Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Kaskenades

$
0
0

Foto: Canva

Kaskenades

Sitronella van Stootgare is die distrik se voorste vrou. Sy was dit nog altyd, selfs voordat sy in die eg verbind is met Pannevis van Stootgare. Sitronella was ’n nooi Gelderbloem en hulle had die grootste en rykste plaas in die omgewing. Pannevis het sweerlik met sy spreekwoordelike gat in die botter geval toe hy haar gekry het. Boonop is Sitronella ’n kunskenner en versamelaar. Haar mure pryk met egte werke van Gregoire, Maggie Laubscher, Irma Stern, Alexander Rose-Innes, Jean Welz, ensovoorts. Selfs ’n Pierneef.

Pannevis en Sitronella het net een dogter, Salmonella. Pannevis wou erg graag ’n seun ook hê, maar toe Salmonella so ses maande oud was, het ’n hings hom op sy tros geskop. Waarmee dit daarmee heen was met sy tros en sy trots. Pannevis kon daarna nooit weer “in opstand kom” nie. Boonop het die hele distrik van sy ontmanning geweet, want die hings het hom voor talle vendusiegangers vierkant in die mik getref. Was vir ’n week lank in die hospitaal. Van toe af het hy perde so ver moontlik vermy.

Gelukkig kry Salmonella toe ’n man wat later die boerdery kan oorvat. Ene Lodewikus Uittenbroek uit die Oos-Vrystaat. Hy het die buurplaas gekoop en die vryery het kort daarna posgevat. Lodewikus en Salmonella het twee seuns en dan die tweeling dogters, Spirulina en Semolina. Die oudste seun is gedoop Levitikus, van jongs af boer in murg en been, en dan Gertruidus. Laasgenoemde, uitgeknipte middelkind, was snaaks en anderster. Hy het maar altoos eenkant gestaan, alleen in die veld rondgeloop, blomme en sade bymekaar gemaak en dit in boeke geplak. Dan het hy gekyk of hy die botaniese name daarvoor kon opspoor. Hulle plaas, Nuutgevonde, en sy oupa se plaas, Leef op Hoop, het ’n grensdraad gedeel.

Soos dit maar gaan, was Lodewikus baie tevrede met die oudste seun, maar die meisies Spirulina en Semolina was sy gunstelinge. Daarteenoor was Gertruidus sy ouma Sitronella se oogappel. Helaas was hy sy oupa Pannevis se oogpynappel. Die kind was nes ’n steeks donkie. Stroomop. Hy het ook ’n slag gehad om weg te raak. Kon vir ure so wegkruip dat niemand hom kry nie.

So word Levitikus Uittenbroek agtien en die plan was dat hy saam met sy pa en oupa by die boerdery sal inval. Die wyk se boere met dogters het deurgaans die haelgeweer reg gehou. Levitikus was ’n opperste haantjie. Waar sy oupa vanweë die ongeval tekort geskiet het, of eintlik glad nie, was Levitikus voltyds paraat. Van Gertruidus het die mense, selfs die huismense, min geweet. Hy het oral skuilplekke en wegkruipplekke gehad. Lodewikus het maar opgegee om hom te betrek.

Nou, al het die broers soos ’n ysterpaal en ’n treurwilgerloot verskil, was hulle nie Kain en Abel nie. Levitikus sou Gertruidus met sy lewe beskerm. Moet egter nie verkeerd verstaan nie. Gertruidus was geen poprok nie. Hy was ’n bedrewe perderuiter en fris gebou. Met die verpakking en voorkoms het niks geskeel nie. Dis maar net die bedrading wat anders was.

Toe moet Levitikus sy stewels gaan volstaan. Diensplig. Oudtshoorn. Net voor hy moet Angolagrens toe, kry hulle sewe dae pas en hy is terug op die plaas. Salmonella sien ’n nuwe mens voor haar staan en Sitronella slaan haar hande saam, want Levitikus is nou grootman.

Een middag kry hy hoeka sy pa, ma en ouma byeen in hulle voorhuis. Oupa is iewers, die meisiekinders leer en Gertruidus skuil oudergewoonte wie weet waar.

