Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all 434 articles
Browse latest View live

"Without the option"

$
0
0

Foto: Canva.com

Die karakters in hierdie verhaal is fiktief. Die name wat gebruik word is ook fiksioneel en verwys nie na 'n lewende mens nie.

Op ’n dag, in my vorige jeug, kom ek van die werk af. Ek ry deur die skoolhek, erg stadig. Dis totaal teen my karakter in, want gewoonlik vlieg ek laerig deur die hek omdat my maag my ernstig aanspoor: “Knorrrrrr, rrrrrrrrrry nou, ek het urrrrrrre laas iets substansieels gehad! Rrrrrrrrry!”

“Ja, Pens. Deksels, hier’s nog baie kinders in die straat. Ek moet eers wag dat die straat skoon word. As ek vinniger ry, ry ek een van die pesti … agge bloedjies raak!”

“Ja maarrrrrr, anderrrrrr dae vlieg jy hierrrrr uit! Knorrrrrrr!”

“Pens, ek kan mos bestuur!” sê ek heeltemal dwars en onlogies. “Sjarrap nou. Ek bestuuur. A, daar’s die straat nou skoon.”

Ek kruie by die hek uit. Die volgende oomblik hoor ek whap! teen my kar se voorkant. ’n Hoe nou weer noem my pa daardie gedeelte van die kar? (’n Mens mag “kar” sê; die HAT sê so.)

Ek stop dadelik. Selfs Pens se snater is skielik tjoepstil.

Reg voor my kar, in die straat, lê ’n kleinerige skraal dogtertjie. Sy lê botstil. Ek herken haar nie. Ek dink nie sy kry by my klas nie, maar as ek so na die klein lyfie kyk, skat ek haar in graad 8.

“Suster Soesêra,” praat ek met myself, “vandag is hier groter as groot sports. Wat nou?”

Ek kyk om my rond, maar daar is geen sterfling, niemand wat leef of sweef, soos oorle’ ouma altyd gesê het, vir wie ek raad kan vra nie. Ek gaan na die dogtertjie toe wat steeds bewegingloos lê. Toe ek by haar kom, sien ek dat haar oë bottoe is.

Ek wend my tot die enigste ding wat dié tyd van die dag met my praat: “Pens, wat maak ek nou? Sê nou die meisiekind is dood? Dan sluit hulle my roeriewaar toe. Ennne … hulle gooi sommer die sleutel weg! Wat dink jy sal my vonnis wees? Strafbare manslag of moord? En laasgenoemde dalk nog without the option soos Bertie Wooster altyd sê.”

Maar Pens, die dekselse verraaier, is nou tjoepstil.

Wel, Soesêra, besluit ek dapper, jy sal iets moet doen, hoewel ek eintlik lus het om in die dun lug te verdamp.

“Meisiekind!” sê ek hard en skud die dogtertjie ’n paar keer flink aan haar skouers heen en weer. Sy maak oë oop.  

“Eina!” protesteer sy, “Juffrou maak my verd* seer!” en sy sê ’n woord wat ek nie gedink het deel van ’n dogtertjie van haar ouderdom se woordeskat uitmaak nie. Miskien het sy te veel seunsmaats. Maar aan die ander kant, vandag se meisiekinders is self baie kreatief as dit by hulle woordeskat kom.

“Dankie tog!” sug ek in my binneste, “jy’s nie dood nie!”

“Het jy seergekry?” vra ek simpatiek.

“Ja. Baie. Juffrou moet my hospitaal toe vat.”

“Maar hoekom het jy voor my kar ingehardloop? Jy het my mos sien aangery kom.”

“Juffrou, daai een seunskind het so ’n lelike mombakkies opgesit en my daarmee gejaag. Ek het my alie afgeskrik! Juffrou móét my hospitaal toe vat,” sê sy nou tranerig. “Ek het vrek seergekry!”

“Nou kom klim in die kar sodat ons kan ry.”

“Ek kan nie loop nie!” sê sy huilerig.

“Ag jitte,” sê ek tandeknersend vir my innerlikste binneste, “moet ek die kind nou so wrintiewaar nog dra ook!”

Êrens vandaan stuur Iemand vir my die krag, want sowaar, ek kry die meisiekind (steeds Jane Incognito) opgetel en in my kar gestop. ’n Bietjie hardhandig, maar darem.

Op pad huis toe begin ek solank aan my verdediging werk, maar op die ou einde besluit ek Lord Ickenham se raad aan die jongmense is die beste: “stout denial”.

“U Edele, ek weet van niks. Toe ek weer sien, toe lê die meisiekind … agge, die dogtertjie in die middel van die straat, reg voor my kar.” Dit sal ten minste die waarheid wees. “Ek ken haar van g’n Adam óf Eva of enigiets tussenin af nie. Nog nooit voor vandag gesien nie. Nie met ’n halwe oog nie, U Edele.” Dit sal óók die waarheid wees. Die meisiekind kry mos nie by my klas nie en ons skool is groot. “En U Edele, as u-hulle die saak nou Kaapstad toe wil verwys om watter rede julle nou nie regter Van Zijl se werk goed genoeg vind nie …”

Teen hierdie tyd het ek die huis bereik. Toe ek stop, kom die heer de huises dadelik uitgestap.

“Waar bly jy, Saartjie? Dis al drieuur!” Dan sien hy die kind raak. “En dié?”

Ek vertel vir hom die storie, maar as ek simpatie of goedkeuring of lofprysing of enige positiewe reaksie verwag het, word ek vadems diep teleurgestel.

“Besef jy wat jy gedoen het?” baklei hy in dieselfde stem met my wat hy met ’n balhorige student praat.

Reusefout aan sy kant!

“Ja! Ek het ’n kind wat erg seergekry het, huis toe gebring sodat jy my kan help om haar hospitaal toe te vat. Sy sê sy het baie seergekry! Ek het dit mos al vir jou gesê, verd*!” leen ek so ’n woordjie wat ek by die dogtertjie geleer het.

“’n Mens mag nie ’n ongelukstoneel verlaat nie!” baklei hy verder.

“Ha!” dink ek, dik die diekens in, “en dis nou die vent wat voor die kansel, in die teenwoordigheid van die dominee én heelparty getuies belowe het om my in elke dikkedensie by te staan!”

“Kyk hier ou pêl, la’ ek en jy mekaar vandag nou móói verstaan. Indien dit nou so sou wees dat jy nog nooit enige faux pas begaan het nie, het die saak héél anders gelyk. Maar nou is dit nie so nie. Onthou jy nog daai keer toe jy jou buurman se lekker geelperskes gesteel het? Jy weet, toe ons nog op Plek-van-die-Vrugbare-Grond gebly het, en hy jou op heter daad betrap het en …

“Ja, toe nou maar. Laat ons ons liewer by vandag se kroesis bepaal.”

Hy sê altyd “kroesis” (uit pure senuagtigheid) as hy weet hy het ’n bepaalde geveg verloor.

“Kyk Skatliefie,” flikflooi hy nou in hoogste versnelling, “ons sal die polisie moet bel, want ons sal die dogtertjie se ouers in elk geval in kennis moet stel. Hulle kan vir ons groot moeilikheid veroorsaak as hulle uitvind ons het die polisie nie in kennis gestel nie. Die dogtertjie kan vir hulle vertel jy het haar omgery en sy het erg seergekry en dat ons niks daaraan gedoen het nie.”

“Maar ek het donners stadig gery!” begin ek my eie kreatiewe woordeskat uitbrei.

“Knorrrr. Ek’s donnerrrs hongerrrr!” dons Pens vir die eerste keer in ’n lang ruk ontydig tussenin. Boonop is hy ’n vinnige leerder.

“Saartjie, kalm nou. Al wat die polisie teen jou kan hou, is dat jy die kind van die ongelukstoneel verwyder het. ’n Mens mag dit nie doen nie. Vertel net presies vir hulle wat gebeur het. Ek is seker die polisieman sal jou kant van die saak insien. Die kind het gekla dat sy baie seergekry het en gevra het dat jy haar hospitaal toe moet neem. Vra vir haar of ons nie haar ouers kan laat weet nie. Terwyl jy ’n telefoonnommer by haar probeer uitvind, sal ek solank die polisie skakel.” 

Toe die polisiemannetjie opdaag is die jong konstabeltjie allesbehalwe begrypend en tegemoetkomend. Hy staar hom blind teen die feit dat ek die kind huis toe gebring het en dus die ongelukstoneel verlaat het. Wat hom betref, is dit ’n ontsettende wetsoortreding waarvoor hy my kan arresteer en as ek hom so aankyk, sien ek sommer hy is in ’n arrestasiebui. 

Dit is sover ’n uitmergelende dag, die junior klasse het gekyk om hoeveel hoeke en draaie hulle my gedurende elke periode kon teister – en nou nog die affêre met Jane Incognito. Tussenin grom en brom Pens ook om nog die kersie op die troukoek te sit, om ’n uidrukking by die ou maer dosentjie op universiteit te steel.

“Kyk hier jou klein bl …” wil-wil ek kreatief raak.

“Saartjie!” waarsku my nou minder deemoedige eggenoot. “Hy gaan jou arresteer!”

“Kyk hier, konstabel,” sê ek effens kalmer.

Ek kry uit ’n onverwagse oord hulp.

“Oom Sterk Polisieman,” sê Janet Böckie uit die bloute, “weet oom hoe goed was juffrou vandag vir my?” Sy vertel die hele storie vir die kwaai konstabeltjie wat hom verbeel hy is eintlik ’n generaal. “En omie weet, sy het my allenig in haar kar ingetel, en ek is blerrie swaar, hoor!”

Miskien het die polisieman self ’n dogtertjie by die huis, want hy besluit hy sal my liewer nie arresteer nie. Hy sê net ons moet die kind se ouers in kennis stel van die gebeure, ons adres vir hulle gee en wag tot hulle by ons huis arriveer. Daarna moet hulle self besluit wat hulle met hulle kind wil doen.

Die volgende dag het ek skaars my klasdeur oopgesluit en ingegaan toe nóg ’n wildvreemde kind skielik langs my kom staan.

“Juffrou,” sê die seun, “ek weet wie het gister daai meisiekind met die mombakkies gejaag. Ek ken nie sy naam nie, maar ek weet in watter klas hy is. As juffrou vir my ’n klaslys gee, sal ek sy naam herken.”

“Kind, sê tog net vir my wat jou naam is. Ek is al so moeg om met julle onbekende kinders deurmekaar te wees.”

“Derrick, juffrou. Derrick van Deventer. Ek sit mos heelagter in juffrou se klas.”

“Ag natuurlik, ja. Dis ook dié dat jy die verskil tussen ‘herken’ en ‘erken’ ken!”

Ek neem Derrick personeelkamer toe waar ’n reuserak met hokkies staan waar die hele skool se klaslyste klas-vir-klas gerangskik staan. Derrick het so ’n bietjie rondgesoek en toe die regte klaslys gekry. 

“Hier’s hy, juffrou. Maarten Dreyer. Dis daai outjie wat so lief is om mombakkiese te koop en al die meisies daarmee te jaag. Juffrou sien, hy kan nie ’n meisie kry nie. Hulle hou nie van hom nie. Dis oorlat hy naweke sy vingernaels rooi paint. Nou sê hulle hy’s nes ’n meisiekind. Nou kry hy dam aandag van hulle as hy hulle skrikmaak. Lat hom seker manlik en belangrik voel!” lê Derrick vir my met ’n psigologiese kennis uit wat ek nie van ’n kind in graad 9 verwag het nie.

Een van die senior onderwyseresse het die Dreyer-knaap later (in my teenwoordigheid) teen sluitingstyd voor stok gekry en hom goed die leviete, en al die ander -iete waaraan sy kon dink, voorgelees.

“En as Marizel nou seergekry het, en daar is mediese koste aan verbonde, sal jý dit betaal! Verstaan ons mekaar?”

“Ja, juffrou.” Dreyertjie was nou nie meer so dapper nie.

“O, dan is die dogtertjie van gister se naam Marizel,” dink ek in my enigheid toe ek teen skilpadspoed by die hek uitry.

“Knorrrrr, rrrrry nou, ek is hongerrrrrr.”

“Pens, hou jou bek! Jy’t gesien wat gister gebeur het toe ek net ’n titseltjie vinniger gery het! As dit wéér moet gebeur, sluit hulle my toe. Ek sê jou. Without the option!”

The post "Without the option" appeared first on LitNet.


Saliena

$
0
0

Foto: Canva.com

Saliena, ons huishulp, het verjaar. Sy beur na haar vandaankomplek toe. Distrik Ses. Ons ry en stop. Die onkruid buig liggies voor die Suidoos. Saliena spoor die plekkie waar hulle drievertrekkie gestaan het maklik op. Kombuisie en twee slaapkamertjies, sê sy. Die kleintjie vir ons kênners en die ander ene waar Pappie en Mammie mekaar gesmaak het.

Selina loop haar gisters binne. Vanmelewe se gebruis, viswaentjies, roomyskarretjies en tweedehandse prams. Dikwielfietse en driewiele, straat op en straat af; Tennant, Richmond en Primrose. Kindertjies skree. Hondjies kef. Die Imam roep. Die vishoring raas. Antie Lap met haar naaimasjiene. As die sonnetjie lekker skyn, trek sy die masjiene oppie sypaadjie en werk “open air.”

Gelukkige tuistes van mense wat in ’n vyandige wêreld poog oorlewe. Mammie in stad toe. Die char met die kopdoek. Mop en vee. Bring oorskiet en skrywelekkers as sy huis toe kom. Pappie Wynberg toe vir die vroeë skof. Sit die bakstene opmekaar en pay Vrydae. Die kênners wag hom op die hoek, want Pappie het die broodgeld en Mammie is bang Pappie raak dors. Die buurvrou hang oor die onderdeur.

Daar is trane in haar oë, want haar jongste sit in Roelandstraat. Was rumoerig op straat toe gee die magistraat hom nege maande.

Die kafeetjie op die hoek. Brood en botter. Samoosas en snoek. Kerse en komberse. Die dolle rumoer Saterdagoggende in afwagting van jolyt as die son sy gesig in die water druk. Konserte. Kantiene. Lieberstein-en-zoljolle. Kompetisietjies. Venterliedjies. Skophokkie en blikkie-aspaai.

Mammie wat deur die gordyne loer, want netnou kom die Jesters en wys vir die kênners hulle tattoos – drake uit China en lae klas modelle met groot borste.

Die onnatuurlike stilte Sondae. Aspro’s en regmakertjies. Sommiges tou kerk toe, vra vergifnis vir gisteraand se dinge en krag vir môre s’n.

The post Saliena appeared first on LitNet.

Die merinoboer en die koster van Campbell

$
0
0

Foto: Canva.com

Die Noordkaap is nat. Olifantshoek is nat. Daniëlskuil is nat. Campbell was laas so nat toe die mofskaapboer, Groot Gert Aggenbach, sy tokkelokseun op Stellenbosch se kweekskool opgekommandeer het om in die dorp se sinkdakkerk te kom bid vir die reën wat die droë aarde weer nat kon kry. Klein Gert was, volgens sy pa se oordeel, teen dié tyd teologies goed genoeg geskoold vir die taak en was boonop van kleintyd af geseën met ’n soort geestelike heldersiendheid wat gespruit het uit die feit dat hy met die helm gebore is. Hy kon spoke sien en met wolke praat. Hy was so te sê in die wieg gelê vir die “job”.

En so was dit. Klein Gert was nog by die oorgang vanaf die boetedoeningsfase na die verootmoedigingsfase van sy reëngebed, toe begin die blitse kraak en die donder slaan. En nog voor hy kon sê “Amen”, toe val die eerste groot druppels op die kerk se sinkdak.

Reën op ’n sinkdak is die mooiste musiek wat mens in hierdie deel van die wêreld kan hoor. Die reën laat ’n kerkdak sing. Al die sinkdakhuise op Campbell sing saam. Die skool se dak sing saam. Die boerekorporasie se dak sing saam. En elke plaashuis in die omgewing se sinkdak sing saam.

