Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all 428 articles
Browse latest View live

So amper Alice in Wonderland

$
0
0

Die paaie loop vanaand snaakse draaie. Orde is daar nie. Hoe kan daar dan ook wees as die orde al so lank versteur is, so lank gelede al verdwyn het saam met die eerste opname? Dag-vir-dag veg die medikasie en jou eie miserabele self om selfbehoud ... maar helaas, jy weet jy leef ’n leun.

Kom ek vertel jou van Alice ...

Ja man, jy ken die storie van die dogtertjie wat in die haas se gat (“rabbithole”) afgeval het en toe die fantastiese wêreld vol wonderlike karakters ontmoet het. Surrealisties nè!? Daar was tot ’n “Mad Hatter”. Weet jy dat die oorsprong van die naam kom van die tipe gom wat daardie jare deur hoedmakers gebruik was en gifstowwe bevat het, en dat hoedmakers wat heeldag daarmee gewerk het, geneig het tot sielkundige afwykings weens die blootstelling daaraan?

Nietemin, my storie gaan nie oor ’n dogtertjie en ’n haas nie, maar oor ’n man en ’n wolf, en nee, dis nie die moderne LGBT-weergawe van Rooikappie en die Wolf nie, nee, ek wil net vir ’n oomblik die deksel lig en jou ’n blik gee van die stryd wat min mense sien, maar wat baie daagliks beleef. Die stryd teen die wolf van depressie.

My geval was erg. Twee keer my lewe probeer eindig. Moes uiteindelik skokterapie kry (ECT) as ’n laaste uitweg, wat ’n groot deel van my geheue verwoes het. Maar magtig man, vergeet nou daarvan, ek wil jou vertel van die verdomde wolf! Ek wil jou vertel van die wolf wat my volg elke liewe dag van my lewe. Net ek sien hom! Ek weet hy is daar. Vir seker.

Soos gesê, vanaand loop die paaie snaakse draaie. Die vlamme in die vuur voor my brand hoog. Ek gooi nog hout op die vuur want sien, dit is belangrik want hier waar ek met my rug teen die rots sit, sien ek sy oë deur die vlamme. Dit is net die vuur wat my beskerm van hom. Hy weet, en ek weet dat as ek nie aanhoudend die vuur stook nie, sal hy oorspring en met een byt van sy kragtige kake my nek oopskeur en my lewe sal saam met my bloed op die grond uitvloei. Hy wen.

Die son is op. Ek het dit gemaak deur die nag. Dis tyd om verder te stap en uit die woud te probeer kom. Wat ’n pragtige dag is dit nie! Vir ’n oomblik geniet ek die voëls se vrolike gesang. Ek waardeer die mooi van die veld. Dan sien ek hom uit die hoek van my oog. Hy is altyd naby, net daar waar die veld ophou en die woud begin.

Dit word donker en ek moet weer ’n skuilplek soek waar my rug teen ’n rots is en ek vuur kan maak voor my. Skaars brand my vuur of hy is daar, net aan die naderkant van die vlamme. My getroue vennoot op my pad. Snaaks, daar is dae wat ek hom nie sien nie, aande wat hy my nie geselskap hou by die vuur nie, maar dan hoor ek sy gehuil êrens naby, asof hy my net wil laat weet dat hy altyd daar sal wees, dat ek nooit heeltemal moet ontspan nie.

Vanaand voel ek sterk en ek maak ’n vuur wat groot genoeg is om hom weg te hou vir nog ’n nag. Weet net dat as hy my die dag verskeur, was dit nie omdat ek opgegee het nie, ek het net te moeg geraak om nog hout op te gooi, te moeg geraak vir die speletjie, want sien ... ’n speletjie is nie ’n lewe nie.

The post So amper Alice in Wonderland appeared first on LitNet.


Matrieknostalgie

$
0
0

Matrieknostalgie is dalk vir jou die reuk van nuwe handboeke of die kraak van blou penne teen papier. Dit is dalk die glimlag van jou eerste liefde of die smaak van KFC op ’n Vrydagmiddag. Dalk is dit die angs van die eerste keer agter ’n karstuurwiel sit.

Vir my is Matrieknostalgie die klank van verfkwaste wat teen mekaar klink in ’n waterglas wanneer ek my verfkwas skoonmaak voordat ek moet oppak om Afrikaans toe te draf. Dit is die smaak van swart koffie, laat in die aand wanneer ek ’n taak moet klaarmaak, die reuk van waterverf op koerantpapier.

Matrieknostalgie is die gevoel wat jy kry voordat jy jou geliefde soen op ’n matras wat op die agterkant van ’n bakkie lê. Dit is die laat aande wanneer McDonald's ál eetplek is wat oop is en die parkeergrond ’n parkie word. Die gevoel net voordat mens verdrink.

Matrieknostalgie is die eerste “Ek is lief vir jou” van ’n jong verhouding. Dit is die oggend wat jy laat is en graankos in die kar eet. Dit is die hartseer wat jy beleef voor die laaste keer wat jy iemand groet. Die moedeloosheid wat jy ervaar drie-uur in die oggend, wanneer nóg ’n kêrel jou per SMS verlaat het.

Laaste, maar nie die minste nie, is matrieknostalgie hoop. Hoop vir die jaar ná matriek, hoop vir ’n goeie verhouding. Hoop vir uitstekende vriendskappe wat storms kan weerstaan. Hoop dat die nostalgie jou nooit sal verlaat nie.

The post Matrieknostalgie appeared first on LitNet.

Pixie is net ’n pop

$
0
0

Vrydagaand laat stop Allan voor die deur in Steynsburg, al die pad vanaf Plettenbergbaai. Met ’n groot glimlag maak hy die agterdeur oop en jou wrintiewaar, op die agtersitplek sit Pixie penorent vasgegordel, serp om die nek en sonbril op die neus. Sy is tuis.

Hier iewers in die laat sestigs, vroeë sewentigs, was Pixie-poppe die in-ding. Ronde gesiggie, groot ogies, ’n hoë spitspunt-koppie, ’n opgestopte lyfie in geblomde koordferweel en omtrent so groot soos ’n tweejarige kind. En ’n wulpse krul op die voorkop. Maar Pixie is salig onbewus van al die ongedurighede wat sy veroorsaak het. Glimlaggend sit sy daar, ogies na regs, armpies so kwart voor drie uitgestrek.

Kleinsus Sandra, vandag ook al diep in die veertigs, was as kind nogal verknog aan dié speelding wat Ma en Pa vir haar gekoop het toe ons nog destyds op George gewoon het. Sy beweer sy onthou die dag, al was sy waarskynlik net drie of vier jaar oud.

Toe ons Ma se huis opgepak het, moes al die kinders hulle goed wat Ma getrou vir almal gestoor het, gaan haal en die res moes gaan na watter kind ookal. Sandra het Pixie uit ’n kas gehaal, die geskeurde materiaallyfie gesien en besluit sy wil dit tog nie meer hê nie. Òf die pop was oppad na die welsyn, òf sy gaan saam na my huis in Steynsburg. Ek en Lydia stuur Pixie Steynsburg toe, waar sy twee jaar lank in vrede op ’n stoel in die sitkamer gesit het. Sonder die sonbril. Intussen het ek die lyfie toegestik, en haar bietjie skoongemaak waarna sy heel respektabel gelyk het vir ’n 40-jaar-oue pop.

Monica is die eerste om te vra – weet ek dalk waar Pixie is, want Sandra wil haar terughê. Sandra wou Pixie in die eerste plek nie gehad het nie, en bowendien is ek en sy nie op speaking terms nie. Soos dit ’n moeilike broer betaam, weier ek halstarrig om Pixie terug te stuur. Bowendien dreig ek om Pixie te verkoop, net om moeilik te wees. Dalk haar ook op e-Bay sit en kyk wat haar waarde is.

Toe Sandra haar moes vat, was die stukkende vuil pop nie goed genoeg nie. Noudat sy skoongemaak en heelgemaak is, nou wil sy haar terughê. Dit gaan meer oor die idee van die pop as die pop self. Wetend dat dit net ’n gier is en dat die arme pop flenters in die garage of tussen die rommel of die honde in die agterplaas gaan eindig, sê ek dus, NEE.

’n Maand later – Monica sê Sandra is histeries oor haar pop. Sy kan nie meer slaap nie, sy huil nagte om oor die pop wat ek nou weier om terug te gee. Monica kry ’n magdom SMS’e van Sandra wat verpletterd is oor die verlies van die pop, en sy sien nie kans vir lewe sonder die pop nie. Sowat van emosionele manipulasie het ek lanklaas gesien. Ek ken my jonger suster, die kop raas en dit gaan nie eintlik oor die pop nie, bloot omdat dit ék is en omdat ek NEE gese het. Ek sê nog steeds NEE.

Nog ’n maand later – Monica sê Sandra dreig nou met selfmoord indien ek nie die pop terugstuur Vereeniging toe nie. Monica voel sy is onstabiel genoeg en smeek vir die terugkeer van die verlore dingetjie. Ons familie het ook nie nou die kapitaal vir rondrits agter begrafnisse aan nie. Ek sê ja, maar ek woon in Plettenbergbaai op daardie stadium, en ek gaan definitief nie spesiaal ry om die pop te gaan haal nie – nie 1 200 km heen en weer nie. Eers wanneer ek weer die slag Steynsburg toe gaan vir ’n paar dae sal ek haar gaan haal. 

Intussen trek ek terug Steynsburg toe. Broer Steven en sy gesin kom kuier vir ’n dag of twee oppad na Port Elizabeth, en ons geniet die manewales van Pixie. Dit is egter snerpend koud, dus drapeer ons Pixie in winterklere, serpie, handskoene, de lot. Pixie op die toilet. Pixie loerend agter die kasdeur uit. Pixie geparkeer met ’n sigaret en bottel in die hand. Pixie bankvas agter die kar se stuurwiel. En nog baie meer, en ons neem foto’s vir ’n vale en giggel deurentyd semi-histeries.

So vergeet ons om Pixie saam te stuur toe hulle ry, maar ek stuur haar ’n maand of drie later saam met Allan. Vandaar sal hy haar vir Lydia of Monica gee, en hulle sal op hulle beurt sorg dat Pixie in Vereeniging uitkom, per pos of geleentheid of watter wyse ookal moontlik. Brom-brom laai hy Pixie in, en daar bly sy by hom in die woonstel vir ’n paar maande waarin niemand vir Pixie meer terugeis of blykbaar wil hê nie. Lydia wil haar nie in haar huis hê nie, en beweer Pixie se groot ogies volg haar die hele tyd. Monica sien nog minder kans. Sandra is tjoepstil. Hopelik slaap sy weer beter.

Intussentyd kom Pixie weer terug Steynsburg toe, want Allan trek en al sy losgoed kom terug na my huis. Daar bly sit sy vir maande onversteurd.

Vroeg in Januarie is dit weer sulke tyd. Lydia laat weet, Sandra huil haar oë uit oor Pixie, sy stuur verdrietige SMS’ies oor hoe sy Pixie mis en hoe dit die laaste ding is wat Ma en Pa haar op George gegee het, Pixie is die laaste ding wat in haar gedagtes is voor sy van hartseer aan die slaap raak, ensovoorts, ensovoorts. Teen dié tyd is ek nie meer lus om dwars te wees of te redekawel nie. My hart vermurwe, Pixie kan weer gaan.

Toe Allan weer kom kuier, pak ons Pixie weer eens in die kar, dié keer op die voorste sitplek. Met veiligheidsgordel en sonbril. Daar gaan die twee, en hopelik is dit nou die einde van die snot en trane oor die pop.

Dis toe nie heeltemal so nie. Allan bel my die ander aand en sê, helaas, Pixie kom terug. Lydia het vir Sandra laat weet, Pixie is op pad na haar. Sandra laat weet toe per SMS dat sy die pop nie wil hê nie, sy is klaar met aardse goed. Dus, noudat niemand haar meer wil hê nie, kan sy maar terugkom. Pixie was dus darem al twee maal in Plet met vakansie.

Gisteraand sien ek Pixie se glimlaggende gevreetjie waar sy in oorle ouma Marie se stoel sit – haar ogies blink en sy kyk na my. Sy lyk eintlik heel tevrede.

The post Pixie is net ’n pop appeared first on LitNet.

Duiwelsdrek en skoonveld

$
0
0

Reynardt Roodt het die vorige nag sleg geslaap. Daar was deurentyd ’n swartvlerk-engelfiguur met ’n Ping-gholfstok in sy kamer. Haar swaaie was soos ’n voos bokser net voor die uitklophou.

Jan Mosia is vieruur daardie oggend per taxi uit Hammanskraal, sodat hy Reyn sesuur op die dryfbaan kan ontmoet om litte los te maak. Dis die klubkampioenskap-finaal van die Kloof-gholfklub. Reyn speel, Jan is sy sakdraer en amper-afrigter. Afslaantyd: Sewe-nul-sewe, eerste bof. Reyn het Jan sy rooi 1992-Nissanbakkie beloof as hy wen.

Reyn se opponent is Bert Swart, met sy caddie, Sylvestor.

“Dink jy dit gaan reën, Jan?” Reyn kyk suid-oos.

“Miskien later, nie nou nie.”

Die eerste bof is effens gelig met ’n praguitsig; vier sandkuile wat die skoonveld weerskante beskerm. Reyn kyk rondom hom – hulle het klaar geloot – Bert slaan eerste af. Hy is verbaas oor die aantal toeskouers wat opgedaag het, veelkleurig getooi en reeds rumoerig, al is dit vroegoggend. Drank is betrokke.

Reyn het ’n blou kortmouhemp en ’n wit langbroek aan, met donker skoene. Jan dra die klub se tradisionele blou oorpak met sy uitgetrapte swart skoene en windskeef pet. Bert is in volle pienk; swart halfmane spikkel sy kortbroek, beige skoene met kort sokkies. Sylvestor se keps is lemmetjiegroen; swart-en-geel-geruite hemp, groot GO voorop elke heldergeel skoen.

Dis by die derde gat waar die moeilikheid begin. Een van Bert se ondersteuners, Coert Ferreira, dra ’n plakkaat met die woorde: “Forecast – no Reyn today”, en is oproerig elke keer as Reyn ’n swakkerige hou speel. Reyn se maats kap terug met gepaste en ongepaste, soms gekruide taal; want magtag, die man het mos nie gholf-etiket nie! Veral Kort-Gert van der Merwe word al hoe rooier.

Die uitbarsting kom op die vyfde gat.

Met Reyn se terugswaai snork Coert hard, Reyn haak die bal buite perke. Gert probeer saam met twee ander fris boerseuns om vir Coert te gryp en hom in die dam te gooi, maar hy is te vinnig vir hulle. In elk geval moet hulle omdraai om hulle maats te kom help – die twee spanne ondersteuners het begin om handgemeen te raak.

Die skeidsregter gryp in, maar kan nie eintlik hond haaraf maak nie – spel word verdaag.

Intussen het die weer begin opsteek. Na ’n vertraging van ongeveer ’n uur, en streng vermaning van die skeidsregter, word die spel hervat. Nuus van die oggend se verloop versprei soos ’n veldbrand onder klublede, en bykans dubbel die aantal ondersteuners daag op – wie wil nou gholf speel as jy die toekomstige kampioen kan dophou?

Na nege gate is die spel gelyk. Daar word nie soos normaal van die halfweghuis gebruik gemaak nie – hierdie is oorlog – slegs die ondersteuners vul voorraad aan. Die meer beskaafdes – en die oueres – maak van die geriewe gebruik om die druk te verlig.

“Great drive, Reyn!” word opgevolg deur Jan met 'n sagter: “Ag nee, Mosimane!” na Reyn se tweede brouhou op die tiende se skoonveld.

Dan weer: “Gholfshot Bert,” was Sylvestor se aanmoediging: “Relax, ons het hulle!” op dieselfde gat.

So skoppelmaai dit, met Bert wat die oorhand begin kry, tot die bonatuurlike ingryp; die weerlig en die sirene flits en loei op dieselfde oomblik. Omdat hulle reeds tot by die veertiende putjie gevorder het, vind hulle skuiling in die grashut langs die lang silwer weerligafleier, terwyl die Hoëveldse donderstorm hom op die baan wreek. Die meeste toeskouers verdamp – sal later weer opvang – die tekort aan verversings op die baan laat hulle in elk geval geen ander keuse as om terug te keer klubhuis toe nie.

Dis hier in die grashut waar die spelers met mekaar begin praat. Reyn is moedeloos; drie gate af, vier om te speel; benard, om die minste te sê.

“Wat van koffie, Reyn?” Bert beduie na sy sak. Sylvestor haal ’n fles uit die gholfsak en begin om dit oop te skroef.

“Sal nie nee sê nie, dankie.” Reyn merk nie Jan se frons op nie. “Maar kry eers vir jouself.”

Nadat Bert sy koffie gedrink het, is Reyn meer gemaklik en vat die koppie gretig by Sylvestor. Dalk is boeretroos nou net die ware Jakob.

Soos met die meeste donderstorms hier rond, hou dit nie lank nie en na so twintig minute skitter die baan soos ’n blink munt in die nuwe son. Reyn is ’n ander mens. Op die vyftiende bof kan hy sien Sylvestor en Bert knik vir mekaar; dit skeel hom min.

Reyn kan fokus, sy bo-armspiere ontmoet sy bobene fisies in die midderif; sy kreatiewe denke omskep die moeilike vyftiende gat in ’n rekenaarspeletjie; sy gemoed lig met ’n drastiese kurwe. In sy kop kan hy die Beatles se Lucy in the sky with diamonds hoor pons – hy kan die suiwer smaak van pienk forel op sy tong proe. Dan volg die mees verruklike kleurverskuiwing van die omgewing in ’n helder kaleidoskoop van sy sluimerende self – vir ’n oomblik volmaak verstrengel met die heelal.

Na dié onderbreking, slaan Bert ’n swakkerige dryfhou; Reyn knetter die bal driehonderd meter ver, suiwer in die middel van die baan – die skrif is aan die muur – sy perspektief verskuif van baan-beperk tot ’n drie-dimensionele voëlvlug. Hy kan homself sien speel asof hy ’n arend bo die boomtoppe is – sy lewe in ’n triomftog ontbloot.

Met die laaste gat is die spel weer gelyk. Reyn sweet liggies, sy kakebene swaar op mekaar. Hy begin dink aan sy skooldae op Rustenburg en verloor normale kontak met tyd; hy voel hoe sy hart in sy borskas hamer, terwyl hy begin gaap, sonder moegheid. ’n Effense naarheid oorval hom.

“Kleinman?”

Jan is langs hom. Reyn dink vaagweg daaraan dat hy hom nog nooit so genoem het nie. Waar is sy kop dan nou?

“Jy moet regop loop Reynie, die duiwel is in jou bloed, nou moet jy my mooi hoor, vandag foeter ek jou met ’n sambok!” Hy gee hom die drie-yster.

“Nee Jan, gee my die drywer.” Jan roer nie.

Reyn slaan ’n kort, reguit hou, twee honderd meter in die agtiende gat se skoonveld. Bert slaan ’n goeie dryf, veertig meter verby Reyn. Reyn moet volg, honderd-en-negentig meter pen toe, opdraande.

Hy voel hoe paniek hom beetpak.

“Slaan weer die drie-yster.” Jan is beslis. Hierdie keer gaan Reyn hom nie laat voorsê nie. Vier-yster is genoeg, daar is ook nog adrenalien om mee rekening te hou.

Die skare rondom die agtiende setperk groei aan – rumoerige individualiste – in meer as twee groepe verdeel. Daar is Reyn-groepe en Bert-groepe, ’n anti-Bert-groep (anders as die pro-Reyn-groep), ’n groep wat nie weet watter kant om te kies nie, en toeskouers wat niks met die saak te doen het nie.

Reyn se poging met die vier-yster tref die bo-rand van die sandkuil voor die setperk, talm ’n oomblik en rol dan in stadige-aksie terug tot in die middel van die kuil, waar dit roerloos bly lê.

“Sjo!” Jan se skouers sak. Hy maak ’n gebaar in Reyn se rigting, trek dan sy lyf regop en stap verder.

Gelukkig slaan Bert ook ’n powere hou – dis nerves – soos Sylvestor hom betig. Hy is tien meter kort van die setperk; hy moet eerste speel. Hy chip die bal tot minder as ’n meter vanaf die pen. Sylvestor trippel op sy skoene, swaai dan sy heupe rond: Game over.

Reyn weet wat hy moet doen. Hy moet met een hou die bal tot in die gat, of tot bitter naby aan die pen slaan, anders is dit kaartjies, soos die Engelsman sal sê.

