Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all 428 articles
Browse latest View live

Estie

$
0
0

Foto: Canva.com

Vroeg in 2008 kry ek ’n geleentheid deur ’n vriend van my pa se pel om my vakleerlingskap te gaan doen by ’n nuwe ateljee wat in Irene oopgemaak het.
Nog nat agter die ore en met die enigste knopieshemp in my besit, daag ek toe semi-stiptelik op vir die onderhoud by my eks-baas, die gesiene meneer Pheifer – ’n man só lank, hulle kon hom maar net sowel meneer Sevener genoem het.

In elk geval, ’n kort storie lank; ek hou toe daar stil en gaan klop heel bedees op die maat van ek-is-laat-maar-paraat aan sy kantoordeur.
“Kom binne!” roep hy.
Ek maak toe so en met die intreeslag steek hy sy hand uit met so aweregse pinkie wat apart blad wil vat.
En soos dit maar in ons ingefoeter is op Die Vlakte, haal ek my keps af, vat stewig terug en groet hom ordentlik met ’n “mirrag Oom”.
“Sit,” sê hy en ek maak myself dadelik gemaklik so asof ek die tipe ding al etlike jare doen.

“Ek hoor jy was in Waterkloof?”
“Ja Oom, hulle sê so.”
“Matriek deurgekom?” skerts hy.
“Nee, nee Oom, sommer so Centurion deur.”
“O, jy’s ’n nar nè?” vra hy.
“Nog so bietjie Oom, maar ek het darem al ’n Valoid in.”

Met ’n grynslaggie en gemengde gevoelens in sy oë laat hy my sommer dadelik weet: “Ek like jou. Sien jou môreoggend. Selfde tyd selfde plek. En moet nou nie dat jy laat wees nie!”

“Baie dankie Oom, ek maak so!”
En ek skud weer blad, spring in my Corsa en spin daar weg, want dis mos nou iets groots om te vier vir twee eerstejaars drieuur op ’n klein-Saterdag.

Onderweg na die woonstel gooi ek my tjom, Alanski, ’n Mxit en sê hy moet klim, want so arm soos ons is, het ek vir ons ’n geldige rede om vanaand ’n ietsie te vat. En kyk, vir hom smeek jy nie om agter ’n koue enetjie in te klim nie – hy gehoorsaam uit en uit die beleid van ’n goeie tyd.
En daar vaar ons die middernagtelike ure in.

Volgens ’n vertroulike bron beland ek en my tjom toe omstreeks 04:00 daardie volgende oggend by die woonstel saam met ons nuutgevonde pel, Vlossie, uitgepass onder ’n kombers van steak- en-kidney-vlokkies met die reuk van borrelgombruismelk wat ’n bedompige spaarkamer oorheers.
En nét toe die son ons spyt en verwyt deur ’n gleuf van die gordyn by ons begin inbak, lui my foon.
Hier met die twaalfde lui skrik ek uiteindelik wakker uit ’n vlieërplank-ekspedisie deur die melkweg en antwoord soos Jimmy Abbott wat sopas ontwaak het na ’n mildelike dosis narkose.

“Yès?”
“De Beer! Waar is jy!?”
“Byrie hys, hoekom?”
“Wat soek jy daar!?”
“... Ek bly hie’ ... wag...wie praat nou?”
“Dis jou baas De Beer, en as ek jy is kry ek my gat in rat op pad werk toe, sodat jy vir my kan kom verduidelik hoekom jy op jou eerste dag van werk laat is!”

En met ’n “Jammer Oom! Hou daar ek's nou daar,” vlieg ek uit die bed met my klere en skoene, gelukkig nog aan my lyf.
Met geen tyd om die dou van die lelie af te skud of tande te borsel nie, gryp ek toe sommer so in die uithardloop na ’n proppie mondspoelmiddel en dié sluk ek toe per abuis uit spiergeheue vanweë die vorige aand se manewales.
En da’ gat ek, in my Corsa met die handrat op Afrikaans.

Ek was nét deur die ergste verkeer en byna by die ateljee toe my foon weer lui:

“Hello!”
“De Beer, waar trek jy?”
“Sterk op pad Oom, hier in Boeingstraat.”
“Jy moet asseblief dadelik omdraai en my dogter gaan oppik by die skool en dokter toe vat.”
“Reg Oom, ek maak so. Wat is haar naam en by watse skool?”
“Estie,” sê hy. “Estie Pheifer by Waterkloof Hoërskool. Vra net vir tannie Siska by die voorportaal.”
“Reg so Oom, ek maak so.”

En ek dag by myself, bliksem, ek het nie gedink daai plek sal my weer sien of wil sien nie. Maar ag wat, dié keer word ek darem betaal en as dit pap reën, skep mens moed.
En daar gat ek, voet in die hoek, swak op pad na my alma hater, dié Hoërskool Waterkloof.

Ek het skaars parkeer toe die tienerangs van ouds soos ’n wegloophond van vooraf teen my wil opspring. Maar ek ruk my toe reg, skop hom weg en teug nonchalant aan ’n Lucky Strike terwyl ek die detensielokaal ten alle koste uit my gesigsveld hou.

In die voorportaal kry ek vir tannie Siska en vra of sy my nie asseblief na ’n ene Estie Pheifer in die siekeboeg kan beduie nie.
“Ja,” sê sy. “Ek dink sy lê in een van die laaste kamers op die tweede verdieping. Vra dalk net vir Niel, die nutsman, waar dit presies is. Hy is daar bo doenig.”
En sonder om te probeer onthou, is ek die gang af en al hygend soos ’n handsaag by die trappe op.

By die eerste deur kry ek toe vir ou Niel in ’n vernielde nuwe O’Neill-hemp besig om al wat blom is teen die ablusiedeur te verf. Ek vra toe of hy nie dalk weet waar Estie lê nie.
“Jong, jy moet maar in die gang afloop en hoor by een van die laaste vertrekke,” sê hy. En met ’n kopknik en dankseg, sit ek my soektog volstoom voort.

Aan die einde van die gang by die laaste deur op linkerhand gewaar ek ’n jong blonde verpleegstertjie wat kruisbeen staan en leun teen die deurkosyn, vasgenael op haar selfoon soos ’n junkie aan die tik en sálig onbewus van my woordelose teenwoordigheid.

Ek steek toe maar my kop versigtig verby haar by die kamerdeur in en daar sien ek ’n jong skoolmeisie lê met haar vel oortrek van die rooi knoppies. Ek dag toe by myself, dit moet seker Estie wees, want sy lyk bra olik en kreun soos ’n gewonde wildsbokkie. Teen daardie tyd het ek toe darem al die verpleegstertjie se aandag wat hier digby my in die deur staan en my aangluur asof ék die rondloperkat is wat haar persiese tapyt geru(ur)ïneer het.

“Verskoon tog” vra ek saggies. “Is dit Estie dié?”

En met ’n frons gevolg deur ’n doodsgluur wat my so effe laat rittereer, antwoord sy my in die suiwerste Pretoria-Oos-aksent ooit: “Whirrhiesô, hellouw!? Dis wâtirpôkkiesss ...”

The post Estie appeared first on LitNet.


Honourable discharge – José se riem

$
0
0

Foto: Unsplash.com

Die misweer blaas teen die voorruit van die kombi wat hoes-hoes koers kies van Woodstock-polisiestasie na Tokai. Seelangs vluglees meeue ou koerantberigte. Die winter is pure Kaaps en die wind span ’n wasemtent teen die dakke vas.

“The biggest battle of life is in between …”

“José?”

Hy wikkel sy arms en kyk na die boeie wat sy polse vasklem.

José Duarte, sestienjaar oud. Poging tot moord. Eerste oortreding. Graad tien. Verwys na Tokai-verbeteringskool. Twee na drie jaar. ’n Relatiewe standaardverwysing, dink ek. Blok 7, maksimumsekuriteit en D-groep so vir vier maande. Klasbywoning, intervensie, hergroepering, voorregte …

Die voet van Tafelberg word spierwit verlig en ’n lamppaal in Observatory lyk soos ’n lugskulp uit ’n kruitvat wat rooi vonke in die reënweer blaas.

“Dis nou regte Vrystaatse donderweer. Ons in die Kaap is nie gewoond hieraan nie.”

José spoeg op die sitplek langs hom. Sy oë lyk soos die grys weer om Duiwelspiek en sy blik flits soos wit bliksem oor my skouer. Hy kap sy kop ritmies en onophoudelik teen die boeie en stamp met sy regterknie teen die rugleuning van die bestuurdersitplek.

“Duarte!”

José leun terug en lag hard, maar daar was iets anders in sy oë. Hý was anders. Dit is asof die grys weer sy glottis tussen elke bui reën oopbreek.

“As jy my pa was het ek jou ook geskiet,” sê hy en lag weer. “Jy weet obviously hoekom ek gevonnis is.”

“Ja, ek weet baie goed en ons gaan mekaar nog goed leer ken. Jy is my verantwoordelikheid vir die volgende twee jaar.”

“Jy is ’n wat dan? ’n Maatskaplike werker?” vra hy en skop met sy voete teen die rugleuning vas.

“Nee, ’n terapeut. ’n Sielkundige. ’n Kwasi-sielkundige.”

“So, jy is nie bang vir my nie,” sê-vra hy.

“Kyk regs, José. Jy het seker al gehoor van Rhodes Memorial. En die geboue is die Universiteit van Kaapstad. Jy kan eendag hier kom studeer.”

Hy grinnik en leun met sy kop teen die voorste sitplek langs my. “Nee, my pa het gesê my soort gaan leer verder in Pollsmoor en ons vrek vroeg. Soos my hond.”

“Jou hond?  Het jy ’n hond, José?”

Hy stamp sy kop teen die leuning. “Gehád,” sê hy geïrriteerd. “Ek het ’n hondjie gehad toe ek nog klein was. Maar my pa het nie van hom gehou nie en elke keer as hy my geneuk het, het hy die hond ook geslaan. Hy het my hondjie vasgemaak en ons mag nie vir hom kos gegee het nie. Op ’n dag het ek toe besluit om sy ketting te breek en die voorhekkie oop te los en toe hardloop Rosco uit in die straat en ’n kar ry hom dood. En toe het hy vryheid gekry.”

Hy sit vir ’n oomblik stil en vloek sag. “My ma ook.”

Vryheid so? Vryheid is vir baie net ’n pseudo-werklikheid, dink ek hardop.

“Jou ma óók?” vra ek terloops.

“My ma het gesê dat vryheid nie bestaan nie. Hulle sê my pa het haar in die garage gekry. Bo sy kar. Maar dis wat húlle gesê het.”

Dit stortreën en al wat sigbaar is, is die remligte van voertuie wat in die voorruit weerkaats. Blou ligte flits en sirenes loei. ’n Ambulans beur tussen die verkeer deur en die goue myl in Rondebosch word ’n stilstaande roete vir swetsende motoriste.

Die weerkaatsing van sy nou grysgroen oë tuur terug na my in die truspieël.

“My ma het gesê dat die waarheid soos ’n gevlegde leertou is en dat dit nooit kan breek nie. Die waarheid lieg mos nie?” vra hy. “Sy hét mos vry geword?”

Die Kaap het vier seisoene in ’n somersdag. Constantiaberg wys so af en toe sy rugnate. Die sonstreep op my lessenaar lyk soos dronkverdriet. Lêers lê ongeorden rond. As jy nie ’n filing-system in jou kop het nie, hoe de hel kan jy jouself liasseer, dink ek hardhandig en stapel lewens op ’n hoop. Die intervensielyste moet oorgetik word dis Donderdag, ’n groepsessie vanmiddag oor uitvalle …

’n Foto van Emile in die boonste laai breek die dag oop en die roetine word eensklaps godverskriklike vergrepe na die dorslande van die Vrystaat, die ou kliphuis en die reuk van stof,  koring en sering, my ma en Emile. Die liefde in Emile se middeskoot het net nooit ophou bloei nie. Hy het ’n voloes leer liefkry en liefde gemaak met die nagpoësie wat hy so voluit bemin het. Dit het Pa net meer verwinter. Ons het ’n boomhuis met bamboes gebou. Emile het sy drome bloots gery en saalboom met die sering gesteek, maar sy boomkano het die spil geword. Sonder enige sweem van swaartekrag het hy vir die takke gelag en daarop gegly. Hy het die leisels geknoop om aan die boom in sy eie vryheid dood te hang ─ the biggest bloody battle of life is in between. Dit maak tóg sin, soms.

“Het jy onthou van Duarte?” roep Helmut in die verbygaan. “Die Junie-groep word discharge môre. Hy wil jou sien.”

Ek vlieg vervaard uit die kantoor, gang af. “Hy is nou net hier verby na jou kantoor toe,” sê ’n versorgingsbeampte ongeërg. “Hier is sy ontslag. Hulle is almal dieselfde. Verbeteringskoolkinders manipuleer jou. Lieg en bedrieg en ...”

“Fokof Barnard! Jy het weer te veel gesuip.”

José sit gemaklik terug op die leunstoel in my kantoor. “Ek word môre discharge,” sê hy en glimlag.

“Ek weet, ja. Al jou reisreëlings is getref. Julle is ’n groep van vier wat by Jeppestasie afklim. Van daar sal jy begelei word na jou tydelike adres tot wanneer permanente verblyfreëlings getref word.”

José haal ’n koevert uit sy baadjiesak. “Dankie,” sê hy. “Die brief is net om dankie te sê.”

“Dankie José, ek waardeer dit,” en liasseer die skrywe sorgvuldig tussen die chaos.

“Ek het nog iets vir jou,” sê hy. Hy steek sy hand in sy broeksak en hou sy toegevoude vuis na my regterhand. “Dè, vat dit. Ek het dit vir jou gemaak.”

“Is dit soos ’n lucky packet?”

Ek huiwer ’n oomblik.

José glimlag. “Dit hang af hoe jy dit sien,” sê hy en druk ’n leerarmbandjie in my hand. “Ek het dit gebrei en gevleg. Vir jou.”

“Dankie José,” maar hy sien dat my woorde uitloop op ’n dooie metafoor.

“Die riempie is die tweede een wat ek gevleg het. Ek het die lang leerriem vir my ma gevleg.”

Hy staan op en steek sy twee hande uit. “Die waarheid lieg mos nie,” sê José en druk my hand ferm, fermer, seer en laat los die groetgreep toe Barnard se naderende gesteun in die gang hoorbaar word.

’n Jonasklip, dink ek. Was daar dan enige, énige gelykenis in die retoriek?

“Ek moet gaan pak. Daar is nog net een ding wat ek jou wil vra,” en hy stap deur se kant toe met sy oë gerig op die lessenaar se oop laai.

“Vra maar,” sê ek en hy kyk my stip in die oë,

“Waar lê jóú vryheid dan?”

The post Honourable discharge – José se riem appeared first on LitNet.

André Tanneman se tronk

$
0
0

“Kyk,” sê Ernst, ons werfhaan van ʼn faktotum, vir André Tanneman, “die huwelik is ʼn tronk. Elke ou se view lyk anders, maar dit bly ʼn tronkvenstertjie waardeur jy kyk.” Hy gooi sy kop agteroor en met ʼn gekromde arm bring hy die Voyager tussen sy duim en wysvinger nader aan sy mond. Hy teug diep aan die sigaret en jaag dan die rook met die punt van sy tong by sy mondhoek uit.

“Ja, Ernst,” lag André Tanneman selfingenome, “jy kon dit net nog nooit regkry om eerlik met ʼn vrou te wees nie. Dit is hoekom jy so negatief oor die huwelik is. Eerlikheid, dis waarop ek my huwelik bou. Dan word die huwelik ʼn speelveld vol opwinding.” Hy vou sy beursie met ʼn foto van sy mooi vrou daarin toe, en met ʼn groot glimlag gooi hy sy hand in ʼn sirkel deur die lug as ʼn teken dat Jo nog ʼn ronde vir die manne moet bring.

Pierre Pond het op ’n dag vir André Tanneman ná nege gaatjies gholf op Silver Lakes hier aangebring. Hulle het met die Tanneman se Hummer hier gestop. Binne ʼn halfuur het ons geweet hy is ʼn tandarts in Faerie Glen, sy vrou ʼn suksesvolle advokaat en dat hulle in Silver Lakes bly. En as jy die jong Tanneman kan glo, is hy die afgelope jaar al die toonbeeld van ʼn man wat gelukkig getroud is. Hy het ʼn mooi vrou, albei verdien goeie geld en hulle gun mekaar die ruimte om individue in eie reg te wees. Dis tóé dat hy die foto uitpluk, sodat almal mooi kan sien hoe gelukkig hy dit met ʼn vrou getref het.

“Aitsa, sy is nie ʼn shifting spanner nie,” het Ernst soos ’n steppewolf wat tjank uitgeroep, “sy het die curves van ʼn vice grip.”

Flip Voël se strandbalpens het gehop van opwinding en Vet Peet het ʼn onsigbare druppel drank van sy pers neus afgevee. Selfs Vleis Beukes het vir ʼn oomblik uit sy gebedshouding ontwaak en omgekyk na ons wat op die stoep sit. Dis net Pierre Pond wat ongeërg ʼn Camel uit sy sigaretpakkie geskud en ʼn aansteker by Jo gebedel het. Nie ’n woord gepraat nie.

“Vat hom, Flippie, vat hom vas,” het Skollie bo van die staalhek af gekwaak. Maar niemand het agtergekom die papegaai het vir die eerste keer gepraat nie. Die manne se oë was vasgenael op die foto van die brunet in ʼn bikini op Margate se strand.

Die toneel het sy gebruiklike kwota skerpsinnighede ontlok.

“Tja, hulle sê mos ’n vrou het eintlik net een van twee keuses,” het Ernst laat loop, “’n lui lange of ’n flukse kortetjie.” Hy het deur ’n bol rook na André Tanneman getuur. “Watter een van die twee is jy, Tanneman?”

“There’s too much violence in good sex to think it can last forever,” het Joof sy oordeel oor die klaarblyklik volmaakte huwelik uitgespreek.

Pierre, wat gewoonlik die geselskap oorneem, is die enigste een wat nog niks gesê het nie. Dit het my gepla, maar ek het nie veel aandag daaraan kon gee nie.

“Jis manne, sit weg daai foto, julle maak vir Thys jealous,” het Flip Voël laat hoor, terwyl hy vir Suinige Thys met sy elmboog in die ribbes pomp. Dit het almal laat uitbars van die lag.

Dis alombekend dat Suinige Thys brand van begeerte om weer te trou. Hy is op al wat ’n dating site is, en hy kom kort-kort daar aan met ’n mooi vrou, want Suinige Thys is nie ’n lelike ou nie. Binne ’n maand na die ontmoeting haal Suinige Thys sy ouma se ring uit die kluis, laat verstel dit by die Pakistani op die hoek, en by Garmar langsaan koop hy vis en tjips, en daai aand gaan hy op sy knieë om die groot vraag te vra.

Byna elkeen van die vroue sê ja, maar binne die volgende maand kom hulle agter hoe suinig Thys regtig is en ook dat hy nie juis die toonbeeld van intelligensie is nie. Dan los hulle hom, en die ses voet vyf lange Suinige Thys kom sit en ruk van die huil hier by Hoot ’n Toot vir die volgende week, waarna hy sy soeke na ’n droomvrou voortsit.

“Hoeveel verstellings dink jy sal jou ouma se ring nog kan deurmaak, Thys?” het Vet Peet onsimpatiek gevra. Hy het die ys in sy glas met sy wysvinger geroer. Ek het effens geril oor die swart halfmaan onder sy nael wat ’n mens nie kan miskyk nie.

Thys het net verleë gelag, want met dié manne is dit soms beter om liewer nie te antwoord nie.

André Tanneman het breëbors tussen al die gejil deur gelag. “Julle mag maar kyk. Ek weet my Ansa maak die manne mal. Maar weet net, ek is die man wat vanaand langs daai lyf mag inkruip.”

Dis toe dat Ernst soos ’n Prediker van ouds met sy siening oor die huwelik vorendag kom. Met bietjie van ’n oordrewe stelligheid vir ʼn man wat nog nooit getroud was nie, het ek gedink.

Maar ek kry nie kans om daarop te reageer nie. André Tanneman se iPhone skal die wysie van “Dis hemel op Tafelberg” uit. Die skerm flikker ANSA ENGEL.

“Hallo, engel,” groet André Tanneman met ʼn Silver Lakes-glimlag.

Ek weet nie of hy dit doelbewus so gestel het nie, maar toe sy praat, hoor ons almal die stem van die vrou met die vice grip-kurwes. “Waar is jy?”

“Ek en Pierre drink ʼn drankie saam met die manne by ʼn kroeg in Silverton, engel.”

Toe volg daar ʼn stilte soos lou bier wat verslaan het.

“Ek wil net seker maak of ek reg verstaan …” reageer die stem, wat allermins klink of sy op Margate se strand uitspan. “Verwyl jy jou middag in ʼn kroeg? Ontspan jy terwyl ek myself besimpeld moet werk?”

“Ek ry nou, my engel,” antwoord hy. Hy druk die foon in sy sak. Sonder om terug te kyk, stap hy na sy Hummer toe. Sy skouers hang verleë. Vergete is die ronde drankies vir almal.

“Going to the chapel, gonna get married,” sing Ernst terwyl hy ʼn Voyager uit die pakkie haal, dit in die lug tol en netjies tussen sy lippe raakvang.

“From beauty queen to ice queen without a climate change,” brom Joof.

“Wie gaan saam met my Maders Hotel toe?” vra Ernst. “Daar gaan vanaand ʼn paar shifting spanners wees wat werk soek.” Hy blaas kringetjies rook deur sy dun lippies wat hy gerond hou. Hy tik, tik, tik met sy een vinger teen sy gebolde wang om die kringetjie voort te bring.

Net Flip Voël reageer. “Kan ons eers vir Skollie by die huis gaan drop?”

“Kom,” sê Ernst, sy reënmeterogies geskreef teen die Voyager se rookspiraal, “ons gaan vanaand boogie.”