In die kerk trek die orrelis sommer met Händel se watermusiek los. Die kerkklok begin sommer op sy eie lui. Die gemeente hef uitbundige “hallelujas” aan en die kerkkoor laat waai met die Halleluja-koor van dieselfde Händel.

Die dak dreun. Die orrel dreun. En toe begin die water in die spruit wat by die kerk verbyloop óók dreun.

Groot Gert Aggenbach kyk deur die konsistorie se venter na die tuimelende detritus in die onstuimige spruit. Eers klein diertjies en ontwortelde boomstamme. Toe groter klonte dryfgoed. Toe skoolbanke en bibloteekrakke. Toe die spartelende karkas van die ou donkie wat die dorp se nagwa getrek het. Met nagwa en al.

Groot Gert raak teen die tyd bekommerd en toe ’n troppie mofhammels verby sleur en mens kon hoor hoe hulle horings teen mekaar stamp in die onbeteuelde onderwaterse gefrommel, raak Gert net plein beangs.

Hy tree vir Klein Gert net daar en dan aan. “Kyk Gert,” laat hy weet, “jy klim nou dadelik weer op die preekstoel, En dan sê jy vir die Here ons is baie dankbaar vir die reën. Ons is baie dankbaar dat dit al die veld weer vrolik gaan maak. Dat al die voëltjies weer kan sing, elke sprinkaan spring en elke koggelmander kan kom om fees te vier. Laat Hom weet ons is almal aan sy kant. Sy wil moet geskied. Maar laat Hom ’n ander ding ook weet. Groot Gert Aggenbach boer met mofskape. Hy boer nie met bleddie ganse nie!”

Groot Gert het nou wel geweet aan wie se kant hy was toe die Here se gemengde seëninge hom so bietjie onkant gevang het met daardie groot reën. Maar dit kan nie sondermeer van al die mense van Campbell gesê word nie.

Net ’n week na die oorstromings hou die dorpsraad van Griekwastad ’n gemaskerde bal ter stywing van die einste Campbell-kerk se toringfonds. Stormskade.

Een van die Houman-jongens van Dons, ’n plaas in die Campbell-distrik, huur ’n duiwelskostuum op Kimberley, tooi homself in hierdie gewaad (horings, pylstert, grynsende mombakkies, puntbaard, drietandvurk … die hele tutti). Net voor hy by sy voertuig kan uitkom om pad te vat na Griekwastad se bal toe, sak daar so ’n na-tros buitjie van die vorige week se reën uit en hy moet skuiling soek sodat sy kostuum nie natreën nie. Soos die duiwel dit wou hê, vind hy skuiling op die bedekte portaal van die sinkdakkerk wat ons teen die tyd almal ken, en wag vir die vlagie om oor te waai.

Binne in die kerk was die koster besig om dinge reg te kry vir die nagmaal wat die volgende dag sou plaasvind. Hy was amper klaar met sy besigheid. Al die agterdeure van die kerk was geslot en gegrendel. Die soetwyn geskink in die glasies. Die beker gevul met soetes vir die wat die kelk bo die glasie verkies. Die “God is Liefde”-fluweeltjie mooi voor die preekstoel gehang en die bybel in sy mik op die kateder. Hy was reg om huis toe te gaan.

Alles was agter gesluit, so hy moes by die kerk se voordeur uit, maar toe hy deur die ruitjie langs die deur uitkyk op die portaal, wat sal hy sien? ’n Duiwel in volle gewaad op die stoep. Met ’n gryns op sy bakkies en ’n drietandvurk in sy hande! Wat nou gemaak? Huis toe moes hy. Sy vrou Hes skel dat sy ore tuit as hy laat van die kerk af kom. Sy verdink hom al lankal van ’n “dingetjie” wat hy het met daardie “toonbankteef” wat rokmaterial by ou Rosen se winkel verkoop. Of dat hy die tyd byster raak as hy te veel slukke vat uit ’n los bottel nagmaal-soetes.

’n Diep verknorsing. Die duiwel op die kerkstoep en die “deep blue sea” by die huis. So buig of bars, duiwel of te not. By die kerkdeur moet hy uit.

Hy skep moed as hy dink aan hoe Voltaire hom op sy sterfbed verset het teen ’n priester se aanbeveling dat hy sy laaste asem moes gebruik om die duiwel af te sweer. “Nou is nie die tyd om nuwe vyande te maak nie.”

Die koster neem sy besluit. Hy gaan by die voordeur uit. Kyk die duiwel in sy oë en seê vir hom: “Meneer, ek wil net vir jou sê. Ek werk nou wel in die kerk en ek weet jy en die Here sit nie om dieselfde vuur nie. Maar alles inaggenome was ek nog altyd aan jou kant.”

Hell has no fury like a woman scorned and Pascals Wager is tog maar ná alles net ’n “wager”.

Al is jy ook maar net ’n merinoboer of ’n koster op Campbell.

The post Die merinoboer en die koster van Campbell appeared first on LitNet.

Gila Leah

$
0
0

Foto: Canva.com

Sy het voor in die klas gesit. Gila. Matriek. Ek onthou die oë, donker en glasig. My eerste pos na vier jaar op Stellenbosch. ’n See van gesigte staar na my. Gila is ’n donkerkop weergawe van Hollywood se mooiste! Gelukkig dra sy ’n baadjie en swart Antjie Somerskouse.

Ek voel my wange verkleur en kry my lippe van mekaar: “Môre, klas,” sê ek met ’n stem wat nog moet breek.

“Môre, meneer,” koer hulle en kyk vir my asof ek hulle inkleurboeke by die huis vergeet het.

Wat ’n jaar was dit nie? Ek leef my roeping uit. Op Landsdienskampe in die Sederberge luister ek na Gila se kitaar onder die sterre. Oor die roeping in haar lewe twyfel sy nie: “Met my musiek sal ek op straathoeke sit en sing van liefde en geregtigheid en verdraagsaamheid.”

Na matriek het Gila soggens met ’n blom in die kop op Groentemarkplein gesit en Johannes Kerkorrel se liedjies gesing / en in die skemer as die son sak en die beeste huis toe loop / klink die roepstem van die vroue oor die heuwels van die land / halala, ewig is ons Afrika. Agtermiddae vaar sy die buurte in om honger kinders kos te gee. Saans speel sy in een van Kloofstraat se kroeë.

Dis waar ek haar een Saterdagaand weer raakloop. Die volgende dag sal my vir ewig bybly. Die koerante is vol daarvan. Gila Leah is dood. Filantroop. Dogter. Blommekind. Dood, sonder dat ek weer met haar gepraat het. Gila, geklap deur wie sy voed, gestenig deur wie se dors sy les. Sy het die taxi gevat en toe per voet verder gestap Sopkombuis toe, soos ’n honderd keer vantevore.

Toe loer die boytjies vir haar uit die skemerbosse. “Die wit goose, die setlaar wat warm slaap as ons om die konka staan.”

Ek is by toe hulle Gila se as gaan strooi. Vroegoggend ry ons Vlaeberg uit. Gila se ma het die kissie in haar hande, ’n ligte geelhoutkissie, ons laaste tasbare verbintenis met Gila se menswees. Ons klim uit. ’n Paar seevoëls kwê-kwê protesterend teen die Suidoos.

Die kepe op Gila se ma se gesig en die getuite lippe soos iemand wat soengroet, sigbare getuies van ’n moederhart se smart. Ons loop die paadjie af tot waar die bossies digter staan. Sy lig die dekseltjie en hou die kissie voor haar soos iemand besig met ’n prehistoriese offergawe aan ’n mitiese god. Die windvlae het die as tussen die bossies ingewaai. Stof tot stof. Weg. Halala Afrika.

The post Gila Leah appeared first on LitNet.

Dit wat mens nie kan kies nie

$
0
0

Foto: Canva.com

Daar sit sy vrou. Of dan nou weduwee. Sy sit alleen in die ry. Hulle het mos nie kinders gehad nie. Haar kop hang, haar skouers hang. Sy lyk eensaam.

My oë gly oor die mense in die kerkgebou. Ek ken min van hulle. Die bekendes kon dit nie maak nie – te vêr. Hier is ’n paar wat deel was van als... party oë loer terug in my rigting deur pare donkerbrille, so ek kan nie sien of hulle ná my, verbý my of déúr my kyk nie.

Ek glimlag halfhartig en probeer myself kleiner maak. Sluk swaar verby die ystergreep wat my keel toedruk en probeer so asemhaal dat daar wel lug in my longe kan insypel, want díép asemhaal kan ek nie. Ek vertrou glad nie die potensiële ontploffing van emosie wat daarmee gepaard kan gaan nie. Glad nie.

Die mense fluister sag. Daar is min woorde. Dis vir hulle ook ’n skok. Dit was te vinnig. Daar was nog so baie wat kon gebeur, voordat dit die einde moes wees. Ek het nog altyd hoop gehad.

My gedagtes is soos ’n tennisbal wat in ’n eindstryd heen en weer geslaan word, hier, daar, uit, hier daar, uit, want as die gedagte te lank stil lê, raak dit oorweldigend. Te veel emosie. Ek kan dit nie nou hanteer nie.

My oë vang die ruiker voor in die kerk. Dis vrolike blomme. Soos hy was. Hy het meer as eenmaal gesê dat wanneer hy eendag doodgaan, maak nie saak wat die oorsaak is nie, hy tog net nie wit blomme wil hê nie. Ek kry nie die gedagte gevang voordat my hart dit voel nie, en die emosie ruk my toe ek die eerste blom onthou wat hy vir my gepluk het. Ek onthou al die detail van daardie oomblik asof iemand ’n video geneem het en ek dit oor en oor kon kyk ...

Skielik spring die beeld van die beskeie houthuisie op die plaas waarheen ons oor naweke weggeglip het, ook in my geestesoog op. My hart.

Ek konsentreer daarop om stadig asem te haal. Baie stadig. Moenie dink nie. Moenie. Ek sit vorentoe en klem my hande, weerskante van my bene, om die sitplek van die stoel.

Die wal het egter gebreek en die herinneringe stroom al hoe sterker. Al die spesiale tye wat ons saam gehad het. Al die planne wat ons saam gemaak het. Party het gewerk, party nie. Dit was uitdagend. Maar dit was só die moeite werd. Elke sekonde saam was perfek en elke sekonde alleen het my laat uitsien na die volgende keer. Die nattigheid oor my wange raak meer en my oë kan nie meer sien nie. Daar ontsnap ’n snik uit my mond.

“Goeiemôre geliefdes,” onderbreek ’n onbekende, diep stem my gedagtevloed, en ek is dankbaar dat ek nie meer met my eie gedagtes besig hoef te wees nie.

Die man in die pak klere lê plegtig klem op elke lettergreep.

“Dis Bernard se roudiens, want hy is baie skielik van ons weggeneem. Maar dis ook ’n lofdiens, want hy het selfs op hierdie ouderdom ’n vol lewe gehad wat ons vandag kan vier. Die familie is dankbaar vir elkeen van julle wat vandag hier is, wat een of ander verbintenis met Bernard gehad het en ...”

Ek hoor nie verder nie.

Ons het ’n verbintenis gehad, ja.

Ek was lief vir hom, want mens kan nie die liefde kies nie. 

Hy was op ’n stadium lief vir my, maar nie lief genoeg nie, want mens kan nie die liefde kies nie.

Of, so sê hulle ...

As ons nie by vyf ophou tel het nie, sou dit vandag ons sewe-en-twintigste huweliksherdenking wees.

The post Dit wat mens nie kan kies nie appeared first on LitNet.

O die pyn-gedagte

$
0
0

Foto: Canva.com

O die pyn-gedagte

[Jenna sit in die psigiater se spreekkamer. Sy is in ’n psigiatriese inrigting vir observasie nadat sy daarvan beskuldig is dat sy haar eie kind doodgemaak het. Haar emosies wissel tussen kwaad en aggressief, en hartseer en huilerig.]

[Kwaad en aanvallend] Jy kan dit verstaan!? Dit verstaan!? Presies hoe, Dokter, kan jy dit verstaan? Jy sit daar met jou PhD en jou grade mooi geraam teen die muur en jy moet besluit of ek mal is of nie. [Skud haar kop] Ken jy Totius se gedig, “O die pyn-gedagte”?

[Pouse]

Kranksinnig, mal, koekoes? Wat beteken dit nou eintlik?

[Asof sy onthou wat die dokter aanvanklik gevra het. Steeds gefrustreerd] Nee, Dokter, ek het jou al oor en oor gesê, daar is geen stemme wat met my praat nie. Ek sien nie mannetjies of kaboutertjies of goed nie en niemand het ’n chip in my geplant wat my gedagtes beheer nie.

[Stiller en introspektief] Maar saans, as ek alleen op daardie lendelam draadbed van julle lê, toegesluit soos ’n misdadiger, dan hoor ek haar laggie en ek sien haar blonde krulhaartjies wat waai as sy op die swaai sit en dan …

[Moederlik, asof sy ’n gelukkiger gedagte onthou] Sy was so ’n pragtige dogtertjie. Die mooiste baba. Ek kan nog die dag onthou toe ek en Johan haar uit die hospitaal huis toe gebring het.

[Meer ernstig] Haar boetie het eintlik eerste begin siek word, een of ander storie met die seuns wat vinniger die simptome wys. Aan die begin het ons gedink hy is sommer net lomp, val maklik, tot hy daardie oggend nie kon opstaan nie.

Dit is ironies hoe ’n mens se kop werk. Jy vermoed iets is fout, maar daar is mos ’n dokter, medisyne. Jy dink nooit eens daaraan dat daar ’n oomblik gaan kom wat jou lewe onherroepbaar gaan verander nie. ’n Moment waar jy besef dat al jou hoop en drome nooit weer dieselfde sal wees nie. Daardie dag as die dokter met sy ontwykende blik by die deur inkom en vir jou sê dat … [Vee ’n traan weg voor sy kan huil]

Dit was twee jaar later toe hy in die hospitaal dood is van die infeksie. Twee jaar van hel. Twee jaar van slapelose nagte, van wakker lê en wonder of die krag dalk gaan afgaan en dan gaan staan die ventilator, en of sy Trachi dalk gaan diskonnekteer en hy in sy bedjie versmoor. Ek het gedink die siekte gaan ons almal doodmaak.

O die pyn-gedagte. My kind is dood.

[Stilte]

Met Angelique was dit anders. Toe Stefan gediagnoseer is, het ons nie eens aan haar gedink nie. Sy was ons blommekind. Altyd met daardie aansteeklike laggie van haar. Die slim dokter het immers gesê die siekte is ’n 100 maal meer algemeen in seuns as in meisies.

[Pouse. Sy word weer kwaad.]

Jy sê jy verstaan. Het jy ooit kinders? Julle dokters wat so maklik lewe of dood aankondig, so klinies, steriel afgeskerm van die realiteit van die ellendes. Hoe weet jy wat in my kop aangaan?

[Kwaad/moedeloos/huilerig] Sy was my blommekind, my pragtige, blonde, krulkopkind. Hoekom sal die Here dit aan my doen? Hoekom?

[Pouse]

Daardie aand toe sy die glas melk sommer soos ’n klip uit haar hand laat val … Daardie aand het ek geweet. Daardie aand … Daardie gevoel van hopelose verlatenheid. Jy voel jy kan in trane uitbars, maar daar is niemand wat jou sal hoor nie. Geen God wat luister nie. Jy is verlate. Net jy, in ’n woestyn van pyn en ellende en dood.

Jy vra my hoekom ek dit gedoen het? Elke mens is bestem om net eenkeer te sterf. So sê die Bybel. Die dag toe ek langs Stefan se oop graffie staan met die klein wit kissie in, het ek die eerste keer gesterf. Ek het baie oorweeg om selfmoord te pleeg, maar dan was Angelique daar. Sy was my guardian angel.

