Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 432

Juffrou Swanepoel kyk op

$
0
0

Wikus sit sy bril terug op sy oë.

"Haai! Kyk net! Kýk!" roep hy uit.

"Wat?" vra almal, "wat sien jy?"

"Juffrou het ‘n ring aan. Sy gaan trou!" Nou wil almal sien.

Juffrou Swanepoel se wange word rooi. Sy kyk af na haar skoene.

"Los haar," sê Wikus.

"Wikus, jy kan beter sien as ons almal," sê Janet.

Wikus vou sy arms agter sy kop.

"Dis nie dat ek so goed kan sien nie," sê hy, "dis omdat ek weet hoe om te kyk."

– Rona Rupert, Nou wil almal sien

Dis toe sy haar balans verloor en hierdie keer wydsbeen op die bed beland, dat hy sien sy het haar panty nou heeltemal natgemaak. Die kleintjie langs haar op die bed het nog steeds nie opgekyk nie.

Dié het vroegaand al na die hoofslaapkamer gekom waar sy eers in die deuropening gehurk het - die boekie oop by haar voetjies. Regdeur al die stampe en die houe, selfs toe sy nader na haar ma kruip na die laaste onbeheerde val op die matras, tot nou, het sy nie een keer na haar pa  gekyk nie.

Sy het vasbeslote na die kinderboekie in haar handjies bly staar.

Met die voosgevatte boekie styf vasgeklem het sy doelgerig die woorde van haar storie geklank:  "Wikus haal sy nuwe bril uit die brilhuisie en sit dit op sy oë ...: Sy het behendig omgeblaai: "Toe kyk hy by die venster uit. 'Vandag lyk alles anders,' sê hy…." Haar vingertjie het die buitelyne van Juffrou Swanepoel  se mooi ring gevolg.

Hy het stadig sy kop na die boekie gedraai. Sy lees nogal flink vir so ‘n jong kind, het hy tyd gehad om te dink.

Af in die gang, in 'n ander kamer, het die ander kind hard deur sy neusie gelê en snork.  Nog 'n mangeloperasie ook nog, het hy gedink en sy bril op sy neus teruggedruk. Die bril het altyd afgegly as hy sweet. Hy weet nie wat dit is nie, maar hy sweet net baie wanneer hy panic, gym of jags is. Nooit anders nie.

Toe kyk hy weer na die jong vrou op die bed. Sy het nou probeer om haar nagrok oor die panty af te trek. Sy het gesukkel want die nagrok het agter opgetrek en sy het na hierdie stamp half op haar stuitjie te lande gekom. Hy kon nie haar oë sien nie. Jissis, hy kon sweer sy loer onderdeur haar wimpers vir hom.

Sleg slet.

Hy wou aan sy gulp vat maar die kleintjie het nou weer omgeblaai. Hy wou nie dat sy nou al dinge moet sien wat dalk nie goed is vir so ‘n jong kind nie. Dit sou nie reg wees nie. Hy het weer die bril teruggedruk en gedink dat dit miskien nóú 'n goeie tyd sou wees om aan sy oë te laat sny. Hy sê al lankal dat hy moet.

Niemand het gehoor toe die ouer vrou inkom nie. Sy het elke keer so ingekom - saggies, met die duur leerhandsak so half pap onder haar arm ingevou, sonder dat iemand haar hoor.

Of sy het buite getoet en nie ingekom nie. Of sy het met haar karsleutels op die lang stuk glas langs die voordeur geslaan. Of sy het agterom die huis geloop en haar gesig en hand met die sleutels teen die agterdeur se glas gedruk terwyl sy roep.

Partykeer het sy opgedaag omdat sy ‘n sms gekry het. Partykeer het sy sommer net vanself betyds opgedaag. Om te kom help keer.

Die ouer vrou het saggies sy naam gesê. Hy het gedink dat dit is hoe dit moes wees. Dis hoe sy dit doen vandat hy klein is. Vandat hy gebore is. Reg. Nie altyd fokken verkeerd nie.

