedring het dat ons Muizenbergstrand toe gaan nie. Sy is tans by my broer. Die uitstappie sal ’n paar jaar moet wag.

Dit sal my tot op my sterwensbed toe pla dat ek nie die moed het om jou in die oë te kyk en te sê wat ek lankal moes nie. ’n Stranduitstappie kos sowat ’n R100 en die operasie wat u gedoen het om my kind aan die lewe te hou, min of meer twee honderd keer soveel. Ek het by jou gesteel. Dit is verskriklik. Ek het dit beplan en dit is nog erger. Wat die ergste is, is dat ek jou verraai het vir ’n draairoomys.

Ek is jammer. En sal vir nog baie jare wees.

 

Anna Verwey: Mediese fonds no: CB89453

Geagte meneer Cremer

My foon is al vir ’n paar dae af. Ek is seker u sal verstaan.

My naam is nie Steven McDonald nie en my dogter se naam is nie Deirdre nie.

Hiermee verklaar ek, John Verwey, dat, weens die hulp van die veragtelikste man op aarde, my dogter binnekort weer netbal sal kan speel sonder dat die opposisie vir haar lag as sy op die veld gaan sit en hyg.

Ek stel dit hier op skrif dat ek nie enige persone se name sal noem of betrek by my bedrog nie.

Ek neem volle verantwoordelikheid hiervoor.

Indien jy ooit tyd in jou besige skedule het om mense uit te buit wat jou twee Ferrari's befonds (ja, ek het hierdie gegoogle), vat jou dogter wat dieselfde ouderdom as Anna is (google), vir roomys op die strand. ’n Hart hou nie vir ewig nie.

Jy hoef nie te worry oor saaknommers nie.

Ek is op pad polisiestasie toe.

John

 

Lees ’n kort onderhoud met Wilken Calitz oor “RE:” hier:

Korona-kortverhaalfees: Wilken Calitz oor "RE:"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post RE: appeared first on LitNet.


Die portret

$
0
0

Foto: Canva.com

(Met apologie aan Oscar Wilde)

Dis dagbreek en ek is wakker, maar nog loom en effens suf. Die lig skyn grys deur my gordyne en verder aan ruis die see en kweel die meeue. Die selfoon sê dis 06:30. Ek moet opstaan, want die taxi kom my sewe-uur vir my afspraak by die kliniek haal.

Pant van die duvet in hand, werp ek dit van my af en swaai my bene oor die kant van die bed en sit. My linkerknie pla weer. Ek stut my hande op die matras en stoot myself orent.

Buite kom die wind oor die see in en bring ’n kilte mee. Daarom trek ek my warm aan tot ek gestewel en gespoor uiteindelik reg is om te vertrek. Deur my sitkamervenster kan ek sien dat daar steeds niks by Nalin se huis oorkant die straat aangaan nie. Sy is nou al vyf dae gelede vort.

Die taxi is stiptelik en voer my weg die kliniek toe. Die toelatingsprosedure by die kliniek vind ek vermoeiend: die toelatingsklerk by een van drie hokkies is die ene vrae en nommers.

Die krankemente van die pasiënte in die wagkamer wissel van vanselfsprekend tot misterieus. Party het krukke of arms in hangverbande, ander is bloeddrukgevalle, terwyl die gehoes die grieperiges, of erger, die teringgevalle uitwys. Ekself sit nou al weke lank met ’n pyn in my ingewande waarvoor die kwak my verligting moet gee.

Die meeste pasiënte is alleen en somber, maar daar is ook babbelbekke wat onsinnige gesprekke met die ongelukkiges, wat langs hulle beland het, aanknoop. Om diesulkes se geselskap te besweer, kies ek ’n sitplek heel onder op die onbesette end van die twee rye stoele.

Die wagkamer is driekwart vol. Ek sit en bekyk die pasiënte tersluiks. Die tydverdryf word onderbreek toe Nalin tot my verbasing lui-lui in my ry afgestap kom en terstond een van die oop sitplekke in die middel aan die oorkant kies om te gaan sit. Wat sou háár makeer?

Nalin het steil swart hare wat tot in die waai van haar nek hang. Die gesig is spits. Die oë is donkerbruin. Die neus dun en geboë. Die mond en lippe is vol en sensueel. Die lyfie is rietskraal en die borsies punterig en net pieringgrootte. Sy is maksimum een meter vyftig. Petite is die woord. Sy dra ’n swart denim, ’n rooi bloes en ’n blou anorak met kunspels, wat soos die pels van ’n Arktiese vos lyk, om die kragie.

Sy skilder en is deur die kunsgalery op die vakansiedorpie waar ons bly, genooi om as residentskilder vir twee jaar daar deur te bring. Dis die Prima Artica-kunsgalery.

Toe sy opkyk en in my rigting kyk, lig ek my hand in ’n groetgebaar, maar sy glimlag net en ignoreer my verder. In stede open sy haar swaar wit leerhandsak en haal ’n klein oopskeursakkie uit, skeur dit oop, en druk die inhoud in een handpalm uit. Die leë sakkie laat val sy op die vloer en begin haar hande ywerig met die vloeistof uit die sakkie invryf. Sy kyk afgetrokke rond, terwyl sy besig is. Ek verwag dat sy sal buk en die leë sakkie optel, maar sy ignoreer dit, open weer die handsak en haal ’n tydskrif uit. Sy blaai eers afgetrokke daardeur en toe begin sy daarin lees. Sonder om te staar, hou ek haar dop. Sy is vir my mooi en baie aantreklik. Die afsydigheid wat sy teenoor my openbaar, ontstel my. ’n Mens sou sweer ek het haar iets aangedoen! Maar as dit is hoe sy die situasie wil hanteer, het ek nuus vir haar: twee kan die speletjie speel. Geanker bly ek dus waar ek is en probeer om so min moontlik in haar rigting te kyk.

Die vloei van pasiënte na die spreekkamers is stadig. Die tyd sleur verby. Dan slenter ’n groot seun met deurmekaar hare, ’n rooi gesig, ’n ring in die oor, swaar diksoolstewels en ’n swart denim van bo tot onder in. Hy lyk terneergedruk, maar miskien voel hy net die effek van ’n laat aand saam met die manne. Tot my verbasing stap hy direk na Nalin toe en gaan sit langs haar.

Sy kyk op en lees weer verder. Uit die hoek van sy mond sê hy iets vir haar en sy antwoord, maar ek kan nie uitmaak wat hulle sê nie. My eerste indruk is dat hulle vreemdelinge vir mekaar is. In die eerste plek is sy baie meer geïnteresseerd in die artikel wat sy lees, as in hom. Ten tweede sit hy kop onderstebo en, ná die aanvanklike paar woorde, toon hulle zero belangstelling in mekaar. Ek kyk weer rond, veral in die rigting van ontvangs vanwaar pasiënte geroep word. Toe ek weer kyk, sit hy ken op die bors en slaap.

’n Mens moet pootuit wees om sommer so weg te dommel. Nalin reageer ewe onverwags. Sy kyk na hom, bêre die tydskrif in die dieptes van haar handsak, skuif oor na hom toe en vly haar teen hom aan. Sy stut haar kop op sy skouer en sluit haar oë. Die mooie Nalin en daai willewragtag! Onbeskaamd staar ek hulle aan. Haar onderkaak sak en die mond gaan ’n entjie oop. Sy slaap ook vas. Minnaars het baie rus nodig.

Sy bring hom saam met haar terug kothuis toe. Dis ’n stormagtige tyd. Die straatjie weergalm met rockmusiek. Hulle baklei en skree, lag en jil en swem in die see. Soms, as sy op die stoep skilder, sit hy met waaiende bene op die stoepmuurtjie en drink bier terwyl hy die wêreld bekyk. Ek loop ook onder sy blik deur. As ek uitgaan, staar hy my aan en ek wonder waar sy aan die lummel kom. As ek my hoed lig, wuif Nalin argeloos vir my. Ek word nie oorgenooi nie en ek is ook nie van plan om my voete daar te sit, terwyl hy daar is nie. Dan een môre, kry ek ’n pamfletjie onderdeur die voordeur: Nalin stal eersdaags in die Prima Artica-kunsgalery uit. Dis ’n woonhuis waarvan binnemure uitgeslaan is om uitstallokale te kon maak.

Ek woon nie die amptelike opening by nie, maar in die namiddag van dag twee van die uitstalling, dos ek my uit en stap na die galery toe. Daar is niemand wat ek ken nie. Ek stap deur lokaal nommer een. Dis alles taferele van die see en duineveld. Die soort wat die plaaslike inwoners sal koop.

Saal nommer twee is portretstudies. ’n Vyftal kunskykers is aan die punt van die saal om die laaste studie saamgedrom.

“Die oë!” sê ’n vrou.

“Hy lyk so wys!” sê ’n ander.

“Ou top …” waag ’n jongman.

My nuuskierigheid is geprikkel. Ek luier al met die doeke af in hulle rigting. Hulle versit na lokaal drie toe. Ek gaan staan voor die doek. Dis van ’n man wat sit. Die blou oë val my eerste op. Hy kyk voor hom uit. Die oë is wakker en ondersoekend. Maar die gesig is oud. Daar is diep kepe in die wange en ’n frons tussen die wenkbroue. Die nekvel vorm ’n kalkoenkeel. Die skouers is rond en hang vooroor. Die hemp wat hy aan het, is effens te groot, maar die magie wys nogtans onder die kledingstuk. Hy sit met sy bene gekruis ─ die bene is lank en maer, soos die van ’n sprinkaan. Dis die portret van ’n man in sy laaste wakkerjare. Dis ek! Dis ’n portret van my!

Ek is lelik en oud. Geskok deur wat ek sien, draai ek om en stap met lang treë na die uitgang toe. 

In my kothuis sluit ek die voordeur, stap kamer toe en gaan sit op die bed. Ek sit ’n wyle so, dan registreer die klanke van Chopin se Poolse Ballade in my ore. Dit kom in die stil vroegaand aangesweef van oorkant die straat af. Dis die musiek wat Nalin altyd speel en waaraan ek gewoond is en waardeer. Dit beteken hý is vort. Geen elektriese kitare en tromme meer nie. Maar die musiek het die bekoring daarvan vir my verloor. Dis bloot melankolies, soos die figuur wat na my terugstaar uit die spieël gemonteer in die middel van die hangkas.

The post Die portret appeared first on LitNet.

Eergister se Nuwejaarsdag, 1955

$
0
0

Foto: Canva.com

Tussen die beet en geelwortels sit ek by die kafeetafeltjie met ’n koeldrank. Dis Nuwejaarsdag. Erna-hulle het gaan piekniek hou en swem by die meer. Hermina-hulle het gaan tennis speel. Nie een van my vriendinne het my saamgenooi nie.

Soos gewoonlik gaan my ma-hulle Germiston toe vir die Nuwejaarsdag-viering by oom Duppie en aunt Ellie. My ma-hulle is al weg hier teen negeuur. Hierdie jaar wou ek nie saam nie.

Ek is ’n groot meisie wat nou matriek toe gaan. Ek het nie meer lus om saam met die seuns met Johannes se elektriese karretjies te speel nie. Om by die grootmense te sit en tande tel is inniglik vervelig. Van die vorige jare het ek saamgegaan en in my verveeldheid het ek selfs met my neus in oom Duppie se vliegkaarte gesit. Die lughawens op die kaarte was swart stippels waar om fyn strepies soos grashalmpies in ’n sirkel gestrooi was. Onwetend dat die spikkel in die middel ’n lughawe is en die grashalmpies die verskeie rigtings waarmee vliegtuie die lughawe kon binnevlieg is.

“Jy moet saamgaan, Meis, ek hou niks daarvan dat jy alleen hier agterbly nie,” het my ma gesê en na my in die spieël gekyk terwyl sy die kam deur haar kroesies gesukkel het. Sy het spesiaal vir Nuwejaar haar hare by ou miesies Nel, wat hare in haar kombuis doen, laat perm.

Ek was ook al daar, want my ma dink noudat ek ’n groot meisie is moet ek ook my hare laat perm. Ek hou niks daarvan nie. Niks, niks, niks om hierdie kroesies op my reguit blonde hare te sit nie. Gelukkig het my ma my dit nie hierdie jaar aangedoen nie. 

“Ek het Erna beloof ek gaan saam met hulle piekniek hou,” het ek gelieg.

“Wie kom jou haal?” het sy gevra en nog vir oulaas in die gebarste spieël gekyk. Die lamp het een aand te na aan die spieël gestaan en die spieël laat bars.

“Koos en Erna,” bly ek lieg. 

 Ek wou nie hê my ma moet weet dat niemand my genooi het nie. 

 “Wat gaan jy aantrek?”

“Hierdie,” het ek gesê en in die rondte gedraai met my nuwe wit sonrok met die pienk kolle op. Dis ’n baie mooi rok wat my ma by ou miesies Read laat maak het. Dit het pienk skouerbandjies en by die soom is daar dieselfde pienk materiaal omgesoom.

“Ek weet darem nie of daardie rok te mooi is vir ’n piekniek nie. Netnou bemors jy dit met modder of waatlemoensap. Hoekom trek jy nie een van jou ou rompies met ’n donker bloesie daarby aan nie?”

“Aag nee, Mamma, dis dan Nuwejaar en ek wil mooi lyk. Buitendien, Albert en sy sussies gaan ook daar wees en Ma weet tant Anna trek haar dogters altyd so mooi aan,” het ek aanhou lieg. 

“Nou ja my kind, wees net versigtig en moet tog nie braaivleisvet op jou pragtige nuwe sonrok mors nie, hoor.”

Ek het in die agterdeur gaan staan. My pa het verbygekom met die koekblik met die sjokoladekoek in wat my ma altyd vir Nuwejaar in Germiston bak, dit na die kar toe gedra en vir die boeties, wat al bitter ongeduldig in die kar gesit het, gesê: 

“Julle maters moet gou eers lavetrie toe, julle weet tant Ellie hou nie daarvan dat julle heeldag haar binne-lavetrie se ketting trek nie.”

Ons het op daardie stofgat nie elektrisiteit of binne-spoeltoilette nie. Dis hoekom my boeties en ek altyd so opgewonde is om stad toe te gaan om ligte aan en af te knip, die spoel-lavetrie se ketting te trek en om die deksel bo die lavetrie se sitplek op te assineer. Selfs trappe was vir ons ’n avontuur om nie eers van hysbakke te praat nie. Die mense sê ons sal nou in hierdie jaar van 1955 krag hier kry, maar my pa sê dit wil hy eers sien.

My pa het die koekblik versigtig in die rak voor die kar se agterste venster gesit. 

“Toe-toe, spring nou gou agtertoe,” sê hy. “Pasop vir die bye, lyk my hulle begin weer nesmaak tussen die bakstene,” het my pa agterna geroep.

My pa het sy hoed opgesit net toe my ma op haar nuwe sandale met die fyn bandjies om die enkels by die agerdeur uitgeswiep kom.

Die seuns het aangehardloop gekom, maar my ma het hulle gekeer.

“Was gou julle hande sommer hier by die kraan, julle kan nie net so ry nie.”

Almal het ingeklim. Ek het hulle agterna gekyk toe hulle by die hek uitgery het.

My pa het nog vir oulaas deur die venster geskree: “Sluit tog al die deure hoor, my kind.” 

Ek draai om en maak die deur toe.

Ek is alleen. Terug in my kamer gaan ek op my bed sit. Boeke lê op my bedkassie langs die swart gerookte paraffienlamp. Ek het nog gisteraand ’n boek deurgeworstel. Ek het van lees gehou, maar ek sukkel om op die woorde te fokus, al kyk ek ook hoe naby. Ek sal ’n nuwe bril moet kry wat ook weer ’n spul geld sal kos. Vir lees het ek ook nie nou lus nie. Ek gaan voor die spieël staan. Ek sit my oorbelle aan. Dit lyk soos kant blomme met ’n blinkertjie in die middel. Ek trek my wit sandale aan en sit my lipstiffie, wat presies dieselfde kleur as my rok se skouerbandjies is, versigtig aan. My hare hang lossies om my gesig en al moet ek dit self sê, ek lyk vir myself mooi. Dis net die bril.

“Ag liewe Here, hoekom moet ek tog die blêrrie bril dra?” dink ek.

Ek wil so graag hê iemand moet my vandag sien en dink ek is mooi, al sê die mense “boys don’t make passes at girls who wear glasses”.

Ek is seker iemand sal vandag kafee toe kom, maar dit is nog te vroeg vir my om kafee toe te gaan. Ek dwaal verveeld van die eetkamer tot die sitkamer rond, dan gaan ek voor die klavier sit en speel die enigste stuk wat ek uit my kop ken, Minuet in G. Dit het die laaste tyd al hoe moeiliker vir my geword om bladlees te doen. Ek moes al hoe nader aan my musiekboek kyk, wat dit ongemaklik maak om te speel. Oor en oor speel ek Minuet in G. Oor en oor en oor. Eindelik staan ek op en voel aan die sitplek van my rok of ek dit nie verkreukeld gesit het nie. Ek stryk my rok glad en drentel in die gang af.

Ons radio se batterye is pap en nou kan ek nie eers radio luister nie. Dalk as ek by ons partylyn inluister, sal daar iemand op die lyn wees. Sê nou Sarel of Marie praat ... ek sal sommer sê: “Ekskuus, ek het nie geweet die lyn is besig nie.” Hulle sal my stem herken en dan as hulle uitvind ek is by die huis, sal hulle my kom haal of so iets. Ek tel die foon, wat teen die gangmuur hang, op. Niemand is op die lyn nie. “Hallo, hallo,” sê ek ingeval iemand anders ook inluister. Daar is net ’n gesuis. Ek wonder of dit is hoe eensaamheid klink. 

Ek gaan kyk op die horlosie wat in die kombuisvenster staan. Ek kan hierdie syfers mooi sien, want die wit syfers staan uit op die swart agtergrond. Vlieë gons op die vensterbank in hulle laaste stuiptrekkings, want my ma het nog vanoggend met vlieëgif gespuit.

Dis al wat ek hoor. Die horlosie se tik en die vrekkende vlieë. Af en toe kraak die sinkdak. Ek voel bang. Wat as ’n skelm of dief of moordenaar nou hier inbreek en my keel afsny? Maar ek het mos mooi in my gebedjie vir die Here gevra om my teen moordenaars en rowers te bewaar. In die kerk word ons mos geleer om God te vertrou, maar ek is nogtans bang. Weer kyk ek na die horlosie met die hoop dat die wysers al vêr aangeskuif het. Dis net ’n paar minute wat verbygegaan het.

Terug in my kamer vat ek my handsakkie en loop deur toe. Dalk as ek baie stadig kafee toe stap, sal dit ’n goeie tyd wees om te gaan koeldrank drink. 

Ek sluit die agterdeur en sit die sleutel in my handsakkie. By die hek kyk ek rond. Ek sien niemand nie. Dis doodstil op die werf. Bo in die bloekombome koer ’n tortelduif. Ek stap straat toe. Ek hou in die middel van die pad waar die grond hard is, sodat die poeiersand aan die kant van die pad nie my sandale bemors nie. Al is dit nog vroeg, steek die son soos pyltjies op my kaal skouers. Sê nou die twee Marais-seuns kom nou hier in hulle bakkie verbygery en laai my op omdat ek so mooi lyk … Sê nou hulle vra my om saam met hulle iets vir Nuwejaar te doen?

By die poskantoor roer daar niks. Niemand is eers in die tiekieboks om familie vir Nuwejaar te bel nie.

Voor ou miesies Walters se klerewinkel gaan ek staan. Soms is daar nogal mooi rokke in haar venster, maar nie vandag nie. Sy het ’n uitverkoping vir Kersfees gehad en al die mooi rokke is seker uitverkoop. My ma koop nooit klaargemaakte klere nie. Alles word vir ons gemaak by ou miesies Read met die een been. My ma sê sy is jammer vir haar, want sy het nie ’n man nie, net twee nikswerd seuns. Sy kan die geldjies gebruik. Dis sy wat my sonrok gemaak het. Dalk sien een van haar seuns my, maar ek mag nie iets met hulle te doen hê nie, want die mense sê hulle is wild met meisies.

Tot die fish and chips-plek is vandag toe. Ek hou duimvas dat die kafee darem oop sal wees. Dit sal nooit toemaak nie, want die boere kom hulle koerante haal en vir oulaas nog ’n brood of polonie of koeldrank vir hulle piekniek koop.

Tot my verligting staan die deur oop. Ek stap binne. Tannie van Wyk staan agter die toonbank en lees koerant.

Niemand is in die kafee nie. “Aitsa, vir watter kêrel lyk jy so mooi vandag?” Sy loer oor haar bril na my.

“Niemand nie, Tannie, ek kom net ’n koeldrank drink.” Ek voel skaam. Ek het nog nooit by die tafeltjies agter in die kafee tussen die groente gaan sit nie.

Ek loop tussen die kassies tamaties deur na die twee plastiektafeltjies toe, trek ’n stoel uit en gaan sit tussen die beet en geelwortels.

Tannie van Wyk kom agter die toonbank uit.

“Wat sal dit wees?” vra sy. Dit lyk of sy vir my wil lag omdat ek so ewe alleen by die tafeltjie sit en wag om bedien te word. Ek bestel ’n aarbei-koeldrank en kyk deur die vuil venster na die stofstraat waar niemand loop of ry nie.

Tannie Van bring die koeldrank in ’n glas op ’n wit piering met ’n strooitjie daarin.

“Dis ’n sixpence.”

Ek haal die geld uit my wit plastiekhandsak en sit dit ewe grand op die tafeltjie neer. Sy stap weg en ek kyk haar agterna. Ek dink dat my ma altyd sê, as iemand groot boude het, is dit beter om nie wit aan te trek nie. Maar vandag het tannie Van nie net ’n wit romp aan nie, maar ook ’n wit-en-swart strepie-bloes wat haar van agter baie breed laat lyk. Ek wonder wat my ma daarvan sal sê. My ma en pa wat seker nou al hulle Nuwejaarsdrankies drink. Die boeties wat óf die binnetoilette se ketting trek, óf met Johannes se elektriese karretjies speel.

Sê nou, dink ek weer, sê nou Koos en Erna kom nou hulle koerant haal of selfs Ben kom vir sy ma ’n brood koop en hulle sien my en nooi my ook om saam met die jongklomp te kom jol. Ek weet ek kan nie goed genoeg sien om tennis te speel nie, maar ek kan swem of saam met almal piekniek hou.

Stadig suig ek aan die strooitjie. So stadig soos die tik van ’n horlosie, want iemand sal sekerlik nou-nou kafee toe kom, al is dit ook die Osterling-kinders met hulle snotneuse. Ek weet hulle sal my sien, want hulle is regte agies en kyk my altyd aan.

Ek kyk na die borreltjies aan die kant van die glas en roer die strooitjie baie stadig rond. Dis warm in die kafee. Ek wag en luister, steeds kom daar niemand nie. Tannie Van sug.

“Ek gaan maar sluit en die closed-bordjie buite opsit,” sê sy.

Ek staan op en skuur verby die beet en geelwortels voordeur toe.

“Heppie heppie Nuwejaar,” sê ek toe ek uitstap. Ek wil huil. 

Ek loop oor die stoep en trap in die poeiersand aan die kant van die straat, dit skuif in my sandale in. Dit maak nie meer saak nie. Niemand het kafee toe gekom nie. Niemand sal my sien nie. Niemand sal my uitnooi nie. 

Soos ek terug loop, probeer ek die sand uit my sandale skud. Ek buk af om die sand tussen my tone uit te vee en toe ek opkyk, sien ek ’n figuur vêr voor my beweeg. Soos ek nader kom, sien ek dis iemand, omtrent reg oorkant ons hekkie. Ek voel opgewonde, dalk is dit een van die Marais-seuns. Dalk het hulle agtergekom ek is nie by die piekniek nie en kom hy my nooi. Hoe nader ek kom, hoe beter kan ek sien. Dis ’n swart man. Dis ou Maljan. Ek is bang vir hom.

Hy bly in die stoor agter ou miesies Epstein se winkel. Hy dra streepsakklere en motorbandsandale. Die mense sê as ou miesies Epstein haar nie oor hom ontferm het nie, sou hy lankal van honger of ’n messteek omgekom het. Hy skop-skop in die stof. Hy lag tandloos vir my. 

Dis net ek en ou Maljan wat vandag alleen is. Hy, wat geen kind of kraai het nie, en die mense sê hy is heeltemal kens. En die mense sê ek is ’n blinde mol. Net ons twee, op Nuwejaarsdag.

The post Eergister se Nuwejaarsdag, 1955 appeared first on LitNet.

Maer vir net een dag

$
0
0

Waarvoor sy haar ouers die meeste verkwalik, die een ding (onder baie ander), is iets waarvan sy die moeilikste ontslae kan raak.

Ja, daar was die stiltes in die huis, en die manier van Ma en Pa om deur haar met mekaar te praat. Daar is die feit dat hulle nie nog ’n kind wou maak nie, en sy wéét hulle kon as hulle wou, maar hulle wóú nie, omdat hulle mekaar nie kon verdra nie. En sy, alleen en weerloos te midde van hulle onuitgesproke aanklagte teen mekaar, moes grootword, sonder bondgenoot of aanspraak. Hangende was sy in ’n heelal waarvan die aangesig van haar afgewend was.

Maar ook dit kon sy te bowe kom toe sy na skool uiteindelik uit die huis kon ontsnap om haar eie lewe te lei en die wêreld stukkie vir stukkie te leer ken en verstaan. Sy het selfs vriende gemaak. Sy het gewerk en gestudeer en ’n beter werk gekry en haar onafhanklikheid geniet.

Sy het haar woonstel mooi gemaak, sy het ’n kat gekry vir geselskap. Sy het gespaar en oorsee gereis. Sy was ’n jong vrou aan die ontluikende ent van ’n volle hedendaagse bestaan: slimfoon, sosiale media, aande uit saam met vriendinne, politieke besorgdheid, die louere van besoeke aan ander kontinente.

