Eendag, lank, lank gelede, in die verre verlede, was daar ‘n ou man. ‘n Ou man wat graag iets wou ontmoet. Iets ontmoet soos Pan. Nie iets soos ‘n San, of Khoi-khoi of khoisan nie (alhoewel hy tog in retrospek sou nadink dat alles daar by hulle begin het). Nee, vir Pan, ‘n alles, ‘n magiesheid, ‘n koninkryk van wild, skape, die wilde berge, jagmaak en die lieflikste outydse wysies. Alles wat ons kan sien, voel, proe, betas en ruik: dit wou die ouman beleef. So, eendag, eendag op ‘n reëndag, pak hy al sy aardsbesittinkies (wat hy later sou besef hy hoegenaamd nie sou nodig kry nie). Daar was naamlik:
twee hemde
een broek
een paar kouse
een onderbroek
bietjie koffie
bietjie twak
bietjie tee
‘n wolkombers
biltong
suiker
en ‘n peer.
Hy voel tog eintlik vere en veel meer pere vir die hoeveelheid naarheid en ellendige maagseer wat sy ouvrou hom al besorg het. So pak hy sy tassie volledig. Hy pak dit met ‘n argeloosheid; met ‘n uitsiening; met ‘n volmaakte en volstrekte magiesheid. Magiesheid, wat ‘n woord! Net die klank daarvan sê dit alles vir jou: mágieshéíd.
‘n Toweragtige bespiegeling. Meer as bespiegeling; meer as sintuig. Meer as wel, wat ‘n gedagte kan oproep, of wat die oog kan sien. Nee, dit is ‘n gevoel. ‘n Gevoel van hoop en drang. ‘n Drang wat dieper brand as wat ‘n mens kan aan dink. Nee, hy wou vir Pan sien, hierdie ouman. Hy wou álles in die wêreld sien, en uiteindelik alles wat daarin diep verskuil lê. Met sy tassie klaar gepak, stap die man uit die ou woonwapark. Hy, eens ‘n gesiene man, nou armlastige. Maar nie meer nie! Want Pan roep! Hy voel geen spyt dat hy gaan nie en terselfdertyd, geen hoop om terug te keer nie. Sy ouvrou wat alewig so rou en altyd ontrou was. So stap hy toe uit, weg van die ou stramheid; hy had absoluut geen meer nodigheid aan haar gehad nie. So stap hy dan, die een tree na die ander, sy een voet voor die ander. En wat gebeur?
Absoluut niks nie. Al wat verbykom is zoemende karre. Al wat hy ruik is roet en stof en rook. Al wat hy kon voel was die son wat teen sy nek en kop brand. Die sweet hardloop soos watervalle oor sy gesig. Maar, hierdie ouman was meer desperaat en had meer murg in sy beendere as wat mens sou dink. So stap hy verder en verder. Hy let nie meer op hoe ver hy al gegaan het nie. Hy let nie eens op dat die voëltjies skielik begin sing het en hoe snaaks die mense hom aangegaap het nie. Wat ‘n gesig sou hy nie gewees het nie! Hierdie ouman wat langs die snelweg loop met sy tassie en kortbroekie. Sy ou motgevrete hempie wat skramsweg sy enorme boepie bedek. Die boepie wat moeg en sad (bloot net sad) oor sy voete sak en tone kielie. Hy loop en hy loop, hy stap en hy stap verder en verder, dieper en dieper die vlakte in.
Die ouman stap so ver dat die karre al hoe minder raak. Die pad raak smaller en kry meer slaggate in. Die landskap is opeens minder bedreigend; meer oopgestel en sensitief vir aanraking. Die lang gras se groen weelderigheid ken geen perke nie.
Die ouman snuif die soete lug, maar sy voete het blase op, sy kuite kramp. Wolke begin donker bo hom saampak. O hel, dink die ouman. Hierdie vryheid raak skielik te veel. Sy isolasie van die afgelope paar jaar kon hom kwalik voorberei vir hierdie soort gevoel waar ruimte bysaak geword het en tyd ‘n nietigheid.
Die druppels begin val. Doer op die horison sien hy ‘n huisie. Die ouman besluit om daar herberg te gaan vra, want die reën raak nou so fel, dit voel soos rubberkoeëls wat op hom neersak. Hy tas rond tussen deur die lang gras.
Lisa sien ‘n ouerige man wat nader aan die huis gestrompel kom deur die veld terwyl sy op die stoep staan en die reën ruik en rook. Soek hy skuilplek? Sy vermoed dat die hael op pad is. Of is hy ‘n boef? Sy roep na Egbert. Saam betrag hulle die ouman se ietwat komiese tog deur die veld.
“Ek dink hy is skadeloos,” sê hy. “Ons gee hom net koffie en wanneer dit ophou reën stuur ons hom weer op sy pad.”
Die ouman arriveer by die huisie. Lisa maak dadelik die deur vir hom oop. Egbert het die pistool agter by sy broek ingesteek, net vir ingeval.
“’n Duisend dankies!” roep die ouman uit.
Die huis is besonder lieflik. Die vrou ruik na granate en nikotien. Die man kyk agterdogtig na hom. Hulle gee hom koffie sonder ‘n woord. So sit hulle. Lisa, Egbert en die perfekte vreemdeling. Lisa begin tentatief na die ouman uit te vra. Hy vertel vir haar van sy hoop om Pan te ontmoet. Opeens glimlag Lisa. Sy en Egbert kyk na mekaar, gee ‘n knik en staan saam op. Die ouman is skielik verbouereerd deur die gebaar, maar Lisa gee vir hom ‘n troostende glimlag en sê dat hulle nou weer met hom sal wees.
Lisa en Egbert trek hul spesiale klere aan. Die klere wat hulle gebruik vir hul opvoerings en reise. Hulle trek dit aan met ‘n argeloosheid. Die klere laat hulle magies voel; laat hulle onbevange voel. Sorgvuldig pak hulle hul tassies, gereed vir die reis na Pan, daar waar die Khoisan reeds van hom geweet het. In hul tassies het hulle naamlik:
twee sterre
een paar onewigheidsvelle
een paar hiernamaals
een paar melkweë
bietjie van die see
bietjie heimwee
bietjie bekoring
‘n vlieënde kombers
alles
vervoering
en ‘n onewigheidshoop.
Hulle neem hul tassies en gaan na die voordeur waar die ouman instinktief geweet het om by hulle aan te sluit. Die drie van hulle omhels vir Pan. Die ouman gaan in vervoering.
The post Die ou man en Pan appeared first on LitNet.