Hy het haar hand met die diamantring op hom gevoel. Bekend. Vertroud. Dis hoe dit was. Vandat hy kan onthou. Sy penis het harder geword  en hy het sy sweetpakbroek se rek laat  skiet.

Hy het agter die ouer vrou die lang gang afgeloop. Verby die  oorspronklike Porchies en keuriggeraamde foto’s van familievakansies, voorvaders en ‘n vorige generasie se pryswenners. Die duur persiese mat het sy kaal voete gekielie en dit was nie vir hom baie lekker nie. Hy het gewens hy kon onthou waar sy gemaklike aanglippantoffels was.

In die kombuis het die ouer vrou begin tee maak en oor ditjies en datjies gepraat. Haar  leerhandsak en die sleutels het argeloos langs die Vyf Rose-boks op die tafel gelê. Deur die oop pap bek van die handsak het haar "Dagboek vir ‘n Dame" uitgesteek. Hy het stadig begin ontspan en gekyk hoe sy vir hom baie suiker in sy tee roer. Soos toe hy klein was.

In die hoofslaapkamer het die jong vrou op die dubbelbed stadig orent gekom. Asof dit die teken was, het die kleintjie haar boekie laat sak. Haar ogies was groot en bekommerd en sy het heeltyd haar ma dopgehou. Die vrou het vinnig 'n ou sweetpak oor haar nagrok aangetrek.

Sy het gesukkel om die broek oor die panty opgetrek te kry. Haar onderlyf was nog nat van die skrik. Van netnou se val op die bed. Na die geboorte van die tweede kind sukkkel sy meer as voorheen om te knyp as sy skielik stres.

Die duplikaatbos van haar motorsleutels en haar blinkgevatte beursie was nog  steeds onder haar kant van die matras waar sy dit altyd wegsteek. Die kleintjie het vinnig haar hand geneem.

In die kombuis het sy gehoor hoe die ouer vrou saggies iets vertel. Die broodblik het oopgeklap.

Die ander kind het wakker geword toe sy hom uit sy babakombersies loswikkel. Met sy warmgeslaapte gesiggie in haar nek en sy deurdrenkte doek ongemaklik swaar op haar arm, het die jong vrou saggies by die voordeur uitgeglip. Die kleintjie het styf haar hand vasgehou terwyl die boekie lomp teen haar beentjies  klap.

Buite in die tuin het sy vinnig verby die swembad geloop. Die bure se sproeiers het intussen aangegaan, maar verder was alles rustig in die dubbelverdiepinghuise om hulle. Nie 'n teken dat iemand iets gesien of gehoor het nie.

Die ouer vrou se nuwe Audi was voor die huis geparkeer. Sy het om die Audi geloop en die twee kinders en die klaar gepakte babasak in haar stukkende Beetle gelaai. Toe stoot sy behendig agteruit, verby die Audi  tot in die dwarsstraat. Sy weet hoe om die Beetle so te trek dat niemand haar kan vasparkeer nie.- al werk sy handrem nie meer nie.

By die BP-garage het sy haar laaste R60.00 uitgehaal en R35.00 se brandstof ingegooi. Sy het vir die petroljoggie gevra of hy vir haar, met die kleingeld, twee sjokolades en R12.00 se selfoonfoontyd kon saambring. Want sy wou nie uitklim en haar kinders alleen los nie. 'n Mens weet nie altyd wat twee-uur op ‘n Sondagoggend alles met jou kan gebeur nie.

Dit het saggies begin motreën. Sy het lank so by sit terwyl sy eet. Die kleintjie agter in die kar het haar stip dopgehou. Die ander kind het weer aan die slaap geraak met sy mondjie oop.

Toe skuif sy haar sweetpak top se moue op en kyk na die vars bloupers merke op haar arm. Sy het nie na ou merke gekyk nie.

Sy het lank so bly sit.

Toe skakel sy die enjin aan. Die ruitveërs was baie oud en het net met elke tweede, derde vee die Beetle se voorruit skoon kon kry. Dit was goed genoeg vir eers. Sy sou kon sien.

Sy het lank so bly sit.

Toe ry sy terug.       

The post Juffrou Swanepoel kyk op appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 432


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>