Vir mans sien sy egter nie kans nie. Of eerder, as sy doodeerlik moet wees – wreed eerlik, grusaam eerlik – sien húlle nie vir háár kans nie. En sy weet hoekom: Sy is vet. Nou, oplaas, is sy by die punt waar sy ’n leeftyd se eufemismes van haar wil afskud, soos ’n grillerige vel wat nie háár vel is nie, een wat dood voel.

Vir haar dus geen verdere praatjies van oorgewig of groot of robuus nie. Niks meer sprake van weelderige kurwes of plesierige voue nie, of van ’n voller figuur of ’n plus-grootte of ’n spesiale mens met ’n goeie hart en pragtige hare nie. Ek wed, het sy ’n man eenkeer op ’n partytjie gehoor sê, as jy tussen daardie voue kan inkom, is dit die hemel self.

Nee. Basta nou. Ikabod. Dit is wat sy van haar grootwordjare geëerf het. Haar ma en pa, beide, se vergoelikings: Ag, is sy nie pragtig nog so met die babavetjies aan nie? Moenie haastig wees om dit af te skud nie. Kyk net hoe mooi gesond lyk sy, kyk die blos op haar wange. Shame, die maer ou rietjies wat jy deesdae in die skool sien. Óns was nog nooit ’n familie van maer mense nie. Buitendien, mans hou van ’n bietjie vatplek.

Maar klaar nou. Haar ouers is albei onder die grond, die beste plek vir hulle om te wees, en sy gaan haar losmaak van die kettings wat hulle om haar geslaan het. Want kettings was dit wel. In hul wedywering om hul tekortkomings as ouers te vergoed, het hulle haar vet gevoer. Hier’s ’n lekker roomys vir my meisiekind. Eet die lekker koekies wat Mamma vir jou gebak het. En al dié aartappel nog op jou bord? Wat ek met soveel liefde vir jou gemaak het? Eet maar op, dis goed vir jou.

Eet, eet, eet.

As iets pla: eet. Ter wille van vrede: eet. Om Mamma se gevoelens te spaar: eet. Om Pappa se guns te behou: eet. Sy is gemaak van spanning en van eet. En vir die soetste nagereg: ontkenning. Ons is nou eenmaal nie ’n familie van maer mense nie. Skoonheid van binne hang nie van gewig af nie.

Maar weg met dit alles. Sy is vet, en klaar. Sy sweet. Haar hare maak slierte. Sy kry nie mooi klere wat haar pas nie. Sy moet steun wanneer sy in karre klim en wanneer sy uit hulle klim. ’n Stoel het eenkeer onder haar gebreek. Haar rompe kruip tussen die voue agter haar in. Sy kan by partytjies nie op die vloer saam met haar vriendinne sit nie. Wanneer sy dit wel doen, kos dit twee van hulle om haar op te trek. Word mense aan haar voorgestel, gaan hul blik af oor haar lyf soos ’n kamera oor ’n landskap, en sy weet, sy wéét wat daardie skaars merkbare trek om hul mondhoeke beteken.

Dié onomstootlike feit kyk sy voortaan vas in die oë. En miskien is daar selfs iets aan te doen. Dalk, dalk, kan haar ouers vergewe word.

Maar die één ding waarvoor sy hulle nooit sal vergeef nie, is haar naam. Isabelle. Bella. ’n Donnerse koei se naam.

Hoeveel keer moes sy dit nie aanhoor nie. Hoeveel maniere het die kinders nie gehad om haar daarmee te spot nie. Die bose vindingrykheid van ’n adolessent omring van bewonderaars. Haai Tinkerbell! roep die netbalkaptein, en die tefies om haar wil hulle natpiepie. Dieng-dong, hoor sy wanneer die seunsrye verbystap, die geproes wat in golwe deur die ry terugstoot en sy wat nie weet hoe om te loop dat haar prematuur-ontwikkelde borste kleiner vertoon nie.

Ja, sy kan haar naam laat verander, sy kan die koste aangaan en die administratiewe las verduur. Maar die bespotting sal haar altyd aankleef, die klank van “Bella” sal haar altyd omgeef soos wat ’n sweetreuk altyd om haar hang. Sy kan dit nie self meer ruik nie, maar sy kan dit aan ander se reaksie sien. Dus sal sy moet aanvaar dat sy ’n Bella is. Dieng-dong.

Maar sy gaan, besluit sy, sy gáán haar gewig afskud. Maak nie saak wat nie, maak nie saak hoeveel behoefte en verdriet dit haar kos nie, hoe erg die honger, hoe groot die verlange na ’n vol maag, na die kou aan iets, die saligheid van smaak en geur en tekstuur wanneer jy keurig-voorbereide voedsel kou en afsluk en deel van jou maak.

Die verleentheid skroei haar wanneer sy onthou hoe kuiermense aan tafel in haar ouerhuis sou opmerk: Kyk net hoe smaaklik eet die kind. Sy sou daarvan so selfbewus word dat haar ore gloei, maar sy kon haarself nie keer om aan te hou eet nie.

Maar nóú gáán sy.

En steeds is Bella realisties. Sy weet goed dat al die modediëte met goeie rede kom en gaan: Dis omdat hulle nie werk nie. Vleis, sap, bloedgroep, oermensdieet … elkeen kom maar weer in ’n ander gedaante terug, dan skarrel almal weer in ’n nuwe ou rigting.

Maar sy kom ’n nuwe manier agter, en dit is vas. Almal doen dit. Programme vir onderbroke vasperiodes slaan op die sosiale media uit soos masels. Só vir vroue, só vir mans. Só vir elke liggaamsvorm, waaronder elke moontlike eufemisme vir wat niks anders is nie as vet.

O, maar dis nie ’n dieetplan nie, dring die proponente aan. Dis ’n lewenswyse. En dis nie ’n verhongering nie, dit is net ’n dagritme. Jy rek die daaglikse periode waartydens jy niks eet nie, so lank jy kan of wil. En jy sal sien, mens word nie honger nie. Jy word net energiek en helder. Jou selle juig. Jou metabolisme rys bakkop soos ’n kapel, oorgehaal om op die geringste stringetjie koolhidraat, die onnaspeurbaarste dryfseltjie vet toe te slaan.

Bella dink: Ja, dit sal sy kan doen. Sy sal streng wees met haarself, eers in klein bietjies en later in groter spronge. Sy sal vasbyt vir solank dit vat tot die dag dat sy maer is. Sy sal alles op die spel plaas, enigiets verduur, net om één dag maer te wees. Vir één dag soos ’n maer vrou lewe, die geringste van die vreugdes daarvan te melk. Sy sal beweeglik wees, sexy, sy sal gaan klere koop, flankeer, sy sal met die eerste man wat flirt in die bed spring.

Dan sal sy laat skiet en terugkeer na hoe sy was. Want vir ’n leeftyd van ontbering sien sy nie kans nie, en dié een maer dag sal haar ’n leeftyd hou.

Dus begin Bella. Sy sny eers haar geliefde midnight snack uit om die hele nag sonder kos deur te bring. Die volgende onggend sewe-uur druk sy bewend twee snye brood in die rooster. Sy bewe sy so dat sy die twee teelepels suiker in die koffie nodig het, demmit.

Sy het by iemand gehoor wat dit by iemand anders verneem het wat op Facebook daarvan gelees het (met ander woorde ’n gemors van ’n bron, maar omdat die boodskap troos inhou, gryp sy dit aan) dat dit nie saak maak wat jy in jou etende periode eet nie. Só kom sy deur die eerste dag, al etende, tot agtuur die aand.

Dáárdie uur: soos die laaste oase voor die woestyn, die wanhopige tog deur die nag tot verlossing die volgende oggend daag, ’n varksworsie in botter gebraai by haar twee gebakte eiers. Maar sy dissiplineer haar: Sy wag tot halfagt. En vanaand dep sy die laaste smeerseltjie sous van haar lippe om presies halfagt, nie agtuur nie.

En so dwing sy haar eeture al korter en haar vasperiodes al langer. En sy vind sowaar algaande dat sy nie meer so honger word nie, en dus nie die hele eettyd peusel nie. Mettertyd eet sy vir ses uur per dag en vas sy vir agtien. En dan nóg minder van eersgenoemde en meer van laasgenoemde.

Sy vóél aan haar alles wat die proseliteerders verkondig het: Dis of haar lyf tintel, sy is vol energie, en haar gemoed is helder. Boweal voel sy maerder. Buk om haar toonnaels te verf is nie meer soos om ’n opgeblaaste ballon te probeer opvou nie. Sy vind dat sy minder moet stop om eers stukke materiaal uit voue vlees te trek. Om ’n spencer van ’n sweterige lyf af te trek, lyk nie meer soos buikdans nie.

Weldra moet sy haar skirts en bloese invat en, toe dit nie meer werk nie, nuwes gaan uitsoek. Sy ervaar uitgelate die argeloosheid van ander vir wie daar altyd iets in hul grootte in voorraad is. Mense begin haar agternakyk, sy wéét, met hul oë dralend op die lyne wat om haar eens vormlose gestalte begin vorm.

Die dag toe Bella maer is, amptelik en onmiskenbaar skraal, breek aan en gaan verby sonder dat sy eers daaraan dink. Sy is lank reeds gewoond aan die ligste linnerokkies wat om haar figuur wapper, die ingedagte afgly van haar syjapon onder die sagte blik van Tomasso waar hy in afwagting op die bed lê. “Bella,” sê hy. “Ma bellissima.”

So is nou haar lewe. Daar is geen terugkeer nie.

En tog: Daar is nagte wanneer sy oopoë langs hom lê. Twee jaar sedert hy die eerste keer sy hande om haar middel gesluit het, lê sy nog soms met háár hand oor haar harde, ontoegeeflike maag en verlang na die verlange. Na die vertroosting van ’n skeppie roomys of oorskietpastei, net sy in die flou geel lig wat uit die oop yskas op haar val, ’n vlietende eilandjie volkomenheid in die groot donker rondom haar.

 

Lees ’n kort onderhoud met Frederik de Jager oor “Maer vir net een dag” hier:

Korona-kortverhaalfees: Frederik de Jager oor "Maer vir net een dag"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Maer vir net een dag appeared first on LitNet.

Ma, waar is Ma nou?

$
0
0

Foto: Canva.com

’n Ma is nie iemand wat sommerso wegraak nie. Altans, nie sover ek weet nie. Ons het maar meestal geweet waar ons ma is, en haar gou gekry as ons moes. En nog gouer as ons nie moes nie.

Na Ma se begrafnis het ons geweet waar sy nou rus. Die kopsteen was op, die grasperkie geplant en alles was in orde. Sy, Pa en Ouboet is baie ver van mekaar af ter ruste gelê – maar hulle kon darem op ’n afstand oor die kinders en hulle eie vrot beplanning murmureer.

Wie dit eerste opgemerk het, Lydia, Sandra of ek, weet ek nou nie meer nie. Maar, dit was baie duidelik dat die grafnommers nie oreenstem nie. ’n Jaar of wat na die begrafnis bel Lydia een aand en sê dat Sandra se foto’s wat sy geneem het, nadat sy blomme opgesit het, ’n ander nommer wys as die een wat sy het en wat Pa gegee het. Siende dat hy kort na haar oorlede is, kan ons hom nie juis vra nie. Ek weet die nommers verskil, maar het ook nie gedink daar is veel wat ons aan die sakie kan doen nie.

So verdiep die raaisel. Foto’s word van alle kante ge-SMS, ge-email en bekyk, en nou blyk daar drie verskillende nommers te wees. Nommers 3851, 3852 en selfs eenmaal 3857. Die snaakse gevoel as jy by die graf sit en dit voel nie of Ma daar is nie. Sy het nogal ’n sterk teenwoordigheid gehad, jy het van haar geweet. 

Ons almal gaan sporadies begraafplaas toe om blomme op te sit en stuur dan gedienstig ’n foto aan een van die ander, wat dit weer aan een van die ander kinders sirkuleer. Avbob het al lankal die steen met nommer 3852 opgesit, maar intuïtief voel ons aan daar is fout – groot fout. Maar, behoorlike bewyse ontbreek.

Die vraag is: Wat staan ’n mens nou te doen? Ek begin deur die begraafplaas se kantoortjie te bel. Is hulle seker dat Ma in grafnommer 3852 lê? Pa het dit eers as 3852 opgeteken en toe na 3851 verander. Hy sou tog nie so ’n fout gemaak het nie?

Die verskimmelde karakter in die begraafplaaskantoor se nekhare rys opsigtelik oor die dom vraag en hy is adamant. Dit is beslis reg, hulle maak nie sulke foute nie. As die register sê dít is die nommer, dan is dít die nommer en so is dit dan.

Okay dan, kom ons probeer Avbob. Is hulle seker Ma is in 3852 begrawe? Drie dae later kom die antwoord: Uhm, nee. Hulle rekords dui dit nie aan nie, so hulle is nie 100% seker nie.

Ons familie is maar effe skepties oor hulle vermoëns, want toe Pa en Lydia vir Ma by Avbob moes gaan uitken en hulle die kis se deksel oplig, moes Pa mooi kyk want hy was seker dat sy oë nie reg sien nie. Nee, sê Lydia toe sy ook kyk, Ma lyk dan skielik so jonk en nou baie kleiner as wat sy was. Almal besigtig van nader. O sorry, sê Avbob se mannetjie, verkeerde kis. Die dogtertjie in die kis word vinnig toegemaak en in ’n japtrap word ’n ander kis gepresenteer. Gelukkig dié keer die regte een en jip, daar is Ma.

In alle geval, so kontak ek toe die Ekhurhuleni-munisipaliteit, wat my na die Parkeraad verwys. Niemand blyk te verstaan wat my probleem is nie, dit is net te ondenkbaar. Ek staan vas, is hulle seker wat die nommer en ligging is? Ek heg sommer ’n klomp foto’s aan wat ons onsekerheid verduidelik.

Genadiglik kom ek, na ’n magdom oproepe, by ’n uiters behulpsame en bekwame dame uit wat baie moeite doen en die graf besoek, gewapen met ons foto’s en ander offisiële dokumente. Dae later bel sy terug. Nee, sê sy, sy was self daar met alles en sy kan ook nie kop of stert uitmaak wat daar aangaan nie. Kan ek haar nie in Vanderbijlpark-begraafplaas ontmoet nie? Nouja, van Mafikeng af is dit ’n stywe trippie, maar ek doen dit toe en daar kan nie ek óf sy uitmaak wat aangaan nie. Die grafnommers is deurmekaar en daar lê selfs ’n naambord van ’n onlangse intrekker in die lang gras. The plot thickens, so to speak.

Ek is nou heeltemal oortuig Ma lê nie waar die grafsteen sê sy lê nie. Ma is weg en niemand weet met sekerheid waar sy is nie. 

Ek word dan ook ingelig dat, as die graf oopgemaak word en ek is verkeerd, die kostes R20 000 beloop – vir mý rekening. Skriftelike toestemming word vanaf die familie vereis, en ek stuur briewe vir al die formaliteite namens die familie. Ousus Monica word op hoogte gehou, Lydia van tyd tot tyd en teenoor die res van die familie swyg ons soos die dood.

Om almal vir so ’n aksie daar te kry, is nie ’n grap nie. Dit verg ’n mengelmoes van beamptes van die SAPD, Parkeraad, Gesondheidsdepartement, begraafplaas-personeel, familie, ensovoorts, ensovoorts. ’n Hele kontingent van mense. Uiteindelik is almal vir Maandagoggend half-sewe gereël. Ekhurhuleni sal oopmaak, sodat finaliteit verkry kan word en ek van hulle nekke kan afklim. Ek bid hartlik dat ek reg is en nie ’n klein fortuintjie vir my fout hoef op te dok nie.  

Drieuur die Maandagoggend vertrek ek uit Mafikeng en is net na ses daar. Dit is ’n grou oggend en die mis loop straaltjies teen die grafstene af. Gewis nie ’n oggend vir die onplesierige ritueel nie. Teen half-sewe is die res van die afgevaardigdes daar, niemand juis verheug om daardie tyd van die oggend grafte te moet oopmaak nie. Die grafgrawers begin so ’n halwe meter links van die graf en werk stelselmatig hulle pad ondertoe oop. En so tref hulle die kis.

Nadat almal vort is en ek Ma se naamplaatjie op die kis kon eien, het Avbob verleë om verskoning gevra en onderneem om die kopsteen op die regte plek te plaas. 

Ons familie is bekend daarvoor dat ons sleg kan verdwaal. Gelukkig was Ma darem nie ver weg nie en ten minste het ons haar gekry, al was dit drie jaar later karplaks in die middel van die paadjie tussen twee grafte.

Ek is seker sy lag daar van Bowe af vir ons spulletjie wat nie eens kan sorg dat dié wat na die hiernamaals verhuis, se stoflike oorskot behoorlik rigting hou nie. 

The post Ma, waar is Ma nou? appeared first on LitNet.

Die heks van Gelukspoort

$
0
0

Die naderende onheil hang vir dae soos ’n donker rookwolk oor die andersins rustige dorpie. Alles het begin nadat die vrou in die swart klere met haar swerm katte in die klein huisie, aan die onderent van Harmoniestraat ingetrek het. Die middeljarige skraal vroutjie wat elke dag van kop tot toon in swart geklee is; swart kopdoek, swart rok, swart sykouse en swart skoene. Kompleet of sy na ’n outydse begrafnis op pad is. Klein dorpies is snaakse plekkies. Die skindertonge begin met reëlmaat klap en die bejammerende geklik en geklak van die simpatiserende tonge het soos die klaagliedere van Jeremia deur die stil stofstrate gesweef. Die spotters tjank grynslaggend soos hiënas en nuwe grappies is ná die vrou se koms gebore. En toe volg die onvermydelike want grappies is alleen maar nie genoeg om al die behoeftes te vul nie. Soos die dreigende gerammel van donderweer het vreesvervulde inwoners opeens hul wapens begin regsit. “Hier is ’n heks in ons midde!” is die boodskap wat op die vlerke van die giftige wind van straathoek tot straathoek waai.

Oom Arrie Johannes, godvresende ouderling, gemeenskapsmens en wewenaar is die enigste wat dit naby die geheimsinnige vrou gewaag. Maar selfs hy, met sy sagte stem en deernisvolle oë waarin die empatie vir sy medemens vlak lê, kon in die begin nie enigiets met die katvrou uitrig nie. Sy nooi hom nie in nie, kyk hom nooit vol in die oë nie en al sy vrae antwoord ontwykend. Dit is natuurlik koningskos vir die skinderbekke. “Ou Arrie is soos ’n uit tyd uit bokram wat ’n nuwe ooi geruik het,” verkondig die giftonge dit as die heilige evangelie.

“Nee,” sê die jammerhartiges, “Broer Arrie ontferm hom maar slegs soos die Woord sê oor die wese en die weduwees.”

Nodeloos om te sê dat dit natuurlik olie op die vuur van die veglustiges is.

“Die Woord sê ook: ‘Die wat nie vir ons is nie, teen ons.’ So Arrie Johannes sal sy keuse moet maak. Die heks moet uit die dorp uit! En wie ons probeer keer, sal saam met haar moet bloei!”

Die spotters roep laggend uit: “Daar is nie wesies by daardie huis nie! Behalwe as ou Arrie die katte as wesies reken. Nee, hy is, is definitief agter die weduwee aan. Sy is ’n weduwee in rou en hy wil Jobstrooster speel!”

 

Die katvrou word die onderwerp van bespreking by elke byeenkoms in Gelukspoort. By die klein skooltjie met sy honderd leerders en drie opvoeders word haar koms selfs as mondelinge en opstelonderwerp ingespan. Die vroue wat soggens die vee veld toe druk, laat die lammers hulle oorsuip, want hulle vorm eers hopies om die nuutste oor die katvrou en oom Arrie te hoor. Die manne wat by die steengroef werk, laat die stene oorverhit en tot voos stof bak want hulle wil die heks in die steengroef se vuur verbrand. Die dorp gaan stil-stil, sonder dat iemand dit opmerk, agteruit. En deur populier, bloekom en treurwilger suis die wind telkens ’n ander deuntjie. Jy hoor goedige gespot, afbrekende geskinder, opregte bejammering en koue haat. Alles net oor die katvrou. Die swart katvrou en die vrome en Godvresende Arrie Johannes.

 

In Helshoogtestraat bid die Sustersbond vuriglik vir ’n teken, ’n openbaring wat die koms van die suster van die digte duisternis in die regte perspektief sal plaas. Na die lang gebede en temerige gesange eet hulle fyngebak en drink Engelse tee en beskinder die suster wat haar as ’n buitestander in hul boesem bevind. Daar word gewonder of sy nie Jesebel is wat in ’n ander vorm teruggekom het om hulle geloof te toets nie.

“En ons leef in tye waar ons stryd nie teen mense en owerhede is nie, maar teen die magte van die duisternis,” teem suster Martha Volmoed, die leier van die Sustersbond, wat die byeenkoms belê het. “As ons nie wakend en biddend bly nie, word ons kerk en ons dorp ’n tweede Sodom en Gomorra. En die ding dat Arrie Johannes so danig met die vrou is, staan my glad nie aan nie! Wat weet ons wat hy met haar agter daardie toe deure doen? Nee, my susters, ons moet saamstaan soos die vroue van Joppe en die onheil uit ons midde wegbid.”

Sy lek haar poffervingers waaraan die stroop van die koeksuster nog kleef. Van die ander susters kug aamborstig en kyk vinnig na mekaar.

“Haai, ja reken so ’n katvrou! En hier vertel jy ons nog nou die anderdag dat jy en Arrie se gebooie een van die dae in die kerk gaan loop! En nou boer hy daar by haar en haar swetterjoel katte en kom nie eens meer by jou uit nie. Jy’s reg, my suster. Ons sal eendragtig moet bid. Nie net vir jou en Arrie se geluk nie, maar ook vir ons getroude vrouens se onthalwe. Julle weet moes hoe die mansgeslag is. Vreeslik nuuskierig. En net oor Arrie nou daar uithang, wil al wat ’n man is sien wat nou so danig wonderlik aan die katvrou is! En voor ons vir ons kom kry, sit al wat ’n getroude vrou is, sonder ’n man!”  kla suster Hanna Smartryk.

En net daar begin ’n gebed- en skindersessie waarvan die gelyke nog selde hier op aarde gevind is. Dis bid en bid en bid, kla, skinder en meer skinder en dan tee en soetgoed verorber en weer bid, kla, skinder en eet. Dag in en dag uit. Die ander take by die huis en kerk kry nie meer aandag nie. Alle energie en aandag word op die katvrou, die wewenaars en getroude mans spandeer.

 

Die sitkamer van die klein skakelhuisie in Vredestraat is volgepak. Mans, vrouens en kinders luister grootoog na die hoof van die huis. Jonatan Dawids, die man wat ’n paar jaar gelede uit die kerkraad geskors is en nou al jare lank probeer om as parlementslid vir die omgewing verkies te word, se gesig vertrek en die spoeg spat in alle rigtings soos hy driftig sy stelling maak.

Ek sê vir julle, die Here is my getuie. Suster Martha het my gisteroggend vertel sy het self met haar eie oë gesien hoe die katvrou ’n kat teen sononder op ’n altaar agter haar huis offer. Gaan ons dit in ons dorp toelaat? Gaan ons as pligsgetroue Christene en ouers van kinders toelaat dat Satan uit die duistere hel hier in ons midde aanbid word en dat bloedoffers helder oordag gebring word?”

“Nee!” skree die see van gesigte om hom. Die bedompige reuk van menslywe brand in hul neuse maar niemand kom dit agter nie. Die vyand is prioriteit nommer een. Die vermetele vyand wat dit waag om katte aan die heerser van die duisternis te offer.

Nee! gil die skare weer.

“Want vandag is dit katte, môre is dit jou of my kind!”

By die aanhoor hiervan krimp die kinders ineen en begin hardop snik en huil. Jonatan Dawids praat afgemete en met ’n drif wat hyself nie eens geweet het hy oor beskik nie. Sy klein ogies flits soos die van ’n slang as hy voort tier: “Suster Martha het gesien hoedat die katvrou gister laatmiddag ’n kat in haar agterplaas op die altaar doodmaak om vir die duiwel te offer. Oor drie dae gaan ek daardie vrou uit die dorp uit dryf. Oor drie dae, dit maak nie saak of ek alleen staan nie! Oor drie dae gaan ek haar uit die dorp dryf. Lewendig of dood. Staan ek alleen? Staan ek alleen om ons dorp, ons kerk, ons Christelike waardes en ons kinders, die vrug van lende teen die duiwel en sy bose magte te beskerm? Staan ek alleen?”

Die sitkamertjie is meteens te klein vir al die mense wat beur om orent te kom, wat skreeu en vloek. “Fok die heks! Maak die duiwelsaanbidder vrek!”

Jonatan Dawids glimlag tevrede, hy het sy doel bereik. Die katvrou is geskiedenis. Oor drie dae sal sy die stof van hierdie dorp van haar voete afvee en Gelukspoort sal weer die vreedsame dorpie van vroeër wees.

 

Onbewus van Jonatan Dawids se opswepende toespraak, maak Arrie Johannes ’n paar middae later ’n onverwagte deurbraak. Nie dat hy hom aan die geskorste diaken en kamma-politikus sou gesteur het nie. Hy het nog altyd vir Jonatan en sy party die grootste minagting gehad. Iets wat hy ook openlik in die dorp verkondig het.

Arrie Johannes spits sy ore om die fluisterstem van die geheimsinnige vrou ten volle in te neem. Hy is skoon verbaas toe sy hom met die knik van die kop na die voordeur beduie. Hy laat nie op hom wag en vleg sy weg tussen die drie, vier pikswart katte deur na die netjiese sitkamer.

