Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Ek kom van ver af

$
0
0

“Ek kom van ver af” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Ek kom van ver af

Hy wil net kom sê: Dankie vir die tekkies.

Die tekkies is al vodde geloop, sê ek. Hy lag. Watch my. Ek gaan hulle nóú eers intrap.

Vir skarrel gee hy nie om nie, sê hy. Ek loop al ’n honderd jaar. Op en af. Wys my ’n plek waar my se mense nie al voete neergelê het nie. Julle mense is mos pampiermense. Julle het gekom en op die pampier hier en hier ’n blok getrek en geseg: Hier mag julle bly. Of hier mag g’n mens bly nie. Of sulks mens kan hier bly en dié moet uit. Maar ons is nie pampiermense of blokmense nie. Ons kring. Ons bou onse huis in ’n kring en ons bly in ’n kring saam en ons dans in ’n kring. Ons kring in en uit; ons beweeg deur die blokke.

Ék. Ek kom van ver af. Net daar waar die Here sy skeidslyn getrek het tussen waar mens kan lewe en nie kan nie. Ry jy vandag noord, Eksteenfontein, Gannakouriep, Potjiespram toe; jy sal sien dáár sit die koppie. Dis waar die wind gebore is; eendag sal hy bo-op daardie koppie staan en gaan lê en nie weer opstaan nie, en dan sal die mense weer baie oud word en nie doodgaan nie.

Nee, ek is nou in my terugloopdae. Ek loop nou slyfer, maar ek loop darem nog. Kom ek daar vandag nie, dan kom ek daar tog môre. Die ou Boesmans het mos geglo: Gaan jy dood, dan moet jy Hemel toe loop, met die goed wat jou mense vir jou aan die kokerboom vasmaak, in jou hand sit. Jy loop en loop na die warm land, na die Oranjerivier se kant. Daarvandaan het ek gekom, daarvandaan gaan ek terug. Waarheen u gaan, dis u se eie saak.

Ek was nog net ’n sitkind en hulle kom en sê vir ons: Die Here woon in die wolke. Ons is geleer: Die wolke is die hare van die dooies. Watse land is daar bo? Ga! Dáár wil ek nie bly nie. Ek het lankal die takke ingesit, toe ek sien ek kan nie meer daar leef nie. En ja, ek het hier ook maar spitsroei geloop, in die stad, as ’n skarrelaar. Dit is ’n agterster suffer.

Nee, ek praat nie apartheid nie, apartheid is ’n nuwe ding. Dié ding kom al van Jan van Riebeeck se tyd af; ons het al verby hóm geloop ook.

Daar was altyd baie veldkos – wilde aartappels soos ca en goed wat ons uit die duine kon gegrou het. Mongongoes en nlang-bessies en ons het eland en gemsbok geskiet en bietjies water uit die grond gekrap saam met die ystervarke. Hier was n!oh-lemoentjies, maroelaneute en sulke goed. Ek het lanklaas so ’n ding in my hand se palm vasgevat; ryp soos ’n nuwe tetjie, vol sap. Toe my kinders gebore is, het ek vir hulle kos gegee van die diere wat ek gedood het; ek het nie aan moeilikheid gedink nie.

Hulle sê: Die goed is aan die uitsterf, jy mag dit nie meer afpluk nie. Maar my pluk het nie die skade gemaak nie! Dit was die vee.

Die Boesmans het gepraat van ’n n!ore, jou grondgebied. Jy trek so ’n kring en dis waar jy met jou mense leef. Jy leef net in die kring, jy bou jou skerm en jou kampie en jou vuur in die kring. Jy kom net buite die kring wanneer jy vrou vat. Soms is daar meer water in die ander kring, soms beter opslag, soms ’n neuteboord. Ons het so gebly, so geloop-loop na waar dit beter gegaan het. In elke kring was daar ’n man wat hulle genoem het g!ukxao, die watermeester; hy het gesorge dat daar genoegsame water was. Maar dié is gedood. Ons weet nie wie nie. En na dié man dood is, steek ’n droë wind op en die wind het die veld gebak en alles was half-dood in die Noorre, toe kom ons hier waar dit beter gegaan het.

