“Wanneer mens dink” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
*
Wanneer mens dink
Oor die spoorlyn lê die pad soos altyd voor haar. Soos elke dag vir die laaste sewentien jaar. Dit is ’n lelike pad. Die geteerde oppervlak is nie oral glad nie en op verskeie plekke moet mens koes vir die vlak slaggate wat soms oornag verskyn. Sy stuur haar motor oor na die regterkant van die pad, want hier lê die hobbel wat dwarsoor die pad loop nie so hoog nie. Dis saagmeule lê aan haar linkerkant en kort daarna draai die pad skerp na regs. Mens kan die skool van hier af sien. ’n Vaal skool in ’n vaal dorp. Dit is nou as jy van ver af kyk en met verkeerde oë.
Die son steek sy kop baldadig oor die mynhoop en skiet sy uitspattige oranjerooi sonstrale oor die oop vlaktes. Soos altyd maak dit haar hart lig. Sy het vanoggend bietjie vroeër gery, daarom kry sy die man op die fiets vir wie sy elke oggend waai nie op die reguit stuk pad waar sy hom altyd sien nie, maar voor die klein kafeetjie. Soos elke skooldag groet hulle mekaar, bekende vreemdelinge.
Sy draai by die skool se hek in en parkeer op haar normale plek. Die busse is nog nie hier nie. Meeste onderwysers ook nie. Daar is ’n vreemde soort kalmte wanneer mens by die skool aankom wanneer dit nog stil is, voor die gedruis van byna 1 600 kinderstemme en 52 personeellede. By die aantekenregister kry sy vir juffrou Maria, die wiskunde-onderwyser.
“Môre, Ous Maria. Hoe gaan dit?”
“Goeiemôre, Ous Lina. Under the Grace, my lovey. Only under the Grace.”
“Ka Mohau, Ous Maria.”
In die klaskamer begin die senuweeagtigheid soos lugborrels na die oppervlak kom. Sy weet sy vat vandag ’n kans. Dit kan enige kant toe gaan – sy gaan óf die kinders laat saamsing óf ingeroep word kantoor toe vir ’n “vriendelike” waarskuwing omdat die beheerliggaam van die skool dalk nie heeltemal sal saamstem met haar invalshoek nie. Die nuwe Bela-wetgewing hang soos ’n dreigende donderwolk bo skole se kop. Niemand is nog seker wat die impak daarvan gaan wees nie. Het Afrikaans as taal nog ’n toekoms in Suid-Afrikaanse skole? Net tyd sal leer. Sy het genoeg tyd om haar skootrekenaar aan te skakel en aan die projektor te koppel. Die twee sangers wag geduldig, gereed vir haar om die speelknoppie te druk.
Na die gewone rumoer van stemme, die oor en weer groet van onderwysers en skoliere, die oorverdowende skerp skuur van stoele oor vloer, raak almal uiteindelik rustig. Uit vorige ondervinding weet sy die graad 7-kinders gaan van die eerste aktiwiteit hou. Sy skryf die twaalf amptelike landstale op die witbord en verduidelik dan wat haar siening van moedertaal is. Soos altyd moet sy Engelse woorde tussenin gebruik sodat die betekenis nie verlore raak nie. Dit is die realiteit van ’n Afrikaans Eerste Addisionele Taal-onderwyser.
“Moedertaal – your mother tongue – is die taal wat jy die meeste praat. Miskien praat jy twee tale in jou huis. Your mother might be Setswana and your father might be Sepedi, maar watter taal praat jy die meeste? When you speak to yourself in your head, your first thoughts when you wake up in the morning, what is the language you use? In watter taal droom jy?”
Sy wys haar vinger kamma waarskuwend in die rigting van Kamogelo wat sy vinger in klein sirkeltjies rondom sy kop gedraai het toe sy gevra het in watter taal jy met jouself in jou kop praat, maar sy lag terwyl sy dit doen. Hierdie kinders is háár kinders. Almal wil gelyk hulle hande opsteek en uitskree wat hulle moedertaal is, maar sy steek haar hand op en dit raak stil. Een taal op ’n slag en daarna ’n staafgrafiek wat die getalle mooi in perspektief sal plaas.
Met elke taal steek die kinders hulle hande op en skryf sy die getal langsaan neer. Dan tel sy en die kinders dit saam op om te kyk of die totaal balanseer. Setswana – 12, isiZulu – 10, isiXhosa – 7, Sesotho – 6, Sepedi – 2, isiNdebele – 1, siSwati – 1, Tshivenda – 1, Xitsonga – 1, English – 0, Afrikaans – 1 en South African Sign Language – 0. In totaal 42. Sy kon die trots in elke kind aanvoel toe hulle die hand omhoog lig – erkennend, geanker, belangrik. Die eerste deel van die les het goed verloop. Die fondasie vir waar sy wil uitkom, is gelê.
Nadat die staafgrafieke in hulle boeke getrek is, beweeg sy aan.
“Ons doel met ons Kreatiewe Skryfprojek is om te wys dat meeste liedjies ’n gedig met musiek is – songs are mostly poems with a beat. Let me prove is to you.”
Sy neem stelling in voor in die klas met haar hand op haar hart. Haar stem raak sagter en sy maak seker dat sy oogkontak met meeste van die leerders maak terwyl sy met ’n ernstige gesig voordra.