En toe begin sy siek word.

[Introspektief] Dis verskriklik om vasgevang te word tussen my smagting na die dood, die pynlose stilte en haar siekte. Hoe kies jy tussen dood en dood? Ek kon nie dink nie, ek was vasgemessel tussen twee mure wat gedreig het om my stadig te verbrysel. Ek het net bestaan. En in my kop, die woorde wat om en om dwaal: “O die pyn-gedagte, my kind is dood.”

Toe Johan sê hy gaan in stad toe, het ek dit skaars gehoor. Ek was op.

[Sag, asof sy die oomblik herleef] Sy het so stil gelê, so vreedsaam. Kies ek dood of dood? My dood – vinnig, stil – of hare – stadig, pynlik, uitgerek? Die donskussing het langs haar gelê, die donskussing soos ’n sagte wolk. ’n Wolk wat haar kan wegneem, vêr bo die pyn en smart van die wêreld. Sy het nie eens beweeg nie.

[Pouse]

Ek het langer as ’n uur daar langs haar gesit. Net gestaar na haar sagte krulle, die sagte, rustige uitdrukking op haar gesiggie, asof sy net geluidloos sag slaap.

[Nou meer dringend en selfverseker] Jy vra hoekom, Dokter? Jy vra of ek mal is? Ek sê jou, ’n ma is nie gemaak om haar kind te begrawe nie.

Ek het daardie dag besluit ek sal nie weer die geveg teen die dood op sy terme veg nie. Nee, daardie dag het ek die reëls gemaak.

The post O die pyn-gedagte appeared first on LitNet.

Divine reason

$
0
0

Foto: Canva.com

Divine reason

Ou Souf kon ’n dubbelrompseiljag koop met die geld wat sy in haar vyf-en-sestig jare uitgerook en -gewyn het. Daar was swaar jare in haar tyd op aarde, maar nooit so swaar dat die Dunhills en semi-soet agterweë moes bly nie.

Skaars drie jaar gelede het sy haar Pieterjan-man van veertig jaar afgesien aan die ondernemers. Hart en longe en lewer. Sy Lexington- en Bols-seiljag het ook ongekoop gebly. Haar hele familietjie is strawwe rokers en drinkers. Tweede-oudste dogter was al drie keer in die droogdok, maar drink maar weer. Erg.

Nou lê Souf hier, aan al wat pyp is gekoppel, met ’n monitor wat moegerig haar flouerwordende hartklop uitbliep. Die familie sit maar daar in die wagkamer rond, kort-kort staan een langs haar bed en sê haar naam. “Souf, dis ek, Gert. Nee, donner, man, ons wag vir jou, moet nou nie so sleg wees nie!” So kom die een na die ander broer en suster wat nog leef – twee is al saliger en vier is nog hier – een en almal hygend na bietjie lug vir hulle aangepakte longe.

Behalwe Breggie. Net jonger as Souf en ’n kerkmens. Rook en drink glad nie. Hare in ’n bolla agter die kop, rok tot teen die ken toegeknoop, bril op die neus. En die enigste van die sewe wat nie klink of sy deur ’n toegepakte skoorsteen asemhaal nie. Breggie bid en lees gereeld vir ou Souf, maar sonder reaksie. Want Souf is op pad uit. En Breggie, wat Ingels bid en lees en preek vandat sy ’n Metodis geword het, kyk dan boontoe en pleit: “Lord, we know you will heal ou Souf. Thank you. Amen en amen.” Die eerste week wat Souf daar in intensief gelê het, was sy nog wakker. Roggelend van die emfiseem het sy Breggie se hand vasgeklem. “Toemaar, Sofia, die Here is met jou, hy sal jou gesond maak. Ons spreek Sy divine healing oor jou uit. Daar is ’n rede vir alles wat gebeur. ’n Divine reason.”

Na Souf se verassingsdiens kom die klompie in Gert se huis bymekaar. Breggie sit eenkant, sy wat self die woorde vir Souf se begrafnisbrief gekies het. “Ons verstaan nie nou nie, maar eendag sal ons ten volle verstaan. Hy het jou kom haal omdat Hy ’n spesiale plan het.” Die ander lot rook om die beurt buite en drink wyn en brannas en bier.

“Nou ja, dan is ou Souf ook nou net ’n teeblik vol as. Net soos Pieterjan. En Koos en Kotie. Dis nou maar die lewe, nè?” laat Gert hoor. “Divine reason se moer. Shit happens.” En dan hoes hy soos ’n ou Datsun met ’n dooie sparkplug terwyl hy skuinsweg in Breggie se rigting loer. Breggie staan op en verdwyn gang-af en die badkamerdeur klap effe hard.

Buks, die stil een wat nog altyd weinig te sê gehad het, suig diep aan sy sigaret en hervul sy glas met dooswyn. Dan gaan sit hy en breek sy stilte: “The wine reason. Cheers.” En hoes.

The post Divine reason appeared first on LitNet.

Bleddie dokters

$
0
0

Foto: Canva.com

Bleddie dokters

Boet het daardie jaar die hardste gebid ooit, toe die prostaatkanker hom gevat het.

Hy was nog altyd, as dit by geloofsake kom, ’n agterbanker. Letterlik en figuurlik. Geloofsake was nie hoog op sy agenda nie.

Maar kanker laat gryp jou na strooihalms. Ná sy operasie om die kwaadaardige klier te laat uithol, moes hy ook chemo kry om die bloed skoon te maak. Maar hy wou dubbel seker maak. Hy het sy spaargeld gevat en vliegtuig geklim Lagos toe. As TB Joshua ook nog vir jou bid, kan jy mos net rustiger slaap.

Boet het mooi gesond geword en was baie dankbaar. Die hele kanker-ding het hom diep geraak en hy het ywerig begin kyk na die groot TV-evangeliste op die betaalkanale. Gou het hy – sy stoere Hervormde grootwordjare ten spyt – ook sy hande lugwaarts gehef en amen gesê elke keer as die blink Amerikaanse messias sy gehoor die voorwaardes van voorspoed met groot selfvertroue laat verstaan. En die hallelujas het weerklink in sy sitkamer as nóg ’n ou sy goudbeslane vuis lugwaarts swaai en sy nuutste ontdekkings uit die skrifte bekendmaak. Sy vrou het meestal net haar oë hemelwaarts gerol en aangegaan met die kos.

Vir ’n jaar of twee was Boet baie gelowig. Die familie wat op Sondae kom melktert eet het, was gou skugter vir die groot geestelikheid. Hy het nie meer soos ’n Hervormer geklink nie. Eerder soos ’n pastoor van ’n Pinksterkerk. Hulle het begin wegbly toe hy bedekte prekies en stekies oor hulle wêreldsheid en sonde begin uitdeel. Wat te erg is, is te erg. En Boet het die taal mooi bemeester. Hy kon skielik die mooiste geestelike dinge sê.

Maar toe die kanker twee jaar later weer opslaan in al sy kliere en die dokter kopskuddend vir hom die nuus meedeel, was hy stom. Die taal het hom verlaat. Al wat hy kon sê is: “Wat dan nou dokter? Jy’t dan laas gesê ek is skoon?”

Terwyl hy tuis al swakker geword het, was sy TV af. Sy vrou het nog 7de Laan en die nuus gekyk, maar hy het net in sy uitskopstoel gesit-lê en min gepraat. Die amens en hallelujas het stil geraak.

Die predikant het ingeloer en mooi woorde gesê en gebid, maar Boet was moeg. Die dagga-olie wat hy ten duurste bekom het, het ook nie die ding gedoen nie.

Net voor die morfien hom, maande later, in sy laaste koma laat sink het, het hy vir sy vrou gesê: “Die bleddie dokters van vandag beteken ook maar niks.”

The post Bleddie dokters appeared first on LitNet.


Die dag toe alles verander het

$
0
0

Foto: Canva.com

Die dag toe alles verander het

Langs Theodorus se graf sit Catherine, glad nie reg om afskeid te neem nie. Dié is omstandighede waaraan niemand gewoond is nie. Slegs ’n maksimum van 50 gaste is toelaatbaar. Afstand moet gehou word. Ja, om ’n geliefde aan die dood af te staan is erg, maar om ’n geliefde gedurende ’n pandemie af te staan en nie die kans gegun te word om vir oulaas in die hospitaal te groet nie, is glad nie makliker nie.

Die prediker bring die Woord en probeer tevergeefs om die begrafnisgangers te troos met die soete woorde van Psalm 23. Medelye word na die diens uitgespreek deur verskeie begrafnisgangers wat kom groet het. Catherine kan nie help om te wonder of die dag wat alles verander het ook hierdie gaste so diep aanraak nie.

Ja, die dag toe alles verander het. Die dag wat Theodorus, na ’n geveg van maande, die stryd teen kanker verloor het.

Catherine draai skerp na links by die gesogte begraafplaas se hek uit. In die hoofpad flits en huil die kaal bome verby, soos die begin van Augustus naderby.

In die Augustus van haar lewe kan Catherine nie anders as om te dink aan die dag van haar groot verlies nie – die dag toe alles verander het.

The post Die dag toe alles verander het appeared first on LitNet.

Varsgebreek suck

$
0
0

Foto: Canva.com

Varsgebreek suck

Ek loop op die strand met ’n koue, nat soutbries in my gesig en tel goetertjies op. Skulpies, stokkies en glasstukkies wat deur die see daar uitgespoeg is. En klippies. 

Nee, ek soek nie na mooi, heel skulpies nie. Dis te gewoon. Ek hou van die stukkies wat oorgebly het na die see sy breekwerk gedoen het. 

Maar ook nie varsgebreektes nie. Net dié wat nie meer skerp kante het nie. Dié wat gladgeskuur is deur sand en water, met rondgemaakte hoekies en op ’n manier deur die elemente nuutgevorm is tot pragtige brokkies wat nie meer probeer om – trots – iets te wees wat hulle nie meer is nie. Selfde met stokkies en glasstukkies en klippies. Ek gaan staan stil, los alles waarmee ek besig is en gaan tel dit op waar my oog daarop val. By die huis het ek canned-fruit bottels vol daarvan. 

Ek hou van mense ook op hierdie manier. Héél kry jy nie eintlik nie. Almal is op ’n manier al gebreek. Maar varsgebreek is nie mooi nie. Varsgebreek het skerp kante. Hulle sny en krap en byt selfs. Varsgebreek is verbitterd en giftig. 

Elke nou en dan is ek ook varsgebreek. Dis hoekom ek dan eerder my snater toehou, want ander mense geniet nie my tirades en galbrakery nie. Hulle verstaan per slot van rekening nie my emosies nie. 

Iemand het eenmaal vir my gevra om vir haar ’n klippie in die see te gooi terwyl ek op vakansie is. Ek het. Maar ek het ’n mooi, gladde en rondgeskuurde klippie gesoek, want dis wie sy vir my was. Iemand wat deur die lewe gemaal is tot iets heel anders as wie sy eers was. Iemand besonders.

Ek wou vandag ’n klippie vir myself in die see gooi. Maar ek het daarteen besluit, want al die klippies was dan so mooi rond en glad ... Varsgebreek is nie mooi nie, dit suck.

The post Varsgebreek suck appeared first on LitNet.

Ebet wil New York toe gaan

$
0
0

Foto van Jerusalem: Pixabay

Die wyse kind met die groot ronde gesig en die groot ronde oë bly in die voorste huis, reg langs ons straat, hier in Sheikh Jarrah. Die binnehof waar die waskamer en toilet is en die wasgoed opgehang word, word van die straat afgesluit deur ’n klipmuur. In die winter sit Ouma in die son teen die muur en dan speel Wyse Kind sommer in die klippies en stof langs die straat.

Die eerste keer wat ek hom elders teëgekom het, was hy nog klein, seker so drie jaar oud. Dit was vroeg die môre en hy was nog nie skoongemaak en ordentlik aangetrek soos gewoonlik nie. Ouma het met veraf oë en lang, los grys hare in haar kamerjas langs die muur gesit en het nie gesien of nie omgegee dat hy onder in die vallei ronddwaal nie. Ek ken toe al ’n paar maniere om mense in Arabies te groet en ek probeer ’n paar.

“Hallo.”

Hy kyk na my met sy groot ronde oë, maar sê niks nie.

“Môre van lig.”

Nog geen antwoord nie.

“Vrede vir julle.”

Nou besluit hy dié vrou is beslis mal en hardloop vinnig terug na Ouma. Ouma is kinds, maar nie mal nie. Hy weet wat hy aan haar het.

’n Week of wat later kom ek weer met die voetpad deur die vallei aangestap. Ek sien vir Ouma teen die muur met ’n baba in ’n kombers toegedraai in haar arms. A, dis hoekom Wyse Kind met die groot ronde oë so onversorg in die vallei rondgehardloop het – Ma was besig om geboorte te gee.

Wyse Kind kom my op die pad teë.

“Ebet wil New York toe gaan.”

“Regtig. Hoekom dan?”

Hy kyk net na my en draai terug na Ouma en Sussie toe.

Toe ek by Ouma verbykom, hou sy die baba omhoog en beduie vir my iets in brabbeltaal. My Arabies is nie goed nie, maar sy klink besonder onverstaanbaar. Wat ek wel verstaan, is die glimlag en haar gesig wat skyn asof ’n lig in haar aangeskakel is. Dis die eerste en laaste keer dat ek haar sien glimlag het.

’n Hele paar maande later sit Sussie ook langs die pad en speel in die stof saam met Wyse Kind. Haar gesiggie is ook rond soos syne en haar baba-oë is ook rond en bruin, maar sy kyk ’n mens nie so vas in die oë nie.

“Vrede vir julle.”

“Vrede vir jou,” antwoord Ouma langs die muur.

“Hallo.”

“Hallo,” antwoord Wyse Kind.

Ek stap hoogs tevrede aan. My kommunikasievaardighede vorder mooi en my bure groet my al terug.

Wyse Kind gaan nou al skool. Elke oggend staan hy skoongeskrop langs die straat met sy skoolsak op sy rug. Sy pa bestuur ’n Ford Transit en hy kom laai hom so teen nege-uur op. Die bussie het nie ’n taxiteken op nie, met ander woorde hy het nie ’n lisensie nie, maar die dialekwoord vir ‘n gemeenskaplike taxi is nie verniet Ford nie. Net Israeli’s of buitelanders het tekens nodig om te verduidelik dat ’n wit Ford Transit ’n taxi is.

Eendag staan Wyse Kind nog en wag toe ek weer verbykom.

“Ebet wil New York toe gaan.”

En daar val al my kommunikasievaardighede in die water. Ek wil sê: “Ek dag dan sy is lankal weg soontoe”, maar my Arabiese onderwyser dink nie ons het sulke frases nodig nie, dus kan ek dit nie uitkry nie. Buitendien kom die Ford teen ’n spoed om die draai en Wyse Kind staan nader om in te spring. Sy pa is ’n groot man en daar is nie baie mense wat met hom moeilikheid sal soek nie.

Ek wonder wie Ebet is. Teen dié tyd weet ek nou al hoe om dit te vra en ek oefen, ingeval ek hom weer onverwags teenkom en nie tyd het om na te dink nie: “Miin Ebet?”

In die somervakansie sien ek nie vir Wyse Kind nie. Miskien is hy weg om by familie te gaan kuier. Baie Palestynse families het mos ooms in Jordanië of Sirië of selfs in Amerika. Dalk in New York, waar Ebet teen dié tyd al moet wees. Ek het intussen besluit Ebet is dalk ’n vorm van Heba, oftewel Eva. In hierdie plek kom ’n mens nie ver weg van Bybelse verwysings nie.

Toe die skool weer begin en ek een oggend vroeg terugkom na ek my kinders by die skool gaan aflaai het, staan Wyse Kind weer en wag. Ek stop my kar in die middel van die straat, klim uit en stap nader.