“Pa ... Ma,” sê Levitikus, en Salmonella voel haar keel trek toe, want die seun het nog nooit so ernstig geklink nie, “julle sal iets moet doen. Iets baie dringends. Daar is nie ’n manier wat Gertruidus weermag toe kan gaan nie. Hoor nou vir my. Hy sal dit nie maak nie.”

“Nou maar hoe ... Wat ...? Die weermag sal van hom ’n man maak.”

“Hy sal dit nie oorleef nie, Pa. Ek het daar sterker outjies gesien as my broer wat net sommer opkrêk. Party ouens word na die detensiebarakke gestuur as hulle oortree het. Hulle kom gebreek daar uit. Drie is ontslaan om na Valkenburg toe te gaan en een ou het homself met sy seilbelt opgehang. Dit was vir ons ’n fo ... ’n groot skok en nou moet ons nog op die grens gaan oorlog maak. Julle móét iets doen.”

“Maar wat? Ons ... hy ... kan tog nie die wet vryspring nie.”

“Daar moet maniere wees. As julle lus het om begrafnis te hou vir Gertruidus, laat hom diensplig doen.”

“Ja,” laat Sitronella toe van haar hoor, “die kind is juis so fynbesnaard.”

“Ag, Ma,” stribbel Lodewikus teë, “hy is eerder vol draadwerk.”

Vir ’n oomblik skrik Salmonella haar yskoud, want sy dog haar man sê ’n ander woord. Dis min of meer waar die gesprek doodloop, maar Levitikus het bly broei.

Daai selfde middag nog soek ou Pannevis naarstiglik na sy kamaste wat hy dekades laas gedra het, want hy wou dit vir Levitikus gee. Of hy gedink het sy kleinseun kan dit saamvat grens toe, het Sitronella nie geweet toe hy haar gesê het dis wat hy gaan doen nie. Hy krap orals en in alles. Einde ten raad stap hy na die stoor en toe hy die groot ou muurkas se deur ooptrek, spring die sewentienjarige Gertruidus met ’n groot gedruis uit die kas uit. Pannevis het so geskrik, hy het op die daad aan ’n hartaanval beswyk. Baie oupas skrik as ’n kleinseun uit die kas spring, maar darem nie so erg soos Pannevis nie.

Gertruidus was in diepe rou en berou. Al was hy nie sy oupa se witbroodjie nie, wou hy hom darem nie sy dood besorg nie. Maar Sitronella het getroos. Sy het dan so goed geweet Gertruidus kruip meesal in daai kas weg. Hoe kon Pannevis dit nie weet nie? Nee wat, sy tyd was sy tyd. Nes Pannevis perde omseil het, het Gertruidus ook nooit weer in die kas geklim nie. Vanselfsprekend.

Die eintlike kap van die byl was dat Sitronella summier die vrolike weduwee kon wees. Sy was nege en vyftig en uiters goed versorg en het vir amper veertig jaar hongerte en dors gely. Sy was ’n voorslag boer- en huisvrou, ’n uithalerkok en tuinier van faam, maar sy kon haar nooit so ver kry om liggaamlik van selfbediening gebruik te maak nie.

Op sy aandrang word Gertruidus se agtiende verjaardag nie juis waffers gevier nie. Hy verkry egter daarmee stemreg en kry sy bestuurderslisensie ewe maklik, buiten dat hy nie ’n eie voertuig het nie.

Op ’n ander dag, so vier maande na Pannevis se oorlye en roerende roudiens, sit Sitronella en haar dogter in Papadopoulotropoulus, die Griek, se hoekkafee en koffie drink. Dit was die enigste plek anders as by haar eie huis of by haar dogter waar Sitronella koffie gedrink het. Die Griek het geken van.

Stap daar toe ’n man van so iewers tussen 25 en 28 by die deur van Papadopoulotropoulus, die Griek, se hoekkafee in. Een van daardie soort mans wat as hy by ’n deur inkom, summier al die vroue se broeke laat afval. En dalk ’n paar mans s’n ook. Nie net is hy doodneerslaan-aantreklik nie, sy persoonlikheid stap hom vooruit en sy breë glimlag is magneties. Deur sy klere kan ’n mens sien dat hy soos ’n Olimpiese swemmer gebou is.

