
Foto: Canva
Die onthouvrou
Die vrou sit voor die spieël. Die weerkaatsing van haar eie beeld fassineer haar. Die plooitjies om haar oë, die plooie om haar mond. Verbeel sy haar of neig die plooie om haar mond afwaarts? Sy moet onthou om nie haar mond afwaarts te trek as sy in gedagte is nie. Sy onthou haar ma het dit altyd gedoen. As sy besig was om ’n ingewikkelde naat of insetsel in ’n bloes of ’n rok te sit, was haar mond altyd so afgetrek. Haar ma het dieselfde plooie om haar mond gehad. Sy kan dit goed onthou.
Sy maak die diamanthangertjie om haar nek vas en laat die klippie saggies in haar kuiltjie rus. Sy onthou toe haar man dit vir haar gegee het. Hulle het verskil oor iets, sy kan nie eers meer onthou waaroor nie, en toe eskaleer dit sommer in ’n erge rusie. Vir ’n paar dae was daar stilstuipe in die huis en toe koop hy vir haar die hangertjie. Hy het sommer so nie meer onthou om sy arms om haar te sit en te sê hy is jammer nie. Die hangertjie moes die werk doen. Sy kyk weer na haar spieëlbeeld. Sy sug diep: “Ja, ek onthou,” prewel sy.
Die vrou en haar man is op pad na sy werk se jaareindfunksie. Hy het darem onthou om vir haar te sê sy lyk baie mooi. “Dankie,” was haar beleefde antwoord.
By die stadsaal stap hulle die trappe op en betree die opgetooide saal waar die onthaal is. Sy onthou die ballonne van verlede jaar. Ballonne wat een vir een gebars het. Soos die onthou daardie aand deurgebars het in haar brein. Haar gebarste onthouballonne was net nie oor kersies wat hulle laat warm word het nie. Haar gedagtes dwaal onwillekeurig na ’n jaar gelede en sy onthou.
Sy onthou dat sy baie mooi gevoel het. Sy onthou haar man se warm hand agter op haar laerug toe hulle instap. Sy onthou hoe sy hand weggeval het toe hulle binne is. Sy onthou die plekkaartjies by hul sitplekke. Sy naam op syne en by haar “Metgesel”. “En nou?” onthou sy haar opmerking. “Het Joan my naam vergeet?” verwysende na sy sekretaresse. Sy onthou sy verwarde kyk na die kaartjie en die vinnige opmerking: “Seker net ’n fout.” Hy het onthou om vir haar die stoel uit te trek. Sy het glimlaggend gaan sit en vergeet van die kaartjie. Hy het kroeg toe gestap; sy onthou hoe lank hy weg was. Sy het begin wonder of sy moet opstaan en met ander gaste gaan gesels? Sy onthou al hierdie dinge nou, maar daardie aand was die onthou te stadig. Die onthou het gebeur en gebeur, om deur te breek, maar haar vertroue wou dit nie toelaat nie. Nou onthou sy alles. Elke detail. Sy onthou hoe hy vir haar vertel het dit is sy plig om met Joan te dans. Sy onthou dat hy Joan so bietjie te styf vasgehou het terwyl hulle saam op die maat van die musiek trap. Sy onthou hoe Joan, net nadat hy uitgestap het om te gaan rook, ook uitgestap het. Sy onthou. Haar kop ruk effens toe hy langs haar staan en sê: “Is jy reg om te gaan?” Sy bêre haar onthou en staan op.
“Dit was ’n lekker aand, nè?” sê-vra haar man in die kar op pad huis toe.
“Ja, dit was,” antwoord sy outomaties.
“Julle is vroeg terug?” snip Carla, hul dogter. Sy lê uitgestrek voor die TV op die mat.
“Julle word nou oud.” Haar oë glinster.
Die vrou onthou hoe sy en haar man in hul jonger dae tot ligdag kon kuier. Sy onthou hoe hulle gelag en gekuier het. Dit is alles net onthou. Vir nou is hulle volwassenes wat ’n kind deel en vir haar ’n stabiele huis moet gee. Carla SAL haar kinderlewe onthou as gelukkig en gekoester.
In die badkamer betas die vrou haar lyf ingedagte. Het ’n lyf ook ’n onthou? wonder sy. Het Joan se lyf ook ’n onthou? Onthou hulle hom dieselfde? Sy hande soekend? Sy asem hortend?
’n Dieper onthou dring haar kop binne. ’n Onthou van ’n klein dogtertjie wat met vertroue saam met haar oom winkel toe ry. Sy onthou sy hande. Ook soekend op haar dogtertjielyf. Sy onthou sy het geklap na hom en hard geskree: “Nee!” Net soos sy onthou het haar kleuterskooljuffrou hulle geleer het. Later jare, toe sy grootgeword het, was die oom altyd baie ordentlik en gaaf. Hy kon seker nie onthou nie.
Sy onthou hoe sy skielik daardie miserabele aand van die vorige funksie besef het wat gaan vir wat. Die onthou het net skielik deurgebars. Gebars soos die ballonne in die foyers. Die aande wat hy laat moes werk. Die foon wat hy nooit geantwoord het as sy werk toe bel in die aand nie. Die weke se weggaan op seminare. Sy afsydigheid. Die een onthou na die ander het oopgebars. Onthou het weet geword.
“Is dit dan net ’n vrou wat onthou?” vra sy haar nakende self in die spieël. Sy onthou die woorde van ’n liedjie wat sy iewers gehoor het: “Vergeet om te vergeet en onthou om te onthou.” As sy sou vergeet om te onthou, wat dan van die onthou van haar pa? Sy stories, sy reuk en die liefde wat sy by hom gekry het? As sy vergeet om te onthou, onthou sy nie meer haar ma nie. Nie meer haar eerste liefde nie. Wat is ’n mens sonder sy onthou?
Die vrou steek haar hande voor haar uit en probeer die slierte van onthou in haar hande vasvat. Sy wil die bekendheid van die seer van verwerping nog by haar hou. Sy wil dit onthou sodat sy dit kan vergeet. Die slierte raak dunner, minder. Sy staan nakend met haar hande voor haar uitgestrek na niks. Niks. Sy draai om en strompel bad toe. Verwarring vou haar toe soos ’n versmorende kombers.
Sy gly saggies in die warm badwater in. Iets daaraan wil tog bekend voel. Sy skrik toe iemand die deur oopmaak.
“Mev de Wit, jy mag nie alleen badkamer toe kom nie. Jy weet tog dit is die inrigting se reël. Hoe gaan ons weet as u val of hulp nodig het? Waar is die suster wat u moet bystaan tydens u badtyd?”
“Ek het vergeet,” antwoord die vrou stil, en kruip tussen die voue van haar versmoorkombers in.
Is dit beter om te vergeet om te onthou, onthou om te vergeet of sommer net te vergeet?
The post Die onthouvrou first appeared on LitNet.
The post Die onthouvrou appeared first on LitNet.