Die skraal vroutjie sit oorkant hom en begin fluisterend praat met die drif van iemand wat iets uit haar gestel wil kry. Hy sit arms oor sy boep gekruis en rus sy ken in sy regterhand. Voor hom het ’n storie wat hy ’n jaar of wat vantevore in die koerant gelees het, ontvou. Maria Blom vertel sonder ’n sweempie emosie op haar gesig, wat haar ’n jaar gelede te beurt geval het.

“My man, Jacobus Blom, was ’n predikant van die AGS kerk in Bonteheuwel in die Kaap. Dit het goed met sy bediening gegaan en ons het ten spyte van vele ander ontberinge daarin geslaag om ’n verskil in die omgewing te maak. Soos jy weet is Bonteheuwel soos baie ander buurte op die Kaapse Vlakte die broeines van bendes, dwelms, aanrandings, verkragtings en moord. Maar ons was geseënd, Jacobus het daarin geslaag om die strydende bendes bymekaar uit te bring en daar was vrede in die grootste gedeelte van die area. Die ander kerk- en gemeenskapsleiers het sy sukses gesien en almal het saamgewerk om nie net van Bonteheuwel nie, maar van al die ander woongebiede ’n beter plek te maak.”

Sy bly vir ’n oomblik stil, vee met die agterkant van haar hand oor haar mond. Dan lyk dit of sy iets prewel, maar Arrie kan nie hoor wat sy wil sê nie. Hy buig vorentoe, raak liggies aan haar hand. Maar ruk sy hand onmiddellik terug. Die vrou se hand is net vel en been! Hy voel hoedat ’n deernis groter as hyself oor hom spoel. Dan staan hy traag op en gaan langs haar op die rusbank sit. Hy plaas sy arms saggies om haar skouers en voel hoe die vreemde vrou onder sy aanraking ruk. Hulle sit vir ’n rukkie in stilte en dan beur sy orent en praat verder. Arrie haal nie sy hand van haar skouer af nie.

“Jacobus was gerespekteerd en geliefd oral waar hy gegaan het. Van die regeringsinstansies het hom later as raadgewer in bendegeteisterde gebiede gebruik om plofbare situasies te ontlont. Ons vier kinders, drie dogters en die laatlam seun het ons in alles ondersteun. Ja, dit mag klink of ek romantiseer, maar ons was werklik gelukkig. Ons kinders was ’n absolute plesier en ons saamwees was met een woord wonderlik! Tot op die ongelukkig dag. Die dag wat ek met my hele wese wegwens, wat ek nie uit my geheue gevee kry nie. Dit was twee dae voor Kersfees en ons ses was in die Kaapse middestad. Nadat ons klaar met die inkopies was, besluit ons om iets by die Waterfront te gaan eet. Jacobus het voor ’n bank in Adderleystraat stilgehou sodat ons gou kontant kon onttrek. Omdat hy dubbel geparkeer het, vra hy dat ek gou die onttrekking moes doen. Die kinders het nog gespot dat ek moet gou maak. Joshua het laggend gesê: ‘Mammie moet gou maak want anders is ons weg as Mammie eendag uitkom!’

“Die bank se outomatiese tellers is langs die hoofingang in ’n steeg. Terwyl ek besig was met die transaksie, hoor ek skote en hoe mense gil. Ek het onmiddellik platgeval en my gesig bedek. Dit … dit het soos ’n klein oorloggie geklink met al die skote wat afgegaan het. Ek het so onopsigtelik moontlik na die straat geloer en toe sien ek dit … Die rowers harloop skie … skietend uit die bank en skiet na die oorkant van die straat waar die polisie intussen stelling ingeneem het. Ek het van hulle herken, dit was van dié wat uit Bonteheuwel padgegee het, toe die gemeenskap se druk onder Jacobus se leiding teen hulle te sterk geword het.

“En die polisie skiet terug en … en ja, Jacobus en my … my … kinders is tussen die skietende faksies vasgekeer. Ek het reg langs my ’n vrou oorverdowend hoor gil. Later het ek agtergekom dis … ekself.

“Toe word dit stil, ek het opgestaan, die geld net daar gelos en na buite gehardloop. My … my lewe het tot … stilstand gekom.”

Maria begin saggies huil en Arrie voel hoe haar tenger skouertjies onder sy hand ruk. Hy laat haar begaan. Toe sy ophou snik, vertel sy met moeite verder: “Ons motor … ons motor was ’n wrak wat uit een of ander Amerikaanse rolprent kom, stukkende ruite, koeëlgate oral in die bakwerk en … bloed … bloed net waar jy kyk. Ek het struikelend na die motor gesukkel. Asof in ’n droom het ek na … my vier … lewelose kinders gekyk. Joy, Ray, Hope en Joshua. Die oë wat oomblikke vantevore nog geblink het, was nou leweloos en het na die flenter ruite gestaar. Jacobus het nog geroggel, maar toe ek sy hand in myne neem, het dit slap geword.

“Ek weet nie hoe lank ek daar in die motor op die bebloede lyke gelê het nie. Ek weet nie wat ek alles in die tyd gedoen of gesê het nie. Maar een ding onthou ek baie goed: Ek het God vervloek! Ek het Hom vervloek omdat hy toelaat dat gewetenlose rowers my man en my kinders doodskiet. Soos reddelose diere kort voor Kersfees doodskiet. En Hy doen niks om dit te keer nie! Hy doen niks om te sorg dat daar vrede op aarde is en ’n welbehae in die hemel nie! Of skep Hy ’n welbehae daarin dat ’n pa en sy kinders sonder rede tereggestel word? Ek is van God verlate, Arrie, ek dink nie ek kan Hom vergewe dat Hy dit aan my gedoen het nie.

“En weet jy wat is die ergste? Die verdagtes het na sewe maande skotvry uit die hof gestap. Te min getuienis! En toe hulle verby my loop, het een die vermetelheid om my in die oë te kyk en te grynslag. Hulle het goed geweet wie hul slagoffers was. Dis hoekom ek swart dra. Om te rou, om my lewe om te rou omdat my man en my kinders onnodig vermoor is. En dis hoekom ek vyf swart katte het. Elke kat moet my aan hulle herinner. Aan my Jacobus, my Joy, my Ray, my Hope en my Joshua!

“Ek het ’n jaar probeer uithou, probeer aangaan, probeer leef, maar ek kon nie, want ek was dood. Dis toe dat ek begin soek het na ’n rustige plattelandse dorpie waar ek dalk weer heel kon word. Ek het gereken dalk is Gelukspoort die poort wat my weer na geluk sou neem. Maar as ek sien hoe word ek bespot, bejammer en openlik gehaat, lyk dit eerder of die poort van geluk finaal vir my gesluit is.”

Arrie kry met moeite ’n vraag deur sy toegetrekte keel geuiter: “En die offer van die kat dan?”

“Nee,” antwoord sy bitter, ek het nie ’n kat geoffer nie. Ek het die kat wat op een of ander manier bosluise opgetel op die wastafel in die agterplaas het, behandel. Ek het gesien hoedat Martha Volmoed my deur die ruie plante beloer het, maar ek het haar ignoreer. En nou is ek ’n heks wat offerandes aan die duiwel bring. Ek kan nie nog die verwerping van die dorp ook deurleef nie. Dis die einde van my pad hier in Gelukspoort. Ek kan nie meer nie, Arrie, die Here hoor my, ek kan nie meer nie!”

En toe bly sy stil. Arrie Johannes het ook nie woorde nie, hy hou haar net stywer vas en toe so bly sit.

 

Die sterre hang groot soos blink gevryfde borsspelde aan die hemelruim toe Arrie Johannes vroegaand Maria Blom se huis verlaat. Verbeel hy hom of is dit vanaand stiller as gewoonlik? Hy sidder by die gedagte dat dit die stilte voor die storm kan wees. Nee wat, probeer hy homself troos, ons dorpie se mense is meer bek as binnegoed. Hulle sal raas en blaas, dalk ’n oorlas van hulself maak, maar hulle sal nie iemand leed aandoen nie. Sy gemoed word deur iets anders oorheers: twyfel. Twyfel oor die sin van die lewe. Twyfel oor die rol wat God, wat jou onwrikbare geloof moet speel om die gebeure in Maria Blom se lewe te verstaan en te verwerk. Hoe kan die Skepper van lewe, die een wat Liefde is, stilswyend toekyk hoe menselewens vernietig word? Die lewens van die vermoordes, ja, maar ook van Maria Blom.

Hy voel weer hoe haar uitgeteerde skouers onder sy aanraking ruk en beef. En in sy hart stem hy met haar saam, sy leef nie meer nie. Asemhaal, ja, maar nie leef nie. Hy weet dat die mededeling van vandag hom vir die res van sy lewe mank sal laat loop.

Arrie Johannes raak heelwat later aan die slaap. Hy word wakker toe hy ’n gehamer aan sy voordeur hoor.

“Oom Arrie! Oom Arrie, oom moet kom kyk! Daar moeilikheid by die katvrou!”

Hy spring orent, pluk klere aan en hardloop na buite. Die straat wat vroeër so stil was, is nou vol mense.

“Here,” bid hy hardop, “wees die arme vrou genadig!” Hy kom uitasem voor die eenkant huisie in Harmoniestraat tot stilstand. Voor hom in die straat is Jonatan Dawidse en ’n hele klomp mans, vrouens en kinders. Hulle is met elke denkbare wapen toegerus: grawe, besemstokke, bakstene, klippe, tuinvurke en toue.

Hulle skreeu almal saam: “Kom uit, jou Satanis! Vanaand vrek jy en Satan!”

“Broeders en susters!” probeer Arrie Johannes bo die geraas pleit.

“Asseblief, in die naam van die Here smeek ek julle! Dink net hoe beangs moet die stomme mens nie nou wees nie? Gee my kans, ek sal met haar praat. Haar oortuig dat sy die dorp moet verlaat. Asseblief, moenie dat ons onskuldige bloed op ons hande kry nie?”

Dit wil lyk of hy tot hul deurdring, want daar daal ’n stilte oor die onrustige gepeupel neer.

Arrie loop na die huis, maar steek in sy spore voor die voordeur vas. Langs die deur is een van Maria se katte vasgespyker. Die bloed drup op die sementstoep.

 

Jonatan Dawids grynslag in die donkerte en mompel by homself: “Praat maar, jou ou hoogheilige Fariseër! Jy moenie dink ek het vergeet hoe jy my van die kerkraad laat skors het oor my kamtige misstappie met die meisie in my wyk nie. Jy’t mos gemeen om hoofouderling te wees maak van jou ’n soort godjie! Vanaand vrek jy en die katvrou.”

Agter hom begin die Dawids-bende weer bloeddorstig uitroep: “Kom uit, jou fokken Satanis! Vanaand vrek jy!”

Arrie skop die deur oop en gaan die donker vertrek binne. Sy hand soek-soek in die donker na die skakelaar en vind dit.

Maria Blom hang leweloos aan ’n tou om die dalkbalk van die sitkamer. Die bloed drup klewerig in ’n plas onder haar voete. Haar lyf is op talle plekke oopgekloof. Langs haar staan die leidster van die Sustersbond met ’n byl in die hande.

Arrie Johannes, die vrome kerk- en gemeenskapsmens kyk met ongeloof in sy oë na Martha Volmoed en vra: Here-Here, Martha, hoe kon jy?”

“Sy het al gehang toe ek hier kom, maar jy … jy …” uiter sy skor.

Die volgende oomblik kloof die byl sy voorkop oop.

 

Twee dae later rapporteer Die Koerant oor die gebeure op Gelukspoort:

BISARRE PASSIEMOORD TREF RUSTIGE DORPIE

Inwoners van die rustige plattelandse dorpie, Gelukspoort, naby Oral, is geruk deur die bisarre selfmoord van twee bejaarde verliefdes. Volgens mev. Martha Volmoed (58), ’n bekende gemeenskapsleier, het die vermoorde mev. Maria Blom (56) sowat ses maande gelede haar intrek op Gelukspoort geneem. Daar het ’n verhouding tussen haar en een van die dorp se gesiene inwoners, mnr. Arrie Johannes (60), ontstaan.

Die verhouding het die gemeenskap geskok, want alle aanduidings dui daarop dat Blom ’n Satanaanbidder was wat gereeld katte vir die Prins van die Duister geoffer het.

Volgens die leier van ’n groep besorgde inwoners, mnr. Jonatan Dawids, het hulle vroeg Saterdagaand in die straat voor haar huis byeengekom om te bid en die bose geeste uit die dorp te verdryf. Hulle was veral besorg omdat daar, sedert haar koms, oral op die dorp duidelike agteruitgang ingetree het. Die steengroef wat ’n sleutelbedryf in die dorp is, het op ’n onverklaarbare wyse groot bestellings verloor en die kleinboere het ernstige skade gely weens lammervrektes.

Terwyl hulle voor die huis gebid het, het hulle gesien hoedat Blom ’n kat in haar agterplaas op ’n altaar offer. Die bebloede kat het sy later uitdagend en ten aanskoue van die drukgroep, teen haar voordeur vasgespyker. Met die aankoms van Die Koerant het die dooie kat steeds langs die deur gehang.

Die polisie vermoed dat die verhouding skeefgeloop het vanweë Blom se betrokkenheid by Satanisme, en Johannes, ’n gerespekteerde kerkleier, se afwysing daarvan. Johannes het vermoedelik die weduwee aan die balk in die huis se voorkamer opgehang en haar liggaam met die byl wat vir die offerande van die kat gebruik is, vermink.

Hierna het Johannes klaarblyklik nie kans gesien om die gevolge van sy daad te dra nie en homself op ’n bisarre wyse met die byl om die lewe gebring. ’n Passiemoord en -selfmoord het die polisie se segspersoon verklaar. Volgens die polisiewoordvoerder het Johannes op sy rug met die byl stewig in sy hande vasgeklem, gelê.

 

Daar heers ’n stille verslaenheid oor die gemeenskappie. Van die talle onuitgesproke vrae is: Wie was die heks wat Gelukspoort van sy geluk kom beroof het?

 

 

Lees ’n kort onderhoud met Elias P. Nel oor “Die heks van Gelukspoort” hier:

Korona-kortverhaalfees: Elias P. Nel oor “Die heks van Gelukspoort”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Die heks van Gelukspoort appeared first on LitNet.

Ons hou begrafnis

$
0
0

Foto: Canva.com

Ouma Kleynhans is in Julie 1973 oorlede en oupa Pieter het swaar gekry onder die alleenheid. Dit was ook nie ’n honderd jaar nie, toe hoor ons hy is met ’n ene Annette getroud, ’n veel jonger hupse weduwee met ’n geskiedenis. Dié het hy raakgelees in die Landbouweekblad se Hoekie vir Eensames, synde dit daardie jare die enigste ordentlike manier was om ’n hubare weduwee te bekom. Of dit nou ’n drukfoutjie was of bloot ’n geval van misrepresentasie, die uiteinde was dat die reseppie nie baie suksesvol was nie. So is sy ’n paar maande later vort – met ’n skeibrief, sy vakansiehuis in Gonubie, en vermoedelik ook ’n stewige tjekkie in die handsak – reg vir slagoffer nommer drie. 

So het oupa Pieter ’n dure les geleer – maar aan eensaamheid is daar nie ’n prys te koppel nie, en toe ons ons oë uitvee, was daar weereens ’n troue in die vooruitsig. Dié keer met ’n tant Marie – ’n weduwee wat alreeds twee mans oorleef het en kans gesien het vir nommer drie. Maar, anders as die vorige mevroue Kleynhans, was hierdie ’n formidabele tante wat nooit haar eie kinders gehad het nie en wie se een vorige man, oorle Van Rhyn, iewers in Duitswes ’n geldjie met diamante gemaak het en so gesorg het dat tant Marie ’n gemaklike oudag kan beleef. Korterig van gestalte, effe mollig, pêrels om die nek, vingers swaar van die ringe, en elke môre stewig in haar korset ingeryg om die figuur in toom te hou.

So dan en wan het Ma en Pa kans gesien dat ons by hulle gaan kuier, by hulle massiewe woonstel in Heimershof, Pretoria. Die okkasie het geroep vir ordentlike beplanning, want daar het jy nie sommer net vir ’n koffietjie opgedaag nie. Jy was aan’t huis van tant Marie. Breek die groot dag eventueel aan, word almal die leviete van goeie gedrag voorgelees, en behoorlik geïnspekteer net ingeval daar ’n taai handjie sy opwagting iewers gemaak het. Dit word dan ook herhaal voor hulle deurklokkie gelui word, die spanning aanvoelbaar. So is die porselein dan uitgehaal en tee en koekies is bedien. En, maaind you, net één koekie per persoon pryk op die bordjie. Jy durf nie seconds vra nie, want as Ma jou nie tot vloerhoogte ingekyk het nie, het tant Marie dit gedoen. Soms beide gelyktydig. Vir ten minste ’n uur word die kinders kiertsregop sitgemaak op haar kiertsregop sitkamerbanke. Hulle praat net wanneer hulle mee gepraat word. Suinig, suinig en weereens suinig.

Getrou aan haar tradisie, oorleef sy ook oupa Pieter, erf weer alles, kollekteer sy maandelikse weermagpensioen en woon vir ’n paar jaar alleen in die woonstel, waarna sy ’n kleiner woonstel in ’n ouetehuis koop. Toe dié plek bankrot speel en sy haar woonstel verloor, moes sy noodgedwonge weer haar tjekboek uithaal en ’n plek in ’n ander deel van die stad aanskaf. Maar, rumatiek, oumensskete en dies meer haal haar in en sy slyt haar laaste dae in die siekeboeg van die ouetehuis waar haar trots agterweë bly. Die nurse bed-was haar en die familiebesoeke verminder dramaties – buiten tant Annatjie wat verbete deurdruk en weekliks op en af jaag om die wasgoedjies te doen en haar geldsakies te hanteer. Waarskynlik geïnspireer deur die vae belofte van erfporsies en dies meer.

Toe kry ons die nuus – ouma Marie is oorlede en ons moet almal begrafnis toe. Niemand is besonder lus om te gaan nie want sy was maar ’n moeilike entjie mens, nie besonder geliefd nie. Maar, plig is plig en reëlings word dus getref. Ma en Pa woon op Sasolburg en ek woon in Pretoria waar ouma Marie begrawe word – dus het ek nie veel van ’n verskoning om nie te gaan nie. Buitendien moet ons Ma-hulle langs die pad of iewers op ’n punt kry, want ons familie het ’n geskiedenis van dééglik verdwaal, ongeag waarheen ons op pad is – iets wat hewiglik ontken word, maar wat ’n feit is soos ’n koei.

Die begrafnisreëlings is om praktiese redes aangepas en so word die teraardebestelling eers om tienuur gedoen, gevolg deur die gedenkdiens in die vierkant van die ouetehuis – waarskynlik om te sorg dat die verversings ooreenstem met die middagete van die inwoners. Soos ek gesê het, om praktiese redes.

Half-sewe die oggend beplan Ma-hulle om uit Sasolburg te ry. Dit gee dan so twee ure se ry en ’n uur se goeie verdwaal, dan behoort hulle betyds by die begraafplaas te wees. Suster Lydia ry sommer saam en kan ook met die aanwysings help en so aan. Hulle word gevolg deur my jonger suster Sandra, haar man Pieter en die twee kinders in hulle motor, want Pieter het ’n heilige vrees vir bestuur in die stad en hy sal nie alleen die plek vind nie. Dit was dan ook die vroeë dae voor selfone, dus moet die tydsberekenings vir oproepe via telefoonhokkies mooi beplan word.

Lydia het laat weet hulle sal so half-tien voor die ouetehuis in die kar wag, dan kan hulle agter my aanry tot by die begraafplaas, en agterna dan weer terug vir die diens. Pretoria se eenrigtingstrate is vir Pa ’n doolhof, synde hy in Sasolburg woon waar daar toentertyd nog nie eens ’n robot was nie. Dit klink heeltemal werkbaar, en so wag ek al slaggereed vanaf nege-uur, net vir die wis en die onwis. Maar al wat aankom, is Pa se kar. Die tyd stap aan. Ek bel tevergeefs, want die telefoon lui en lui en niemand tel op nie, dus moet hulle al iewers oppad wees. Net so skuins voor tien besluit ek, nou sal ek moet ry anders gaan ek dit nie maak nie. Hulle het waarskynlik laat weggekom en besluit om eerder direk na die begraafplaas te ry. Hopelik sal ek hulle daar kry.

Ek jaag met flitsende noodligte oor oranje-rooi robotte en stop in ’n stofwolk by die begraafplaas. So met die uitstruikel kan ek sommer sien daar is weinig mense om die graf en die enigste lid van ons gesin is my broer Michael. Ek glip so half ongesiens van agter nader en is net betyds om te sien: woeps, daar verdwyn ouma Marie se kis in die graf in. Dammit, nou het ek die hele diens gemis, en van Ma en Pa en my suster is daar geen teken te bespeur nie.

Nee, sê Michael, hy weet nie waar hulle is nie, maar hy sal gou gaan soek. Dalk is hulle laat en het besluit om maar by die ouetehuis te wag, dan ry ons solank terug daarheen. Daar aangekom, geen ma, geen pa, geen suster. Almal het spoorloos verdwyn. Na ’n blitsberaad sê Michael hy sal gaan soek, ek moet agterbly net indien hy hulle mis. 

So sit al die oues van dae uitgevat en slaggereed vir die okkasie wat sekerlik die hoogtepunt van die maand is. Hier en daar ooms en tantes met wie ons nie te gereeld kontak het nie en van wie ons dus g’n duit gaan erf nie. Die horlosie stap aan, almal sit heel stemmig. Maar, daar is geen teken van Ma-hulle nie. Twaalfuur breek aan en die predikant staan ongeduldig agter die tuisgemaakte preekstoel. Die tante agter die klavier begin noodgedwonge die intreenommertjie herhaal en herhaal, elke keer met minder entoesiasme. Maar, nog geen taal of tyding van die famile nie. Die diens kan nie voortgaan alvorens Ma-hulle daar is nie. So raak die tante agter die klavier se vingers moeg. Sy hou op speel, sit ’n rukkie en wag en sluip so ongesiens uit, met haar handsakkie oor die arm.

Die kongregasie begin nou erg verveeld raak en vermoed daar skort iets met die reëlings. Ten einde die tyd te verwyl, begin die oues van dae onderlangs klets en hier en daar word solank ’n breiwerkie uit ’n handsak opgediep. Die aantal leë stoele word geleidelik meer en die groepies begin al hoe harder lag en gesels. Waarskynlik as gevolg van die grade van doofheid en straks met behulp van ’n versterkingkie in die binnesak. Dit klink later sommer heel jolig. So sneuwel die eetgoedjies en drinkgoedjies ook, want die gewag maak ’n mens mos vreeslik dors.

Skuins voor een daag Ma, Pa en die res van hulle entourage uiteindelik windverwaaid daar op en moet noodgedwonge van voor af verby die preekstoel paradeer, ten aanskoue van die dapper agtergeblewenes. Van die vroeëre gewyde atmosfeer is daar absoluut niks meer oor nie en dit lyk veel eerder na die jaarlikse geriatric convention. Die ander familie kuier land en sand, en die paar oorblywende bejaardes sit en skinder kliphard en ruil siektetoestande uit. Meer as die helfte is reeds vort na hulle kamers vir ’n middagslapie. Die predikant, wat lankal beheer oor die okkasie verloor het, is nie met die gelaatkommery beïndruk nie. Hy rammel die diens af, sonder die pianis of ’n greintjie gewydheid. Tussendeur bespeur ek nie ’n enkele traantjie nie.

Na die tyd toe ons met ’n koffie en sigaretjie eenkant staan en oor die petalje giggel, sê Ma: “Nee, Pa dink mos hy weet waar om te ry. Jy ken vir Pa, hy weier om te glo hy is verkeerd. Dit is net hý wat dit regkry om sy stiefskoonma se begrafnis mis te ry.”

Hulle het iewers ’n afrit gemis en op die Witbank-pad beland, maar darem uiteindelik ’n afdraai gekry en toe gesukkel om weer in die stad uit te kom.

“Maar, toemaar,” sê Ma, “ons is immers nou hier. Dit is nou maar jammer ons het die begrafnis gemis, maar toemaar wat, dit is darem nou regtig ook nie doodsake nie”.

The post Ons hou begrafnis appeared first on LitNet.

Skoonma

$
0
0

Foto: Canva.com

Vanoggend sien ek toevallig weer die plastieksakkie in die tuinstoor. Daarmee sal ek nog moet planmaak, maar nie nou dadelik nie. Maar, alle stories het ’n begin al eindig hulle nie almal in die tuinstoor op nie.

’n Ongedurige skoonma is nie ’n ding waarmee ’n man sukkel nie. Soos dit toe ook nou gebeur, kry ek vermoedelik die duiwel se eie sussie vir ’n skoonma, en ek en sy kan van meet af aan nie vatplek kry aan mekaar nie.

Met ons eerste ontmoeting jarre terug word ’n pot tee gebrou en ek moet my leë teekoppie ’n paar keer in die rondte swish sodat die teeblare haar kan vertel wat vir my in die toekoms voorlê, en om seker te maak dat daar nie dalk ’n beduidenis is dat ek straks ’n reeksmoordernaar, verkragter of katoliek is nie. Die gegorrel was seker nie baie akkuraat nie, want kort voor lank toe is ek en haar dogter getroud.

Soos dit ’n goeie skoonma betaam, moes ons die huweliksnag onder hulle dak deurbring, en die volgende oggend is hulle terstond saam met ons Pietersburg toe, waar ek kort tevore ’n huis laat bou het. Net om ’n week of so te kom kuier en ons te help insettle ... Bye bye honeymoon.

Ons word die trotse eienaars van ’n koperdubbelbed, wasmasjien, yskas en ’n Berda Snackwich (courtesy of Bears Furniture) waarvan ek vir twee maande lank elke aand aandete kry.