Sitronella hyg. Sy voel hoe die gloede deur haar spoel. Dit lei tot bosbrand. Langs haar stik haar dogter Salmonella in haar koffie. Al die kafeegangers en die werkers is stil en staar na die blonde boereweergawe van Apollo Adonis Narcissus Paul Newman James Dean algar ineen.

“Goeiemiddag,” sê die god in ’n moerkoffie-gesmelte, sjokolade-warm heuning bariton. Al die vroue voel hulle eierstokke klap hande. “Ek is Langerhans van Wouw en ek is die nuwe geneesheer op die dorp. Ek het ou dokter Truter se praktyk gekoop.”

Veldbrand. Gewoonlik word inkommers met agterdog bejeën, maar binne dae ontwikkel al wat vrou op die dorp en in die distrik ’n kwaal waarvan selfs Switserse spesialiste nog nie gehoor het nie. Maar jong dokter Langerhans van Wouw is hoogs professioneel en eties. Hy het Petro de Bod wat voorheen in George verpleeg het, aangestel om hom by te staan telkens as hy ’n vrou moes ondersoek. Die paar manne wat noodgedwonge ’n doktersbesoek moes aflê, het gehoop Petro, wat ’n aanvallige jong vrou was, sou met hulle ondersoeke ook bystaan, maar hulle het bedroë daarvan afgekom.

Nog daai middag daar in Papadopoulotropoulus, die Griek, se hoekkafee hoor Salmonella haar ma hyg.

“Ma, gedra jou!” sis sy. “Ma is oor ’n maand sestig en die klong is seker nog ver van dertig!”

“Ouderdom is nie ter sake nie. Maar wat van jou? Jy is een en veertig, getroud met ’n hupse man en jy sit hier en jeuk. Gedra jý jou.”

Kom die goddelikheid verby hulle tafel en onmiddellik praat Sitronella.

“Goeiemiddag, dokter Van Wouw. Ek is Sitronella van Stootgare ... en dis my dogter Salmonella Uittenbroek. Aangename kennis.”

“Bly te kenne, dames!”

“Is daar ’n mevrou Van Wouw?”

Langerhans lag. Dit klink soos ’n Switserse klokkespel. “Nee, daar is nie.”

“Nou maar dan moet u sommer eersdaags een aand by my ... by ons kom eet.”

“Dit sal baie aangenaam wees, dankie, mevrou Van Stootgare.”

Hy wil aanstap om met die volgende tafel se mense te gesels, maar sy keer hom. Haar stem is drie registers laer as gewoonlik.

“Jammer dat ek so invra, dokter, maar is u verwant aan Anton van Wouw, die beeldhouer?”

“Verlangs, ja, mevrou.”

“Ag, los tog maar die mevrou. Hou sommer by Sitronella. Ek het ’n groot skilderyversameling, maar helaas geen beeldhouwerk nie.”

“Ek sal dit graag wil sien.” Hy glimlag sy betowerende glimlag en stap dan tog aan.

Na ’n redelike geredekawel kom Sitronella en Salmonella ooreen dat hulle dokter Langerhans van Wouw eers na Nuutgevonde sal nooi vir ete en by ’n verdere geleentheid dan na Sitronella se Leef op Hoop.

“Dis effens onbehoorlik, Ma, dat jy as weduwee die jongman na jou toe nooi.”

“Maar julle sal mos by wees.”

“Nogtans. Hy kan eers by ons kom eet en later ma se skilderye betrag.”

“Ek is ’n beter kok as jy, Salmonella.”

“Dan is dit juis geskik dat hy eers na ons toe kom. Anders sal my armsalige kossies darem vir hom agterna te ’n groot teleurstelling wees.”

“Nee, dis nou nie hoe ek dit bedoel het nie.”