Terwyl die twee wegstap, flikker Pierre Pond se Huawei. Net voor hy dit optel om die boodskap te lees, sien ek die naam ANSA BABE op die skerm.

Hy lees die boodskap, glimlag en roep agter Ernst aan: “Ernst, sal jy my by die flats gaan drop, asseblief?”

“Een man se tronk is ʼn ander man se speelgrond,” knipoog hy vir my, voor hy agter Ernst en Flip Voël aandraf.

 

Lees ’n kort onderhoud met Izak du Plessis oor “André Tanneman se tronk” hier:

Korona-kortverhaalfees: Izak du Plessis oor “André Tanneman se tronk”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post André Tanneman se tronk appeared first on LitNet.

KleinKosie

$
0
0

Ek skop ’n leemklip tot teen die muur van die skoolgebou.

“Ek dink ons moet môre gaan.”

Ek maak of ek nie vir Ben hoor nie.

“Net as jy vir Pa sal vra.”

“En net as jy die geld by KleinKoos sal kry …”

Sonder om na Ben te kyk, tel ek die klip op.

“Jy weet hoe befoeterd KleinKoos is …” Die sug in Ben se stem ken ek alte goed.

“Gaan nóú.” Ek trek aan een van my vuil skoolkouse. Ek wil ook die gevaarte sien wat KleinKosie glo met sy eie twee hande gevang het om vir almal te wys hoe dapper hy is.

“Oukei, ek sal.”

Ek loop oor die speelgrond tot onder die bloekoms waar ’n paar hoërskoolmeisies op die baksteenmuurtjie sit. Ek waai vir Liz. Sy blaas vir my soene. Ben sê ek mag nooit met Liz praat as ons by die skool is nie, maar ek steur my nie aan hom nie.

My oë soek na KleinKosie. Ek gewaar hom onder die peperboom en ek hoor die woord “mamba”. Ek sluk swaar aan my spoeg.

“Anna Kapanna Banana!”

KleinKosie het nog nooit van my gehou nie. GrootKoos moes sy hare gesny het. Sy kopvel lyk blouerig. Dit laat my ril.

“En wat soek jy?”

“Ek en Ben het vir jou geld …”

KleinKosie krap sy kop asof hy verdomp nie verstaan wat ek sê nie.

“Kyk self.” Ek maak my hand oop.

Hy sê niks, maar ek kan sien hy is bly oor die geld. Ek sit die munte in sy palm. Dit was toe nie eers so erg om hom te vra nie.

“Woensdag ná skool. En moenie laat wees nie.”

 

Ben kyk oor die sout- en peperhouers na my. Ons is tjoepstil aan tafel.

“Moenie vir my sê julle twee wil ook die absurde gade slaan nie?” Pa lyk teleurgesteld in ons.

“Asseblief, Pa! Almal het al.” Dis Ben wat so dapper is.

Ek stoot die silwerige vel van die vis op my bord rond.

“Dis ’n skande, dis wat dit is, om die arme dier so aan te hou!”

Ek kan nie anders nie. “Asseblief, Pa! Ben kan ons vat.”

 

Pa hou die bakkiesleutel na Ben uit. “Stadig om die peperboomdraai!”

“Dankie, Pa.” Ben vat die sleutels versigtig. Hy is twaalf, maar bestuur al vandat hy tien is.

Die ou bakkie vat dadelik, en ek voel skoenlappers op my maag wanneer ons in die stofpad wegry.

 

KleinKosie staan by die tuinhekkie vir ons en wag. Ek hoor ’n hond in die huis blaf.

Deur die kombuisvenster sien ek Kosie se ma. Sy droog skottelgoed af met ’n rooi vadoek.

Ben stoot sy bors uit, trots en regop. “Nou laat ons sien! Of lieg jy vir almal?”

Kosie loop voor ons uit. Hy lyk moerig.

Hy gaan staan voor die ou Chevy wat sy pa gekoop het toe hy sy liksens gekry het. Toe loop rol GrootKoos die kar, en het nooit weer bestuur daarna nie. Die kar is vol duike.

Ek tree versigtig nader en kyk deur die Chevy se venster.

Ek ruk terug.

Daar’s ’n rot op die agterste sitplek. Ek kan sien die ding is dood, maar sy vervlakste pienk oë is nog oop.

Ben vat my hand, en ons loer nou saam deur die venster. Die dooie rot met die fyn pootjies lê teen die dun lyf van ’n mamba. Dit lyk of iemand die slang met ’n ligte grys poeier geverf het.

“Is mambas dan nie swart nie?”

Nie een van die seuns antwoord my nie. Die mamba se tong flits. In en uit.

Ben los my hand en begin teen die kardeur stamp. “Ek gaan die slang vrylaat! Ek gaan!”

“Die deure is gesluit, jou dommie.” Kosie staan skielik regop. “Ek’s nou gatvol vir julle twee. Julle moet voetsek.”

In die huis begin die hond tjank, asof iemand op sy stert getrap het. Ek en Ben staan doodstil, want ons hoor ’n motorfiets in die paadjie aankom. Ek en Ben ken Liz se fiets, maar KleinKosie tuur met nou oë.

Dan snap hy. “Dis daai simpel Engelse meisiekind.”

“Hei, sy’s nie simpel nie!

“Dis nie wat my pa sê nie.”

“Ag wat weet …?” Voor ek my sin kan klaarmaak, skop Ben my teen die skeen.

Liz se motorfiets verwissel na ’n laer rat. Sy hou reg voor ons stil en klim van die fiets af.

Kosie se gesig lyk soos ’n vlermuis s’n. Hy staar haar aan wanneer sy stilhou en afklim, sy neus op ’n knop getrek.

Sy kyk na my en Ben. “Are you two okay? I saw the bakkie …” Dan na Kosie: “So, ek hoor jy hou ’n mamba hier aan?” Haar Afrikaans is perfek.

Hy antwoord nie.

“Laat ek sien, toe. Net vinnig.”

“Dit gaan jou kos.”

Liz kry geld uit haar jeans se sak en druk dit in Kosie se hand.

“Dis nie genoeg nie.” Kosie lyk gemeen.

“Ag loop bars, Kosie.”

“Ek sê dis nie genoeg nie! Is jy doof?”

Kosie se stem is so kwaai dat selfs Liz omkyk. Dan hoor ek die kombuisdeur oopgaan en die hond kom soos blits aangestorm.

Ek en Ben hardloop saam na die tuinhekkie. Hy sukkel om dit oop te kry. As ons terugkyk, het die hond reeds vir Liz omgespring. Sy kake om haar bobeen.

 

Ben gee vir my die bakkie se sleutel. “Jy sal moet bestuur.” Dan bokspring hy oor die heining en hardloop na Liz toe.

“Kry die hond af!” Ben praat soos Pa as hy genoeg gehad het. “Nou!”

Kosie lyk skielik bang. Ek sien hoe hy frons. Seker oor die bloed. Hy gryp die hond aan die halsband en ruk hom van Liz af.

Ben help die bebloede Liz tot by die hek.

Kosie staan soos ’n standbeeld.

Ek moet bestuur, en my hande bewe. Ek is nie so goed soos Ben met bestuur nie.

Ben slaan die bakkie se deur toe. “Waar’s die bike se sleutels?”

Liz beduie dat dit in die motorfiets is.

Ben draf vinnig na die bike toe. Ek hoor hoe hy sukkel om die ding te start, maar toe vat hy. Hy wys ek moet voor ry.

Ek ry nie stadiger om die peperboomdraai nie en moet klou aan die stuurwiel.

Wanneer die stof soos ’n plaag oor die werf sak, kom Pa uit die plaaswinkel gehardloop.

Pa dra vir Liz die huis in asof sy ’n dogtertjie is. Haar wonde is diep en lelik, maar ek kan nie wegkyk nie. Ma knip die jeans met haar materiaalskêr.

Skielik word die badkamerteëls met die pienk rosies op te pienk vir my. Die Dettolreuk maak my naarder.

Ben hou Liz se hand vas. Hy is dapperder as ek.

 

Alles voel anders, asof iemand ’n fout gemaak het wat nie gefix kan word nie.

Ek sit langs Susan op die lae muurtjie agter die skoolgebou en trek my rofies los. Niemand durf touspring of albaster speel nie. Die seuns fluister onder die bome.

“Het jy gehoor?” Susan se gesig gril vir my rofie wat begin bloei.

“Wat?”

“Kosie se mamba is dood.”

“Het iemand hom vrygelaat?”

“Nee, stupid. Die ding is dood in die kar.”

Ek staan op en skop ’n klippie.

“Maar jy kan nog gaan kyk.” Susan is in haar skik dat sy meer weet as ek.

“Wat? Na die dooie slang?”

“Ja. Dis goedkoper, jy weet.”

Die skoolklok lui.

 

Lees ’n kort onderhoud met Merle Grace oor “KleinKosie” hier:

Korona-kortverhaalfees: Merle Grace oor "KleinKosie"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post KleinKosie appeared first on LitNet.

Aflossing

$
0
0

Foto: Pexel.com

Die motor het sy duur petrol gedrink en ek dink ek kan gou ’n koffie in die geriefswinkel gaan drink. Die Cafe le Ablution soos Stefan dit altyd genoem het. Daar kom soms van sy snaaksighede by my op.

Sal ek ’n tuisgebakte pastei koop? Ek wik en ... as jy een van daardie pasteie in het, moet jy juis nie weeg nie. ’n Vrou draai voor die toonbank om; sy lyk nes Andrea. Laat ek anderpad kyk, ek is te haastig. Ongelukkig het Andrea nog altyd ’n valkoog gehad. Skugter was sy nooit: “My magtig Sonette, Is dit jy? Wat maak jy hier?” roep sy oor die ganse verversingsarea uit. Nou ken almal my naam.

“Gooi petrol in; tap water af, soos ’n mens maar doen,” antwoord ek.

“Kom gee my ’n drukkie. Kom sit.” Toe sê sy die woorde wat ek gevrees het: “Ek wil alles hoor.”

Laat ek die eerste hou inkry. “Wat het van Gideon geword? Julle is toe mos getroud.”

“Hy sal nou-nou hier wees. Hy is daar agter besig met jy weet wat. Dit vat hom deesdae so lank. Hy sal nie glo wie sit hier by my nie.”

Moet tog nie die woord oumansklier gebruik nie. Dit laat my altyd dink seks, beteken knyp jou oë toe en byt op jou tande, dink ek.

“Jy lyk so goed,” sê Andrea.

O wee, die tipiese kommentaar geleen by die sosiale media, dink ek. Nog net die “so pragtig soos altyd” soos wat die FB-vriendinne by foto’s plaas. Laat ’n mens soms dink hulle het katarakte. Ek gee nie dieselfde kompliment aan haar nie. Sy was mooi toe sy jonk was. Sy lyk nou soos ’n kandidaat vir ’n Hannon makeover.  

“Ag wat, ons vertrou maar op ’n roompie wat die oogvelle van die wange af weghou,” sê ek glimlaggend. Nou moet ons twee nog die foto’s van kinders en kleinkinders op die selfone vir mekaar wys, dan is die ritueel verby en kan ek ry?

Hier kom ’n man. Iets lyk bekend. Gideon? In ’n kortbroek en Crocs. Nog nie die bergskilpad op die maag nie, maar die smal heupe en die ferm boude, styf in sy broek, wat gevra het, voel my? Weg. Sy hare is aan’t retireer.

“Gideon, kyk wie’s hier!” roep Andrea luid. Ons word nou die fokus van die eetplek. Hier word ’n herontmoeting voor ’n gehoor afgespeel.   

“My wêreld Sonette, wat ’n verrassing om jou hier in ons Swartland te sien!” Hy het my altyd geterg: “Sonet-tei, wat maak daardie ‘te’ agteraan jou naam? Dis nes ’n leë sleepwa aan ’n bakkie.” Dit is nie ek wat mal oor hom was nie. Dit was my suster, Selma, maar ek was darem ook nie blind nie.

“Vertel. Jy eerste. Waarheen is jy op pad?” vra Andrea.

“Ek woon nou in die Overberg en is op pad hier deur die Swartland; Calvinia se kant toe. My ma het in my ouma se huis gaan bly en nou is sy oorlede en ek moet gaan besluit wat om met die goed en die huis te maak. Die plek is oorvol. Die prokureur het vir my die voorraadopname gestuur. Koperbeddens, tafels, botterkarring, skoenlees, koskaste, jonkmanskas, riempiesbank, agt eetkamerstoele, ’n versameling outydse blikke, twee koffiemeulens ... ’n santekraam. Ek sal ’n paar klein goedjies vir my uithou, die res moet gaan.”

“En jou suster Selma? Wil sy nie ook iets hê om julle ma mee te onthou nie?” vra Andrea.

Ek moet Selma uit die gesprek hou, as ek kan. “Nee wat, Selma het nie nut vir ou goed nie.”

“Sy was ’n mooi meisie. Sulke helder oë veral. Het jy ’n foto?” vra Andrea.

Ek blaai deur my fotogalery. Dis die jongste een wat ek van haar het. Ek wys.

“Sjoe, sy is gelukkig! Een van daardie gesigte wat nie sy ouderdom wys nie,” sê Andrea.  Ja, dink ek, sy sal nooit ouer word nie.

“Ek was nogal erg oor haar,” sê Gideon. “Ek onthou ...”

“Jy was agter verskeie meisies aan,” tjip Andrea in. “Sommer gelyktydig ook, soos ek en Selma.”

“Jy moet vir haar groete sê as jy haar weer sien. Sê vir haar ek onthou die ou dae. Baie.” Sou Gideon met heimwee terugdink aan Selma?

“Ek sal, Gideon.” Dit mag dalk nie so gou wees nie.

Nou babbel Andrea sommer oor enigiets anders. Ja-nee, ek kan sien sy wil keer dat Gideon nie nou kom heimwee kry oor Selma en die ou dae nie. Sy sorg dat ek wéét: Gideon is nou háár man; sy het hom gewen. Sy wy uit oor kinders en kleinkinders. Hulle het drie. Die oudste is ’n seun, Volandré, die ander twee, dogters: Prismé en Dortandrea. Haar ma na wie die jongste vernoem is, se naam was Dorothea en dis darem te veel van ’n mond vol, sê sy.  

Ek is nie baie entoesiasties oor die kinders en kleinkinders se foto’s en geskiedenis nie. Ek vang Gideon se oog. Ek onthou hoe Selma nagte om gehuil het toe hy haar afgesê het. Is hy dalk nóú spyt, nou ná al die tyd? Dit was net ’n onpersoonlike, getikte brief van die landboukollege af. ’n Brief sonder hartjies en soentjies.

Selma en Andrea was toe nog in hulle matriekjaar. Selma het destyds gesê: Andrea vra alewig of Gideon al geskryf het. Sê sy ja, dan vertel Andrea sý het tog twéé briewe gekry. Sê Selma sy wag nog, dan het Andrea reeds een gekry. ‘Dit wys mos hy is nie ernstig oor my nie,’ het Selma by my gekla. Hoe weet jy Andrea lieg nie, het ek gevra.

“Jy laat my baie ver terugdink na ons skooldae en al die sports wat ons gehad het,” sê Gideon. “Ons was so sorgeloos, asof die toekoms vir ons en Suid-Afrika blink en oop voorlê. Nou sit ons kinders oorsee.”

“Ag Gideon, wat is jy vandag weer so neerslagtig?” Andrea streel sy voorarm. “Jy behoort bly te wees ons het Sonette so onverwags raakgeloop.” Sy draai weer na my toe. “Daardie suster van jou, Selma – ons was so jaloers op mekaar en dit oor Gideon. Ek wou haar oë uitkrap en sy myne seker ook.”

Ek glimlag beleefd.  

“Ek wonder partykeer hoe dit sou wees as Selma my nie afgesê het nie?” vra  Gideon.

“Nee,” sê ek, “jy het háár afgesê, nogal met ’n kort, onpersoonlike, getikte brief.”

“Is jy seker? Ek weet nie van ’n afsêbrief nie?”

“Ja, jy het een geskryf, ek het dit gelees.” Ek het die brief, gevlek met Selma se trane, in ’n legger saam met haar foto’s.

“Sy het mý afgesê, ook met ’n getikte brief. Hier is ’n slang in die gras, weet jy iets, Andrea?” vra hy met ’n frons in haar rigting.

Ek wou altyd weet of die brief eg is. “Selma het die brief vir my voorgelees. Die aanhef was: ‘My Allerliefste Selma’ en nie soos gewoonlik ‘My Patatrankie’ nie,” sê ek. “Vir Selma het dit beteken dat jy klaar is met haar, Gideon.” Wat ek nie sê nie, is hoe dit Selma se hart gebreek het; hoe sy vir maande neerslagtig was.

“Ek het nooit so ’n brief vir Selma geskryf nie.”

Daar bly ’n stilte om die tafel. Andrea swig eerste. “Wag, ons moet huis kry. Ek het ’n afspraak by die haarsalon.” Sy maak ’n vae uitnodiging: “Jy moet kom kuier!” Geen adres, geen tyd; dan weet ’n mens mos dit beteken koebaai tot ons mekaar nooit weer sien nie. Gideon bly sit.

“Ag, dit maak tog nie nóú meer saak nie,” sê Andrea verleë. Ek en Gideon sê niks; ons wag op haar. “Oukei, ek bieg. Ek het die twee briewe geskryf. All’s fair. Vra vir Selma sy moet my asseblief vergewe. Ek verwyt myself al jare lank daaroor en sê vir myself dat sy dit buitendien nooit met die ou knorpot sou uitgehou het nie,” en sy sit haar hand om Gideon se nek en druk ’n soen op sy wang: “Nè, my liewe ou Gieddie.”

“Dit was ’n gemene ding om te doen, Andrea. Ek moet jou seker maar vergewe, maar ek is nie so seker dat Selma dit so maklik sal doen nie,” sê Gideon.

Ek staan op om te groet. Gideon gee my ’n drukkie: “Dit was goed om jou te sien. Sê vir Selma ek stuur al my liefde, sal jy?”  

“As ek kon, sou ek beslis vir Selma gesê het, maar sy en haar man is drie jaar gelede tydens ’n inbraak dood. Hulle selfone, beursies en die rekenaar is gesteel. Dit was al. Hulle is vasgebind en met plastieksakke oor hulle koppe getrek, het hulle versmoor.” Ek kry dit al hoe meer reg om daaroor te praat sonder om te begin huil.

 “Ek is seker in daardie oomblikke voordat die lig uit haar oë gegaan het, het sy die Onse Vader gebid en dit sê: Vergeef ons al ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”  

The post Aflossing appeared first on LitNet.

Sonia

$
0
0

Foto: Canva.com

Ysig. Als is wit. Sanitasiereuk misluk om die reuk van dood te verdoesel. Sy tree nader aan die oop deksel van die three-tear kis. Dis haar pa wat daar lê, maar tog ook nie. Onwerklik. Hoe sal sy weer kan voortgaan? Iets kort. Sy dag oue baard is ongewoon. Ooglede onnatuurlik toegetrek. Sy grys kuif netjies met die Brylcreem, wat sy spesiaal vir die ondernemer gebring het. Sy staan nog nader. Skrik. “Wees rustig,” maan sy haarself. “Dis Dad.” Iets kort. Sy gunsteling-nagklere steek onder die doodskleed uit.
“Jammer, mejuffrou.” Sy hop. “Jammer, ek wou u nie laat skrik nie.” Sy kyk na die boksie in sy hand. “Ek wou net seker maak oor sy tande.” Gapend.
“Ekskuus?”
“Ons sukkel om sy tande in te sit, wil u dit terugneem of kan ons dit in die kis plaas?” ’n Warm traan ontvlug oor haar sproetbevlekte wang.
“Dis wat kort!” Hoe sal hierdie vreemde man verstaan dat haar waardige professor-pa wou sterf die dag wat hulle sy tande getrek het? Hy het nooit eens sonder hulle geslaap nie.
“Ek skaam my dood, Sonsie.”
“Nee man, Dad! Niemand gaan dit eers agterkom nie.” Dis háár Dad wat hier lê. Haar als. Háár Dad...

***

“Skroeiend. Die enigste manier om daardie onvergeetlike Februariemaand te beskryf.” Dis hoe haar pa altyd die verhaal van haar koms begin het.
“Dad ...” Sy loer skaam na haar tone. “Toemaar.”
“Nee, nee, praat jou praat.” Hy klop met sy hand op sy bobeen. Haar gunstelingplek om te sit. Sonia maak haarself tuis op sy oumanskoot. As tienjarige was sy altyd ’n kop korter en ’n hele paar kilogram ligter as haar maats. Sonrooi hare wat speels aan haar lae rug kielie. Dit het haar nooit gepla om nie soos die ander te lyk nie. Dis net die een problem ...
“Dad, hoekom het ek hierdie lelike vlekke op my lyf?” Skok. Die vraag het vroeër gekom as wat hy verwag het. Sy vingers wat begin skeeftrek van die artritis vryf sag oor haar vel en die rooibruin vlekke.
“Die dag wat ons jou gekry het, was ’n skroeiende Februarie ...” Sy skuif haar gemaklik. ’n Verhaal spoel oor sy lippe wat eers jare sou teister, maar later soos ’n sprokie sou voel. “’n Genade-dag ...”

***

Grové sit ’n koppie tee voor sy vrou neer. Haar oë staar vas na die sagte pienk babakombersie in haar hande. Vir die derde maal reeds ongebruik. Oë wie se siel lankal nie meer lewe nie. Donker oë omkring met poffertjie-ooglede en donker kringe. “Ek gaan ’n entjie stap.”