Die toeskouers is stil. Reyn loop regop, iets worstel in sy bloed – hy weet nie of dit die Goeie of die Slegte is nie – hy gaan maar net die bal slaan. Hy skrop soos ’n hoender in die sand, staan dan botstil en tref die sand onder die bal; die sandboog volg die bal se trajek. Die bal wip een keer, tref die middel van die pen en verdwyn in die gat.

Reyn kan nie veel daarna onthou nie. Hy weet hy is in die Kloof-kliniek opgeneem vir waarneming nadat hy oor sy wedervaringe met sy maats gepraat het. Sommiges wou Bert en Sylvestor vervolg omdat daar duidelike spore van angel tears in Reyn se bloed was, maar dis moeilik om te bewys. Hel man, wie sou nou soiets kon dink, dis immers ’n spogklub in die stad!

Die volgende oggend laai Jan sy eerste vrag grassooie in Hammanskraal af. Hy en sy vriende is besig met die aanlê van ’n nege-gaatjie-gholfbaan. Die rooi nissanbakkie is ’n staatmaker in die bouproses.

Lees ook

Dis nie oor die bike nie

The post Duiwelsdrek en skoonveld appeared first on LitNet.

Die koms van die dominee

$
0
0

My mens, dit was so ’n paar jaar gelede. Ek kan nie presies onthou nie, maar dit moes dalk drie of vier jaar terug gewees het.

Ek onthou … dit was daardie Woensdag toe al die vrouens in die dorp hare wou kom doen het. Tot dié wat nie eens genoeg hare gehad het om te doen nie, het sommer net gekom vir ’n shampoo en rinse.

Want sien, ek kom toe te hore dat die dorp ’n nuwe dominee gaan kry. Dis mos ’n groot gedoente as ’n dorp ’n nuwe dominee kry. Ek kon nie wag om daardie middag na uitvaltyd, by Ouma uit te kom om te hoor van die Dominee-storie nie. Oupa is mos dik in die gemeente en hulle behoort te weet wat aangaan.

Foto: Pixabay.com

Jong, en Ouma vertel … daar gebeur dit toe dat die dominee uittree en die dorp sit sonder ’n Godsman. Oupa wat sy ouderlingplig moes nakom en Ouma wat hom bystaan. Siestog. 

Jorsie Verwey, wat toe die Hoofouderling was, neem die diens waar. Sy vrou, Ella Verwey, sit in die voorste ry, soos gewoonlik.

Nou kyk, ek het nie baie vattigheid aan ou Ella Verwey nie, want sy doen haar hare by die buurdorp, oor ons hairdressertjie eenkeer te lank die “perming-lotion” aangehou en haar kopvel gebrand het. Die Ella was maar ’n snaakse vrou.

Ouma vertel toe dat hulle daai Sondag in die kerk sit en sy wat Ouma is, druk haarself so effens regop en rek haar nek om vir Ella mooi in die oog te kry.

Mens, ek kan al sien hoe sit Ouma soos ’n nuuskierige Karoo-volstruis in die plek van aanbidding.

Ouma draai haar kop klein bietjie links, trek haar skouers af, want dit help om haar so bietjie langer te laat voel.

Ella het ’n duur rok aan, sykouse (in die middel van die somer), hoëhakskoene, wat haar soos ’n pasgebore kalf laat loop en handsakkie oorgetrek met dieselfde lap as die skoene. ’n Mens kon sien dat sy daardie Saterdag by die haarkapster was, wat natuurlik in die buurdorp is (ek het mos gesê), want haar hare is styf gespuit en agtertoe geborsel met ’n effense kuifie wat netjies tot by haar oogbroue kom. Daai kuif is daar net om ’n paar fronsplooie weg te steek. Sy het ’n groot hoed op, met ’n mooi lint, al om die bol gedeelte geplak. Hoekom jy ’n hoed opsit as jy jou hare laat doen, sal net Ella alleen weet. 

Ella se bene was netjies oormekaar gekruis, met ’n voet wat liggies op en af beweeg en dan weer in sirkels en dan heen en weer, het Ouma vertel.

Ek kon sweer as Ouma daai dag toe sy die storie by die hekkie vir my vertel het, ’n stoel gehad het om op te sit, sy plotselings sou gaan sit en aan die beduie gegaan het.

Ouma kan haar so inleef.

Kan die vrou nie net stilsit nie? het Ouma my vertel en ek kon sien dat sy haarself sommer van voor af erg, maar ek los haar.

Wyk Satan, het Ouma geprewel, met lippe wat beweeg, maar met geen klank, kyk sy toe maar liewer preekstoel se kant toe.

En dis toe Jorsie Verwey die aankondiging maak dat die dorp ’n nuwe dominee gaan kry, dat daar ’n roering in die gemeente is. Sommige van die vrouens oe en ah … hoorbaar.

Ella kruis haar bene ander kant toe oor en ’n afdraande glimlaggie kom sit op haar gesig.

Noudat Ouma van ou Ella se afdraande glimlag praat, moet ek sê dat dit die waarheid is. Daai vrou het nogals afdraand gesmile.

“Suster Ella Verwey bied aan om die verrigtinge te help beplan, in samewerking met die kerkraad, om ’n verwelkomingskomitee bymekaar te sit, sodat ons die nuwe dominee kan verwelkom in ons dorp en gemeente,” maak Jorsie die aankondiging en hy en Ella kyk vir mekaar … en glimlag.

Mens, toe Ouma Ella se afdraand-glimlag namaak, het ek my klaar gelag.

“Suster Ella het voorgestel dat elke suster in die gemeente iets moet maak om te eet of drink, of altwee. Ons kan dan komende Vrydag almal net buite die dorp bymekaarkom en in een stoet ry. Net so vier kilometer buite die dorp waar daardie lang bult is met die ry populierbome aan die linkerkant, daar sal ons dan vir dominee inwag.

Dit sal ’n goeie idee wees as al die susters in die week ’n vergadering hou en dit dan onder mekaar bespreek,” kondig Jorsie verder aan.

Weet jy, dié Jorsie kon darem maar aansitterig praat. Veral as dit by kerksake kom. Maar anyway, Ouma vertel toe verder.

Ouma, wat kruisbene gesit het, laat sak haar regterbeen en met altwee hakke trap sy in die kerkgebou se vloer vas. Met haar linkerhand vat sy die bank se handvatsels vas en trek haar effens vorentoe sodat sy haar regterboud mooi kan lig en bietjie vorentoe kan neersit.

Haar lippe saamgepers soos ’n “jafel”.

As sy nie in die kerk was nie, het sy sowaar haar hande in haar sye gedruk.

Sy kruis haar regterbeen weer oor die linkerbeen en sit.

Toe Ouma hierdie storie vir my vertel, het sy die hekkie se kante vas gegryp, asof dit die kerkbank homself is, net om te demonstreer. Ek het my klaar gelag.

Anyway,Oupa kyk om en sien die ongeduld en irritasie in Ouma.

Ek glo nie hierdie deel so mooi nie, want ek weet Oupa is nie die soort wat in die kerk sal omkyk nie, maar ek vat maar Ouma se woord vir die storie.

“Die nuwe dominee sal van Paul Roux af kom,” het Jorsie verder gesê.

Jorsie se woorde is nog skaars koud met die laaste gedeelte van die Heidelbergse Katagismes, daar waar dit van die Wederopstanding en Ewige oordeel staan, Amen, toe Ouma opstaan en uitstap. Sy beplan dit haarfyn, sodat wanneer Jorsie AMEN sê, sy haar handsak kan vat en loop. 

“Dis nie in my aard om by ’n kerkdiens uit te loop nie, ek weet van beter,” het Ouma gesê.

Ouma gaan sit in die veertienhonderd-bakkie en wag vir Oupa totdat die diens verby is.

Wat na ’n ewigheid voel, kom Oupa aangestap met groot stadige treë, klim in die veertienhonderd en ry.

Ouma vertel toe dat hulle in doodse stilte tot by die huis gery het.

“Ek het nie tyd vir hierdie konsert nie,” sê Ouma en klim uit toe Oupa voor die huis stilhou.

Sy gryp woes na die gekrulde handvatsel van die hekkie, druk hom oop en daar skreeu die hek soos ’n bvarkie wat geslag word. Oupa kom agterna en druk die hekkie toe.

“Dis uitspattig my man,” gaan Ouma toe nou voort, voordat sy die rooi trappies opklim tot op die rooi stoep.

“Vrou, ek is allermins ’n ouderling, hoe gaan dit lyk as ons skeeftrek?”

“Het jy die huis se sleutel?”

Toe wikkel Ouma daardie sleutel met mening in die gaatjie en wikkel links en regs met die sleutel. Eers trek sy die gaasdeur oop en dan so met die heup stoot sy aan die houtdeur.

Die res van die Sondag verloop lekker rustig, maar so met sononder, toe Ouma by die hekkie gaan staan om die wêreld weer te bekyk, sê sy:

“Nou goed Daanjtie, ek sal dit doen, maar ek doen dit nie vir ’n Dominee, Jorsie of Ella nie, ek doen dit vir jou, omdat jy ouderling is. Klaar.”

Volgens Ouma het Oupa sy kop tevrede geknik, maar ek weet darem nie so mooi nie.

“Dankie vrou …” is glo al wat Oupa gesê het, maar ek is seker daar het nog baie ander woorde in sy kop gesit.

Ella het daardie Maandagoggend reeds al vir almal laat weet dat hulle die volgende dag kan bymekaarkom en alles bespreek. Op haar versoek het sy ook sommer gesê sy dink dit is beter dat almal by die kerk ontmoet en nie, soos afgespreek, buite die dorp nie.

Soos Ouma nou vertel, was hierdie Ella se presiese woorde …

“Ek as hoofouderlingsvrou, het dit tog maar goed gedink, dat ons as geheel en gemeente tog maar hier by die kerk ontmoet en dan dorp uitry in ’n stoet, om die dominee te gaan verwelkom. Dit sal tog so mooi stemmig wees, en lyk.” 

Toe Ouma hierdie stukkie van ou Ella vertel, trek sy haar mond so op ’n plooi, lyk amper vir my soos ’n speldekussing. 

Die susters van die dorp het glo vreeslik begin bak, vertel Ouma.

Daardie Donderdag, so in die laatoggend, skreeu die hekkie en toe Ouma by die venster uitkyk, is dit die vrou van die tuisnywerheid. 

Die vrou het nog nie eens drie kloppe aan die deur gegee, of Ouma was al daar om oop te maak.

“As jy dan nou hier rondloop, wie kyk na die winkel?” het Ouma opreg gevra. Ek dink tog dat Ouma en die Tuisnywerheidvrou oor die weg gekom het.

Die tuisnywerheidvrou was blykbaar baie ontsteld oor haar rakke wat leeg is, oor al die dames wat vir haar bak, nou vir die nuwe dominee se aankoms bak. 

Noudat ek so dink, dit moes ’n verskriklike ding gewees het, want ek weet die skool en die vrouesendingbond bestel elke tweede dag iets by die tuisnywerheid.

Die groot dag breek aan.

Die gemeente, soos afgespreek, kom eers by die klipkerk bymekaar.

Dis net mense en karre. Ouma is nog steeds goed omgekrap, omdat Ella besluit het dat almal nou by die kerk moet bymekaarkom en nie buite die dorp nie.

Jorsie Verwey lei die stoet met sy Fastback, die dorp uit. Oupa en Ouma net agter hom met die veertienhonderd.

Ouma maak of sy nie die grêndgeit in die Verweys sien met hulle mooi kar nie. Ouma is in elk geval nie iemand wat haar aan karre en goeters steur nie.

Ouma vertel vir my dat sy so opgewerk was, dat sy sommer gevoel het om in die ry uit die bakkie te klim en terug te stap huis toe.

Vir wat moet hier so ’n ophef wees?

“Aai my ou vrou, los nou maar die buierigheid net vir vandag,” het Oupa gesoebat.

“Ek is nie lus vir hierdie sirkus nie en ook nie vir ’n dominee nie. En nog minder vir ’n dominee wat “Ja Suster, nee Suster, goedso Suster.” Hierdie gedoente maak my nou eers warm onder die kraag.

My mens, ek kan myself net indink hoe Oupa se senuwees hom geknaag het oor Ouma en haar ewige ongeduld.

“Wil Ella Verwey nie maar palmtakke ook bring en dit in die pad gooi soos met Jesus daardie tyd nie?” het Ouma aangehou. 

Ek ken vir Ouma, as sy eers op dreef is met ’n ding, los sy nie sommer nie.

Toe Ouma hierdie woorde vir my sê, is dit asof ek in haar gesig kon uitbars van die lag.

Ek ken ook nou al vir Ouma as sy warm onder die kraag raak, dan praat sy al vinniger, so asof sy afdraande praat en dan bewe haar wange so asof hulle ’n lewe van hul eie het.

“Stadig nou vrou. Jy raak nou godslasterlik,” sê Oupa kalm.

“Hierdie hele konsert is godslasterlik, maar ek gaan nou maar swyg,” sê Ouma en hulle ry in stilte tot so vier kilometer buite die dorp op die bultjie, met Soutkop aan jou regterkant en die populierbome links.

Heel voor in die stoet bring Jorsie sy Fastback tot stilstand, gevolg deur Oupa en Ouma en dan die res van die gemeente.

Ella Verwey is die eerste wat uitklim en die kattebak oopvlek soos ’n honger dier wat na ’n prooi gryp.

Sy haal ’n deftige tafeltjie uit, spesiaal gaan koop vir die Dominee, en sy begin mandjies, bakke, flesse en bokse uitpak.

Dis eers die Jodetert wat in ’n geblomde bak is. Toe die klomp vleispasteitjies wat in ’n plat blik is met hartseer-katjies daarop.

Nog ’n blik klim by die “dier se bek” uit en dis ’n drielaag-koek beplak met “icing sugar” en bont van die “hundreds-and-thousands” in ’n koekblik met ’n prentjie van ’n hondjie en ’n hasie in ’n mandjie.

Daar is geblomde servette, gekleurde flesse met koffie, warm water en melk. Regte koppies met pierinkies vir die koffie.

Dan is daar nog ’n souttert in ’n pirexbak, wat seker yskoud is teen die tyd wat hierdie dominee sy verskyning gaan maak.

Toe Ouma vir my van al hierdie eetgoed vertel, kom sit daar sommer so ’n honger gevoel op die holte van my maag.

Ou Ella het gesien hoe Ouma haar aangaap oor die eetgoed-vir-Afrika, toe sê sy so in die uitpak:

“Joey, ek weet dominee sal nie alles kan opeet nie, maar ek het dit alles ingepak, net om my tafel voller te laat lyk en dan vir na die tyd vir die pastorie. Dominee kan nie so in ’n leë pastorie instap nie, jy weet.”

Weer het Ouma haar mond soos ’n speldekussing getrek. Ek wou nog lag, maar lag toe maar binnekant toe.

Ella het ’n eenstukrok aan. Sagpienk, met ’n spierwit belt. Moue wat tot oor haar elmboë kom en versier met ’n wit kantlappie.

Dan het die eenstukrok nog ’n kraag wat hoog in haar nek sit, met spierwit knopies tot by haar kuiltjie. Sowaar het sy nog ’n cameo op haar bors vasgespeld en ’n hoed ook nog op.

Die rok kom tot net onder die knieg, betaamlik. Sykouse met spierwit hoëhaksoene aan.

“Jy weet Danie, Ella het haarself so uitgesmeer met die duurste rok en skoene. Ek vra nog altyd waar daai geld vandaan kom. Dit laat my nou sommer so dink aan daardie een dag toe ek kerkkantoor toe gegaan het om ’n nuwe kalender te kry. Ella was besig om die kollektegeld te tel en netjies in banksakkies te sit. Toe sy my gewaar, het sy daardie kyk in die oë gehad net soos wanneer ’n klein hondjie in die gang gepiepie het en skuldig voel daaroor. Jy weet dáárdie soort kyk,” en Ouma probeer ’n skuldig-lyk gesig opsit.

Jy kon my met ’n snoek omklap toe Ouma dit vertel. Ek glo darem nie ou Ella sal so ver gaan nie, maar ek het geleer om nie met Ouma te stry nie.

“Dis belaglik,” dink Ouma, en Oupa gaan staan met sy voet teen die veertienhonderd se wiel en steek sy pyp op. 

Sykouse in die warm son. En daardie rok wat toe is tot by die kuiltjie, nee, dis darem uitspattig. Praat nie eens van die hoëhakskoene nie.

Ouma haal die karavaan-opvoutafeltjie wat hulle altyd gebruik as hulle Kroonstad toe gaan om by die rivier te gaan kamp, van die bak af.

Sommer ’n plastiektafeldoekie wat sy iewers gekry het en ’n paar koekies in ’n tupperbak. Aanmaakkoeldrank in ’n leë Orosbottel.

Sy het darem hierdie koekies self gebak. Peanutbutterkoekies, want haar kleinkinders is so lief vir dit. Hierdie is maar net oorskiet van die baksel.

Ouma het ’n plein sonrokkie aan met pastel-blommotief en die soom hang tot net onder die knieg. Skaflik.

Ek ken daardie rokkie. Sy dra dit altyd as sy die dag dorp toe gaan.

Ooptoon-plathaksandale wat sy by Foschini se uitverkoping gekry het met ’n ligte leerbandjie wat om die enkel vasmaak. Niks uitspattigs nie.

Ouma se bewegings is stadig. Sy stap stadig, kyk stadig, druk haar hande in haar heupe, bekyk die wêreld, haal haar bril af en wasem die lense in haar mond en dan vee sy dit af met die punt van haar rok. Dis alles Ouma se maniere as sy goed befoeterd is en ongeduldig raak met ’n ding. Sy praat min en loer net met skrefies oë.

Sy mik-mik om in die veertienhonderd te gaan sit en die radio aan te sit, want dis haar storietyd en dit nogal die laaste episode van die storie.

Nou moet sy hier in die son op ’n bult vir ’n dominee wag waarvoor sy glad nie lus het nie. Oupa sien dat sy al halfpad in die bakkie is en die radio wil aansit toe hy haar stop.

Dit gaan mooipraat kos. Hy haal sy voet van die veertienhonderd se wiel af en druk die pyp in sy hempsak.

“Ag vrou, hou nou maar net terug.”

Sy buk effens met haar nek soos sy deur die veertienhonderd se deur loer, sit die radio af en klim stadig uit.

Ek sal ja. Ek gaan my nie belaglik maak soos Ella nie, maar onthou een ding Danie, ek doen hierdie net vir jou. Vir geen Dominee, gemeente of Ella nie, het Ouma gesê en maak die ou karavaan-seilstoeltjie oop en gaan sit, bene gekruis. Sy kruis eers links oor regs, dan weer regs oor links. Dan skuif sy haar gewig na die een boud, dan weer na die ander boud. Sy begin alles van voor af, regter been, linkerbeen, regterboud, linkerboud. So gaan dit aan totdat sy voel daar gaan ’n uitbarsting in haar binneste wees.

Ouma sê dat sy nuuskierig en ontsteld op dieselfde tyd is, maar  nuuskierigheid kry oorhand en sy loer weer na Ella se kant toe. Dié pak nog steeds eetgoed uit en Jorsie knyp al sy oë skrefies om te sien of die dominee nie al oor die bult oppad is nie. Paul Roux is mos ook nie so ver nie.

Dit voel asof Ouma ’n toeval kan kry toe sy sien Ella Verwey mik na haar kant toe, maar sy sal inhou.

Aai my mens. Ek probeer nou al vir hoe lank om my lippe so op ’n speldekussing-manier te trek, soos Ouma altyd gemaak het as sy vir Ella naboots. Dis net Ouma wat dit kon doen.

“Middag Joey, hoe gaan dit?” vra Ella vir Ouma en haar mond is pure speldekussing

“Ja, goed Ella. Dis darem maar warm vandag,” en Ouma kyk so af na Ella se bene om te sê … “trek uit daai sykouse dis te warm vir die goed …”

“Is dit al eetgoed wat jy gebring het?” vra Ella en kyk met ’n opgetrekte oogbank en stywe lip na Ouma se tafel.

“Ja Ella. Dis al,” sê Ouma en sy sê die “DIS AL” so met gevoel dat Ella moet voel dat hierdie gesprek verby is.

Ella Verwey dink sy is die bobaasbakster in die distrik net omdat sy twee jaar terug kook- en bakklasse vir minderbevoorregtes gegee het in Bloemfontein, het Ouma nou bygelas.

Oupa staan met sy regtervoet op die veertienhonderd se wiel gestut

en wys net vir ouma om stil te bly. GROOT ASSEBLIEF staan in sy oë geskryf.

