Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Die laaste diamant | Wetenskapfiksiekompetisie

$
0
0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

Die laaste diamant

“Help my.”

Hulle kyk nie eens in sy rigting nie.

Hy struikel.

“Help.”

Het hulle hom hoor val? Of die vaal stof sien optrek? Miskien het daar tog klank deur sy vernoude lugpyp ontsnap.

Iemand draai hom op sy rug. Dis die vrou. ’n Koel hand vee die sand van sy gesig af. Nie uit simpatie nie, weet hy, maar om ’n volledige mediese analise te kan doen. Binne die paar sekondes wat daar kontak met sy vel was, weet sy alles van hom af. Van hoeveel suurstof in sy bloed is tot waar hy gebore is.

“Barend Pienaar. Kimberley, Oktober, 2331. Kroniese asma. Ernstige dehidrasie,” sê sy emosieloos.

Hy word moeiteloos opgetel en by die skuiling ingedra met die twee mans kort op haar hakke.

Terwyl hulle om hom werskaf, probeer hy hard om nie te staar nie. Hulle oë is regtig dood, net soos wat sy oupa vertel het. Hoe kan mens dan ’n siel hê as jy in ’n laboratorium gemaak is?

Hier in Noord-Kaap is daar nie so baie Plasmatio’s nie. Hy het hulle nog net so in die verbygaan soms opgemerk. Dis meer in die groot stede waar hulle woon. Johannesburg. Kaapstad. Durban. Hierdie superwesens het net so onverwags verskyn soos die Tweede Renaissance.

Oor een ding kan hy ten minste seker wees: Hulle sal sy lewe red. Dis in hulle DNS in verweef – saam met al die tegnologiese wonders en supergene wat hulle so te sê onsterflik maak. Die rede vir hulle bestaan is om die mensdom van totale uitwissing te red. Of altans, so word daar gesê.

“Die geskiedenis herhaal homself keer op keer. Die mensdom val, dan staan hy uit die stof uit op en klim so hoog dat die volgende val harder en verder is. En so gaan dit aanhou totdat daar niks meer van ons oor is nie.”

Sy oupa het grootgeword in die laaste jare van die Donker Eeue. Hy’t geweet waarvan hy praat.

Die drie Plasmatio’s volg die stappe deeglik soos wat dit in hulle gedagtes vir hulle voorgelees word. Maak sy lugweë oop. Rehidreer hom. Ontsmet sy wonde. Behandel die sonbrand.

“Hoe voel jy nou?” vra die vrou as hulle klaar is.

“Soos ’n nuwe mens, dankie,” antwoord hy.

“Waarheen was jy op pad?” vra een van die mans.

Die woord “was” gaan lê soos ’n klip in Barend se maag. Hy was op pad. Nou is hy nie meer nie. Hulle het sy lewe teen ’n prys gered.

“Ek het verdwaal,” antwoord hy.

Dit help nie om te jok nie.

“Op pad waarheen?”

“Kleinzee toe.”

Hulle kyk na mekaar.

“Is jy deel van die navorsingspan?” vra die vrou.

Is sy besig om naamlyste deur te gaan?

“Nog nie.”

“Hy is dokter Pienaar se kleinseun,” merk een van die mans op.

Dis ’n belangrike brokkie inligting.

“Ja,” beaam die vrou. “Ek sien so. Dis waarom ek vra.”

“Jou oupa is dood,” deel die ander man hom mee.

“Ek weet,” antwoord Barend versigtig.

“So, wat wil jy dan daar gaan doen?” vra die vrou.

Barend probeer oogkontak vermy. Weet hulle waarna sy oupa tussen Kleinzee se murasies gesoek het?

“Julle weet seker ook dat ek pas klaar as argeoloog gekwalifiseer het, nè? Dis dan seker vanselfsprekend dat ek die terrein sal wil besoek waar hy die laaste twintig jaar van sy lewe gewerk het.”

“Ja, dit is. Maar waarom te voet?” vra die vrou.

Want die Plasmatio’s weet alles van jou die oomblik wat jy jou voete in ’n Migro sit. Dís waarom. Wat hy egter nie verwag het nie, was dat hy hom hier in die middel van die Karoo in hulle gaan vasloop.