“Hallo.”

“Hallo.” Sy stem is ’n bietjie onseker, maar sy oë kyk vas in myne.

“Wie is Ebet?”

Hy beduie in die lug en sê ’n woord wat ek nie verstaan nie.

Die Ford kom vinnig om die draai en Pa blaas op die toeter. Ek spring om my Peugeot’tjie uit die pad te trek en Wyse Kind maak dat hy by die Ford inklim.

Toe my Arabiese onderwyser ook van vakansie terug is, vra ek hom wat die woord beteken. ’n Swaeltjie wat wegtrek na die ver lande, beduie hy.

Ek raak baie besig met ander dinge en my taalvermoë bereik ’n plato. Die linguiste sou gesê het ek het gefossileer. Maar ek en Wyse Kind het nou ’n gevestigde verhouding: As ons mekaar teëkom, sê ons eers beleefd dag en dan vra ek: “Het Ebet al vertrek New York toe?”

“Nee, binnekort.”

En dan gaan elkeen sy gang.

Die probleem is, die Arabiese woord binnekort beteken “’n bietjie”, soos in ’n kort rukkie, maar as jy sê “bietjie-bietjie”, dan bedoel jy geleidelik of selfs stadig. Hoe langer, hoe meer wonder ek oor Ebet se planne. Gaan sy binnekort of is sy geleidelik besig om gereed te maak sodat sy kan gaan wanneer die volheid van die tyd aangebreek het? ’n Paar ander scenario’s is seker ook moontlik in die geval van ’n swaeltjie wat wes wil trek totdat sy New York bereik.

Toe nog ’n nuwe skooljaar begin, kan ek my oë nie glo nie. Sussie staan ook al saam met Wyse Kind gereed: skoongeskrop, haartjies netjies vasgemaak en skoolsak op die rug. En sy weet ook, as Pa se Ford om die draai kom, moet ’n mens gereed staan, maar nie nader aan die straat kom nie. Die teerstreep is net een motorwydte breed en die Ford is vet – hy staan die hele straat vol. Ek en die Peugeot staan geduldig en wag terwyl Ma vir Sussie intel. Dan ry ons almal verder. Mettertyd hoef Ma nie meer te help nie – Wyse Kind neem nou vir Sussie aan die hand en help haar om in te klouter.

Ek wil graag weet hoe Ebet se planne vorder, maar ek wil nie vir Wyse Kind te midde van sy gesinsverpligtinge pla nie. Vir Ouma sien ek nog gereeld teen die muur in die son sit, maar haar oë raak baie dof en dikwels groet sy nie eers terug nie.

Tussen die protesaksies (wanneer die winkels en skole gesluit bly) en die gereelde inperkings (wanneer die onderwysers wat in die omringende dorpies bly nie tot by die skole in Jerusalem kan reis nie) is daar wel dae wanneer Wyse Kind en Sussie in die vallei rondspeel onder die allesbehalwe waaksame oë van Ouma. Ek stel vas dat Ebet nog steeds nie vertrek het nie.

“Wil Ebet nog New York toe gaan?” vra ek eendag.

“Ja, moontlik.”

Nou weet ek nog steeds nie: Wil sy moontlik gaan, soos in miskien of miskien nie, of wil sy gaan wanneer dit moontlik gaan wees. (Natuurlik moet ek die uiting binne sy konteks probeer interpreteer, soos ek mooi geleer is: ’n Sesjarige Palestynse seun praat met ’n vreemde vrou oor die planne van ’n swaeltjie wat moontlik op vertrek staan New York toe – dit help nie rêrig nie.)

Toe ek weer een oggend by hulle huis verby ry, pryk daar ’n Israeli-vlag op die waskamer se dak en staan daar twee soldate met submasjiengewere op hulle huis se dak. Van Wyse Kind, Sussie, Ma of Ouma is daar geen teken nie en die wit Ford maak ook nie sy verskyning nie. Later hoor ek toe dat ’n groepie godsdienstige setlaars in die middel van die nag by die huis aangekom het en Ouma probeer dwing het om ’n verkoopkontrak vir die huis te teken. Toe sy dit nie wou of kon doen nie, het hulle haar verskree en die huis probeer binnebeur. Sy het met ’n hartaanval inmekaargesak en Pa, wat nie met hom laat moeilikheid soek nie, het op die setlaars afgestorm en hulle by die deur uitgeboender. Net toe kom die polisie daar aan en arresteer hom vir aanranding.

Terwyl Pa weg is selle toe, Ma saam met Ouma in die ambulans hospitaal toe is en Wyse Kind en Sussie by die naasbure gaan slaap het, het die setlaars op die “onbewoonde” waskamer se dak geklim en ’n Israeli-vlag daar geplant. Met dagbreek het die soldate toe kom stelling inneem om die situasie te beveilig.

’n Week of wat later is Ouma terug. Sy sit teen die muur in die son en Wyse Kind sit in die stof langs die straat en speel. Ma kyk by die deur uit om ’n oog oor hulle te hou. Met die verbystap groet ek haar en sy groet beleefd terug. Ek kan niks verder uitkry nie. Wat sê jy vir ’n vrou wat haar ma, haar seun en haar dogter moet oppas terwyl haar man in die tronk sit en twee agttienjarige seuns met submasjiengewere ’n vlag op haar badkamer bewaak?

Toe ek by Wyse Kind kom, sien ek daar is stofstrepe oor sy gesig. Hy antwoord nie my groet nie en kyk ook nie op nie; sy hande bly net vroetel in die klippe langs die straat.

“Wanneer gaan Ebet New York toe?” vra ek om die klip rondom my eie hart teprobeer wegpraat. Hy kyk met dowwe oë na my en vra dan: “Wie’s Ebet?”

Ek loop die res van die dag in die vallei tussen die bourommel en die plastieksakke rond en soek vir Ebet. Ek wil vir haar sê daar is regtig geen rede vir haar om langer in hierdie vullishoop wat hulle die Heilige Land noem, aan te bly nie. Rondom die paar olyfbome wat nog langs die oop rioolsloot staan, is die grond onlangs omgeploeg en daar is ’n paar voëls wat stry oor die enkele wurms in die bar grond. Maar ek sien nie vir Ebet nie.

Miskien is sy weg New York toe.

  • Jeanne van Wyk, Sheikh Jarrah, Oos-Jerusalem, 1999

The post Ebet wil New York toe gaan appeared first on LitNet.

Parkrun

$
0
0

Foto: Canva.com

Parkrun 
(Eenmaal lank gelede tydens ’n vakansie)

Parkrun. Nuwe gonswoord, nie vertaalbaar nie. Afrikaanses gôi hom ook, soos in “paakran”. 

Ek verkyk my hier op ’n bankie langs die see aan die massa menswesens wat skielik met die strandpad hier by my verbyhol.

Hol is dalk heeltemal té veralgemenend. Party draf, party skuifel, sommiges seil, ander vaar. Daar is stoomrollendes, daar is hinkepinkendes. 

’n Klompie jong meisies in spandrag trippel al giggelende verby. Lyk of hulle aan ’n klub van ’n soort behoort. Lank na hulle volg nóg ’n klub van ’n ander aard. Ek vermoed dis ’n damesteeklub. Hulle stoom en blaas al swetende verby op ’n aansienlik stadiger pas en daar is geen trippel in hulle tred nie. 

Daar is atletiese sportmanne met stroombelynde sonbrille en geskeerde bene. Heelwat later gevolg deur middeljarige mans wat waarskynlik harder werk aan hulle beursies as aan hulle lywe. Daar is die kappels (paartjies vir die taalkorrektes) wat saamdraf. Een vrou stoot al hollende ’n sportiewe driewiel-prêm met ’n grootoog kleintjie daarin, met haar man wat langs haar draf. Hoop hulle maak beurte. Hier en daar kom een met ’n hond aan ’n leiband verby, want honne moet ook oefen. 

Waar ek sit sien ek hulle aankom en sien ek hulle verbygaan. Met my kop wat soos by ’n tenniswedstryd heen en weer swaai, sien ek voorkante en agterkante. Ek sien rooi gesigte van voor en drillende boude van agter. Ek sien plat magies en boepense aankom en soos hulle na die ander kant toe verdwyn is daar elke vorm van ’n boud om te besigtig. Vetboude, maerboude, langboude, kortboude. Drilboude en stywe boude. Mooi boudjies en minder mooi boudjies. Perdeboude met saalsakke bo-op. Intrekboude en uitstootboude. 

Hardloopbroekies, spanbroeke, skipênts, sweetpakbroeke. Mr Price-sjôts vir die amateurs, Nike-sjôts vir die professionals. En Armani-pênts aan die rykes. 

Die drafskoene is ’n ander affêre. Al wat ’n kleur is, oues, nuwes, no-names en name-brands. Een oubaas kom verby met iets wat soos pantoffels lyk; daar is dié wat lyk soos kouse met ’n sool aan. Ek kyk na my geplakkiede voete en voel soos ’n troep op AWOL wat die twee-punt-vier gemis het. Salig. 

Ek sal weer by die huis inval by die gym en my eie gehollery voortsit. Maar nie nou nie. Dis my vakansie. Dis nou eers wyn-, braai- en rustyd. Dinktyd. Stiltyd.

Behalwe vanoggend. Vanoggend kyk ek parkrun, hier langs die see.

The post Parkrun appeared first on LitNet.

Brood van die lewe

$
0
0

Foto: Canva.com

Brood van die lewe 

Van verkragte tot oorwinnaar.
Van verminkte tot oorlewende.

Daardie nag droom sy van die kind se kaal geraamtelyfie en die droë snot wat korserige slakstrepe oor sy ingesonke wangetjies trek. Sy wonder vies waarom niemand die tros vlieë van sy gesig af weggewaai het voordat hy afgeneem en op nuuskanale laat pryk is nie. Hy is al meer as halfpad dood van die honger. Lankal verby hoop. ’n Vuis poetoepap gaan hom nie red nie. Hy is bloot die gesig van net nóg ’n Afrikaland wat bakhand staan om hulp. Wat is nuut? Maar, goeie genade, kon die hand ágter die kamera nie maar net die vlieë verwilder het nie!?

Myra gooi die duvet geïrriteerd van haar af en kom orent. Herman mompel iets onhoorbaars in sy slaap en draai om op sy ander sy. Sy hou haar asem op en wag doodstil tot die eentonige dreuning van sy snorkery hervat voordat sy haar ligte kamerjas oor haar skouers gooi en met haar tone soek na die pantoffels wat netjies voor die bed staan. Dan maak sy haar gordel om haar lyf vas en laat sak haar pistool in die holster.

In die kombuis tap sy ’n glas water en sluk dit dorstig af. Sy hou die glas ’n oomblik teen haar warm wang en spoel dit dan onder die kraan uit. Haar voete vind hulle eie pad studeerkamer toe. Dis nie nodig om die lig aan te skakel nie. Haar skootrekenaar se skerm gee voldoende lig. Haar vingers is vertroud met die sleutelbord en binne sekondes verkry sy toegang tot ’n webtuiste waarop grusame foto’s van die slagoffers van plaasmoorde geplaas is.

Waarom word hiérdie skokfoto’s nie op die aandnuus gewys nie? Waarom word ’n honger kind aan die wêreld opgedis, maar die bykans 200 kap- en steekwonde aan ’n vermoorde boer se liggaam is nie nuuswaardig nie? Die hemel weet, haar hart krimp van jammerte vir die arme kind. Niémand verdien om van honger om te kom nie, verál nie ’n kind nie. Maar wat sy nie kan verstaan nie, is dat ’n uitgeteerde klein asempie van iewers op die vasteland die hoofnuus haal, maar die weerlose oupatjie op ons eie voorstoep wat soos ’n dier aan die hand van ’n terroris gevrek het, word gereduseer tot ’n onsigbare entiteit? Waarom word die een se droewige lot sensasioneel genoeg geag om simpatie en hopelik ’n donasie mee af te bedel wanneer die reënboognasie voor die TV aansit met hulle aandetes op hul skote, maar die ander se lot word as ’n nagedagte iewers onder aan ’n dagblad se bladsy drie genoem?

Sy vroetel  in die lessenaarlaai en haal die halfleë pakkie sigarette uit wat sy daar hou vir tye soos dié. Die aansteker se vlammetjie dans strydlustig toe sy die sigaret aansteek en die nikotien diep in haar longe trek. Sy blaas die rook met stadige, doelbewus gekontroleerde bewegings uit en wag vir haar hartklop om te bedaar. Wat help dit sy ontstel haar? Hulle het genoeg van haar gesteel. As sy nie oppas nie, kry sy wragtig nog op die koop toe ’n beroerte, en wat dán? Dan het hulle ná alles tog die lekkerste gelag. Honde!

Sy druk die sigaret dood en kom regop. Die gang wat na die onderste badkamer lei voel vanaand ekstra lank en sy maak haar rug hol vir die skadu’s. Agter die geslote deur haal sy haar gordel af en sit haar vuurwapen binne bereik neer. Dán eers trek sy haar kamerjas uit. Haar nagrok is dienlik en ordentlik en sonder enige fênsiegeid. Wit. Sy snorklag wrang en bondel die sagte flennie in haar vuiste voordat sy die materiaal oor haar kop trek en eenkant toe smyt.

Sy is maer. Té maer. Daar is donker verdwaalpaaie tussen haar knobbelrige ribbes. Die kleur van haar tepels is vaal. Haar naeltjie is bloot ’n verposing halfpad sόόntoe. Sy skeer of waks nie daar nie. Dis niemandsland wat haar betref. Iets wat verdra moet word, want dis onbetwisbaar daar en funksioneel. Onbeduidend, niksseggend en klinies. Dít waaraan daardie hond hom vergryp het. Dít wat hy teen haar wil en ten spyte van haar smekinge wreed geplunder het. En die hele tyd wat dit gebeur het, het sy in haar sterwende pa se oë gekyk. Hy het haar vernedering aanskou waar hy hulpeloos in sy bloed gelê en roggel het nadat hulle sy keel oopgekerf het met die stomp broodmes wat sy in die tuin gebruik het om uintjies mee uit te steek.

Sy draai die stortkraan met rukkerige bewegings oop en wag totdat die stoom spookagtig warrel voordat sy onder die té warm straal water gaan staan. Sy smeer die waslap glad met seep en val haar lyf met vinnige, ru hale aan. Was, afspoel, was ... totdat haar vel rooi en seer is. Dan klim sy uit en droog haar af. Trek weer haar slaapklere aan en omgord haar lendene met die yster wat haar konstante metgesel geword het. Haar beskermengel wat aan ’n leerholster teen haar heup rus.

Iewers kraai ’n haan. Sy klik met haar tong. Simpel ding. Dis nog lank voor die dag breek. Sy kop gaan een van die dae moet rol, want Krismis is om die draai. Dit kan nie anders nie. Ná die aanval het Herman nie meer ’n maag vir die dinge van die plaas nie. Sy kop staan dorp toe. Hy reken hy sal eerder in selfopgelegde huisarres verkeer in ’n dorpshuis wat met diefwering toegewurg is en waar ’n gewapende-reaksie-eenheid net om die draai is. Gmf, asof dit nie presiés hulle huidige omstandighede beskryf nie! Hulle leef sedert daai verfoeilike varke hulle hier kom indring het al in ’n maksimumsekuriteitstronk met staalstawe so dik soos haar polse voor die vensters en deure. Hulle sit hier binne en vrees verfoeilike woestaards wat vyfstuks toeslaan om te slag en te steel, te moor en te roof. Sy spoeg voordat sy haarself kan keer. Die bitter smaak in haar mond is net te erg om in te hou.