“Watse koekies is dit daardie?”

“Klein koekies,” het Ouma aspris gesê.

“Aai, Ouma, Antie Ella was seker goed opgetrek met Ouma?” het ek versigtig gevra.

“Wag jy nou, Evelyn, die storie raak al beter.”

Ouma vertel toe verder.

Ella draai om en stap verder met die stoet af tot onder en weer terug. Bekyk, beloer en vra uit oor al die eetgoed.

“Myne is die mooiste” het Ella sag gesê maar hard genoeg vir Ouma om te hoor.

Ella gaan sit by haar tafeltjie en Oupa en Jorsie gesels.

Die groot wag begin.

Ella is die eerste wat luidkeels aankondig en opspring toe sy ’n beweging op die bult sien.

“Hier is die Dominee!” het sy geskreeu, maar toe sy mooi na die kar kyk, sien sy dit is ’n klein geel Volkswagen Beetle.

“Kan dit wees?” dink sy, of het sy nou ’n fout gemaak.

“Laat hy maar kom,” het Ouma gesê.

Oupa haal sy voet van die veertienhonderd se wiel af. Jorsie gaan staan met sy hande agter sy rug en kyk stip na die aankomende Beetle.

Ella staan kiertsregop met haar voete teen mekaar en wag met ’n breë glimlag, wat nog altyd ondertoe hang, vir die Godsman.

Die Beeteltjie stop en toe daai man uitklim, staan Ouma op en kyk hom stip aan en druk haar bril met haar middelvinger op.

Die man lyk dan glad nie soos ’n dominee nie. Gewone denimbroek en nogal met ’n leerbaadjie daarby, wit hemp sonder das en ’n gewone pet op die kop. Ouma skat hom so vroeg veertig se kant.

My mens, is die dominee ’n aantreklike man. Hy kom altyd hairdresser toe vir daardie short back and sides sny. Maar dan kom sit hy by die wasbak en ek kan sien dat hy die shampoo en kopmassage geniet. Hy druk altyd so ietsie ekstra in my hand. Goeie man. Maar in elke geval, Ouma vertel toe verder.

Is jy seker dat dit die dominee is, het Ouma vir Oupa gevra. 

Oupa nog steeds op sy senuwees oor Ouma wat dalk ’n uitbarsting kan hê, sê toe maar stadig … “JA VROU.”

Die dominee groet vir Jorsie met die hand en glimlag.

“Ek is dominee Jonkers, Schalk Jonkers,” het dominee gesê en steek sy hand uit.

“Broer Verwey en dit is Suster Verwey,” het Jorsie gesê. 

Ouma is stil.

“En dit is broer Danie,” stel Jorsie sommer vir Oupa ook voor.

“Middag, maar hierdie is darem ’n groot verrassing,” het dominee met ’n vriendelike stem gesê en volgens Ouma nou, het dominee reg by Ella se tafel verbygestap, reguit na Ouma se tafel met Peanutbotter-koekies. 

My mens, Ouma het altyd soos ’n broeis hen geraak as sy hierdie storie vertel het.

“Middag Mevrou, ek is Schalk Jonkers. Hoe gaan dit?”

Hy staan kiertsregop en hy kyk met ’n wakker kyk in sy oë. Hy vat sy pet so aan die voorkant en lig dit op. Mooi breë skouers, lyk of die man rugby speel of iets, lang bene, breë glimlag. Dit is baie opmerklik dat die dominee ’n netjiese man kan wees. Mooi hande en skoon vingernaels. Dit is maar ’n ding waarna Ouma kyk. Vuil naels en hande beteken vuil huis en vuil vadoeke.

Ouma bly sit en meteens kom daar ’n kalm-soet gevoel oor haar.

Daardie gevoel wat jy kry wanneer jy vir die eerste keer ’n nuwe koekresep probeer en jou senuwees knaag aan jou want jy weet nie of die ding gaan platval of glad nie eers rys nie, maar wanneer jy hom uit die oond haal en uit die pan skud en hy is perfek. Dit is daardie gevoel. Daai gevoel van vrede. Dis al wat nou in haar is. Vrede. 

“Middag, Dominee, ek is Joey,” sê sy en steek haar hand uit en in dieselfde beweging probeer sy opstaan. Sy druk so met haar regterhand op die  armleuning van die stoel en skuif-skuif vorentoe.

Soos Ouma die dag hierdie storie by daardie tuinhekkie vertel het, gryp sy die hekkie so aan die kante vas. Sy kan haarself tog so in ’n storie inleef.

“Nee, bly gerus sit.”

Ouma vertel toe baie smaakvol, en in detail hoe dominee haar peanutbotterkoekies loof en prys.

“Bly te kenne Mevrou en moet asseblief nie vir my dominee sê nie, noem my maar net Schalk. Magties, kyk hierdie grondboontjiebotter-koekies. My gunstelling van kleintyd af, met aanmaakkoeldrank. Tannie weet ek het tot vandag toe nog daardie stoute gewoonte om in die nag op te staan en van hierdie koekies te eet saam met melk, ek staan sommer so in die donker net met die yskas-liggie aan. Mag ek maar een kry?”

Ouma vertel dat dominee so mooi geglimlag het. ’n Regte egte glimag, nie daardie aansitterige domineeglimlagte nie. Sy vertel ook dat hy so staan en met die regterhand mik om ’n koekie te vat, met sy linkerhand in sy broeksak. Ouma het gesê sy kon daardie stout-seun-glimlag in sy oë sien … “ondeunde kyk” was Ouma se woorde.

Jong, ek kan nou al sien hoe Ouma in daardie opvou-kampstoeltjie sit.

Sy het die gewoonte om haar bene so reguit voor haar uit te skop en dan haar bene so by die enkels oormekaar te kruis. Sy skuif dan so met haar boude effentjies vorentoe en dan kruis sy haar arms so voor haar bors. Sy sit dan haar wysvinger so gebuig op haar lippe … en dan weet jy dat Ouma lekker sit en gereed is vir lekker praat.

“Ek hou van die man, sommer baie,” het sy vertel en toe dominee vra of hy ’n koekie kan kry, sê sy. “Ja, vat maar alles met blik en al. Ek kan weer die blik by dominee kom kry.”

Ouma sê vir my dat ou Ella se oë vuur gespoeg het toe sy sien dat Ouma en dominee so lekker gesels en dat dominee nogal al Ouma se koekies vat en niks by haar, wat Ella is, nie.

Maar mens, ek moet ook nou bysê, ek glo darem nie dat dominee niks by Ella gevat het nie. Hy is darem te ordentlik. Ek glo dat hy tog maar ietsie daar gevat het. Ouma kan dinge lelik aandik.

“Mevrou, maar jy ruik darem maar lekker. Dis daardie soet blommereuk. Net soos daardie pienk pronkertjies. Ek onthou my ma het sulke blomme in die voorbedding van die huis geplant, so teen die sitkamervenster. Die hele sitkamer het daarna geruik as die wind reg gewaai het en die reuk dan by die vensters ingekom het. Hoe verlang ek nou na my Ma.”

Ouma se glimlag is so soet soos daardie blommetjies se reuk toe sy hierdie parfuumstorie aanvat.

“Ja, dis die einste parfuum. Ek hou van ’n blomreuk. Sommige parfuum kleef aan jou soos katpis,” en toe sy dit sê, hou sy haar mond vas, glimlag en sê: “Jammer Dominee, katpiepie …”

“Dit is so Mevrou,” en dominee knik sy kop op en af met sy regteroog wat klein bietjie skrefie trek. 

Aai my mens, ek wonder soms of Ouma nie bietjie stertjies bygelas het nie, maar wie is ek om te oordeel? ’n Storie is ’n storie.

Mens, maar toe slaan Ouma weer oor na ou Ella toe. Ek wou nog oor die parfuum uitvind, maar Ouma is klaar weer by Ella.

Ella het blykbaar vir Ouma soos ’n leeuwyf aangegluur wat haar prooi jag.

Oupa trippel rond soos ’n kat wat op ’n trok met warm kole staan van pure verligting, omdat dinge so mooi afloop met Ouma en die nuwe dominee. Oupa is verlig. Sommer baie verlig.

Oupa gaan staan weer by die ou veertienhonderd so met sy regtervoet op die wiel en stop sommer sy pyp. Hy druk die tabak so met sy duim vas, dan trek hy die vuurhoutjie en maak die pyp brand. Net rookbolle wat trek. Hy kyk weer na Ouma en dominee, haal sy voet van die wiel af en sit die ander voet op.

Ouma staan op, vat vir dominee so aan sy baadjiemou en stap in Oupa se rigting.

“Daantjie, ons het darem ’n knap nuwe dominee.”

“Dominee, dis my man, Oom Danie,” en sy vat so aan die dominee se skouer.

“Ons het reeds ontmoet, maar Oom ek kan een ding sê, hierdie Tannie kan ’n Peanutbotterkoekie bak. My gunsteling,” sê Dominee.

“O ja, Schalk, my huis is nommer 63, die een met die mooi tuinhekkie en pronkertjies teen die draad. Daar is ’n groot klip net voor die hekkie met die nommer op, as jy wil kom vir huisbesoek of sommer vir ’n heen-en-weertjie,” nooi Ouma.

My mens, ek weet nie of ek die hele storie so lekker kan glo nie, of moet ek net die helfte van die storie glo, maar een ding weet ek, Ouma kan stories vertel, en mooi stories en ek weet dat haar peanutbotterkoekies baie lekker is. Sy het al vir my daarvan gegee.

“Ditsim,” het Ouma toe gesê, opgepak en huis toe gegaan …

Ouma vertel toe vir my die volgende dag toe sy tuisnywerheid toe gaan om mosbolletjies te koop, sy al ou Ella se koeke met hundreds and thousands daar op ’n rak sien staan. Asook die Jodetert en ’n paar tertjies, en dit nogal met pryse op.

Ek lag kliphard en wou nog vir Ouma sê dit klink na tweedehandse koek, maar toe los ek maar die storie net daar. Soms is dit beter om ’n storie net te los sodat ’n mens se dink maar verder kan gaan.

The post Die koms van die dominee appeared first on LitNet.

Muiter aan boord RMS Exempli Gratia

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Iewers in ’n uithoek van hierdie land lê die nanag se oorskot met gebarste binnegoed op die versengende droë middaghitte en wag. Oorkant die bouvallige sokkerstadion kon ’n brandmaer straatbrak dalk die middel haal, en ’n verminkte, harige affêrinkie – danksy ’n wanhopige sprong – selfs die oorkant. ’n Gesette ou vrou, bont kopdoek en wit voorskoot, sal vroegoggend stoffies met ’n grasbesempie oor die kaal sypaadjie buite haar huis begin opjaag. Plek-plek sal smeulende hopies blare, rommel en rubber se rook met die alomteenwoordige rooi poeierstof vermeng om smorend bo ’n ongelyk wêreld te bly hang. ’n Afgeleefde bakkie sal aankruie oor ’n spoedwal, onverwags die straat kruis, halflyf oor die sypaadjie parkeer en onverklaarbaar begin toet.

Ek weet dit.

*

Die langverwagte prinsipaal se titel sal voortaan “uitvoerende hoof (executive head) heet, het strategies-geplaaste baniere aangekondig. Wit markiestente i’s vroeg die vorige week reeds opgeslaan en belanghebbendes na die stuurman se inhuldiging genooi: stamhoof, pastoor, voorsitter en eienaar van die skool (doctor), direksielede, ouers en kinders. Die te waterlating is swierig gevier.

Reusagtige kospotte het vroegdag vertroostend begin prut, koeldrank is yskoud uit staalbaddens bedien en lofprysing het in die vertes oor skroppende hoendertjies teen die koppe weergalm. Pastoor het met die nodige élan voorspel dat nie ’n enkele kind in hierdie skool sal druip nie. Een na die ander het sprekers agter die mikrofoon ingeskuif. Tradisie (en protokol, het die doctor verklaar) dikteer dat die vorige skoolhoof (interim head) ook hartlik vir haar harde werk bedank moet word. Tydens háár spreekbeurt het sy skewekop geprewel, binnensmonds gemompel en afwesig na haar voete in haar goue sandale gestaar. Toe gaan plof sy aangedaan in haar stoel neer.

Máár onthou net, het ’n direksielid later oor ’n opgehoopte bord kos terloops vir my geglimlag, kinders is oulik en die toekoms en alles is goed en wel, maar dis hoog tyd dat hy wins sien. Hoe meer dinge verander, sê hulle, hoe meer bly dit dieselfde. En alles wat was, sal weer wees.

Amen.

*

“We have to turn this ship around,” het die uitvoerende hoof met presiese panache tydens een van vele werksessies benadruk en die skip se nuwe koers geolie uitgestippel. ’n Gedeelde missie. Die interim head het dikmond toegekyk; sy het die executive head met broeiende agterdog bejeën. Bundeltjies dokumente is uitgedeel: 16 Habits of mind, Growth mindset, Teaching higher order thinking. Ensovoorts. Kollegas, daar is rede tot kommer: Sweedse kindertjies loop los voor. Ons is myle agter. In Swede assesseer hulle nie onnodig nie en onderwysers verdien net soveel soos die regters. “You can’t fatten a cow by weighing it,” het iemand filosofies opgemerk. “Praise Jesus,” ’n ander, die onderwys ís waarlik ’n professie. Net daar, tóé, aan die begin van die tweede termyn, het ’n opgewondenheid in die personeelkamer posgevat. Dit het selfs begin reën ‒ ’n gewisse teken van ’n koersvaste, voorspoedige reis. Wiskundiges het fluks probeer bereken hoeveel water verlore gaan omdat die geute nie in tenks inloop nie en dít sal stop, is plegtig onderneem. Die slagspreuk “’n honderd persent wedersydse respek ten alle tye” is gebaar, omarm en as mantra aangeneem.

’n Vars bries van verandering het kom lawe.

*

Nie lank daarna nie het die wind koud gedraai, kan ek onthou – dit was ’n onstuimige dag op die oop see.

“Oukei ...” nou effens op die agtervoet, “die verandering aan die rooster, ekstra na-uurse vergaderings en langer ure is bloot ’n tydelike maatreël ... tot ek hierdie skip omgedraai het.” Weer meer in beheer: “Kyk ... niemand sal summier ontslaan word nie, nie nou al nie, maar as jy ons gedeelde visie ... nie deel nie ... as jy nie inskakel nie ... dan is dit dalk eerder tyd vir jou om aan te beweeg – shape up or ship out. I expect everyone to be on board.”

Skeepsreg.

*

Een oggend is die pad skielik verlate, maar dít gebeur nie volkome onverwags nie. Die vorige termyn was daar óók so ’n onaardige stilte, maar het die verhuurder my betyds teen die dreigende opmars gewaarsku. Ongelukkig het ons verhouding intussen versuur en soek ek dringend nuwe blyplek. Die twis het ontstaan toe ek daarop aangedring het dat vele gebreke (geiser, yskas, vensters, watertoevoer – dis ’n lang lys) onmiddellik herstel word. “Jy is inkompetent!” het ek geskel. “Don’t think you can speak to me like that just because you are white!” het sy teruggekap. Anders as wat protokol vereis, is daar nie formeel aan die einde van die gesprek gegroet nie. Jy betaal ieder geval te duur aan huur, het my kollegas my verseker: “It’s because you are white.”

*

“Hey uMlungu!” roep een van ’n groepie skoolkinders en slenter laggend aan: selfone, oorfone, langbroeke te kort, wit kouse hoog opgetrek en hemde wat uithang. Die kinders neul dikwels hulle is honger. “Sharing is caring,” sê hulle. “Feed your mind,” sê ek. Dis onmoontlik om op ’n leë maag te konsentreer. Of as dit so warm is. Óf hulle so pas ’n toets afgelê het – ’n common test. Dis boring ─ alles is boring. “It’s abuse,” kla hulle – om dag in en dag uit so in ’n klaskamer te moet sit – presies soos dit vyftig jaar gelede was. Ek glimlag nostalgies. Steek op jou hand – hoeveel van julle gaan eendag ’n onderwyser word?

Nie een nie.

“Chillax,” sê hulle, daar is geen rede om ’n muggiesifter te wees nie.

*

Daardie spesifieke oggend, onthou ek, was nog erger as gewoonlik: die bokke buierig, die beeste traer as gebruiklik en die moedswillige donkies soos altyd kop in een mus ‒ al wat ’n dier is was dwars. Noag sou dit moeilik op ’n ark sonder anker gehad het. Tesame met die talle ongelisensieerde bestuurders, onverskrokke huurmotors, pap wiele, slaggate en slentergangers belemmer hulle die verkeersvloei. Desnieteenstaande bespeur die executive head dadelik ’n doelbewuste traagheid onder sy personeel om betyds op te daag en groet stug. Muitery onder die matrose sal nie geduld word nie. Name sal voortaan neergeskryf word, skeepsrol sal stiptelik bygehou word, stappe sal gedoen word. Van nou af: Sodra die oggendvergadering afgehandel is, sal die klok lui en onderwysers en kinders moet onmiddellik na hul mentorklasse beweeg. “I am the boss ... am I not the boss!” het hy handewringend verneem en verbete na sy lugverkoelde kantoor onder in die gang gevlug.

Maar buite, onder die genadelose son op die oop see, gaan die lewe sy eie gang.

*

Ontvangs lyk ondertussen effens anders: Daar is plakkate van Madiba, Jeugdag en foto’s van die skoolkinders. Van die stoele is ook rondgeskuif. Die skool kry ’n weeklikse nuusbrief en die doctor herhaal sy belofte aan die executive head van ’n splinternuwe huis.

*

Pas na ek getrek het, daal die soetste stilte een môre weer oor die hoofpad neer. Helaas, duskant die eerste bult lê ’n hoop afgekapte boomtakke, verder aan versper klippe die roete en in die verte dreig ’n swart rookkolom. Hiérdie slag gaan die protesaksie oor die gebrek aan watertoevoer. Rykes het water, maar húlle wat reg langs die dam woon, moet met dromme loop skep.

“Dit is ’n EFF-betoging,” verseker Elisa, my verhuurder, my. Sy is aan die ANC-vroueliga verbonde, ’n formidabele vrou. Sy stel voor ek bied omkoopgeld aan. R50 sal waarskynlik die wa deur die drif trek. Sy glo die klomp kwaaddoeners soek bloot genoeg geld vir drank en dagga, dan sal hulle tot rus kom.

Ek vat ’n kans. Ek moet by die werk kom. Daar is ’n skip om om te draai.

“If you come here again, you’ll be sorry. Do you understand me? Turn around!” snou die woedende betoger my minagtend met ’n dreigende wysvinger toe en kyk skaars na die R20 in my hand. Ek slaan my oë op na die polisiebeamptes wat met gevoude arms loom teen ’n bakkie aanleun en gaap die brandende vlamme wat die teer opslurp geskok aan. Daardie aand skryf ek ’n klag aan die stasiebevelvoerder en e-pos dit aan die plaaslike polisiekantoor. Ek wys ook op die onrusbarende middernagrumoer van die charismatiese kerke wat soos paddastoele opskiet.

*

Ek is gestrand en die betoging duur voort. Die executive head is onsimpatiek en geïrriteerd – van die ander personeellede is wel deur die blokkade, laat hy kortaf per WhatsApp weet – hy verwag (expect) dat almal by die werk moet wees. Daarom stuur Elisa douvoordag haar seuns om my met ’n agterpad werk toe te begelei en spreek ek af om hulle namiddag weer te ontmoet.

Ek word stug in die personeelkamer begroet ‒ ’n matroos met rotkoors besmet.

Ná skool wag Peter met vyf van sy vriende agter op ’n bakkie my reeds by Shoprite Usave in en verklaar die staking tot iets van die verlede. Ek moet net kort op sy hakke bly, adviseer hy. Nietemin, iewers tussen die bondel betogers sak ’n splintergroepie op my toe en klap venynig op die kar se dak, meslemme glim, donker gesigte druk teen die toe ruit. Peter en sy vriende verwilder genadiglik die anargiste.

*

Die soter staan geanker in die stuurkajuit, kompas in die hand, oë onwrikbaar op die sterre.

“Do you know the difference between an animate and inanimate object?” vra hy laat een Vrydagmiddag aan die week se oortreders wat detensie uitdien. Niemand antwoord nie – gaap ons net in stilte aan. “Snags kry die bakstene voete en loop hulle rond. So julle straf is om die bakstene wat rondlê terug op hul plek te besorg. En rommel op te tel.”

Die ewige, nimmereindigende rommel.

Om een of ander rede het my gedagtes pal terug bly draal na die ry afgekapte, omgedopte en bloedgevulde beeskoppe wat ek in die vleisafdeling van ’n kettingwinkel gesien het. Dit het my nogal ontstig.