“Ek ken die Namib …”

“Julle dink julle gaan nog lank kan loop waar julle wil sonder dat ons dit weet. Maar ons is besig om daaraan te werk,” sê sy.

Het Barend hom verbeel, of was daar ’n sweempie emosie in haar stem? Sarkasme? Sadisme?

Emosie is goed. Dis emosie wat hierdie onverwagse ontmoeting kan laat werk.

“So, waarom wou jy nie hê ons moet weet jy gaan Kleinzee toe nie?” vra een van die mans.

Barend antwoord nie.

“Jy kan bly wees ons was hier, anders was jy ook nou dood,” sê die ander man. “Om te verhoed dat so iets weer gebeur, gaan ons jou in ’n Ark laat plaas.”

“Of julle kan net vir my ’n Migro reël wat my van hier af veilig tot in Kleinzee sal bring,” stel Barend voor.

“Dit is buite die kwessie,” antwoord die vrou.

“Ek weet julle bedoel dit goed, maar ek is regtig nou sterk genoeg om te gaan werk. En dis te danke aan julle deeglike versorging. Regtig briljant. Ek is beïndruk.”

’n Effense glimlaggie speel om die vrou se mond. Verwaand. Die mans bly egter uitdrukkingloos. Hulle is klaarblyklik immuun teen ’n heuning-om-die-mond-smeerdery.

“Daar is plek vir jou in Bloemfontein se Ark,” sê een van die mans.

“Bloemfontein? Maar dis te ver … Ek … my familie …”

“Dis die naaste opening,” antwoord die vrou.

“Kyk, ek belowe ek sal nie weer die woestyn invaar nie. Laat my net na die terrein toe gaan, asseblief!”

“Jou lewe is belangriker. Ons kan nie daardie kans waag nie.”

“Julle sal as julle weet waarom ek soontoe op pad was!”

Dis uit voor hy homself kon keer. ’n Desperate laaste poging. En tog, dalk juis ’n gelukkige wending van sake.

Hulle oë staar tot in sy siel.

“Verduidelik,” beveel die vrou.

Daar’s nie nou omdraaikans nie.

“Ek vermoed my oupa het dít gevind waarna hy sy lewe lank gesoek het,” antwoord Barend blindelings.

“Die laaste diamant?”

So, hulle weet.

“Dis ’n kodewoord. Hy moes sy eintlike missie geheim hou,” antwoord Barend.

“Hoekom?” vra die vrou.

“Want in die verkeerde hande kan die laaste diamant ’n wêreldkrisis veroorsaak.”

“Verduidelik,” beveel sy weer.

“Voor die Donker Eeue was daar ook Plasmatio’s. Beter. Slimmer. Meer gevorderd ...”

“Dis net ’n mite. Ons is ’n skepping van die Tweede Renaissance,” sê een van die mans.

“Nee, dit is nie. Die mensdom was tegnologies baie meer gevorderd as wat hulle nou is. My oupa het sy lewe daaraan gewy om dit te bewys. Hy’t geglo dat hy nog iewers die kodering kan opspoor,” verduidelik Barend.

“Die kodering waarmee daardie Plasmatio’s geprogrammeer is?” vra die vrou.

Hy hét haar.

“Ja. Die kodering en chemiese formules waarmee superwesens gekweek is. ’n Kombinasie van kunsmatige intelligensie en genetiese manipulering saam met bioniese organe wat –”

“Dis presies wat ons is,” val sy hom in die rede.

“Ja, maar hierdie was voor die Donker Eeue. Julle is ’n weergawe van die eerste Plasmatio’s wat in die 2070’s ontwikkel is. Hierdie program waarna my oupa gesoek het, is teen die einde van die 21ste eeu ontwikkel. Dis ’n baie beter een.”

Daar is stilte soos wat hulle die inligting verwerk.

“Ons moet die laaste diamant gaan onderskep,” sê die vrou uiteindelik.

“Dis ’n mite,” sê die man weer.

“Hy sal nie sy lewe vir ’n mite waag nie. Dokter Niemand het dit gekry. Ek laat ’n Migro kom. Gee vir hom iets om te eet en maak seker dat hy rus voordat ons vertrek,” beveel sy.

Dit gaan werk.