In die kombuis haal sy haar knieskottel uit. Broodmeel, gis, sout, suiker, louwarm water. Haar hande raak besig asof dit vlug vir haar gedagtes. Sy knie die brooddeeg eers metodies met slap vuiste, wat nes haar gedagtes nie dadelik deel van haar lyf is nie. Maar dan fladder die onthou weer soos ’n swerm versteurde duiwe in haar kop en haar vuiste span stywer. Sy slaan die deeg herhaaldelik met wit kneukels. Verwoed. Driftig. Totdat sy uitgeput op die stoel neersak en na asem hyg. Sy haal ’n doek uit die laai en bedek die bol deeg daarmee. Dan dra sy die skottel tot in die spaarkamer naaste aan die kombuis. Sy plaas die skottel in die middel van die spierwit driekwartbed en maak dit toe met ’n lappieskombers wat sy self gehekel het.

Haar hande verstil meteens en sy staan ’n tree agteruit. Dis op hiérdie bed waar die wreedaard haar herhaaldelik verkrag het. Dis op hiérdie bed waar sy die voosgeslaande deeg neerlê. En dis op hiérdie bed wat die deeg uitrys en boepens maak. Nes sý het. Haar en Herman se huwelik is kinderloos, maar toe die verkragter sy distelsaad in haar stort, raak sy swanger. Haar huisdokter het ná die verkragting antiretrovirale middels voorgeskryf, maar nie hy óf sy het eens aan die oggend-daarna-pil gedink nie. Sy het haar swangerskap beëindig op ’n mislike, reënerige Donderdagoggend toe die wasempatroon teen die dokter se spreekkamer na kleurlose bloedspatsels gelyk het. Haar hart het saam met die bliep op die monitor ophou klop.

Woede het wurgend in haar keel kom sit. Die drukpot binne haar het stoom opgebou wat haar wou laat gil en skree en skop en slaan. Maar haar tong was stom. Lam. Soos toe sy onder die geweldenaar gelê het en sy sweet suur in haar mond gedrup het. Die mes teen haar keel was net té skerp en té naby aan haar weerlose aorta. Net één skrou, één beweging, het sy duiwelsoë getart, en hy sou haar slag soos ’n brandsiek skaap. Sy het gekies om willoos slagoffer te wees. Om hom die opwinding van ’n struweling te ontneem. Sy het daar gelê soos ’n dooie toe hy hom dierlik aan haar lyf vergryp het. Hý! Indringer! Vreemdeling! Sy wou bid, maar daar was nie woorde in haar kop nie.

Haar lyf het verraad teenoor haar gepleeg met die Onnoembare – die etterige sweer in haar siel wat steeds bly bloei en stink en vergiftig. Haar spiere het krampagtig saamgeruk. Sommer so. Sonder dat sy dit wou hê. Vyftien jaar lank het sy hoopvol in Herman se arms in hulle huweliksbed gelê, maar het sy onbeholpe toenadering nooit tot ritmiese verlossing vir haar gelei nie. Maar hier, op hierdie verkragtingsbed, hier het haar lyf teen haar gedraai en ’n wapen geword wat haar tot vandag toe gyselaar hou en tart.

Die skok het haar tot aksie gedryf. Sy het die lem teen haar keel met haar kaal hande vasgevat en vorentoe en op gestamp teen sy lugpyp. Die onverwagsheid van haar aanval terwyl hy hom nog aan haar vergryp, het hom onkant gevang. Hy het begin hoes van die bloed wat in sy keel afstroom. Sy hande was vir ’n oomblik dom en kragteloos. Sy het die mes by hom gevat en dit tot by die hef in sy linkeroog gedruk. Hy is oombliklik dood. Sy het onder hom uitgekruip en met bene wat nie haar eie is nie oor haar pa se lyk getree om na Herman te gaan soek. Hulle het haar man met ’n panga oor sy hele lyf gekap en hom vir die dood agtergelaat. Gelukkig geen are of senings af nie, maar hy het hom byna leeg gebloei. Is vandag nog leeg, nes sy.

Wanneer sy later die opgepofte deeg afknie en in die broodpannetjies neerlê, begin die klipharde yskol onder haar ribbes effens ontdooi. Net genoeg om ’n vae opgewondenheid in haar te laat posvat. Sy trek ’n stoel nader en hou die brood gefassineerd dop terwyl dit swel en bruin word in die warm oond. Die lieflike geur van gebakte brood hang swaar in die kombuis toe sy die perfek gevormde brode op die tafeldoek uitkeer. Sy kan dit oor en oor doen, elke dag van haar lewe, en steeds sal sy haar verwonder aan hoe iets wat onder ’n mens se vuiste deurloop en as gevolg van geweld opswel asof dit vrot, kan bróód word. Lewegewende brood. Iets heeltemal anders en goeds. Iets nuttigs en heels. Van verkragte tot oorwinnaar. Van verminkte tot oorlewende.

Herman ry soggens saam met haar na die plaasskooltjie oorkant die bult. Hy dra die boks met toebroodjies na die stowwerige, maer kindertjies wat om hom swerm. Dis immers wat ’n boer doen – sorg vir honger magies. Die kinders raak aan die growwe littekens wat die panga op sy arms en bene gelaat het en skud hulle koppe. Hau! Dis nie reg dat tsotsi’s hierdie goeie man uit wie se hand hulle kos ontvang so seer gemaak het nie! En dis nie reg dat die polisie nóú nog nie die manne gevang het nie!

Wanneer Myra tussen die horde lyfies op die grond gaan sit en die toebroodjies uitdeel, baklei hulle met konfytbesmeerde gesiggies oor wie op haar skoot mag sit. Die dogtertjies kam saggies met taai vingertjies deur haar hare en neurie vertroostend asof hulle instinktief weet van die dinge wat haar van binne af lewendig opvreet.

Dis dán wanneer haar hand na Herman s’n soek. Hulle vingers gryp mekaar knellend vas al vermy hulle mekaar se oë. Hulle eet nie van die brood nie. Nog nie. Maar op ’n dag sal hulle wel weer honger word en eet uit die Goeie Gewer se hand. Vir eers is die kinders se vrolike gekwetter genoeg. Dit is die rysmiddel wat haar en Herman se verflenterde binnestes weer sal laat du. Híérdie kinders lewe immers. Hulle hartkloppies is nie stil nie.

The post Brood van die lewe appeared first on LitNet.

Met my oë

$
0
0

Foto: Canva.com

Met my oë

Met my oë sien ek die wêreld so anders, so anders as wat jy dit sien en ervaar. 
Jy sien sonskyn en die potensiaal in elke dag; ek die donker en “wat as ...”

Jy kom vertel my van jou dag, jou uitdagings, jou oplossings, so asof dit die maklikste ding op aarde is. Ek bly stil, sê niks. My dae is ’n stryd vandat ek my oë oopmaak totdat ek weer my kop gaan neerlê en ’n stryd voer met die slaap.

Daar is so baie wat ek wil sê, maar my probeer word bevraagteken met: “Het jy jou pille gedrink vanoggend?”

Met my oë sien ek hoe mense mekaar vernietig, hoe mense lyk as bitsige woorde heen en weer toegesnou word en haat oorneem waar daar eers liefde en omgee was. Met my oë sien ek kinders, verward en oorgelaat aan die godverlate wêreld.

Kan ek deur jou oë kyk en jy deur myne? Dan sal jy kan sien en verstaan dat ek nooit gekies het om so te kyk nie.

As jy maar net kon weet, met my oë sien ek ook die mooi. My mooi is in die stilte van die natuur, die rustigheid van ’n normale hartklop en asemhaling. Om te kan sien sonder angs en vrees, met die wete hierdie wêreld is nie my tuiste nie.   

The post Met my oë appeared first on LitNet.

Die proefleser

$
0
0

Foto: Canva.com

Dis Maandagaand. Ek sit in my studeerkamer, my aandag by ’n manuskrip van ’n onbekende skrywer uit Kimberley se wêreld. Ek het nog nooit van hom gehoor nie, maar ek voorspel dat sy naam een van die dae op almal se lippe gaan wees. Daar bestaan by my geen twyfel dat die man oor uitsonderlike skryftalent beskik nie.

Hy verstaan die tegniek om spanning te skep, sy karakters in te kleur en om die leser gedurig aan die raai te hou. Wanneer laas het ’n storie my sommer uit die staanspoor geboei? En die struikelblokke wat hy oor sy hoofkarakter se pad laat kom, maak dit moeilik om te glo hy het nog nie voorheen iets gepubliseer nie.

Te oordeel aan dít wat ek tot nou gelees het, gaan hierdie debuutroman ’n wegholsukses wees. Met die regte bemarking behoort hy in die eerste maand van publikasie die topverkoperlys te haal. Uitgewers gaan toustaan om sy werk te vertaal. Daarvan is ek oortuig. Ek sal graag die skrywer persoonlik wil ontmoet; van my jare lange kennis met hom wil deel. Ek dink nie hy besef hoe talentvol hy werklik is nie.

Hy’t my ’n tyd terug gekontak om te hoor of ek kans sien om sy manuskrip te proeflees. “Teen vergoeding, natuurlik,” het hy bygevoeg. “En meneer Steenkamp hoef regtig nie doekies om te draai nie. As my poging nie na wense is nie, wil ek dit weet.”

Aangesien ek nie meer naastenby so baie manuskripte soos voorheen ontvang nie, het ek onmiddellik ingestem. Wat het ek in elk geval om te verloor? Voornemende skrywers het hul rug op my gekeer. Hulle maak nie meer so gereeld van my dienste gebruik nie. Waarom nie, weet nugter alleen. Ek is nie ’n onredelike mens nie. Ek was nog altyd eerlik in my kommentaar. Hulle verwag tog nie ek moet jok en hul middelmatige pogings goedpraat en maak asof dit nie wemel van die foute nie. ’n Skrywer van Pretoria het my ’n tyd terug daarvan beskuldig dat ek onprofessioneel is. Toe ek vra hoekom hy so sê, antwoord hy dat ek my huis in orde moet kry. “Jy het te veel hooi op jou vurk. Die verslag wat jy vir my gestuur het, maak nie sin nie. Nie een van die karakters in jou kommentaar verskyn in my verhaal nie. Ek dink jy het my manuskrip met iemand anders s’n verwar. Ek het lus en eis my geld terug.”

Hoe durf hy? Ken hy my agtergrond? Ek was vir baie jare ’n taalonderwyser. Dis op aandrang van ’n goeie vriend in die uitgewersbedryf dat ek my op proeflees begin toespits het. Sommige mense is nou maar eenmaal net ondankbaar en klaar. Hy is natuurlik ontevrede oor ek sy werk so skerp gekritiseer het. As hy nie man genoeg is om kritiek te aanvaar nie, moet hy liewer vergeet daarvan om ’n lewe uit skryf te maak. In hierdie pragtige land van ons moet jy hare op jou tande hê as jy sukses wil behaal as skrywer. Hoe gouer hy dit aanvaar, hoe beter.

Tot dusver is ek beïndruk met die manuskrip op my rekenaarskerm. Die eerste paar hoofstukke toon potensiaal en dit sal interessant wees om te sien wat volgende gebeur. Soms daag hier tekste op waar ek sommer in die eerste paragraaf al agterkom die persoon kan nie skryf nie. Hoekom sulke mense hul geld en tyd op proeflesers mors, sal seker net hulle weet.

Die voordeurklokkie lui. Ek haal my leesbril af en sit dit versigtig op die lessenaar neer. Ek sluit my oë vir ’n rukkie en haal diep asem. Miskien is dit tyd vir ’n blaaskans. Dis seker weer my buurman wat ’n hamer of ’n skroewedraaier kom leen. Wanneer gaan hy leer om sy eie gereedskap aan te skaf? My huis is nie ’n ysterwarewinkel nie.

Ek maak die deur oop en dit voel of my brein vries toe ek sien wie voor my staan. Kan dit hy wees? Is my oë nie besig om my te bedrieg nie? Die inwoners hier rond sê reeds ek het nie al my varkies op hok nie. Hulle hou vol my kop haak soms uit en dat ek my gereeld dinge verbeel. Soos vanoggend in die supermark.

“Was Meneer siek?” wou een van die kassiere weet. “Nee,” het ek verbaas geantwoord. “Hoekom vra jy?”

“Omdat ek Meneer so lanklaas gesien het.” Ek het byna my humeur verloor. Wat gaan aan met die vrou? Dis nie my skuld as sy afwesig is wanneer ek kom inkopies doen nie. Ek was dan ’n week gelede daar.

’n Klomp skinderbekke. Die hele lot van hulle. Steek hulle neuse in waar dit nie hoort nie. Natuurlik jaloers omdat ek nie juis met hulle meng nie. Ek makeer niks. Net omdat ek in my laat vyftigs is beteken nie ek is van lotjie getik nie. Ek weet wat om my aangaan.

“Naand, Oupa,” hoor ek Dewald groet. Hoekom voel ek so lighoofdig? Hy maak nie oogkontak nie. Die wind sny deur murg en been, maar die kind is sowaar kaalvoet. Hy het net ’n kortbroek en ’n T-hemp aan. Kry hy dan nie koud nie?

“Naand, kind. Het jou ma jou gestuur?”

“Nee, Oupa. Ek het sommer kom kyk hoe dit met Oupa gaan?”

“Nou kom binne. Lyk my vandag se kinders voel nie die koue nie.”

Hy kom in en maak hom kop onderstebo op die naaste bank tuis. Ek wonder wat dit is wat aan hom krap. Hy is nooit so stil nie. Het sy ma hom dalk kwaad gemaak? Ek weet ook dit gaan my niks baat om te probeer uitvis nie. Dewald is ’n ander tipe kind. As hy nie reg is om te praat nie, kry jy niks uit hom uit nie.

“Ek het boontjiesop gemaak. Wil jy hê?”

Hy skud sy kop. “Ek is nie honger nie.”

“Jy weet nie wat jy mis nie. Hoe gaan dit by die skool?”

“Skool is vervelig.”

“Hoe so?”

“Sommer net.”

“Skool is belangrik, Dewald. As jy mooi leer, kan jy eendag universiteit toe gaan en iets van jou lewe maak. Hoekom kom kuier jou ma nie meer vir my nie?”

Hy trek sy skouers op.

“Kan ek vir jou ’n storie lees?”

“As Oupa wil.”

Ek weet hy hou van stories. Hopelik word hy ook eendag ’n skrywer. “Nou maar goed, wag net hier. Ek gaan kry gou ’n boek.”

Ek sal sy ma moet bel, moet hoor waarom die kind so omgekrap is. En waarom hy so laataand alleen hier aangewals kom. Al is dit rustig hier by ons op die platteland, beteken dit nie hy kan maak soos hy wil nie. Dis ’n hele ent terug huis toe. Hy moet liewer vanaand hier slaap. Ek gaan nie toelaat dat hy in dié weer alleen huis toe loop nie. Wat het hom in die eerste plek besiel om hierheen te kom? Hy kon mos tot die naweek gewag het.

In my boekrak kry ek ’n kinderboek. Ek haal dit uit en loop haastig terug sitkamer toe. Ek steek vas, kyk onseker in die vertrek rond. Daar is geen teken van Dewald nie. Wat het van hom geword? Het hy sowaar die pad terug huis toe alleen aangedurf? Ai, ek wens ek het geweet hoe my kleinseun se kop werk.

Ek gaan kyk in die badkamer, maar hy is ook nie daar nie. Ek drafstap tot by die voordeur, pluk dit oop en roep hom op sy naam. Geen antwoord. Waarheen het hy so skielik verdwyn?

Terug in die huis skakel ek met bewende vingers sy ma se nommer. “Ans, hier het nou ’n snaakse ding gebeur. Dewald was hier, maar toe ek weer kyk, is hy weg. Sommer net so, sonder om te groet. Daai kind moet vasgevat word. Hy is heeltemal te groot vir sy skoene. Laat weet asseblief sodra hy daar aankom, anders bekommer ek my morsdood.”

’n Lang stilte hang in die lug. “Ans, is jy daar? Het jy gehoor wat ek sê?”

“Pa moet by ’n dokter kom,” sê sy sag.

“Nie jy ook nie, Ans. Ek makeer niks.”