Veral die reuk het bly kleef.

*

“Your brother is killing our matric dance,” verwyt ’n graad 12-kind my.

“My brother?”

“Yes, the principal.”

“Executive head.”

“Jy moet asseblief met hom praat,” pleit ’n onderwyser by my; “hy raak ’n diktator, ’n outokraat, maar hy sal jou verstaan.” Hy het nie langer tyd om na te sien of voor te berei nie, kla hy.

“Hoekom sê jy nie self wat jou pla nie?”

“Ek het ’n vrou ... kinders ... by die huis.”

*

’n Smeltdraad by my nuwe blyplek flakker uit en vir die soveelste keer het ek nie krag of water nie.

*

Die skool moet beter bemark word en daarom gaan ’n Ope Dag gehou word, kondig die uitvoerende hoof een oggend fleurig aan. Terloops, prestasie-assessering van opvoeders is spoedig op die agenda. Hy het sy grys baard afgeskeer en glimlag begeester. Saterdag 1 September is die gekose dag en hy verwag (expect) van almal om teenwoordig te wees.

Almal móét daar wees.

’n Ongemaklike stilte kry lêplek in die skeepsruim. Die interim head proes verontwaardig agter ’n hand. Die kinders gaan nie kom nie, waag ’n senior bestuurslid eindelik. In húl kultuur word op Saterdag begrafnis gehou ‒ familietyd is belangrik en daar is bowendien ’n aanbiddingsfees by die stadion. “Nee-nee. Álmal!” Dié wat nié daar is nie kry detensie. “Dit gaan pret wees. Julle sal sien. Ek ... ons het teikens wat gehaal moet word. Ons moet bemark. Ek kan hierdie skip nie alleen omdraai nie. Gooi kole. New York, here we come!” Die doctor sal ook daar wees.

“Gaan die skool darem kos voorsien? Dit was altyd die gebruik ...”

Die executive head lig onmiddellik sy hand, maar swyg tandeknersend onderwyl sy gelaat verkleur. Flertse rooi vlam oor die bleek gelaat. Etlike sekondes tik verby voor hy doodluiters in kenmerkende timbre laat blyk: “That ship has sailed.”

*

Dis windstil.

Amper dertig ouers het opgedaag en ’n tranerige brief vol verwyt word vervolgens uitgestuur – ’n dringende beroep word gedoen: Ouers moet hul kinders ondersteun. ’n Reusesukses, verkondig die nuusbrief, maar tydens die middagvergadering is daar ’n openlike krapperigheid aanwesig. “Luister ... julle beter my goed verstaan! Ek is nie Jan Rap nie, I was headhunted! Hierdie kultuur van mense wat net opdaag wanneer hulle wil, sál verander. En gou ook. Dis nou as jy weet wat goed is vir jou. Meer as dertig jaar ondervinding in die onderwys ... Hulle wat my visie nie deel nie beter aanbeweeg; ek is hier om te bly ... Shape up or ship out. Ek het dit al gesê, I expect everyone to be on board.”

Die interim head het grinnikend toegekyk.

Bly sit, het hy as nagedagte bygevoeg. Hier is ’n verteenwoordiger van die moedermaatskappy wat vir julle gerief begrafnispolisse verkoop.

Ek het opgestaan en uitgestap.

*

Daai aand, met ’n glas koue sauvignon blanc in die hand, vraestelle wat wag om gemerk te word en Elisa se boerbokke wat dreig om op my kar te klouter, dink ek na oor die kuns van skeepvaart en Die Skip. Op my foon lees ek: Not even God himself could sink this ship. – Employee of the White Star Line, at the launch of the Titanic, May 31, 19111 en “If only one or two of the compartments had been opened, Titanic might have stayed afloat.”2 ’n Boodskap maak op die foonskerm oop: “Alle opvoeders moet aanstaande jaar ’n week vroeër van verlof terugkeer sodat oriëntering gedoen kan word.”

Ek sug, sluk my glas leeg, staan op en skink nog ’n glasie.

*

Iewers dryf ’n gletser, glashelder. Of wink rotse daar voor?

Ek onthou nog goed: Op die laaste dag van die termyn daag minder as tien persent van die leerders by die skool op. Die executive head is briesend. Die vermetelheid! Hierdie is nie ’n staatskool nie, spreek hy die teenwoordiges toe en gelas dat alle ouers wie se kinders nie by die skool is nie, hom onmiddellik en persoonlik sal spreek alvorens ’n rapport oorhandig word. Maar meteens is daar ’n ontevrede gemor en nie lank nie toe staan ’n lang ry ouers in die gang en murmureer. Na ’n geskarrel verskyn die kaptein uit sy kajuit en vra opvoeders om die rapporte gou uit te deel.

“Dit was nie maklik nie,” kug die uitvoerende hoof later, “maar ek dink hulle het hulle les geleer ...”

*

“Ja, dit is jammer om jou te sien gaan,” sê hy, oënskynlik afgehaal; “jy verskaf nie redes vir jou bedanking nie.”

“Ek is eintlik ’n skrywer,” antwoord ek. “Hulle sê ’n skrywer skryf omdat hy nie anders kan nie.”

“Mmm.” Hy takseer my van oorkant sy rekenaar af. Een oog dwaal na die skerm ‒ Facebook. “En waaroor skryf jy? Wat is jou planne?”

Ek vryf nadenkend oor my ken. “Ag, enigiets, goed wat met my gebeur. Dalk ’n nuwe avontuur. Asië miskien.”

Hy staan op, kiertsregop, en hou sy hand uit. “Sterkte.”

Miskien maak hy ’n verskil hier op RMS Exempli Gratia, mymer ek. Ons skud blad, soos protokol vereis.

*

Soms dink ek terug aan al die katte en brandmaer brakke op die gehawende paaie daar aan die gatkant van die wêreld – sommige sal die middel haal, of met ’n laaste wanhopige sprong, miskien die oorkant.

Dalk het die skip selfs gedraai, hier in die see van storms.

.......

1 https://www.archives.gov/exhibits/american_originals/titanic.html.

2 https://www.smithsonianmag.com/history/photos-of-the-titanic-tragedy-from-101-years-ago-19446446.

The post Muiter aan boord RMS Exempli Gratia appeared first on LitNet.

Allan kom huistoe

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Skaars ses maande oud, kom Allan by my woon. Gewese vroulief het ingestem dat ek hom permanent kan kry, en my hart kon nie groter swel van trots oor die mannetjie nie. Met my lugmagsalaris kan ek net net ons uitgawes dek, maar vir ekstratjies is daar niks.

Skaars ’n week of drie later bel sy – kan Allan nie vir die naweek na haar toe gaan nie? Ek woon in Pietersburg, maar terwyl hy by haar in Pretoria is, kan ek by my familie in Sasolburg gaan kuier en hom Sondag met die terugkomslag kry. Ek land Vrydagaand laat daar aan, sy is net te bly om hom te sien en ek is vort Sasolburg toe. Sondagmiddag op pad terug stop ek by haar woonstel, voor dooiemansdeur. Nee, sê die bure, sy is Saterdag vroeg na haar ouers in Vereeniging, en sy is nog nie terug nie. Ek raak effe paniekerig, en ry met ’n spoed terug Vereeniging toe. My kind is my kind en hy moet huis toe kom. Vandag nog.

Skoonpa maak die woonsteldeur op die eerste vloer oop. Skoonma verrys soos ’n hersenskim agter hom en bevestig – ja, Allan is daar. Ek kan inkom en, kondig hulle selfvoldaan aan, hulle het besluit Allan gaan voorts by hulle woon en hy gaan nie saam met my nie. Hulle het klaar besluit. Hoe ek ookal redeneer en probeer, hulle staan bankvas by die besluit.

Dit is reënerig en koud, en daar sit hy op die mat in die sitkamer en speel, geklee in net ’n doek. Skoonpa en -ma is nie baie lus vir my nie, maar laat my toe om ’n bietjie met hom te speel. Stadig begin ’n noodplan in my kop vorm aanneem.

Siende dat die skoonouers anti-rook is, gaan ek buitentoe onder voorwendsel dat ek solank gaan rook terwyl hulle koffie maak. Intussen hardloop ek na my kar wat onder die woonstel staan en sluit die bestuurdersdeur oop. Ek hardloop terug en rook ’n halwe sigaret om my asem tot bedaring te bring sodat hulle nie onraad vermoed nie.

Met ’n hart wat in my keel klop gaan ek terug en gaan sit by Allan op die mat, sleutels gereed in my hand. Skoonma is nog besig met die koffie, en Skoonpa gaan badkamer toe. Toe is dit my kans. Ek raap Allan op in my arms en sny ’n lyn vir die deur. Agter my hoor ek vir Skoonma histeries skreeu dat Skoonpa my moet stop.

Ek spring die trappe gly-gly af, Allan vasgeklem in my arms, met Skoonpa kort op my hake. In die omdraai sien ek hy het sy rewolwer by hom en hy skree hy gaan my skiet. Genadiglik is ek jonger en vinniger en bereik die kar voordat hy my kan stop. Ek pluk die deur oop, plak die verskrikte Allan op die passasiersitplek langs my en sluit my deur van binne. My hande bewe so erg ek sukkel om die sleutel in die ontsteking slot te kry, maar wonder bo wonder kry ek die kar aan die gang. Skoonpa slaan met sy vuis teen die ruit en skree ek moet uitklim, maar in die truspieël sien ek hoe hy agterna hardloop en die rewolwer in die lug wuif. Ek bly ry, maar by die eerste afdraai stop ek en draai my bewende halfkaal klein seuntjie toe in die sitplek oortreksel.

My eerste stop is by die SAPS in Vereeniging. Ek verduidelik vir die speurder wat gebeur het, en hy stel my gerus dat ek die wettige ouer is en alle reg het om my kind te gaan haal. Volgende stop is Sasolburg waar my ma vir Allan droog aantrek en vir hom ’n warm bottel melk maak. Minute later sê Pa hy sien Skoonpa se kar buite stop.

Ek gryp weereens vir Allan, spring oor die agterste heining en gaan kruip in die bure se agterplaas tuin weg. Dit voel soos ure, maar uiteindelik is hulle weg, dreigend met al wat regsaksie en wraak is.

Laatnag is ek eers terug in Pietersburg, maar my kind is terug by my. Dit is al 25 jaar later, en die beste ding wat ooit met my kon gebeur het.

The post Allan kom huistoe appeared first on LitNet.

Pa, Ma en die liefde

$
0
0

Ons sit saam met Pa en Ma om die kombuistafel. Die blad en stoele is van groen melamien. Twee maal ’n jaar kom ons bymekaar, meestal voltallig, met ons ouers se huweliksherdenking en vir gesamentlike Kersfeesvieringe. Ek, Wilmien, Dawie en (vanjaar vir die eerste keer) sy oulike jong vrou, Renske. Die geur van boerekos vul die kombuis met warmte en gemeensaamheid.

“Gaan dit goed met julle twee?” vra Ousus uit die bloute vir Pa en Ma. Sy ken hulle die langste – sou sy iets aanvoel wat ons ander verbygaan?

Ma se oë is op haar bord gerig.

Na ’n effense pouse sê Pa: “Hoekom vra jy, Wilmien?”

“Want julle is albei vreeslik stil.”

Hulle antwoord nie. Pa trek net sy skouers op. Toe Kolle kos kom bedel en Renske vir hom ’n stukkie vleis gee, kyk hy haar streng aan. “Jy bederf die hond, en as julle weg is, sukkel ons weer om hom die gebedel af te leer!”

“Jammer, Oom,” sê Renske en bloos.

Ek begin wonder of Wilmien nie dalk tog aan ’n senuwee geraak het nie.

Dawie staan op en sê: “Ek dink dis tyd vir dáárdie song.” Hy loop by die vertrek uit, sitkamer toe waar die hi-fi staan. Sommer gou hoor ons die musiek van Ma-hulle se troudans: Françoise Hardy met “Say it now”. Dawie kom terug in die kombuis waar die atmosfeer steeds ’n bietjie stram is ná Pa se hap na Renske. Hy buig en hou sy hand na haar uit. “My lief, kom ons deel in my ouers se herinnering aan die heuglike dag toe hulle mekaar die regterhand gegee het.”

 

Ons tasse is gepak, gereed om ingelaai te word. Dawie maak keel skoon. “Ek het ’n aankondiging.” Hy kyk elkeen van ons om die beurt in die oë om die oomblik so lank hy kan uit te rek.

Wilmien skud haar kop. “Nee wat, só laat ek my nie terg nie. Wat is dit, Renske?”

Renske se oë blink. “Ek en Dawie gaan Kersfees vir Ma en Pa ’n baie spesiale geskenk bring.”

“’n Baba?” Wilmien wag nie op ’n antwoord nie. Sy gryp Renske vas.

Ek sit my arms om hulle. Ons lag en huil. Toe let ek op dat Pa en Ma eenkant bly staan, asof uitgesluit van die nuwe viering. “So ’n wonderlike Kersgeskenk – is julle nie bly nie?” vra ek.

Pa glimlag stywerig. Trane loop oor Ma se gesig. Sy kry ons bymekaar soos ’n hen haar kuikens. Lank kyk sy ons in die oë, een na die ander, ’n ritueel elke keer wanneer ons op vertrek staan. Ons wag vir die “Tot volgende keer, as dit die Heer se wil is”, maar in plaas daarvan sê sy: “Ek sal nie Kersfees hier wees nie.”

 

Kort na die herdenkingsnaweek bel Wilmien my. “Frans, jy woon die naaste aan Pa-hulle; gaan loer maar gereeld in, hoor?” sê sy. Ek hoor die kommer in haar stem.

“Natuurlik.”

Op my beurt bel ek Ma se dokter.

“Ja, sy is siek,” sê hy, “maar sy weier om toetse te ondergaan – máánde al – bang dat dit kanker kan wees.”

Dis nie vir my genoeg nie. Ek maak ’n afspraak, gaan sit by sy lessenaar. “Wat gaan jy doen, dokter?”

“Ek kan nie namens haar besluit nie,” sê hy; “jou ma is ’n sterk vrou. As ek haar in ’n rigting wil druk, sal sy gewoon wegbly, dan kan ek haar toestand nie moniteer nie.”

Later bel ek sus Wilmien. “Lyk my Ma is in goeie hande,” sê ek.

“En Pa, wat sê hy?”

“Dat die dokter beter as ons weet; sy moet maak soos hy aanbeveel.”

Ek besoek Ma. Ek smeek. Uiteindelik gee sy bes. Dr Bergman laat toetse doen en verwys haar na ’n onkoloog. Dié ondersoek Ma en stuur ’n biopsie weg. Ek en Pa én dr Bergman is by toe die diagnose vir Ma uitgelê word.

“Borskanker,” is die spesialis se uitspraak. Hy voeg dan die woord “gevorderd” by.

Agterna bel ek Ousus, benoud: “Ek het jou nodig, Wilmien.”

 

Sy vlieg van Kaapstad af Durban toe. Dit begin donker word. Op pad na my huis hou ek by ’n restaurant stil. Ek stuur die gesprek na ditjies en datjies, enigiets om die onafwendbare uit te stel, maar uiteindelik sê sy: “Wat probeer jy vir my wegsteek, Frans?”

“Die onkoloog het gesê Ma sal sterf as sy nie dringend ’n mastektomie kry nie. Albei borste. Maar sy weier om aan haar te laat sny.”

Ek skink vir ons nog wyn voor ek sê: “Ma gaan Pa verlaat.”

Wilmien sluk die helfte van haar glas leeg. “Shit, broer, waarvan práát jy? Hoe kan sy dit doen? Wat van haar siekte?”

“Sy besoek darem nog haar dokter.”

Die kelner staan met sy boekie nader, maar Wilmien sê sy is nie meer honger nie. “Wat kan die GP doen wat haar spesialis nie kan nie?”

“Hy skryf goed voor wat die pyn verlig. En hulle gesels.”

“Gesels? Maar dis mos waarvoor sielkundiges daar is. Kom ons gaan huis toe, jy kan vir jou ’n takeaway bestel.”

 

Ons ry in stilte. Wilmien se kop is weggedraai; ek dink sy huil. By die huis sê ek vir haar: “Daar is nog iets wat jy nie weet nie.”

Sy sug. “Wil ek dit hoor?”

“Nee, maar jy moet. Ma gaan by dokter Bergman intrek.”

“Die bliksem, ek sal hom by die Mediese Raad verkla!”

“Moenie eers daaraan dink nie. Hy gee om vir haar en sy vir hom, dis al wat tel as mens net ’n paar maande oor het. Ma het ons laas gewaarsku, onthou jy nie?”

Wilmien is rooi in die gesig. “Dalk het sy bedoel sy gaan Kersfees by die blerrie dokter wees!”

Ons gesels tot diep in die nag. Oor Ma wat vir ons ’n wonderlike moeder was en vir Pa, sover ons kan oordeel, ’n goeie vrou. Ons praat oor Pa ook, hy wat nooit van aanraking gehou het nie, geen erg gehad het aan ’n gedruk of gesoen nie. En nou die eensaamheid wat vir hom voorlê: sy vrou van dertig jaar wat hom gaan verlaat omdat sy sterwend is, wat hom nie by haar wil hê terwyl sy doodgaan nie. Hoe hanteer ’n mens so iets?

 

Ons is weer almal in Pa se huis, selfs Dawie en Renske se baba. Pa is in die wolke toe hy hoor sy kleinkind is na hom vernoem, klaar gedoop en geals. Ma se stoel is leeg, soos sy gesê het dit sal wees. Woordeloos sit ons, bang om te praat, ingeval ons iets mag sê wat Pa sal seermaak. Op die draadloos sing ’n koor “Die Heiland is gebore in stille Bethlehem”. Pa lyk broos. Kolle kom sit langs sy stoel. Pa skeur ’n stukkie vleis van ’n been af en gee dit vir hom.

Ek, en ek dink die ander ook, skrik toe sy stem skielik opklink: “Ek het nooit geleer hoe om lief te hê nie, dis hoekom julle ma weg is, julle weet dit ook,” sê hy en staan op.

“Hoe nou, Pa?” vra Dawie.

“Wil ek ook weet.” Wilmien se stem.

Pa antwoord nie, stap net die vertrek uit.

Ons kyk nog so vir mekaar, toe hou ’n motor buite stil. Die bande twiet op die teer en die enjin ruk dood. Ek haal Wilmien by die voordeur in en pluk dit oop. Ma se hand reeds op die luiknoppie. Ons lei haar kombuis toe. Die ander is net so verbaas as ons.

“Hoe kry Ma dit reg om so goed te lyk?” vra Dawie.

“TLC, my kind,” sê sy, “Charles was goed vir my.”

“Wás?” Ons, asof uit een mond.

“Hartaanval. Meer as ’n maand gelede al.”

Ontstig vra Wilmien: “En Ma – alleen in sy huis?“

“Nee, só gesond is ek ongelukkig nie. Charles het lankal reëlings getref, ingeval – vir my ’n plek in ’n oord gekoop. Ek word goed versorg daar.”

Renske tel haar baba op en gee hom vir Ma aan. “Ek en Dawie het mos beloof om vir julle ’n geskenk te bring.”

“Sy naam is Neels,” sê Dawie.

Ma vou die baba in haar arms toe. “My kleinkind; dat ek sowaar die voorreg het om hom te kan sien. Waar is sy oupa?”

“Hier.”

Ons kyk in die rigting van waar Pa se stem kom. Hy kyk na Ma, groet met ’n knik van sy kop.

“Kom nader, Neels,” sê sy, en toe hy by haar kom: “Hier, hou jou kleinkind vas.”

In stille verstomming kyk ons hoe hy die kind voor hom in sy twee hande hou, eers ongemaklik, en hom toe in die waai van sy arm na sy bors bring.

“Ek wil julle mening vra,” sê hy. “As ’n man sy vrou laat gaan omdat sy elders gelukkiger sal wees, sou julle saamstem dat dit is omdat hy haar liefhet?”

“Ja, Pa.”

Hy glimlag. “Dan hét ek mos geleer, verdomp!”

 

Lees ’n kort onderhoud met Jan van Tonder oor "Pa, Ma en die liefde" hier:

Korona-kortverhaalfees: Jan van Tonder oor “Pa, Ma en die liefde”

The post Pa, Ma en die liefde appeared first on LitNet.


Korona-kortverhaalfees

$
0
0

“In krisistye,” sê Hennie Aucamp, “is kultuur geen luukse nie, maar die hoogste vorm van selfbehoud. Want kultuur staan vir interne orde, en interne orde is die fondament van alle beskawing.”