Oor die res van daardie kuiertjie sal ek nou nie te veel uitwei nie, maar dit was nag. ’n Paar dae later het hulle die aftog geblaas en is hulle terug met die wete dat hulle dogter ’n onbeskofte armgat getrou het wat nog nie eens die erf laat omhein het nie – aldus skoonma, verbatim.

Na die onvermydelike egskeiding 25 jaar gelede het ek en die skoonouers selde kontak gehad en dit het almal perfek gepas. Tot onlangs toe.

Ek woon in Mafikeng, en so bel my kind my een aand in Oktober om te sê sy oupa is oorlede. Ek simpatiseer, maar omrede die ouma en oupa bykans geen belangstelling ooit in hom getoon het nie, is dit maar eintlik uit ordentlikgeit dat hy my laat weet. Denkend dat dit die vorige aand gebeur het, vra ek uit en sê hy nee, pa verstaan nie mooi nie – dit was al blykbaar iewers in Julie of Augustus. Sy ma het hom nou eers laat weet. Nouja, te laat vir ’n ruiker of ’n kransie, en skynbaar is daar niks wat ons kan of hoef te doen nie.

’n Paar dae later bel gewese vroulief my uit Mosselbaai – sy is bekommerd oor haar ma in Vereeniging. Aldus die bure, sien hulle haar selde, dit lyk of alles nie pluis is daar nie, kan ek nie asseblief op ’n stadium ’n draai daar maak nie?

Ten spyte van die vooruitsig van ’n drie uur-lange rit, kry ek die adres en ry ek op ’n pragtige Sondagoggend deur. Met my gebrek aan ’n sin vir rigting neem dit my nog ’n goeie uur en ’n half se verdwaal voor ek die huis opspoor. Op die oog af lyk dit netjies, maar daar is ’n stewige slot en ketting aan die hek. Ek spring toe maar bo-oor, ten aanskoue van verskeie nuuskierige bure – jy sien net gordyne beweeg links en regs. Skoonma herken my toe bo alle verwagting, is beleefd en ek kry ’n koppie koffie uit die deal. Omrede dinge nie lekker lyk nie, neem ek skelmpies ’n paar foto’s met my selfoon. ’n Halfuur later is ek weer oppad en ek bel gewese liefie net om te sê dinge is nie pluis nie. Daar is weinig meubels in die huis, daar is nie juis kos in die yskas nie en haar ma se gedagtes dwaal effe. Nee, bevestig sy, los dit net so, haar ma is moeilik en dan is alles reg.

Intussen verhuis ek Karoo toe, en so kry ek ’n paar keer sulke oproepe van haar. Die bure sê hulle het haar ’n paar dae laas gesien, dan het sy hulle verskree, dan het sy om die huis geloop met die sambok en die mure geklits, volgende keer lyk dit of sy nie kos het nie, ensovoorts. So kom ek agter my broer se vrou se suster woon hoeka reg voorkant die straat, en hulle beloof om ’n ogie oor haar te hou. So neem my broer ’n kospakkie en met die volgende kospakkie weier sy om dit te aanvaar. As die bure naby die huis kom, dreig sy om hulle morsdood te skiet. So word sy soms gesien waar sy swetsend om die huis stap en die mure met haar sambok klits terwyl sy duiwels uitdryf. Ai, tog, ingryping is dringend.

So word die oproepe van die bure al hoe meer gereeld. Ek sukkel om die Vereenigingse welsyn in die hande te kry, Seun stuur op ’n kol die ambulans nadat die bure haar vir ’n week lank nie sien nie, maar hulle hoor haar weeklaag in die nag. Begin Januarie begin dit totaal handuit ruk. Weer kry ek die oproep om te sê Skoonma is al bykans twee weke nie te sien nie – die bure vermoed die ergste. Na ’n verbete stryd kry ek die SAPS en die welsyn gelyktydig daar, en gee telefonies toestemming om die deur oop te breek. En ook nie ’n oomblik te laat nie. Skoonma word in ’n hoogs verswakte toestand aangetref, gepaardgaande met erge delusions.

Intussen is my seun oppad vanaf Plettenbergbaai na my in Steynsburg, waarna ons die nag sal deurry na Vereeniging. Na sy aankoms half-elf die aand val ons in die pad, en toe die sonnetjie sy opwagting maak oor ’n vaal Vaaldriehoek, hou ons by die hospitaal stil na ’n vinnige koffietjie by kleinboet in Sasol.

Skoonma is op ’n drippie in die vrouesaal, maar swets soos ’n matroos toe sy ons sien. Haar kleinseun herken sy glad nie, en sien hom vir ’n indringer en opportunis aan. Volgens beide die SAPS en welsyn is sy nie langer in staat om na haarself om te sien nie, en ons word versoek om reëlings te tref om haar te laat opneem in ’n instansie wat haar kan versorg. So beveel hulle aan dat die huis opgepak word aangesien inbrake gereeld in daardie omgewing plaasvind en die huis tans oopstaan. Binne ’n bestek van twee dae pak ek en Seun die huisinhoud op, was al die klere en linne, skrop die huis, sny die oerwoud van ’n tuin en kry haar motortjie uit die lang grasse uitgevis.

So met die skoonmaak van die Corollatjie kry ek die eerste banksakkie – nie met geld in nie, maar ’n grys-bruin inhoud wat baie verdag lyk. Ja, beaam Seun, dit lyk my dit is my Oupa daardie. Verskeie plastieksakkies later op strategiese plekke uitgevis, weet ons – dit is sy oupa se assies. Mooi gebêre onder sitplekke, matte, kattebak ensovoorts. So word Oupa saggies ter ruste gestrooi in die tuin, en ons gaan voort.

Maandagoggend vroeg laat weet die hospitaal Skoonma word ontslaan, hulle het die bed nodig en sy is buite gevaar. Met ’n geweldige gesukkel en die hulp van die welsynbeampte, kry ons haar buite in ’n rolstoel, tot by haar motortjie. Aangesien my bakkie by haar huis staan, gelaai met haar karige goedjies agterop, het ons haar karretjie opgekommandeer met die gedagte dat sy dalk meer tuis sal voel met die bekende.

Die sekuriteit kry haar in die kar, sy swets deurentyd en dreig om haar (oorlede) man te vertel met watter onderduimsheid ons besig is. Net ’n vinnige stop by haar huis om die kluis se sleutel, haar dokumente en haar pappegaai te kry, en ons is oppad – Skoonma, die pappegaai en ek.

Sy is gedisoriënteer, swetsend en glo vas ons is oppad na haar huis toe. Aangesien sy rook as satanisties beskou, mag ek nie in haar teenwoordigheid rook nie en dit noop dit my om ter wille van sanity elke halfuur van die pad te trek om te kalmeer en dan suig ek die sigaret dat die kooltjie bloedrooi gloei.

Na ’n uitmergelende 13 ure in die kar, arriveer ons in Steynsburg te midde van gietende reën en daar weier sy, heel verstaanbaar, om uit die kar te klim. Na ’n hewige stryd is sy in die huis en lekker agressief. Sy dreig om die polisie te bel oor die ontvoering, vloek soos ’n matroos en lig my in dat sy op die stoel gaan “urineer”. Maar, ’n halfuur later kom sy rustig uit die kamer, vra ’n koppie tee, besoek die badkamer en gaan rustig slaap. Hallelujah.

Dinsdagoggend kom sy uit die kamer uit met ’n donderwolk op die gesig. Geensins spraaksaam nie, maar ten minste nie skellend nie. Koffie word aangedra en sy sit relatief kalm in die sitkamer en drink. Intussen gaan ek kyk of haar kamer in die ouetehuis gereed is, en hulle beloof om haar dadelik te kom haal.

Met die suster se aankoms is sy paaiend na die kombi gelei en klim effens steeks in, maar ten minste is sy in. By die ouetehuis aangekom, begin sy mor en uiteindelik kry ons haar in haar kamer met ’n koppie tee. Neewat, sê die suster, die pappegaai kan sommer ook bly. En, moenie worry nie, sy is netnou ingesettle.

Ek is skaars by die huis toe bel die einste suster. Jy moet jou skoonma asseblief onmiddellik kom haal, sy wag al by die hek. Sy het só amok gemaak en die ander inwoners ontstel dat hulle nie kans sien om haar langer onder hulle dak te hê nie. Ek moet nou self plan sien. Ter versagtende omstandighede, voeg sy ten slotte by, dalkies kan sy namens my by dr Herbst hoor of hy haar nie kan sedeer of opneem in die plaaslike hospitaal nie. Die enigste ander opsie is vir my om haar direk Queenstown toe te neem na die psigiatriese hospitaal. Ek begin gereedmaak vir die ekspedisie, en ek was skaars weer tuis toe sy my laat weet die saak is reg – sy kan solank plaaslik opgeneem word.

Vandaar is ons reguit hospitaal toe. Na ’n laaang wag word sy uiteindelik in die privaatsaal opgeneem, pappegaai steeds op die skouer. Daar is Skoonma ingeburger in die hospitaal, en vrede volg vir ’n paar dae.

Ek besoek haar getrou elke dag, en ewe getrou swets sy elke keer wat sy my sien. Teen Vrydag besluit die hospitaal ook genoeg is genoeg, en ek word ingelig dat hulle haar gaan ontslaan.

Hoogs benoud begin ek weer die rondte van oproepe doen. Iemand moet haar inneem, sy weier om by my aan huis te wees en dreig om die huis af te brand as ek haar nie terugneem na haar huis nie. Ek gaan pleit by die ouetehuis. As ek kan waarborg dat sy stabiel en onder medikasie is, kan hulle dit weer ’n kans gee. Ek vra die suster om dr Herbst te bel. Sy doen so, en kort voor lank gil hulle só op mekaar dat die telefoonlyne bewe. Sy weier toe volstrek en ek moet maar self by dr Herbst gaan smeek. Daar gekom, bel hy die suster terug, skree op haar, plak die foon in haar oor neer en sê kalmpies hy kan niks doen nie – dit is maar my probleem.

Genadiglik sien die een swart dokter in wat die probleem is. Hy begin oproepe maak, en kry toe plek in Komani-hospitaal in Queenstown.

Die ambulans word gereël vir haar vervoer en ek moet agterna om die opname te doen. Ons beland uiteindelik in Queenstown, maar soos dit die staatshospitaal se gebruik is, moet ons haar eers adminstratief laat opneem in Frontier-hospitaal en vandaar na Komani. Makliker gesê as gedaan. By Frontier wag ons twee ure alvorens ons die nodige papierwerk bekom. Die hospitaal is walglik vuil en bloeiende pasiënte sit geduldig en wag vir hulle beurt op ’n bietjie aandag. Die feit dat ek en sy die enigste blankes is, veroorsaak die vreemdste kyke en definitief swakker behandeling.

Maar, nou weer terug na die wagtende ambulans. Wat toe nie meer wagtend is nie. Dié het besluit genoeg is genoeg en het pad gevat. Toe begin die gespook om Skoonma in die bakkie te kry. Op die ou einde oorreed ’n portier haar om tog in te klim, belowe haar dat sy nou Vereeniging toe gaan en daar ry sy ewe besadigd saam na Komani.

Daar aangekom, word ek plegtig ingelig dat die papierwerk nie reg is nie. Die suster bel vir Komani, skree op iemand in isiXhosa, en ek en Skoonma is weer terug oppad na Frontier. Toe is die wag nog langer. Die psigiater wat die evaluasie moet doen, is toegegooi onder werk, maar baie ordentlik. Ure later is ek en Skoonma weereens op pad na Komani vir die opname. Dié keer met hopelik al die regte vorms en papiere. Skoonma word opgeneem en ek kan uiteindelik laatmiddag terugry Steynsburg toe.

So volg ’n paar maande van vrede. Ek besoek so een of twee keer die hospitaal en bel so dan en wan om te hoor of alles okay is. Intussen klim Skoonma se suster, met wie ek 25 jaar gelede een keer telefonies gepraat het, uit die woodwork nadat die familie toevallig na vier maande agterkom sy woon nie meer in haar huis nie. Tant Miems bel, en so word selfoonoproepe gemaak, e-mails en SMS’e vlieg op en af. So kry ek ook die idee dat hulle dink ek is agter Skoonma se geld of goedjies aan (sy besit feitlik niks van waarde nie). Die hele ekspedisie het my ’n fortuin aan brandstof, oproepe en tyd gekos.

Aangesien daar ’n polisiesaaknommer op Skoonpa se doodsertifikaat staan, weier sy polis en pensioen om uit te betaal, en ek het die opnames op staatskoste gedoen gekry.

Alles is relatief rustig, tot een Donderdag. Tant Miems bel my, Skoonma is ontslaan. Alreeds eintlik. Ek bel Komani, pleit vir ten minste een dag grasie en jaag die volgende oggend deur na Komani om haar te gaan haal. Daar raak sy bitter moeilik en al vloekende word sy teruggelei na haar kamer. Naderhand besef die suster dat ek nie vir Skoonma kan terugneem nie. So smeek ek desperaat by die psigiater om ons twee tot drie weke uitstel te gee.

Skoonma is gediagnoseer met skisofrenie en reaksionêre psigose en moet in ’n omgewing gevestig word waar sy onder toesig en met medikasie versorg kan word. Dit is definitief nie ideaal by my huis nie. Veral nie omdat sy gedreig het om my huis aan die brand te steek nie.

Drie weke grasie word toegestaan, en genadiglik gaan haal tant Miems haar suster om by haar te gaan inwoon.

Maar, ’n maand of wat tevore is ek en Allan besig om haar mankoliekerige Corollatjie se bedrading te probeer herstel. Kan jy nou meer: in die enjinruim lê daar ’n plastieksakkie met ’n baie bekende tipe inhoud – effens verhard na die lang rit en maande neffens die alternator, maar onmiskenbaar – die laaste van lywige oupa Gert se remains.

En, deel Allan my mee, te oordeel aan die grootte van die plastieksakkie, is dit sonder twyfel sy oupa se linkerboud.

The post Skoonma appeared first on LitNet.


Gevaar by die dam

$
0
0

Foto: Canva.com

Gert Visser sit langs die viswaters by ’n dam net buite die Paarl. Hy is verlig dat hy uiteindelik, nadat die regulasies merkbaar verslap is, weer kan visvang by die klub se dam. Hy hoef nie meer rond te sluip op die gholflandgoed waar hulle bly om iets te vang nie. 

Alhoewel hy beperkte sukses gehad het met sy klandestiene visvangekspedisies op die gholflandgoed, het hy heeltyd baie daarna uitgesien om langs ’n plaasdam, oop en bloot en met oorgawe, in die teenwoordigheid van ander hengelaars, spontaan te kan visvang. Die geleentheid het hom nou uiteindelik voorgedoen. In terme van die reëls van die hengelklub, waarby hy net voor die grendeltydperk aangesluit het, kon hy ’n bespreking doen en het hy dus vroeg op die betrokke Sondagoggend met sy hengelgereedskap en nuwe visstokke slaggereed na die dam gery.

Gert geniet die rustigheid langs die dam met geen bekommernisse in die wêreld, veral op ’n Sondagoggend aan die begin van die lente. 

Sy vrou, Annabe, het weer in Junie by die Waterfront begin werk nadat sy ook vir ’n geruime tyd tydens die grendeltyd saam met hom by die huis was. Teen die einde van Mei was dit vir hom duidelik dat sy verveeld was en daarna uitgesien het om terug te gaan werk toe, al is dit net om nonsens te gesels met haar kollegas. As gevolg van sekere regulasies wat nog in plek is, is daar tans nie juis toeriste by die Waterfront nie.

Gert het seker gemaak dat hy genoeg padkos ingepak het vir die hele dag langs die dam. Hy het die toebroodjies self gemaak: ham, kaas en eier, sy gunsteling kombinasie. Hy het ook ’n paar alkoholiese drankies saamgebring, onder andere ses biere, ’n bottel gin, tonic water, ’n paar glase en ’n sak vol ys wat hopelik nie te gou sal smelt nie.

Ter voorbereiding vir die ekspedisie het hy in sy stoorkamer rondgekrap en afgekom op ’n Cobb-braaitoestel wat perfek geskik is vir dié tipe buitelug-ekspedisies. Hy het ook ’n paar skaaptjops, aartappels en twee mielies ingepak wat sal dien as middagete.

Dis net jammer dat sy beste vriend, Marcus, nie kon saamkom nie. Hy het eers ja gesê en hom toe twee dae later teruggebel en gesê dat sy vrou iets gereël het vir dié Sondag. Hulle moet glo saam met vriende gaan blomme kyk langs die Weskus.

Gert pak al sy visvanggereedskap uit en parkeer dan sy motor veilig en binne stapafstand. Hy berei die regte aas voor, plaas sy twee visstokke langs die dam en wend die aas naby die hoeke aan. Met ’n gemaklike aksie gooi hy die aas in en sien hoe dit met ’n plons die water tref. Hy plaas die visstokke op hul staanders en gaan sit op die kampstoeltjie wat hy spesiaal vir dié geleentheid gekoop het. Nou kan hy vrede vir sy siel hê en die dag probeer geniet.

In die verte sien hy die nabygeleë berge net buite die Paarl. Dit lyk of die een bergpiek nog ’n bietjie sneeu op het. Miskien verbeel hy hom. Dis hoogtyd dat die lente ten volle posvat. Hierdie winter was besonder koud en nat. Al wat nog moet gebeur is dat Eskom die ligte vir langer tydperke afskakel. Dan bly ons werklik in donker Afrika.

“Ekskuus, Oom,” hoor Gert skielik iemand agter hom praat. Hy kyk om en sien ’n jong man en twee van sy vriende na hom aangestap kom. Hulle lyk soos studente maar is gebou soos rugbyspelers; lank, lenig, gespierd en atleties. Die voorste een kom nader en voor Gert staan. “Jammer om te pla, Oom, maar dit is eintlik óns visvangplek hierdie. Sal Oom omgee om so ’n honderd meter verder aan te skuif en daar te gaan parkeer?” 

Gert weet vir eers nie wat om te sê nie. Hy kyk om hom rond en sien geen kennisgewingborde of aanduidings wat plekke afbaken of nommers bevat of wat inligting verskaf oor wie waar mag en kan visvang nie.

“Ekke ... ekke ... sien geen kennisgewings wat sê waar ek mag visvang nie. Ek het my naam vir die klub gestuur en hulle het gesê dat ek vandag ingesluit is op die lys van mense wat hier kan visvang. Ek besef dit is ’n private visvangklub en dat slegs lede hier kan vang. Ek het net voor die grendeltyd begin het formeel aangesluit. Julle kan vir Jaap, die voorsitter, bel om seker te maak.”

“Dis nie waaroor dit gaan nie, Oom. Ons is al redelik lank lede van hierdie klub en vang altyd op hierdie plek vis. Die meeste van die gereelde lede weet dit nou al en gaan parkeer en vang elders langs die dam.”

“Wel, toe ek aangesluit het, het Jaap vir my ál die reëls en regulasies gestuur,” gaan Gert onverpoos voort. “Ek het niks gelees van bespreekte plekke langs die dam nie. Die e-pos wat onlangs tydens die grendeltyd uitgestuur is, het ook geen melding gemaak van spesifieke plekke nie. Die enigste beperking is die hoeveelheid mense wat op ’n gegewe dag mag visvang.”

“Luister, Oom, ek vra jou vir die laaste keer om jou goed op te pak en ten minste ’n honderd meter verder aan te skuif,” sê die voorste een. Hy kom nog nader en kyk Gert diep in die oë. Hy leun nog vorentoe met sy gesig nou enkele sentimeters van Gert s’n af.  Die ander twee staan verder terug met hulle hande op hul heupe en kyk dreigend in Gert se rigting.

Gert besef dat hy nou met ’n netelige situasie te doen het. Hy is duidelik nie voorbereid vir hierdie tipe konfrontasie nie. Alhoewel hy geensins in ’n posisie is om homself fisies teen hierdie jong manne te verdedig nie, besef hy egter dat sy ervaring as ’n eertydse spesialetaakmag-lid van die Suid-Afrikaanse Weermag hom vandag hopelik handig te pas sal kom. Wat hy gaan doen, weet hy nog nie. Hy is nie gewapen nie. Hy is nie fiks nie. Hy was lanklaas in ’n geveg betrokke. Hy is veel ouer as die drie jong gespierde manne. Hy weet ook nie of hulle gewapen is nie. Tot dusver het nie een van hulle ’n wapen te voorskyn gebring nie. Hulle hoop seker dat hy sal skrik en padgee soos enige ouerige man in sy situasie seker maar sal doen.

Gert haal sy selfoon uit sy broeksak. “Wel, laat ek net gou vir Jaap ...”

“Vir die heel laaste keer, Oom, pak jou goed op en skuif! My geduld is op,” sê die voorste een. Die ander twee kom nadergestap en hulle omring hom. Die een links van Gert is effens korter as die ander en kom skielik met ’n mes te voorskyn. Dit lyk vir Gert asof dit nie ’n jagmes is nie, maar eintlik ’n vismes waarmee ’n mens gewoonlik ’n vis vlek.

Die volgende oomblik suis een van Gert se visstokke se katrol soos ’n vis die aas vat en met die hoek in sy bek vasgevang probeer wegkom. 

Almal se aandag is nou op die visstok. Sonder om te dink hardloop Gert na die stok, lig dit uit die houer en pluk dit na hom toe. Hy begin dadelik katrol. Dit voel soos ’n grote. Hy kan nie hierdie een laat wegkom nie. Sonder om aarsel ruk hy die visstok weer. Die drie jong manne kom nou dreigend nader. Hulle lyk nie gelukkig nie. Gert besef dat sy situasie verder verswak het. 

Die volgende oomblik duik die voorste een Gert van sy voete af en hy slaan op die grond neer met die visstok wat wegspat en aan die ander kant van sy visvanggereedskap te lande kom. Gert probeer orent kom, maar die voorste een is op hom en druk hom teen die grond vas. Hy kyk op en sien die ander twee om hom staan. Die kort een het nog steeds die mes in sy hand en skuif dit van die een hand na die ander. Die derde een staan reg langs hom, met sy hande in sy sakke en ’n breë glimlag op sy gesig.

“Wat om hemelsnaam gaan hier aan? Wat wil julle eintlik hê?” skree Gert. “Ek is hier om vis te vang. Los my uit!” Die voorste een het sy hand op Gert se bors en met sy ander hand haal hy ’n pistool uit en druk die koue loop teen Gert se voorkop.

“Oom het duidelik nie ore nie of is heeltemal doof,” sis hy, sy mond sentimeters van Gert se oor af. “Oom kan nie hiér visvang nie. Dit is óns plek. Loop nou of ek trek die sneller!”

Gert draai sy kop en sien hoe sy visstok deur die vis in die dam ingetrek word. Wat ’n nagmerrie. ’n Mens kan nie eers meer vreedsaam op ’n Sondag langs ’n dam buite die Paarl visvang nie. Hy besef hy sal nou iets moet doen. “Oukei, ek gee op. Julle wen. Laat my gaan. Ek sal onmiddellik oppak en huis toe gaan. Julle kan verseker wees dat ek nóóit weer hier sal kom visvang nie!”

Die voorste een ontspan en staan op. Gert kom geleidelik orent en sonder om te dink, dis seker maar die ou taakmaginstink, gryp hy die pistool uit die voorste een se hand en rig dit op hom. “Nou luister júlle vir mý,” sê Gert. “Maak dat julle wegkom voordat ek die polisie bel!”

Die volgende oomblik stop daar ’n bakkie langs hulle en ’n ouerige man spring uit. “Whoa, whoa, stop die lorrie! Julle het nou te ver gegaan met Gert. Dit was veronderstel om net ’n inlywingsgrap te wees om sy eerste visvangekspedisie by die dam te vier. Dit was regtig nie nodig om hom plat te duik en so te dreig nie, Janneman!” bulder Jaap de Goede met ’n effense glimlag op sy gesig. “Visvang is definitief nie vir sissies nie!”

The post Gevaar by die dam appeared first on LitNet.

Moord hier naby

$
0
0

Foto: Canva.com

Moord is mos ’n vreeslike ding. Dit is skurke wat moor. As hulle inbreek en gekeer word. As kompetisie uitgeskakel moet word. As jy in jou eie bed wakker word en iemand ’n pistool voor jou kop hou, jou goed vat en dan skiet.

Maar hierdie moord was anders.

Die spesifieke Sondag was ek besig om vir my katkisasieklas, wat na die oggenddiens sou plaasvind, voor te berei. Die foon het gelui en dit was tant Ellie van Lawsonlaan: “Dominee, hier het iets vreesliks by die bure gebeur. Kom asseblief! Jan het sy vrou en seun geskiet.”

Op pad soontoe het ek aan die seun, Charl, gedink. Hy was juis in my katkisasieklas – betrokke, nuuskierig en vol diep vrae.

By die Van Dyks se huis gekom, was daar oral polisievoertuie. Ek het uitgeklim en na die voordeur toe gestap. Sewe meter van die voordeur af, net langs die paadjie, het die liggaam van Charl gelê. Hy was dood, toegemaak onder ’n polisieseil. In die huis het ek nog ’n liggaam onder ’n seil gekry – dié van Martie, die vrou. Deur die glasdeure na die sitkamer toe het ek ’n polisievrou sien sit saam met Jan, die pa, en sy dogter Marie. Marie was erg gestrem; fisies en intellektueel. Sy kon met hulp loop, maar kon glad nie sinvol praat nie. Nie een van die polisiepersone het voorgestel dat ek met Jan praat nie en ek was te bang om dit enigsins te suggereer.

Ek het na die kerk toe gery. Ek was nog betyds dat my kollega by die diens die skoknuus van die gesinsmoord met die gemeente kon deel. Die katkisasieklas het in ’n gehuil ontaard. Ek moes seker bid, maar ek kon nie. Ek het klas afgestel.

