“’n Tjoppie vir die pot” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
’n Tjoppie vir die pot
Dinge kom na mens sonder dat jy daarvoor vra. Dis hoe die weerwolf na my gekom het. Hy het vir die courier-maatskappy gewerk, en ons het twee deurmatjies bestel.
Die wese wat die pakkie na my uitgehou het, het my dadelik opgeval. En dit was nie net omdat ek so eensaam was nie. Ek was gewoond daaraan. Dit was sy lyf wat hitte uitgestraal het soos ’n oond as mens iets in dit gebak het en jy dit oopmaak. En hy was harig. Sy borshare het voor uit sy V-nek-hemp gestoot en sy hare en baard was dig. Iets in my het wakker geword op die plek.
Hy moes dit gevoel het. Vibes gee mens weg. Toe ek instap in die huis, het ek gebewe. “Fokken hel!” Dit moes Bennie wakkergemaak het, want hy het gesteurd gemompel. Hy het laat gaan slaap weens sy gedrinkery. Hy was egter nou wakker, dus het ek hom die low-down gegee. “Die delivery man is ’n weerwolf. Jy moet hom sien.” “’n Weerwolf?” Hy’t by voorbaat vies gelyk, maar ek het voortgeploeg. “Sy borshare staan op soos ’n flokati-mat.” Het ek ’n gesprek verwag? Ons is al dertig jaar saam en hy chat nie. Sy aandag was in elk geval by die matte.
“Hoe lyk die matjies?” “Seker maar soos matte. Reghoekig en grof,” het ek geantwoord. Ek was omgekrap. Die dag het so goed begin en nou het daai ding weer gebeur. Dit het seker tien jaar laas gebeur dat ek so reageer op iemand. Ek dog ek is uiteindelik in beheer van myself. Ek het myself probeer herinner aan die skakering van die lug. Dit was Pierneef-blou toe ek net na ses gaan stap het na die rivier. Daar het pofwolkies deur dit gedryf en voëls met rooi borsies het gery op die riete. Maar nou kon ek dit skaars onthou.
Hierna het die harige jongman byna daagliks aan ons deurklokkie gelui. Couriers kry gebiede. Ons huis was nou syne, soos ’n gebied ’n kat s’n kan wees. En elke slag as hy by die hek was, het my lyf gereageer.
Die weerwolf, soos ek hom in my kop gedoop het, het my lewe oorheers. En ek kon nie vir Bennie sê hy moet die deliveries hanteer nie, want hy was oorweldig. En ek praat nie nou van sy drinkery nie. Ek praat van die mushrooms. ’n Plantasie van die goed het weer begin groei uit ons badkamermuur.
Die mushrooms het uit dieselfde plek opgestoel kort nadat ons hier ingetrek het. Ons het ’n handyman gekry. Hy het die mushrooms “doodgemaak, Mevrou”. Ek kan nog in my kop hoor hoe hy die woord “Mevrou” uitrol asof dit hom plesier gee.
“Dis ’n plantasie,” het Bennie opgemerk, en daar was iets soos ontsag in sy stem. Hy het sy neus gefrommel. “Ek ruik hulle. Kan jy?” “Ja. Dit ruik soos toe ons in die woud gestap het.”
“Gelukkig kom hier nie mense by ons nie,” het Bennie gesê. “Ongelukkig,” het ek hom in my kop gekorrigeer. Ek het my geel rubberhandskoene aangetrek en die mushrooms uitgetrek en in die vullisblik oorkant die pad gaan gooi. Toe ek terugstap, het die buurman vir my gestaan en kyk.
Ek dink steeds hy is die etter wat die before and after-foto’s van ons sypaadjie geneem het en gesit het in ons posbus. Dit was onkruidloos voordat ons ingetrek het. En sedert ons ingetrek het, oortrek met duiwelsdorings. Daar was ’n link tussen ons en die gemors, dit was sy punt.
Bennie het bly tob oor die mushrooms. Hy het gesweer hy kan hoor hoe die mushrooms ritsel. Hoor ek hulle nie? Ek het weer getob oor die weerwolf en my reaksie op hom. Ons het byna elke dag aflewerings gekry, want Bennie doen alles aanlyn. Hy hou mos nie van mense nie. En elke slag was dit so ongemaklik. Ek met my muisgesig en my vibes, en die jongman wat afkyk eerder as om na my te kyk. Was hy so by ander mense ook?
Een maal was die weerwolf voor agtuur die oggend by ons en ek het sonder lipstick die hek oopgemaak. Ná daardie oggend het ek vroeër aan die gang gekom. Bennie het dit agtergekom. “Is jy alweer verlief?” het hy gelag toe hy een oggend my kry voor die badkamerspieël besig om rooi lipstick aan te sit. Hy’t nie vir ’n antwoord gewag nie, net gesê: “Uit! Ek wil pee!”