Toe Aucamp, een van Afrikaans se kortverhaalmeesters, dié woorde in Pluk die dag neergepen het, het hy hom waarskynlik nie kon verbeel dat die wêreld eendag deur ’n pandemie lamgelê sou word nie. En nou, terwyl die ratwerk wat samelewings aan die gang hou deur ’n onsigbare virus tot stilstand gedwing is, is kultuur belangriker as ooit.

Met die sluiting van Afrikaanse tydskrifte waarin kortverhale deur lesers geniet kon word, is dié kosbare genre opnuut onder druk. Daarom bied LitNet, met die ondersteuning van die Hiemstra Trust, die Korona-kortverhaalfees met trots aan. Ons rig ’n ope uitnodiging aan lesers om die verhale wat hier verskyn te lees en te geniet. Mag dit help om daardie “interne orde” waarvan Aucamp praat, gerig te hou. Want met ’n stewige fondament is selfbehoud ’n kliphuis wat altyd sal bly staan, maak nie saak hoe groot en dreigend die stormwolke saampak nie. Of hoe klein en onsigbaar die virus is wat ons ingrendel nie.

 

Lees Jan van Tonder se “Pa, Ma en die liefde” hier:

Pa, Ma en die liefde

 

The post Korona-kortverhaalfees appeared first on LitNet.

Ons trek Vrydag

$
0
0

Foto: Canva.com

Nadat ek vir ’n jaar ’n bejaarde “egpaar” gratis in die huis laat woon het, met dien verstande dat ons ’n maand wedersydse kennis van ontruiming moet gee indien die situasie dit vereis, kry ek Maandagoggend die oproep.

Ek is jammer, sê Mevrou. Ek dink die garage se muur gaan op ons bakkie val en ons het ander blyplek gekry. Ons trek Vrydag. My bloeddruk styg onmiddellik, maar sy staan vas, hulle trek. Goed dan, sê ek, ek sal sorg dat ek Vrydag daar is om die sleutels te kry. Dit verg ’n nege-uur-lange rit vanaf Mafikeng en ek het niemand om na die twee hondjies te kyk nie, dus moet hulle saam. Ek neem noodgedwonge die Vrydag af.

Donderdagoggend bel ek haar om te bevestig, net voor ek Vrydagoggend in die pad val – ja, hulle trek definitief Vrydag. Ek laai voorrade in vir die naweek, beddegoed, hondekos ensovoorts, aangesien ek die naweek sal moet oorbly en sommer gaan skoonmaak terwyl ek nou daar is.

Vrydagmiddag laat kom ek in Steynsburg aan. Ek is moeg, die honde is geïrriteerd en ek het koffie nodig. Stop voor die deur, Mevrou maak die deur oop en lig my ewe kalm in, sy dink sy sal maar so deur die loop van die volgende week trek. Ek is moerig. Nee, Mevrou, jy het dan gisteraand nog bevestig julle trek vandag. Ek het 860 km ver gery omdat jy my vyf dae kennis gegee het en hier is ek, wat nou? Nee, sy weet nie. Ja, ek weet.

Julle trek môreoggend en ek sal help as dit moet. Met ’n stywe lippie sê sy dit pas hulle nie eintlik nie, maar hulle sal seker dan maar moet pak. Ek sê ja, julle sal maar moet.

Dit laat my met ’n lastige probleem, dié van slaapplek soek met twee klein maltesies. Op en af, en uiteindelik sê die eienares van die plaaslike gastehuis ek kan hulle maar bring. Dankie tog.

Saterdagoggend laat kom ek weer by die huis aan, hoogs gefrustreerd. Mevrou is intussen halfpad getrek, en ek hang rond om haar eerstens aan te jaag en tweedens om hulle te irriteer tot hogere spoed. Nie een van die twee werk eintlik nie, maar teen Saterdagaand laat is die twee vort met hulle karige besittings. En, kom ek later agter, sommer ook met van my sinkplate, ysters, gordyne, ensovoorts.

Dis toe wat ek vir die eerste keer die badkamer behoorlik onder oënskou neem. ’n Paar maande vantevore bel Mevrou my – kan ek nie maar die stort waarvoor hulle gevra het bokant die bad laat insit nie, hulle sukkel om in en uit die bad te kom. Sy het mense wat dit kan doen en het ’n kwotasie van R2 500 gekry. Ek sê ja, solank dit ordentlik gedoen word, ek soek nie afskeepwerk nie.

Nee, belowe Mevrou plegtig, dit is ’n behoorlike stort en die mense is baie betroubaar. Hmmm …  ek betaal die geld in haar rekening oor en ’n paar dae later bel sy my – die mense wat die stort ingesit het, het die wasbak gebreek. Hoe gaan ek nou maak? Ek sê nee, julle moet nou plan maak, maar ek gaan nie vir die wasbak betaal nie. Ek kan sommer die ysblokkies in haar stem hoor klingel – ons sal seker dan uit ons bitterklein pensioen ’n ander wasbak moet koop. Ek sê ja, julle sal seker maar moet, want ek gaan nie.

Nog ’n paar dae later bel ek – werk die stort? Ja, beaam Mevrou, dit lyk pragtig en dit werk – en hulle het toe ’n nuwe wasbak gaan koop. Beide van ons blyk min of meer tevrede te wees.

Totdat ek Saterdagaand die stort van naderby bekyk. Saamgeflans van tweedehandse PVC-pype, koppelings, stortkop ouer as Metusalem, toegekalk en die hele kontrepsie lek boonop soos ’n snotneus. Aan die buitekant van die huis is die pype teen die buitemuur met hake vasgespyker en hang soos telefoondrade tussen Wolmaransstad en Makwassie. Die Econo-wasbak is weliswaar nuut, maar vrot geïnstalleer en die gaping tussen die wasbak en die muur is groot genoeg om ’n opgeskote labrador deur te jaag. Ek het ’n pil nodig om die beroerte af te weer. Die hele kontrepsie kon nie meer as ’n honderd of drie gekos het nie, en die res van die geld het Mevrou seer sekerlik gebruik om haar karige pensioentjie mee aan te vul.

Bedaar, bedaar. Dit is nou gedane sake, en jy kan nie nou meer iets daaraan doen nie. Die bad word ontsmet, en ek stook my boilertjie tot die kole rooi trek. Omrede die krag afgesit is, steek ek kerse op en die atmosfeer is heerlik rustig en ontspanne.

En terwyl ek rustig in die bad lê, met ’n koffie en sigaretjie, laat die druppende lekkende konneksies dit kompleet voel of ek reg binne-in die Kangogrotte is.

The post Ons trek Vrydag appeared first on LitNet.

Eende van dieselfde dam

$
0
0

In die huis waar Amalia grootword, is rook ’n sonde. Amper net so erg soos om nie in ’n wit trourok voor die preekstoel te staan nie, of om jou naaste se os of esel te begeer.

Die Van der Merwes maak ’n duidelike onderskeid tussen dié wat rook en dié wat dit nie doen nie. Die een is eende van hulle dam, die ander word nie naby die water toegelaat nie.

Wat natuurlik verklaar waarom Amalia toe so halsoorkop verlief raak op Jack. Dis toe Jack Amalia die eerste keer in sy arms neem en sy die pakkie sigarette in sy bosak teen haar wang voel dat sy finaal voor die versoeking val. Sy adem Jack se geur in, die rokersreuk aan sy klere, in sy nek, die smaak van sy mond. Dis die geur van ’n roker, dis die geur van ’n man.

Om te sien hoe Jack sy sigarette hanteer is om na ’n movie met ’n streng ouderdomsbeperking te kyk. Hoe hy net die regte sigaret uit die pakkie kies, sag en tergend tydsaam daaroor streel, die voue om sy mond sag en soet, loom gedagtes in sy oë. Hoe hy die sigaret ’n oomblik lank met sy lippe liefkoos, die aansteker aanhits, en dan daardie eerste teug van genot … Sy oë versluier, ’n simfonie van sensualiteit wat Amalia laat ril van begeerte. Eintlik wil sy op sy skoot spring, arms om sy nek gooi, bene om sy lyf slaan – maar sy weet niks kom tussen ’n man en sy sigaret nie en sy hou haar in.

“Daar sal nooit weer vir my ’n liefde soos hierdie wees nie,” konfronteer sy haar pa en ma wat neusoptrekkerig aan Jack ruik.

Op ’n skoon somersdag trou Amalia met Jack. In ’n spierwitte trourok, nogal. “Ook maar net-net, as jy my vra,” brom haar pa terwyl hy sy vrou uit haar floutes probeer lawe en onderskraag. Jack wag tot na die seremonie om op te steek, maar die onthaal gaan min of meer in ’n rookwolk verby. En Amalia is gelukkiger as ooit voorheen in haar rooklose lewe.

Net jammer dat geen huwelik gevrywaar is van die sewejaarjeuk nie. Dat vuil asbakke die hele huis vol later hul bekoring verloor, dat selfs rokersoene nie meer dieselfde verlammende uitwerking op jou lyf het nie.

“Jy is nou nes daardie ou ma van jou,” verwyt Jack toe Amalia haar streng rokerswette begin uitvaardig. “As jy so aangaan, sal ek later nie meer in my eie huis kan rook nie.”

Dit gebeur nie oornag nie, maar dit gebeur. Dat Jack later na die buitenste duisternis verban word om daar sy longe te gaan verniel. Maar Amalia, liefdevolle vrou wat sy is, sorg darem dat daar vir hom ’n gemaklike stoel op die stoep is.

En toe trek die nuwe buurvrou in. Een wat in ’n uitgerafelde denimkortbroek in die tuin werk. Blond soos die môredou, om die cliché van rou vroulike verleidelikheid verder te voer. Van ’n man is daar geen teken nie, van kinders om haar besig te hou sodat sy minder in die tuin kan kom, nog minder.

Amalia sit in die sitkamer en televisie kyk toe sy die gegiggel hoor, die stemmetjie skerp soos ’n outydse skeermeslemmetjie en Jack se basstem wat agterna brom. Hulle staan by die muur, Jack en die buurvrou, elkeen darem nog in sy of haar eie grondgebied. Maar dis die twee vuurvonkies naby mekaar in die donker wat die aarde onder Amalia laat bewe. Die buurvrou rook!

Kyk, van die samehorigheid tussen rokers hoef niemand haar te vertel nie. Daarvoor is sy al te veel uit die kring van die rokers en die stokers gestoot. Hulle staan sáám, hulle stem saam, want hulle rook saam. Roetswart harte klop met dieselfde verwoestende ritme.

Skielik is Jack nie meer so dikbek om saans buite te gaan rook nie.

“Waaroor gesels jy en die buurvrou so lekker?” wil Amalia weet.

“Ag sommer … oor die weer en so.”

Maar praatjies oor die weer kan nie so amusant wees dat Jack en die buurvrou so lekker daaroor sal lag nie.

Dis toe Amalia die buurvrou die aand hier onder haar neus op die stoep hoor lag dat sy behoorlik strip. Sy storm uit. Dit ís darem nog haar huis hierdie. As daar buurskaplik gekuier gaan word, sal sý die tee maak. En sommer ook haar vinger daarin steek vir ekstra geur.

“Ek het net ’n sigaretjie by Jack kom bedel,” verduidelik die voorbarige vroumens. Jack is dadelik by met ’n aansteker toe sy die sigaret tussen haar lippe laat glip. Hy wat nie daarin glo om sy sigarette uit te deel nie. “Want ek loop altyd leeg wanneer ek nie naby ’n kafee is nie.”

Dit word ’n gewoonte, Jack en Buurvrou en hul verpestelike sigarette. Amalia sien hulle gereeld saam rook, maar sy hoor hulle nie meer so baie saamlag nie. Dis asof daar ’n vreemde rusteloosheid in Jack roer.

“Die werk stuur my vir ’n maand oorsee,” kom vertel hy. “Amerika toe.” Amalia skrik. ’n Maand is lank. En Amerika is ver.

“Ons kan mekaar skype,” soek sy gerusstelling vir haar ongemak. “Jy kan maar rook terwyl ons gesels,” stel sy voor. “Dit sal my nie pla nie.”

Miskien moes hulle dit lankal gedoen het. Tegnologie ingespan het om nader aan mekaar te wees sodat hulle nie so ver van mekaar af dryf nie.

“Ons kan nie. Die konferensie word in die Rocky Mountains gehou. Daar is glad nie ’n selfoonsein of wi-fi nie.”

Sommer al op die derde dag wat hy weg is, tref die eensaamheid en verlange na haar man vir Amalia. “Ek haat sy rokery,” vertel sy vir die vier mure om haar. “Maar ek is lief vir die bliksem.”

Sy sien nou die verkeerdheid van haar weë in. Is sy mal? Wat probeer sy doen? Haar man in ’n ander vrou se arms indryf? Hoe kan sy hom soos ’n hond by die deur uitjaag om buite te gaan rook? In wind en weer, somer of winter?

Selfs – sy skaam haar – die enkele kere wanneer Jack nog na haar lyf vra. Daar word nooit meer na die tyd gecuddle nie. “Na aksie, satisfaksie,” het Jack graag vroeër genotvol gesê wanneer hy agteroorlê en na sy pakkie sigarette langs hom op die bedkassie tas. Nou moet hy uit sodra hy weer reëlmatig asemhaal.

Dis tóé dat die gloeilampie bo haar kop aanskakel. Sy weet wat sy moet doen en sy moet dit gou doen. Sy moet die kuns binne weke bemeester, haar longe oefening gee sodat sy soos ’n pro sal rook teen die tyd dat sy Jack op die lughawe gaan haal. ’n Huwelik vra opofferings. Sy sal seker so vyf tot tien jaar minder leef, maar wat is die lewe tog werd sonder Jack?

Dis net dat dit nie so maklik is om te leer rook nie. Orals op die internet is daar raad om op te hou, maar nie andersom nie. Wat sy nodig het, is iemand om haar touwys te maak, maar oor haar dooie liggaam sal sy die buurvrou vra om dit te doen. Die winter hou die vrekselse vrou blykbaar uit die tuin, want daar is nie ’n roering buite nie. Sit heel moontlik ook vingeralleen in haar huis, net so eensaam soos Amalia. Ook sonder kind of kraai soos sy.

Gelukkig kan jy nie my man bykom nie, wil Amalia vir haar sê. Want hy is oseane ver van jou af verwyderd. In die boendoes, in die Rocky Mountains, in Denver, in Colorado, in die VSA. Waar hy nie gekontak kan word nie.

Miskien kan hulle al drie saam rook wanneer Jack terug is. Oor die weer gesels en lag. Hoewel sy Jack lanklaas hoor lag het.

Voor die maand om is, weet Amalia waarom rook van die duiwel is en dat mens kortasem van benoudheid kan raak wanneer jou kop en lyf na ’n sigaret vra en daar nie een binne ’n armlengte van jou af is nie. Sy verstaan nou Jack se verslawing; hulle sal nou sielsgenote wees.

En toe kom Jack onverwags met Uber van die lughawe af daar aangesit. Hy groet nie. “Daar is iets wat ek vir jou moet sê,” kondig hy aan die oomblik toe hy sy tasse neersmyt.

“Ek het vir jou gelieg. Ek was nie weg vir werk nie, maar dit was beter vir my om nie met jou kontak te hê nie. Ek moes dinge vir myself uitklaar. Afgesonder. Op my eie.”

Amalia sak in die naaste stoel neer.

“Ek is jammer, Amalia, ek het nie langer kans gesien vir die lewe wat ons gelei het nie. Ek was ’n gevangene, ’n slaaf, ek moes net wegbreek uit die groef waarin ek beland het.”

Jack neem haar hande in syne. “Ek het dit reggekry, Amalia. Daar het vir my ’n nuwe wêreld oopgegaan. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.”

Amalia voel-voel na haar sigarette. As hy haar net nog ’n kans wil gee …

Maar Jack staan regop, gooi sy arms oop. “Ek is vry, na ’n maand se terapie, uiteindelik heeltemal vry.” Hy lag. “Ek het ophou rook, Amalia!” spog hy triomfantelik. “Vir altyd.”

 

Lees ’n kort onderhoud met Kristel Loots oor "Eende van dieselfde dam" hier:

Korona-kortverhaalfees: Kristel Loots oor "Eende van dieselfde dam"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Eende van dieselfde dam appeared first on LitNet.

Bleddie Romeo!

$
0
0

Gert Visser is frustreer en glad nie tevrede met homself nie. Hy sit voor sy rekenaar en kyk stip na die skerm. Sy studeerkamer se mure is omring deur boekrakke vol stowwerige regsboeke. Hy weet nie meer wat om verder te doen nie. Hy besef dat hy homself nou in ’n hoek ingeskryf het. Die opinie maak nie meer sin nie. Sy kliënte gaan moeilik en ontevrede wees. Hulle het baie geld betaal vir sy dienste. Die saak sal definitief hof toe gaan. Dit is so seker soos ’n All Black-drie in die laaste twintig minute van ’n rugbytoets. Ek sal ’n plan moet

Foto: Pixabay.com

“Gertman, jy moet my kom help om die was- en strykkamer uit te pak en skoon te maak. Jy het my belowe dat jy tydens die grendeltydperk sal help om ontslae te raak van al die gemors wat ons opgegaar het,” sê Annabel, sy tweede vrou. Sy is ’n besonderse mooi vrou. Mans staar gewoonlik oopmond na haar wanneer sy by ’n vertrek instap. Lang bruin hare, groot bruin oë en ’n pragtige olyfkleurige vel. Sy is nogal lank vir ’n vrou. Modellengte. Atleties gebou en elegant wanneer sy beweeg.

Gert, daarenteen, is nie juis iemand wat ’n groot indruk met die eerste oogopslag maak nie. Alhoewel hy medium lengte is, is hy op die ouderdom van vyf-en-vyftig’n skadu van die eertydse atleet en veelsydige sportman wat hom so gewild onder sy vriende gemaak het. Die baie ure agter sy lessenaar die afgelope twintig jaar het hul tol geëis. Hy probeer om elke tweede naweek ’n pot tennis saam met sy kollegas by die tennisklub in die Tuine te speel. Sy muurballoopbaan het egter onlangs tot ’n vinnige einde gekom toe hy sy linkerknieligamente geskeur het. Ten spyte van die goeie mediese behandeling kon hy nie weer tot sy eertydse glorie terugkeer nie. Dit is ooglopend duidelik ná ’n vlugtige bestudering van sy veltekstuur dat sy gereelde besoeke aan die naburige kroeg duidelik hul letsels gelaat het. Sy grys hare is kort geknip, maar yl bo-op sy groot kop.

Ná soveel jaar in die beroep is Gert ook nie meer lus vir hard werk nie. Hy glo aan die gesegde wat sê dat jy hard moet werk wanneer jy jonk is sodat jy rustig kan terugsit wanneer jy oud word. Dit was nou die tyd om terug te sit, reken hy. Hy het begin om nuwe stokperdjies te beoefen, soos om ’n motorfiets te koop toe hy vyftig word, met bye te boer na sy drie-en-vyftigste verjaardag en toe ewe skielik pak ’n visvang-gier hom onlangs beet. Gert kan nie eintlik sulke duur stokperdjies bekostig nie. Dit lei tot groot spanning tussen hom en sy vrou.

“Waar kry jy die geld om al hierdie stront te koop?” het sy dikwels ergerlik gevra.

Gert is skielik bewus van iemand wat in die deur van sy studeerkamer verskyn. Toe hy omkyk staan sy vrou met haar hande op haar heupe en gluur hom aan. “Het jy gehoor wat ek gevra het? Dit is nie nou die tyd om my te ignoreer nie.”

“Ek is nou daar, liefling. Ek maak net gou die eerste draft van hierdie opinie klaar ... sukkel al heeloggend daarmee. Gee my ’n halfuur, dan is ek by jou,” sê Gert. Hy sal eerder wil gaan visvang in die dammetjie net voor die huis. Dis so ’n mooi oggend.

Die dam is beskut van enige nuuskierige oë. Dit word omring deur bome en struike aan die huise se kant. Dit is nie juis ’n groot dam nie. Die water is troebel en driekwart bedek met ’n groen laag wat lyk soos mos wat dryf. Meeste van die damme op die baan is glo vol vis. Hulle geniet dit om op dié gholflandgoed te woon, nie te ver uit die stad nie.

Voordat Gert behoorlik met die visvangstokperdjie op dreef kon kom, het die grendeltydperk sy planne om te hengel heeltemal gefnuik. Hy besef egter gou dat die damme op die baan vir ander doeleindes as net balle insluk aangewend moet word. Ná ’n klompie navrae en ’n klandestiene verkenning, stel hy vas dat daar veral karpe in die damme rondswem.