Sy hand rus sag op haar rug. Sy ruk weg. Grové slaan sy blik na sy voete. Hy twyfel of sy hierdie maal gaan terugkeer. Die donkerte het haar toegevou. Grové se daaglikse roetine begin met ’n stappie om die veiligheidskompleks. Hoë heinings versier met elektriese draad druk hom vas. Voor Mara in haar swart kombers weggeraak het, was status en uitbreiding haar grootste uitdaging. Ná sy daaglikse stap is dit collar and tie. Groet sy afsydige vrou. Vasgekeer in die verkeer. ’n Luukse Merc maak dit nie gemakliker nie. Professor Grové Stander, voor ’n lokaal regstudente.
Dié skroeiende Februarie-oggend sou als verander. Grové se gedagtes word onderbreek deur ’n sagte geluid. Maak nie saak waar jy woon en hoe upper-class die mense is nie, rondloperkatte sal daar altyd wees. Hy stap in die rigting van die oranje skip. ’n Klein katjie sal Mara dalk help. As mense hom darem nou elmboogdiepte in ’n skip moet sien. Die geluid is stil. Soek onder die vullis. Miskien het hy hom verbeel. Nes hy omdraai om weg te stap, hoor hy weer die geluid. Stadig stap hy agterom die skip. Wil nie die diertjie verwilder nie.
Grové retireer. Die klein verbrande naakte lyfie se armpies tas rond in die lug. Sy hemp vibreer effens soos sy hart klop. Tyd staan stil. Die wêreld om hom verdwyn.
Grové sukkel om die voordeur oop te sluit. Die dogtertjie, onder sy hemp gekoester, se asem begin normaliseer. “Mara.” Sagter toe die lyfie skop. “Mara ...” Sy vrou sit steeds verstar op die bed. Met onervare hande haal hy die lyfie versigtig uit. “Kyk.” Geen reaksie. “Mara, kyk hier.”

Hy hou die lyfie voor haar oë. Is dit ’n vonkel wat hy in haar oë sien? Moederinstink vat oor. Hoe is dit moontlik dat ’n mensie so klein kan wees?

“Ek bel vir Louw.” Dis goed om vriende in hoë plekke te ken. “Louw, kan jy asseblief dringend hier na my toe kom? Bring jou mediesetas saam.” Nadat Louw verseker is dat als in orde is, keer hy terug na Mara en die baba.
“Kyk skat.” Sy hou die baba toegevou in die kombersie na hom. “Sy is perfek.”

“Dankie dat jy so gou gekom het, Louw.” Hy loer oor sy skouer na waar sy vrou rustig met die baba in haar arms sit en sing. “Asseblief Louw, ek vra dat hierdie tussen ons bly.” Grové vergaap hom aan die mooi prentjie. Sy vrou is terug.
“Mara, Louw het gou na die baba kom kyk.” Haar oë die van ’n wyfieleeu.
“Nee!” Klou die baba vas.
“Mara, sy het erge sonbrand en moet behandel word.”
“Gaan weg van my!” Spring met die lyfie weg.
“Jy maak haar seer, Mara.” Grové hou sy hande uit. Tem die bedreigde dier.
“Niemand vat weer my kind nie!”
“Ons wil haar net help.” Louw se stem is kalm.
“Nee!” Mara spring met die kind op die bed. Benoude geluidjies kom uit die kombers.
“Grové, ons sal haar moet kalmeer!” Louw gryp na die tas. Vasgedruk. Oë verwilderd. Die naald glip onder haar vel. Rustigheid. Stilte. Net ’n baba se kreuntjies onder die geklemde arms.

***

“Dad, hoekom moet ons elke Sondag hierheen kom?” Die dertienjarige Sonia hou haar pa se hand ferm vas.
“Jy weet mos ons kom kuier vir Mamma.” Die donker gange en geluide uit die kamers maak Sonia nog altyd onrustig.
“Hoekom kan Mamma nie by ons bly nie?”
“Ai my kind, ek het mos al vir jou verduidelik. Mamma lewe in ’n ander wêreld as ons.”
“Dad, Valkenburg is nie ’n huis nie, sy hoort by ons.” Grové druk sy dogter teen hom vas.
“Ek weet Sons, maar daar is geen ander keuse nie.” Sonia weet al te goed, al begeer haar hart na ’n ma, is die vrou in die kamer sonder gordyne in geen opsig haar ma nie. Sy het haar Dad en dis al wat sy nodig het.

***

Donkerte. Met die jare het Mara se oë al dieper in donkerte verval. Grové trek sy das reg. Swart paisley op laventel. ’n Geskenk van Sonia. Die deurklokkie. Oudergewoonte dat sy saam met hom kerk toe ry, daarna die versmorende besoek aan Valkenburg.
“Môre Dad.” Uitgestrek op haar tone word ’n piksoen op sy wang geplak.
“Môre Sonsie.” Grové staar glimlaggend na sy twee-en-twintigjarige dogter. ’n Bondel energie. Top-regstudent. Pragtig. Trots.

“En as Dad nou so staan?” Grové druk haar teen hom vas. “Ag Dad, wat sal ek sonder jou doen?”
“Ek dink ek gaan alleen Valkenburg toe vandag.” Frons.
“En nou Dad?”
“Jou ma is erger Sonia, die donkerte vou haar heeltemal toe.” Hy tel die motorsleutels op. “Ek wil jou nie langer daaraan blootstel nie.”
“Maar Dad kan mos nie ...” Hy onderbreek haar.
“Geen maars nie.”

 “Ek gaan solank vir ons iets maak om te eet.” Die kerkklokke sing elfuur.
“Dis reg Sonsie.”
“Dad moet nie te lank wegbly nie.” Hy lag.
“Verlang iemand na my?” Sonia lag saam. Stamp haar pa speels.

***

“Môre Mara.” Sy staar by die venster uit. “Mara?” Grové voel onrustig. Stap stadig na haar. Hy weet sy skrik erger as ’n senuweeagtige chihuahua. “Mara?” Dankbaar Sonia is nie hier nie. Sag plaas hy sy hand op haar skouer.
“Môre Grové.” Nou is dit hy wat skrik. Die helderheid in haar stem. Mara draai weg van die venster. Haar oë lewe.
“Mara? Weet jy waar jy is?” Iets anders pla.
“Natuurlik. En dis jy wat my mos hier wegsluit.”
“Mara?” Sy mond is droog. “Mara jy is terug!” Hy stap nader aan haar. Die glasstuk blink in haar hand. Haar staatshospitaaljurk is ’n kunswerk van kreukels en bloed. Mara se hand lig hoog bo haar kop. Onnatuurlike oë. Sonlig weerkaats, speel op die nou, wapen. Glas breek maklik deur vel. Bloed is warm. Grové se oë is pierings. Hygend op die gesaniteerde vloer. Sy blik star. Die venster. Skerwe. ’n Gekweste vrou val doelbewus na haar dood. Personeel se voetstappe. Roggelgeluide. “Sonia ...” Snak na asem. “Wat van Sonia ...”

The post Sonia appeared first on LitNet.

,

$
0
0

, kom daar so ’n oomblik in elke lewe? het hy gewonder terwyl hy wag vir die kraanwater om warm oor sy hande te vloei. Ja, het hy besef, maar gewoonlik eers met die dood.

Ek weet nou hoe die dood is.

Toe die kraanwater eindelik warm is, soek hy rond vir die koekie seep. Dis nie op die wasbak se rand nie. Hy het ’n tree na links gegee, deur die oop plastiekgordyntjies tot op die teëlvloer van die stort, die koekie seep afgehaal met sy linkerhand (dit was nog effens taai na die middag se stort) en teruggetree. Sy hande begin seep vryf onder die warm water. Die water was nou effens té warm, so hy het die koue kraan ook oopgemaak, en

Die dood is nie daardie vreesaanjaende oomblik waaroor elke moordskrywer skryf, wat elke mens vrees nie. Die dood is soos dit wat ek nou voel. Dis bloot soos ’n aftrede. Dis die besef:

toe die temperatuur draaglik word, het hy sy hande teen mekaar gevryf totdat hy seker was elke moontlike spoorelement van die virus is verwyder. Klaar afgespoel,

ek hoef dit nie meer te doen nie. Dis verby. Al die gesukkel, al die gesanik, die hele ou besigheid, die vergeefse rondomtalie van dae, die vergeefse strewes, die kompetisie, die

het hy die kraanhefboom met sy elmboog toegedruk, die nat koekie seep op die rand van die wasbak gelos, en omgedraai op soek na ’n handdoek.

verraaiers en die digters en die slawehandelaars en die doemprofete en die oortreders van maatskappywette en die mense wat in die gang afstap en saggies poep sodat niemand dit kan hoor nie maar almal dit kan ruik en

Daar was geen handdoek op die reling nie, die middag se handdoek was in die was. Met hande effens druppend het hy die

almal wat opiniestukke skryf vir koerante van agter hulle geleerde dubbelkenne uit hul kantore waar geraamde toekennings hang en rakke en rakke en rakke en rakke vol vergeelde ou digbundels van ou Afrikaanse digters wat dood is

badkamerdeur oopgemaak en sy slaapkamer binnegestap. In die kas het hy ’n nuwe handdoek gevind,

aan hartversaking en verveling en huishoudelike angs in hulle swembaddens met hulle infantiele erotiese drogbeelde oor Ingrid Jonker – dis mos altyd Ingrid Jonker, die ewige fokken strandlopende meermin wat almal spuls gehad het in die Calvyn-dinastie toe draadtrek nog slegs in

nog opgevou en vars en sag teen sy vel. Terwyl hy sy hande afdroog, het hy die badkamer se deur agter hom toegemaak om die reuk van sy laaste stoelgang uit die res van die huis te hou.

sonnetvorm en onder toesig toegelaat is onder die dekmantel van die Hiërargie van DJ Opperman wie gesê het “Kuns is boos”, en WEG Louw wie gesê het “onder draai en draai die windjie”, en Karel Schoeman wie geskryf het oor ’n lug vol helder wolke in Die Laaste Afrikaanse Boek en ander sombere mistiese,

Uit die venster van die boonste verdieping kon hy die blou flikker-skynsel van die bure se TV-skerm in hul sitkamer sien.

byna alchemistiese geskrifte, en breyten breytenbach met sy heimwee na oorsese “meiden” (of was dit André Brink? whatever), en o ja, laat ons nie vergeet van NP Van Wyk Louw nie, die grote NP Van Wyk Louw en sy ewige vrees vir swart monsters, hy sou Charles Darwin kon laat les opsê, want

’n Hond het iewers begin blaf, gevolg deur nog een.

as gevolg van al hierdie groot geeste met hul drogbeelde en hulle gestaltes en diere wat altoos opdoem uit ons kollektiewe onderbewuste sit ons nou hier gekniehalter in Afrika tussen swerms bye en negatiewe persberigte en bekgevegte

Die laatmiddag het geruik na die warm as van braaivleisvure, en toe die aand eindelik oopbreek oor die huise, het die gelag en gesels oral opgestyg saam met die vleisgeure en

en Joan Hambidge-resensies en weervoorspellings en doodsberigte en lyste van Steve Hofmeyr se eksgirlfriends en

geklingel van glase. Die maan was groot en rond en oranje in die oostelike lug toe dit agter die berge uitseil soos ’n skip vol setlaars.

’n Kaapse winteraand, rooi soos

die sewe doodsondes, so tob ons en tob ons en tob ons

die laaste sonstrale in die weste, soel soos sangria, half bekend soos verlede jaar se rugbytellings.

in die agterplaas langs die druppende kraan

Die gekriewel van muggies onder sy broekspype toe hy uitstap op sy agterstoep.

Orals om hom was dit diep winter. Maar binne-in hom was dit nog kouer, heeltemal bevrore, asof hy reeds

van ons kollektiewe selfverwyt

’n lyk was. Hy het in sy eie donker sitkamer gaan sit en weer die ou Fokofpolisiekar-CD opgesit wat hy daardie Kersfees, jare gelede, by een van sy leftie-vriendinne op varsity gekry het. Die forward-knoppie gedruk tot by sy favourite track. Sy oë toegemaak en net geluister. Sonder om saam te neurie soos in die ou tyd.

reguleer my, roetineer my

… ek weet nou hoe die dood is.

plaas my in ’n boks en merk dit “veilig”

Fok hulle! Fok hulle! Fok hulle!

stuur my dan waarheen al die dose gaan

Fok almal wat skielik dink hulle kan poetry skryf

stuur my hemel toe

met hierdie moerse tjip op hulle skouer

ek dink dis in die platteland

gepraat van tjips,

ek dink dis in die platteland …

dis waar ons ganse volk se bewussyn die afgelope dertig jaar lank vassteek tussen die vetgebraaide panne van Spur-tjips en vleisies met degies om en buffalo wings en wit sousies wat soos semen lyk want

Die wyn in sy glas, toe hy die eerste proeseltjie vat, het na ou hout en swael gesmaak.

ons weet mos nie van ordentlike kos nie, het verlede jaar eers van soesji gehoor, nou koop ons dit by Woolworths, ten minste word dit vervaardig deur regte Japannese, dié wat nog oorgeswem het hiernatoe destyds ná daai moerse tsoenami, en toe fok die virus hulle van voor af op saam met die res van die wêreld, en nou is alles moer toe, waar’s die dae toe ons nog gedink het global warming is ons grootste probleem? Waar’s die dae toe ons nog bang was vir

Hy het geweet dit gaan al weer ’n lang nag word.

Dan Roodt en die Swart Gevaar (ons was vir al twee ewe bang)? Nou is die hele planeet in sy salige kanon in, Amerika het afgebrand oor onluste, Australië het verkool tot as ná al die bosbrande, daar is waarskynlik nog asteroïede op pad aarde toe en een van hulle gaan ons binnekort tref en dan is die pandemie ook op ’n einde,

Besluiteloos het hy na sy polshorlosie gekyk.

Dit was nog nie sesuur nie.

die wêreld gaan heeltemal sy gat sien,

Daar was nog tyd om gou-gou met sy hond om die blok te stap.

Hy het sy glas neergesit op die tafel, stoepdeur toe gestap, en van die rak op die buffet sy masker opgetel,

niemand gaan ooit weer ’n gelukkige einde kan verwag nie,

 

Lees ’n kort onderhoud met Koos Kombuis oor “,” hier:

Korona-kortverhaalfees: Koos Kombuis oor “,”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post , appeared first on LitNet.

Liefde in die tyd van Korona – en daarna

$
0
0

Foto: Canva.com

Dit het gister die antivirusgevegsraad behaag om die valboom so effens te lig, en vanoggend is Eusebius Fourie slaggereed om sy jarelange verhouding met Owl Books te hervat. Dis sy gunsteling-tweedehandse boekwinkel, geleë in ’n ou woonhuis skaars tien minute se stap vanaf sy woonplek.

So in die loop pluk-pluk hy aan sy masker. Asof dit nie genoeg is dat die dêm ding met sy bril inmeng nie, besorg dit hom boonop asemnood. Maar die liefde oorwin alles en hy, as enigsins beleërde bibliofiel, is opgewonde oor die vooruitsig van ’n langverwagte weersiens. Lank voor die koms van die huidige mikro-organisme was Eusebius reeds in ’n vaal, virusgeoriënteerde omgewing vasgevang. Te midde hiervan was Owl Books vir hom nog altyd ’n oase, want al is hy in die IT-bedryf het hy in e-boeke geen sin nie, en verkies hy die harde kopie van ink en papier.

Hy maak die voorhekkie oop. Die sjarmante ou huis staan daar in alle onskuld, maar Eusebius ken die suigkrag van die plek met sy krakende vloerplanke en staalplafon. Vir boekliefhebbers soos hy ’n gravitasiekolk, ’n labirint van nou gangetjies tussen boeke en nogmaals boeke ─ boeke in netjiese enkelgelid, boeke opeengestapel in slordige torings van Babel. Die lekkerlees-avonture vind jy redelik maklik, maar êrens wag daar ’n grote, die skaars edelgesteente wat deur ander snuffelaars en delwers misgekyk is.

Met die oopstoot van die voordeur rek sy oë. ’n Vreemde persoon is aan diens en sy is ’n baie aantreklike verbetering op ou Mullertjie wat voor lockdown hier gewerk het. Haar hare is raafswart, blink en los, en bokant ’n vrolike, veelkleurige masker blink die mooiste paar oë wat Eusebius Fourie in sy ganse lewe gesien het.

“Goeiemôre,” stamel hy.

“Goeiemôre,” antwoord sy. Die oë glimlag.

Wasem vorm op Eusebius se brilglase en hy laat sy masker effens sak.

“Nee!” sê sy met ’n heftige skud van die kop. “Masker op, meneer, dis die nuwe normaal!” Sy beklemtoon elke woord met ’n pentik op haar lessenaartjie. “En waarmee kan ek help?”

Ten spyte van die masker se smooreffek klink haar stem ferm dog vriendelik, soos dié van ’n kleuterskooljuffrou op ’n dieretuinuitstappie.

“Dankie, ek kyk gewoonlik maar bietjie rond. En is jy die nuwe permanent?” Hy verbaas hom vir sy eie gevatheid.

Sy lag hardop. Dis nie aldag dat enigiemand, veral ’n mooi meisie, vir Eusebius Fourie se grappe lag nie.

“Ja, lank werk gesoek en nie gekry nie, en net toe ek moedeloos raak, hoor ek van die vakature. Lockdown het die vorige ou glo laat nadink oor die verganklikheid van alles, en toe bedank hy om voltyds aan sy lewensverhaal te skryf.”

“Mullertjie.”

“Skuus?”

“Jou voorganger, Mullertjie is sy naam. Sy hele seëlversameling in ’n oogwink verloor. Paf! Net so! Gebarste geiser.”

“Ag nee, shame! Ewenwel, hier ís ek nou! Boonop pas die werk my, want ek hou nie eintlik van mense nie, maar van boeke.”

“Selle aan dié kant,” verklaar Eusebius, aangevuur deur die sukses van sy openingsalvo. “Ek’s in die IT-bedryf.” Hy weet nie eintlik waarom hy dit sê nie, maar haar oë is skielik die ene simpatie.

“Terloops, ek is Eusebius Fourie. Maar noem my sommer Tobie. Dit was my bynaam op skool. Die ouens het my altyd gespot en gesê ek lyk soos Tobie Cronjé.”

“En my naam is Belinda.”

“Het jy ook ’n bynaam gehad?”

“Pretty Belinda,” sê sy.

Hy lag, maar sy kyk skielik anderpad. Hy probeer die Chris Andrews-weergawe neurie, maar sy poging vind nie byval nie.

“Nou maar aangename kennis,” sê hy effens verleë. Die aanraking van hulle elmboë stuur elektriese skokgolwe deur Eusebius se skraal gestel.

Nou dat Pretty Belinda die winkel bedryf, word Eusebius se besoeke meer en meer.

“Besigheid is morsdood,” sal hy op ’n Dinsdagoggend met die intrapslag verklaar, net om die verskoning Donderdag te herhaal. Maar die heeltyd lag haar oë mee en word dit vir Eusebius duidelik dat die dame sy geselskap geniet. Dalk is hy after all nie so ’n slegte ou nie. Vroumense het hom nog altyd senuweeagtig gemaak, maar in Belinda se teenwoordigheid ontspan hy, voel hy vir die eerste keer na die man wat hy kan en behoort te wees.

En met elke ontmoeting gesels hulle. By haar lessenaar, tussen rakke, oral. En so raak Eusebius gewoond aan Belinda se streng “nuwe normaal”, vind hy dat hy al hoe minder struikel en stamel, en die masker nie meer sy bril so laat toewasem nie.

Wanneer hy oor die beperkinge van lockdown kla, maak sy ewe koeltjies ’n teenskuif: waarom teen die prikkels skop? Sien die pandemie nie as ’n straf nie, maar ’n geleentheid wat vir die mensdom gestuur is. ’n Geleentheid om andere te ontdek, om jouself te ontdek.

Op sy beurt leer Eusebius vir Belinda die kuns van liefhê.

“Weet jy, Belinda, ’n tweedehandse boek praat mos met jou. As ek met een in my hande staan, wonder ek altyd wie dit vantevore vasgehou het. Kyk, hierdie een was ’n boekprys: ‘Bertus Volschenk. Beste opstelwerk in Afrikaans in standerd agt.’ En kyk hier, op hierdie een se skutblad, dis darem vir jou ’n besonder swierige handtekening!”

Belinda knik. “Ja-nee, die man het sy eienaarskap behóórlik neergepen. Hier’s ook ’n interessante een: ‘Geluk, Johan by geleentheid van jou gradeplegtigheid, van Vader en Moeder.’ Nogal formeel, nè.”

“Ja, selfs vir daardie tyd. Ek kan nou nie my hand op een lê nie, want hulle is skaars, maar ’n mens kry ook dié met ’n ex libris-stempeltjie of -plakker. Elk ’n mini-kunswerk!”

“Ek sal soek en laat weet, ek het mos nou jou nommer.”

“Weet jy, Belinda, die belangrikste deel van ’n storie is dikwels die onvoltooide, die onvertelde. ’n Storie begin tussen twee buiteblaaie, maar eindig nie noodwendig daar nie. Het Bertus Volschenk aanhou skryf? Wat het van gegradueerde Johan geword? En meneer Swierige Handtekening, is hy dalk dood of het ’n kwaai vrou hom én sy boekery uitgeskop?” Eusebius laat sy stem sak vir dramatiese effek: “Want, my liewe Belinda, die boeke wat hier by jou teen verpulping kom skuil, was vroeër vir iemand van waarde.”

“En hoekom is die boek dan hier?”

“Presies! Dood, egskeiding of bankrotboedel? Het die goeie wense van ’n ouerpaar dalk in teleurstelling of vervreemding ontaard?”

“Ag nee, ’n storie moet darem ’n goeie einde hê,” protesteer sy.

“As jyself die skrywer is, ja.”

Sy kyk hom ’n wyle aan. Die mooi oë is sag. “Digterlik! Jy is ’n digter, Eusebius Fourie ...”  

Vir ’n oomblik oorweeg hy om haar te antwoord, vir haar te sê dat ’n storie wat in Owl Books begin, nie binne hierdie vier mure hoef te eindig nie, maar bedink hom. “Dalk is jy soos ek soms ook maar eensaam, Belinda, maar jy sal nog sien, hierdie boeke word jou vriende, jou bloedfamilie. Hulle troos jou.”

