
Foto: bloedbek.wordpress.com
Negentien jaar al gewaar sy hom, skrams uit die hoek van haar oog. Hy verouder soos ʼn lewende kind, kom sy agter. Eers lyk hy soos toe hy uit haar gekom het, destyds in die Mullers se huis: ʼn patetiese pers hopie bene, bloed en slym. Roerloos soos ʼn bevrore hoender.
Mettertyd beur hy regop, kruip hy, waggel hy, begin hy hardloop. Kieriebeentjies en kwêvoëlkuif aan die buiterand van haar gesigsveld. ʼn Doodgewone seunskind, maar sinister. As sy haar kop in sy rigting draai, is daar niks. Niks.
En nou staan hy voor haar. Uitgegroei. Dis donkermaan en haar buurt ly onder beurtkrag. Sy het nie die kombuisdeur oopgesluit ná die gebiedende klop nie, maar die dooies steur hulle nie aan slotte nie. Die enigste beligting is ʼn stotterende kers op die toonbank.
Sy sou hom enige plek herken. Hy is sy pa uitgeknip: lank, skraal, met ʼn weerbarstige kuif en koue oë. ʼn Lem flits flou in die kerslig.
Sy was in matriek toe sy van die windpomp afspring om hom af te skud. Sy reken sy is ses maande ver en die skooltrui en -baadjie verbloem nie meer die klein, harde boep nie. “Jy’t lekker gestoel die vakansie, jou hoogspringdae is verby,” het meneer Muller, die atletiekafrigter, smalend gesê nadat hy haar op en af gekyk het. Hy was nog meer minagtend as gewoonlik, want hy het groot verwagtings van haar gekoester.
Hy was haar held, haar folteraar, haar Svengali. Geen poging was ooit hoog genoeg nie, al het sy alle rekords verpletter. Sy kil oë het haar gyselaar gehou.
Net een maal was sy stem sag. Dit het haar laat smelt. Stockholm-sindroom. Dit was in die losieshuis op Ermelo, die nag toe hulle oorbly ná die interskole, waar sy weer eens die rekord gebreek het. In die maanlig staan hy in haar kamer. “Marlene. My meisiekind. Meneer is so trots op jou.” Kruip by haar in. Huil, fluister. Sy vrou verstaan hom nie. Sy vrou is onvrugbaar, kil. Marlene is ʼn koors in sy lyf. Marlene is die mooiste ding op godsaarde.
Dit het net een keer gebeur. Daarna begin die kind groei soos ʼn kanker. Sy steek haar kop in die sand tot dit hopeloos te laat is. Atletiek is al wat sy het. Dis haar kaartjie uit die kinderhuis. Sy beskik oor buitengewone veerkrag, ʼn fyn skelet, rustelose, lang bene, voete wat wil vlieg.
Die vlug van die windpomp af skeur haar Achilles-sening. Sy sou nooit weer hardloop of spring nie. Dit skeur ook die fetus uit haar moer. Daar is baie bloed. Sy kruip na meneer Muller se huis agter die kinderhuis. Dis nie hom wat sy soek nie, maar sy vrou, Elize. Die naaste aan ʼn moederfiguur wat sy ooit geken het. Elize is net vyf jaar ouer as sy, ook ʼn kinderhuismeisie, en in daardie onherbergsame plek het sy haar oor Marlene ontferm. Maar nadat sy met meneer Muller getroud is, word sy stil en eenkant, en verloor sy en Marlene kontak.
Elize maak die deur oop, gee haar een kyk en sê: “Marlene’tjie. Jy’s in kraam. Dis Manie s’n. Jy is nie die eerste een nie.” Sy kook water op die stoof, gaan haal handdoeke. Later, ná die onbeskryflike pyn, wys sy vir Marlene die ten volle gevormde bondeltjie mens, voor sy hom soos ’n dooie kat in die tuin gaan begrawe.
Sy neem Marlene hospitaal toe. En verdwyn vir ewig. Manie Muller skiet homself die volgende oggend.
Ná sy ontslaan is, bly Marlene aan in Piet Retief, soos ʼn hond by sy braaksel. Dis al wat sy ken. Sy gaan bly tydelik in die Mullers se huis wat niemand wil koop nie. Dit word permanent. Plant blomme in die tuin en wonder waar die graffie is. Niemand praat daaroor nie, in elk geval nie voor haar nie, en niks word uitgespel nie. Sê niks, dan is daar niks.
Sy begin in die koöperasie werk. Sy boots ʼn lewe na. Elke aand 7de Laan en sjokolade. Sy gaan nooit uit nie, trou nooit. Sien altoos die seun uit die hoek van haar oog.
En hier staan hy. Manie Muller se ewebeeld. Agter die huis weeklaag die verroeste windpomp, soos die aand toe sy gespring het. Haar stem is skor: “Daar is niks wat jy aan my kan doen nie. Spoke moor nie lewendes nie. En eintlik is ek al lankal dood.”
Sy lag is bekend. Hol en neerhalend. “Moeder. Jy is soos in só verkeerd. Jy’t dit nie reggekry om my vrek te maak nie, surprise surprise. Elize het my weggevat Joburg toe en grootgemaak. Sy’t haar bes gedoen, net jammer jou cruelty het ʼn gat gelos waar my siel moes wees. Ek het oor en oor haar hart gebreek en haar eventually uit haar misery verlos. Soos ek met jou gaan doen. Ek is die angel of mercy. Dis op jou rekening.”
Sy het nooit die moed vir selfmoord gehad nie, al wou sy. Maar skielik, op die drumpel van verlossing, ontwaak ʼn oorlewingsdrang. Sy wil lewe; vir die eerste keer in twintig jaar.
Haar ferm stem laat die meshand in die lug bokant haar strot vries. “Ek is jammer. Maar ek het nuus vir jou, seun. Dis nie my sprong wat van jou ʼn psigopaat gemaak het nie. Ek dink dis maar jou pa se gene. Die appel het nie ver gerol nie.”
Die ligte gaan aan. Sy arm gaan hang slap langs sy skraal lyf. Hy draai om. Sy skouers is krom en sy opstaankuif wip. Haar baarmoeder trek saam. Hy belowe in die wegstap: “Ek soos in sien jou, Mommy Dearest. Check maar oor jou skouer. Vlees en bloed is scarier as spoke.”