Maar toe kom hier ’n spul Herero’s en die Tswana en Bastermense met hulle bokke en hulle donkies en dié het gevra vir water en gras; nou wat sê mens, jy sê: Vat, dis mos nie my gras nie. Dié se vee het alles leeg gesuip en opgevreet. Hulle het hier kom drade span waarin die bokke moes vasloop. Die elandmerrie en die elandhings loop mos nie saam nie; hulle is afgesny, daar is nie meer kalfies nie. Ons was verhonger. Het jy gesien hoe dit lyk as springbokke begin loop? Miljoene! Nou loop hulle hulle vas aan draad. Die hele land is toegespan, soos ’n spinnekop, en almal sit vás.

Toe begin hulle met die mieliepap en die suiker, met die Droogverligting, en toe kom die niersiektes en die suikersiektes en die longsiektes. Die Noormense – dié het vir ons geleer jy vat die suiker en brou bier. Ons het dit nie geken nie. En toe begin ons sit en wag, want hulle sê: Sit daar, ons bring kos. Ons het mieliepapvreters geword, skoendraers. Ja, sien, die voete ken nou skoene. Ek kan seker sonder dit loop, maar my voete kry nou maklik koud.

Ewentewel. Hulle sê: Julle kan nie so verniet eet nie; julle moet werk in die tuin en boer en vir die goewerment help en belasting betaal en self kos koop.

Toe kom bou hulle hier vir ons ’n vierkanthuis. Jy bly in jou blok tot hulle jou eendag in ’n vierkant se gat begrawe, en hoe leef jy in ’n vierkant? Ons het die kleigrond opgegrou om bakstene te maak, die klippe uitgekap vir daardie huise. Die kos wat jy vandag aan tafel kry, is alles werkkos. Jy arbei op ’n plaas en jy koop vir jou kos en klere, jy skep vir jou water by ’n put, jy loop vir jou vas aan ’n draad wat hulle in ’n vierkant gespan het om jou uit te hou. As jy ’n bok wil skiet, moet jy ’n pas koop, vir één bok. Jy moet liksens hê vir boer, vir grond koop, vir bokskiet. Net die drankwinkels het nie liksens nodig nie, jy kan koop met vrymoedigheid.

Toe ek ’n jong klong was het ek ’n steenbok geskiet en toe ek huis toe staan, sien ek ’n eland en toe skiet ek hom ook. En toe is die ou man kwaad. Hy sê: Wil jy dan al die bokke in die hele wêreld vrekskiet? Ek is geleer hoe om te skiet lat die bokke ook kan leef; ek het nie ’n pas nodig om my dit te leer nie, my pa en oupa het dit geleer.

Hulle het al die ou jagvelde afgevat en plaas gemaak. Hulle kla en kerm: Ons soek bokke en skape en klere en kleinkougoed, ons soek nie julle moet net hier sit en eet nie. Hulle is pampiermense. Ek het baie van die pampiere van die goewerment se mense, maar ek kan nie dit op my eie lees nie.

Hoe dit nou is, is nie reg nie. Grond is nie ’n ding wat mens opsny en oorverdeel nie. Jy slaan die nǂah-boom en die soet bessies kom uit die takke, en jy maak ’n hopie om van te eet. Jy grou tot jou arms brand en daar kry jy waterwortels. Jy leer proe. Bitter, soet, waterig. Wildekoffie-bone, goggas. In die winter verdroog die bessies, maar die komkommers sit uit. En as die weer warm word, loop die sap uit die boomstamme en jy steek net jou tong uit. En jou ma sny die kremetart oop en vra, wil jy eet?

Ons is nie grondkopers nie, ons is maar net gebore en ons is geleer: Sus en so kan jy nou eet, en in die winter kan jy hier vir jou iets kry. Dis hoe mens op grond kan bly en g’n ander grond nie.

So, as jy wil eet, moet jy werk, maar jy kan ook nie so werk nie; só dat jy kan alleen eet nie. Hulle bou ’n blok en dan gee hulle vir jou so ’n blokkot om op te slaap met ’n matrassie op, so plat. En dan seg hulle, soggens moet jy sus en so opstaat en dan moet jy lus wees vir werk. En hulle laai jou in ’n blok wat ver in die blok in die grond afsak, in die donker. Nes die hel, en dis warm en nat.