Tydens ’n verdere besoek kom die pandemie weer ter sprake.

“Ek dink dié Korona gaan’n geruime tyd met ons wees,” sê sy.

“Wel, as dit nie vir die virus was nie, het Mullertjie nie bedank nie, en het jy dalk nie hierdie werk gekry nie.”

“En het ons mekaar nie leer ken nie.”

Haar opmerking laat hom waag met die vraag wat hy al lankal wou vra: “En wil jy nie een keer ná werk saam met hierdie nuwe vriend van jou koffie drink nie? Ek weet die Wimpy is toe, dus sal dit jou plek of my plek moet wees. En ek weet jy dink seker in my plek is daar net rekenaars en boeke, maar jy is verkeerd. Ek het ook ’n kat en ’n uitgebreide klassieke musiekversameling. Jy sal van my koffie, my kat én my musiek hou.”

Sy lag, maar wil die uitnodiging nie aanvaar nie. In haar oë is daar meteens iets wat Eusebius nog nie gesien het nie en vrees pak hom beet. ’n Vrees dat daar tussen hom en Belinda dalk selfs ’n groter afstand as die voorgeskrewe sosiale distansie is.

Een oggend is hulle weer alleen in die winkel. Aan haar oë kan Eusebius sien sy het gehuil. Hy volg haar tot in die gangetjie tussen die biografieë en reisverhale, en verneem hoflik na haar welstand.

“Dis sommer niks,” verseker sy hom van agter haar masker. “Ek’s bang jy dink omdat ek nie saam met jou wil koffie drink nie, ek nie van jou hou nie,” sê sy.

“Of katte en klassieke musiek verpes,” spot hy en tot sy verligting speel haar oë oudergewoonte saam.

Sy raak weer ernstig: “Onthou jy die dag toe jy oor onvoltooide verhale gepraat het? Dat ’n storie tussen ’n boek se buiteblaaie begin, maar nie noodwendig daar eindig nie? En dat die storie ’n mooi einde kan hê as jyself die skrywer is? Ek wou dit toe al vir jou sê, ek hou van jou manier van dink ... en ek hou van jou, Eusebius.”

“Dankie, Belinda, en ek voel dieselfde oor jou.” Hy haal sy bril af en vee ietwat onbeholpe oor die lense.

“Maar, ek het jou nou die dag nie die volle waarheid vertel nie.”

Eusebius voel hoe sy kopvel krimp. Gaan hierdie mooi, belowende verhaal ’n skielike, slegte einde beleef?

“Dit was oor my bynaam op skool. Pretty Belinda.”

“Ja?” Hy sit sy bril terug, steeds op sy hoede.

“Dit was nie ’n bynaam nie, dit was ’n spótnaam,” sê sy met buitengewone klem.

“Jong, kinders is wreed, en jaloesie ’n vreeslike ding,” probeer hy troos.

“Hulle het my ook ou Vlekkie genoem,” sê sy en laat haar masker sak.

The post Liefde in die tyd van Korona – en daarna appeared first on LitNet.


Moddergat se klein Moses

$
0
0

Foto: Unsplash.com

Hierdie lieflike, aanhoudende reën laat my dink aan ’n vervloë tyd ─ toe ek nog jonk was, daar in die sestigerjare van die vorige millennium.

Ek het tuinwerk gehaat. Die sweet wat prikkel as dit langs my nek afloop en my eie liggaamsout wat in my oë brand. Maar Ma het gesê en Pa het ge-amen. Die beddings sal uitgespit word, die grond ordentlik gesif word en daarna met kompos gemeng word. En voor sonsondergang sal alles weer terugesit word in die lang, breë, diep gat. Harde werk vir ’n klein mannetjie. Maar Pa het al weggespring dié oggend en die pad vorentoe is vir my uitgewys. Vir dié soort werk is die naweek al tyd wat Pa het.

Die hele dag deur word alle moontlike excuses opgebruik. Die vreeslike druk op ’n mens se maag wat minstens ’n halfuur se skuiling in die toilet benodig. Die pleidooi om ’n jong lewe met nog ’n glas water te red, wat natuurlik net in die koelte van die kombuis beskikbaar is. Die buitengewone vraag na ’n jongman se dienste op ander plekke vir die geringste klein nuttigheid. Maar van al die gegroet vir ander gesinslede en uitvra oor hulle gesondheid en kwale, het Pa genoeg gehad. Sy harde uitroep laat my verstaan ─ die tronkstraf sal onmiddellik hervat moet word!

Vroeg die daaropvolgende Maandag begin dit te reën. Vir ’n week lank hou dit nie op nie. Teen Vrydag se kant is alles papsopnat en cabin fever loop hoog. Ons kinders is toegelaat om by die huis te bly, Ma en Pa is werk toe. Die hele dag lê voor en ons is baas van die plaas.

Suster, twee jaar ouer as ek, neem die leisels in haar hand. Ekself mik na dubbelsyfers en ons kleinboet wil graag oorleef om sy vyfde verjaarsdag vroeg volgende jaar te kan geniet. So terloops, om middelkind te wees is nie lekker nie ─ jy is nie die oudste nie en nog minder die favourite. Daarboonop dra ek ’n bril. Glad nie vandag se fashion-model nie. O nee, hierdie swaar glas headlights het ’n staal raam met oorstukke wat vasknyp en seermaak. Eensaammaker ─ die bril ─ en ek al een so vervloek in my standerd een-klas van twee-en-twintig seuns.

Maar terug na dié besondere Vrydag: Nie lank nie en ons word deur Grootsus aangesê om ons swempakke aan te trek ─ ons gaan in die reën stap. Sy wil, natuurlik, met haar nuwe kozzie vir enigiemand poseer, wel, eintlik vir enige jong man wat mag verbystap. Groot avontuur!

Ons pak die tuinroete aan, effe koud en almal met blou lippe wat so ’n bietjie bewe. Alles loop goed af totdat ons al drie terselfdertyd van die noue sementpaadjie gebruik wil maak. Aan die linkerkant struikel Kleinboet en met hande in die lug val hy in die bedding vas. Die fyngemaakte moeras, wat ek en Pa so noukeurig voorberei het, sluk die jong slagoffer in.

Ek kyk verbaas hoe Kleinboet in die fyn modder wegsak en Grootsus kyk hoe haar boetie stadig dieper in die stroop verdwyn. Snaaks hoe so ’n besondere gebeurtenis jou met bewondering sal laat stil staan. Die lewensgevaar tref ons ouer kinders skielik. Van Kleinboet is daar net ’n ronde, plat haarstuk en twee handjies wat nog uitsteek oor.

Ek spring in en saam met Sus trek ons aan Boeta se hande. Toe begin die paniek ons eers beetpak ─ die sjokolade-vormpie wil net nie uitkom nie! Dit verg saamtrek en sweet om sy klein liggaam na die kant toe te sleep. ’n Kind se verbeelding is groot en die implikasie van my broer se verdrinking oorheers my gedagtes daai dag. My ma se wraak is hoog op die lys van nagmerriemateriaal vir die toekoms. Maar nou moet ons saamwerk ─ tjoepstil moet ons almal bly en hoop dat die vrees elkeen se mond sal snoer.

Ek moes dié dag ordentlik verstaan dat modder, soos emaljeverf, sy stempel met geweld op alles vasdruk. Aai! Die arme seuntjie is toe met borsel en seep skoongeskrop. Dae daarna het Boeta gegloei met ’n pienkerige lig ─ Ma het gekyk, maar niks vermoed nie ─ dankie tog! En toe eindig ons avontuurtjie, te kort, maar baie opwindend.

Wees gewaarsku, julle wat ouers is ─ “speel buite!” meng maar sleg met modder!

The post Moddergat se klein Moses appeared first on LitNet.

’n Kwessie van geloof

$
0
0

’n Sug is die enigste geluid wat die geroeste ou windpomp uitkry. Markus hoor hoe die rooigrond onder sy skoensole knars en gaan staan ’n oomblik stil om die landskap om hom te bekyk.

Alles is dor, byna doodgebrand deur die son. Hy knipper sy oë, probeer fokus deur die wasige trillings in die lug. Wat hy sien, laat sy maag saamtrek. In ’n verlate hoop tussen die waaigras lê ’n karkas kaalgevreet deur die aasvoëls en insekte. ’n Vinnige, kort snuif beaam dat die reuk van ontbinding lankal reeds verdamp het saam met die laaste vog in die hemel.

Om ’n boer te wees is nie maklik nie. ’n Mens is uitgelewer aan soveel meer as net alledaagse probleme. Die elemente is jou meester en jou behoud. En hulle werk dikwels teen mekaar in. Maar tog sou hy dit nie anders wou hê nie. Die plaas is sy hele lewe. Sy grootwordplek, sy oudwordplek.

Hy het al vantevore, nes die ander boere hier, gebuk gegaan onder die droogte, maar dit het nog nooit so erg geknel soos nou nie. Hierdie keer voel dit asof dit nie gaan end kry nie. Asof elke maatreël om verligting te probeer bring tevergeefs is, elke plan om te oorleef pure wensdenkery. Diere vrek voor die voet, oeste misluk, water moet spesiaal vanaf die groter dorpe aangery word om die nood te verlig. Maar die reën bly uit.

Wat hom meer pla, is dat sy hoop soos die groen van die veld stadig maar seker aan die wegkwyn is. Hy was nog altyd oortuig daarvan dat alles ’n plan het, dat alles uitgewerk is. Dit is tog nie vir hom om dinge te bevraagteken nie. So is hy immers grootgemaak. Om te aanvaar wat is. Maar deesdae?

Sy geloof word getoets, hy weet dit. Vir die eerste keer wil hy weet hoekom ’n regverdige God die boere so laat ly. Hoekom hy soveel opofferings vir hierdie plaas moes maak – stil opofferings waarvan niemand weet nie, maar wat snags by hom spook as hy alleen in sy bed lê – en dít blykbaar alles vir niks. Hoeveel boere moes nie al uit radeloosheid plase wat geslagte lank reeds in hulle families is verkwansel om uit die verknorsing te kom nie? Wat is God se plan nou eintlik? En hoe moet hy dit verstaan as die droogte binne hom skielik groter is as die een óm hom?

’n Gedreun onderbreek sy gedagtes en kort daarna hou dominee Brits se bakkie in ’n stofwolk langs hom stil. Wanneer die vensterruit afrol, kan Markus die ontsteltenis op sy gesig sien.

“En nou, dominee? Het daar dan iets gebeur?”

“Kyk, Markus, ek is ’n vredeliewende man,” antwoord die ouer man, vroetel in sy broeksak en vee dan die sweet met ’n sakdoek van sy voorkop af. “Die mense ken my só. Maar vandag het ek myself te buite gegaan. Onder provokasie, bygesê.”

“Maar hoekom, dominee?”

“Dis oom Herklaas Buitendag. Hy’t my van sy plaas af weggejaag soos ’n sleg hond net omdat ek hom durf vra het om Sondag die biddag vir reën by te woon. Op my geskel en vir my geskree dat God hom nie deur mense sal laat aansê wanneer Hy sy hand oor die grond moet oopmaak nie. Maar ek moes my plig doen. Probeer om die verlore skaap weer terug te lei na die kraal. En wat doen hy toe? Skiet op my! Ek het nog nooit so gevloek nie, man.”

“Maar dominee weet mos oom Herklaas sit nooit sy voet in die kerk nie. Dit help tog nie om hom te dwing nie.”

“Ek weet, Markus. Maar nie een van ons kan nou afvallig wees nie. Ons moet saam staan in hierdie moeilike tyd. Één wees in geloof as ons wil hê die Here moet ons gebede verhoor.”

Daar is meteens ’n vreemde gewaarwording binne Markus en hy kan skaars sy eie woorde glo toe hy sê: “Toemaar, dominee. Laat ek met oom Herklaas gaan praat. Miskien sal hy eerder na ’n ander boer luister. Iemand wat sy situasie verstaan. Wat hóm verstaan.”

 

Die opstal is net so ongenaakbaar soos die eienaar, maar Markus laat hom nie afsit nie en stap by die trappies van die voorstoep op. Soos ’n wafferse ou patriarg sit oom Herklaas voor hom oor sy droë landerye en uitstaar. Woeste wit baard. Wilde swart oë. Duidelik nie in die bui om gesteur te word nie.

Toe hy voor die ou boer gaan staan, is hy nie meer so seker van sy saak nie. Hy weet – soos almal in die distrik – dat oom Herklaas Buitendag ’n regte ou korrelkop is. En dat hy geen tyd vir onsinnighede het nie. Dit gaan beslis nie maklik wees om hom tot ander insigte te probeer dwing nie. Veral nie as ’n mens se gemoed self vol twyfel is nie.

“Dag, oom Herklaas,” groet hy beleefd en lig sy hoed.

“Dag, Markus. Wat kan ek vir jou doen?” kom dit reguit.

“Ek kom vra of oom Sondag sal kom saambid vir reën.”

“Het die predikant jou gestuur?” Die stem is hard en ongeduldig. “Ek het hom gesê hy moet my uitlos. Ek het nie tyd vir twak nie.”

“Nee, oom. Ek het self gekom. Uit my eie uit.”

“Nou vir wat? Ek het gedink jy is ten minste ’n man met ’n verstand, man. Jy weet net so goed soos ek waar die reën vandaan kom. Ons sondige natuur het niks daarmee te make nie. En dis ook nie ’n kwessie van geloof nie. Geen rondgekruipery op die knieë gaan dit laat gebeur as die toestande nie reg is daarvoor nie.” Die ou man spoeg ’n stukkie voos gekoude twak ver oor die lae stoepmuurtjie.

“Oom Herklaas,” begin Markus en voel hoe die woorde stadig uit hom loswikkel. “Ek sukkel deesdae met soveel hoekoms en waaroms en ek kry nie antwoorde nie. Ek begin moed verloor. Nie net met die plaas nie, nie net oor die reën nie, sommer met alles. Met myself en met God ook. As oom net kom saambid, sal ek weer kan glo. Sal ek weet dat God daar is. Dat Hy hoor, omdat Hy oom deur my laat hoor het. En dan kan ek weer aangaan, want dan weet ek dat alles die moeite werd is. Asseblief oom. Dit is die laaste stukkie hoop waaraan ek nog vashou.”

Die ou man kyk hom met skrefiesoë aan en reik uit na die haelgeweer wat langs hom teen die muur aangeleun staan. En omdat Markus gelukkig ’n man vir ’n halwe woord is, maak hy hom dadelik uit die voete.

 

Die kerkbanke is volgepak met lede van die boeregemeenskap. Bonkige manne, stewige vroue, tjoepstil kinders. Almal van hulle rateltaai, maar met dieselfde uitdrukking van radeloosheid op hulle gesigte.

Markus se oë gly oor die gemeente, drink die mense een vir een in. Dominee Brits se stem dreun voort, maar hy neem nie die boodskap in nie. Dit is eers na ’n rukkie dat hy agterkom dat die mans almal opgestaan het. Die predikant is reeds besig om te bid. Hy staan ook stil-stil op, maar sluit nie sy oë nie, bly net na die mense om hom kyk. Hulle hande herinner hom aan ou verknotte takke, die fronse op hul voorkoppe aan diep vore waarvan die water lank reeds opgedroog het. Daar hang ’n desperaatheid oor hulle, veral rondom dié wat nou een na die ander ootmoedig smeek vir verlossing uit die waterkrisis. Hy luister of hy oortuiging by hulle kan hoor, ’n vaste geloof dat hulle gebede nie op dowe ore sal val nie.

Opeens voel hy ’n skerp blik op hom rus. Dit ontstem hom, maak hom ongemaklik.

Toe Markus omdraai om te kyk wie dit is wat hom so dophou, sien hy hom skuins agter in die laaste kerkbank sit. In die kleurstrepe wat in eweredige ruitpatrone deur die lang loodglasvensters val, lyk dit asof die man die bont pak van ’n harlekyn dra. Die wit baard wat gewoonlik woes om sy sterk ken staan, is vandag vir ’n verandering netjies geknip en sy hare is gekam. Sy neus is prominenter, die wenkbroue strakker en ruier. Die swart oë bly op hom gerig.

Markus wil eers wegkyk, maar hy kan nie. Die ligstrepe oor oom Herklaas word helderder, die kleure intenser, totdat dit lyk asof hy die brandende vlerke van ’n feniks agter hom dra.

Markus glimlag vir hom voordat hy terugdraai en dan sy oë sluit voordat die gebede finaal uitloop. Verbeel hy hom, of hoor hy iewers die gerammel van donderweer in die verte?

 

Lees ’n kort onderhoud met Rika Cloete oor “’n Kwessie van geloof” hier:

Korona-kortverhaalfees: Rika Cloete oor "’n Kwessie van geloof"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post ’n Kwessie van geloof appeared first on LitNet.

Nog net een ding, Meneer …

$
0
0

Foto: Canva.com

’n Berg is gemaak om te klim. Of om uit te hardloop. Vandag is die dag en niemand gaan my keer nie. Nie eers tyd nie. Vandag draf ek die berge plat. ’n Halfmarathon onder twee uur.

“Bastiaan, ’n trail run is nie vir sissies nie. Jy ken nie Worcester se berge nie. Om padfiks te wees is een ding. Jy het stamina nodig vir dié gedoente en jy is nie meer ’n kind nie.” Ja, dink ek, nie eers ou Wickus sal my ontmoedig nie. Hy is net jaloers omdat hy oor die muur is. Eet, sit en lê net heeldag. Ek sal hom wys.

My bakkie is spesiaal vir die geleentheid gewas. Gespierde vrou, dink ek en swaai die sleutel ’n paar keer in die aansitter. “Kom nou Laika, hoes jou longe skoon! Ons verstaan mekaar mos goed. Vandag gaan jy my nie in die steek laat nie. Dis net om hierdie verdomde V6-hart van jou ordentlik aan die gang te kry.”

Sowat vyf kilometer uit die dorp, breek die oggendson skielik goudgeel oor die grasveld. “Laika, ek stop net gou. Die oggend het weer sinusritme. Gee my net ’n oomblik kans. Daar is niks wat aspirien nie kan fix nie.” Ek draai Laika se stuurwiel links en sy gaan stop wragtig weer meer regs as links.

“Laika, my magtig, jy het ’n maand gelede nuwe tekkies gekry!” Sy sug vanself en vrek in haar vier spore voor Skilpadrug se afrdraai. Wheel alignment. Hier gaan my spaargeld. Verdomp, hierdie negatiewe gedagtes het ek nie vanoggend nodig nie. Nog minder Wickus wat dink ek is kêns omdat ek met my bakkie praat. Ek sluk ’n Disprin en ’n beta-blokkeerder met mening af.

“Laika, nou moet ons laat wiel. Rook jou rook – ek gaan nie vir jou wag nie.”

Net toe ons wou ry, doem ’n jongerige man voor Laika se neus op. Hy loop na die bestuurderskant en kyk deur die venster verby my na die beursie op die passasiersitplek.

“Môre, Meneer, het Meneer nie vir my ietsie vir die pad nie?” Sy broek en hemp is opvallend netjies.

“Waar kom jy skielik vandaan?” vra ek maanbleek geskrik.

“Ek ryloop,” sê hy saaklik. 

Vinnig dink Bastiaan, vinnig dink, die ou het ’n agenda. “Ek het R400 by my en ek het dit nodig, broer.” Ek gaan nie lieg nie, nie nou nie. Nie in dié situasie nie.

Hy kyk na die klubklere wat ek aan het en sê: “’n Honderdrand sal reg wees.”

Ek trap die pedaal en Laika beur my terug in my sitplek. Die naamlose skim word ’n klein kolletjie in die truspieël. Ek kan die spasma in my skouers voel en voel hoe my hart in my ore klop. “Laika, kan jy glo, hy het nie eers dankie gesê nie?” 

Wolseley slaap nie op ’n Saterdagoggend nie. Voetgangers hang in die hoofstraat rond en wag vir besighede om oop te maak. By die vierrigtingstop drom naartjieverkopers om Laika. “Wil Meneer nie ’n sakkie naartjies koop nie?” vra een. “Twenty a box,” sê ’n ander een. “Soet,  stroopsoet naartjies,” beaam nog ’n makker.

“Nee, dankie,” sê ek. Ek gaan laat wees en ry effe vorentoe. “Net ’n twenty Meneer, asseblief.” ’n Ongeduldige motoris agter my lê op sy toeter. Ek krap in my beursie en kry ’n R50-noot. “Hier, gooi dit sommer op die agtersitplek.”

“Ek kry net gou die change,” sê-vra hy. Die Jeep agter my wil-wil raak aan Laika se buffer. “Los dit,” sê ek en kry koers na die T-aansluiting na Worcester net buite die dorp. Nou sal ons moet ry of ek sal nie voor die wedloop kan opwarm nie. 

Met die T-aansluiting in sig, sien ek ’n paar motors staan. ’n Verdomde padblokkade dié tyd van die oggend. ’n Verkeersman wys ek moet aftrek. Hy vra my bestuurderslisensie, kyk na die foto en kyk weer na my. “Ja, dit is ek, mens bly nie dieselfde lyk nie.” Hy stap om Laika. “Nuwe bande,” sê hy.

“Meneer, asseblief, ek is haastig, ek moet binne veertig minute in Worcester wees.” Hy kyk na sy horlosie.

Is die man doof? Sy maag skuur teen Laika se neus en hy kyk na die lisensieskyf. “Maak die kappie van die bakkie oop, asseblief,” beveel hy saaklik.

“Dit is oop en daar is niks agter in die bakkie nie,” en ek wys met my hand agtertoe. “Meneer,” sê hy ongeduldig, “maak die kappie oop.” Ek klim uit, sopnat gesweet en maak die kappie oop. “Sien, daar is niks nie.” Hy kyk na die leë ruimte asof hy iets móét sien en stap weer om Laika.