“Mamma, I never meant to hurt you
I never meant to make you cry ...”
Hier haal sy eers asem en kyk stadig na die klas om te kyk of haar woorde ’n impak gemaak het. Ernstige gesigte kyk terug na haar, afwagtend.
“That’s why I’m cleaning out my closet.”
Vir ’n rukkie is daar stilte voordat sy weer praat. “Dit is ’n mooi gedig, nè?” Die meeste knik hulle koppe. Sy draai om en van agter die lessenaar kry sy ’n pet en sit dit agterstevoor op haar kop. Die kinders begin te lag – hulle weet hulle kan gewoonlik ’n streek of twee van haar verwag tydens ’n les. Ritmies begin sy op die voorste lessenaar ’n maatslag tik.
“Come on – help me with the beat!”
Dié wat nie op die lessenaar klap nie, stamp met hulle voete tot ’n ritme die klas vul. Dan, in pure Eminem-styl, begin sy dieselfde woorde wat sy as gedig aangebied het, te rap. Met die lig van haar hand wys sy die klas kan saam rap en nadat hulle dit twee keer herhaal het, bars applous spontaan uit. Sy pluk die pet van haar kop af en maak ’n buiging. Sover gaan dit goed.
“Soos julle gehoor het, a poem with a beat. Goed, klas, nou gaan ons dit ook bewys met Afrikaanse liedjies. Elkeen van julle het die lirieke in Afrikaans in julle werkboeke op bl 18 met die vertaling langs dit.”
Sy wag tot almal op die regte bladsy oopgemaak het.
“Is julle reg?”
Uit een mond: “Ja, juffrou!”
Sy speel eerste vir hulle Refentse se weergawe. Net hy, sy kitaar, sy afmouhempie en sy mooi, diep stem.
“Op ’n berg in die nag, lê ons in donker en wag.”
Sy hou dop hoe van die meisies kommentaar lewer oor sy arms, hoe van die seuns maak of hulle self kitaar speel. Sy vertel hulle dat dit hierdie weergawe van Refentse is wat hom bekend gemaak het en dat hy nou een van die geliefste Afrikaanse sangers is. Sy vra wie van hulle die liedjie al gehoor het. Omtrent driekwart van die klas steek hulle hande op.
Van agter af skree Ngcebo uit: “My pa like die song baie, juffrou.”
Almal lag vir hom; hy harder as die ander. Hy hou daarvan om die kaartmannetjie in die klas te wees.
“Ek is bly, Ngcebo. Nou gaan ek julle vertel waar die liedjie vandaan kom.”
Sy verduidelik hulle van die Anglo-Boereoorlog; hoe Suid-Afrikaners geveg het om onafhanklikheid te bereik en die rol wat generaal Koos de la Rey in dit gespeel het. Dan druk sy die knoppie vir die oorspronklike musiekvideo van Bok van Blerk. Tromslae vul die klaskamer. Afwagtende gesigte lees wanneer sy elke keer eers die inleiding stop sodat sy die Afrikaans in Engels kan vertaal. Dan vul Bok van Blerk se stem die vertrek. Almal luister aandagtig. Sommige begin die ritme saggies tik-tik op die lessenaars. Asems word ingetrek en daar word aan mekaar gestamp en na die skerm gewys as iets spesifieks iemand se oog vang, soos die plase wat brand of wanneer De la Rey op sy perd aangery kom. By die koorgedeelte begin sy saggies saamsing en kyk hoe van die kinders se koppe afkyk na die lirieke. Sy wag vir die fluitgedeelte aan die einde van die liedjie om klaar te maak en druk dan die stopknoppie.
Vir eers kyk sy net na hulle en vra dan: “En? Wat dink julle daarvan?”
As daar ’n enkeling is wat nie saamstem nie, mis sy dit dalk, maar die koor van stemme klink op.
“Play it again! Play it again!”
En dit is presies wat sy doen. Sommige van die leerders probeer saamsing in die eerste gedeelte, maar toe die koor begin, hoef sy hulle nie soos vroeër te wys dat hulle mag saamsing nie. Uit volle bors en met verskillende aksente sing 42 kinders en hulle juffrou saam.
De la Rey, De la Rey,
sal jy die boere kom lei, De la Rey, De la Rey?
Generaal, generaal,
soos een man sal ons om jou val, generaal De la Rey.
Daar word saam gefluit aan die einde en toe sy dit vir ’n derde keer oorspeel, kyk sy afsonderlik na elke gesig voor haar, die definisie van Suid-Afrika se reënboognasie. Verskillende tale, verskillende kulture, elkeen met sy eie agtergrond, maar verenig. Sy dink aan Adam Small en hoe dit sy doelwit was om te bewys dat Afrikaans nie net die taal van die onderdrukker is nie, maar ’n taal, net soos elke ander amptelike taal in Suid-Afrika. Sy peins saam met Matthews Phosa oor die ironie dat hy die diepste pyn wat hy tydens die vryheidstryd ervaar het, altyd die beste in Afrikaans kon verwoord.
Dan gooi sy soos Laurika Rauch se Neanderdalman haar gebalde vuis hoog in die lug en terwyl sy saam met haar kinders sing, dink sy in haar taal, haar moedertaal: “Kyk hoe ver het ons gekom.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
The post Wanneer mens dink first appeared on LitNet.
The post Wanneer mens dink appeared first on LitNet.