Twee dae later het ek wel vir Jan in die polisieselle besoek. Die Saterdagnag tevore het Jan blykbaar geknak. Hy het besluit om sy gesin en homself uit te wis. Eers het hy sy vrou geskiet, toe sy seun. Die seun het uitgehardloop om hulp te gaan soek, maar het ineengestort voordat hy iemand se aandag kon trek.

Hy moes toe vir Marie skiet, maar hy kon nie. Sy was so hulpeloos en pateties, hy sou nie so ’n mensie kon doodmaak nie. Hy kon toe ook nie homself skiet nie en het in die sitkamer gaan sit. Kort daarna was die polisie op die toneel, uitgeroep deur die bure wat die skote gehoor het.

Ek het die moeder en seun die Vrydagoggend begrawe. Alle trooswoorde was clichés, ek kon maar net my funksie vervul, nie juis effektief nie. Jan is deur die polisie na die diens gebring en het in die moederskamer gesit. Dit het alles net nog moeiliker gemaak, ook vir familie en vriende wat hom deur die venster sien sit het.

Die verlies ...

Lees ook 

Die aanslag op my brein 

Die sonde van die kinders

The post Moord hier naby appeared first on LitNet.

Kommadagga-kortverhaal: “Seemeeu”

$
0
0

Regardt Visser het vanjaar LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos meegemaak. Hierdie kortverhaal is een van sy skryfprodukte wat by die slypskool onder hande geneem is.

..................

Desembervakansie is verby.

Koeldrankblikkies en ice cream wrappers waai deur leë strate. Hulle staan kaal bolyf op die brug. ’n Seemeeu duik vir die sigaretstompie in sy hand en vlieg daarmee weg.

“Dink seker dis ’n chip.”

“Onnosele voël.”

“Jy weet, daar’s seemeeue in Bloemfontein en Johannesburg,” sê hy.

“Sal nie weet nie. Was nog nooit daar nie.”

“Ek ook nie, maar ek’t gehoor.”

“En? Wat’s jou punt?”

“Wat maak ’n seemeeu in die middel van die stad?”

“Ek weet nie. Wat máák ’n seemeeu in die middel van die stad?”

“Ek weet ook nie. Net vreemd dat jy ’n seemeeu in die middel van die stad kry.”

Hy kyk uit oor die dorp.

“Hulle sal altyd moet huis toe kom.”

“Hoekom?” vra hy.

“Want dis ’n seemeeu. Dis in sy naam.”

Vakansiegangers met Venter-trailers vol swartsakke stop aan die anderkant van die brug. Hulle gooi die vullis op die hope gemors van vakansies voor dié een. Sodra hulle wegry, klouter die silhoeëtte van kinders handeviervoet tussen waatlemoenskille, bierblikkies en geskenkpapier rond.

’n Kar toet. Hy draai om. Hy waai vir die gesinne wat een vir een in die verte verdwyn. Voordat hy kan sien waarheen hulle gaan, verblind die son hom.

“Het jy al besluit oor skool?”

“Nee,” sê hy. “Ek moet geld verdien.”

“Laat weet my as ek ’n lyntjie moet gooi by die fabriek.”

“Ek sal iets kry, dankie.”

“Soos wat?”

“Vullisman. Daar’s baie geld in ander mense se gemors.”

“Hoe wil jy ryk word van daai pay?”

“Kry die werk. Klim die ranks. Koop ’n lorrie en sit ’n span bymekaar.”

“Soos ’n entrepreneur?”

“So iets.” Hy klim versigtig op die rand van die brug. Hy vind sy voete op die smal muur en kyk af na die water. Onder op die rivierbank staan vissermanne en skreef hul oë na die figuur wat bo die dorp uit toring.

En hy spring.

Nou sit hulle onder die brug. Die vriend gee vir hom ’n plastiekbottel aan. “Dis goedkoop, maar dis lekker.”

“Sure.” Hy vat ’n diep trek en ’n koudte brand deur sy sinusse. Sy kop is swaar. Die motors word ’n dowwe gedruis in die verte. Sy kakebeen word lui.

“Jy sal nog sien,” sloer hy oor sy woorde. “Ons gaan orraait wees.”

Hy vat ’n geroeste draad en krap in die sand: Thys was hier.

Die fabriek se groen lig gloei teen die agtermiddagson wat verdwyn. ’n Seemeeu krys.

 

Lees Theolla Langenhoven, ook ’n Kommadagga-slypskoolganger, se opiniestuk hier:

Kommadagga-opinie: Hou ons begrafnis of show ons af?

 

The post Kommadagga-kortverhaal: “Seemeeu” appeared first on LitNet.

Kommadagga-kortverhaal: Jy het nie ’n graad nodig vir common sense nie

$
0
0

Helena Troskie was vanjaar ’n deelnemer aan LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool. Sy het hierdie kortverhaal tydens haar residensie in Somerset-Oos geskryf.

................

Waar in die wêreld kry jy ’n Rolex op ’n menu?

By die Stanley Hotel in Kampala.

“One Rolex and an Africa tea, mwattu,” bestel ek.

Hier kry jy dié omelet met groente, toegedraai in ’n chapatti. Op die rooi-polish-stoep van die hotel is tafels waar gaste hul kos kan geniet, en groot dakwaaiers. Voor my skud en skommel Luggogo Road se verkeer verby. My maag maak ’n senuagtige draai as ek dink aan my terugrit huis toe.

Ek bestuur ’n trekker al vandat ek agt jaar oud is. Skrik, skrik ek nie sommer vir enige verkeer nie, maar in Uganda word alle normale verkeersrëels verbreek. Elke rit is ’n nagmerrie. Totale chaos met verdraagsaamheid en humor vermeng. Jy toet net as ligte waarskuwing. Nooit soos in “Toooeeet, voertsek, jou padvark!” nie. Motors, minibustaxi’s, boda bodas (motorfietstaxi’s), bokke en beeste ding mee vir ’n neus voor in die ry.

Vir die voertuie is daar drie verskillende verkeersafdelings. Die pienk-uniform-konstabels beheer net die boda bodas. Die kakie uniforms kyk na gewone motors en die swart uniforms fokus op minibustaxi’s. By elke sirkel is all of the above met hulle fluitjies teenwoordig. Mense skree uit taxi’s vir mekaar: “Siiba bulungi!” Have a nice day! Fluitjies blaas en bokke blêr. Helderkleurige vroue met groot plat mandjies vol piesangs op die kop vleg ligvoets soos dansers tussendeur.

“Enjoy your meal, Madame,” sê die waiter terwyl hy my kos neersit. Die Rolex en spicy marsala tea on the side is net wat ek nou nodig het.

Terug by Plot 6, Archer Road, Kololo kry Owore my in die garage om te help afdra aan die groceries. Met die teken van ons huurhuiskontrak het die eienaar, mevrou Kalinga, gesê: “Owore Adonga comes with the house. He started working for me at the age of 27, he’s been my houseboy for nineteen years.”

Ek en die nederige Ugandese man is baie saam in die kombuis. As ek vir ons sterk melkerige tee maak, ontvang hy dit met ’n skaars waarneembare vooroorbuig. Net so ’n agste van die buig wat mens voor die Queen sou uitvoer. Dit doen hy elke keer as hy enigiets by my aanvat. Hy verstaan en praat basiese Engels.

“Do you have a wife?” vra ek terwyl ons staan en tee drink.

“Yes, Madame, wife and children.”

“So where are they now?”

“In Tororo. She is farmer and mother.”

“But when do you see them? What is your wife’s name?”

“She is Afiya. I see them end of month when I go home. It takes a long time in the taxi to get to them.”

Terwyl my maat lang ure as hoof van ’n bankgroep werk, is ek aangewese op Owore se raad omtrent alles in Kampala. Hy is die een wat my wys waar die naaste convenience store vir brood en melk is. Ons huis sit op ’n koppie. Vanaf die stoep beduie hy my waar Idi Amin se vorige huis teen die afdraand sit. ’n Oordadige wit paleis. Hy leer my alles vsn hoe om ’n groentetuin in die trope aan die gang te hou.

Smiddae wanneer ons voorberei vir aandete, gesels ons op ons lekkerste.

“Tell me about your children?”

“I have four boys, one of them is late.”

“Ag, I’m so sorry!”

“It’s okay, Madame, it is long time ago. It was very difficult for Afiya. Me working here and she alone on the farm with younger boys.”

“So she has no grown-up to help her?”

“Only the two boys when they come from school. The oldest works in another town. My wife works in the field herself. She plants cassava.”

Soos wat die maande aanloop, kry die prentje van Owore se gesin gaandeweg kleur uit die stukkies geselskap wat ons tussen ons rondgooi. Sy vrou doen die meeste van die harde werk alleen met ’n skoffelpik en graaf. Daar word ook mielies op die plasie geplant. As die oes groter as gewoonlik is, kom help die bure. Die guns word terug bewys soos nodig. ’n Hele jaar se oes is nie altyd genoeg om Owore se familie te voed nie, daarom werk hy in Kampala. Sy kinders stap skool toe in die village, waar hulle in Engels leer. By die huis praat hulle Luganda met Afiya. Sy verstaan nie Engels nie. Kan ook nie lees of skryf nie.

Dieselfde soort bokke wat hier in die verkeer rondloop, hou Afiya ook op die plaas aan. Elke bok lyk anders. Unieke skakerings van wit, swart, tan en baksteen.

Op ’n dag, terwyl ons blaarslaai in die groentetuin pluk, kom Owore met dié vorendag: “Madame, me and you talk secondhand English.”

Ek lag en antwoord: “But second-hand is better than no hand, Owore?”

Ons giggel soos twee skoolkinders oor die grappie.

“No hand, haii!” herhaal hy laggend terwyl ons kombuis toe loop met die oes.

Hoe meer ek uitvind oor hom en sy gesin, hoe meer dink ek aan sy vrou op die plaas. Sal dit nie Owore se hart bly maak as sy kom kuier nie? Wat kan ek doen om haar te help? As ek haar help, help ek hom indirek – dié sagte man vir wie ek so baie respek gekry het.

Nog voor Owore die volgende oggend môre sê, vra ek hom of sy vrou sou kom kuier. Ek sal betaal vir die taxi heen en weer. “Please, Owore, you have been so kind to me. You don’t know what a big role you have played in helping me adjust to living in this country. Now is the time for me to do something for you.”

“Madame, I will ask her when I go home. I tell her about Kampala, she shakes her head. She has never been. But thank you.”

Toe hy weer ná ’n wegnaweek van Tororo terugkom, is ek bly om te hoor dat sy vrou tog wil kom, maar op geen manier kan ons die reisgeld by haar uitkry nie. Die internet in Kampala is vir drie dae af. Die banke op die platteland is reeds ’n week van lyn af. Tororo het nie ’n winkel waar jy kontant kan gaan afhaal nie. Eers die volgende maand vat Owore die Ugandese sjielings self vir haar.

Weke daarna, een laatmiddag terwyl ek koffie maak, staan Owore en sy vrou onverwags in die kombuisdeur. “Madame, this is my wife, Afiya.”

Einde ten laaste staan die seningrige boervrou voor my. “Nice to meet you. I’m so glad you are here at last,” groet ek en vat haar hand. Soos die tradisie hier is, hou ek haar hand langerig vas. Growwe hande wat self spit.

Donker oë kyk my vinnig aan, dan slaan dit af. Afiya is ’n kort vrou. Sy werk met haar hele lyf. Haar voorkoms vertel dit.

“She is very tired from taxi ride. May we please go to our quarters? Tomorrow morning we will speak more.”

Ek het begrip vir die eise van reis in Uganda. Daar is min teerpaaie in die land en dié word glad nie onderhou nie. Jy vra nooit hoe ver dit in kilometer is nie, jy vra hoe lánk iemand ry.

Die aand lê en wonder ek wat Afiya van die stad dink. Wat kan ek doen om haar kuier onvergeetlik te maak? Dalk moet ek vir haar geld gee om op haarself te splash. Sekerlik het sy nog nooit geld vir luukses gehad nie? Wat sou vir die bestaansboer van Tororo as luukse kwalifiseer? Ek het geen idee nie, maar droom sommer vir haar part oor krale en uitspattige helderkleurige rokke, parmantige headdresses, oor parfuum en hoëhakskoene. Rooies.

Die volgende oggend kom groet hulle my in die kombuis. Owore het die dag af.

“Oli Otya, Afiya, how are you this morning? I hope you rested well. Please enjoy the market today. Here is some money to spend on yourself. Spoil yourself.”

Owore antwoord namens haar: “Weebale njo. Thank you, she says she feels not easy. The strange noises make her want to run. I will go with her to the market.”

“Musiibe bulungi,” groet ek. Laat dit goed gaan.

Kort daarna gaan ek en my man Jinja toe vir die naweek om die oorsprong van die Nyl te sien. Ons kom die Sondagmiddag terug by die huis.

Owore wag ons alleen in: Afiya het net een nag gebly.

“Madame, my wife Afiya thank you for the money. She’s not going to buy dress at the market. She’s going home with the money. There she will buy a she-goat. The she-goat is going to bring in much more money than dress.”

Ek staan verstom en besef instinktief: ’n Boektitel is so pas aan my openbaar: World economics, deur Afiya Adonga.

 

The post Kommadagga-kortverhaal: Jy het nie ’n graad nodig vir common sense nie appeared first on LitNet.

Die koms en die vertrek van die oom: deel 1

$
0
0

’n Castrato was ’n manlike sanger met ’n sopraan- of kontraltostem wat in Europa veral vanaf die sestiende eeu gewild was. Die sewentiende en agtiende eeu was die goue era van die castrati op die operaverhoog en hulle het ook dikwels kerkmusiek uitgevoer. Hierdie sangers is, hoewel dit onwettig en onmenslik was, voor puberteit gekastreer sodat hulle die suiwer kwaliteit, groot reikwydte en veelsydigheid van ’n onvolwasse stem behou het, maar oor die longkapasiteit en die resonansie van ’n volwasse liggaam beskik het. In 1878 het Pous Leo XIII die kerk verbied om castrati in diens te neem as sangers en in 1903 het Pous Pius X die gebruik amptelik beëindig. (Encyclopedia Britannica)

Deur hierdie verhaal te vertel, ’n verhaal wat welbekend is in Italië, was ek in staat om vir jou ’n goeie voorbeeld te gee van die vooruitgang wat die beskawing tot vandag toe gemaak het. Hulle maak nie meer hierdie ongelukkige wesens nie. (Uit Sarrasine deur Honoré de Balzac)

In ’n meerdere of mindere mate is elke mens afhanklik van stories, van romans, wat die meervoudigheid van die lewe aan hom openbaar. Slegs hierdie verhale, wat dikwels soos ’n soort droom gelees word, bring iemand te staan voor sy eie lotsbestemming. Daarom moet ons met volle oorgawe probeer uitvind waaroor sulke verhale gaan.

Die verhaal wat die menigvuldigheid van moontlikhede van die lewe toon, val nie altyd in die smaak nie, maar dit ontlok ’n oomblik van raserny waarsonder die skrywer blind sou wees vir die veelvuldige moontlikhede wat dit inhou. (Georges Bataille in die voorwoord by Le Bleu du Ciel)

............

GESLAGSREGISTER VAN DIE FAMILIE STRUWIG

............

Foto: Canva.com

My vriendin Annaleen en haar gesin woon in ’n ou huis van meer as ’n honderd jaar oud. Die huis staan aan die rand van die dorp en was die opstal van ’n plaas wat in die laaste dekades van die twintigste eeu dorpsgebied geword het. Die huis self en die stuk grond waarop dit staan, dit wat vroeër die ou werf was, is egter deur die familie uitgehou en daarom staan die lieflike ou plek nou op ’n groot erf tussen gewone huise en meenthuiskomplekse.

Annaleen se gesin is die vierde generasie van die familie wat in die huis woon. Haar eie grootouers en ouers het nooit in die huis gewoon nie – nadat haar grootouma Lena dorp toe getrek het, het haar ouma se jonger suster, Rika, en haar man daar gewoon totdat hulle na ’n aftreeoord getrek het. Intussen het Annaleen en haar man na die dorp toe teruggekom en toe haar groottante Rika en haar man nie meer vir die groot huis en erf kans gesien het nie, het Annaleen en Egbert in die huis ingetrek. Daar is van hulle verwag om daar te gaan woon. Annaleen se ma, Marlena, en dié se twee susters het kom kuier en Annaleen en Egbert indirek opdrag gegee om daar te gaan woon. Annaleen het dit so aan my verduidelik en bygevoeg dat dit iets met ’n trust en ’n testament te make het, maar toe haar mond toegemaak en niks verder gesê nie. Die manier waarop sy stilgebly het, het my aan die wonder gesit.

Gelukkig kon Annaleen en Egbert aan die huis verander, hoewel met beperkinge. Hulle kon slegs die kombuis en badkamers moderniseer, maar aan die mure van die huis mog nie verander word nie, nie afgebreek of bygebou word nie. Aan die mooi geelhoutvloere, die staalplafonne, die swaar deure met koperhandvatsels, alles nog oorspronklik, mog hulle nie raak nie. Hulle moes die ou werf in stand hou soos dit was; die huis self en die ou skuur wat so vyftien meter van die huis af in die agterste hoek van die erf staan.

Nadat die plaas vir erwe verkoop is, is die skuur in ’n woonstel omskep – dit was wel toelaatbaar, maar wie daaroor die laaste sê gehad het, was vir my nie duidelik nie. Die hele opstal sou seker as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar kon word, maar die familie wou dit vir eie gebruik hou. Met die groot vensters en breë stoepe aan drie kante, ruim vertrekke en die nuwe moderne kombuis was die eiendom vanselfsprekend baie waardevol. En baie mooi, die waardige huis teen die agtergrond van ou akkerbome. Wat ek wel tussen die reëls kon aflei, was dat die familie as ’n groep vir die huis verantwoordelik was en dat hulle Annaleen en haar man gekies het om die verantwoordelikheid uit te oefen.

Op ’n dag vertel Annaleen dat haar oom, ’n hoogbejaarde man, in die skuurwoonstel kom intrek. As Annaleen se vriendin en vertroueling het ek die hele proses vandat sy gehoor het dat die oom daar kom woon, meegemaak. Dit was weer soos ’n opdrag. Gelukkig was Egbert ’n gelykmatige mens en as ’n plattelandse prokureur wat vertroud is met die rariteite van familietrusts, het hy alles so aanvaar.

Die koms van die oom was op verskillende maniere vreemd. Ek en Annaleen ken mekaar al lank en ek kon nie onthou dat sy ooit vroeër van die oom gepraat het nie, nie eers een keer nie. Ek ken haar ma en tantes goed, want hulle woon op die dorp en kuier gereeld saam. Maar van hierdie oom het ek nog nooit gehoor nie. Waarom kom hy juis by Annaleen en Egbert bly? het ek gewonder. As ek vra, het Annaleen so vagerig geantwoord dat die woonstel in die skuur in werklikheid syne is en dat dit vir hulle moontlik is om hom te akkommodeer. Nie help nie, nie versorg nie, akkommodeer. Die woonstel is volgens sy instruksies opnuut verander en verbeter. Daar is ’n ekstra slaapkamer met ’n groot noordvenster en ’n badkamer aangebou. Die klein kombuisie en die twee badkamers is gemoderniseer en ondervloerse verhitting is geïnstalleer. Niemand het ’n woord oor koste gesê nie en die opdragte is noukeurig uitgevoer.

Terwyl Egbert oor die bouery moes toesig hou en kyk dat alles perfek reg is, het Annaleen verduidelik: “Hansie het werklik geen kind of kraai nie.”

In die loop van ons gewone gesprekke het meer dinge na vore gekom. Die oom was haar ma, Marlena, se oudste broer, maar almal noem hom net Hansie. Hy verdra dit glad nie om “oom” genoem te word nie. As kinders het Annaleen en haar sussies Hansie net gesien as hy by hulle ouma Ena gekuier het en hulle ook daar was. Dit was maar min. Dan het hulle agter sy rug gelag en grappies gemaak oor hom. Omdat hy so maer was. Omdat sy stem so krakerig was.

“Dis oor hy so min praat. Sy stem het geroes,” het hulle dan gespot. Die vreemdste was dat dit gelyk het asof hy wegskram as hulle nader kom, asof hy vir hulle bang is. “Is hy bang ons doen iets aan hom?” het hulle dan gegiggel.

Annaleen was nogtans baie beskermend teenoor hom en het verduidelik: “Ons hoef hom darem nie regtig te versorg nie, net ’n ogie hou. Hy is heelwat ouer as my ma, ek dink hy is al in die tagtig, maar hy is selfversorgend. Hy wil om de dood in geen aftreeoord gaan bly nie. Hy het al vir jare lank opgeleide butlers; die een na die ander wat hy met die hand uitsoek. So ’n butler moet hom versorg, maar moet ook mediese kennis hê, wil jy glo – waar kry mens so iemand? Hy moet van dag tot dag vir hom kos maak, sy wasgoed doen en na sy klere omsien, sy huishouding bestuur en hom oppas en dokter as hy sou siek word. Hy moet hom ook rondry waar hy wil wees.”

Ons het nie geweet wanneer die oom ingetrek het nie, maar toe ek en my man, John, op ’n keer weer daar kuier, het ek lig in die woonstel gesien en ook beweging agter die vensters.

“Het die luisterryke oom toe opgedaag?” vra ek toe ons elkeen met ’n glasie in die hand op die stoep sit en na die sonsondergang kyk.

“Ja,” antwoord Annaleen. “Maar die dae is lank vir hom. Saans is hy maar moeg. Julle sal hom wel later ontmoet.”

Die ontmoeting het eers omtrent ’n maand later met Egbert se verjaarsdag plaasgevind. Dit was lente en die verjaarsdaggaste het oral op die ou huis se stoepe rondgestaan in die lig wat deur die vensters skyn. Uit die sitkamer en eetkamer was groot glasdeure na die stoep toe oop en almal het heen en weer beweeg met glasies en bordjies eetgoed. Ons was in die eetkamer naby die buitedeure toe ek aan die ander kant van die vertrek iemand uit die gang die eetkamer sien binnekom. Die man se kop het bo die mense uitgesteek. Dit was ’n lang man; ’n baie lang, baie skraal man in ’n swart rolnektrui. Dit was asof sy kop te groot was bo die smal skouers en sy nek het effens eenkant toe geknak.

My eerste gedagte was dat hy soos ’n Egon Schiele-tekening lyk. Sy gesig was donker en somber en baie oud, sy oë diep in hulle kaste in die gevlekte gesig. Hy het by die deur ingekom, ’n tree eenkant toe gegee en teen die muur bly staan. Almal om hom het in sy rigting geknik en dan weggeskuif. Dit was asof almal probeer het om normaal verder te gesels en nie na hom te kyk nie op ’n manier wat so duidelik ’n doelbewuste poging was dat dit juis opvallend was. Annaleen het nader gestap en met hom gepraat, maar hy het net sy kop effens geskud en tot in die hoek van die vertrek, waar daar minder lig was, geskuifel. Ek het gedink dit is net goeie maniere om hom te gaan ontmoet en het John aan die hand saamgetrek.

Van naby was die hoekigheid aan sy gesig en sy hele figuur nog meer opvallend. Sy voorkop was breed en swaar en die onderste deel van die gesig so smal en maer dat sy wange tussen sy bo- en ondertande ingeduik het. Daar was ’n soort bewegingloosheid aan hom asof hy eerder ’n beeld as ’n mens was. Annaleen het ons vinnig voorgestel.

“Hansie, dis ons goeie vriende Heleen en John. En dit is Hansie.”

Hy het nie ’n hand na ons uitgesteek nie. Trouens, sy hande, lang benerige bleek hande, het soos groot rustelose vlinders langs sy sye gesidder. Hy het net geknik en weer verder om die hoek aangeskuif. Geen woord het oor sy lippe gekom nie. Verder as “aangename kennis” het ons ook nie gekom nie.

Dit was asof hy beweeg sonder dat mens sien hoe hy beweeg, asof niks aan hom roer nie. Dit was asof hy die lug om hom nie versteur nie.

Ek en John het agterna vir mekaar vertel hoe ons al twee ’n koue gevoel gekry het toe ons daar by hom staan. Ons het albei die indruk gekry dat hy ’n somber koelheid uitstraal in die louerige lenteaand. Diep ongemaklik het ons ongemerk probeer wegbeweeg. En toe ek ’n rukkie later weer versigtig in sy rigting kyk, sien ek ’n sterk middeljarige man wat saam met hom in die gang inbeweeg. Die man het half voor hom geloop om vir hom plek te maak tussen die mense deur en om hom te beskerm, maar dit het my opgeval dat hy glad nie aan hom geraak het om hom te ondersteun nie.

Tuis sê ek vir John: “Wat sê mens vir Annaleen en Egbert? Die ou man is werklik ’n vreemde figuur.”

John se antwoord was: “Hy staan en hy beweeg, maar dit is asof daar byna geen lewe in hom oor is nie.”

Voor ons die lig afsit, sê John: “Is dit nou my verbeelding? Dit was vir my asof die ou man vir homself afwesig is. Is hy nog heeltemal compos mentis? Hy registreer ons, maar dit lyk of hy dink ons sien hom nie.”

Om een of ander rede kon ek Annaleen nie verder uitvra oor die oom nie. Een middag drink ons gou ’n koppie tee saam toe haar jongste dogter, vir ’n naweek tuis van die universiteit af, inkom en sê: “Ma, kyk wat gee Hansie vir my.”

Sy het haar hand uitgehou. Daar was ’n buitengewoon mooi en groot akwamarynring aan haar middelvinger. Die steen was pragtig geslyp in die vorm van ’n skraal ruit en geset in goud. Dit het vir my gelyk na ’n versamelaarstuk.