“Is daar nog iets?” vra ek. “Jy kan maar ry,” sê hy. Ek spring verlig in Laika. “Wag, daar’s nog een ding,” sê die beampte. “Dit gaan warm word vandag. ’n Man speel nie met die son nie. Ek sien jy het twee bottels water by jou. Gee daar vir my een, asseblief man?”

Dis asof die dag met my gekskeer, my koggel, my uitlok. Kwart-voor-agt en die buitetemperatuur is 34 grade Celsius. Dit help ook nie ek peuter aan die lugreëling nie – Laika blaas net warm asem uit.

Verby die Makataan-padstal en die wynkelders word die pad korter. Nog so vyftien kilometer en ons is in Worcester – genoeg tyd om my registrasie te bevestig en op te warm. By die Worcester-afdraai slaak ek ’n sug van  verligting en Laika seil soos ’n  kobra om die sirkel verby die mall reguit na Kerkplein. Motors staan bankvas geparkeer. Reg oorkant die poskantoor gaap ’n parkeerplek vir haar. Van die atlete warm op en ’n paar staan in die ry om registrasie af te handel. Ek maak seker dat my tekkies se veters ordentlik vas is en gryp die oorblywende bottel water.

Die registrasievorm! Waar is my bewys van registrasie? Dit was op die sitplek by my kospakkie. Magtig Bastiaan, jy het dit by die huis vergeet! 

Van die atlete staan rond by die wegspringpunt. Ek probeer deur die mense beur om by ’n registrasietafel uit te kom. Uiteindelik. ’n Dame kyk my verbaas aan en sê: “Jy is nou by die Juniors se tafel. Jy mag nie hier registreer nie. Die ry daar ánderkant,” en sy beduie met haar wysvinger na die oorkant van die plein.

By die ander registrasiepunt staan ’n man met voorarms soos Jimmy Abbot. “Hoe help ek vandag?” vra hy en probeer die sweet uit sy rooi snor vee.

“Meneer, ek het vooraf geregistreer, maar my bewys van registrasie by die huis vergeet. Kan u my help, assseblief?”

Ek hoor in die agtergrond die atlete wat gereed maak om weg te spring.

“Asseblief, Meneer?” vra ek weer.

“Jy is laat,” sê hy kortaf.

“Ek het aanlyn geregistreer en moet net my nommer kry,” pleit ek. Ja, ek pleit. In Worcester sê jy nie. Jy vra en jy vra mooi. Dis Wórcester dié.

Hy kyk my aan asof ek van ’n ander planeet is. “Dis load shedding. Jy sal weer moet registreer. R150.”

“Maar ek hét betaal,” probeer ek protesteer.

Die man staan op en sê: “Ons is nie ASA-geregistreer nie. Die wedloop is vir liefdadigheid,” en hy begin om die inskrywings op sy tafel met mening weg te pak. 

“Wag asseblief, ek gaan haal gou geld,” keer ek.

“Maak gou. Ek het nie heeldag tyd om hier te staan en wag nie!” snou hy met ’n bloedrooi gesig.

Op pad na Laika klap die skoot en die atlete spring weg. Ek gryp ’n R200 uit my beursie.

Iemand wat soos ’n karwag lyk sê: “Ek sal mooi na jou  bakkie kyk.”

“Ja, ja!” skree ek en hardloop terug. Die beampte teken die vorm en soek ’n nommer. Se-wen-tien minute ná die amptelike wegspringtyd begin ek draf.

Een kilometer, twee, drie, vyf, nege en dit begin voel of die hel op my kop nesmaak. By die tien kilometer-merk is my tyd vier-en-vyftig minute, sonder die agterstand van sewentien minute wat ek nie sal kan inhaal nie. By die twaalf kilometer-merk is daar nie ’n watertafel nie en my 350ml-bottel is byna leeg. By die halfpadmerk staan ’n paar ondersteuners. Een leegloper steek sy hand uit en skree: “Kan ek die bottel water kry?” Ek wou vloek. Die pad is lankal nie meer gelyk nie en die helling word al hoe steiler. Van die drawwers begin loop.

Ja, ’n trail run in Worcester is nie vir sissies nie. Die kwik staan op 41 grade Celsius en my kuite begin kramp. Sweet loop in my oë en dit brand soos kookwater en sout. Worcester lê en bak in die vallei. Ek soek na ’n boom vir koelte, maar sien nie ’n enkele skaduwee nie. Die casino in die verte met sy paar palmbome is al wat sigbaar is. Ons groep drawwers word ’n kermkoor. Een van die atlete noem dat ons by die een-en-twintig kilometer-merk verby is. Ek kyk op my horlosie en ’n ander atleet bevestig die afstand – twee-en-twintig kilometer. Ons het tog die regte roete gevolg? ’n Vrou gaan sit plat op die warm, vaal sand en begin huil. “Kyk agter jou,” troos ’n senior-atleet. “Hier is nog ’n miernes mense wat agter ons aankruip.”

Die laaste drie kilometer hardloop ons verby die stasie. Die teer voel taai van die hitte. Nog net een afdraai in Tulbaghstraat en ons het die wedloop voltooi. Ek hoor afkondigings oor ’n luidspreker. “Beurtkrag is verby!” roep iemand agter my. Nog vierhonderd meter. Die digitale horlosie is in sig. 03:15.26.

Kyk ek reg? Ek voltooi die wedloop met ’n tyd van 03:18:00, ontvang ’n medalje en gaan lê op die warm, harde gras. Van die atlete bevraagteken die afstand. “Ja,” hoor ek, die roete was drie en ’n half kilometer langer. My tong klou aan my verhemelte vas.

Ek stap na een van die tente toe en vra vir ’n glas Coke. “Jammer,” sê die dame, “dit is op.”

“En die afstand?” Sy kyk my verbaas aan en sê: “Ons doen dit vir liefdadigheid.”

Liefdadigheid. Ja, liefdadigheid. 

Ek moet net by Laika uitkom, geld kry en vir my Energade gaan koop. Ek krap in my beursie.  Leeg. O ja, ’n R50-noot is in my drafbroek. In die paneelkissie skraap ek R40 bymekaar.

“Meneer,” tik iemand my aan my skouer. “Ek het mooi na Meneer se bakkie gekyk,” en hy praat voort: “Sien jy, oorkant die straat is ’n slaghuis en ek het vleis en bene nodig vir sop vanaand.” Dié man vra nie – hy sê.

Vleis en bene is beter as ’n pap wiel of ’n krapmerk teen my bakkie en gee ek vir hom veertig rand en stap na die naaste kafee. Verby die OTM koes ek net betyds vir iemand wat na my selfoon gryp en druk my foon en kontant binne my onderbroek onder my drafbroek in. Uiteindelik. ’n Bottel Energade. Ek sluk die helfte af. ’n Jongeling op die sypaadjie vra: “’n Slukkie, Meneer?” Ek ignoreer dit en is ook te moeg om sleg te voel oor my onbaatsugtige houding.

By Laika keer ’n netjies geklede man my voor. Das en al in die hitte. Hy noem dat hy HIV-positief is en vra vir ’n donasie. 

Ek het twintig rand oor en ’n paar los sente en hou dit na hom uit.

“Vyftig rand is die minimum,” sê hy en druk die donasievorm onder my neus in.

“Ek het net twintig rand. Wil jy nie my sak naartjies ook hê nie?” vra ek met ’n moermeter wat in die rooi stoot.

“Ek soek nie naartjies nie,” mompel hy en stap weg.

Terug in die bakkie luister ek na ’n stemboodskap van Wickus. “Het jy toe onder twee ure klaargemaak?” en sonder om verder te luister, druk ek die foon dood. Nou moet ek en Laika net by die huis kom. 

By die afdraai vanaf die snelweg na Ceres, foeter die oop bottel Energade om en loop tussen my bene teen die sitplek af. Ek stop en probeer die taai gemors met ’n handdoek afdroog.

“Meneer,” vra ’n stem agter my. 

“Ja, wat is dit?” vra ek geïrriteerd.

“Ek sien dis ’n CCM-bakkie. Kan ek asseblief ’n lift kry?” Hy staan terug. “My vervoer het vir my wiggery.”

“En wat nog?” blaf ek. “Nee Meneer, net ’n lift asseblief. Ek sal agter in die bakkie gaan sit.”

“Jy kan nie agter in die bakkie sit nie,” sê ek heftig. “Die injectors het die gees gegee en jy sal versmoor van die rook. Klim voor in.”  

Hy huiwer nie vir ’n oomblik nie en maak hom tuis met die kospakkie op sy skoot. Dit is doodstil in die voertuig.  

Naby Wolseley vra hy: “Het Meneer nog nie geëet nie?” en kyk na die toebroodjies in die oop sak.

“Jy kan dit maar kry as jy honger is,” sê ek terwyl ek voor my in die pad kyk. “Hier is naartjies ook agter jou.”

Ná sowat ’n halfuur se ry en stilswye, draai ek links na Tulbagh. By die T-aansluiting in die dorp lig hy sy hand en sê: “Meneer kan my maar hier aflaai. Ek bly net hier oorkant die sloot.”

Ek stop. Hy maak die deur oop, steek sy hand uit na my en sê: “Baie dankie, Meneer. My naam is Alfred.”

Ek skud sy hand en sê: “Ek is Bastiaan.”

“Nog een ding, Meneer,” sê Alfred.

Nog ’n ding, nóg ’n ding, dink ek en sug hard.

Hy steek sy hand in sy sak en sit ’n R200-noot op die passasiersitplek neer.

“Baie dankie vir die lift en die kos, Meneer.”

Hy draai om, maak Laika se deur toe en begin wegstap.

Ek spring uit die bakkie en roep agter Alfred aan: “Ek wil nie die geld hê nie! Kom vat dit! Ek wil dit nie hê nie!”

Alfred kyk om en sê: “Dit was warm in Worcester, Meneer, baie warm.”

Hy wuif toe hy onder die brug deurstap en ’n perfekte refleksie-silhoeët van vrede teen die warm horison van sy nedersetting se sinkhuis-rykdom word.

The post Nog net een ding, Meneer … appeared first on LitNet.

Sê vir Hannes van Brendan

$
0
0

Foto: Canva.com

Gewoonlik is Linda hierdie tyd van die dag druk in die kombuis besig met die aandete, maar Hannes is al ’n uur lank tuis van die werk af en sy is steeds nêrens in die huis of op die werf te sien nie.

Hy vind ’n lysie doendinge wat op die vloer langs die bed beland het.

Koop brood, meel en pleisters 
Ruil bibboeke om
Gaan haal eiers by boerewinkeltjie 
Sê vir Hannes van Brendan

Vreemd. Hy bel weer ’n keer en nogeens kom haar warm stem: “Hallo, ek is Linda. Ek is nie nou beskikbaar nie, maar laat gerus ...”

En weer laat hy ’n stemboodskap.

“Is alles oukei?”

“Waar’s jy? Hoe laat kom jy?”

“Jy maak my bekommerd.”

’n Rukkie lank volg hy die sportnuus op TV, maar sy ore bly gespits of hy haar motor op die oprit hoor inkom.

Sy sou by haar vriendin, Rita, kon wees, hoewel sy nooit hierdie tyd van die dag meer kuier nie. Daarvoor is sy te geheg aan haar huis. Hy kry Rita se huisnommer in die foongids en bel.

“Nee, Hannes, ek het haar seker ’n week laas gesien. Sy was nogal skaars die afgelope tyd. Maar sê tog groete as sy tuiskom en dat ek haar mis.”

Die son se strale lê skuins oor die huis langsaan se dak. Dit voel vir hom so ongewoon sonder Linda dat hy teen die deurkosyn gaan leun en sy hande deur sy hare trek. Is daar iets wat hy besig is om mis te kyk?

Brendan. Hoekom het sy nie sommer vanoggend klaar gesê nie? Sy kan soms alledaagse goed soos pampoene en verskeie gesprekspunte in een asem te noem. Soos nou op hierdie doenlysie. Dis Linda en dis hoekom hy op haar verlief geraak het. Sy leef in ’n gewiglose seepbel.

Dalk is dit net die naam van ’n nuwe fliek, of dalk ’n hond by die dierebeskerming. Dit kan niks ernstigs wees nie. Tog is daar ’n hol kol op sy maag wat hy nie weggedink kry nie. Sy kan netsowel in gevaar wees en wou sy hom nog waarsku oor iemand wat haar lastig val.

Hy klim in sy viertrek en ry deur die buurt. Dis sommer verspot, maar hy onthou skielik voor die Chinese restaurant dat sy eenmaal gesê het: “Kyk die pragtige papierlanterntjies!”

Self hou hy nie van Chinese eetplekkies nie.

En langs die spruitjie sou sy sê: “Stop net gou! Ek wil surings pluk om huis toe te vat.”

“Hoekom wil jy surings hê?”

“Sommer mooi in ’n glas water. En die stingels is lekker in waterblommetjiebredie.”

By die kinderpark is dit al skemer tussen die bome. Dikwels kom sy op ’n Saterdag hierheen met twee kinders van die Botterblom Kindertuiste. Hy het al gesien hoe stoot sy hulle op die swaaie en wiel totdat hulle gil van lekkerkry. Onder die bome lees sy dan ’n storie uit ’n boek voor. Nou lyk die swaaie, wiel en wipplank verlate op die grens tussen donkerte en lig net voor dit nag word.

Self wou hy nog nooit kinders hê nie, al het sy al dikwels in die verlede die onderwerp aangeroer. Linda met ’n boepie? Deesdae weet sy dit is ononderhandelbaar.

Haar motortjie is nie tussen die ander wat by die supermark geparkeer staan nie. Langsaan lok die neonteken van die pizza-plek. ’n Groot pizza is net die antwoord. As sy dalk al by die huis vir hom wag, kan hy haar sommer daarmee verras.

“Sit ekstra kaas en pynappel by,” sê hy met ’n glimlag. “Sy is ’n regte pynappellekkerbek.”

Terwyl hy wag, bel hy weer vir Rita.

“Brendan?” herhaal Rita, “Nee, ek het nog nie die naam by haar gehoor nie. Wat ek wel weet, is dat sy rondverneem het na iemand betroubaar as tuinhulp.”

Dalk het sy ’n kandidaat vir die tuinwerk gevind en wou dit met hom bespreek. Hy loop by die supermark in en staan ’n paar oomblikke daar en kyk na die emmers vol blomme. Lelies.

“Ek is mal oor lelies!” het sy gesê daardie eerste aand toe hy haar in die foyer van ’n teater ontmoet het. Sy het haar verkyk aan ’n vaas vol lelies.

Laasjaar het sy aangesluit by die tuinbouklub. Sy wou hê hy moet ook, maar hy was min lus vir tuinboupraatjies. Ná die sportprogramme saans kyk hy movies totdat hy vaak raak. Hy het oorgenoeg spanning by die werk, en daar is net nie nog tyd vir tuinpraatjies ook nie. Onlangs het sy begin leliebolle plant. Hy draai om en stap weg van die blomme af buitentoe.

Hulle baklei amper nooit nie. Sy laat hom begaan as hy wil movies kyk of Saterdae gaan gholf speel. Hy sorg goed vir  haar. Sy het nie nodig om te gaan werk nie. Om die waarheid te sê, hy is dodelik gekant daarteen. Net soms beweeg gesprekke in die rigting van skoolhou. Onlangs het sy glo met ’n skoolhoof gepraat. As hierdie Brendan nie ’n tuinhulp is nie, is dit dalk die nuwe skoolhoof. Hy sal wel sorg dat die skoolhoustorie oorwaai.

Hulle twee is gelukkig getroud. Net onlangs nog het hy dit weer besef toe hulle bure, Koos en Bettie, se huwelik op die rotse geloop en die huis langsaan verkoop is. Sommer netso. Alles daarmee heen. Iemand het intussen weer langsaan ingetrek. Hy weet net dis ’n ou wat grassny op Saterdagmiddae.

Sterrekunde is nog ’n gier. By die biblioteek kry sy gereeld boeke oor die onderwerp, of lees daaroor op die internet. Terwyl hy movies kyk, lê sy buite op die grasperk na die naghemel en opkyk. Onlangs het sy na ’n tweedehandse teleskoop begin soek. Dalk is dit ’n Brendan wat ’n teleskoop iewers geadverteer het, alhoewel hy twyfel, want dan sou sy tog op die lys geskryf het Sê vir Hannes van teleskoop, nie Sê vir Hannes van Brendan nie.

Toe hy in die oprit by die huis stilhou, met die pizza langs hom, weet hy sommer sy is nie daar nie.

Sou sy na haar ma toe gery het sonder om hom te sê? Vyf-en-twintig kilometer na die volgende dorp toe as sy nie betyds voor donker kan tuis wees nie? Haar ma was die afgelope tyd siekerig. Miskien het sy bekommerd geraak en skielik besluit om te gaan kyk hoe dit gaan.

Sy skoonma klink aangenaam verras toe hy bel en belangstellend uitvra oor haar gesondheid. Hy wil nie sê dat hy eintlik na Linda soek nie. Sy sal tog self noem as Linda daar opgedaag het. Sy wei lank uit oor haar en haar papegaai se skete en kwale en daarby oor die stukkende ketel en stofsuier. Toe hulle eintlik alreeds gegroet het, vra hy haar tog.

“Het Ma nie dalk vandag iets van Linda gehoor nie?”

“Nee, Hannes, ek het nie. Hoekom vra jy? Is sy dan nie by jou nie? Sy het wel vanoggend gebel en gesê sy moet op baie kort kennisgewing vandag die karretjie invat vir ’n diens. Dit sou mos eers môre wees.”

Dalk was sy hoeka bang om môre saam met die garage se motorbestuurder huis toe gebring te word. Maar hoekom het sy hom nie laat weet van die nuwe reëlings nie?

Hy bel vir Fritz, die baas van die garage. Ja, Linda het die kar ingebring en ’n bestuurder het haar teruggeneem huis toe. Sy naam? Maans het haar huis toe gevat. En hy hoef nie te bekommer nie, die kar sal môre gereed wees.

Hy laat nogeens ’n stemboodskap.

“Waar is jy, Linda? Ek is bekommerd oor jou, man. Ek het al orals gesoek,” Hierdie keer sukkel hy om die tjank uit sy stem te hou.

Agterna staan hy in die nagdonkerte met die foon nog in die hand. Brendan.

’n Vermoede kom by hom op. Miskien het sy die lys daar laat val juis vir hom om te sien. Maar hoekom? Moet hy iets daaruit aflei? Dis tog ’n onsinnige gedagte.

’n Rukkie loop hy heen en weer in die oprit. Dis ’n maanlose nag. Hy stoot die hek oop en gaan staan onder die sypaadjieboom en kyk ’n paar oomblikke straatop en straataf. Hy sal moet polisie toe. Moet hy net eers die hospitaal bel? Hy talm nog. Daar is ’n stilte in die lug. Dan loop hy die entjie tot by die buurman se hek en besluit om die voordeurklokkie te gaan lui. Hier het Koos en Bettie nog tot onlangs gewoon voor die breukspul. Hy sal moet verskoning maak dat hy nou eers met die alleenloper kom kennis maak. Toe hy die knoppie druk, hoor hy die klokdeuntjie duidelik binne weerklink, maar niemand kom maak oop nie. Deur die riffelglas skyn ’n flou lig iewers, maar alles is doodstil.

Hy huiwer, maar stap dan tot by die heining wat die voortuin van die agtertuin skei. Hy tuur in die skaduwees in. In die donkerte verbeel hy hom hy sien twee figure langs mekaar op die gras lê. Dit lyk al asof hulle na die sterre lê en kyk. Hy kyk op in die wolklose nag na die naghemel vol flonkerende sterre. Die Orion? Die Suiderkruis? Sterre is maar net sterre. Sy oë soek weer die skaduwees op die grasperk. Nee wat, dis maar net sy verbeelding.  

Dis toe hy omdraai om terug te stap dat hy die man se stem hoor, en haar hoor lag.

The post Sê vir Hannes van Brendan appeared first on LitNet.

’n Brief aan my ouma

$
0
0

Foto: Canva.com

Die Waterberge 
Dag 80, COVID-19

Liewe ouma Lenie,

Dis winter in die Bosveld, Ouma. Die boekenhout se blare het verroes en die vaalbome staan weerloos en kaal. Wanneer die wind waai skuur die raasblaar se takke teen mekaar en dan huil die bome. Wanneer dit hoogsomer is, kan mens jouself maklik verbeel daar gaan nooit ’n winter kom nie. Ek kry swaar, Ouma. Ons kry almal swaar. Die lewe het skielik langs die pad gebreek. Nou staan ons almal alleen langs die pad en wag en wag vir hulp. Die warrelwind waai stof in ons oë. Dit voel of die hele wêreld ophou leef het. Dis swaar om net stil te staan, Ouma.

Ek wou Ouma nog altyd gevra het oor swarigheid, maar wanneer ’n mens jonk is hardloop jy die lewe vooruit. Dan wil jy nie terugkyk nie. Toe Ouma nog geleef het, het Ouma nooit gepraat oor swaarkry nie. Hoe het Ouma dit reggekry om bo-oor die swaarkry te bly lewe? Hoe gaan ’n mens aan met jou lewe wanneer die dood heeltyd oor jou skouer loer? Wanneer jy met die dood begin praat asof dit ’n lastige bedelaar is wat hierdie keer vra vir jou lewe? Die dood is die eerste ding waarmee jy worstel wanneer jy drie-uur in die môre wakker word. Die laaste ding waarmee jy saans bed toe gaan.

Swarigheid kom nie op bestelling nie. Skielik, onverwags sien jy dit aankom soos ’n ongenooide gas. Dan sit jy op die stoep en wag ... en wag. Is die wag reeds die begin van ’n rouproses? Die verwagting van verlies? Die afwagting? Die nagmerrie-moontlikhede wat binne-in jou kop teen mekaar bly rondstamp? Dan begin jy allerhande redes versin waarom die dood juis jou en jou geliefdes sal verbyloop. Dan begin jy vir rukkies vergeet – probeer leef asof niks gebeur het nie, asof niks gaan gebeur nie.