Nou toe nou. Hy  gaan gou vir vroulief ’n bietjie hand bysit en dan uitglip om ’n paar gooie te maak. Hoekom nie, hy verdien dit. Hy spook al die hele oggend voor die rekenaar sonder enige werklike vordering.

Sy vrou loer weer by die deur in. “Gertman, ek het reeds ’n bietjie skoongemaak in die waskamer. Jy kan solank al die swaar goed uitdra. Wanneer jy klaar is, kom maak my  wakker. Ek gaan ’n bietjie skuins lê in die boonste slaapkamer. Dis lekker koel daar bo hierdie tyd van die dag.”

Dis nou vir jou lekker. Soos gewoonlik moet hy al die harde werk doen, op kantoor en selfs nou by die huis.

Gert besef dadelik dat hy nou moet vinnig speel as hy sy visvanglus wil blus. Gelukkig is die dam vlak voor hul huis geleë, aan die gholfbaan se kant. Hy haas hom onmiddellik na die stoorkamer. Binne ’n oogwink het hy die visstok en hengeltoerusting byderhand. Hy is slaggereed vir dié avontuur. Hy sluit saggies en versigtig die stoorkamer se buitedeur oop. Sonder om te veel geraas te maak, sluip hy met die smal gangetjie langs die huis af in die rigting van die buitehek. Suutjies sluit hy die hek oop en kies versigtig sy plek langs die dam. Hy berei die aas haastig voor. Hy is nou reg vir aksie. Hy staan gereed en maak die eerste gooi.

Hy is verlig toe die aas en sinker die damwater, dertig meter voor hom, met ’n groot plons tref. Nou kan hy terugsit en ontspan, al is dit net vir ’n kort tydjie. Hier is baie vis in die dam. Hy behoort ’n vinnige byt te kry.

Skielik gebeur drie dinge kort na mekaar. Sy visstok word byna uit sy hand geruk. Dit moet ’n  helse byt wees. Dit voel soos ’n grote ... sal ’n baie mooi foto wees. Hy reageer dadelik en kap terug, katrol die lyn vinnig in, maar nie te vinnig nie. (Advies wat hy onlangs ontvang het; anders verloor hy die vis.)

“Daar is iemand op die boonste balkon!” skree iemand skielik uit die bloute. “Vir wat kyk daai man deur die kamervenster! Uitvaagsel!” Die gebulder kom van sy buurman se huis af, dink Gert. Hy erken nie eintlik die stem nie, maar aanvaar dat dit die nuwe buurman moet wees. Hulle bly al bykans ’n maand langs mekaar, maar het nog nie behoorlik kennis gemaak nie.

Gert slinger die visstok neer terwyl die vis nog spartel om los te kom. Hy hardloop na die buitehek en soos ’n wafferse losskakel versnel hy met die smal gangetjie af en deur die stoorkamer. In die voorportaal van die huis, aan die onderpunt van die trappe wat na bo lei, kyk hy beangs op. Hy hyg soos ’n uitgespoelde drenkeling, heeltemal uitasem. Sjoe, hy’s onfiks!

“Anna!” skree hy, “is jy orraait? Daar is iemand op die balkon!” Hy hoor niks nie en storm dadelik boontoe. Hy merk op dat die slaapkamerdeur toe is. Hy probeer die deurknop oopdraai. Die deur is gesluit. “Anna, is jy daar? Is jy oukei? Antwoord tog om hemelsnaam!”

Skielik draai die sleutel in die slot en die volgende oomblik staan sy voor hom, asvaal geskrik en op die punt om in mekaar te sak, vermoedelik as gevolg van die skok.

“Ekke … ekke ... het opgekyk en toe sien ek ’n vreemde man wat deur die venster na my staar. Hy het beduie dat ek die skuifdeur moet oopmaak. Ek het nie mooi gehoor wat hy gesê het nie, maar dit het geklink asof hy gevra het dat Ronel dit moet oopmaak.”

Toe martel iemand die deurklokkie, gevolg deur ’n harde stamp aan die voordeur.

Gert draai vinnig om en strompel met die trappe af na die voordeur. Met een beweging sluit en ruk hy die voordeur oop.

Voor hom staan ’n man wat lyk asof hy ’n spook gesien het. “Ek is bitter jammer om te pla, meneer,” sê hy, “maar ek het sopas gehoor dat daar ’n man op jou balkon is wat na Ronel soek. Ons is julle nuwe bure. Ons het onlangs hier ingetrek. My vrou het nou net aan my erken dat sy ’n verhouding met die man op julle balkon het. Moet asseblief nie sekuriteit bel nie. Ek sal damn seker maak dat julle nooit weer daai man en my vrou te siene kry nie. Bleddie Romeo!”

The post Bleddie Romeo! appeared first on LitNet.

As dit nie vir Oom Krisjan was nie

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Ek onthou die boksgeveg tussen Johnny Ralph en Freddie Mills nog baie goed. Dit was die aand toe Oupa Johannes dood is. Ons hele gesin, behalwe Ouma, het daardie Novemberaand in 1948 na die geveg oor die radio in die sitkamer geluister.

“Julle weet ek hou nie van boks nie,” het sy gesê en het gaan slaap.

Dit bly vir my vreemd dat ek die gebeure van daardie dag, ná al die jare nog, so goed kan onthou. Dit is seker maar omdat my langtermyngeheue met die ouderdom verskerp. Maar dan is dit ook so dat Oupa Johannes nog nooit vir lang tye uit my gedagtes was nie. En min ander sal hom ook vergeet. Ma was die oggend voor die geveg in die kombuis besig om deeg te knie. Sy het altyd Saterdagoggende brood gebak. Ek was besig om tafel te dek. Toe Ouma die kombuis binnekom, het Ma gevra:

“Waar is Pa vanoggend so vroeg heen?”

“Weer dam toe,” het Ouma geantwoord en agter die kombuistafel ingeskuif. “Hy glo mos babers byt beter net voor sonop.”

“Is Filemon saam met hom?” het Ma besorg gevra.

Ouma het net haar kop geknik.

Ek het solank begin om vir die jonger kinders brood te smeer: ’n Dun lagie botter op elke sny, want ons was, soos baie ander gesinne ná die oorlog, arm. Wat sou dit ook gehelp het om vir Ma-hulle te vertel dat Oupa my die vorige dag reeds aangekeer het om die aas en die visgerei vir hom voor te berei. As hy ’n ding in sy kop gekry het, het min mense hom teëgegaan – allermins een van ons kinders.

Die plaaskinders – wit en swart – was almal sku vir hom, want ons moes allerhande dinge vir hom doen waarvan kinders nie hou nie. Ons moes perskes vir hom skil, sy skoenveters vasryg, sy toonnaels knip en hom oral op die plaas rondlei, want Oupa het, soos Ouma dit genoem het, drie terugslae gehad.

Oupa se eerste terugslag het nog voor my geboorte gebeur, maar toe ek eenmaal vir Pa daaroor uitgevra het, het hy my vertel hoe moeilik dit vir die familie was. Oupa-hulle was maar ’n jaar of ses in Wes-Transvaal waar hy ’n stukkie grond langs sy broer, Krisjan, s’n gekoop het. Van boerdery het hy niks geweet nie; hy was voorheen ’n myner êrens op die Witwatersrand en vóór dit het hy vir ’n fotograaf in Fordsburg gewerk. Die eerste klompie jare op die plaas het hulle bitter swaar gekry, maar handdoek ingooi was min. Hoe kon hy? Rand toe kon hy nie teruggaan nie, want die Depressie was daar net so erg.

Oupa was skaars op die been toe breek die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uit. Hoewel Oupa nooit Noorde toe was nie, moes Pa en sy jonger broer gaan veg. Dit was in daardie tyd, toe Oupa alleen die plaas moes behartig, dat sy regterhand in ’n gehuurde dorsmasjien se vervoerband vergruis is. Hy kon daarna nooit weer die hand se middelvinger, ringvinger en pinkie gebruik nie, maar sy duim en wysvinger was later so handig en sterk soos ’n bobbejaantang.

“As dit nie vir Oom Krisjan was nie …” het Ouma altyd gesê as sy oor daardie jare gepraat het. “Hy het bedags oorgekom om hand te gee waar hy kan en om Oupa moed in te praat. Soms het hy ’n emmer mieliemeel of ’n paar babers saamgebring. Ja, dit was swaar tye,” het Ouma met ’n sug gesê.

Oupa se tweede terugslag was vir my, as kind, die moeilikste om te verwerk. Oupa was anders as ander oupas; hy was blind. Hy het glo kort ná my geboorte begin blind raak; eers die een oog en toe die ander een. Wat die oorsaak daarvan was kon niemand daardie tyd met sekerheid sê nie. Pa het gereken dat die vonke van die sweiswerk wat Oupa gedoen het, sy oë beskadig het. Ouma egter, het beweer dat dit die gevolg was van al die boksgevegte waarin Oupa in sy jong dae in Fordsburg betrokke was. Hy en sy broers was glo ’n gedugte klomp om mee rekening te hou. Soms het ek Oupa jammer gekry, maar meesal nie. Ek kon nie verstaan hoekom ek nie soos ander kinders ’n oupa kon hê wat kon sien nie.

Ek was al oud genoeg om sy derde ongeluk te onthou. Oom Wynand, een van Oupa se skoonseuns, het hom saamgeneem Vryburg toe om beeste op ’n vendusie te gaan koop. Daardie dae was die pad nog nie geteer nie en met die baie motors en vragmotors op pad vendusie toe, kon hulle skaars deur die stof sien. Toe Oom Wynand ’n trekker met ’n sleepwa wou verbysteek, het hy te na aan die sleepwa verbygery en Oupa se linkerarm, wat hy by die venster laat uithang het, is tussen die sleepwa en Oom Wynand se motor platgedruk. ’n Dokter moes die arm by die elmboog amputeer.

Almal wat Oupa goed geken het, het gesê dat hy van toe af anders was: hy was verbitterd en met tye was hy baie neerslagtig en wou vir lang tye met niemand praat nie. Ander tye was hy uitermate geïrriteerd en humeurig en ongeduldig – selfs teenoor Ouma. Ons kinders moes ook dikwels deurloop as ons nie vinnig genoeg nadergekom het wanneer hy ons roep nie.

“Kleinjan, gaan kyk tog waar Oupa so lank bly,” het Ma gevra terwyl sy voortgegaan het om die brooddeeg te knie. “Sê vir hom hy moet kom eet.”

Ek het ’n sny brood gegryp en dam toe gedraf om te sien of Oupa en Filemon nog daar is. Die oggendmis oor die dam het plek-plek begin opklaar. Ons tuisgemaakte vlot het sowat vyftig meter van die damwal gedryf. Op die vlot het Oupa roerloos en krom op ’n leë olieblik gesit met ’n handlyn tussen sy regterhand se duim en wysvinger vasgeknyp. Filemon het ewe roerloos langs hom op die vlot gestaan met die stuurstok in sy hand.

“Oupa!” het ek geroep. “Ma sê Oupa moet kom eet!”

Dit was eers met die tweede roepslag dat Oupa sy kop gelig het. Toe het Filemon die vlot stadig wal se kant toe gestuur. By die wal het ek Oupa gehelp om van die vlot af te klim en my arm uitgehou sodat ek hom terug huis toe kon neem. Die emmer waarin die babers moes kom, was leeg.

“Sien Oupa uit na vanaand se boksgeveg?” het ek op pad huis toe gevra, want ek het nie geweet waaroor anders om met Oupa te praat nie.

“Hoe dan anders?” het hy gesê.

“Wie dink Oupa gaan wen?”

“Johnny, natuurlik!” Ek kon hoor hy vererg hom omdat ek so ’n simpel vraag durf vra. “Johnny Ralph gaan vanaand die swaargewigkampioen van die wêreld word. In die vyfde rondte!”

“Ek dink ook so, Oupa.”

Ek wou ook graag hê dat Johnny Ralph moes wen. Ek wou veral vir Oupa se onthalwe hê dat hy moes wen.

“Het jy al die draadloos se battery gelaai?” het Oupa gevra.

“Ek sal sommer die trekker s’n gebruik, Oupa. As Pa vanmiddag van die lande terugkom sal die battery goed gelaai wees.”

“Dit beter reg wees. Ek wil die geveg enduit hoor.”

Daardie aand ná aandete, is Oupa stoep toe – om halleluja-liedere op sy mondfluitjie te speel. Met die mondfluitjie tussen sy regterduim en wysvinger vasgeknyp, kon hy ure alleen daar in die donker sit en speel: “Ek sien ’n poort wyd ope staan …”, “Gaan my nie verby, o Heiland …”, “Saggies en teer …” en al sy ander gunstelinge. Voorheen, voordat sy linkerarm geamputeer is, het hy die trekklavier gespeel. Hy was glo die hart en siel van partytjies want hy kon al wat ’n musiekinstrument is, bespeel en boonop mooi sing ook.

Lank voor die geveg begin het, het Oupa van die stoep af ingekom en langs die radio gaan sit. Sy duim en wysvinger het kort-kort senuagtig gevoel of sy kierie nog is waar hy dit oor die armleuning van sy stoel gehaak het.

“Hoe lank nog voor die geveg begin?”

“Nog ’n halfuur, Oupa,” het ek geantwoord.

“Skakel solank die draadloos aan en gaan sê vir jou pa en die ander hulle moet nou kom. Die geveg gaan nou begin.”

Ons het almal so na as moontlik aan die radio gesit, maar ver genoeg van Oupa af om sy swaaiende gebreklike arm en sy opvlieënde humeur te ontwyk, want Oupa was tegelyk toeskouer, bokser en afrigter. In die eerste rondte het hy luidkeels vir Johnny Ralph, die held van Bloemfontein, aangemoedig, terwyl hy sittende met sy bolyf gekoes en geswenk het. Ná die tweede rondte het Mills die oorhand begin kry, en Oupa het al hoe vinniger geskadu-boks en al hoe harder raad aan Johnny Ralph geskree. Maar toe Freddie Mills vir Johnny in die sesde rondte met ’n paar vinnige houe teen die kop planke toe stuur, het Oupa stiller geword. Johnny het nog twee rondtes uitgehou, maar Oupa se reeds lelike gesig het met elke hou wat Johnny daarna moes verduur, verder skeef getrek. Toe die Brit vir Johnny Ralph in die agtste rondte uitslaan en Johnny daarna nog etlike tellings op die vloer bly lê het, het Oupa stil opgestaan, sy wit kierie opgetel en sy pad voel-voel na sy kamer toe geneem.

Die volgende oggend, toe Pa vroeg opgestaan het om te gaan koffie maak, het hy Ouma in haar kamer hoor huil. Toe hy gaan kyk wat makeer, het Ouma op die stoel langs die bed gesit en Oupa se hand vasgehou; die regterhand sonder die middelvinger, pinkie en ringvinger.

“Oupa is in sy slaap dood,” het sy in die halfdonkerte gesê.

Die dokter het later vir ons gesê dit was ’n hartaanval. Sy hart kon blykbaar nie die opwinding en die teleurstelling van die boksgeveg afweer nie.

Daar was min mense by Oupa se begrafnis. As ek kon, sou ek ook nie wou gaan nie, want ek was kwaad: Ek was kwaad dat Johnny Ralph verloor het, ek was kwaad dat Oupa nie kon sien nie, ek was kwaad dat die babers nie wou byt nie, ek was kwaad vir Oupa se simpel halleluja-liedjies, ek was kwaad vir die lewe …

Ná die begrafnis het die mense in groepies in die kerksaal gekuier met tee en toebroodjies in die hand. Pa en Oom Krisjan was diep in gesprek maar toe laasgenoemde my sien, het hy my nadergeroep.

“Ek vertel nou net vir jou pa,” sê Oom Krisjan, “dat jou oupa in sy jong dae, toe hy nog geboks het, nie een keer uitgeslaan was nie. Hy was wel by drie geleenthede planke toe geslaan, maar hy het elke keer weer opgestaan.”

Oom Krisjan moes die verwondering en blydskap in my oë gesien het, want hy het sy hand op my skouer gesit en gesê: “Kleinjan, onthou my tog, wanneer julle weer kom kuier, dat ek vir jou die paar ou bokshandskoene gee wat daar in die stoorkamer is. As ek my nie misgis nie, het dit aan jou oupa behoort.”

The post As dit nie vir Oom Krisjan was nie appeared first on LitNet.

Soms gaan kuier ek nog by hom

$
0
0

Foto: Canva.com

moffie s.nw., moffies; moffietjie.

Al begin die hemele souskluitjies reën, beloof ek myself elke keer ek sal nie weer vir die kind gaan kuier nie. Dit is onnodig en bring niemand niks in die sak nie.

Ag, dan is daar skaars praatjies van motreën, wat nog te sê van souskluitjies, en ek is op pad om die kind te gaan soek. Sondag gaan kuier ek vir die kind, Maandag begin ek groente eet. Dit is maar net hoe dit is. Ander doen dit ook, troos ek myself.

Die een dag gaan staan ek net by die ogiesdraad langs die speelgrond van sy alma mater. Ek wil hom nie steur nie, ek wil net vir ’n rukkie kyk. Ek is bly om te sien hy het ’n maatjie. ’n Vriend is soms nader as ’n broer, sê Spreuke.

“Jy’s ’n moffie, nè,” hoor ek haar vra-sê.

Haar stemtoon verklap dat sy niks wreedaardigs daarmee bedoel nie – dit is bloot ’n waarneming. Haar pa het die woord al gebruik en nou sien sy vir die eerste keer een. Soos die kameelperd uit haar storieboek wat lewensgroot op haar oom se wildsplaas in die pad staan. Haar observasievernuf versprei vinniger deur die Sub A-Eendjieklas as onderhandelings vir sywurms. Ek hoop maar net dat die arme bloedjie dalk nie die woord verstaan nie. Maar woorde is soos die episodes van ’n sepie: jy kan ’n paar mis, maar nog steeds die draad later optel. Iemand het die woord op ’n halsband graveer en om sy nek kom hang. Dit skaaf ’n bietjie.

Van waar sy op ’n ry trappies staan, hoor ek hoe ’n onderwyseres hom heftig berispe omdat hy waaragtig alweer laat is vir die ry ná pouse.

“Jy gaan badkamer toe gedúrende pouse,” skel die opvoedkundige geraamte.  

“Jy wag nie tot die klok lui nie.”

Ek kan sien dit skaaf aan hom, maar dit is seker nie heeltemal haar skuld nie. Hoe moet sy ook nou weet wat gebeur met moffies as daar ander kinders in die badkamer is?

Hy gee vir my genoeg opdraande vir ’n leeftyd. Die kind. Dan kry ek hom versteek agter ’n asblik langs die skoolsaal. Dit steek ook maar net-net die pokkellyfie weg. Ek los hom maar daar – hy sal later self uitvind dat biblioteke, trappe en pawiljoene beter skuiling bied. ’n Mens kort donkerte vir wegkruip.

Dan lieg die kind weer vir die LO-onderwyser en sê hy het sy sportklere by die huis vergeet.

“Hy jok, meneer! Hy is ’n moffie. Hy wil eerder die meisies se kleedkamer gebruik!” skree iemand se nasaat. As die onnie die opmerking gehoor het, wys hy dit nie. Dit skaaf.

“Hoekom praat jy so snaaks?” vra ’n bemoeisieke snip hom eendag.

“Hoe bedoel jy?” vra hy.

“Soos ’n moffie – hoekom praat jy soos ’n moffie?”

Dit skaaf.

“Kyk, hy loop soos Lily van Egoli!”

Almal lag.

Dit skaaf.

Ek sien hom vanaf die busstop huis toe hardloop, Dalene Matthee se woorde loodswaar in sy tas. Sy hare te lank, sy gesig ’n sproeier. Die stempel van ’n matriekseun se vuis brand rooi op sy rug.

Telkemale sê ek vir myself ek sit nie weer my voet naby daai kind nie. Kyk, dit is vir seker nie alles sleg nie. Hy het ’n ongelooflike verbeelding en kan in die loop van ’n enkele middag wissel tussen suksesvolle sakeman en wêreldberoemde skrywer. Die kind is ’n goeie ouboet en, ten spyte van sy tekortkominge, beskik hy oor ’n skatkis van sorgsaamheid. Die goed kom egter nie sonder die kwaad nie, so dit is beter om maar net die hele ou spul te vermy.