“Pa is nie gesond nie. Ek het altyd gedink die mense oordryf, maar nou vind ek self uit daar is iets fout met Pa se brein.”

“My brein makeer niks. Watse snert praat jy?”

“Ek praat van Dewald, Pa.”

“Wat van Dewald?”

“Dewald was nie naby Pa se huis vanaand nie. Dis alles in Pa se kop.”

“My magtig, Ans. Hoe durf jy van my ’n leuenaar maak? Natuurlik was Dewald hier. Hy’s nou-nou hier weg.”

“Dis sewe jaar vandag, Pa. Sewe jaar vandat Dewald nie meer met ons is nie.”

Ek trek my asem in. “Maar Ans, so iets is tog nie moontlik nie.”

“Gaan sien ’n dokter, Pa. So gou as wat Pa ’n kans kry. Iewers is groot fout. Dewald en ’n paar van sy klasmaats het in ’n busongeluk op pad na ’n atletiekbyeenkoms omgekom. Hy sou dié jaar sewentien geword het. Onthou Pa dan nie?”

The post Die proefleser appeared first on LitNet.


Kommadagga-kortverhaal: "As Daddy maar net kon weet"

$
0
0

Eksamen se voet. Amber sit al vir drie uur en die trigonometrie maak steeds nie sin nie. Sy trap die wiskundeboek van die bed af en tel Permanente ink van Carina Diedericks-Hugo op. Gaan Amir en sy vriende die Romeo-en-Juliet-moordenaar vang?

Sy sien deur die venster hoe haar stiefma om die hoek agter die huis verdwyn. Vreemd, dis ’n ding wat sy gereeld na etes en na kerk doen. Wat sy daar maak, weet net die Vader. Sy ruik altyd na Smoothies Supa, die mint-een, wanneer sy terugkom. Laas week kon die speuder in haar dit nie meer hou oor dié ding met Maria nie – net om na tien minute weer terug te kom.

Haar pa loer om die slaapkamerdeur. Hy word nou lekker oud. “Maria vra of jy nie vanaand saam kerk toe kom nie.” Hy soen haar op die wang.

Hoeveel keer per dag moet mens kerk loop? Hulle was in die oggenddiens en nou weer? Sy weet in elk geval wat die dominee gaan sê: “Jongmense, julle moet nader aan God beweeg.”

“Ek moet study, so ek kan nie.”

“Maar jy sit met ’n storieboek?” Hy neem die boek uit haar hande. “Nou leer klaar laat ons kan saam kerk toe gaan.”

Amber kan haarself verwurg. Sy moet skerper kyk. Soos Amir. Nou moet sy eers kerk toe voor sy verder kan lees.

Sin, cos en tan versmoor haar. Sy moet uitkom.

In die kombuis skil haar pa aartappels voor die wasbak. Sy vat ’n lemoen.

“Hoekom lees jy boeke terwyl jy moet leer?”

Hier kom dit. Sy sny die lemoen middeldeur. As iemand haar net só kan sny, sal sy vir ewig weg wees.

“Amber?” Hy draai na haar.

Sy gee hom haar rug.

“Ek kan ook mos nie net wil study study heeltyd nie.”

“Deesdae het jy nogal ’n houding.” Hy spoel sy hande af. “En moetie eers van die ander storie praat nie.”

“Ek het nie ’n attitude nie. En by the way die dagga was nie myne nie!” Sy kap die mes in die een lemoenhelfte.

“Met wie dink jy praat jy, meisiekind?” Hy gooi die vadoek in die wasbak. “Wie s’n was dit dan? Myne? Maria s’n? Maria het dit in jóú kamer gekry. Ek kon deal met die eerste keer, maar twee keer? En dit op dieselfde plek?”

Amber prop die lemoen in haar mond. Hoeveel keer moet sy dit nog sê. Sy wil nie oor en oor hieroor baklei nie.

“Next time stuur ek jou gemeenskapsaal toe dat jy by die verslaafdes kan loop bly.”

Nou gaan hy te ver. Sy het nog nóóit dagga gerook nie.

“Dis nogals weird dat dit elke keer Maria is wat my vang.” Sy kyk na haar pa.

“Wat probeer jy sê?”

“Click Daddy nie?”

“Sy gee regtig om, Amber. En sy is lief vir jou.”

“Yeah right.”

Amber gaan hang haar skoolhemp op die wasgoeddraad, voor die son ondergaan. Sy hoor iets agter die huis. Dit kan net Maria wees. Stilletjies, soos Amir dit sou doen, volg sy die sandpaadjie.

Wat maak sy daar? Sy skuif teen die muur en probeer om die hoek loer. Sy sien net Maria se skaduwee.

Amber tree effens nader, maar haar voet haak. En Maria sien haar. Sy werk die sigaret met haar skoen in die grond. Sy kyk haar in die oë, maar Amber kyk na Maria se voet wat op een plek bly draai en trap.

“Jy rook?” sê Amber. “Wag tot my pa van dit hoor.”

Maria druk haar teen die muur vas. “Gaan sê jou liewe Daddy, Amber. Gaan maak ’n fool van jouself. Dan kyk ons vir wie glo hy.”

Amber storm terug kamer toe. Sy tel die wiskundeboek van die vloer af op en gaan sit op die bed. Sy moet by vraag 1, sonder ’n sakrekenaar, die waarde van cos 150° bereken. Maar sy kan nie. Maria is reg. Haar pa sal die skynheilige kerksuster bo haar kies. Sy wat kamma kla oor die bure wat hulle toppertjies oor die heining gooi.

Sy moet by Bella uitkom. Bella is haar bestie en sy het altyd raad.

Net toe sy by die tuinhekkie wil uitglip, roep Maria haar terug. Sy kan haar ignoreer, maar dan klik sy weer by haar pa.

“Moet jy nie leer nie?” Sy staan met haar hande in haar heupe.

Die vuur binne Amber skiet van haar maag tot op haar tong.

“Vir wat kan jy my nie uitlos nie! Jy issie my ma nie!”

“Wat gaan hier aan? En waantoe dink jy gaan jy, meisiekind?”

Haar pa se kakebeen is gebal. Maria staan verleë eenkant.

“Daddy kan tog sien.” Amber maak die hekkie weer toe.

“Wat sien?” Hy trek haar tot voor Maria. “Dis nou jou ma en jy gaan haar respekteer. Sê sorry.”

Hoe kan hy? Sy gaan vanaand wanneer almal slaap, deur die venster klim. Al weet sy dis nie wat haar ma sou wou hê sy moet doen nie, maar hier kan sy nie ’n dag langer bly nie.

“Sorry.”

“Ag, my kind. Dis sommer niks.” Maria gee haar ’n drukkie.

Sy’t ’n Smoothie Supa in haar mond, en gee uit haar sak vir Amber ook een, maar Amber gaan haar nie laat bribe nie. “Ek gaan na Bella toe,” sê sy en loop by die hek uit.

Sy skuil agter die boom en loer oor die heining. Daar is niemand. Sy koes-koes verby die kombuisvenster. Binne lag hulle oor die aartappels wat verbrand het.

Amber sluip tot agter die huis. Agter die huis is ’n baksteen netjies in ’n hoekie gesit. Sy lig dit op. In die holte hieronder lê ’n pakkie Internationals, ’n lighter en ’n banksakkie zolle.

Dié keer het Amber amper al bewyse. Sy moet Maria net kom kamera vang. Sy sal nie ’n kans staan nie.

“Wat maak jy?” Haar pa gryp die sakkie.

Maria staan in die agterdeur. Sy lyk soos ’n kat wat room gekry het.

Sonder om Amber ’n kans te gee om te verduidelik, loop haar pa Maria amper onderstebo, met die sakkie zolle in sy hand.

“Daddy, dit is nie myne nie!” skreeu sy agterna.

“Ek is klaar met jou! Loop, jou daggakop. Loop!”

“Luister na my! Dit was nie ek nie, Daddy.”

“Bokkie, moenie dit doen nie,” probeer Maria keer. “Gee haar ’n tweede kans.”

“Tweede kanse se gat! Ek moes in die eerste plek na jou geluister het,” sê hy vir Maria. Hy gooi Amber se leesboek by die deur uit, op die sand. “Voetsek!”

 

“Hy’t my weggejaag, Bella. Ek kan nie meerie!” Sy vee haar neus af. “Dis sy wat die dagga in my kamer geplantit.”

Sy druk haar styf vas. Bella neem die leesboek by haar vriendin.

“Kom in, tjommie. Daai teef gaan hard val, los haar.”

 

Daylen Tobias het vanjaar LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos bygewoon. Sy het aan hierdie verhaal by die slypskool gewerk.

 

The post Kommadagga-kortverhaal: "As Daddy maar net kon weet" appeared first on LitNet.

Kommadagga-kortverhaal: "Eendag is eendag"

$
0
0

Toe Carlo Tisha se trouringe steel, weet ek dis tyd. Trektyd.

“Nei, ek weet fokkol van Tisha se ringe. By the way, ek het heeldag geskarrel.’’

Eers was dit die strykyster. Daarna ons vleis. Toe ons laaities se PlayStation. Duvets, kussings, borde, koppies, tot die meisies se hair clips. Wie steel sy familie se wasgoed vannie draad af – mos ’n siek laaitie daai.

Dis of hy nettie kan ophou vattie. My blerrie hok lyk soos ’n tronksel met al die burglar bars en slotte.

Buite ons hok klap ek hom met die plathand. Hy val en gryp na sy broeksak vir sy mes. Maar die besemstok is hier langs my en ek moer hom voor hy dit kan kry.

“Nee! Marius! Jy gaan hom vrek slaan,” probeer Tisha.

Haar broer lê op die grond soos ’n hopie sand.

“Dis darem nie so erg nie, Marius,” wil Tisha se ma keer. “Julle’t mos tot nou lekker gebly hier agter.’’

Sy bedoel innie agterplaas.

“Lekker se gat!”

My skoonma sê niks. Sy buk by Carlo. Daar’s bloed. Gelukkig is die kinders by my ma innie Magnolia Fletse.

“Pak net ons donnerse klere, Tisha, hier slaap ek nie ’n fokken nag meerie.” Ek worry nie verder oor Carlo en sy ma buite nie, en gryp die swart sakke in die hok. “Pak, Tisha, pak!”

Saam met die klere en die beddegoed smyt ek ook ons troufoto in. Dit was net na Tisha Juffrou Dallas Fletse was, en ek nog met my twee hande om haar middellyf kon vat. Die vrou wat nou by my in die hok goed van die rakke gryp se hare is grys en nevermaaind op haar kop vasgemaak. Aan haar oversized klere is ek gewoond.

“Jy hou mos daai myre byri werk dop, soe los my fokken lyf uit, hie het al vier kinders yt dié lyf gekom, soe fokkof.” Om te shurrup was nog altyd my sterk punt.

Tisha skuifel verby my vir nog sakke.

Ons het somma by my buddy Attie in OR gaan slaap, ek en Tisha op ’n enkelbed, terwyl ons heelnag die dobbelstemme buite sy hok hoor:

“Daai’s ’n krip!”

“Ek batch jou vyf rand!”

“Skiet die fokken dice!”

“Speel nog ’n number!”

“Laat die ding ruk!”

“Ek kannie slaapie,” kla Tisha agter my rug.

“Maak net jou fokken oë toe.”

Die volgende oggend is ek met seer rug trug na my skoonma om ons hok af te breek.

“Jy’t hom goed gemoer, hy sallie weer ons goed steelie. Carlo is vroegogend hie verby my jaart op krukke.” Skinnerbekkampioen aunty Margie met cigarette innie mond.

“Salute masekind, jy het hom goed gedonner,” probeer Sprikkels aanklop.

En my vuiste is nou nog seer soos ek hom gebliksem het.

“Ons soek net ’n kannetjie traangas dan kan ons gou die boeta se goed laai oppie bakkie,” stiek Sprikkels uit soes ’n professional loafer.

Terwyl die manne laai, fluit ek “Vat jou goed en trek, Ferreira”.

“Gaan julle kwaai mis, Marius,” groet Jan Groentjiestraat se mense. Ek het nogal lief geraak vir die mense met al hulle skandale en drama – never a dull moment.

OR hettie eintlik rules nie, maar bra Sparks die raadslid het ons verwelkom. “Die wit lyne is die grens van jou hok ennie Boeta moet maa try om binne daai kalklyne te bly.” Ek het my kombuisie en twee kamers uitgemeet met ’n stok en ge-imagine die furniture binne-in die vertrekke. Die twee seuns in die een kamer en my twee meisiekinnes mettie dubbelbank by my en Tisha. Die kombuiskassies van Joshua Doore trek klaar skeef en is noggie eers afgebetaal nie.

“Die plek is maar ’n modderbad innie winter, maar ons gee om vir mekaar hier in OR,” het bra Sparks my remind.

Die aasvoëls, die skarrelaars, is ook by om te help mettie opslaan van my hok – ek het hulle net soe gekyk en gesê hulle moet fokkof. Ek hettie geld om julle te betaalie.

“Hier gaan ook net een kas in,” moan Tisha.

“Ja, die anne klere moet maa net soe innie sakke bly, want moet ek dan nou by ’n donnerse bank inbreek,” kap ek terug

“Jy moet anmekaar ’n ding soek in daai swart sakke en ek’s al soe gatvol vannie soekery.” Ek wonner watte fok moet ek nou daaraan doen. Bliksem! die vrou tap my krag.

Die enigste ding wat groot is in OR is die groot gate innie paaie, soos riooldamme. Hier is fokkol plek vir sokker, rugby of netball nie, ennie kinnes speel hulle games innie pad.

Ons gooi somma ons toilet- en afvalwater innie Bergrivier, dis net Shoprite- en Boxer-sakke waar jy kyk oppie water. “Hie moet jy survive, ou pel, jy kyk net noord en fok voort,” het bra Sparks dit saggies gestel, die eerste dag al.

“O hel, ons is onne water, Marius! Marius, fokken staan net op, hier’s oral water innie hok!”

“Dooie donner, kry daai emmers en komme buite, Tisha!” skree ek.

“Wa is my kinnes? Lisa, hou net jou bek en trek aan jou jacket.”

Ek kan nie eers my hand voor my sien nie, en voel innie donker na die torch.

“Here help! Hou die torch, Marius, sodat ek net my kinnes hie uit kan kry,” hoor ek vi Tisha.

Deurweek vannie reën en met stokstywe vingers issie kinnes met Tisha na Boeta Reggie vier hokke van ons af. Lisa al huilende innie nag ennie Kaapse storm wat nou behoorlik vir OR attack. Die water stroom nou oral by die dun plate deur. Die hele hok is een moerse lekplek. Dit kom nou van sealer underbasement koop.

Tisha het met kaalvoete ingespring. “Ek moer die water somma deurie venster.” Doen net wat jy fokken wil, ek moet sterk wees vir my familie, want die trane loop vrylik van teleurstelling, gatvolgeid en die kak situasie in OR. “Ek lus om vi jou deurie venster te moer,” mompel Tisha en sy dink seker ek hoor nie.

Met skewe swirlkous en opgerolde pajamabroek gooi sy ons vuilwater ook uit.

My Charleston Hill-droomhuis het vier slaapkamers, met ’n double garage. Ek loep vyf dae vannie week hier verby op pad na my job by Rembrandt Tobacco, en ek imagine hoe cosy ons family daar sal bly.

Eendag is eendag.

 

Kenneth Williams het vanjaar LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos bygewoon. Hy het aan hierdie verhaal by die slypskool gewerk.

 

The post Kommadagga-kortverhaal: "Eendag is eendag" appeared first on LitNet.

Kommadagga-kortverhaal: "We breathed"

$
0
0

Danielle móét nou uitkom. Sy gaan uitpass. Haar tafel is na aanie eetsaaltoilette. Sy staan op, maak of sy indraai, maar hou verby na die exit. Buite haal sy eers diep asem, soos die free divers gisteraand op YouTube net voor hulle in die blougroen wegsak.