Jy draai van die bospaadjie af en loop die veld in. Jy ruik die suur van die gras waardeur jou voete loop. Jy kyk op na die blou lug en voel die koelte van die wind wat oor jou gesig speel. Die terugruk uit hierdie oomblik se vergeet is brutaal, Ouma. Dit kom wanneer die TV jou vertel van die nuutste getalle. Wanneer jy die voorbereiding sien van massagrafte – net ingeval dit nodig gaan word.

Ouma is gebore tussen massagrafte. In ’n konsentrasiekamp in Middelburg. Ouma se ma moes Ouma vertel het van die rye en rye kindergraffies wat in gelid gestaan het. Wat vertel het van masels en loopmaag en ander siektes, van die doodsengel wat deur die kampe getrek het.

Toe kom die groot oorlog van 1914 en kort op sy hakke die rebellie. Ouma was maar twaalf toe die wêreld vir die eerste keer uitmekaar begin val het. Was Ouma ook kwaad? Kwaad oor die lewe Ouma in die steek gelaat het. Oor die broedertwis van die rebellie wat families verdeel het. Oor die baie lyke wat begrawe moes word van familie en bure se seuns. Eers hier op eie bodem en later in ver en vreemde lande.

Ek is ook soms kwaad, Ouma. Kwaad omdat die lewe my ook in die steek gelaat het. Kwaad oor mense se roekelose domastrantheid. Ek wil mense voorsê, skreeu dat hulle versigtig moet wees. Is dit arrogansie, ontkenning, of wat is dit wat mense laat voortgaan asof niks besig is om te gebeur nie? Dit maak my kwaad.

Baie mense is kwaad. Daarom probeer hulle blaam uitdeel. Soek hulle na iemand vir wie hulle kwaad kan wees. Kwaad het ’n adres nodig waaraan dit gerig kan word. Sensasie-stories oor sameswerings en nalatigheid sprei soos die stank van oorloop-riool tussen mense.

Siekte is ’n groteske vyand. Die groot oorlog was in sy laaste stuiptrekkings toe die Groot Griep hand aan hand saam met skarlakenkoors by Ouma-hulle aangekom het. Ouma was vyftien. Was Ouma se skool ook gesluit? Was Ouma ook alleen op die plaas terwyl Ouma wag – luister hoe die siekte al hoe nader kom? Geweet hoe dit voel wanneer alleenheid binne-in jou kom lê, wanneer jy afgesny word van vriende en familie? Dit voel soos ’n donker put waarin jy val. Terwyl jy val weergalm jou skreeu teen die kante van die put en wonder jy hoe ver die bodem nog is.

Ek weet nie of Ouma ooit die Groot Griep gekry het nie, maar ek weet Ouma het wel skarlakenkoors gekry. Dat die hoë koors Ouma se hart aangetas het. Hoe voel dit as jy nie weet of jy gaan bly lewe nie? Wanneer jy weet jou hart-letsels is vir altyd. Dat dit agter jou aanloop soos ’n aasdier wat wag om jou aan te val. Ek het al vergeet hoeveel hartaanvalle en beroertes Ouma gekry het, maar ek onthou wel dat ek as kind die binnekant van hospitale leer ken het elke keer wanneer ons Ouma besoek het.

Die bangheid staar my aan met ’n ongeskiktheid wat my verstom. Ek het klaar soveel verloor. Die stukkende skerwe van my lewe lê rondom my gestrooi: My sekerheid is gebreek. Ek mag nie my kinders en kleinkinders sien nie. Ek moet ander mense soos die pes vermy. Hierdie afgesaagde gesegde het nou vir ons ’n nuwe, skrikwekkender betekenis gekry. Onrus in plaas van vrede het vir hom ’n blyplek in my hart kom oopwurm.

Maar die groot verlies lê miskien nog vir ons en wag, soos dit ook vir Ouma lê en inwag het. Dit was ’n windverwaaide Augustus-dag in 1927. Die oorlog en die Groot Griep was verby. Ouma was getroud met Ouma se groot liefde. ’n Dogtertjie van drie het in die plaashuis rondgehuppel. Ouma was vyf maande swanger met my pa. Die oupa, wat ek nooit geken het nie, is met sy fiets dorp toe. Dit was voor die tyd toe gewone mense karre kon bekostig en ná die tyd toe mense nog met perde dorp toe gery het.

Miskien het Ouma brood gebak, sodat Oupa vars brood met varkvet en stroop kon eet wanneer hy moeg van die dorp af terugkom. Toe die son reeds na die horison begin trek het Ouma kort-kort by die venster uitgekyk. Allerhande redes uitgedink waarom Oupa moontlik laat kon wees: Miskien sukkel hy om alles te kry wat hy moes gaan koop. Of miskien het hy ’n ou vriend raakgeloop en aan die gesels geraak sonder om te besef dat dit laat word. Eintlik is dit ver om met ’n fiets dorp toe te ry en vat dit langer as wat ’n mens dink.

Toe die skemer onverbiddelik oor die Hoëveld toesak het Ouma Ouma se voorskoot uitgetrek en die huishulp gaan roep om na die dogtertjie te kom kyk. Ek weet nie hoe ver Ouma in die plaaspad afgeloop het nie. Ouma se hart moes geruk het toe Ouma die fiets en die lyf in die pad sien lê het. Die pyngevoel van bene wat te vinnig probeer hardloop, die ydele hoop wat baklei met die donker wete dat dit te laat is – heeltemal te laat. Het Ouma langs Oupa se koue lyf gaan sit en sy donker krulkop op Ouma se skoot getel? Die mengsel van sand en skuim, wat ná die toeval in Oupa se mondhoeke gaan sit het, saggies uitgevee?

Toe was Ouma alleen en dit was die begin van die Groot Depressie. Ouma moes met ’n skreeuende baba op die rug ander mense se vuil klere was om aan die lewe te bly. Dit maak my bang, Ouma. Die onsekerheid. Die verskriklike moontlikhede van wat vir ons voorlê.

Tog het Ouma nooit oor swaarkry gepraat nie. Ek het meeste daarvan by tannie Sue, Oupa se jonger suster, gehoor. Ek het Ouma nooit sien huil nie, al was Ouma ’n sagte mens. Miskien het Ouma binnekant toe gehuil. Wat ek die beste onthou is Ouma se vertelling hoe julle as jongmense in die berge naby Loskopdam gaan stap het. Ek onthou Ouma se lag, nie die vals lag van iemand wat voorgee om immer vrolik te wees nie, maar die lag van iemand wat die klein stukkies vreugde in die lewe kan geniet. Is dit hoe Ouma dit reggekry het om aan te hou lewe?

Nou is Ouma al amper vyf dekades lank dood en ek is self oud, en ek hoop dat ek ook iewers die moed sal kry. Moed wat liefde en hoop lewend kan hou. Oor geloof is ek nie meer so seker nie ...

Petie

The post ’n Brief aan my ouma appeared first on LitNet.

Lopers

$
0
0

Waar is al die mense?

Ek kyk op en af in die straat. Die donker teer is nat en leeg. Nie ’n enkele kar wat kom of gaan nie.

Almal is weg, dis net jy.

Dit is net ek. Me and my lonesome. Is nog altyd, maar nie só nie. Daar is altyd karre wanneer die son net so oor die berg begin klouter. Die mense gaan werk toe of hulle gaan winkels toe of hulle gaan kerk toe of hulle gaan net iewers om iewers te gaan. Moet nice wees om iewers te hê om heen te gaan.

Jy wil nie gaan waar hulle heen gaan nie. Jy weet. Jy weet. Weet jy?

Die lug is koud en ek trek my baadjie stywer om my. Maar die koue is in my, in my bene. Ek kry dit nie uit nie, nie wanneer die seisoene eers begin draai nie. Snags trek dit tot in die murg in.

Ek loop op die sypaadjie tot by my robot en maak my poster teen die geel paal staan. Geen rede om die ding vas te hou nie, daar is niemand vir wie ek dit kan wys en hoop vir ’n paar oorskietrande nie. Die straat bly leeg.

Dis so stil. Geen enjins nie. Niks wat dreun nie.

Hulle het almal gevat. Hulle het net vir jou hier gelos.

Hulle het nie almal gevat nie. Hier kom ’n kar. Die verligting is weird. Want mense is nie juis my vriende nie. Ek tel my poster op. Die robot laat die kar stop. Een paar oë aan die binnekant. Kyk stip voor hulle uit. Die robot laat hom gaan.

Die skaduwees kom uit en word groter.

Ek vat my poster en loop op in Main Road. Die winkels het nie oopgemaak nie. Al die deure en shutters is toe.

Hulle het almal gevat.

Nie almal nie. Nog ’n scavenger of twee dwaal op die sypaadjie.

En SPAR is oop. Daar is ’n paar karre in die parking lot.

Maar die robot is klaar gevat.

Ek loop maar verder, volg die dwarsstraatjies, begin in die blou dromme kyk wanneer ek een teen ’n lamppaal sien. Ek kry ’n Steers-boksie. Slierte bruin blaarslaai klou aan ’n smeersel harde geel mayonnaise. Daar is altyd blaarslaai. Een verskrompelde chip het in die pakkie agtergebly. Melerig en koud, maar darem iets.

Die groepie scavengers onder die brug maak vuur. Hulle is ook nog hier.

“Hei, wat kom maak jy hier? Voertsek!”

Die klip tref my teen die kop en ek steier agteruit. Ek keer met my hand en strompel weg, hoor nog ’n klip die grond agter my tref.

Niemand wil jou hê nie.

Ek kom terug by die pad. My hand is rooi en taai.

Daar is darem altyd water in die rivier. Ek was my hand en drink totdat daar nie meer gevoel in my vingers oor is nie. Een manier om vol te voel.

Ek trek die baadjie stywer en loop na my plekkie toe.

Die skaduwees smelt saam totdat dit net een groot skaduwee bo-oor alles is.

 

Die strate is nog steeds leeg. Nog net een kar gesien. Ek staan verniet by my robot.

Hulle is weg. Weg. Hulle gaan jou ook kom haal.

Ek kies koers weg van die dorp af, na die huise toe. Lig ’n asblikdeksel. Ek onthou toe dit nog swartsakke op die sypaadjie was. Nou is dit wheelie bins. Boksies County Fair-hoender en I&J-vis, leeg. Pick n Pay-slippies. ’n Leë toiletpapierrol. ’n Sponsie met happe uit.

Ek stap oor die straat. Burgers en Huisgenote. ’n Barbie met net een been. ’n Opgerolde badkamermatjie. Ek vat dit. My plekkie kan doen met ’n carpet.

Piesangskille en appelstronke. Hoenderbene – vlerkies en drumsticks – met rys. Die rys beweeg. Nie net rys nie, maaiers ook. En ’n mieliestronk wat net halfpad geëet is. Ek haal dit uit en krap die maaiers af. Daar is nog heelwat pitte. Ek kan nie onthou wanneer laas ek mielies van ’n stronk af geëet het nie.

Dit gee my hoop vir die volgende blik. Maar dis leeg. Behalwe vir een ding. ’n Blikkie Doom.

Hulle gaan jou ook kom haal. Hulle gaan.

Ek kyk rond. My hart klop onder in my keel. Maak dit moeilik om te sluk en asem te kry.

Maar alles is stil. Die huise ook. Stil. Toe.

Leeg?

Ek kyk na die huis oorkant die straat. Die venster. Daar sal ’n yskas wees. ’n Koskas. Mense?

Ek trap van die randsteen af.

’n Kar kom om die draai.

Ek vries. Een voet op die sypaadjie, een op die teer.

Die man dra ’n masker oor sy mond en neus.

Hulle is hier. Hulle kom. Dis jou tyd.

Hy kyk na my. Gesiglose oë.

Dis jou tyd. Jou tyd is op.

Nee. Ek soek, maar alles is toe. Hekke. Mure. Net die straat. En al wat ek het, is ’n opgerolde badkamermatjie.

Die kar ry verby, raak weg.

Hulle gaan kom. Hulle weet nou.

Ek loop, vat die eerste dwarsstraat, probeer my rigting hou wanneer ek die berg kan sien uitsteek. ’n Kwart brood lê op een van die asblikke en ek gryp dit in die verbygaan, kyk weer oor my skouer. Die pad is leeg. Weggekom.

 

Die mense kom terug. Maar hulle is anders. Hulle het nie meer gesigte nie, net oë. Partykeer sien ek nog ’n neus en ’n mond, maar ek sien selfs van die scavengers nou maskers dra.

Hulle steek dit weg. Wat hulle doen.

Net ’n paar winkels is oop. Checkers. SPAR. Petrolstasies.

Hulle sit hulle stadig terug. Vervang hulle.

Hulle ry een-een. Loop een-een. Hulle wag buite SPAR in ’n ry, staan nie naby mekaar nie. Hulle praat nie. Hulle staan net.

Hulle is nie meer reg nie.

By die deur spuit iemand hulle hande.

Hulle toets hulle om te kyk of hulle al verander is. Hulle sal jou ook toets as jy naby gaan. Hulle sal jou vat.

Hulle kom uit met ’n sak, klim in hulle karre en ry. Praat nie. Glimlag nie.

Hulle is hier. Hulle is anders. Hulle gaan jou ook anders maak.

 

Ek bly weg van die dorp af. Dis beter in die buurte. Stiller. Veral vroeg in die oggend.

Maar nie vanoggend nie. Vanoggend is anders.

Dis hulle plan. Hulle voer dit verder. Die volgende fase.

Hulle loop. In oefenklere. Een-een. Twee-twee. In die straat. Hulle dra hulle maskers.

Hulle is nie reg nie.

Wat steek hulle weg? Wat is hulle?

Daar is baie van hulle. Ek kruip in die hoek van ’n veldjie weg.

Ek wag.

Hulle raak minder en verdwyn.

Hulle is nie reg nie. Hulle lyk nie reg nie.

Wat steek hulle weg?

Hulle gaan jou ook kry.

 

Daar kom sy. Alleen. Net soos gister en eergister. Sy kom wanneer die son amper bo-oor die berg gekruip het. Die ander lopers kom eers later.

Hoekom kom hulle net in die oggend uit?

Hulle is nie reg nie.

Ek gaan uitvind. Ek is reg. Ek het my ysterpyp saamgebring.

Sy het my nie gesien nie.

My hart klop so dat dit voel asof my hele bors skud. Ek loop agter haar aan, begin hardloop.

Sy draai om. Haar oë rek bokant die masker.

Hulle gaan weet. Hulle gaan kom. Hulle gaan jou kry.

Ek slaan. Die pyp tref haar teen die voorkop en sy steier agtertoe. Ek slaan weer. En weer, tref haar hierdie keer teen die kant van die kop. Sy val en ek sleep haar tot op die sypaadjie, die veldjie in tot teen die muur.

Sy maak kreungeluide.

Haar bloed lyk grys.

Hulle is nie reg nie.

Nou sal ek sien. Ek trek die masker af.

Sy het nog ’n neus. En ’n mond. Haar mond beweeg, maak geluide wat ek nie verstaan nie.

Hulle gaan weet. Hulle gaan jou kom haal. Jou ook verander.

Ek kyk om straat toe.

Jou tyd is op.

Ek druk die pyp teen haar keel, druk af so hard as wat ek kan. Haar hande lig. Een vat my arm. Ek druk harder. Totdat haar hand op die gras val. Totdat niks van haar meer beweeg nie. Totdat sy stil is.

Ek vee die grys bloed aan haar klere af en loop.

 

Hulle is hier.

Hulle is hier en hulle vat mense en maak mense anders. Maak hulle soos zombies. Wat net een-een in rye staan en hulle sakkie kos gaan haal, wat nie meer werk toe gaan nie, wat nie meer glimlag nie. Wat in die oggend loop om die lywe aan die gang te hou.

Hulle het ’n plan.

Hulle het. Hulle wil gevoellose mense hê, lewende doppe. Waarvoor?

Jy moet uitvind. Voor jou tyd op is.

Niemand anders weet nie. Net ek.

Jy moet uitvind. Hulle loop in die oggend.

Ek moet nog een kies. Maar hierdie keer moet ek haar laat praat.

Hulle is hier. En ek moet uitvind wat hulle wil hê.

 

Lees ’n kort onderhoud met Martin Steyn oor “Lopers” hier:

Korona-kortverhaalfees: Martin Steyn oor "Lopers"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Lopers appeared first on LitNet.

Die hemel se deure staan wawyd oop

$
0
0

“Hierdie evangelie het ons nie altyd geken nie,” sê pastoor Randall een Sondagoggend. “Dit het saam met ’n skip gekom ver van oor die see − saam met die Europeërs.” Pastoor Randall is hoofleraar van die AGS His Faith Ministries op Kromvlei. “Was dit nie vir die wit mense wat vir ons kom leer het van die Christendom nie, sou baie van ons bruin mense die Here nie geken en aanbid het soos ons dit vandag doen nie,” sê hy.

’n Koor van hallelujas en amens klink op uit die gemeente.

Dit was ’n Sondagoggend in Maart en ek was elf toe hy dié stelling maak. Soos ’n propeller het die vrae in my kop bly draai. Kom God dan nie hiérvandaan nie? Ek kyk verward na my ma.

Maar sy sit rustig; luister ongestoord. Beaam boonop kort-kort: “Ja, amen.” Uiteindelik, ná my gekriewel langs haar, kyk sy vir my. “Sjt,” fluister sy en trek my rok wat met die rondwoel opgeskuif het, af oor my knieë.

Ek kyk om my rond, maar almal se oë is na vore gerig en hulle luister kalm na die prediker.

 

Intussen vorder die nuwe skooljaar by Kromvlei Primêre Skool − ’n Boereskool, soos die kinders in my straat sê. Ek sien veral uit na die geskiedenislesse. Ek hoor van die slawe wat Kaap toe gekom het. “Dis die storie van die bruin mense,” sê my pa toe ek hom vertel.

Met my knieë opgetrek, my hande om my bene, sit ek voor hom op die stoep.

Hy sit op ’n geel krat. Poets sy kerkskoene. “Baie van ons voorvaders was slawe uit verskillende dele van die wêreld,” gaan hy aan. “Die Europeërs het hulle hierheen geboender.” Hy smeer die Nugget-politoer aan die skoenborsel. “Die slawe moes gehoorsaam wees aan hul eienaars, of hulle was swaar gestraf.” Hy staar ’n oomblik die verte in voor hy weer praat. “En toe kom hulle met apartheid. Toe is ons verder in ons hel in.” Hy staan op en sit die gepoleerde skoene op die krat om in die son droog te word.

 

In die klas leer ek meer oor apartheid. Oor rasklassifikasie.

“Het hulle ook ’n potlood in ouma Henna se hare gedruk?” vra ek een aand terwyl ouma Henna sit en nuus kyk. Ek langs haar op die bank. Terwyl ek praat, stryk ek deur haar stram regop grys hare.

“Hulle het dit met ons almal gedoen,” sê sy. “Om seker te maak watter kleur ons is.”

“Kon hulle dan nie met hulle oë sien nie?”

“Die regering van daai tyd het namens mense besluit aan watter kleurgroep hulle behoort,” sê sy terwyl sy die pyn uit haar bene probeer vryf. Dan lag sy. “Ons het hulle verder deurmekaar gemaak.”

“Hoe dan so?”

“Oor ons so tussenin lyk.” Ouma Henna tik met haar vinger teen haar wang.

“En as hulle nie seker was nie?”

“Dan het hulle geraai.”

 

Een Saterdag in die taxi op pad dorp toe vertel my ma my die storie van die poskantoor.

“Ons moes in aparte rye staan om gehelp te word,” sê sy.

In die dorp staan ons in ’n ry by die poskantoor om ’n pakkie af te haal. Die gebou het beige vloerteëls en groot vensters wat op die hoofstraat uitkyk. Daar is bankies vir mense om op te sit. Ek kyk al in die rondte. “Aan watter kant moes Mammie-hulle staan?”

“Ek kan nie meer onthou nie. Die gebou het anders gelyk.” Sy wys met haar vinger voor haar mond vir my om stil te bly.

 

Antie Bettie, die skoonmaker by die skool, praat een pouse saam met my in die kombuis. “Hulle het gesê die Bybel sê apartheid is reg.” Sy loer vlugtig of iemand nie in die gang verbyloop nie. “Die Boere het geglo dis God se wil,” sê sy terwyl sy die klein wit koppies in die Jik-water was. “Sien jy daai groot kerk met die hoë toring hier anderkant?” Sy wys met haar kop in die rigting van die NG Kerk.

Ek knik.

“Hulle het gepreek vir apartheid om te bly. Maar dis nie nou meer so nie.” Sy pak die breekgoed een vir een netjies op ’n skinkbord uit. Haar groen overall is vol nat kolle.

Ek skud my kop. “Nee. Antie Bettie is verkeerd. God sou nooit daai dinge toegelaat het nie. Daai mense het nie vir God geken nie. Óns het hulle van Hom geleer. Toe vra hulle vir God om vergifnis oor alles. Toe vergewe Hy hulle. Dis wat gebeur het.”

Dít het ek altyd gedink.

Tót daardie Sondag van Maart in pastoor Randall se kerk.

Dit lyk of nie een van die driehonderd gemeentelede in die rye grys plastiekstoele skrik vir sy uitlating oor die wit mense wat geloof na ons toe gebring het nie. Behalwe ek.

Die band speel. Die tromme doef-doef deur die kerkgebou. ’n Dogtertjie in ons ry sing luidkeels saam: “Spring in die bad van Bethesda …” Dan maak sy of sy in ’n bad spring.

Regs van my is ’n vrou met ’n bont kopdoek. Haar gesig donker van plaaswerk in die son. Sy swaai haar arms jubelend.

“Jesus! Jesus!” roep oom Ampie agter my.

Naby die einde van die diens stap ’n man vorentoe. Hy gaan staan langs die preekstoel en getuig hoe die Here hom verlos het van drank. “God het my vrygemaak,” sê hy en glimlag sonder sy vier voorste tande.