 

Die Migro bring hulle in minder as ’n uur tot by Kleinzee. Barend klim eerste uit en die drie Plasmatio’s volg kort op sy hakke. Die terrein is verlate.

“Waar’s die span?” vra een van die mans.

“Ek vermoed die opgrawings is gestaak na my oupa se dood,” antwoord Barend teleurgesteld.

Dit gaan moeilik wees om hierdie plan op sy eie deur te voer.

Net toe kom ’n ou man gebukkend uit een van die skuilings uit. Barend herken hom.

“Dokter Viljoen,” groet hy verlig.

Van alle mense wat hier kon wees, is dokter Viljoen die een wat sal verstaan.

Die ou man gaan staan, en frons in die Plasmatio’s se rigting. “Barend? Ek het vir jou gewag. Maar ek sien jy’s ons een stappie voor?”

“Dit was onbepland.”

Dokter Viljoen knik. “Soos jou oupa altyd gesê het, dis juis die onbeplande dinge wat mens se planne laat uitwerk, nè?”

“So, het hy dit gekry? Die laaste diamant?” vra Barend.

“Natuurlik het hy,” antwoord dokter Viljoen. “Volg my.”

Hulle volg hom die skuiling in.

“Waar is dit?” vra die vrou.

Haar oë dwaal ywerig oor die kratte gereedskap en uitgrawings.

“Hierdie kant toe,” glimlag dokter Viljoen.

Tussen ’n paar ander uitgrawings haal hy iets wat in lappe toegedraai is uit.

“Gee dit hier,” beveel sy.

“Versigtig. Dis laat 2090’s.”

Hy vou die lappe stadig oop en hou dit na haar toe uit.

“’n Notaboek?” vra sy geskok.

“Ja, kan jy dit glo. Die kodering en chemiese formules is neergeskryf in ’n notaboek. Oorgeskryf eintlik. Net voor alle tegnologie vernietig is. Die skrywer moes ’n voorgevoel gehad het,” antwoord dokter Viljoen.

Sy neem die notaboek by hom en draai dit weer toe. “Dankie, ons sal daarmee kan werk.”

“Wonderlik,” glimlag Barend.

Hy weet sy gaan haarself probeer opdateer met die kodering, en dat sy dit gaan regkry. Die opdatering gaan dan outomaties na elke liewe Plasmatio op Aarde oorgedra word.

Vir ’n kort rukkie gaan hulle slimmer en sterker wees. En dan, onverwags, gaan die virus wat in die kodering ingebou, is hulle vernietig – dieselfde virus wat amper 300 jaar gelede doelbewus deur die skepper van die Plasmatio’s in sy laaste program weggesteek is.

“Nou, ja, julle is seker haastig om aan die werk te spring. Moenie oor ons bekommerd wees nie; ons gaan hier bly en die terrein opruim,” sê dokter Viljoen.

“Barend moet saam met ons kom. Hy is op pad na die Ark in Bloemfontein toe,” antwoord een van die mans.

“Wat? Nee! Julle kan dit nie aan my doen nie. Hoe moet ek wat ’n ou man is nou hierdie terrein op my eie opruim?” vra dokter Viljoen.

Die drie Plasmatio’s kyk na mekaar.

“Julle het twee weke,” sê die vrou na ’n rukkie.

Dan draai sy om en stap terug na die Migro toe met die twee mans agterna.

Barend waai totsiens soos hulle wegtrek. “Hoe lank reken Dokter gaan dit neem?”

“Nie lank nie, Barend. Nog voordat ek en jy die laaste pen uitgetrek het, is die mensdom weer eens verlos van die Plasmatio’s. Hierdie keer, hopelik permanent,” antwoord dokter Viljoen.

“Daaroor sal ons baie seker moet maak.”

Die ou man sit ’n hand op sy skouer. “Jou oupa was warm op die spoor van die oorspronklike program wat hulle weer laat verskyn het met die Tweede Renaissance.”

Barend kyk verras na hom. “Regtig?”

Dokter Viljoen grinnik. “Hoe dan nou anders? Kom, ek het al sy navorsing vir jou gebêre.”

Lees ook:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

The post Die laaste diamant | Wetenskapfiksiekompetisie first appeared on LitNet.

The post Die laaste diamant | Wetenskapfiksiekompetisie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>