So word dit toe ’n Saterdagaand en die nuwe geneesheer aanvaar die uitnodiging na die Uittenbroeke van Nuutgevonde. Daar is nie eens verneem of hy ’n metgesel wou saambring nie. Die hele gesin en ouma sit uitgevat in die voorhuis en wag op sy aankoms. Hulle hoor die motor stilhou, maar sit nog. Alhoewel die geelhoutdeur oopstaan, klop hy baie ordentlik.

Lodewikus en Salmonella stap vorentoe.

“Goeienaand, dokter Van Wouw.” Gul en guitig. “Ontmoet my man Lodewikus Uittenbroek.”

Die manne skud hande en dan stap die drie na die voorhuis. Sitronella is eerste by en stop kort duskant ’n omhelsing en ’n soengroet. Die tweeling is so opgeklits, hulle stoei nader.

“Dit is ons tweeling Spirulina en Semolina. Kyk goed. Hulle is identies, maar Semolina het vlekkies in haar oë.” Die bakvissies giggel en bloos en hakkel en hik. Sowat van manlike skoonheid het hulle nog nie voorheen gewaar nie.

Toe is dit Gertruidus se beurt. Hy groet. En toe begin hy bewe. Hy bibber. Hy skud en sy asem slaan vas in sy keel, sy gesig is lakenwit en sy oë rol om in sy kop en hy buig agteroor en syg neer. Goddank kan dokter Langerhans hom vang net voor hy sy kop des moers teen iets kap. Hy is in ’n beswyming.

Geskok staar almal na hom.

Dan blaf dokter Langerhans van Wouw bevele. “Meneer Uittenbroek, kry asseblief my tas in my motor buite. Mevrou Van Stootgare, sal u asseblief vir my ’n lap met lou water natmaak. En mevrou Uittenbroek, neem ons na sy kamer, asseblief. Meisies, vat elkeen ’n voet. Ek sal hom onder sy arms dra. Nee, nee, julle twee moet voorloop en dra sodat julle langs hom loop. Nie agteruit nie. Vorentoe.”

Hulle sit Gertruidus versigtig neer op sy bed. Hy steun en dit lyk asof daar effens skuim om sy lippe is. Lodewikus is dadelik by met die dokterstas en Sitronella ook met die lap.

“Dokter,” vra Salmonella beangs, “is dit stuipe?”

“Of dalk vallende siekte, dokter?” verneem haar ma.

“Ek sal vasstel as julle ons so ’n bietjie privaatheid gun.” Veral die tweeling is teleurgestel, maar verlaat die vertrek net so bedees soos die ander en trek die deur agter hulle toe.

In die voorhuis is daar vir die eerste keer in ’n lang ruk stilte. Elkeen sit met eie gedagtes of kommer. En die arts bly weg. En hy bly weg. Tot almal, maar veral Sitronella en Salmonella se ontsteltenis. Sy breek die swye.

“Lodewikus, moet jy nie gaan kyk nie?”

“Nee, vrou. Die man het gevra ons moet hulle uitlos.”

“Maar, nee, magtie, skink dan vir ons ’n drankie, Lodewikus. Ons kan nie almal hier met gebarste lippe sit nie.”

“Reg, ma.”

Salmonella begin vrees haar seun het ’n ongeneeslike kwaal. Hulle drankies is lankal op wanneer dokter Langerhans van Wouw te voorskyn kom.

“Jammer dat ek julle so lank moes laat wag. Ek vertrou u kos kon behoue bly, mevrou.”

“Die kos is die minste. Ek het alles in die lou-oond. Vertel onmiddellik vir my wat my kind makeer.”

“Ja, is alles wel met ouma se kind?” Vir Sitronella is die geneesheer te ontspanne dat dit ’n rampspoedige krankement kan wees. Of dalk is hy maar altyd so in beheer van sy gevoelens?

“Was dit stuipe, dokter?” vra Spirulina. “Of was dit vallende siekte?” vul Semolina aan.