’n Vrou gaan staan langs hom en begin ook getuig. Sy vertel huilend van haar dwelmverslaafde seun: “Nog … net … die … Here kan my kind red,” snik sy. Dit lyk of sy gaan omval.

Twee kerksusters staan vinnig nader. Hulle hou haar van weerskante om die middel vas.

Ek kan nie wag vir die slotgebed nie.

 

Toe ons terug huis toe stap, wil my ouer broer Ferdinand hê ek moet ruik of hy nagmaal gebruik het.

“Dis tog net sap,” stoot ek hom geïrriteerd weg.

 

Middagete kom ouma Henna uit die kamer geslof en kom sit oorkant my aan die etenstafel.

“Dank vir ons, Ferdi,” sê my pa.

“Seën ons, Vader. Seën ons ete. Laat ons nimmer U vergete. Amen.”

Ouma Henna praat eerste: “Hoe was die diens?”

“Geseënd, Mamma,” antwoord my ma. “Ouderling Hess en sy vrou kom in die week vir Mamma nagmaal bedien. Hulle …”

“Dêdda, waar kom God vandaan?” val ek hulle in die rede.

My pa verstik aan gebraaide aartappel.

“Hoe meen jy, Diena?” Hy lyk verbaas. Hoes nog ’n slag.

“Het God saam met die wit mense gekom?”

Voor Pa kan antwoord, gryp Ma in: “Toe, toe, Diena, jou kos word koud. Eet klaar!”

“Wag nou, gee die kind ’n kans,” tree ouma Henna tussenbeide. Dan sê sy saggies: “Diena, God behoort nie op één plek nie. Ook nie aan een mens of groep nie. Hy is oral. Al het mense klompie jare gelede van ver af gekom om ons van God te vertel, het verskillende mense Hom hul eie gemaak. Ook die bruin mense.”

“Maar die mense wat ons van God geleer het, het nie van ons gehou nie,” stribbel ek teë. My oë brand.

Ouma Henna hou haar hande saam asof sy gaan bid. Sy wag ’n oomblik voor sy verder praat. “Mense doen uit eie wil die verkeerde ding. Dan het God niks daarmee te doen nie.” Voordat ek iets kan sê, hou ouma Henna haar hand in die lug. “Nie een van ons het vir jou ál die antwoorde nie. Net soos jy, hoop ons dat alles eendag duidelik sal word. Tot dan kan ons net glo in dit wat die Bybel sê: Dat ons almal voor Hom gelyk is. Dat ons almal Sy kinders is. Oor wat met ons geslagte gebeur het. Die oordeel is nie ons s’n nie.” Ouma Henna kyk in Pa se rigting.

“En die hemel, ouma Henna?” My oë is nat. “Kan ek nog hemel toe gaan?”

Ouma Henna knik. “Vir jou, Diena, staan die hemel se deure wawyd oop.”

 

Lees ’n kort onderhoud met Wilmarie Pekeur oor “Die hemel se deure staan wawyd oop” hier:

Korona-kortverhaalfees: Wilmarie Pekeur oor "Die hemel se deure staan wawyd oop"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Die hemel se deure staan wawyd oop appeared first on LitNet.


Killing my darling

$
0
0

Foto: Canva.com

William Faulkner het gesê: “In writing, you must kill all your darlings.”

Stephen King herhaal dit: “… kill your darlings, kill your darlings, even when it breaks your egocentric little scribbler’s heart, kill your darlings.”  

Ek vergiftig jou in my gedagtes, my darling. Slukkie vir slukkie voer ek jou my opium-konkoksie. Stadig laat ek jou ontslaap. Snikkend hou ek jou dop terwyl jy in en uit my bewussyn versit. Ek is nog nie heeltemal gereed om jou uit te skryf nie. Al bestaan jy net in my kop, wil ek jou nie laat gaan nie. Maar die redakteur se rooipen het tyding gebring.

Ons lewe saam, al was dit net in my skrywersverbeelding, was dit ’n wonderlike ryk leeftyd. ’n Kortstondige naweek waar ek in ’n storie weggeraak het. Dit was ’n laat-Vrydagmiddag, die week het homself begin afsluit. My rubriek het net-net saktyd gehaal. Die HAT en Tesourus was op pad na hul gate op my boekrak.

Ek het jou ligte klop aan my komplekse skedel-kothuis se houtdeur dadelik herken. Jy het die afgelope kwartaal dikwels opgedaag, maar ek het jou aanhoudende klop vermy weens my besige hamster-skedule. Jy het niks gesê nie, net onseker getrippel. Nie seker of ek jou gaan innooi of wegjaag nie. Jy het my dopgehou met jou denimblou oë. Daardie kyk van jou wanneer jy kyk of ek kyk. Jy wat seker maak my oë rus op jou. Of wanneer jy saam met Elandré op RSG sing, sal jy my dophou of ek meegevoer raak.

My darling, jou hemelryke stem het hierdie skrywershart holrug gery, laat sjokolade klop. Ek het jou vinnig aan die hand gegryp en in die kothuis van my groot harsings ingetrek. Ek was bang die buurvrou, wat elke dag na boek twee vra, sien ek is voor my rekenaar, besig om te skryf aan jou. “Is dit nou die nuwe karaktertjie wat in jou volgende boekie gaan verskyn?” Fokkertjie-offertjie van my huis af as jy in kie-tjies oor my harde werk praat.

Die Here weet, jou mag ek nie gesoen het nie. Vir ons albei was dit op daardie stadium nie eties korrek nie. In my verdediging, en verbeelding, het jy my eerste gesoen. Daar staan jy toe. Onwerklik. Hemeltergend in die regte lobbe van my kothuis. Jy was verskrik deur jou skielike begeerte om my lippe te proe. Ek het na jou gesmag. Te lanklaas het ’n fabelagtige karakter soos jy by my aangekom. Ek het honger elke beskrywing en dialoog vasgepen en geproe. Ná ’n kamstige maand van skelm vry, moes ek my vriende van jou vertel. Die snoep bure het jou al weke terug sien in sneak. Die storie was los oor die karakter met blou, aanloklike oë wat tydig en ontydig by die skrywer inval.

“Ons sien jou nooit meer nie,” het die buurvrou gekla.

“Ek skryf,” was my verweer.

My vriende was nie baie gaande oor jou nie, my familie wou my onterf. Hoe sal ’n verhouding tussen ’n skrywer en ’n darling ooit kan werk? Dis verregaande – ’n vertolking wat nie vir ander sin maak nie.

In ’n Microsoft Word-dokument het ek en jy ná maande van Times New Roman-12 pt op ’n wit vel in Hollywood gaan woon. Jy wou sing en ek wou movies skryf. Ons was moerse ryk. En mooi. En toe famous. En ons het net oë vir mekaar gehad. Min baklei en dinge het áltyd uitgewerk – want, hallo, dis in my kop!

Ons het ’n seun en ’n dogter gehad, so twee jaar ná ons sprokietroue. Jou ma was glad nie happy dat ons trou nie, so sy was nie op ons groot dag nie. Ek het nooit besef jou ma is so ’n koei nie, totdat ek haar moes uitdink. Toemaar, ek sê mos alles werk uit. She came around. Jou ma het toe vrede gemaak dat ’n skrywer haar kind se hart gesteel het. Sy was gaande oor Zac en Mia. Ons kinders. Dink jou ma het net van my begin hou omdat ek so mooi met jou gewerk het. Wat sal Skoonma tog sê as sy hoor ek het jou uitgeskryf en jy gaan nooit geïnk word nie. Niemand gaan van jou hemelstem en denimblou oë lees nie. Dit breek my sjokolade-kloppende hart.

Ek wil net hier in my naweekbed bly saam met jou en nog stories uitdink oor hoe wonderlik jy dink ek is. Haastig blaai ek deur my karakterbybel, dalk kan ek jou herbedraad en ’n verhaal met meer klimaks skryf, nie net in die bed nie. Maar die naweek is afdraend. Maandag loer vir my met beloftes van hoop en drome wat net miskien gaan waar word. Tussen to do-lysies, kliënte en vuil wasgoed. Dit is dié nine-to-five wat my onderhou terwyl ek naweek na naweek passievol storietjies uitdink en net oor Hollywood kan droom.

Denise Mina het gesê: “Being lost in a story is an extraordinary human capacity, but the story has to be right.” Hoe kan ek as skrywer enige leser laat wegraak in hierdie liefdesverhaal vol clichés met ’n darling van ’n karakter wat in werklikheid net té indrukwekkend is om te bestaan? “Kill the darlings,” het my redakteur met rooi gekrap. Dit bly moeilik om ’n darling dood te maak, veral as jou darling ’n nie-fiktiewe fiksie is. En verál as jou verbeeldingslewe in Hollywood baie beter lyk as vroegoggend-vergaderings ná twee ure in die verkeer net om weer na ’n leë huis sonder warm liefde terug te keer.

Ek het my oë gerol toe jy saam met Miley Cyrus begin sing, maar hierdie sjokolade-kloppende hart is klaarblyklik nie net ’n cliché nie, dit verraai ook:

Why don’t you stand, stand by me, 
Oh my darling stand by me 
We gon’ make a movie, a movie and 
It’s gon’ be in three D, in three D

Hiér, waar jy nou in my arms ruk van die oordosis opium en ons Hollywood-lewe uit jou oë verdwyn, sê ek totsiens my darling. Mag jy vrede vind in my digitale asblik saam met al my gewese darlings (en Miley Cyrus). Al het die rooipen jou geskrap, bly jy my darling en ek sal altyd Hollywood onthou. Soos die uitdrukking lui, It wasn’t real but it was emotional.

Baie liefde,

The writer who kills darlings, but not for a living. 

The post Killing my darling appeared first on LitNet.

As die klipdagga blom

$
0
0

Foto: Canva.com

Dit was op ’n winderige dag met skuimkoppe op die see, dat sy sê sy het genoeg gehad.

“Genoeg gehad? Van wat?” wou hy weet.

“Jy weet goed.”

“Nee vrou, want jy sê dit ten minste een maal ’n maand. Wat is dit nou weer?” Hy het die pap op die stoof bly roer en nie omgekyk na haar nie. Hy het geweet hoe sy lyk as sy so praat. Hy kon haar gesig in haar stem hoor, die wilde kyk in haar oë, die saamgeperste lippe.

“Ek wil Amsterdam toe.”

Terwyl sy praat, rus sy oë op die wiegende manatok voor die agterdeur, die see net-net sigbaar deur die blare wat bewend aan die takke vasklou.

“Amsterdam nogal.” sê hy. Roer, roer, kap, kap teen die kant om die klewerige pap te laat terugval. Dan sit hy die deksel stadig op die kastrol terug. Hy draai nie om nie. Bly tuur deur die vuil venster, gevlek met mis van die see en mis van die honderde duiwe wat op die dak kom skrop.

“Ja, Amsterdam en dan met ’n bootjie af in die kanale tot onder in Frankryk.” Sy suig hard aan haar sigaret. Hy het geweet haar wange bol spookagtig na binne sodat sy anoreksies lyk. Hy het gewag en tot drie getel. Toe blaas sy die rook stadig uit. Hy het weer getel. Vier tellings, dan tik-tik teen die asbakkie op die kombuistafel voor haar.

“Daar is nou ’n special aan. Jy vlieg tot op Doha, kry ’n aansluitingsvlug tot in Amsterdam en vandaar vaar jy suid.” Haar stem klim nou effens. “Ek wil nie Parys toe gaan nie. Almal gaan Parys toe en al wat daar is, is die Eiffeltoring.” Dan sagter. “Ek het hoogtevrees.”

Ietwat driftig nou. “Ek wil deur die klein dorpies van Provence met ’n motorfiets gaan ry. Net met ’n rugsak. Ek wil gaan wyn drink en brood met kaas eet. Soos in die boeke.”

Hy weet wat kom. Sy gaan nou die sakrekenaar en ’n notaboek haal. Die notaboek waarin hulle maandelikse begroting aangeteken word. Hy noem dit hulle rillerboek. Hy skryf nie meer daarin nie. Hy sien nie meer kans nie.

Die dakplate klap meteens bokant haar kop en sy skraap haar stoel agteruit. “Ek kan hierdie donnerse wind nie meer hanteer nie!” Haar voetstappe verdwyn in die gang.

Hy bly by die venster uitkyk. Sy blik verskuif stadig na links, na haar rotstuin in die hoek van die erf. Daar waar die kleurpalet wissel van dofgroen tot vuilgrys. Dit was ’n lang, droë somer, maar hierdie wind bring die winterreën. Hy weet alles sal weer uitloop en blom, nes elke winter.

Dan vang sy oog die oranje blommetjie skuins agter die meelplakkies. Die klipdagga is al plant wat nou in hierdie droogte en daelange wind blom. Miskien moet hy hom vir haar gaan pluk. Dalk sal dit haar beter laat voel. Haar gemoed en gedagtes is weer geskommel vandag.

Hy draai die plaat waarop die pappot staan laer en druk die agterdeur teen die rukkende wind oop. Gebukkend loop hy na die rotstuin, terwyl hy sy verslete baadjiepante teen sy lyf vashou.

Die klipdagga is een van die lelikste plante van hierdie geweste. Sy het egter geweier dat hy dit uittrek en nou staan die plante stokkerig en uitdagend daar. Leonotis nepetifolia, het hy in een van haar biblioteekboeke gelees, kan gebruik word om angstigheid hok te slaan, jou rustig te maak. Nes gewone dagga sekerlik ook. Dalk moet ek die plant tog droog en vir haar tee daarvan trek, dink hy. Sy kan haar dan verbeel sy reis deur Jamaika of een of ander eksotiese eiland.

“Julia, kom kyk wat het ek vir jou!” Hy druk die klappende deur hard toe en prop die stingel met sy twee armsalige oranje blommetjies in ’n drinkglas wat op die wasbak staan. Hy het vroeër die skottelgoed weggepak, maar sy moes water kom drink het terwyl hy buite was. Sy het maar die gewoonte om alles net so vir hom te los.

Die huis is stil.

“Julia, waar is jy?”

Net die wind loei om die hoeke van die armsalige tweeslaapkamerhuisie teen die duin.

In die slaapkamer gaan hy staan. Die laaie is oopgetrek en van haar klere lê op die bed. ’n Handdoek hang oor die kasdeur. Hy is verbaas. Hy het dan self vanoggend die kamer netjies gemaak terwyl sy gestort het?

Hy hoor die voordeur toeklap.

Hy hardloop sitkamer toe en ruk die deur oop.

Sy staan op die stoep met haar rooi jas aan. Sommer so oor die verbleikte sweetpak. Haar hare waai slierterig. Haar rugsak, wat sy saamneem as sy gaan skulpe optel, hang oor haar een skouer.

“Ek moet hier wegkom, Johan!” Sy skree bo die wind.

“Julia, kom in. Jy gaan sieker word hier buite.”

“Ek wil op ’n vliegtuig klim en ek wil wegraak. Weg van die see, die wind en hierdie godverlate sandduin.” Sy gee een tree vorentoe en haar plastiekstewels blink in die laatmiddagson.

“Wil jy nie maar wag tot môre nie?” Sy stem is nou paaiend.

“Watse verskil gaan dit maak?” Sy kyk nie om nie.

“Ek kan saam met jou gaan?”

Sy draai vinnig om. Vee die hare uit haar gesig. “Wil jy ook Amsterdam sien? Die klipstrate, die ou geboue, Keukenhoff se blomme? En Frankryk, Johan? Sal jy saam met my deur die ou dorpies loop waar die tyd gaan stilstaan het?” Haar lyf is koorsig toe sy teen hom kom staan.

Hy ruik haar siekte. Dit ruik na ou parfuum en oorvol asbakkies.

Hy sit sy arm om haar skouer en haal die rugsakkie met sy ander hand af. Lank staan hulle so op die stoep, terwyl die wind huil. Oor haar kop sien hy die wolke naderkom, donkergrys en aanvallend. Die reën is amper hier.

“Kom ons gaan binne. Die pap brand seker al. Ek sal nou die wors moet begin braai.”

“Ek sal die skottelgoed was.” Skuldgevoel lê vlak in haar oë.

Die reuk van liggies gebrande pap hang gesellig in die sitkamer toe hy die voordeur ferm agter hulle toedruk.

“Dit ruik heerlik.” Sy snuif genotvol en stap kombuis toe.

In die kombuisdeur gaan hy staan en kyk na haar.

Haar oë is nat toe sy omdraai met die klipdagga teen haar bors vasgedruk.

“Jy het vir my ’n blom gaan pluk! Kyk hoe mooi is hy. Mooier as Keukenhof se mooiste tulpe.”

The post As die klipdagga blom appeared first on LitNet.

Redding in ’n bottel Cabernet

$
0
0

Foto: Canva.com

Nog half slaapbeneweld, hou ek my hand, as beskerming, voor my neus. Hel, dis die suurste, bedompigste asem wat ek in my lewe geruik het. Stadig maak ek my oë oop. Hy lê hier voor my met kwyl wat uit sy mond loop. Ek deins telkens terug as hy diep sug en die suur asem oor my uitblaas. Hy is diep toegewikkel in die wolk van vergetelheid en slaap. ’n Mens sou sweer hy het ’n skoon gewete, dink ek wrang. Saggies tel ek my been van die bed af, druk lig met my arm en gly uit die bed.

In die kombuis staan ek deur die venster en kyk hoe die dag breek.

“Die môrestond het goud in die mond,” onthou ek die gesegde. Hmf, nie my môrestond nie. My môrestond ruik soos stront, en ek glimlag wrang oor my rymtalent. ’n Mens sou dink ek is die drankasem teen die tyd gewoond, maar ek sal dit nooit gewoond raak nie. Die walging kom sit so dik in my keel en ek moet sluk om dit weg te kry. Terwyl ek my koppie swart koffie neem en stoep toe stap, ontsnap ’n sug uit my bors. “Ja, mev Dokter.”

Dit is reeds die tweede week van inperking. Almal is steeds op hol oor die koronavirus wat ons klaarblyklik gaan afmaai soos vlieë. Dalk sal dit vir my ’n seën wees as ek, soos dit genoem word, COVID-19 kry. Kan ’n virus erger wees as my daaglikse toneelopvoering? Ja, opvoering, want ek speel toneel soos geen akteur kan nie. Ek verdien eintlik ’n Oscar. Niemand, wat die nimlike dr Steyn en sy gesin ken, sal kan raai dat daar ’n diep donkerte in hulle huishouding heers nie. ’n Diep donkerte wat soos ou suur wyn ruik.

Gerhard kan al twee weke lank nie uitgaan om sy daaglikse dosis drank in sy keelgat te gaan afgooi nie. Gelukkig? Ongelukkig? Ek weet nie. Ek dink ons is al verby die “gelukkig”, want Gerhard is ’n volslae alkoholis. Dis nog net hy wat tot daardie besef moet kom. Ek en die kinders weet dit. Ek het hulle lank daarteen probeer beskerm, maar kinders is nie onnosel nie. Die feit dat hy nie meer praktiseer nie, skryf hy daaraan toe dat hy probleme met sy geheue het. Hy het uitgetree as gevolg van gesondheidsredes, verduidelik hy altyd. Gesondheid my dinges. Jy suip jou gesondheid weg.

Eintlik het dit my gepas as hy besope tuiskom en in ’n byna stupor op die sitkamerbank neerval. Ten minste los hy my dan uit en is ek daardie aand veilig. Die afgelope twee weke was hel met hom langs my in die bed. Alkohol gaan sit in jou vel. Dit vreet in jou vel in en jy ruik vir ewig daarna. Jou binnegoed word suur en neem die reuk van die drank aan. Daarvan is ek oortuig. Hy het twee weke lank nog geen drank ingekry nie en tog bly die reuk in en aan hom.

“Lyla, waar de hel is jy?” hoor ek hom in die huis roep. Ek bly met opset doodstil sit en antwoord nie.

“Lyla, dêmmit, waar is jy nou weer?” Ek sak laer in die bank. Dalk sal hy my nie sien nie.

“Hier is jy! Hoekom de moer antwoord jy my nie? Jy hoor mos ek roep jou?”

“Ekskuus man, ek het jou regtig nie gehoor nie,” lieg ek met ’n gladde bek.

“Ek is honger. Het jy al kos gemaak?” wil hy bars weet.

“Nee, ek was nou net op pad om eiers te bak. Wil jy koffie hê?” vra ek met gefeinsde vriendelikheid.

Terwyl hy bank toe stap om langs my neer te plof, bekyk ek hom met aandag. Waar is die man vir wie ek twintig jaar terug lief geword het? ’n Dinamiese man met murg in sy pype? Al wat nou oor is, is ’n patetiese drankslaaf.

Ek staan op en hy gryp my aan my arm. Harder en stywer as nodig.

“Moet nou nie weer die blêrrie toast brand soos gister nie.”

Ek stap kombuis toe. My arm brand waar hy dit gedruk het. Nog ’n bloukol.

Ek is verlig dat die kinders tydens die inperking in Vryheid by my ma-hulle is. Ek het geweet hierdie ruk wat Gerhard sonder sy drank moet wees, gaan hel wees.

My gedagtes gaan op loop en met elke eier wat ek in die pan breek, onthou ek die houe. Soveel keer kon ek nie dorp toe gaan nie omdat ek merke op plekke gehad het wat ek nie onder klere kon wegsteek nie. Dit is seker een voordeel van die inperking. Nou mag ek nêrens heen nie en ek hoef niks weg te steek nie. Ek hoef vir niemand voor te gee nie. Dis net ons twee. Ek en my beduiwelde wederhelf. Ek moet net slim wees en uit sy pad bly soveel ek kan.

Die reuk van gebrande roosterbrood ruk my terug tot die hede. Ek gryp die warm brood en brand my vinger. “Verdomp!” mompel ek. My maag trek op ’n knop as ek hom hoor aankom.

“Het jy wragtig weer die toast gebrand! Jy tart my, nè? Ek sal jou wys wat doen ek met hande wat my kos brand!”