Sy stap omkyk-omkyk koshuisblok toe. Maak seker niemand sien haar nie. Dit was close, sy druk haa kamerdeur half met haa rug. Sy sal môre die skel van ou Miss Krige, die koshuismatrone, vat omdat sy sonder toestemming kamer toe gekom het. Nóú moet sy study.

 

“Wat lyk jy … nie lekke nie? Jy’s giste’aand hie uit asof jy first prize gaan kry vir buite kom,” sê Perry die volgende oggend by ontbyt.

“Moenie my sê Krige het my ge…?”

“Ag wat, ek het haar gecorner net voorie deur op pad om jou te gaan soek. Jy weet mos die dierasie het ’n two gig memory card vir ’n brein. Toe ek met haar klaar was, het sy lankal vegeet van jou. So jy’s orraait, sê jy?”

“Ek stres oor die exams. En my ma bly my remind dat ek matriek nodig het om te gaan study. Imagine, as ek gaan werk, dan kan sy los da by die fabriek. Ek moet aanhou Mandela se quote hoor oor hoe powerful education is, if you want to change the world, en dan add sy ‘jóú world, my kind, jóú world’.”

“Take a breath, Meisa. Jy gaan nog ’n heart attack kry. Dis nog ’n maand voorie exams. Kom ons vat dit stap vir stap.”

’n Perry kry jy nie by die second-hand shop nie – sy is nie ’n buy-one-get-one-free nie. Al van graad 5 af tjommies. Since is hulle soos botter op toast. Saam uit die boom geval, saam period gekry. En so saam-saam het hulle op die next dorp se koshuis kom bly.

Sy is bang vir niks. Danielle noem haar Peri-Peri oor haar hot temper. Een keer in graad 7, op ’n skool trip, het Perry haar uit die vieslikste man se pote gered. Die donner wou haar in sy kar force. Van toe af kyk hulle uit vir mekaa. Perry praat baie en lag hard en sal ’n man op sy bek moer as sy moet.

Dis die laaste periode vi die dag. Danielle kan nie wag om in ha kamer te kom sodat sy kan study. Haa ma bel ook Vrydaemiddae. Sy het met haar baas, Mister Stafford, gereël om van sy kantoor se phone te bel, dan kan hulle langer praat. Airtime is duur. Dis ook die einste baas wat vir Danielle die laaste vyf jaar by die busstop gaan afgee en optel wanne sy huis toe kom.

Vandag gaan Danielle haar ma try ompraat dat sy ná skool kan gaan werk. Dis vir die beste. Sy sal matriek het – daai stuk papier moet tog iéts beteken at the end of the day, try sy haarself convince.

In die kamer gooi sy haar skoolsak op die lessenaar en haal die phone uit haar kas. Sy sien haar ma se missed call. Phone innie hand sit en wag sy oppie bed. Haar ma sal weer try. Sy dink nog so toe die phone in haar hand brom. “Mammie,” antwoord sy.

“My baby, wat maak jy?”

“Niks rêrig nie. My roomie is al huis toe vir die weekend. Mammie, sy snork so, ek moet haa record, want sy glo my nie.”

“Nee, dit sal darem maar lelik wees, Danielle. Lossie kind. Shame, sy leer seke hard deur die dag.”

“Jô, Mammie vat ’n anne antie se kind se part. Kykie Mammie, dié gaan werksoekding van my, nè. Het Mammie wee gedink daa’oor?” gooi Danielle haar sinne bymekaar soos mixed masala.

“Nie wee dit nie. Jy gaan weg varsity toe. Mister Stafford het klaar gereël met sy klong om vir jou die papiere te kry om in te vul.”

“Die baas van Mammie is ok in al ons huissake.”

“Díé baas van my gaan above and beyond vi ons. God seën hom.”

“As ek gaan werk, kry Mammie ’n break for once. Die gewerkery om my op skool te hou issie goetie.”

“My kind, Mammie sal wanne die dag kom, Mammie se break in my graf geniet. Vi nou gaan ek aan. Hou op worry oor my. Gaan dee jou boeke. Danielle, ek verstaan jy voel overwhelmed. Mammie is tevrede met wat ook al jou uitslae gaan wees. Jy bly my engelkind, wat altyd so mooi na my kyk. Hoor jy vi Mammie?”

“Ek hoor, Mammie,” sê sy sag.

“Ek gaan nou neersit, mens vattie so advantage nie. Mammie bel weer next week. Leer mooi, nè.”

Danielle kyk die phone in haar hande.

Haar ma vestaan nie. Sy verdrink. Soos die free diver sak sy dieper. Die pressure van die skoolwerk laat die anxiety vlamvat.

Sy dink aan hoe Perry nie maklik skrik nie en yet sukkel sy so.

“Nee tjom, so kan jy nie sittie,” sê Perry in die deur.

Danielle draai om en sien Perry het haar skoolsak by haar, maar dis nie vol boeke nie. Dis vol klere.

“Kies. Wat like jy?” sê Perry en gooi die klere uit langs Danielle op die bed.

“Gaan jy jump Perry? Wat van jou roomie?”

“Dis Vrydag, dis ampe eksamen. Kom ons kry een laaste party in. Laasmaand het jy gepromise jy kom dié keer. En as for my roomie, ek het haa mooi laat weet as sy aanhou ’n skoorsteen wil wees, sal sy haa mond hou as ek nou en dan jump. Sy rook lekker by die kamervenster uit,” gooi Perry die venster oop.

“Maar jy’t gevra ek moet jou help met die kaartwerk, en gaan ons rêrig vir Krige twee keer in ’n ry fool?”

“Ons doen anyway huiswerk oor die weekend. Toe? Dit gaan fun wees. En ons kom nie laat terug nie, as dit is waa’oor jy worry?”

“Okay, okay. Ek kan doen met ’n breather. Ek gaan dan my bootleg jean dra en jou wit Reebok top met tekkies – jy ken my teen nou al, Peri-Peri,” smile Danielle.

“Kyk hoe vebaas is ek,” lag Perry.

“En jy gaan jou nuwe jumpsuit met heels aantrek – kyk hoe vebaas is ék!”

Hulle kyk hul outfits in die spieël deur. Perry soen Danielle op haar wang. “Nee man, jy spoil my make-up.” Danielle sit maskara aan en hulle sing saam met die music op Perry se phone.

Kort na Miss Krige nege-uur lights out roep, sluip hulle na die opsigter se kamer – dis waa sy goed is. Perry heels innie hande. Sy krap in die onderste laai van ’n ou filing cabinet en haal ’n bossie sleutels uit.

“Ek het Krige en die caretaker hoor praat. Hy los die sleutels hie, as spares. Kom sit dit na die tyd terug. Slim, nè?”

Hulle sluit een van die kantdeure oop om by die rugbyveld te kom. Buk-buk draf hulle al langs die veld en klim oor die heining reg in die hoek vi vastrapplek.

In die pad wag ’n silwer Toyota by die stop. Hulle hardloop nader. Een vannie deure gaan oop. Die dakliggie is af, maar Danielle kan sien daa is drie mans. Die driver, ’n passenger en agter nog ’n outjie. Hy skuif op om plek te maak.

“Yes, girls. Julle lyk mooi, jong. Onse party is net ommie draai,” sê Driver.

“Hei jy, onthou net ons moet twaalfuur terug wees,” giggel Perry.

Twee blokke van die skool vra Passenger of hulle cigarettes kan kry. Driver indicate en stop voor ’n winkeltjie met net ’n dowwe geel bulb bo die ingang. Die ouens klim saam uit die kar.

“Danielle, ek weet wat jy dink, maa als gaan fine wees. Ek het Ryan ’n maand gelede ontmoet.”

“Is Ryan nou die driver, want hy eye jou heeltyd in die spieël,” vra Danielle.

“Hy’s cool. Ek wou nog sê. Moenie kwaad weesie, asseblief.”

 “Die party beter awesome wees,” sê Danielle.

“Dit gaan die houseparty van die jaar wees!”

Danielle kyk haar vriendin ’n ruk aan. “Perry … ek is lief vir jou. Jy’s my eie kruie, getuie.”

“Love you, Danny. Jy’s die beste ooit,” sê Perry.

Danielle wil nóg uitvra toe die drie weer inklim en hulle verder ry.

“Sorry, daa, dames. Nou’s ons reg vi jol,” sê Passenger.

“Hie go ons,” sê Perry.

Dit word stil innie kar. Die radio speel saggies “Breathe” van The Prodigy. Danielle sing sag saam. “Inhale, inhale, you’re the victim. Come play my game. Exhale, exhale, exhale.” Sy probeer die venster afdraai. Dit wil nie. Die ruitknoppie is missing.

“Sê hy moet my venster laat af,” stamp Danielle aan Perry.

“Babe, wil jy nie die venster aan Danny se kant oopmaakie?”

Driver maak die venster oop, maar tot net bokant eye level. “Kan net tot sover, sorry.”

Danielle sit terug. Perry kyk uit. Sy lyk onseker. Hulle ry nou al lank vir ’n party wat net “ommie draai” is. Dis dig bebos. “Waar’s die huis dan?” vra sy.

“Nou daar,” sê Driver.

“Dis dan net bome. Die neighbourhoods is annekant toe.”

“Hou jou bek for once!” sê Driver en hy draai skerp na regs tussen rye bome deur. Dis ’n plantasie. Danielle ruk aanie deur handle.

“Naaiers, die deur gaan fokkol helpie!” Passenger swaai om met ’n gun.

Hulle ry dieper die bome in. Die kar ruk tot ’n stop. Driver klim uit en pluk Danielle se deur oop. Sy skop na hom, maar hy gryp haa bene. Perry skree. Sy klou aan Danielle. maa Outjie slaan haa met die vuis.

Toe Danielle bykom, lê sy in die gras op ha maag. Haar gesig is dik en warm. Sy kyk in die rigting van Perry se stem. Danielle sien waar sy op haar rug lê. Outjie skyn ’n phone lig op ha.

“Eina! Danny! Danny!” skree-huil Perry. Driver druk ’n cigarette op haar borste. Hy’s op haa.

Danielle asem bloed in. Sy hou haa kop skuins. Dis makliker so.

Passenger kyk om. Hy record ’n video met sy phone. “Die teef is by, broe.”

“Bring die ding hie, laat ek haar wys,” sê Driver.

Iets flick. ’n Lem.

“Nee, ons sallie sê nie. Asseblief!” smeek Perry.

“’seblief. Ek gaanie sê nie. Niemand weet … ons is hie!” skree Danielle. Passenger sleep haa oorie gras.

Perry ruk. Kyk Danielle innie oë. Bloed spuit. Oor haa jumpsuit.

Keelaf. Oë oop. Die ouens lag.

“Perry! Help, Perry. Los ha uit!” skree Danielle.

“Ek’t die gun, sien jy teef. Ek!” sê Driver.

Weer die gun. “Sorry, sorry. Moenie, ’seblief. Belowe ek sallie sê nie.” Dié keer point Driver na haa. Hy staan wydsbeen oor ha en spoeg ha innie gesig.

Hulle lag.

“My broe, gaan ons haarie ’n ding wysmaakie?” vra Passenger.

“Guys, ouens. Ons sny ’n lyn.” Outjie kyk oor sy skouer. Sy try opstaan. Driver skop haa in die gesig. Danielle spoeg bloed. Outjie skyn die skerp lig in ha oë. Sy skram weg.

“Dit raak laat, mee vi jou as ons,” lag Driver.

“Maakie teef zat, man,” sê Passenger.

“Sal julle leer om in manne se karre te klim. Poeste wat julle is,” sê Driver.

Passenger druk die phone tot teen ha gesig. “Sê bye.”

“’seblief.”

Danielle hoorie gunshot. Haar ma. Die hitte. Haar bors. Perry.

Die driver hang bo haa. Sak af. Sy asem uit. Sak dieper.

Dis anners dié keer. Sy’s lig.

 

Jodie Groener het vanjaar LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool in Somerset-Oos bygewoon. Sy het aan hierdie verhaal by die slypskool gewerk.

 

The post Kommadagga-kortverhaal: "We breathed" appeared first on LitNet.

Mooi Berta

$
0
0

Foto: Canva.com

Mooi Berta

Baie jare gelede, toe die samelewing nog behoudend was, soos verkramptheid eufemisties genoem was, het Mooi Berta opgesmuk en opgewek vir die eerste klas van haar eerste jaar op universiteit opgedaag. Haar rok was hemelsblou en haar skoeisel ook. Wat die oë egter laat rek het, was die ooglede se blousel wat met ’n swaar hand aangesit is. Die verrassende effek van al die blou was egter die treffendheid waarmee dit die viooltjieblou oë gekomplementeer het. Die effek was gedramatiseer deur lang swart vals wimpers en ’n bloedrooi mond. Die ingetekende moesie op haar bolip was effektief en mooi teen die agtergrond van die perskegloed van haar skone vel.

Die ander eerstejaars waarby sy aangesluit het, was ’n kategoriseerbare mengsel. Daar was een kliek en ’n klomp individue.

Die kliek het om die formidabele persoonlikheid van Ina gesentreer. Die ongegrimeerde, ernstige prokureursdogter. Haar pa was ’n behoudende kêrel op ’n nabygeleë groterige dorp. Haar kliek was saamgestel uit ’n viertal meisies en al vyf van hulle het aan dieselfde hoërskool gematrikuleer. Nodeloos om te sê, Mooi Berta se verskyning het ’n opskudding in die kleine onder hulle veroorsaak.

Die mansstudente, wat saam rondgestaan en geginnegaap het, het haar onderlangs en effe terughoudend bestudeer.

Mooi Berta het die situasie goed opgesom. Die mans het haar uit die staanspoor uit verveel. Te skroomvallig, het sy gedink. Maar haar vroulike intuïsie het haar gewaarsku teen die kliek. Nie dat sy veel intuïsie nodig gehad het nie. Die kyke en saggiespraat van Ina en Kie was darem baie opsigtelik teen haar gemik! Sy het haar handsak, van blou kunsleer, op die muurtjie agter haar neergesit en omgedraai en haar slanke arms oor haar welbedeelde borste gekruis. Die opgewektheid van vroeër het in veglustigheid verander.

Ondanks die lae punt wat sy aan die mansstudente toegeken het, het sy haar dit tog laat welgeval toe ’n paar nader staan om kennis te maak. Hulle groet-kwinkslae was veral maar flou gewees:

“Haai, hallo! Hou van die grimering,” het die eerste een gesê, ’n rankerige kêrel met ’n goedversorgde haredos.

Hy is gevolg deur nog drie ander wat moed bymekaargeskraap het nadat nommer een die ys gebreek het. Dit was sommer ’n gekorswel toe sy omring deur die vier manne daar rug teen die muur gestaan het. Hulle het niks agtergekom nie, maar haar aandag was baie tersluiks by die kliek skuins oorkant haar. Die leidster van die kliek het elke keer wanneer hulle oë ontmoet het haar arms voor haar gekruis en weggekyk. Sy’t haar verbeel een van die muise saam met haar het ’n keer die woord “flerrie” gebruik.

Tyd vir openlike vyandigheid was daar nie. Die eerste lesing sou terstond begin. Die mans en die ander vroue het in ’n trop by die lesinglokaal se ingang ingebondel. Mooi Berta het gevolg. Terwyl sy strak voor haar uit gekyk het, het sy ook die lesinglokaal binnegestap. Die studente het die lokaal halfvol gemaak. Soos kerkgangers van die ou skool het die meerderheid meegeding om die agterste sitplekke, waar jy tradisioneel teen die aandag van die prediker of onderwyser beskut was.

Mooi Berta het nie sulke vrese gekoester nie. Sy’t onverwyld by die eerste ry stoele ingeskuif en in die middel gaan sit. Op haar hakke het die kliek gevolg en netjies by die ry agter haar ingeskuif en reg agter haar gaan sit.