Op ’n dag was daar ’n ander courier by die hek. Hy was skoongeskeer en die lug was nie elektries nie. Ek het gebrand om te vra waar die weerwolf is, maar ek kon nie aan die regte manier dink om die vraag te stel nie. Alles waaraan ek gedink het, het verkeerd geklink. “Waar is jou harige kollega?” het ongeskik geklink. So ook: “Waar is die man met die borshare? Het julle nou ’n reël dat couriers skoongeskeer moet wees?”
Daar was ’n swarigheid op my bors. Dalk was ek besig om siek te word? “Is jy depressed omdat jou kêrel nie meer kom nie?” het Bennie gevra. Hy’t orals oë, dink ek soms, hy is meer soos ’n seekat as ’n mens. Dalk kan hy goed sien in sy slaap. “Hoekom probeer jy nie eerder geld verdien nie? Die burden is heeltemal op my,” het hy gekla. Dit was waar. Ek het nog af en toe stories geskryf vir ’n koerant, maar ek kon harder probeer.
Daar was goed om oor te skryf in die omgewing. Een van die boere het gekla dat hy groot skade het. Sy skape word gesteel en soms gemutileer. Was dit die werk van diewe? Of was dit ’n rooikat?
En toe mail ’n oud-kollega by die koerant my. Sy het ’n gewoonte gehad om laataand vir my tips te stuur. Ek het vermoed dit was nadat sy gedrink het, want haar emails was dan altyd bitchier as gewoonlik. Ek het haar met ’n blink whisky-gesig voorgestel, en voorgestel hoe sy proeslag terwyl sy vir my tik: “Hier’s vir jou ’n tjoppie vir die pot! Jy hou mos van sappige stories!”
Hierdie slag het sy vertel dat een van die dorp se ryk vrouens bekommerd is oor haar seun, en met rede. Hy is onlangs op ’n skaapboer se plaas gevang, onder omstandighede wat net as verdag beskryf kan word. Sal ek belangstel om die storie op te volg vir die koerant? “Jy weet seker van die mutilasie en diefstalle op sy plaas? Krap bietjie rond en kyk wat jy kan kry. Dit kan ’n sappige storie wees.
Confirm vir ons of die seun op drugs is (ek hoor hy is) en of hy dalk ’n persoonlikheidsverandering kry wanneer hy op hulle is? Of doen hy dit vir ’n kick? Hy’t tog sekerlik nie geld nodig nie. Mamma en Pappa is ryk. Ek hoor hy het die afgelope ruk gewerk as courier. Jy het hom dalk gesien? Hy is nogal oulik, dis nou as mens van harige mans hou. Ons hoef vir eers nie name te noem nie, so moenie daaroor worry nie.”
Ek het ’n ruk lank na die rekenaarskerm gestaar. Dit was byna nie ’n storie nie. Net ’n skinderstorie, eintlik, en dit was oor my weerwolf. Ek moes dit oppof en in ’n behoorlike storie maak wat mense sou laat regopsit, en sê: O genade, there but for the grace of God go I. En wat sou ek kry vir dit? Nie veel nie. Ek het lank so gesit en dink.
Dit het by my opgekom dat my voormalige kollega ’n jagter is, ene wat hou van mensvleis. En ek kon nie bekostig om op haar tone te trap nie. Ek het vir haar geskryf en gelieg dat ek onder die weer voel. “Ek gaan die slag uitsit. Maar dankie dat jy aan my gedink het.” Versigtige woorde. Dit sou haar verras. Sy’t gedink ek sal spring vir enigiets. My koerantstories het gewemel van bloedskande en spoke en moord en roof. Meteens het dit my moeg gemaak om net daaraan te dink.
Die storie oor die skaapdiefstalle en mutilasie het doodgeloop. En van die kastige hofverskyning van die harige kind het niks gekom nie. Ek het eenmaal sy ma by die slagter gesien en oorweeg om ’n geselsie aan te knoop, maar die kans het verby gegaan.
’n Gedagte het by my opgekom. Die weerwolf was dalk banger vir my as wat ek vir hom was? Dalk was ek, met my geskiedenis van drama, die ware wolf in die verhaal? Dalk was hy ’n skapie? Sy voorkoms het dit tog gesuggereer. En my tyd van skape jag en slag was, wat my betref, verby.
’n Paar maande later het ek vir Bennie voorgestel dat ons trek en “gaan soek vir ’n sonskynplek”. Ons is daar weg. En die herinneringe aan die huis met sy mushroom-woud en elektriese lug en die eindelose aflewerings deur die couriers het mettertyd vervaag, asof dit met iemand anders gebeur het.
Lees ook:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
The post ’n Tjoppie vir die pot first appeared on LitNet.
The post ’n Tjoppie vir die pot appeared first on LitNet.