Grootmense kan nie lekker hierdie soort ding hanteer nie. Selfs die mensliewendes en goedhartiges sukkel maar soms. Daar was nie moffies in hulle tyd nie. As daar was, het hulle op ander dorpe gebly – meestal groter dorpe met meer plek vir donkerte. Ek het eenkeer die kind se ouers besoek. Goeie mense en ontfermende ouers. Die ma het met haar kop in haar hande gesit en huil. Hulle het hulself, die gebrek aan balvaardigheid en moderne tydskrifte soos skaakstukke op ’n bord van skuld rondgeskuif. Ek het gehoop die kind hoor dit nie, maar ek het geweet hy het. Ek het geweet dit skaaf.

Vir ’n paar jaar kry ek dit reg om die kind heeltemal te ontwyk. As dit by ’n geskaaf kom, is tyd gelukkig gaaf.

Ek het later ’n keer of wat vir hom by sy werksplek gaan kuier. Deur die glasdeure kon ek hom by die raadsaaltafel sien sit. Hy het groot geword, maar lyk nog baardloos so tussen die korporatiewe kannibale.

Die hoof van die tafel se stem ruis deur die glas en vul die koue wagkamer.

“Regarding our new product lines, we are bringing in cellphone accessories, called Mophie.”

Die grootkop kyk in die rigting van die kind.

“No, don’t worry – it’s Moo-fie, not the other thing.” Hy lag vir sy eie skerpsinnigheid.

Die kind maak ’n nota in sy boek. Ek weet wat hy dink. Hy wonder of die baas ook in die Eendjieklas was, of die baas ook weet hoe om te skaaf?

So ’n rukkie gelede gaan kyk ons André Carl van der Merwe se Moffie – nou ’n bekroonde film. “Moffie, moffie, moffie!” skree hulle op die skerm.

Ek lees kort daarna die woord vlugtig raak in Carin Krahtz se ongelooflike jeugverhaal Blou is nie ’n kleur nie. Dit skaaf vinnig. My wederhelf lees oor die woord in Deon Meyer se 13 Uur. Hy sê ook dit het vinnig geskaaf.

Ek besluit dit is tyd. Ek sal vir die heel laaste keer by die kind ’n draai gaan maak. Ek kry hom in sy kamer waar hy kaalbors na die spieël staar. Hy lyk goed, dink ek. Nog net ’n paar jaar, dan is hy ook nie meer ’n tiener nie. Sy ma-hulle sê hy presteer goed. Hulle is trots.

Ek kan sien dit is nou hysélf wat so by die spieël staan en skaaf. Ek wil nog iets bemoedigends sê, maar sy vuiste tref die glas en dit splinter die kamer vol. Ek help die stukke optel en wegsteek in ’n leë proteïenaanvullinghouer. Hy sal ’n ander dag, op pad universiteit toe, die houer weggooi.

Ons altwee kyk om as die kind uit nêrens op die punt van die bed kom sit. Sy voetjies bloei. Hy het seker ook in die glas getrap. Op sy hemp is ’n plakkertjie van ’n geel eendjie. Terwyl dit opdam in sy oë, vra hy saggies, “Wat bly van my oor?”

The post Soms gaan kuier ek nog by hom appeared first on LitNet.

Sewentig maal sewe

$
0
0

Dit is Kasper se laaste kans hierdie. Tyna spuit die hok vandag met buitengewone drif skoon. Nog een keer sal sy ekstra hard probeer om die verhouding te herstel. Net dié keer.

“Ma gaan ’n bietjie oorboord,” sê James toe hy die soveelste keer verby haar swembad toe stap.

“Ek weet, ek wil dit graag ekstra skoon hê. Die voëlfluisteraar kom dié week.”

“Dit klink creepy, Ma. Sê eerder ‘bird whisperer’.” James lyk geïnteresseerd. “Ma weet Kasper gaan vir daai ou álles vertel.” Hy maak kamma-aanhalingstekens met sy vingers.

“Miskien moet die waarheid maar sy loop neem, James.”

“Hy gaan vir seker vertel hoe Ma hom helder oordag met die kombers toegooi as hy skree, tot Ma se bui bedaar. En hoe Ma hom vir daardie kort tennis-outjie wou gee.”

“Wat my betref kan hy vir hom vertel wanneer laas ek in die kerk ook was,” sê Tyna.

James kyk lank na haar voor hy met sy nat voete stap tot in die sonkamer, waar Kasper op die stoel se leuning wag vir sy hok. Hy tel die papegaai op tot teen sy bors, bak sy regterhand oor die voël se rug en streel die vere tot sy ogies toetrek. Voor hy hom terugsit, fluister hy in Kasper se oor: “Good luck daarmee, Ma.”

 

Tyna moet haar bedwing om nie dadelik oop te maak toe Ferdie de Waal die klokkie lui nie. Sy staan eers net ’n ruk stil, dan maak sy oop. Hy is ’n donker rank van ’n man. Sy oë sit diep en naby mekaar. Sy verstaan nou hoekom die voëlboere hom Valk noem.

“Daar’s niks wat daai ou nie in ’n voël se oë kan sien nie,” was iemand se kommentaar. Ander het sy stem en “aura” aangeprys. Hoe dit ook al sy, hierdie man mag vir Kasper weer laat onthou hoe verknog hy eenmaal aan haar was.

“Net ’n glas water, asseblief,” keer Ferdie voor Tyna die bakkie neute kan neersit. Hy haal ’n lêer uit sy leertas en gaan sit op die stoel naaste aan die tafel. Hy wag dat Tyna tot rus kom, dan leun hy vooroor. “Ek wil jou gerusstel. Onkunde ten opsigte van voëls as troeteldiere is universeel. Ek gaan jou nie verveel met statistiek nie.”

Tyna weet waarop die gesprek afstuur.

“Niemand hou daarvan om oor die dinge te praat nie,” gaan hy voort, “maar om ’n papegaai te hê, verg verantwoordelikheid. Net vir interessantheid: Was jy bewus van die lewensduur van ’n ringnek toe jy hom destyds gekoop het?”

Haar skouers voel skielik nog swaarder. “Nee. Ek was ook nie bewus daarvan dat tieners in monsters verander ná vyftien nie. Nog minder dat my man op veertig ander weivelde sou kies nie. Ek was maar redelik naïef oor ’n paar dinge.” Haar gesig gloei oor haar voorbarigheid.

“Ek verstaan. Alles is nie altyd konkreet en voorspelbaar nie, jy’s reg.”

“Ekskuus. Dit was totaal onnodig,” sê Tyna vinnig.

“In die haak. Kom ons begin by die probleme waarvoor ons oplossings het.” Ferdie blaai tot by haar navraag in die lêer op sy skoot.

Hy hou die brief ver voor hom en lees die sinne in rooi onderstreep: “Kasper is handgrootgemaak. Ek is sy primêre versorger. Hy kon vrylik beweeg in die huis en is saans toegemaak. Hy het verdwyn voor hy twee jaar oud was. Ek vermoed hy het afgedwaal agter die stemme van die kinders aan by die trampolien.

“Sy lang stertveer in die tuin, die silhoeët van die bure se kat op die muur, het my twee en twee bymekaar laat sit. Hy kon nie vlieg nie. Sy een vlerk was geknip. Na maande van kennisgewings en navrae het ek moed verloor dat Kasper nog leef. ’n Jaar en ’n half later het ’n oproep van die plaaslike haarkapper my geskok én verras …”

Ferdie sit die brief neer en kyk na Tyna. “Nou is dit eers my en Kasper se beurt.”

Sy stap vooruit tot in die sitkamer waar die papegaai tjoepstil op sy hok sit.

Hy sit daar asof botter nie in sy bek kan smelt nie, dink Tyna en trek die deur agter haar toe.

Vandag verg dit inspanning om haar gewone dagtake af te handel. Sy bly wonder hoe hy dit regkry om te hoor wat vir Kasper pla. As sy net kan skelm kyk wat hy doen. Tyna knip die gedagte kort. Haar wange vlam weer oor vanoggend se verleentheid.

 

Die ure rek. James kom al amper van die skool af. Sy kan haar voorstel hoe vermakerig hy sy insette sal deel. Die besluit om Ferdie se hulp in te roep voel nou vir haar na ’n fout.

Tyna maak ’n koppie rooibostee met heuning.

Sy wip toe sy Ferdie se stem agter haar hoor. Hy gaan oorkant haar sit en haal sy potlood uit. “Vertel my van daardie oproep.”

Sy vou haar hande en begin vertel: “In die Karoodorpe ken almal mekaar. Die haarkapper is soos die nuusashoop. Daar is min wat mense nié uitblaker in die ure wat hulle daar sit nie. Die kliënt het haar vertel van die papegaai wat ’n jaar en half terug by hulle aangeloop gekom het. Sy was skynbaar onbewus van die soektog na hom. Hy was swak en honger en verwaarloos. Later het hy die naam Kasper, in verskillende intonasies, herhaaldelik bly sê.

“Riekie was oortuig dis ons papegaai. Sy het twee ure se gesprek met die kliënt in vyf minute oor die foon afgerammel. Dit was die bure in die verste hoek. Ons erwe oorvleuel net met een hoekpaal. Daar was ’n hok met nog voëls buite, maar Kasper was blykbaar binne gehou omdat hy kon praat. En hy was nooit uitgehaal nie, want hy het die vrou gebyt toe sy hom wou optel. Bid jou aan …

“Ek het die foon neergesit, my kinders geroep en aanhou hardloop tot voor hulle huis.”

“Jy besef dat Kasper julle elke dag kon hoor?” sê Ferdie. Tyna frons. “Hy kon nie meeding met die papegaaie se geraas buite nie, daarom het hy die woorde herhaal wat jy hom geleer het. Om te wys dat hy deel is van julle trop. Maak dit vir jou sin?”

“Absoluut.”

“Gaan voort,” sê Ferdie en leun weer terug.

“Die vrou het oopgemaak voor ek kon klop. Sy het gehoor hoe die kinders Kasper se naam uitroep. Haar dogter het hom voordeur toe gebring.” Tyna sluk. “Kasper in die kleine hokkie met geen stok of ruimte om eers om te draai nie. Ek het my vuis deur die hekkie gedruk. Hy het soos ’n klein voëltjie in die holte van my hand kom lê. Vir lank het hy so gebly, sonder om een sekond op te hou met praat.

“Daarna was hy stil. Vir maande. Hy het soos ’n vlermuis aan die bokant van sy hok gehang. Drie maande later kon hy weer op ’n stokkie sit. Nog later het hy begin praat. Hy wou niks van my weet nie. Net die kinders en huishulp kon naby hom kom. Toe kom die egskeiding. Groter verlies … vir hom, vir ons almal.” Tyna stoei teen die emosie.

“Deernis, die een ding wat ons as spesie bly ontwyk,” sê Ferdie asof dit eerder ’n gedagte moes wees.

Tyna kyk op.

“Ek is jammer oor die trauma wat julle as gesin moet hanteer. Julle almal, Kasper ook. Dit sal tyd neem, maar moenie moed opgee nie,” sê hy. “Kasper wil jou vergewe, maar hy wag dat jy hom daarvoor vra.”

“Jy bedoel ek moet jammer sê omdat ek ophou soek het na hom?”

“Ja. En dat hy in sulke omstandighede moes bly. Hy voel verraai, want hy kon julle hoor.”

“Ek dink ek verstaan,” sê sy.

“Mense onderskat diere se oordeel dikwels. Jy was sy naelstring. Vir hom begin en eindig alles weer by jou. Begryp jy?”

“Wanneer vra ek om verskoning?”

“Jy sal weet,” sê Ferdie.

 

Tyna trek die gordyne in die eetkamer wyd oop. Die winter byt al minder soggens. ’n Vreemde beweging trek haar aandag in Kasper se hok. Vir ’n oomblik dink sy hy is nie daar nie. Sy kyk weer.

Dan sien sy dit. Kasper hang soos ’n vlermuis wiegend bo in sy hok. Koue sweet loop by haar armholtes af. Dis nou; dís die tyd waarvan Ferdie gepraat het. Die oomblik waarin sy sal wéét …

Tyna stap stadig nader totdat sy Kasper se ronde onderstebo ogies kan sien. Sy buk.

 

James leun teen die kosyn. Tyna laat sak haar boek en kyk op.

“Kasper is nou anders, Ma,” sê hy en kom sit langs haar op die bed.

“Hy is ja, uiteindelik.”

“Well done daarmee, Ma …” Hy sit sy arm onbeholpe om haar skouer. “Jammer dat ek vir Ma onnodig gas gee, partykeer.”

“Dis oukei, James.” Sy rus haar kop teen sy skouer. Nou eers voel sy hoe lig sewentig maal sewe keer is.

 

Lees ’n kort onderhoud met Marianne Vorster-Meyer oor “Sewentig maal sewe” hier:

Korona-kortverhaalfees: Marianne Vorster-Meyer oor "Sewentig maal sewe"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Sewentig maal sewe appeared first on LitNet.


Op vlug

$
0
0

Foto: Canva.com

Parkstasie, Johannesburg, wemel van die malende menigte wat wag om aan boord die ronkende busse te gaan, maar, anders as die ronddraaiendes, stap sy in ’n reguit lyn tussen hulle deur. Haar lyf is gespanne en die kennetjie is vorentoe gestoot. Sy systap die dralende skare met die geringste voetwerk. Dit lyk inderdaad asof sy haastig op pad iewers heen is. Sy is maer, die blonde hare net so effens krullend in die waai van die nek. Dis somer en sy dra ’n seegroen t-hemp, sakkerige wit langbroek en sandale. Sy het by die westelike ingang ingekom en haas haar nou deur die enorme vertreksaal, oënskynlik na die teenoorgestelde uitgang toe.

Twee oë hou haar egter stip dop, terwyl sy voortstu. Die toeskouer is ’n oukêrel wat in die afgekettingde spasie voor die Griek se delicatessen aan die oostekant by een van die beskikbare tafeltjies en stoele sit.

Hy drink slurperig koffie, terwyl hy haar dophou. Hy kyk fyn. Merk hoe die kop met die geringste beweging gedraai word en die amandelvormige oë waarneem. Oomblikke later ontmoet hulle oë. Sy kyk ’n oomblik stip na hom, kyk weg en stap teen dieselfde haastige tempo voort.

Digby hom stap sy verby. Hy sien die versletenheid van haar klere en die stof op die wit langbroek. Sy stap verder en verder. Sy is amper by die oostelike uitgang, toe sy meteens vassteek en vraend rondkyk.

Hy lig sy wenkbroue en wag. Sy gee ’n tree in die rondte en kyk peinsend terug oor die vertreksaal. Hy wag en kyk. Sy neem die houding van iemand wat dringend op soek is na iemand in.

Byna traag begin sy terug die vertreksaal in te stap. Die koers wat sy inslaan is effens sywaarts, sodat sy byna onopsigtelik oordryf na waar hy by die tafeltjie sit. Hy slurp koffie en wag. Nader en nader kom sy. Hy leun terug in sy stoel en kyk doelbewus verby haar. Uiteindelik is sy voor die delicatessen. Nou kyk sy vervaard rond. Hy slaan sy oë op en kyk reguit na haar. Sy kyk nie weg nie, maar frons en dan stap sy doelgerig op hom af.

Toe sy voor hom staan, kan hy haar verwaarlosing na waarde skat.

“Ag, meneer, … oom! Ek moet iemand hier ontmoet wat my sou help, maar ek sien hom nêrens nie. Dis so dringend!” sê sy en vryf met haar hande oor haar ontblote bo-arms.

Hy roggel en kyk na haar. “Kindjie, hoe kan ek help? Ek is hulpeloos verlore in hierdie metropool. Sien jy die iemand wat jou moet help nêrens nie?”

“Nee, oom! Ag oom, groot asseblief: sal oom my nie dalk kan help nie?” vra sy en frons swaar. “Ek weet nie wanneer ek hom, my verloofde, weer sal sien nie.”

Hy verstaan, wyfel ’n oomblik en dan steek hy een hand in sy broeksak en trek ’n paar note uit. Daar is ’n tienrand, ’n vyftigrand en ’n tweehonderdrand. Hy sprei die note uit soos pokerkaarte.

Sy vryf nou angstig oor haar bo-arms, haar oë vasgenael op die geld.

“Maar sê my eers hoeveel het jy nodig?” vra hy.

“Ag, oom, dis eintlik nie so baie nie …”

Hy neem terstond die tweehonderdrand en hou dit na haar uit.

Sy klamp haar hande verbluf om haar bo-arms en kyk na hom. Maar sy herstel gou. Met bestudeerde traagheid neem sy die geld en klou die noot styf in haar hande vas.

“Baie dankie!” sê sy oorstelp en toe vlug sy! Haastig, haastig stap-draf sy omkyk-omkyk na die oostelike uitgang toe.

Hy kyk haar agterna en glimlag wrang. Tien minute gelede het haar bedelmaat, wat ook ’n verloofde vermis het, tienrand uit hom uit en is hy vort deur die westelike uitgang. (Waar hy haar klaarblyklik ontmoet het.) Nou het sy kom kyk of daar nog is en toe is daar sowaar! Maar sy haas haar nie met die noot na haar maat toe nie: sy vlug met die buit! Dis die korrupterende wreedheid van geld, dink hy, stoot sy stoel skraperig met sy bene agteruit, staan op en maak gereed om die metropool per bus te verlaat.

The post Op vlug appeared first on LitNet.

Greep

$
0
0

Sy hande is soos ’n knyptang. Dis die eerste ding wat my omtrent Tom Reynders getref het. Voorarms waarom ek nie my twee hande sou kon pas nie, boarms so groot soos hamme, die skouers van ’n oergedierte. Groot glimlag.

“Wat drink jy?”

Hy is my vriend Gysie se vriend, en ons het mekaar een Vrydagaand toevallig in ’n sportkroeg raakgeloop. Ek het al van hom gehoor – voormalige gewigopteller, verkoop versekering in die noordelike voorstede. Hy koop vir ons drankies, vra oor die naweek se rugby. Tom is die soort ou op wie jy jaloers sou gewees het as hy nie so ’n gawe kêrel was nie. Hy het sy een oog op die TV in die hoek, waar hulle ’n ou rugbywedstryd wys, terwyl hy aan versnaperinge knibbel en hier en daar ’n opmerking maak, niks buitengewoons nie.

“Kyk daai twee Du Preezs,” sê Gysie, “Dan en Jean-Luc. Tawwe kalante, dons oral in … Jirre, ek hoop nie hulle voel mekaar se pyn nog ook nie. Ek het gehoor met tweelinge kan dit so wees, hierdie spesiale verbintenis, dat die een voel wat met die ander gebeur.”

“Ek weet darem nie daarvan nie.” Tom gooi ’n peanut op en vang dit in sy mond. Daardie boarm bult. “Ek bedoel, ek het tweelingbroers gehad. Die een is dood en die ander een is net so doodnormaal soos ek of jy. Hulle was maar nog klein, ek weet nie presies hoe oud nie … nog in doeke, maar hulle het al gepraat. Nadat Jako dood is, het Johan vir ’n paar maande nie meer gepraat nie, maar dit was dit. Hy’s nou heeltemal reg.”

Ek is nuuskierig, en braaf van die bier. Kinders gaan van verskillende goed dood. Hulle kry ’n virus, die een of ander aangebore kwaal knou hulle, of hulle stik aan ’n vitamienpil. Ek het al allerhande stories gehoor. Dis goed om hierdie dinge te weet, sodat jy weet waarvoor om op jou pasoppens te wees met jou eie kinders. “As ek mag vra, hoe is jou boetie dood?”

“Ons was op pad terug van Gansbaai af, ons drie kinders agter in die Land Rover. Ons het in daai dae nie oor safety belts geworry nie. Ek was twaalf en was veronderstel om na die kleintjies te kyk. Maar ons was heeldag by die see en ek was moeg, ek het seker nie genoeg aandag gegee nie. Die volgende oomblik moes Jako met die handvatsel gespeel het, en die agterste deur begin oopswaai. Jy weet mos, daai ou Land Rovers het die spaarwiel op die deur gehad, en dit was nogal swaar. Jako laat los nie die handvatsel nie, en die deur trek hom uit die kar uit. Ek het hom aan die arm beetgekry en vir my pa geskree om te stop. Ek het vasgeskop en aan daai arm geklou vir al wat ek werd is. Hy het buitekant gehang, agter die kar. Ek weet nie hoe vinnig ons gery het nie, maar dit het vir fokken ewig gevat om af te slek. My ma gil, my pa skree, Johan beginne huil en ek hyg. Net Jako is doodstil. Ek het geklou so lank ek kon, maar toe … Ek was net nie sterk genoeg nie. Hy het uit my greep geglip. Ons het toe al seker stadig gery, want hy het net daar in die pad bly sit waar hy geval het, hy’t na my gesit en kyk. Maar toe kom die kar agter ons en …” Tom klap sy vingers. “Hy’t nie ’n kans gestaan nie.”