Aanvanklik was dit ’n gefluister en ’n gegiggel, wat Mooi Berta moes verduur.

Die aankoms van die rooigesig professor, met sy bos grys hare, het die gekonkel nie gestop nie. Die professor was nie gewoond aan ’n steurende eerste eerstejaarsklas nie. Die bloedjies het immers op daardie tydstip van hul akademiese loopbane uit ’n gereglementeerde omgewing gekom en dit het hulle gewoonlik ’n semester of twee geneem om te besef dat formele daaglikse huiswerk en leerdwang nie deel van ’n universiteitskurrikulum was nie.  Hy’t daarom gesteurd opgekyk toe Ina, na ’n onderlinge beraadslaging, vooroor geleun en ’n nota aan die meisie met die blou rok reg voor haar oorhandig het.

Met een oog op die professor het Mooi Berta die nota geneem en dit eers onder die tafel gehou tot die professor weer aan die gang gekom het. Toe het sy die nota oopgevou en gelees: Hallo, het jy baie kêrels?

Die nota was geskryf in ’n gelykmatige handskrif, sonder dromerige krulle, of ’n temperamentele afruk van lyne: Die handskrif van ’n verbeeldinglose, intens onderdrukte siel – Ina. Sy, sonder grimering, met rondepuntskoene, romp goed halfpad onder die knie, en geen wegsny van die bloese onder die hals nie.

 

Natuurlik het Mooi Berta se lees van die nota tot verhoogde onrus onder die kliek gelei. Maar hulle het Mooi Berta se kennis van die adolessent en haar vroulike lis onderskat.

Die professor het ’n stapel presensielyste en inligtingstukke begin uitdeel en sy het net gewag totdat hy by die agterste ry was. Toe het sy die nota teen haar vol rooigeverfde lippe gedruk en seker gemaak dat die afdruk op die wit papier helder was. Vervolgens het sy onderaan geskryf: Nee, ek verkies vrouegeselskap. Die briefie het sy in twee gevou, omgedraai en dit met ’n oogknip aan Ina terugbesorg.

Vir ’n minuut of twee was dit stil agter haar. Die geredigeerde nota het van hand verwissel. Daar was ’n gehyg en die yl klankies van ingehoue lagbuie en uitroepies.

“Nou, dis al vir die dag,” het die professor – terug agter die podium – gesê.

Mooi Berta het rustig bly sit en in haar handsak gevroetel. Nie so onder die kliek nie!

Hulle het raserig opgestaan.

“Hoekom raak jy so aan my?” het die klieklid naaste aan die uitgang by die ry stoele geïrriteerd geneul toe die vlugtende vier agter haar teen haar aandu. So is hulle al giggelend en stampend en stotend by die lesinglokaal uit.

Mooi Berta, haar ou stralende self, was laaste om die lesinglokaal te verlaat – net voor die professor, wat eers sy tas moes pak. By die deur het sy haar lang wimpers vir hom gefladder en mooi geglimlag en sy ou hart bly gemaak.

Dit was die laaste lesing voor etenstyd. Studente en dosente het hulle uit die voete gemaak na die kampusrestourant en koshuis-eetsale toe. Haar skoenhakke het hol weerklink op die linoleum-teëls. By die hoofgebou het sy uitgestap.

Dit was ’n dag waarna sy uitgesien het, maar dit was nie ’n aangename ervaring nie. Haar oë het effens begin brand. By die bushalte het sy haar eenkant van die ander studente gehou wat daar staan en wag het. In die bus het sy deur die venster gestaar na die verbyvlietende stadstonele. Sy was meteens onseker van haarself, veral oor die ontvangs wat sy te wagte kon wees wanneer sy in weer in die kafee arriveer.

In die sentrale deel van die stad het sy afgeklim en afgemete van straathoek tot straathoek gestap. Die Waldorfkafee was haar bestemming.

“Pappa!” het sy geroep toe sy die skemerige binneste van die kafee binnestap.

Die kafee het ’n restourant-afdeling gehad, maar ook wegneemetes en kruideniersware verkoop. Die twee verkoopsdames agter die glas toonbank met aartappelskyfies, wors, pap, en so meer het vraend na haar gekyk.

“Is Pappa hier, Engela?” het sy aan die een gevra.

“Meneer sit daar binne,” het Engela geantwoord.

In die deur van die restourant het sy gestop en na die bonkige figuur by een van die tafels in die hoek, langs die groot muur-tot-dak-glasvenster gekyk. Sy’t meteens selfbewus en onseker gevoel. Toe het sy diep asemgehaal en na hom toe gestap. Skuins agter hom het sy gestop, haar hand op sy een skouer gesit en hom vlugtig op die slaap gesoen. Daarna het sy oorkant hom gaan sit.

Hy was besig om die koerant te lees. Vir ’n oomblik het hy nie opgekyk nie. Uiteindelik het hy die koerant met ’n sug neergesit en haar ondersoekend bekyk. Sy oë was donkerbruin en skerp. Die gesig reeds tekenend van ’n sestigjarige, met diep kepe in die wange.

“Kyk na jou …” het hy byna ingedagte gesê, amper asof hy met iemand anders gesels het. “Jy’s ’n mooi spektakel!”

“Pappa …” het sy begin en haar oë het weer gebrand.

“’n Spektakel …” het hy fluisterend herhaal.

“Mamma sou daarvan gehou het, nè, Pappa?”

“Ek weet sy sou van so ’n gedoente gehou het,” het hy meteens met bitterheid in sy stem gesê, terwyl hy deur die venster die verte in gestaar het. En toe weer: “Ja, waar sy nou ook al te vinde is, sy sou van jou so gehou het …”

The post Mooi Berta appeared first on LitNet.

My broer Japie

$
0
0

Foto: Canva.com

My broer Japie

Dit is die laaste periode van die dag in die standerdseweklas. Pythagoras se stelling is reeds oor en oor verduidelik – hopelik tot almal se bevrediging. En vandag word daar ’n paar meetkundeprobleme gebaseer op dié stelling in die klas gedoen. Die leerlinge is opgewonde oor al die toepassingsmoontlikhede.

My gedagtes dwaal na Japie. Ek wonder of hy weer vandag daar onder staan. Ek het hom al menigmaal daar gaan oplaai en huis toe geneem. Dan het hy geëet, homself versorg, net ’n paar dae gebly en is dan maar weer vort.

Japie is omtrent vier jaar ouer as ek, so vyf-en-twintig. Hy was ’n aantreklike jongman op sy dag. As derde oudste van ons ses kinders was hy baie beskermend teenoor ons jongeres: ek, die tweede jongste, my suster, wat twee jaar ouer as ek is, en my jonger broer.

Voor die klok lui vir die einde vir die skooldag net weer ’n laaste aankondiging vir die klas: “Reg, klas, die probleme waarby ons nie uitgekom het nie, is vir huiswerk. Môre sal ek geleentheid gee vir diegene wat die moed het om hul oplossings voor die klas op die bord te kom doen.”

Daarop word die klas verdaag.

Ek sal weer in die hoofpad af ry tot daar heel onder waar die pad ’n T-aansluiting maak met die verbypad. ’n Mens kan daardie omgewing die sentrale sakekern noem – immers van diegene duskant die spoorlyn. Aan die ander kant van die spoorlyn is die wit gebied met die werklike sentrale sakekern. Die hoek by die T-aansluiting word sommer in die volksmond Gabby’s Corner genoem – so vernoem na die winkel daar. Aan die een kant hoop ek ek vind nie vir Japie daar nie; aan die ander kant, as hy nie daar is nie en ook nie by die huis nie, sal dit weer ’n nuwe onrustigheid in my gemoed ontketen.

Toe Japie nog nie afgedwaal het en hom by die groep haweloses aangesluit het nie, was hy ’n bron van plesier in ons huishouding. Snaaks genoeg was hy die enigste kind wat in sy volwasse jare vir ons pa “Pa” begin sê het. Ons ander het “Derra” bly sê. Vir my het hy Djig genoem, en soms spottenderwys Bene. As kind was ek glo baie maer.

Dit was ook Japie wat my en my suster vir die eerste keer aan die bioskoop blootgestel het toe ons nog op laerskool was.

“Dit is ’n Bybelprent wat speel. Ek sal sê ons gaan na ons tante toe. Mamma en Derra sal nie vir ons kwaad wees nie,” het Japie verduidelik.

Die prent was Ben-Hur. Charlton Heston was Ben-Hur, oftewel Judah Ben-Hur. Die prent was nagenoeg drie ure lank en het dele van Jesus se aardse lewe bevat. Halfpad deur die prent is daar onderbreek vir interval. Dan kon die fliekgangers ’n bietjie bene rek en ’n verversing koop. Japie het vir ons tjips gekoop. Na interval is die ligte weer uitgedoof om die tweede helfte van die prent te vertoon. Ons het dit geniet.

By die huis het ons vir Mamma en Derra van ons ekskursie vertel. Watter storietjie Japie opgemaak oor waarom ons in die bioskoop beland het, was sy geheim. Hoe dit ook al sy, in ons kinderlike opgewondenheid het ons ons ouers van die prent vertel, maar merendeels uitgebrei oor die gedeeltes van Jesus se kruisiging. Ons ouers, wat gelowige mense was, kon nie vir ons kwaad raak nie, al wou hulle. Japie is net ernstig vermaan om nooit weer so onder valse voorwendsels vir ons bioskoop toe te neem nie.

Gabby’s Corner was die bymekaarkomplek van ’n groepie haweloses. Daar het hulle gewoonlik gebedel vir geld en kos, en hulself aan drank verslaaf. As hulle nie drank kon koop nie, het hulle hulself tot brandspiritus gewend. Vandaar dat mense na hulle as spiritusdrinkers verwys het. Dit is waarheen Japie sy toevlug geneem het toe hy nie meer gelukkig in die ouerhuis gevoel het nie. Hy het ’n spiritusdrinker geword.

Dit sal nie die eerste keer wees dat ek vir Japie oplaai en huis toe neem nie. Soms het hy gewillig saamgery, ander kere was hy stram.

Geeneen van ons kinders is ooit die huis belet nie – ook nie Japie nie. Die orde van die dag soos in menige huishouding van die tyd was: As jy nie meer wil skoolgaan nie, moet jy gaan werk; as jy nie werk nie, kan jy nie eet nie. As jy wel werk het maar nie geld afgee nie, kan jy ook nie eet nie. My pa was baie gesteld daarop. My ouer broer se werkery was later jare maar ’n aan-en-af-storie. So ook hul bydrae tot die huishouding. In haar moederhart kon my ma nooit toesien hoe haar kinders kos geweier word nie. Dus het sy maar altyd skelmpies kos gegee. Gedurende die week sal my pa nie veel praat nie. Dalk net binnesmonds mompel of teenoor my ma in die slaapkamer sy ontevredenheid te kenne gee. Naweke was dit ’n ander storie. Dan het my pa die skuldiges hardop en direk aangespreek.

My ma se skelm kosgee-ery het dikwels spanning en wrywing tussen my ma en my pa veroorsaak. Die aanspreek en onsmaaklikheid het my ouer broer egter nie veel gepla nie. Hulle het net gesorg dat hulle so ver moontlik uit my pa se gesigsveld uit bly. Maar met Japie was dit anders. Hy het alles ter harte geneem. My pa se aanspreek het hom diep ongelukkig gemaak. Toe hy nie meer die verwyte en onsmaaklikheid in die huis kon verduur nie, het hy hom tot die strate gewend. Daar het hy baie gou ’n groepie gekry by wie hy hom kon aansluit.

Eendag in die winter het Japie koud en nat uit eie beweging by die huis aangekom. Maar hy was nie alleen nie. Daar was ’n vrou saam met hom. My ma het toegesien dat Japie en sy metgesel hulself versorg, droë klere aantrek, en vir hulle kos gegee om te eet. Toe dit slaaptyd raak, het my ma vir Japie ’n slaapplek in die kamer berei, en vir die vrou ’n kooitjie in die kombuis gereedgemaak. Japie was nie tevrede nie.

“Ek wil by my vrou slaap, Mamma,” het hy gesê.

“Maar Japie, julle is mos nie getroud nie. Dis sonde. Ek kan nie toelaat dat jy onder ons dak sonde doen nie. Ons het jou mos nie so grootgemaak nie. As julle nie getroud is nie, kan julle nie saamslaap nie,” het my ma volgehou.

“Dan slaap ek en sy maar buite.”

Japie het die kooigoed geneem en vir hom en sy “vrou” buite onder die afdakkie ’n slaapplek berei en daar gaan slaap – die koue en die reën ten spyt. Die volgende oggend vroeg is Japie en sy “vrou” weer vort.

Japie se optrede van daardie aand het my diep ontroer. Terselfdertyd kon ek dit nie verhelp om hom heimlik te bewonder nie. Hy was bereid om sy warm slaapplek binne die huis prys te gee en die koue te trotseer om saam met die vrou aan wie hy gewoond en geheg geraak het te slaap – soos wat hulle daaraan gewoond is daar waar hulle ook al saans hul koppe neerlê.

Ek stop by Gabby’s Corner aan die oorkant van die pad. Op die hoek staan die groepie haweloses. Hulle sien verwaarloos en beteuterd daaruit. Ek klim uit en wink na die groepie. Iemand wat die motor herken vestig Japie se aandag op my. Vol verwagting kom hy nader. Ek klim uit.

“Hallo, Bene. Ek is bly om jou te sien, man. Help my met ’n brood se geld.”

“Middag, Japie. Hoe gaan dit hier? Ek het jou kom haal. Jy moet huis toe kom.”

“Nei man, Pa is te kak.”

“Derra sal nie weer so kwaai wees nie, man,” probeer ek hom gerusstel. “Mamma het mooi met Derra gepraat. Ons wil almal hê jy moet huis toe kom.”

“Nee man, Bene. Jy sê nou so. Maar dis net ’n paar dae dan begin Pa weer kerm oor werk en geld. En jy weet ’n man kry nie sommer werk nie.”

“Japie, kom huis toe. Alles sal regkom. Jy sal sien,” probeer ek ’n laaste poging aanwend. Maar tevergeefs.

Ek koop vir Japie die brood en gee hom ook ’n paar sente. Toe is ek daar weg. Japie wou nie huis toe gaan nie.

 

’n Paar maande later is ek getroud en woon saam met my vrou by my tante in ’n kamer.

Een Sondagoggend vroeg roep een van my niggies na my in die huis.

“Jan, hier is iemand vir jou by die hekkie. Dis ’n vrou. Sy vra of jy hier woon. Sy sê iets van Japie.”

Ek is dadelik buite. By die hekkie herken ek die vrou wat daai aand saam met Japie by die huis aangekom het. Sy herken my – seker ook oor die kere wat ek vir Japie by Gabby’s Corner kom soek het.

“Meneer,” sê sy, “Meneer moet dadelik kom. Japie is dood.”

“Dood? Hoe bedoel jy? Wat het gebeur?”

“Ek weet nie, Meneer. Toe ek vanoggend wakker word, toe lê Japie stokstyf langs my. Die antie daar naby het die poeliese gebel. Toe kom haal hulle vir Japie.”

“Dankie dat jy kom sê het.”

Intussen het die res van my tante se huishouding kom aansluit en die gesprek aangeluister. Ek maak verskoning by die huismense en sê dat ek moet gaan kyk wat aangaan.

“Kom,” sê ek vir die vrou. “Daar is net een plek waarheen ons nou moet gaan.”

By die lykshuis word ek toegelaat om in te gaan. Ek trap versigtig tussen die lyke deur op soek na Japie. Die uitkenning duur nie lank nie. Die doodsertifikaat sê iets van hartversaking weens blootstelling.

Die hartseer werklikheid dring tot my deur: Japie het in die nag in die oop veld onder die sterrehemel gesterf.

The post My broer Japie appeared first on LitNet.

Viewing all 434 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>