“Nou, dit is op hierdie tydstip nog vir my moeilik om volledig te diagnoseer. Stuipe gaan meesal gepaard met hoë koors wat die spiere in spasma laat gaan en rukbewegings veroorsaak. Gertruidus is nie siek nie, dus is dit onwaarskynlik. Vallende siekte, of dan eerder epilepsie, is in die brein en daar kan baie oorsake wees. Hy kon selfs net ’n baie erge paniekaanval gehad het. Ek sal nog toetse doen en gereeld ’n ogie oor hom hou. Op die oomblik is hy heel rustig. Dalk slaap hy selfs ’n rukkie. Los hom maar. Ek het hom ’n baie goeie ... en baie deeglike inspuiting gegee.”

“Sal ons dan maar aansit?” wil Lodewikus weet. “Wit- of rooiwyn, dokter?”

“Rooi, dankie.”

Hulle stap deur na die eetkamer, gaan sit en Lodewikus vra die seën. Hy vra ook vir ’n beskermende hand oor Levitikus wat iewers op die grens veg en vir Gertruidus wat ongesteld is. Dan lui Salmonella die klokkie. Oomblikke later verskyn Menjolyn in netjies gestyfde uniform, voorskoot en kopdoek met die voorgereg. ’n Gestoomde varkvleiskoolfrikkadel met ’n mosterdroomsousie.

Wanneer almal klaar is, lui Salmonella weer die klokkie en Menjolyn kom om die bordjies en eetgerei te verwyder.

“Dokter, ons verkies om so ’n twintig minute te wag voor ons die hoofgereg eet. Pas dit u?”

“Ai, jinne, mevrou, los tog maar die gedokter. Noem my sommer Langerhans. Of selfs Hans, as u verkies. Ons is tog nie nou in die spreekkamer nie.”

Salmonella blom. “As jy my dan Salmonella noem, ja. Tog net nie tannie nie. Vir hom kan jy maar sê oom.”

Haar man snorklag net. Haar ma bly egter nie agter nie. “Ja, asseblief, sommer Sitronella soos ek laas gesê het.” Sy en haar dogter kyk, ten spyte van die arts se gerusstelling, kort-kort in die rigting van die gang.

Asof geroep, kom Gertruidus by die eertkamerdeur in. Hy het ander klere aan as vroeër, baie gemakliker, en op sy wange is ’n blos. Hy kyk nie op nie en gaan sit. “Jammer dat ek laat is.”

“Voel jy nou beter, my kind?”

“Baie. Dankie, ouma.”

Sitronella beskou hom deur skrefiesoë. Iets aan hom is anders. Nie soos met Levitikus wat meer gehard en harder daar uitsien nie, maar anders. Rustiger. Dit moet die uitwerking van dokter Langerhans van Wouw se baie goeie en baie deeglike behandeling en inspuiting wees.

Menjolyn bring die hoofgeregdisse op ’n silwer trollie en pak dit uit op die warmskinkborde op die antieke buffet.

Vir ’n stonde onderskep Sitronella die kyk tussen Gertruidus en Langerhans. Dis asof ouma se kind se wange selfs rooier word, sy oë is effe klam en om die mond wil-wil ’n glimlag speel. Dan sak daar ’n gerustheid oor die grootmoeder, van haar kop regdeur haar lyf, wat sy nouliks self kan verklaar.

“Langerhans,” voer sy aan, “as Gertruidus nou aan so ’n omstandigheid ly, sal hy mos nooit weermag toe kan gaan nie.”

Dokter Langerhans is vir ’n oomblik stil asof hy nadink. Hy kyk na Gertruidus en sy wenkbroue lig. “Nee, Sitronella, hy sal nie. Heelwaarskynlik sal hy gereelde behandeling moet kry ... Die Weermag sal hom vryskeld. Laat dit aan my oor. Ek sal al die nodige sertifikate voltooi.”

Gertruidus het nooit weer in die kas gaan wegkruip nie.

The post Kaskenades first appeared on LitNet.

The post Kaskenades appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Trending Articles


LêNet: Seks


LêNet: In die tent


Taalgebruik: lei, ly


Die beste tyd van my lewe


’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans...


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 6: Afrikaans Huistaal, September, oefenvraestel 2


T Minus …. 6


Ken jy bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se regte naam?


7 waarskuwingstekens wat jou lippe jou gee