Voor ek hulle kan wegruk, gryp hy my hande en sleep my stoof toe. Hy draai die spiraalplaat op sy hoogste.

“Nee, asseblief Gerhard, dit was ’n ongeluk. Ek sweer. Ek sal ander maak. Asseblief!”

Asof hy doof is, druk hy my handpalms op die stoof. Ek ruik hoe my vleis brand. Ek gil en ruk my hande terug. Hy laat my gaan. Ek hardloop badkamer toe en sluit die deur. Angstig staan ek en luister of ek hom kan hoor. Dit bly doodstil. Ek baai my hande in koue water en smeer dan brandsalf aan. Ek bly ’n hele ruk in die badkamer agter die toe deur.

“Lyla? Lief?” hoor ek hom later roep. Omdat ek nog bewerig van die skok is en nie weer ’n soortgelyke voorval wil uitlok nie, antwoord ek sag.

“Ja, Gerhard?” Hy kom na my aangestap en hou sy arms na my uit. Vir ’n sekonde wil ek hom byna jammer kry. Hy is so pateties.

“Ek is jammer, lief. Dis hierdie damn inperking wat my so maak. Ek kan nie sulke goed hanteer nie. Ek wil gaan waar ek wil en wanneer ek wil en nou beheer ander mense my kom en gaan.”

Ek staan doodstil in sy omhelsing. Ek kan die suur neerslag van ou wyn ruik.

Ek wens ek kan vir hom iewers ’n bottel wyn in die hande kry. As hy sy daaglikse sopies in het, is hy minder aggressief. Nêrens mag ons drank koop tydens die inperking nie. Ek het al aan soveel planne gedink. Ek weet ’n mens kan op die swartmark kry, maar ek is bang om die kans te vat. Vir my sal dit ’n seën wees om in die tronk te gaan sit, maar ek het kinders.

Die vierde week van inperking breek aan. Die Here weet, as ek net drank in die hande kan kry! Gerhard het byna alle beheer verloor. Ek glo hy begin ook onttrekking kry. Hy is naar en braak sonder ophou. Hy bewe soos ’n riet. Uit pligsbesef en ter wille van sewentien jaar se gelukkige, dranklose, getroude lewe, wil ek hom help. Dalk net dalk kan hy heeltemal ophou drink? Hy gil soms so hard op my dat ek seker is die bure gaan kom kyk wat aangaan.

’n Glas gly uit my hand en val kletterend op die vloer. My asem stop in my keel. Ek staan en luister of ek kan hoor waar hy is. “Asseblief, moenie dat hy dit gehoor het nie,” prewel ek ’n skietgebed. Is dit sy voetstappe of is dit net die wind wat ek hoor?

Ek kyk na die flou namiddagsonstreep wat onderdeur die spensdeur, waar ek wegkruip, skyn. Ek is te bang om asem te haal. Ek is seker hy het gehoor toe die glas breek. As Gerhard my nou kry, gaan hy my waaragtig doodslaan. Die satan is behoorlik in hom vandag. Ek moet op ’n manier drank in hom kry. Ek maak my oë toe en bid.

“Here, U sien hoe swaar ek kry. Ek kan nie meer nie, Here, ek sweer, ek kan nie meer nie! Net een bottel drank. Net een. Dit sal die hel net ’n bietjie minder warm maak. Asseblief, Here.” Ek sluk die souttrane af en loer skelm om die kas se deur. Ek sien hom nie. Stadig klim ek uit en gaan staan regop. Doodstil. Waar sou hy wees, wonder ek. Voetjie vir voetjie stap ek in die gang af. Ek hoor hom steeds nie.

In die slaapkamer se deur gaan ek staan. Hy lê uitgestrek op ons bed. Sy asemhaling is diep en rustig. Ek ruik weer die suur. Dit wil-wil vir my voel of die reuk skerper en dieper is. Stadig stap ek om die bed en gaan staan voor hom, waar hy lê. My oë gly af na sy hand en ek snak na my asem.

Die bottel Cabernet het ’n bloedrooi kol op die matras gevlek.

The post Redding in ’n bottel Cabernet appeared first on LitNet.

Rigting

$
0
0

Sofia kyk van haar Creme Soda af op in Malan se byna ewe groen oë. Sy onderdruk die drang om vir die soveelste keer haar hand deur haar halfgrys hare te trek.

Hy is sy pa se ewebeeld. Die man wat hy nooit geken het nie.

Nog ’n afkondiging herinner haar aan die rede hoekom hulle hier is. Dis te laat vir trane. Waaroms en waarskuwings sou hom nie van rigting laat kon verander nie.

Onwillekeurig word haar enigste kind se beeld in haar gedagtes met dié van ’n sesjarige Malan vervang. Woeste hare wat goudgeel deur die Kalahari-son verguld is. Met sy klein, bruin kartontassie in die regterhand, hier en daar nerfaf, nes sy velskoene en skraal kniekoppe. Só het sy hom gekry daardie dag toe hy besluit het om weg te loop.

Op die oog af het dit gelyk of Malan swaar dra. Die hitte het golwend opgeslaan teen die duin agter hom.

Maar hy’t nie swaar gedra nie, weet sy nou. In elk geval nie fisiek nie. Die hangskouertjies was grotendeels te wyte aan haar gebrek aan tyd om na hom te luister – dit was iets wat sy skaars vir haarself gehad het. Op daardie stadium was sy sát geboer nadat Neels, Malan se pa, ’n jaar na die kind se geboorte pad gevat het sonder ’n groet.

Die vrees wat haar bors wou vergruis toe sy agterkom haar kind is nêrens in of om die huis nie, sal haar altyd bybly. Hoe sy, histeries van angs, die plaashuis vertrek na vertrek gefynkam en aanmekaar geroep het: “Malan! Malaaan!”

Sy het al Malan se wegkruipplekke goed geken. Onder sy enkelbedjie, binne-in sy jonkmanskas met die gat in die deur (die enigste erfstuk van sy pa), agter haar laaikas in die hoofslaapkamer, in die besemkas, in die yl skaduwee van die windpomp wat irriterend ge-kier-kier-kier het …

Daar was ook niemand om te help soek nie. Samuel en Kitty was dorp toe met ’n geleentheid.

Sofia het nog nooit so verwerp gevoel nie. Ja, sy het soms vergeet hoe jonk Malan nog is. ’n Klein grootmensie, het almal agter bakhande oor hom gefluister.

Sy kon skaars asemhaal toe sy die bakkiesleutels gryp om hom te gaan soek.

Dis toe sy deur die plaashek ry dat sy die klein figuurtjie met sy tassie ’n paar meter verder sien voortbeur het deur die diksand. Sy blou hempie was duidelik sigbaar teen die oranje-rooi van die duine. Dit was die enigste hemp waarvoor hy ooit gesoebat het – en wat sy gekoop het, ten spyte van hulle slegte finansiële posisie toe.

Die hempie het ’n prent van ’n vliegtuig op gehad wat in ’n westelike rigting oor die aardbol vlieg. Soos ’n voorteken.

Die bakkie het doodgeruk en Sofia het uitgespring terwyl sy deurmekaar gelag en huil het.

“Waarheen gáán jy, Malan?” wou sy weet toe sy op haar hurke langs hom op die warm sand neersak.

“Na Bennie-hulle toe,” was sy bot antwoord.

“Maar Bennie bly mos daarie kant toe,” het sy gelag en sy hare verder deurmekaar gevryf.

Terug by die huis het Sofia sy gunstelingkos – gebakte skaapribbetjie en slaptjips – gemaak en vir ’n paar uur van haar oorweldigende werklas vergeet.

Die volgende oggend het sy tassie steeds soos ’n stille aanklag op die bakkiesitplek gelê. Binne was net ’n rooi onderbroekie en ’n half geëte Granny Smith.

 

“En as Ma nou weer daai veraf uitdrukking kry?” wil Malan weet. Hy het sy selfoon waarmee hy doenig was, gebêre.

Sofia glimlag. “Onthou jy die dag toe jy na Bennie toe wou wegloop?”

Hy snuiflag. “Met my rooi onderbroek in my tassie?” Hy skud sy kop en lyk dan ernstig. “Dit het altyd gevoel of my hele lewe na daardie dag verander het, weet Ma?”

Sofia vat sy jongmanshand oor die klein tafeltjie vas. “Dit hét.” Hulle raak saam weg na die plek waar byna vergete herinneringe mens onkant betrap.

Sy skuif op die ongemaklike stoeltjie rond. Durf sy Neels verwyt? Het sy dan nie óók elke dag gevoel of sy van haar kop af gaan raak nie? Malan se gehuil wat net aangehou en aangehou het … Die enkele vyfminuut-stiltes het soos ewige, salige, maar skrikwekkende manna op hulle neergedaal … net om skielik weer te verdwyn.

Het sy en Neels dan nie slegs drie maande na Malan se geboorte rééds met die oë van volslae vreemdelinge na mekaar gekyk nie?

Malan se wegloop na Bennie toe was die waterskeiding in haar lewe – nee, húlle lewe. Die grens wat oorgesteek is.

Sy’t daai oggend vir Malan by die plaasskooltjie gaan aflaai. Gesien hoe die blonde klein Alet met haar stywe ruggie en ewe stywe vlegseltjies wegdraai toe Malan haar hoopvol wou groet.

Dié klein snip het Sofia mos ’n week tevore betrap toe sy met smaak onder die groot doringboom by die skoolhek vir Bennie se sussie vertel dat sy vir Malan afgesê het.

“Maar hoekom het jy dít gedoen, Alet?”

“Néé man, hy kan nog nie eens ’n dekselse O maak nie,” was die parmantige antwoord.

Genoeg is genoeg, het Sofia besluit. Pleks van terug plaas toe ry, het sy die bakkie se neus in die rigting van die dorp gedraai. Vinnig omgekyk en Malan alleen op die trappies voor sy klaskamer sien sit.

Die laaste stuk teer op pad dorp toe was meer gat as pad, maar sy’t vasgebyt. Kom droogte of vloed, sy het net mooi genoeg gehad van die gesukkel, die verwerping en die vernederings van die klein gemeenskap wat altyd iets gevind het om oor te skinder.

By die koerantkantoor moes sy seker vooraf weet sy sou haar weer in Betsie vasloop. Maar selfs dié se vermakerige oë (met te veel oogskadu) kon Sofia nie ’n duit skeel nie.

“Hoe gaan dit met Kasper?” het Sofia uit die heup geskiet, wetende dat Betsie en Kasper se huwelik oor en verby was. En aanval ís mos beter as verdediging.

Betsie wou mos keer op keer kastig deernisvol weet hoe dit op die plaas gaan vandat Neels nie meer daar is nie.

“Ons egskeiding is op die rotse,” was die antwoord, teatraal en onvanpas luid in die klein kantoortjie. “Sy outoppie is laas week oorlede en Kasper erf áls.”

Wat “áls” behels het, weet Sofia tot vandag toe nie. Maar sy is seker Betsie sou nie twee keer met dieselfde man afhaak tensy daar geld of eiendom betrokke was nie.

Sy was glo in standerd agt op Neels ook verlief … juis omdat sy vermoed het hy gaan sy pa se plaas erf – iets wat toe nooit gebeur het nie.

Sofia het reeds in die paar jaar wat sy en Neels saam was dikwels gewonder of haar plaas nie ’n groter aantrekkingkrag as sy self vir hom was nie. Dalk was hy en Betsie tóg van dieselfde stoffasie.

“Is Lena hier? Ek wil ’n advertensie plaas,” het Sofia die sinnelose gesprek kortgeknip en die plaas daar en dan in die mark gesit.

Sonder om té ver vooruit te beplan, het sy die huisraad gaan oppak en alles wat sy en Malan nie kon gebruik nie, op ’n veiling van die hand gesit. Die plaas is vinnig verkoop; dit was ’n juweel wat menige boer in die kontrei begeer het.

Die aanpassing in Pretoria was groot, veral vir Malan wat daaraan gewoond was om kaalvoet skool toe te gaan en die vlaktes as speelplek te hê.

Sofia het teruggeval op haar onderwysdiploma waarop haar ouers destyds aangedring het.

Hoewel sy self heel rigtingbedinges is, was dit Malan se verdwaalde klein figuurtjie daardie dag in die duineveld wat húlle lewe onherroeplik van rigting laat verander het.

“Ek wil eendag ’n brandweerman word, Mamma!” het hy uitgeroep toe ’n konvooi van die rooi gevaartes met hul loeiende sirenes eendag in die stad verbygejaag het.

“Sowaar?” het sy gelag, wetende dat hy in elk geval gou weer iets anders sou vind wat sy aandag meer trek.

In sy kamer vol vliegtuigies het hy gedroom hy’s ’n vlieënier. Skoolvakansies wou hy opsluit onderwyser word (want hulle het vier vakansies elke jaar), Sondae het hy begeer “om met so ’n dík Bybel in die hand vir mense te preek”, en ná ’n tandartsbesoek was hy mateloos beïndruk met al die apparate … En so het dit aangehou.

Sofia het Neels dikwels in haar hart verwens. Sy pa sou hom seker meer vastigheid kon gee. Rígting.

Dit was toe hy in matriek op ’n hoërskoolvriend se plaas gaan kuier het, dat hy sy werklike passie herontdek het. Sofia het met toenemende besorgdheid na sy boerderypraatjies geluister.

En nou gaan boer hy in Ohio, VSA en sy kan hom nie keer nie, dink sy hartseer maar trots toe hulle groet.

Breedgeskouer stap hy sy toekoms in met ’n enkele groot tas in die hand.

 

Lees ’n kort onderhoud met Moryn Hanzen oor “Rigting” hier:

Korona-kortverhaalfees: Moryn Hanzen oor "Rigting"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Rigting appeared first on LitNet.

Doodsnaaks

$
0
0

Soos elke weeksoggend sluit Belinda Schönfeldt die voordeur van Montgomery Makelaars stiptelik agtuur oop. Oudergewoonte maak sy vir haarself tee en skuif agter haar lessenaar in, waarna sy ’n taaklys vir die dag opstel. Vandag skakel sy egter nie haar rekenaar aan nie. Sy haal haar selfoon uit haar handsak. Wat sy nou moet afhandel, verg ’n persoonlike aanslag.

’n Glimlag pluk aan haar mondhoeke terwyl sy haar gewese man skakel. Hy is eerste op haar lys.

Riaan Schönfeldt antwoord met die ryk sjokoladestem waarop sy destyds verlief geraak het.

“Ons het ’n probleem,” kom sy gou tot die punt. “SARS het gebel en gevra vir bewys van ons egskeiding. Ek was by Binnelandse Sake, maar volgens hulle is die egskeiding nooit geregistreer nie. Het jy destyds enige papierwerk van die prokureur ontvang? Ek dink nie ek het nie.”

Hy reageer nes sy verwag het. Karakter word altyd onthul as iemand onder druk geplaas word. Hy blameer haar dadelik vir die fly-by-night prokureur wat sy gebruik het en vra hoekom dit nou sy probleem is.

“Die ding is,” antwoord Belinda, “hulle wil jou nou van veelwywery aankla. As ons nog getroud is, is jou en Elna se huwelik onwettig. En julle kinders buite-egtelik. Dit hou ook belastingimplikasies vir jou in.”

Sy wag terwyl hy al sy verwyte – stokoud en splinternuut – uitbulder. “Bedaar, Riaan,” sê sy kalm toe hy uiteindelik stilbly. “Ek kan die probleem laat weggaan. Sê net die volgende hardop agter my aan: Dit is vandag die eerste April.”

“Baie snaaks,” antwoord hy voordat hy dooddruk.

Belinda lag en slaan so hard met haar vuiste op haar lessenaar dat haar selfoon hop. Hy het nog nooit ’n humorsin gehad nie. Sy, daarenteen, is ’n bobaaspoetsbakker. In haar ouerhuis het woorde konstant deur die lug gevlieg – grappe, raaisels, woordspeling – en sy moes vroeg leer om hulle te snap.

Hoewel sy haar humorsin in toom probeer hou in die korporatiewe omgewing, het sy vandag ’n verskoning om vrye teuels daaraan te gee. Die feit dat haar senior vennoot, Arnold Montgomery, heeldag by ’n seminaar is, tel natuurlik in haar guns.

 

Arnold Montgomery stap gemoedelik met ’n koppie tee tussen die seminaargangers deur. Hy is die land se voorste batebestuurkenner en lewer gereeld praatjies op radio en televisie en by seminare. Soos vandag. Hy is verlig toe ’n goeie vriendin van hom en Belinda, Sue Papendorf, hom naderwink.

“Sue,” groet hy. “Hou my tog geselskap totdat die verrigtinge hervat. Almal is op soek na vinnige, gratis advies.”

Sue draai na die man aan haar sy en stel hom aan Arnold voor. “Ontmoet my kollega, Pieter Daneel. Pieter is Birkinbine se nuwe finansiële direkteur.

“En hoe gaan dit by Birkinbine?” vis Arnold vir inligting. Montgomery Makelaars besit ’n aardige hoeveelheid aandele in die maatskappy en hy hou sy vinger sover moontlik op daardie pols.

“Ons is in ’n verknorsing,” sê Sue en lyk skielik gespanne. “Pieter het, soos dit ’n nuwe besem betaam, op grootskaalse bedrog afgekom wat ons aandeleprys in duie gaan laat stort as ons dit nie reg hanteer nie.”

Arnold voel hoe sy hart ’n klop mis. “Waarvan praat jy, Sue?”

“Daan en Pieter se voorganger het ons finansiële resultate vir jare lank gemanipuleer. Ons groot winste, ons groei … dis als ’n klug. Ons sal self met die waarheid moet uitkom as ons enige geloofwaardigheid wil behou.”

Sue brei uit op wat gebeur het, maar Arnold hoor skaars wat sy sê. Die bloed suis deur sy ore. Birkinbine Bpk is een van die winsgewendste maatskappye op die beurs, en Daan Beyers, die besturende direkteur, is een van die land se gerespekteerde sakeleiers. Dit is hoekom hy wat Arnold is, elke Birkinbine-aandeel waarop hy sy hande kon lê, gekoop het. As daardie aandele hul waarde nou moet verloor …

Hy verskoon homself en gaan staan agter die naaste potplant om tot verhaal te kom. Van hier kan hy Sue en Daneel steeds hoor. Na ’n ruk staan hy heeltemal eenkant toe en skakel ’n nommer.

 

Belinda het reeds vyf suksesvolle poetse op haar kerfstok toe haar selfoon lui.

Dis Arnold. “Belinda,” sê hy, “ek het nie tyd om te praat nie, maar doen my ’n guns. Ons moet dringend van ons Birkinbine-aandele ontslae raak. Ek kan nie nou verduidelik nie, maar vertrou my net. Verkoop als wat jy kan aan Stuart Bergman – ek weet hy soek Birkinbine-aandele met ’n seer hart. Sê vir hom ons het die geld nodig vir ’n ander belegging. Maak iets op. Maar doen dit dadelik. Hoor jy my? Dadelik.”

Toe sy haar selfoon neersit, skater Belinda. Sy weet presies hoekom Arnold van hul kroonjuwele ontslae wil raak, want was dit nie sy wat vir Sue gevra het om daardie poets met hom te bak nie? Natuurlik sal sy nie die aandele verkoop nie, maar tussen al die gelag deur pla dit haar dat Arnold bereid is om Bergman so in te doen. Sy het gedink sy ken hom goed.

 

Later, na afloop van die seminaar, skakel Arnold haar. Sy het hom nog nooit so gespanne gehoor nie.

“Belinda,” sê hy, “my selfoon se battery gaan enige oomblik vrek, maar ek wil weet waarom jy nie vir Bergman gebel het nie. Hy sê jy het nooit …”

“Ag tog,” sê Belinda, “sy foon het gedooi. Ek sal maar vir hom ’n boodskap stuur. Hopelik lees hy dit voordat hy ’n oorval kry.”

 

Arnold voel helder en gefokus. Sy oë soek na Sue Papendorf en Pieter Daneel tussen die mense wat nog vir oulaas ’n geselsie probeer maak voordat hulle huiswaarts moet keer. Hy sien hulle by die teetafel.

“Sue, wie weet almal van die gekookte syfers?” vra hy dadelik toe hy by hulle aansluit.

“Net ons twee,” antwoord sy. “Ons was uiters diskreet. Ons sal môreoggend met die res van die bestuur gesels, en dan sal ons ’n persverklaring uitreik.” Sy loer na haar polshorlosie en maak verskoning. “Ons moet gaan. Ons is hier met Pieter se motor en hy moet my nog huis toe vat.”

Toe die twee wegstap, is Arnold kort op hul hakke.

Hy volg Daneel se motor onopsigtelik deur die verkeer. Hulle neem ’n afrit van die snelweg. Die strate raak al hoe stiller en lei uiteindelik tot die grondpad na Sue se kleinhoewe.

Arnold voel onder sy sitplek, vind die pistool wat hy daar versteek hou, en versnel dan totdat hy langs hulle ry.

Toe Sue en Daneel hom gewaar, beduie hy vir hulle om stil te hou. Die motors kom langs mekaar tot stilstand.

Daneel draai sy venster oop toe Arnold naderstap.

“Wat op aarde maak jy hier?” vra Sue.

“Ek is so jammer om dit te moet doen, Sue,” sê Arnold, “maar julle kan nie daardie nuus breek nie. Ek sal alles verloor. Ek moet julle keer.”

Hy lig sy pistool en trek die sneller twee keer.

 

Dit is al laat toe Arnold sy voordeur oopsluit, sy das afhaal en na die boodskappe op sy selfoon kyk. Hy lees Belinda s’n dadelik: Jammer, ek wou jou self vertel: Sue en ek het net jou been getrek. Die aandele is veilig. Aprilgek!

 

 

Lees ’n kort onderhoud met Maryna Blomerus oor “Doodsnaaks” hier:

Korona-kortverhaalfees Maryna Blomerus oor "Doodsnaaks"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Doodsnaaks appeared first on LitNet.

Viewing all 428 articles
Browse latest View live