“Ek het probeer keer, maar hy wou nie nee vir ’n antwoord vat nie. Hy sê hy het dit lankal gekoop omdat dit mooi was en ek moet dit nou kry. Is dit nie lieflik nie? Ek moet dit net bietjie kleiner laat maak.”

“Dis nou Hansie daai,” sê Annaleen. “Jy sal dit maar moet vat en geniet.”

Later vra ek versigtig: “Lyk my Hansie het baie geld?”

“Ja,” het sy met ’n sug geantwoord. “Hansie … ja kyk, Hansie het … hy het baie geld en hy het nog altyd baie geld gehad. Van dit geërf, die res met sy besighede verdien. Hy het ’n hele reeks haarkappersalonne in Pretoria en Johannesburg besit. Hy was snaaks genoeg ’n baie goeie sakeman. Die kliënte het hom nooit gesien nie, hy het net die besighede gekoop en bestuur vanuit ’n kantoor agter een van die mooiste salonne in Pretoria se ou middestad. My ma het altyd gesê Hansie voel die gemaklikste tussen vrouens, maar selfs by hulle hou hy sy afstand.”

“Waar het hy gewoon?” het ek gevra.

“In ’n penthouse bo-op ’n groot woonstelblok in Arcadia. En later in Sandton. Totdat hy nou hierheen gekom het.”

“Weet jy, Heleen,” het sy na ’n rukkie aangegaan. “Ek weet nie van iemand wat meer teenstrydighede in homself het as Hansie nie. Hy het baie geld en hy het dit geniet en gebruik, Boheems en gewaagd gelewe. Hy was vir ’n tyd lank verslaaf aan iets. Vra my aan wat en ek weet nie. Ek weet net my ma-hulle het toe nog minder oor hom gepraat en hulle stilletjies byna dood bekommer oor hom. Hy was in daardie jare lang tye in rehabilitasieplekke. Tog het hy deur sy hele lewe op luukse reise gegaan; bootreise na eksotiese plekke toe of na wêreldstede waar hy dan aand na aand uitvoerings en opvoerings bygewoon het. Die programme staan die rakke vol daar in die woonstel.”

Sy het lank stilgebly.

“Hy het hierdie ketting ook nou die dag vir my gegee,” het sy aangegaan en aan ’n swaar goue ketting om haar nek gevat. “Mens verstaan dit nie. Hy vermy ons, al woon ons hier langs mekaar, maar dan doen hy sulke goed. Ons kan hom glad nie daarin teëgaan nie. Die ding is eintlik, Hansie is … man, hy is … hy is ons familie se gewete. Hy lê op ons gewete, hy is ’n soort oorgeërfde skuld in ons familie. Hy is soos ’n las wat ons moet dra, nou al vir drie generasies, en dit is nie een van ons se skuld nie.

“Dit is ook hoekom hierdie huis so belangrik vir ons almal is. Dis ’n bose herinnering sowel as ’n kleinood en ’n versoening. Per slot van rekening is dit Hansie se eiendom.”

Later in die gesprek het sy weer oor Hansie gepraat.

“Ons kan Hansie nie opgee of laat verwaarloos nie. Dis ’n treurige storie wat lank terug begin het, by ’n oupagrootjie wat regtig steeds uit die graf regeer. Egbert sê dis die verskriklikste ding wat iemand aan sy familie kan doen. En in ons familie is Hansie, hoe sal ek sê … hy het soort van die slagoffer daarvan geword, al lyk dit van buite af nie so nie. Hy het alles van sy oupa geërf, maar niemand wil ’n lewe soos syne hê nie. Dis ingewikkeld …”

 

The post Die koms en die vertrek van die oom: deel 1 appeared first on LitNet.

Sies kollega, jy stink ten hemele!

$
0
0

Fotobron: Pexels.com

Liewe leser, vandag gaan ek vir jou ’n storie vertel wat my goeie vriend Tiens vir my vertel het en wat hý weer by ’n ander vriend gehoor het. Dié vriend was jarre der jarre gelede ’n professionele soldaat. Sy naam was Tiens.

 “Daardie jare was daar ’n rofie (die spreektaalwoord vir ’n nuwe lid van die Staande Mag of enige nuwe dienspligtige) in die weermag,” begin Tiens die storie vertel wat sý vriend vir hom vertel het. (Laasgenoemde se naam kan ek glad en geheel nie onthou nie; dit kan wees dat Tiens dit ook nooit genoem het nie.)  

“Dié rofie se naam was doodgewoon Pieter Koen (Tiens se vriend en dié se kollegas het dit eenkeer toevallig op Pieter se geboortesertifikaat gesien, hoewel laasgenoemde nie daarvan bewus was nie). Pieter het egter daarop aangedring dat sy naam die Duitse Peter Kühne was.

“Niemand in ons bungalow was egter Duits nie en ons het dus nie eens moeite gedoen om hom op sy Duitse ‘naam’ aan te spreek nie. Buitendien het ons nie tyd vir sy aansitterigheid gehad nie en het hom dus op sy werklike naam aangespreek: Pieter. En as ons nou dik die diekens in vir Pieter was, het ons hom sommer Piet genoem. Ons was dikwels die joos in vir hom, hy was maar ’n eienaardige ventjie. Erg snobisties, dié ‘Peter Kühne’.  Seker ook dié dat hy nie regtig in die weermag kon aanpas nie en kort ná sy basiese opleiding weg is. Watter rede hy aangevoer het, het niemand geweet nie. Nie een van ons het geweet waarheen hy verdwyn het nie, en ag, om die waarheid te praat: ons het nie werklik belanggestel nie.”

Tiens vertel, liewe leser, dat hulle veral gedurende dáárdie winter vetvies (Tiens se woord — sulke taalgebruik pas nie in mý woordeskat nie) vir Piet was.

“Piet,” vertel Tiens, “was maar ’n koulike ou. En soos dit nou maar in die weermag gaan, het die ouens wat eerste ná ’n lang dag se stowwerige werk by die storte kom, ál die warm water uitgestort. Piet het verder die hebbelikheid gehad om ’n verskriklike draaikous te wees. Net mooi niks kon hom haastig maak nie. Hy het dus altyd laat by die badkamers gekom wanneer daar geen warm water meer beskikbaar was nie. Boonop het Piet in elk geval nie veel trek in ’n gestort gehad nie, wat nog te sê ’n koue stort. Gedurende die somer kon Piet dit nog sluk, maar toe word dit die onlangse innames — dit was die kolonel se woord vir die nuwe rofies — se eerste winter in die weermag.” 

Piet het sy koulikheid en sy draaiery behou. Hy het so een of twee keer dapper in die koue water probeer stort en toe die stryd gewonne gegee. Dapper is een ding, maar yskoud is yskoud! Maar billikheidshalwe moet ’n mens sê, Piet hét darem ’n poging aangewend om so bolangs in die wasbak te was, érg bolangs. Maar, vertel Tiens, vertel sý vriend, ou Piet het besluit: bokker dit, wat te erg is, is eenvoudig te erg!

Piet, liewe leser, het dus meer as ’n week lank nie in koue water gestort nie. Trouens, Piet het glád nie ’n poging aangewend om op enige manier skoon te kom nie. Tiens se vriend en sý kornuite het hulle skelm plan om elke aand ná werk warm water by die kombuispersoneel in die hande te kry, ’n staatsgeheim gehou. Alles het immers sy prys — selfs warm water. Niémand, wat nog te sê Piet, het van die heerlike warm geweet waarin Tiens se vriend en sy pelle elke aand gestort het. 

Aanvanklik het niemand agtergekom dat Piet nie meer so vars ruik nie. As ’n mens egter so tien dae ver van water van enige temperatuur wegbly, begin jy naderhand ten hemele stink.

Een aand besluit Tiens se vriend en dié se vriende dit is tyd vir Die Groot Vergadering waartydens hulle die besonderhede van Operasie Bring Piet tot Ander Insigte sou bespreek. Die plan was in wese bittereenvoudig. Piet het uit ’n gesin van geheelonthouers gekom sodat dit vreeslik eenvoudig sou wees om hom onvas op sy voete te kry.

Een Vrydagaand ná ’n besonder harde week nooi Piet se kollegas hom saam kroeg toe. Dit het nog nooit vantevore gebeur nie, en Piet het behoorlik onder die aandag geblom. Hy was uiteindelik een van die manne! Na nét twee biere het Piet sy gewone stugheid verloor en vrolik saam met die ander drinkers om die kroegtoonbank begin babbel. Een ná die ander het die rofies aangebied om vir ou “Pieta” nog ’n bier en nóg ’n bier te koop. Almal het swaargekry om nie te laat blyk hoe erg die stank was wat soos ’n swaar kombers om Piet gehang het nie. Teen 00:00 was Pietatjie so vrolik dat hy ernstige ondersteuning nodig gehad toe die manne begin huis toe gaan.    

“Kom Piet”, sê iemand in die bondel, “dis slapenstyd.”

“Mar… mar ons k…kuier dan nou so lekker!” stribbel Piet teë.

“Nee, kom. Ons is al poegaai gekuier.”

Toe Piet teensinnig probeer opstaan, tuimel hy onmiddellik grondwaarts. Dit kos vier manne om sy slap lyf by die bungalow te kry en in die bed te stop. Hy snork al voordat sy kop die kussing raak.

Tiens vertel sy vriend het skaars aan die slaap geraak toe van sy bungalowmaats hom kom wakker maak met die nuus dat Piet diep in droomland verkeer en dat hulle plan reg was vir die uitvoer van stap twee. Piet het so hard gesnork dat die ander rofies nie eens nodig gehad het om besonder sag te werk nie. Een, twee, drie het hulle Piet met sy bed en beddegoed en al in die yskoue swembad gefoeter. Almal, behalwe Piet natuurlik, is dadelik terug na hulle beddens toe. Almal het voorgegee dat hulle vas aan die slaap was.

Dit het Piet twee uur gekos om al sy goed uit die yskoue swembad gevis te kry. G’n wonder dus dat Piet nie in ’n alte sonnige bui was toe hy uiteindelik in die vroeë oggendure terug in die bungalow kom nie. Piet het goed geweet niemand het geslaap nie en het in vreemde tale vir almal vertel presies wat hy van hulle dink. Dit was vanselfsprekend niks vleiends nie.

“Ja maar, as jy daai stink bas van jou gewas het, was dit nie nodig om jou in die swembad te smyt nie. Loop nou wéér met so ’n stink bas rond en ons blickxsem jou weer in die swembad! Gahôr!!

Liewe leser, Piet, agge ... weerman Kühne het gahôr. Kort daarna was die rofies se basiese opleiding verby en Pietatjie het op ’n dag soos mis voor die son verdwyn.

Niemand het hom gemis nie.

 

 

The post Sies kollega, jy stink ten hemele! appeared first on LitNet.

Die koms en die vertrek van die oom: deel 2

$
0
0

Foto: Canva.com

Hansie se skaduagtige teenwoordigheid op Annaleen en Egbert se werf het nooit ’n gewone saak geword nie. Daarvoor was hy te vreemd. ’n Mens wat tegelykertyd teenwoordig en afwesig is en nogtans opgepas en versorg moet word. Hy het jare lank daar in sy woonstel bly woon, met telkens ’n ander butler of oppasser, totdat hy negentig jaar oud was. Oor die jare het sy verhaal in gesprekke en verwysings deurgesypel.

Grootoupa Hans Struwig was twintig toe hy en sy ouer broer, Eberhard, ná die Boereoorlog in 1904 uit ballingskap teruggekom het na die plaas in die ou Wes-Transvaal. Hulle het as penkoppe oorlog toe gegaan en toe alleen oorgebly. Hulle pa is noodlottig gewond in die veldslag waarna hulle gevange geneem is. Hulle ma, twee jonger sussies, en die ouma en oupa aan moederskant is almal in die konsentrasiekamp oorlede. Die twee jong mans was vermaer en verslae, maar hulle was ook taai. Daar was ook in hulle ’n soort oorlewingswoede. Hulle wou die teëspoed oorwin. En hulle kon die stryd aanpak met veel meer in hulle guns as wat vir baie ander mense beskore was. Hulle was groot en sterk en daar het twee plase vir hulle gewag, verwoeste afgebrande plase sonder landerye en diere, maar beskikbaar – hulle pa se plaas en die oupa se plaas so ’n paar myl verder. Met groot determinasie het hulle begin werk en al was dit aanvanklik ’n gespartel om aan die gang te kom, het hulle vasgebyt. Daar was ook ’n vermoede, of dalk was dit ’n skinderstorie, dat hulle pa, of dalk die oupa, iewers geld begrawe het wat hulle ’n hupstoot kon gee, want albei het gou begin floreer. Hulle het geplant en diere gekoop en binne tien jaar was die twee plase produktief. Van die twee was Hans die dinamiese een, die een met die meeste dryfkrag en ondernemingsgees. Hy het ook die vinnigste ryk geword.

In 1907 het grootoupa Hans sy bruid, die mooie Lena, na die plaas toe gebring en in 1909, toe sy hulle eersteling verwag, het hy begin bou aan die huis. Hy het die opstal geplaas ná aan die grens van die plaas aan die dorp se kant. Niemand sou toe kon dink dat die dorp tot teen die plaas se grens sou uitbrei nie, nog minder dat die plaas verkoop sou word en in erwe opgedeel sou word. Oor die huis het hy groot gedink. Die huis is ontwerp deur ’n argitek, die beste bouer in die omgewing het die plek gebou en die afwerking is gedoen met ordentlike hout en goeie metaal.

Alles moes van die beste wees vir sy Lena. Hy was versot op haar en sy op hom. Hulle dogtertjie is gebore net nadat hulle in die huis ingetrek het en drie jaar daarna is daar nog ’n dogtertjie gebore. Hans wou verskriklik graag ’n seun hê, maar daar was gewoon nie meer kinders nie. Eberhard en sy vrou het ’n seun en ’n paar jaar later ’n dogter gehad. Kinders was in hierdie jare die grootste skat wat mense kon hê en vir grootoupa Hans was dit ’n groot teleurstelling dat hulle nie ’n seun gehad het nie.

Die gevolge hiervan, van sy drang om ’n seun te hê, het Annaleen vertel, was glad nie goed nie. Dit sou daarna in die familie van geslag tot geslag as ’n waarskuwing voorgehou word. Niemand is ooit weer toegelaat om eers ’n voorkeur vir die geslag van ’n kind uit te spreek nie. Die kind wat jy kry, is die kind wat jy kry. Maar grootoupa Hans het gedink hy is geregtig daarop om ’n seun te hê. Sonder ’n erfgenaam was alles wat hy opgebou het en nog wou opbou vir hom eenvoudig minder werd. Ouma Lena het mooigepraat, vir haar was dit die wil van die Here, maar grootoupa, goeie Christen en al, was in sy hart eintlik woedend. Hy het ouma Lena selfs verwyt omdat sy nie in staat was om ’n seun in die lewe te bring nie. Agterna was hy dan spyt en het om verskoning gevra, maar woorde wat spontaan uitgespreek is, kan nie ongedaan gemaak word nie. Dit het haar versigtig gemaak en meer ingetoë. Sy het geweet dat hy suksesvol was omdat hy baie hard kon werk en bekwaam was, maar sy het ook geweet dat hy teenstand nie kan verduur nie en baie gefrustreerd kan raak as dinge nie loop soos hy beplan het nie.

Vir sy twee dogters was grootoupa Hans nogtans baie lief. Ena, die oudste, was ’n doodgewone meisietjie, valerig en skamerig en ronderig, maar sy was die liefderike een wat altyd bereid was om te help en te gee. Sy is my vriendin Annaleen se ouma. Rika, die jonger een, was baie mooi, soos haar ma, lenig met blougroen oë en ’n rooierige gloed in haar hare, maar sy was selfversekerd en sprankelend soos haar pa. Die twee susters was baie geheg aan mekaar en het altyd gesê hulle het in ’n huis vol liefde grootgeword. Tog was daardie huis ook ’n plek van leemte; ’n leemte wat nie gevul kon word nie.

Ena het verlief geraak op ’n jong boer, Jan Taljard. Jan was ’n goeie man, baie kleiner as sy indrukwekkende skoonvader, en saggeaard. Dit was wat Ena na hom toe aangetrek het, al was sy erfgrondjie baie kleiner as grootoupa Hans se gronde en sy vooruitsigte en drome baie nederiger. En grootoupa moes instem tot die troue al sou hy graag ’n indrukwekkender bruidegom vir sy dogter wou hê. Kort na Ena se troue het Rika almal onkant gevang toe sy op agtienjarige ouderdom kom aankondig dat sy en haar neef, Eberhard, oom Eberhard se oudste, gaan trou. Sy het nie regtig kom vra nie, eerder kom sê met dieselfde soort vasberadenheid as waarvoor grootoupa self bekend was. En ten spyte van almal se voorbehoude oor introuery kon grootoupa nie anders as om te besef dat hierdie twee saam groot rykdom sou kon konsolideer nie. Ouma Ena het glo gesê almal was baie dankbaar dat Rika en Eberhard se kinders geen sigbare gevolge van die introuery getoon het nie, maar Annaleen se ma, Marlena, en haar susters het soms tersluiks verwys na hulle niggie se verskriklike smal voetjies en na hulle neef wat so gesukkel het om te leer lees. Verder was die kinders tog wel gesond en Rika en Eberhard kon inderdaad die opbrengs van die twee plase saamvoeg.

Jan en Ena was gelukkig op hulle plasie in hulle klein platdakhuis. Totdat hulle oudste kind gebore is. Dit was ’n seuntjie en hy is Hans gedoop, al moes hulle hom volgens die gebruik na Jan se pa vernoem het. Grootoupa Hans het voor die tyd kom vra dat hulle, as dit ’n seuntjie is, die kind na hom vernoem. Hy het gevra op ’n manier wat dit onmoontlik gemaak het om dit nie te doen nie.

Annaleen het op ’n dag vertel: “My ma, Marlena, is my ouma Ena en oupa Jan se tweede kind. Hansie is die oudste.” Daarna het sy eers stilgebly en toe baie stadig bygevoeg: “Dit is ’n ongewone geskiedenis.”

Hansie was vier maande oud toe Ena se melk opraak. Hulle het dorp toe gery om bottels te gaan koop en op pad huis toe het hulle by grootoupa Hans en ouma Lena aangegaan. Die volgende oggend het grootoupa Hans se swart en oranje 1929 Chrysler Tourer met die wit buitebande by die Taljards se plaashek ingery en voor die huis gestop. Ena het vir Jan uit die kraal laat roep en hulle het saam tee gedrink. Toe, so is dit in die familie oorgedra, stoot grootoupa Hans sy stoel agteruit en sê: “Ons is vandag hier oor ’n gewigtige saak. Julle is jonk en julle gaan nog baie kinders hê. Daarom wil ek hê julle moet Hansie vir ons gee. Ek sal hom wettig aanneem. Ons sal hom grootmaak as ons eie kind en hy sal my erfgenaam word. Ons het nie ’n seun nie en ek moet ’n erfgenaam hê. Ena, Ma sal jou help om die kind se klere in te pak en dan kan ons netnou ry.”

Volgens Annaleen het nie een van die vier mense wat daar teenwoordig was ooit agterna oor hierdie saak gepraat nie. Niemand het vertel wat regtig daar gebeur het nie. Oupa Jan het net met groot bitterheid grootoupa Hans se presiese woorde aan Rika en Eberhard oorgedra en so het dit familiebesit geword.

Hoe kan mens jou die verblindende skok van die twee jong mense wat hulle eersteling moes afgee, voorstel? Hoe sal iemand weet in watter oneindige stilte en leegheid hulle daar in hulle huis agterbly het? Want wat grootoupa geëis het, het net so gebeur.

“My ma het altyd gesê my ouma Ena het nooit, maar nooit hieroor gepraat nie,” vertel Lena later. “Tant Rika het vertel dat my oupa Jan gesweer het dat hy nooit weer sy voete in sy skoonpa se huis sou sit nie. En hy het glo ook nie.”

“Maar Annaleen, hoekom het hulle ingestem? Dis mos onmenslik, dis ondenkbaar dat ’n pa sy dogter se kind sal wegneem van haar?”

“Dit was seker ander tye, ek weet ook nie hoe dit kon gebeur nie. Hy het glo onderneem om alles vir die kind te gee en te doen, die beste skoolopleiding, afrigting as ruiter, studie by ’n universiteit, enigiets wat die kind sou wou doen. En grootoupa het hulle ook duidelik laat verstaan dat hulle die kind ’n onreg sou aandoen as hulle dit nie toelaat nie.”

Toe voeg sy by: “Hy was glo ’n dwingende man. En my ouma was nog baie jonk. Sy kon haar nie teen haar pa verweer nie. Hy het waarskynlik regtig gedink sy kan nog baie kinders hê. Sy het wel nog drie kinders gehad, waarvan die oudste eers sewe jaar later gebore is. Al drie dogters.”

Tant Rika het ook vertel dat Ena en Jan se huwelik byna daarmee heen was. Jan was siedend verby. Verbitterd en magteloos. Hy het gevoel hy is deur sowel sy skoonvader as sy vrou verraai. Hy was ontkrag, eintlik simbolies ontman, en hy kon niks daaraan doen nie. Hy het vir ’n paar jaar byna heeltemal opgehou praat. Gewis het hy niks te sê gehad vir sy skoonfamilie nie. Ouma Ena was die soort mens wat nie in staat was om haar pa teë te gaan of te haat nie, maar sy het maklik aan die huil gegaan en die verwydering tussen haar en Jan was ooglopend. Wat natuurlik ’n verdere rede vir die hartseer was.

Uiteindelik het haar beminlike geaardheid Jan weer laat versag teenoor haar. Maar dit was sewe jaar voordat sy weer swanger geraak het. Hierdie dogtertjie is Marlena gedoop. Sy is my vriendin Annaleen se ma.

Intussen het grootouma Lena Hansie met die grootste sorg moontlik grootgemaak. Hy het ’n lieflik toegeruste babakamer gekry met ’n hele baba-uitset wat van Volpes in Port Elizabeth af bestel is. Volgens familie-oorlewering was dit vir haar ’n groot spanning, want sy was tot die dood bang dat die kind sou siek word of iets oorkom omdat sy hom nie reg hanteer of goed genoeg oppas nie. En dit sou grootoupa Hans haar nie vergewe nie. Waar sy haar twee dogters gemaklik en vrolik kon grootmaak, was Hansie ’n verantwoordelikheid. Gevolglik is hy soos ’n kleinood opgepas en byna letterlik in watte toegedraai. Hy is dus eintlik opgepiep, weggehou van ander kinders om nie siektes aan te steek nie, gemaan om versigtig te speel sodat hy nie val en seerkry nie. Hy was in elk geval van die begin af ’n maer, skugter kind, asof hy aangevoel het dat sy blote bestaan ’n probleem was. Hy was lank vir sy ouderdom maar sonder energie of lewenskrag, asof sy liggaam nie besef het dat hy spiere moet vorm om die kind en later die man se lengte te dra nie.

Ouma Ena het van tyd tot tyd by haar ouers gaan kuier, maar sy het nie geweet wat om te doen met Hansie of hoe om teenoor hom op te tree nie. Hy was haar kind en ook nie haar kind nie. En grootouma Lena was ook baie ongemaklik. Oupa Jan kon nie na die kind kyk nie en het dit eenvoudig vermy om hom te sien.

Die kind het grootgeword in die mooi huis vol lig. Hy het op die breë stoepe gespeel, in die sitkamer op die swaar tambotiemeubels gesit en by grootouma Lena in haar werkkamer gesit op die mooi klein stoele met Queen Anne-pootjies. Hy het saam met grootoupa Hans op die plaas rondgery en later ook ’n relatief goeie ruiter geword. Maar hy was versigtig en nie regtig in die boerdery geïnteresseerd nie. Grootoupa het gedink dit sal wel met verloop van tyd regkom.

Hansie was baie lief vir die huis waarin hy gewoon het. Sy kamer het op die westekant se stoep uitgekyk en was dus in die winter heerlik warm terwyl die somerson deur die stoep afgekeer is. Sy geliefkoosde speelplek was tussen die potplante op die stoep en dit was ook die plek waar hy later graag gesit en lees het – verskuil tussen die plante.

Hansie was 12 jaar oud toe grootoupa Hans skielik op 58 ’n dodelike hartaanval kry. Hy het die aand kamer toe gegaan en op die rand van die bed gaan sit. Hy het vir grootouma Lena gesê hy voel sleg. Die volgende oomblik het hy agteroorgeslaan en sy oë het omgedop. Grootouma het agterna vertel dit was asof iemand hom skiet so geweldig het hy agteroor geruk. Sy het Hansie geroep en die kind het die dokter gebel. Hulle het grootoupa Hans hospitaal toe geneem, maar hy is deur die loop van die nag oorlede. Grootouma Lena was verpletter, maar tant Rika het agterna gesê nadat sy die eerste smart oorkom het ná grootoupa Hans se dood, was sy tog ligter van gemoed as wat sy ooit voor dit was.

Almal was egter verlig dat Hansie daar was om by sy ouma Lena te bly. Sy sou in die plaashuis bly woon totdat sy besluit wat om te doen en Hansie was daar om haar te help.

Ses maande later het grootouma Lena besluit om op die dorp te gaan bly. Sy en Hansie het opgepak en almal het kom help trek. Grootoupa Hans se testament was heeltemal duidelik. Dit het bepaal dat ouma Lena vruggebruik van die plaas en die huis sou hê indien sy sou verkies om daar te bly. Anders kon sy in die dorpshuis gaan bly, maar sy moes versorg word uit die opbrengs van die plaas. Ander bepalings het oor die huis gegaan. As grootouma Lena te sterwe sou kom of wil trek, moes Rika en Eberhard in die huis gaan woon. Dit was die enigste teken dat hy daarvan bewus was dat Jan Taljard dit nooit sou doen nie. Die kern van die testament was egter dat al die eiendomme en bates in ’n trust geplaas word totdat Hansie eendag sy erfporsie kon oorneem en opneem. Hansie was ongekwalifiseerd grootoupa Hans se hooferfgenaam.