Saans trek julle jou weer uit sodat jy nikse son sien nie. Jy leef in die donker en dan gee hulle vir jou ’n bord kos – rys en mieliemeel en goed wat ons nie ken nie. Kool. Dalk varkvleis. Toe ek die kos eet, toe begin ek dink soos my pa my geleer het: bietjies-bietjies gif. Ek het siek geword van die kos, in die bosse gaan woon. Daar het ek slange en skerpioene en goed gevang en geverkoop. Baie gebyt ook, maar ek het bietjies-bietjies gif gedrink en in die flesse gegee. Ek was sterk en daar het ek geverswak. Toe dink ek, ek eet eerder niks saam met my mense wat vir my lief is as wat ek gif eet onder die Uitlanders wat my nie kan uitstaan nie.

Ons eet ongesond, sê hy. Ons eet om van honger te dood. Die goewerment is soos ’n vrou wat vleis vreet en dan net die kind se mond met vet smeer. Vra iemand: Is die kind honger? Sê sy: Jy sien mos die vet om sy mond, hy hét geëet.

Die mense sê dit was beter voor die relief gekom het.

Nou kyk, die mense wat seg ons het eers in die paradys geleef, lieg. Ons wás honger, ons het onder mekaar baklei. Ons ma-goed het ons moeilik grootgemaak. Maar jy sien mos. Die krag sit hier, in jou maag. Dit kook hier op. Hy tel jou aan jou pens op en dra jou boontoe, al die pad tot in die doderyk, en dan as jy afkom kook al daai krag weer uit by jou vingerpunte, sodat jy kan genees en genees word ook. As jou maag vol winkelbrood is, as jy van die skaal af eet, dán word jy swak.

In die wêreld is ek blind, in dié wêreld, maar nie elke wêreld nie. God hou my oge in ’n lapsakkie. Hy was jaloers en hy het hulle uit my kop uit gesteel en daar aan sy belt vasgehaak. Hy sit hulle terug wanneer ek dans, wanneer ek sing; wanneer ek slaap, dan vat hy hulle weer weg. Hy gryp my snags aan my voete vas en stuur vir my veld toe en daar gee hy vir my goed – ’n skilpad, ’n skulp, ’n krui.

Ja, ek bly nou in die stat. Maar in die nag loop ek. Ek oefen. Ek sal die pad weer kry na die Hemel toe, met die twee blou oge.

Waar die perdespookblomme droog word en hulle geraamtes die pad afskiet laat die saadjies afval, die reënvoël die reënbul roep. Daar waar ’n god loop wat jy nie in ’n boek kan kry nie.

Ek kort baie dinge, maar nie ’n kaart nie. Ons tel die poele met die myle af. Die een dorp se naam is /Gam-//gams, Diepwater. Die ander is /am-//gams, Laaste Water. Hei-ra is ons woord vir die hart van ’n boom, die gom wat uit ’n soetdoringbos drup, soos ’n seën. N/aueema is die nuwe maan; wanneer sy in die lug hang, jag die Gyzikoa die renosters, sommer so bo-op die bul se rug. Tgouroe sê ons vir ’n stuk land vol gruis en vetplante. Dis ’n tgouroe-plek, my huis. Die dorings en die klippers steek in ons sole vas, maar ons voete is te hard, ons voel dit nie.

Die koggelmander sal sy koppie Noorde toe draai, die skilpaaie sal begin loop en die loopmense sal weer terugkom. Seuns met dun swepe wat vooruit loop. Die wolke vee vooruit, soos branders.

Hulle sê mos die bose sluip nie deur die bosse nie; hy loop reguit op die pad af. Mens kan ook nie heeldag die pad dophou nie. Dis die Here se werk.

Maar watch my. Ek sal koers hou. Dankie vir die tekkies. Ek gaan hulle nóú eers intrap.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

The post Ek kom van ver af first appeared on LitNet.

The post Ek kom van ver af appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>