Tom vat sy laaste sluk bier. Skuim loop teen die blik af.

Gysie skud sy kop. “Hoe hanteer jy so iets?”

“Aag, jy kom daaroor.” Tom vou die leë bierblik in sy een hand toe. Die spiere op sy voorarms bult, hy druk die blik inmekaar totdat dit soos ʼn stuk tou in sy hand is. “Jis, wie betaal hierdie ronde?”

 

Lees ’n kort onderhoud met Zirk van den Berg oor “Greep” hier:

Korona-kortverhaalfees: Zirk van den Berg oor “Greep”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Greep appeared first on LitNet.

Drie in ’n ry

$
0
0

Foto: Canva.com

“Is daar nog hoop vir my?” (Ps 39:8)

Die eerste was Martin. 
Toe ek daardie Sondagaand nege-uur in die steel van die pypsteelerf oploop na die huis teen die berg, was ek gevul met angstige verwagting. Ek het sopas ’n oproep by my huis gekry dat daar huismoles by die Pieterses was en ek moet kom. Naby die huis was daar polisiekarre en blou ligte. Meer as net huismoles.
By die trappe het ’n konstabel my ingelig: “Die outjie het homself met ’n haelgeweer geblaas. Oom moet nie gaan kyk nie, dis net breins oraloor.” 
Die ouers was in trane, die pa half aggressief. Die hoofpolisieman moes hom aanspreek.
Die ma het vertel dat hulle nog die aand in die kerk was. By die diens het ek bekendgemaak dat tannie Violet van Rensburg die middag oorlede is, twee weke nadat sy miergif gedrink het. Martin was glo erg ontstel daardeur. Twee van sy eie maats het onlangs ook selfdood gepleeg. “Wat help dit tog?” het hy gesê. 
Ek het niks gedoen of gepraat nie. Nog so ’n uur daar gesit. Maar ek het geweet ek sou die begrafnis drie dae later moes hou. “Is daar nog hoop vir my?” was die teks.

Die tweede was Francois. 
Francois en sy gesin het net agter die pastorie gebly, ook op ’n pypsteelerf. 
Hy was eksentriek, vol vreemde idees en baie krities. Hy het nie in die opstanding geglo nie en was hewig gekant teen die regering van die dag. Hy het male sonder tal ná kerk met my kom redeneer oor my preke. 
Hy het as tegnikus by die mediese fakulteit gewerk. 
Op ’n Vrydagoggend so elfuur het my klokkie gelui. Voor die deur was ’n polisieman en die hoof van Francois se departement. Francois het homself so negeuur in sy werk se badkamer geskiet. 
Ek moes die nuus aan sy vrou oordra. Daar loop ek en die departmentshoof en die polisieman in die pypsteel op na die huis. 
Die vrou het die deur oopgemaak en toe sy ons sien het sy sommer flou geword. 
Ek moes hom begrawe en die teks was: “Is daar nog hoop vir my?”

Die derde was Stefan. 
Stefan, sy vrou en twee seuns was die perfekte gesin in die gemeente. Orals aktief, Stefan, ’n leierdiaken. 
Maar toe begin sy vrou, Alet, se luste dwaal, nes haar ma twintig jaar tevore. Sy het sommer weggeraak, dae aaneen. Pogings om haar te keer, het alles vererger. 
Sy is toe na ’n psigiatriese hospitaal toe. Daar het sy glo die liefde van haar lewe ontmoet ... 
Niemand het dit eintlik geweet nie, maar Stefan het dit baie sleg gevat. 
Die oggend agtuur is ek deur die polisie na Stefan se huis ontbied. 
Van ver af kon ek die pyp uit die uitlaatpyp sien en dat die linkeragterdeur oop was. Stefan se liggaam het nog in die kar gelê, vergas. 
Ek moes die kinders by die skool gaan sê. Toe ek hulle die nuus meedeel, het die jongste ineengestort. 
By die begrafnis het Stefan se muurbalmaat, Willie, ’n muurbalballetjie in die graf gegooi terwyl hy sy maat verwyt. 
Alet en haar nuwe vriend was ook daar, by die graf. 
Min sou enige een toe weet dat Alet ses maande later ook sou selfdood pleeg. 
Ek het die drietal voltooi met die teks: “Is daar nog hoop vir my?”

Gelukkig moes ek nooit weer ’n selfdoodslagoffer begrawe nie.

Lees ook 

Herinneringe van Hermanus

The post Drie in ’n ry appeared first on LitNet.

Magda

$
0
0

Ek was moeg. Nog nie oud nie, maar wel der dagen sat. Na weke van werkspanning, toe Nel dit voorstel, het ek tot die verlof ingestem en die volgende dag vertrek en alles agterweë gelaat: take, rekeninge, verkeer, afgesweerde vriendinne, die vriende wat ’n mens toevallig versamel.

Die hotel was by die see. Staan ek by my venster, kyk ek oor die straat na waar mense teen skemer iets drink. Die grasperk loop tot teen die rotse, en van daar af na die water is dit so tien meter en ’n mens kan met ’n houttrap afgaan soontoe.

Dis waar ek die vrou ontmoet, onder die houttrap langs ’n krans waarteen vars water afstort tot in die koue seeskuim. Sy lyk ongewoon, in ’n jas en met ’n verrekte mus op haar kop, seker iets wat tydens ’n reis gekoop is, of by ’n tweedehandse winkel. Haar gesig lyk sag, haar mond asof dit gepruil het toe sy jonk was. Toe ek haar oog vang, kyk ek weg, oor die blou, stuwende water, maar sy staar en ek draai terug en knik.

“Dis ’n troostelose omgewing,” sê sy. Haar stem is duidelik.

Ek kyk rond. Troosteloos? Dis wel koel, maar die kusgroeisel is heldergroen en die water blou en die skuim wit en die rotse bruin. En terwyl ek daar staan, sien ek ’n dassie agter ’n rots inglip soos ’n kussing wat van ’n bed af val.

“Nee,” wil ek stry, maar sy het aangeloop na die trap, waarteen sy stadig uitklim.

Aandete sit sy alleen, diep in die eetkamer. En dit terwyl die ander etendes wedywer om ’n tafel by die venster. Ek neem teen ’n muur plaas en bestel lamsvleis. Die vrou eet met haar mus steeds op haar kop, en sonder om op te kyk en bestek van die ruim vertrek te neem.

In die nag lê ek wakker en luister na die see. Miskien is dit al die dinge in die stad wat my nog pla: die werk, die eiendom, die paaie waar ek nie meer wil loop en ry nie. Of moet ek in my jeug gaan krap vir redes? Miskien is dit die vleis wat ek vanaand geëet het. Ek staan op en loop met die sagverligte gang langs, kaalvoet op die diep mat, tussen die afdrukke van ou tonele deur: Europese soldate uit die agtiende eeu, ’n vrou hande omhoog op ’n bruggie, kinders by feetjies in ’n sprokiestuin.

Die houttrap kraak onder my. By die voordeur lyk die nagportier verras om my te sien. Ek stap dieper die gebou in, verby ’n dameskroeg waarvan die deur gesluit is, tot in ’n sitkamer.

Hier sit ek lank in ’n gemakstoel. Daar is nie veel om aan te dink nie. Dis warm genoeg in die vertrek om my vaak te maak. Miskien wag ek, ek weet nie. Miskien wil ek net slaap.

Dan kom sy die vertrek binne, die ouerige vrou, hierdie keer met ’n ander bedekking op haar kop en geklee in ’n japon met ’n Oosterse draakmotief.

“Kan jy nie slaap nie?” vra sy. Sy het ’n notaboek en pen by haar.

Ek weet nie wat om te sê nie en sit daar, die jonger, oorbodige man in die geselskap van die bejaarde vrou wie se mond beweeg terwyl sy skryf. Eers pla dit my dat sy my so oor die hoof sien, maar wat wil ek tog ook vir haar sê? Ek mik om op te staan en die vrou aan haar skryfwerk oor te laat, toe sy praat.

“Ek vind dat ’n mens op reis ervarings beleef wat iets kan beteken.”

Ek sê niks. Die woorde klink so vanselfsprekend. Haar stem val my weer op, soos vroeër onder by die water. Sy praat besonder duidelik.

“En jy doen die kennis van ander op.” Sy sit op die punt van haar stoel, die boek in haar skoot. “Ek is Magda.”

“Dewald.” Ek staan op en gaan skud haar hand, wat sag en warm tussen my vingers voel. Die mou van die japon val terug om haar pols en ek sien ’n rits armbande met kruisies, sterretjies, halfmane, vreemde simbole. Nou het ek rede om na haar gesig te kyk. Sy dra geen grimering nie. Om haar oë en oor haar gesig is die vel geplooi. Sy kom tegelyk waaksaam en verwond voor. Haar boesem en heupe verleen iets vorstelik en byna onvanpas sensueel aan haar. Dis die soort gedagte wat ’n mens oor jou tannie kry en dadelik doodtrap.

“En?” vra sy. “As jy so kyk?”

“Wat skryf jy, Magda?”

Sy laat sak haar gesig na die boek soos een wat ’n gewyde iets gaan doen: sing, bid, evangeliseer.

“Ek skryf oor my seun.”

Ek het weer gaan sit en is ingerig vir ’n nag se gesels. Dis stil, buiten die see wat soos bloed in die are van die wêreldliggaam ruis. Daar is stof in die lug – die meubels en mat moet oud wees.

“Waar is hy? Ook hier?”

“Hy is elders. Besig.”

“En nou skryf jy oor hom?”

“Dis ’n eenvroustuk waaraan ek werk. Vir die Winterfees.”

“O, jy is ’n aktrise? Moet ek jou ken?”

Nou pruil haar mond werklik en sy kyk kamtig kwaai rond en deklameer dan in ’n nasale stemtoon: “‘Roelf Janse, wat julle jongmense van vandag aan ons oumense doen, is nobody’s business.’”

Ek lag verras. “Natuurlik. Roelf Janse, die restauranteienaar. Jy is Magda Somersby of Elkie. Van daardie televisiereeks oor die eetplek.”

Dit lyk asof sy bly is om geken te wees.

“So dis ’n huldeblyk wat jy daar skryf?” vra ek.

“Ek kan vir jou ’n stukkie lees.” Dis asof sy my verlei.

Ek wens ek kan woord vir woord weergee wat sy oordra. Nou moet ek met ’n geheelindruk volstaan, en net sê dat sy regopskuif in haar stoel, die notaboek ’n ent van haar gesig hou – en begin voordra. Dis ’n gedig wat sekerlik op sigself, op papier, treffend sou wees. Maar in haar voordrag kom iets by wat my laat verstaan waarom mense teater toe gaan.

Magda Somersby vertel my in haar helder stem van ’n seun wat gekom het soos ’n belofte wat deur die Voorsienigheid verhoor is. Van die vreugde wat die kind gebied het, sy pligsgetrouheid, sy bedagsaamheid, sy liefde. Dit alles word vertel teen die agtergrond van ’n plaas, Oggendrivier, waar die familie vir ’n ruk gedy het voor dit oorval is deur die tydelikheid en die onvermydelikheid, en als verkoop is sodat daar vandag slegs herinneringe oorbly en ’n sekere waardigheid wat, sê Magda, aan suiwer nostalgie te wyte is.

Sy het gesê: “Ek het ’n man liefgehad saam met wie ek ’n seun voortgebring het.”

Dit was ’n verklaring van prestasie en wonder. Ek kon niks sê nie, maar ’n groot skaamte het oor my gekom oor ’n eie bejaarde ouer wat ek lanklaas gesien het. Ek het egter niks laat blyk nie. Reeds was dit asof die vrou soos my gewete optree.

Hoe lank ons in die sitkamer was, weet ek nie. Die vrou het klaar gepraat en ek het gesê dat dit ’n treffende vertoning was. Ek kon nie sien of sy daarmee ingenome was nie. Miskien was daar reeds soveel akkolades in haar verlede dat myne net nog een van vele was en vergeetbaar.

Ons het bly sit. Ek was vaak en wou gaan lê. Ek het nie. Die vrou, verdiep in wat sy skryf, het nie weer na my gekyk nie, hoewel ek haar dopgehou het, bedag op inspirasie, of net nog geselskap, iets om my te laat ontkom aan die towerspel van melankolie waarin ek my bevind het. Daar in daardie stoel het ek geslaap tot ek verkwik en versterk was.

Die vrou was nie. In elk geval nie op die oog af nie, nie daar waar sy ineengedruk was onder die las van haar eie lyf oor haar skryfwerk nie. Sy was dood.

Ek het die personeel laat weet. Mense het opgedaag. Verleë, oorbodig en selfbewus het ek probeer verduidelik wat ek in haar geselskap gemaak het, maar niemand het geluister nie. Dit het eenvoudig nie saak gemaak nie. Die vrou is weggeneem.

Daar was nie sin daarin om langer in die kusdorp te bly nie. Ek is weg, miskien op lafhartige wyse, voor iemand my oor enige moontlike naasbestaandes kon uitvra. Dieselfde dag het ek teruggery.

Haar seun het ’n toekenning by die Winterfees namens haar in ontvangs geneem. Ek het vir niemand gesê dat ek haar ontmoet het nie, selfs nie toe ek een aand by ’n geleentheid die seun by my sien verbyloop nie. In ’n vlaag weet-nie-wat-nie, miskien ook eenvoudig net selfsug en besitlikheid, het ek besluit om wat ek van haar het, vir myself te hou.

Wat doen ’n mens ook anders met jou herinneringe?

 

Lees ’n kort onderhoud met Jaco Fouché oor “Magda” hier:

Korona-kortverhaalfees: Jaco Fouché oor “Magda”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Magda appeared first on LitNet.

Afwagtend

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Dag vyf-en-twintig van die inperking word aangekondig op die radio se sesuur-nuus. Nog ’n dag nader aan die einde van hierdie waansinnige afsondering. ’n Voelgoed vrouetydskrif het Landi geleer om eerder só te redeneer.

Nie dat die afsondering waansinnig is nie, maar om op ’n positiewe wyse die dae af te tel. Nog ’n dag nader aan die einde. Die einde van die inperking, die einde van die virus, die einde van háár siek wees. Dit is ’n dag nader aan die verlossing van wat ook al die aard van elkeen se inperking is, ’n dag nader aan vryheid. Landi wonder of sy na dese ooit weer werklik vry sal wees.

Die seweuur-nuus op TV herinner haar dat dit Dinsdag is. Hier, in haar skuiling van stilte en afwagting, is die dae se name en ure verstrengel saam met die stof in die spinnerakke agter die yskas. Tyd lê dood saam met gister se vlieë op die vensterbank. Landi sal afstof en die yskas wegskuif as sy weer krag in haar lyf het.

Vandag is sy net te lam. Met ’n halwe oor luister sy na die weervoorspelling. Sy kry toestemming om van slaapbroek na sweetpakbroek te verander. Warm kos en baie tee sal vandag se spyskaart vul. Die radio en TV sal teenmekaar kompeteer vir klank, want die buitegeluide moet uitgesny word.

Die Noordwes gaan weer amok maak en Landi is te broos vir sy weeklaag teen die ruite. Sy is broos, punt. Sedert sy begin siek voel het, bly die trane vlak. Hoe dit ook al sy, Landi kom agter haar mense baklei die laaste paar dae net so hard teen die negatiwiteit. Die seisoensverandering het ook ’n vinger in die pastei. Die weer is so deurmekaar soos die tye self. Herfs sit nie vanjaar goed in die mens se vel nie. Die naderende winter torring die reeds voos gemoedere los.

Agtuur gaan die alarm op Landi se selfoon af. Dis tyd vir haar medikasie. Haar “smarties” vol vitamiene en boosters. Daarsonder sal haar toestand ondraaglik wees. ’n Vinnige toast-broodjie word ingewerk sodat die “smarties” nie in ’n leë maag gaan lê nie. Terwyl Landi in die kombuis is, beplan sy middagete. Sy haal groente en vleis uit die vrieskas en prys die Here vir die vryheid van keuses in tye soos dié. Vir so baie ander is die keuse reeds gemaak met leë koskaste.

Tienuur begin ’n heruitsending van haar gunsteling-sepie. Sy kou aan ’n appel terwyl sy haar koors en bloeddruk meet. Die uitslae word opgeteken in ’n joernaal – haar dokter se voorstel. Haar vordering is goed ten spyte daarvan dat die siek haar hele lyf vol sit.

Ná die sepie sy halfuur-tydslot voltooi het, skraap Landi moed bymekaar en trek ’n gordyn of twee oop. Dit bly moeilik, maar haar oë is nou al goed ingeoefen om die verbode, onbereikbare aan die buitekant te vermy en eerder te fokus op die nuwe dag se sonskyn en vars lug wat sy haar huis binnelaat. Nóg ’n vrye keuse. Sy kan kies om die lig binne te laat. Skuins voor elf pak ’n niesbui haar beet. Die boks tissues speel wegkruipertjie en Landi moet gryp na ’n toiletrol.

Sy was nie een van die vraatkopers nie, maar daarvan het sy meer as genoeg. Dít en Vicks. Daar is min dinge soos ’n smeersel Vicks wat ’n toe neus en benoude bors weer oopkry. Iewers tussen twaalf en een baklei die siek in Landi se lyf met haar. Die toast en appel soek uitkomplek.

Met ’n rou keel en gekneusde knieë, sleepvoet sy kamer toe. Vergeet van middagete, sy kort rus. Die hordes kussings op haar bed word sorgvuldig om haar gedruk en gepak. ’n Vertroostende kokon vir ’n liggaam wat pyn. Die slaap kom haal haar spoedig en vir ’n uur of twee ontsnap sy na vryheid. Vryheid van inperking, die virus, vrees en vryheid van haar eie lyf. Maar die tronk se deur klap weer agter haar toe, toe haar selfoon lui.

’n Familielid wat uit liefde en besorgdheid in check. Ja, dit gaan nog goed. Ja, sy eet gesond. Nee, sy het nog nie weer die bure se kat gesien nie. Dankie, sy sal sê as sy iets nodig het. Landi sug effe geïrriteerd en wens vir ’n stemopnemer sodat sy net die knoppie kan druk om almal se roetine-vrae te beantwoord, maar dan herinner sy haarself weer daaraan dat hulle net goed bedoel. Opnuut dankbaar vir dié wat omgee, beantwoord Landi dan sommer ook die paar ongelese boodskappe in haar inbox.

Die minute van die namiddag sweef verby en smelt weg in die skemer se naderende donkerte. Landi maak two-minute-noodles. Die vleis en groente sal moet wag tot môre wanneer sy weer krag het om voor die stoof te staan. ’n Skuldgevoel kou aan haar oor die gebrek aan ’n maaltyd wat voedsaam genoeg is en oor die leuen van vroeër dat sy gesond eet. Landi sus haar gewete met nog ’n appel.

Die aand loer deur die oop gordyne en kom lê in haar huis saam met die seweuur-nuus op TV. Landi trek die gordyne toe en kyk verby die vlieë op die vensterbank. Die dodetal het gestyg. Die Noordwes het gaan lê, selfs die wind het sy deel vir die dag gedoen. Sy het ook by alles uitgekom wat sy vir haarself neergeskryf het vir die dag, dink Landi tevrede as sy haar dagboek toemaak. Die belangrikste een was om deur die dag te kom.

Ná ’n vinnige stort, lê sy agtuur weer knus in haar kussingkokon-bed. Beskut en beskermd teen die wêreld daar buite. Tevrede met die bekende, tevrede met die híér. Die nag se koue wat reeds teen haar huis se mure hang, kan nie naby haar kom nie. Haar liggaam is ’n oond, ’n broeikas wat die virus aan die gang hou.

Landi se oë volg die sekondewyster van die wekker op haar bedkassie. Sy het tyd goed gehoorsaam vandag. Sy kry dit nou reg om haarself gewillig te verloor in die opdeling van ure, beplanning en roetines. Die voelgoed tydskrif se raad om jou sanity te behou in tye van vlieë op die vensterbanke en stof agter die yskaste. Landi vou haar hande om haar maag.

Die virus groei by die dag sterker. Oormôre moet sy weer die dokter gaan sien, dan sal sy weet of dit ’n dogtertjie of ’n seuntjie is. Dís iets om oor opgewonde te wees. Landi maak haar oë toe en sê dankie vir die opwinding. Sy sê dankie vir die virus in haar lyf. Sy sê dankie vir nog ’n dag wat verby is, nóg ’n dag nader aan die einde van hierdie inperking. ’n Dag nader aan die einde van die lewe soos sy dit nou ken.

The post Afwagtend appeared first on LitNet.

Viewing all 428 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>