Die plaas moes intussen bedryf word deur Eberhard, wat dit saam met sy eie grond moes bewerk teen ’n deel van die inkomste. Die res moes na die trust gaan waaruit grootouma Lena en Hansie versorg moes word. Daar was ’n eenmalige uitbetaling aan Ena. Jan Taljard se naam is nie in die testament genoem nie.

“My ouma Ena en oupa Jan, wat hulle kind vir my grootoupa gegee het, het in verhouding met die ander net ’n aalmoes gekry. My oupa Jan het nie omgegee nie – hy wou vir homself en sy gesin sorg en dit het hy goed gedoen. My ouers woon nou op oupa Jan se plaas in die huis wat hy met sy eie hande later vir ouma Ena gebou het. My pa het altyd gesê hy het die grootste respek vir oupa Jan wat staande kon bly en homself uiteindelik gehandhaaf het al het sy skoonpa hom sleg behandel.”

As Annaleen so vertel, kon ek sien dat hierdie familiegeskiedenis steeds lewendig is en almal wat daarby betrokke is, kwesbaar. En Hansie was die voortdurende herinnering daaraan.

Want vir Hansie was sy oupa se dood het einde niet. Grootouma Lena en Hansie het lekker gewoon in die dorpshuis. Hy kon nou skool toe loop en in die middae, as sy huiswerk klaar was, het hulle tuin gemaak. Somertyd was daar die mooiste rose en dahlias in die tuin en in die winter het die Namakwalandse magrietjies die hele erf volgestaan. Grootouma het onvermoeid in elke seisoen geplant en gesaai: in die lente petunias en jakobregops en groot afrikaners; in die herfs al die soorte bolle wat in die lente kon blom. Die groentetuin en vrugteboord het ook deurentyd vir ’n vol spens gesorg; wat nie vars gebruik kon word nie, is ingelê en gedroog. Vir twee jaar het dit goed gegaan en almal het gedink Hansie begin darem meer selfstandig raak en dat sy persoonlikheid ontwikkel.

Maar grootouma Lena was ’n baie mooi vrou en sy was maar 53 toe grootoupa oorlede is. Sy het legendariese mooi bene gehad en haar dogters en kleindogters wou almal bene soos hare gehad het. Uiteraard sou ander mans haar raaksien. Aanvanklik het sy almal gewoon duidelik laat verstaan dat sy nie belangstel nie. Maar toe verskyn oom Gert de Lange op die toneel. Self ’n gegoede boer het hy haar beïndruk met sy kalmte en selfversekering en sjarme. Hy was ook haastig, en het gesê: “Jy is 55 en ek 58. Waarvoor sal ons wag? Ons word nie jonger nie en ons het mekaar nou nodig. Ons kan nog baie dinge saam geniet.”

Aanvanklik het hy gedink Hansie is ’n kleinkind wat net by grootouma Lena kuier, maar toe hy sy intensies duidelik gemaak het en grootouma haarself ontvanklik getoon het, het hy begin uitvra oor die kind. Hansie was toe 14, lank en baie maer en uiters skugter. As oom Gert kom kuier, het hy vinnig verdwyn en eers weer uit sy kamer of die tuin verskyn as oom Gert weg is.

Oom Gert kon nie glo wat hy hoor toe grootouma hom vertel waarom Hansie by haar bly nie.

“Dit is ’n gruwelike ding. Ek kan dit byna nie glo nie.” Vir hom was die implikasies gans anders. “Hoe kan daar van jou verwag word om verantwoordelikheid te vat vir ’n kind? Nee, Lena, hierdie saak moet weer bedink word. Dit is ’n fout wat reggemaak moet word.”

Maar hoe maak jy so ’n fout reg? Hoe kry mens lewe en warmte in verhoudinge wat nie bestaan nie? Hoe verskuif jy vertroue van een mens na ’n ander as daar vervreemding en verwerping ter sprake is?

Oom Gert het gewoon sy voet neergesit en gesê grootouma moet kies, óf hy óf Hansie, want hy sien nie kans vir die kind in hulle huis nie. Hierdie sku en onleesbare kind was nie deel van sy planne nie. Veral nie onder sulke onnatuurlike omstandighede nie. Die kind het dan sy eie ouers hier naby.

Grootouma was toe reeds verlief en sy het ook die saak anders begin sien. Sy het besef sy kan nie uiteindelik vir Hansie bly instaan nie en sy het begin dink sy sal nie weet hoe om die kind te begelei om ’n grootmens te word nie. Sy het met ouma Ena gepraat en verduidelik. Die gesprek het net meer stiltes teweeggebring, tussen grootouma Lena en haar dogter, tussen ouma Ena en oupa Jan. En tussen Hansie en almal in die familie. Annaleen se ma het vertel hoe verslae hulle almal was toe haar ma kom sê dat Hansie terugkom. Oupa Jan het in ’n intense stilstuipe ingegaan. Dit het weer ’n stil en moeilike tyd geword.

Hansie self het die minste gesê. Dit was so goed asof hy na vreemde mense toe gestuur is. Vreemde mense sou egter nie soveel bagasie oor die verlede gedra het nie en dit sou waarskynlik makliker gewees het. Annaleen se ma, Marlena, het vertel hy het in ’n stoepkamer ingetrek en het soos ’n spokie verskyn en verdwyn. Hy het so min tyd as moontlik saam met die gesin deurgebring. Oupa Jan was met ’n soort magteloosheid geslaan; hy kon net nie ’n manier kry om met die seun ’n verhouding op te bou nie. Ouma Ena het tegelykertyd skuldig en dankbaar gevoel en was die hele tyd besig om goeie verhoudinge tussen almal te probeer bewaar. Sy was soos ’n amoebe wat punte gemaak het waar daar ’n holte ontstaan en ’n holte gevorm het waar daar ’n uitstulping ontstaan het tussen die lede van haar gesin.

Annaleen se ma en haar sussies het Hansie aanvaar en wou graag met hom maats wees, maar hy was sewe jaar ouer. Hy was so onseker van homself dat hy nooit hulle toenadering kon beantwoord nie. Die kinders in die gesin het nooit gemaklik geraak met mekaar nie. As ouma Ena hom in die familiekring probeer intrek, het hy hoflik gebly, maar daar het geen warmte in die verhoudinge gekom nie. Hansie het haar nie as sy ma geken nie. En hy het ook van grootouma Lena afskeid geneem. Hy moes. Vir sy selfbehoud moes hy haar afskryf. Sy was sigbaar gelukkig saam met oom Gert.

Hansie het uiteraard nie graag by grootouma Lena en oom Gert gekom nie en by sy eie ma en pa was dit nie vir hom lekker nie. Hy was ’n mens sonder allernaaste.

Lees ook:

Die koms en die vertrek van die oom: deel 1

The post Die koms en die vertrek van die oom: deel 2 appeared first on LitNet.


Die koms en die vertrek van die oom: deel 3

$
0
0

Foto: Canva.com

Terugskouend het die familie besef dat Hansie in hierdie tyd van homself vervreem geraak het, want niemand kon tot hom deurdring nie. Al het hy fisies en materieel genoeg van alles gehad en al was hy omring deur familie, was hy swewend. Emosioneel en sielkundig was sy lewensdrang geknou. En grootoupa was dood en die testament ’n onomstootlike werklikheid. Niemand het geweet hoe om die saak te beredder nie. Grootoupa Hans se durende afwesige aanwesigheid het almal ontmagtig. As grootoupa sou kon weet hoe Hansie sou ontwikkel, sou hy hom dalk bedink het oor die testament, maar die dood steur hom nie aan ’n gepaste tyd nie en alles was gedane sake.

Na skool wou Hansie nie gaan studeer nie. Sy toelaag uit die familietrust was ruim genoeg dat hy vir homself kon sorg. Hy het homself vir ’n haarkapperkursus ingeskryf en na voltooiing van sy opleiding ’n klein salon gekoop. Op 21 het hy sy erfporsie gekry, wat natuurlik die plaas en die opstal ingesluit het. Hy het egter gevra dat sy tant Rika en oom Eberhard in die huis aanbly en dat die bepalings van die trust gewoon voortgaan. Van sy erfgeld het hy twee haarsalonne in Pretoria gekoop, die plekke smaakvol ingerig, haarkappers aangestel en self die bestuurder van die besighede geword. Sy sake het floreer en hy het al hoe meer op sy eie begin lewe. Sy blyplek was altyd luuks en volgens die jongste modestyl versier en hy het ’n versamelaar van kunswerke en juwele geword.

Hy het soms, maar baie selde, sy drie susters genooi om by hom te kom eet. Dan kry hy ’n spysenier en onthaal hulle in styl. Hulle het altyd agterna gelag omdat hulle so hard probeer het om gesellig te wees terwyl Hansie hulle in absolute stilswye betrag.

Wanneer nodig het Hansie wel met sy ma en, toe hulle nog geleef het, grootouma Lena en tant Rika, en hulle prokureur vergader oor trustaangeleenthede en hy het weldeeglik geweet wat op die plaas aangaan. Hy het die hele verkooptransaksie van die grond aan die munisipaliteit hanteer asook die verdeling van die grond sodat die huis behoue kon bly. Toe tant Rika en oom Eberhard sê hulle wil trek, is daar tussen Hansie, sy ma en tant Rika besluit dat Marlena se dogter Annaleen en haar Egbert ’n goeie keuse sal wees om die huis oor te neem. Hy het die reg voorbehou om in die skuurwoonstel te mag woon as hy nie meer in die stad wil bly nie.

Dwarsdeur alles het die huis sy vriendelike mooi self gebly. Hansie het dikwels voor sy skuurwoonstel se deur gestaan of onder die boom gesit en gekyk na die groot huis met die son op sy stoepe teen die agtergrond van die ou bome. So het ek hom ook dikwels gesien as ek daar kom.

Nadat Hansie byna tien jaar by Annaleen en Egbert op die werf gebly het, sien Annaleen een Vrydagoggend hoe ’n blomafleweringswaentjie by die hek inry en voor Hansie se woonstel stop. Sy sien toe ook hoe daar ’n hele klomp emmers met groot bosse blomme afgelewer word. Omdat sy geweet het dat Hansie se butler vir die naweek weg was, het sy later oorgestap om te hoor of alles reg is en of sy vir hom ’n ete kan oorstuur.

Hansie het die deur net op ’n skrefie oopgemaak en toe sy vra hoe dit gaan en of hy iets nodig het, gesê: “Goed met my, alles is doodreg. Maurice het etes en tee en koekies vir my reggesit en ek sal regkom. Wees maar rustig.”

“En die blomme?” vra sy.

“Ag, ek was sommer lus vir blomme.”

Sy het gedink hy wil dalk die lente vier. Hy is immers gesond, is trouens nooit siek nie en kla nooit.

Die volgende middag bel Annaleen my in groot ontsteltenis.

“Heleen, kom asseblief hiernatoe. Ek het nou iemand nodig.”

Daar gekom, kry ek Annaleen waar sy in die kombuis met haar hande voor haar mond staan, asof sy versteen het.

Egbert kom toe ook net daar aan van die gholfbaan af.

“Wat het gebeur?” vra ons byna gelyk.

“Dis Hansie. Sy versorger is mos weg en hy het gesê hy sal regkom. Maar alles is toe so doodstil daar by hom dat ek maar weer oorgestap het om te gaan kyk. Toe kry ek hom.”

“Waar kry jy hom?” vra Egbert.

“In sy kamer. Op sy bed.”

Saam stap ons drie na die woonstel. In die tuintjie blom alles wat moontlik kan blom, want dis laat lente en die beste blommetyd. Die woonstel is blinkskoon – die stoep, die vensters en die houtvloer binne. Alles is kraaknetjies.

Annaleen loop voor, verby die eerste slaapkamer waar die butler bly, na die groot slaapkamer. Die hele kamer is vol blomme. Op die spieëlkas, op die laaikas, op die boekrak, oral is daar vase en melkbekers en emmertjies met blomme: St Josefslelies, lycianthes, rose, angeliere tussen groot bosse gipsblom ingesteek en swaar dieprooi amarillis in ’n groot erdehouer. Op die vloer al langs die mure staan daar ook houers met blomme en loof van verskillende kleure en skakerings. Op die bedkassies staan daar weerskante twee groot glasvase vol stargazer-lelies en al op die rand van die bed langs lê daar nog lelies gepak. ’n Swaar speseryagtige geur hang in die kamer.

In die middel van die bed lê Hansie. Hy het ’n aandpak met satynlapelle aan en ’n wit formele hemp met fyn opnaaiseltjies. Hy het ’n donkerblou en silwer strikdas aan en blink skoene. Hy lyk of hy slaap.

“Ek kon nie aan hom raak nie,” sê Annaleen.

Egbert buig oor en voel teen Hansie se nek.

“Geen pols wat ek kan voel nie.”

Hansie was dood. Net dood. Die nadoodse ondersoek het niks verdags getoon nie. Daar was geen teken van iets onnatuurliks in sy bloed nie, net lae vlakke van ’n slaapmidddel, gewoon soos by iemand wat die vorige aand ’n slaappil gedrink het. Hy het net, asof hy so besluit het, weggegaan.

Annaleen en haar gesin, haar ma, Marlena, en die ander twee susters het Hansie begrawe. Na die begrafnis sit almal stil en somber met koffie op die stoep. Toe sê ma Marlena met ’n bewerige stem: “Hansie het seker gevoel dit was genoeg. My pa Jan het eenkeer gesê grootoupa Hans het vir hom wat Jan Taljard is, dubbeld ontman – hy het nie net sy kind opgeëis en weggeneem nie, hy het hom ook verlam deur hom te verhoed om vir sy gesin en sy vrou op te staan. Ek meen, pa Jan het uiteindelik ook nie ’n seun gehad wat ’n erfgenaam kon wees nie, want Hansie was uiteindelik niemand se seun nie. Pa Jan kon nooit met Hansie gemaklik raak nie, nie een van hulle twee kon die verwydering oorkom nie. Dit was soos ’n aanhoudende ontkragting wat eers met pa Jan se dood tot ’n einde gekom het.”

Sy het ’n paar oomblikke stilgebly en toe bygevoeg: “Nog erger was wat grootoupa in die naam van liefde aan Hansie gedoen het. Hansie was nie ontman nie, hy was ontmens. Hy het nooit gehoort nie, nie gevoel hy behoort iewers nie. Hy het self nooit in sy eie bestaan geglo nie. Hy het nie van iemand anders verwag om te glo dat hy bestaan nie. Hy was ontmens.

“En so het hy sowaar 90 eensame jare oud geword.”

Teen skemer het ons gery. Ek het omgekyk en in die laat lig het die huis se dak gegloei asof daar lig van binne af uitstraal, maar op die stoepe was die skaduwees reeds diep en donker.

Lees ook

Die koms en die vertrek van die oom: deel 2

Die koms en die vertrek van die oom: deel 1

The post Die koms en die vertrek van die oom: deel 3 appeared first on LitNet.

Scherzo

$
0
0

Foto: Canva.com

Ter nagedagtenis aan maestro Ludwig

Ek en Boudewijn verkeer reeds sedert die oertyd in die heilige eg. In daardie dae het ons vreeslik sonde met die dinosourusse gehad. Dit was vir jou ’n ding om hulle ons uit ons vullisblikke en posbusse te hou. Maar die ding waarmee ons die meeste gesukkel het, was die ellendige Coelophysis bauri’s. Hulle het mos skaars 25 kg geweeg, maar hulle was deksels rats met daai lang lywe van 6 meter en daarom was hulle so lastig. En al was hulle kannibalistiese karnivore het hulle ’n smaak vir melk gehad en ’n mens durf nie tee of koffie drink met hulle in die omtrek nie, want hulle steel jou melk uit jou tee en koffie voordat jy kon keer. Die tee en koffie het hulle gelos – daarin het hulle nie trek gehad nie. Die blikskottels! Dis net wanneer ’n mens rooibostee met melk gedrink het wat hulle die melk uitgelos het. Hulle kon seker die rooibos ruik en het dan besluit om die melk ook te los. Verder was hulle geheelonthouers: aan wyn het hulle hulle tande nie gesit nie. ’n Mens kon jou glasie JC le Roux dus in vrede nuttig.

Maar soos alle slegte dinge verby gaan, het die oertyd ook verby gegaan, en toe ek en Boudewijn ons oë uitvee, breek die Antieke tyd soos ’n aubade oor die oosterkim.  

Ons besluit dat ons moeg is vir die grot waarin ons bly en besluit dat ons moderne mense is en dat dit tyd is dat ons in ’n huis gaan woon. Ons keuse val op Çatalhöyük in die Provinsie van Konya in Anatolië. Almal wat iémand is, koop deesdae vir hom ’n huis in Çatalhöyük. Ons maak eers ’n afspraak met ’n eiendomsagent met die indrukwekkende naam Alim, wat ons verseker dat hy ons die volgende dag, cumartesi, een van die reeds bewoonde huise in Çatalhöyük sal gaan vertoon (nie wys nie, dis nie deftig genoeg nie) voordat ons ’n finale besluit neem. Ons afspraak is vir 10:00 sodat ons heeltemal betyds is as ons 09:00 op die Concorde op Internasionale Lughawe Joose Comradus klim. Alim ontmoet ons op die Internasionale Lughawe Hüdavendigar naby Çatalhöyük. Soos alle Turkse mans is hy nie baie lank nie, ek sou hom beslis op ’n dieet gesit het as hy onder my dak gewoon het! Wat érg besonders aan die huise in Çatalhöyük is, is dat ’n mens deur hulle dakke klim om hulle binne te gaan. Die dakke vorm dan sommer die strate van die stad! Alim wys ons daarop dat dit tradisie is om die huise met beeldhouwerke en simboolryke muurskilderye te versier. Ek is dadelik opgewonde en wil sommer terstond so ’n besonderse huis koop.

“Hokaai, Kristine!” keer Boudewijn. “Weet jy wat kos so ’n huis?”

“Nee, hoeveel?”

“Maklik in die omtrek van 10 000 000 NAD! Is ek reg, Alim?”

“U is, Efendi,” sê Alim onderdanig “maar daar is altyd ’n plan te beraam.”

“Ja?” vra ek opgewonde.

“U kan byvoorbeeld meer as een lening by die bank aangaan.”

“So nooit as te nimmer nie!” sê Boudewijn beslis.

“Maar Boudie,” begin ek flikflooi, “dis dan so verskriklik mooi!”

“Kristine, ons was nog nooit miljoenêrs nie en ons sal ook nooit wees nie, in geen valuta ter wêreld nie. Ek sê jou wat, kom ek stuur ’n e-pos vir koning Arthur en vra of ons nie ’n bietjie vir hulle kan kom kuier nie!”

“Het jy dan sy e-posadres?”

“Ja, op my selfoon. Wag, hier is dit: arthur.rondetafel@avalon.com. Ek stuur sommer van my selfoon af.”

’n Rukkie later kom Boudewijn by my en sê koning Arthur sê dis alles in die haak, ons kan kom kuier.

“Hy sê daar is oorgenoeg plek vir ons om lekker om die ronde tafel te kuier, want al sy ridders is weg op ’n kruistog. Hulle soek na ’n swewende skaakbord. Daar is dus genoeg slaapplek ook. Dit sal net ek, jy, hy en Guinevere wees.” 

“Guinevere? Is hulle dan nog getroud? Laas het ek gehoor sy het Arthur met Lancelot verkul!”

“Nee Liefie, jy dink aan die fliek met Sean Connery en Julia Ormond! Arthur en Guinevere is steeds gelukkig getroud. Jy moenie flieks en realiteit met mekaar verwar nie. Dis ’n geweldige literêre sonde!”

Toe ons met die helikopter op die dak van Kasteel Camelot land, ontmoet koning Arthur en so ’n eienaardige langerige man ons. Hy het ’n lang wit baard en hy is in een of ander lang kleed geklee wat só erg blink dat ’n mens byna nie na hom kan kyk nie, want jou oë kry seer. 

“Boudie,” fluister ek, “wie’s dit? Hy lyk dan so kwaai!”

“Kan ek julle voorstel aan Merlyn?” sê koning Arthur hoflik.

“O, die towenaar?” sê ek onmiddellik, maar ek word terstond hoflik deur Arthur oor die vingers getik.

“Merlyn is nie ’n towenaar nie; hy beskik wel oor bonatuurlike kragte.”

Ek wou nog uitvind presies wátter bonatuurlike kragte, maar Boudewijn wat my heeltemal te goed na my sin ken, het sy kop vir my geskud sodat ek maar laat vaar het om uit te vind.

Tydens ons laaste kuieraand om die ronde tafel in Camelot, vra Arthur: “Waar is julle volgende bestemming?”

“Ag Arthur, ons soek steeds na ’n geskikte huis, en ons het baie goeie dinge oor die dorp Stratford-upon-Avon gehoor. Ek het al foto’s van die plek gesien. Dis prentjiemooi daar. En weet jy wat? ’n Beroemde man met die naam William Shakespeare bly daar. Hy is ’n dramaturg en glo skatryk. Hy het ’n reusehuis daar wat hy ‘new Place’ noem. Ek hoop net hy is daar wanneer ons daar kom, want hy is dikwels in Londen,” borduur Boudewijn entoesiasties voort.   

Hy is só entoesiasties dat hy nie meer dink wat hy sê nie.

“Ek het ook liéflike foto’s van sy vrou gesien. Ek wonder of Leonardo da Vinci dalk die foto’s geneem het? Sy’s alte fraai, al is sy heelwat ouer as William. Anne Hathaway. Soos die pragtige aktrise, jy weet? Ek wonder of hulle nie dalk familie van mekaar is nie aangesien hulle enerse name het.”

Maar nou het Boudewijn darem te ver gegaan.

“Ja,” antwoord ek katterig. “Ek het foto’s van William-hulle se troue gesien. Dit was ’n moet-troue. Dekselse skande! Ek het ook in die skindertydskrifte gelees dat hy Anne verkul wanneer hy daar in Londen is!”

Boudewijn kom terug aarde toe, en die landing is nie sag nie.

“Regtig, Darling?” Hy spreek my altyd as “Darling” aan as hy weet hy is nou so diep in die sop dat hy binnekort lewensredders nodig gaan hê om hom daaruit te kry as hy nie vinnig ’n plan maak om weer in my goeie boekies te kom nie.

“Maar natuurlik, Darling, juffrou Kosmos is nie eens náástenby so mooi soos jy nie. Van albei die Anne Hathaways praat ek dus nie eens nie!”

Hoe het die helde nie geval nie!

Die volgende dag verlaat ons Avalon per plesierboot na Stratford-upon-Avon. Boudewijn was in vervoering oor die plek, maar ek het nie veel daarvan gehou nie. Buitendien was meester William al wéér in Londen, besig met een of ander professionele taak, hoewel ek ernstig vermoed het dat hy professioneel besig was om sy arme vrou te verkul!

“Nee wat Boudewijn, hier wil ek so wrintie nie wortelskiet nie!”

“Nou wat van Rome met die ornate geboue? Ons kan ’n vreeslike mooi huis daar kry!”

”Jy bedoel daai oordoende goed wat soos oorversierde troukoeke lyk? So nooit as te nimmer nie!”

“Nou waar wil jy dan bly?”

“Boudie, ek het nou die nag so ’n helder droom gehad oor die huis waarin ek graag sal wil bly. Jy ka’ ma’ sê dit was ’n visioen. Ek kan vir jou ’n prentjie daarvan teken!” 

“Nou vertel vir my hoe jou droomhuis moet lyk!”

“My droomhuis word ’n ‘kontemporêre huis’ genoem. Dis hoe ’n mens ’n huis van die 21ste eeu noem, sê die argitektuurtydskrifte. My huis word van natuurlike en duursame materiaal gebou en dit moet getuig van individualisme – mý individualisme. Daar is skoon, klassieke lyne in die huis en oop ruimtes. Die oulike van dié plan is dat hy basies is, ’n mens kan dus daarmee speel en dit daarom aanpas by jou smaak.” 

“En op watter dorp wil jy nogal dié droomhuis van jou laat bou?”

“Op Kangomita. Dis so ’n ou posseël dorpie, maar ek lees alles is goedkoop daar – ek lees ook die mense sê jy moet net uit die Raps-koswinkel bly, want dié is glo peperduur. Ek wil daar gaan bly omdat dit goedkoop is daar en ek my droomhuis dus goedkoop sal kan bou.”

“Wie se geld gaan jy gebruik om jou droomhuis te bou?” vra Boudewijn met geligte wenkbroue.

“Joune, natuurlik! Jy het sekerlik nie gedink ek gaan mýne gebruik nie, het jy?” vra ek met my allermooiste glimlag.

The post Scherzo appeared first on LitNet.

Bacchus in die Sandland

$
0
0

Foto: Canva.com

Jare gelede het ek ’n kêrel gehad wat van sy wyntjie gehou het, veral by ’n braaivleis, en natuurlik, in ’n restaurant. Nie dat hy nou ’n suiplap was nie – geensins nie, maar die feit dat ek in ’n dranklose huis grootgeword het, het spanning tussen ons veroorsaak. O, hy het voorgegee dat dit hom geensins gehinder het nie, maar namate ek hom beter leer ken het, het ek agtergekom dat dit nie vir hom lekker was om alleen in restaurante te sit en wyn drink nie. Ek het lang spanpraatjies met myself gehou en een aand gesê ek is bereid om ’n glasie wyn saam met hom te drink. Hy was heel in sy skik daarmee, maar wat hy nié vir my gesê het nie, is dat sy gunsteling droë wyn was. Hoekom hulle so eufemisties (’n vorm van ’n leuen) praat van iets wat suur is, sal ek in my dag des lewens nie verstaan nie. Ewentwel, met die eerste sluk besef ek: wyn, ek en jy sal in my dag des lewens nooit boesemvriende word nie. 

Uit hoflikheid druk ek maar deur met die bitterslegte wyn. Op sy vraag hoe ek dit vind, besluit ek, nee wraggies, ’n leuenaar is ek nou ook nie. “Nee jong, wyn is nou nie vir my nie.” Ek kan die teleurstelling op sy gesig sien, maar sleg is sleg.

Ek begin van vooraf worstelende spanpraatjies met myself hou. Kersfees breek aan en hy nooi my uit na ’n deftige restaurant. Toe dit by die bestelslag kom, skraap ek al my moed bymekaar: “Kyk, as jy iets kan bestel wat lékker is, sal ek saam met jou alkoholies verkeer. Maar dit moet LEKKER wees!”

Sy gesig gloei soos die son twaalfuur smiddae. “Ek het net die ding!” Hy roep die kelnerin en bestel, en bestel … ek kan wrintiewaar nie meer onthou wat dit was nie. Wat ek wél kan onthou is dat dit regtig lekker was. Wat hy nié vir my gesê het nie, is dat die goed wat soos koeldrank geproe het se alkoholinhoud nie nul was soos koeldrank nie, maar aansienlik hoër. Toe hy vra of ek nog ’n glasie saam met hom sal drink, is ek heel inskiklik. Trouens, ek raak al hoe inskikliker om nóg ’n glasie en nóg ’n glasie van dié lekker goed te drink. Die bottel is naderhand leeg en hy bestel nog een. En ek drink saam, wat. Dis mos erg lekker.

“Lyster … l … l … lyster, hoe laat issit?” 

“Ag, dis nog vroeg,” antwoord hy ontwykend.

Ek glo hom en dink in my mindere soberheid nie daaraan om op my eie horlosie te kyk nie.

Die tweede bottel is teen dié tyd half.

“Dié goe … goeders is dam lekker jong. Hoekom hê jy nie laaankal da’van vi’ ons bestellie?”

Sy verduideliking gaan by my verby.

“Luister Anet, ek dink ek en jy moet maar huis toe gaan. Jou ouers wonder seker al teen dié tyd wat van jou geword het. Dit word ook laat.”

“Maarie bor … borrel is nou eers half!” stribbel ek teë.

“Ek weet, maar ek dink regtig jy het nou genoeg gehad. Jou pa gaan my vermoor as ek jou so dronk by die huis aanbring.”

“Wie’s dronk? J  …jy is miskien dr … dronk. Ek makeer swiet-bloe-fennie-boggherol! En … en my pa gaan jou n-n-neuk as jy d-ddronk kar bestuur. Dan’s ons kys ok sommer yt!”

“Nee,” sê ek beslis, “ek ga’ nergens vorie borrel toetentaal leeg issie. Kelner! Kelner! Kommier! Ek sê dan kommier!” gil ek toe die kelner nie gou genoeg na my sin opdaag nie.

“Anet!” probeer my kêrel keer.

“Ma’ sie jy sjarrap! Wie’t miskien mê jou gepraat? Kelner!”

Toe die kelner uiteindelik opdaag, vlieg ek hom sommer in: “Wa’ bly jy? Dis mos jou werk om te kom as ’n kustemer jou roep, dessits!”

“Waarmee kan ek help, mevrou?” vra hy hoflik.

“Man, wie de donner is jou mevrou?” Teen dié tyd het ’n iedere en elke goeie manier wat Ma my ooit geleer het, my hele wese verlaat.

“Anet! Nou gaan jy darem te ver!”

“Maar het ek nie netnou vir jou gesê jy moet sjarrap nie? Ek praat nou!” ’n Onderwyseres weet hoe om met stout skoolkinders te werk!

“Jammer tog, juffrou,” sê die kelner, steeds hoflik. “Wat kan ek vir u doen?”

Teen hierdie tyd was die helfte van die restaurant se gaste se aandag op ons gevestig, maar dit het ek eers die volgende dag by my kêrel gehoor. Ek was op daardie oomblik natuurlik salig onbewus daarvan.

“Ek wille skoon glas hê. Hierie een is vyl. Blerrie vyl.”

“Sekerlik.” En die kelner is daar weg om my skoon glas te gaan haal.

“Anet, jy sleep my naam darem vanaand deur die modder. Die mense ken my hier!”

Dit moes hy nie gesê het nie!

“O, is jy nou skielik te ghrend vir my? Bring jy al jou ritse girldfriends hiernatoe? En is hulle almal fyntjies?! Almal van dié soort met kwalifikasies wat lang boekrolle vol beslaan?” Waar ek in my dronkenskap aan dié deftige woord gekom het, weet ek nie. Sekere ’n restant van my normale, sobere woordeskat.

“Ek het nie ritse vriendinne nie!” probeer hy met my redeneer. “Maar ek kom eet my middagetes hier!”

Teen dié tyd het die kelner met my skoon glas opgedaag. Ek gryp dit ewe ongeskik uit sy hand. Geen dankie nie, en onbeholpe probeer ek hom volgooi van die lekker soet sappies. Ek hoor nie dat die helfte van die restaurantgaste sit en giggel nie. Ek betaal egter vir my onbeholpenheid, want die helfte van die drank beland op die tafel in plaas van in die silwerskoon glas.

“Kyk nou net die simpel glas!” brom ek.

Maar teen dié tyd het my kêrel genoeg gehad.

“Anet. Nóú gaan ons huis toe!” Hy vat my ferm aan my elmboog en hys my van my stoel af op. Hierdie keer help geen teenstribbeling nie. Ek moet buitendien só intens konsentreer om regop te bly en een voet voor te ander te sit dat ek nie nog kan praat ook nie.

By die huis het iemand die deur oopgemaak; ek weet tot vandag toe nie of dit my pa of my ma was nie. Ek weet ook nie wat my kêrel se verduideliking vir my minder nugtere toestand was nie. My ma was vreeslik in haar skik met hom en sou hom enige iets vergewe, maar my pa het nooit vreeslik van hom gehou nie.

Die volgende oggend het ek met ’n reusehoofpyn wakker geword. Ná baie dink het ek die restaurant se naam onthou en besluit om my voete nooit weer daar te sit nie – ek weet nie hoe lank daardie kelner nog daar gewerk het en hoe goed sy geheue was nie.

Ieder geval, die kys met die kêrel wat sy middagetes by die befaamde restaurant geëet het, het ook nie lank gehou nie – ek het sober smake.

The post Bacchus in die Sandland appeared first on LitNet.

Ai, Ma

$
0
0

Foto: Canva.com

Fokken vreemd. Dis sy. Ek ken haar nie anders nie. 

Sondagoggend teem sy elke woord van een of ander song agter die wasbak. “Jy kort Jesus, jy kort Elvis ...” Maar verder kom sy nie. Eers later, as ons twee alleen in die kar is en sy goed weet ek het my earphones by die huis gelos, dwing sy my om te luister. 

“Dis Steve se nuwe song,” vertel sy dan, as if I care.

“Sure,” sê ek, my oë op Tafelberg.

“Hy sê die glimlag wat jy uitdeel, is die tronk waarin jy bly ...” sing sy.

Ek haat hom, sy love hom. Steve, die blonde, middeljarige ou ballie wat sy sê die wêreld van bemarking aan Afrikaanses so flippen goed verstaan, maar hier en daar touch met sy audience verloor. En ek, háár captive audience. 

Dis wat sy doen. Sy praat, jy luister. Verlede week weer was dit alles wat sy by RBG geleer het. “RBG het gesê as jy ’n seun is wat graag ’n pop wil hê, is dit oukei. Almal van ons moet vry wees om ons eie talente te ontwikkel, wat dit ook al is. ‘Women will only have true equality when men share with them the responsibility of bringing up the next generation.’” RBG dit, RBG dat. Tot vervelens toe. “Sure,” sug ek.

Later gaan Google ek uit nuuskierigheid RBG, en leer darem iets van die liberale regter Ruth Bader Ginsburg. Gebore op 15 Maart 1933 in Brooklyn, sterf op 18 September 2020 in Washington. Dis nou as jy die feite online kan glo. Sy was ’n ikoon, ’n kampvegter vir vroueregte. Tipies, dink ek. Kyk weer dáár vir haar inspirasie, vergeet van hiér. Wonder of sy weet wie Pregs Govender, Jani Allan, Shamima Shaikh en selfs Olive Schreiner is? Ek lees meer as wat sy dink. Weet ook meer. Baie meer. 

Oukei, oukei. Ek weet gelukkig meer omdat ek The story of an African farm moes deurwroeg in die duur Engelse skool waar sy besluit het ek moet heen. Ek onthou nie veel nie, net: “There was never a great man who had not a great mother”. En die rits name uit gesprekke in die klas – Pregs, Jani, Shamima, Olive.

Fokken vreemd.

Soos haar ewige liefde vir Seth en Simon. Ek het tot my verligting eers verlede jaar besef Seth en Simon is nie een of ander gay couple uit haar verlede en poging tot joernalistiek nie. Sy hou aan praat oor Seth en Simon soos een wat oor ou vriende praat. “Seth sê: ‘If failure is not an option, then neither is success.’ Simon sê: ‘The goal is not to be perfect by the end. The goal is to be better tomorrow.’” Seth dit, Simon dat. Op repeat. Toe kom ek eendag agter dis Seth Godin en Simon Sinek. Hulle bly nie eens naby ons nie. Sy het nog nooit self met een van hulle gepraat nie, nie in een van hulle se oë gekyk nie, was ook nog nie in dieselfde vertrek as een van hulle nie. Maar, kyk jy op haar Google search history, sien jy dat sy gereeld hul quotes soek. Sogenaamde Amerikaanse leierskapguru’s. Sy stalk en kén hulle, beter as vir my.

Sure. F ... 

“Daai F-woord gaan jou nog eendag jou job kos.” Die ewige gekerm in my kop. Maar ek luister. 

* * *

Ai, Ma. 

Jy was nog altyd vreemd. Ek ken jou nie anders nie. Ek weet ook nie presies wanneer jy dit besluit het nie, maar ek vermoed dit was lank voor my geboorte. Almal sê dit, die brawes ook dáár waar jy dit goed kan hoor: Jý was gelukkig om ’n man te kry. En dus ook vir my.

In jou jong dae was jy glo net té slim en jou boude net bietjie té breed om ouens se aandag te trek. Hulle was weer óf te kort, óf te vet, óf te bang, óf te dom vir jou. Vroulike blommetjiesrokkies en die studentekerk was nog nooit jou ding nie; jou kas was pikswart en jou geloof jou eie saak. Swart hemde, swart broeke (ek dink daar is tien uit toeka, in vier verskillende sizes), swart baadjies, ’n swart rok of twee met ’n hopie Bybels langs jou bed. Vir dag én nag.

Op al die foto’s hang jou swart hemp oor jou heupe en boude, of jou swart rok strek tot op die grond. Jou melkwit cankles veilig weggesteek. Jy skuil in swart uniforms wat kan rek, en rek, so asof niemand kan sien hoe jy stadig maar seker ingroei en uitdy nie. “Chunky jewellery, rooi lipstick. Dan sien niemand die res van my raak nie. Jy kom tog so ver met swart.” Daardie laaste stukkie van die sin laat jou skielik middeljarig klink, maar ek weet jy’s op jou gelukkigste in jou oorlogsgewaad. Altyd in die war, altyd at war.

Ai, Ma. 

Dit was beslis lank voor my geboorte. Dalk selfs voor Pa kort voor jou 30ste verjaarsdag besluit het hy sien kans om jou van die rak af te red, die vrou in swart wat nooit skroom om te sê wat sy dink of hoe sy voel nie. Pa was braaf; hy het geweet jy was lankal klaar met hier. In jou kop was daar net een missie: jou kinders moet die kans kry om weg te kom uit hierdie land wat jou so knel. Die plan is volledig uitgewerk, soos al jou planne altyd is: privaat skool, Britse kurrikulum, prestasies (verkieslik nasionaal) in sport en kultuur, ’n diverse groep Engelse vriende, en genoeg geld vir residency of dalk selfs citizenship om seker te maak die groen paspoort kan eendag vir altyd versnipper word.

Jy laat my in Engels droom, al praat ons op Kersfees Afrikaans. Ons eet bobotie en braaivleis en melktert en koesisters, maar kyk watter vakke mens moet hê om by Oxford of Cambridge in te kom. Jy raas as ek nie die Queen se Engels met jou praat nie, of as ek gooi soos my broue by die ghrênd Engelse skool. “Is kwaai mos! Moetie rai gammattaal gebrykkie. Naai man! Ma se p ... !” Jou oë blits.

Ek laat jou luister na die jonge Dave se “Black” by die Brit Awards vroeër vanjaar en sien dat jy daarvan hou, soos ek. “Look, black is beautiful, black is excellent, black is pain, black is joy, black is evident ...” Ek sien ook hoe jy lekkerkry as net ’n handjie vol van jou vriende verstaan hoekom hierdie song so significant vir jou en my is. Altyd in die war, altyd at war.

Ai, Ma. My kop raas al nes joune. 

* * *

Ek is vyftien en die wêreld is in sy moer. Mense kruip agter maskers weg, ’n gogga uit China sit ’n meter en ’n elmboog tussen almal van ons. Twee blonde kuiwe hou die Amerikaners en Britte in toom en hier by ons weet jy nie regtig wie betaal wat met wie se geld nie. Nie dat dit my so baie pla nie; solank die Wi-Fi werk kan ek my eie pad kry tussen FIFA, Modern Warfare en Rainbow Six Siege. So nou en dan kuier ek en die broue lekker en laat, dankie aan Discord.

Nee, Ma, Discord is nie illegal nie. Dis freeware, dis Amerikaans. Dis ’n chat channel. Wees bly, dis nie van hier nie. Dis van dáár. Ons kuier net, Ma. Dis net die broue, Ma. Nee, daar’s niks chicks nie. Kanalla, Ma. Ma weet mos, Ma! Ma?

Ek dink ek het haar verloor. Sy praat al hoe minder, eet skelm en al hoe meer. Dink niemand sien dat sy nie meer lekker in die stoele pas nie. Sit mos deesdae liewer op die bank. Haar boude is breed, die swart span en die Bybels gaar stof op.

Dis die Maandag na die somber Sondag met Steve, Jesus en Elvis. Sy is lankal op, sien ek toe ek haar breed gepantser in swart agter haar iMac kry. Verbeel ek my? Is haar wange nat? “Ek lees sommer weer bietjie oor RBG. Not fragile like a flower, fragile like a bomb.”

Hier gaan ons weer, dink ek. RBG dit, RBG dat.

“Ja, Ma, dit was oral op Instagram, Ma. Nie heeltemal my ding nie, Ma.” Nou wag ek net vir Seth en Simon ... Maar dié twee vrinne kom nie vandag saamgesels nie.

Dan tref dit my – die wêreld is in sy moer, haar plan ook: Daar gaan die sekerheid oor die privaat skool, die Britse kurrikulum, ’n hele jaar se nasionale prestasies in sport en kultuur, die sterk bande met ’n diverse groep Engelse vriende, en genoeg geld vir residency of dalk selfs citizenship om seker te maak die groen paspoort kan eendag vir altyd versnipper word. Alles moer toe. Suid-Afrika knel, die wêreld ook.

Haar wange ís nat. “Not fragile like a flower, fragile like a bomb,” prewel sy.

“Jy kort Jesus, jy kort Elvis ...” sing ek.

“Jy’s fokken vreemd,” sê sy. “Nes ek.”

Ai, Ma. Sure, Ma.

The post Ai, Ma appeared first on LitNet.

Vermis

$
0
0

Foto: Canva.com

Die skemer hurk al om die huis en Schantell is nog steeds nie terug van die skool af nie. Delores het die afgelope drie ure deur ’n siklus van kwaad, bekommerd, bedonnerd en dan weer hulpeloos gegaan. Die laaste paar maande se SABC-nuus oor vermoorde kinders het soos ’n klip in haar hart kom lê.

Daar was Jeneva Diergal, Delvina Europa, Tazne van Wyk, Michaela Williams ... Hulle het juis by die biduur vir daai kinders se mammies gebid oor die vreeslikheid wat daai gesinne oorval het.

Dan praat sy haarself weer aan: “Hie in Blikkiesdorp sal sulke goete nie gebeur nie. Hie woon slegte mense wat die Boere kom oplaai vir inbreek en steel, maa nie moordenaars nie.”

Delores gooi die vadoek oor haar skouer en stap vir die soveelste keer uit op die stoep om weer in die lang pad af te kyk of Schantell nie al aangestap kom nie.

Drieuur het Delores by die neighbours gaan hoor. Jasmin het gesê sy het Schantell na skool saam met Veronica na die rivier sien stap.

Vieruur was Delores oor na Veronica se huis. “Nai, Auntie, ek is al lankal weer terug by die huis om die djaart te vie voorlat my stiefpa wee sy kop verloor en my slat as hy vannie werk terugkom. Schantell wou nie saam terugkom nie. Sy wou nog riete vleg en Jonathan dophou.”

Vyfuur het Jonathan verby Delores se huis gehaas met sy gebruiklike kaal bolyf en vuil kombers oor die skouers. Die sweet het soos diamante op sy gesig geblink.

“Jonathan!” het sy geroep, “waa is Schantell? Sy het nie na skool huis toe gekom nie.”

“Nai, Auntie,” het hy, sonder om sy pas te verslap, geantwoord. “Sy was lately daa by my by die rivier, maa ek wiet nie waa sy nou issie.”

Jonathan is ’n anderste een. Delores dink terug aan die nag toe hy soos ’n stuk weggegooide Shoprite-sak by die rivier gevind is. Die weer was swaar. Dit het gedonder en geblits maar, prys die Here, geen reën nie. Anders het hy sowaar in die rivier weggespoel. Vossie het die pasgebore baby die volgende oggend vroeg by die rivier ontdek. Vossie sê Jonathan het darem in die skadu van ’n wilgerboom gelê, alhoewel hy vol miere was wat aan sy bloederige naelstring gevriet het.

Elize en Jason het hom ingevat. Elize was die voorste kerksuster en Jason het baie keer bible study meetings gehou alhoewel hy by die City of Cape Town gewerk het en nie ’n pastor was nie. Die social worker het vir Elize en Jason gesê dat Jonathan soos ’n geskenkpakkie is. Niemand wiet wat in hom issie. Sy mommy kon ’n drug addict wies of ’n skoolkind. G’n spoor van sy mommy kon gekry word nie en niemand in Blikkiesdorp het gewiet van iemand wat pregnant was en van die baby ontslae geraak hettie. Almal was geskok dat iemand haar baby so kon weggooi.

Delores se gedagtes ruk terug na die hede. Sy moet iets doen. Die nag se elmboë begin nou al op Blikkiesdorp rus en haar hart is swaar. Ant Henna, die voorvatter gemeenskapsleier in Blikkiesdorp, sal weet wat om te doen. Sy wat Delores is sal na haar toe gaan.

Teen 8 nm het Ant Henna Blikkiesdorp se mense opgekommandeer om na Schantell te begin soek. Sy het kerse uitgedeel en orders gegee. “Maak drie groepe. Lesley en Jan, djulle vat elkeen ’n groep. Delores, djy kan die ander groep vat. Lesley se groep gan soek by die ashope en dam hie agter. Jan, djulle gan klop elke tikkop op en search sy huis en Delores, djulle groep gan soek by die rivier.”

Delores se moed sak tot in haar skoene. Jonathan het homself by haar groep aangemeld en met sy geel klavierklawertande gelag en gesê hy is seker hulle groep gaan wen en eerste vir Schantell kry, so asof dit ’n lekker speletjie is soos om na paaseiers te soek of skattejag te speel. Hy was net so toe sy aanneemouers met hulle motor onder die trein in verongeluk het. Het skoon gelag by die funeral en die pastor moes hom aanspreek.

Delores sug. Sy hoop nie Jonathan gaan dit vanaand vir hulle moeilik maak nie. Hy fluister mos geheime vir geitjies en ken glo die taal van skoenlappers. Sing glo ook soms vir die visse by die rivier. Schantell het haar dit vertel. Sy en Veronica het daarvan gehou om by die rivier te gaan sit en Jonathan dop te hou en onderlangs daaroor te giggel. Sy wat Delores is het baie keer vir Schantell gewarn om weg te bly van Jonathan, maar om een of ander rede het sy soos ’n mot om ’n kersvlam om hom bly draai.

“Nana,” het sy gesê, “Jonathan praat met mense in sy kop. Boelies baklei met hom da praat hy in tale met hulle en swaai sy arms dat hulle moet padgee. Die beste is as hy sy blink geld in die stofpad gooi en dan ewe verbaas dit weer optel soos een wat geld ontdek.”

“Djy moenie so danig met die klong wies nie, Schantell,” het Delores gesê. “Djy het nou jong meisie geraak en Jonathan bly ’n man, al act hy soos ’n kind. ’n Mens weet nooit met sulke mense nie.”

Die groepe begin uitmekaar beweeg elkeen na sy soekplek. Delores kyk onderlangs na Jonathan. Hy is hiper excited en loop voor. Steek-steek kort-kort met ’n stok na ’n graspol. Delores kan nie help om op te let dat sy ore net soos haar teepothandvatsels aan weerskante van sy kop lyk nie. Kort-kort kyk hy om en wink met sy regterhand. Sy Rastahare hang oor sy gesig soos ’n vuil gordyn.

“Lat hy maa aanstap,” sê sy vir die groepie by haar. “Ons hou maa so bymekaar met die kerslig. Ko ons mak eers ’n kringetjie. Gee djulle hande dat ons die Meester kan vra om ons te help. My hart spring uit my bors oor wat ons dalk gan kry.”

...........

Jonathan sit vroegmôre reeds onder sy geboorteboom. Hy hou daarvan om onder die lang takke van die wilgerboom te sit en hom te verbeel dit is sy biologiese ma se lang trane wat so om hom val. Dan dink hy hoe sy hom mis en wonder waar hy is en jammer is dat sy hom moes weggee. Vandag is die wilgerboom se lang takke ook vir hom die trane van Auntie Loor omdat hulle gisternag nie vir Schantell kon kry nie. Hy wonder wat van haar geword het. Hulle het die dag wat sy verdwyn het nog so lekker saamgespeel.

...........

Delores se oë is rooi en opgepof soos ’n uilskuiken. Gisternag het niks opgelewer nie. Nie by die dam of by die tikkoppe of die rivier nie. Geen taal of tyding van Schantell nie. Die besef dat Schantell nou rêrig weg is, het vanoggend tot haar deurgedring toe sy haar nie kon wakker maak vir skool nie. Sy het op Schantell se bed gaan sit en onbedaarlik gesnik. Sy sal haarself nou moet regruk en die taxi dorp toe vat om Schantell as ’n missing person te gaan aanmeld.

...........

Jonathan staan lui op en rek homself uit. Die son sit al hoog. Hy vat sy stapstok en loop langs die rivier af. Hier het hy en Schantell vissie-vissie gespeel nadat Veronica getjaila het. Sy moes die djaart gan vie voor haar stiefpa haa wee slat. Schantell wou nie saamgan nie.

“Ek likes djou,” het sy gesê. “Ek wil hoor hoe djy vi die visse sing. Niemand in Blikkiesdorp ka so mooi soos djy sing nie.” Sy het gelag en haar tanne het soos doudruppels geshine. Sy was vi hom mooi en sy hart het warm in sy binneste geklop.

“Kom ons speel muskiet-muskiet, dan steek ek djou,” het hy gesê.

 “No ways, daai’s ni my soort game nie. Ek willi daai spiel nie. Ek is nog te jonk,” en sy het skaam gelyk. “Kom ons spiel vissie-vissie dan is eki vis en djy sing vi my.”

“Oukei,” het hy gesê.

...........

Delores kom uitgeput huis toe. Sy het die polisievrou alles verduidelik en ’n affidavit afgelê.

“Mevrou, meeste kinders word perdfris en gesond gevind,” het die polisievrou haar probeer gerusstel, maar Delores het geweet Schantell kan obsternaat wees, maar sy is nie ene wat somme sal weghardloop van die huis af nie.

Delores skop haar skoene uit en gaan lê skuins op die rusbank. Na ’n ruk staan sy op. Daar is nog skottelgoed in die zink.

...........

Jonathan stap al laer en laer af met die rivier, verby die plek tot waar hulle gisternag gesoek het. Hy krap hier en daar tussen takke wat afgespoel het en in ’n bondel opmekaar lê. Dan sien hy haar tussen die riete. Sy dryf op haar maag. Hy draai haar om en haar oë kyk snaaks na hom soos toe hulle vissie-vissie gespeel het. Hulle het mekaar langs die rivier gedjaag, toe glip haar voet en val sy in. Sy het in die vlak water opgestaan en gelag.

“Nou is ek somme ’n regte vis,” het sy gesê. “Kom ek maak of ek swem, dan sing djy vi my.” Sy het plat op haar maag in die water gaan lê. Hy het vir haar begin sing. Toe sy later wou opstaan, het hy haar plat gedruk en nog ’n paar songs gesing. Toe hy klaar was, wou sy nie opstaan nie. Hy het haar omgedraai en sy het snaaks na hom gekyk. Toe los hy haar en gaan sit onder sy boom. Toe hy weer gaan kyk of sy nou al opgestaan het, was sy weg.

...........

“Auntie Loor! Auntie Loor!”

Delores los die skottelgoed en loop met die vadoek oor haar skouer voordeur toe. Sy stoot die sifdeur oop. Jonathan staan met die druipnat Schantell in sy arms. Hy buk met ’n groot glimlag op sy gesig vooroor en sit haar by Delores se voete neer soos ’n trotse kat wat ’n dooie muis vir sy baas kom wys. Die bloed in Delores se kop sak af na haar voete. Haar hand ruk op na haar mond en dan klief haar gille die hele Blikkiesdorp in stukke.

The post Vermis appeared first on LitNet.

Viewing all 432 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>