Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Moeder van Kileen

$
0
0

Foto: Canva

Moeder van Kileen

Kileen is bar en haar atmosfeer is oorversadig van die stof. Die son sukkel deur haar stratus en alles is in donker, vaal oranje gehul. Deur die klokglas is die landskap rondom die vlakte skaars sigbaar.

Reia probeer die horison eien. Sy het jare gelede haar asma ontgroei, maar sy raak steeds benoud wanneer sy ’n stofwolk in die verte sien aanrol. Sy draai weg van die glas en neem diep asemteue. Sy gaan sit op die sementvloer in die skadu van haar lessenaar, haar knieë onder haar ken ingetrek en haar hande vasgeknyp in die waai van haar bene.

Haar woning, die reuse-glaskoepel, is een van die laaste strukture wat op die vlaktes van Kileen, een van Jupiter se mane, opgerig is. Die interieur van die klokglas is steriel. Van haar bed tot haar werkswinkel is alles van wit plastiek gemaak, maar met die stofstorm daarbuite lyk niks in die klokglas soos dit werklik is nie. Alles is in die oranje tint gehul.

Die son sak stadig en die wind begin effens bedaar en die skaduwee van die lessenaar strek al langer voor haar uit. Dis al donker as Reia besef sy haal makliker asem en dat die drukking op haar bors ligter is.

Het sy aan die slaap geraak?

Op Kileen tree tyd anders op. Dit beweeg nie in ’n reguit lyn met dae eweredig daarlangs uitgeplot nie. Soms is dit ’n dun lagie stof wat die wêreld bedek. Soms, wanneer die wind liggies waai, is dit fyn deeltjies wat in ewewig bo die vlakte sweef. Tydens stormwinde is die sand korrelkoeëls wat die klokglas kletterend tref.

Reia staan van die vloer af op en stryk die kreukels in haar wit oorpak met haar hande uit. Sy neem ’n klein monster van die algekultuur uit ’n glastenk op haar lessenaar. Die skreiende wit lig wat oor die tenk hang, zoem tot binne-in haar skedel. Sy plaas die monster onder die mikroskoop en op die rekenaar voer sy die etiketnommer van die spesifieke kultuur in en maak ’n paar aantekeninge daarby. Sy sproei die alge effens nat voor sy weer die deksel oor die tenk plaas. Dieselfde word gedoen met die ander algespesies in haar klokglas.

Dis dagbreek as die wind uiteindelik bedaar en die son stadig in ’n lae boog oor die horison opkom. Dis veilig om uit te gaan.

Voor sy buitentoe gaan, haal Reia haar ruimtepak van die hanger af en lê dit op haar bed neer. Die wit ruimtepak is al vuil soos die rooi stof daaraan kleef wanneer sy buite werk. Sy trek haar skoon oorpak uit en lê dit langs die ruimtepak neer.

In die wand van die klokglas oorkant die bed weerkaats haar naakte liggaam. Die figuur in die glas is skraal, opaak. Yl slierte hare hang oor benerige skouers. Haar vel span styf oor haar ribbe en haar borste is verdwene. Die vel oor haar buik is dun en laer af is die obskure, donker punt, ongedefinieerd, ongerep.

Die ruimtepak is swaar. Sy maak seker dat die suurstoftenk op haar rug vol is en dat die helm op haar kop dig seël waar dit aan die pak vasskroef.

’n Paar honderd tree van die klokglas af is die mond van die kunsmatige Viktor-rivier, vernoem na Professor Arlen Viktor wat die Terravormingsprojek op Kileen van stapel gestuur het. Die Viktor is die enigste waterbron op Kileen. Sy water is jare gelede met reuse-ruimteskepe vanaf die Aarde hierheen vervoer, en die algespesies wat Reia versorg, het saam met die besending gekom.

Die oog van die Viktor is gebou in ’n bergreeks wat ver op die horison bo die vlakte uittroon. ’n Reeks opgaardamme is bergaf al langs die rivier aangebring en die riviermond loop uit in ’n vlak kunsmatige meer. Vanaf die meer word die water met pompe opgevoer na die oog, waar die siklus weer begin.

Die lig breek só dat die bergreeks in die verte baie nader lyk as wat dit werklik is. Die vlakte voor haar lê wyd en oop. Is dit die meer wat in die verte glimmer?

Kileen se droë vlaktes is bestrooi met rooibruin klippe van die een einder na die ander. Hier en daar staan klipkoppies bo die vlakte uit en verder is dit bergagtig. Dit is stil op Kileen, veral as die wind gaan lê.

Gruis knars onder haar voete soos sy verder in die rigting van die meer stap. Sy besoek die meer elke tien dae om monsters uit die water te neem wat sy dan onder haar mikroskoop bestudeer.

Sy laat haar alge gereeld vry – by die oog van die rivier, in die damme, in die meer self.

Dan wag sy. Sou die alge oorleef en floreer onder die uitdagende toestande op Kileen, sal dit uiteraard suurstof in die atmosfeer vrylaat. Dan sal verdere mikro- en makrobiome verbou kan word, met die uiteindelike doel om Kileen totaal geskik vir lewe te maak.

Sy word dopgehou. Sy kan dit voel.

Jupiter.

Reia kyk op.

Bokant haar troon Jupiter bo die horison uit en vul die ganse ruimte. Die alomteenwoordige matriarg. ’n Gerusstellende teenwoordigheid, die wakende moeder. Maar vandag is iets anders. Nee, iets is verkeerd. Probeer Jupiter haar aanspreek, haar waarsku?

Sy gaan staan stil.

Miljoene jaar gelede het ’n asteroïed Jupiter getref. Kileen is uit haar wêreldbol geslaan. Reia verbeel haar sy sien die gat in Jupiter se oppervlak waar Kileen eens was.

’n Swaar gedagte kry skielik lewe binne haar. Sy weet nie waarom dit in haar wortelskiet nie, maar sy weet sy moet dit toelaat om te ontkiem.

Wou Kileen van haar moeder losgeruk wees? Het sy ’n sê gehad in haar godverlate bestaan? Verstoot uit die geborge boesem. Sou enige pleidooi die gewelddadigheid van die asteroïed kon afweer?

Sedert die botsing draal Kileen in ’n solitêre baan op ’n afstand rondom Jupiter, en hoewel haar moeder se teenwoordigheid onvermydelik is, haar swaartekrag voelbaar, bly sy onbereikbaar ver.

 

By die meer is dit stil behalwe vir die wind wat weer stadigaan begin opkom en flou golfies op die water maak wat in die vlak sementbed by Reia se voete breek. Sy is effens uit asem van die ent se stap.

Die beste plek om die monsters te trek, is by die mond van die rivier waar dit in die meer inloop, maar sy is uitgeput vandag en besluit om slegs ’n paar monsters aan hierdie kant van die meer te neem. Die wind steek in elk geval weer op en dit is beter om nader aan die klokglas te werk, sou dit in ’n storm ontaard.

Op die oog af lyk dit nie belowend nie. Sy hou ’n proefbuis vol vuil water in die lig. Die monsters lyk vaal en leweloos, maar sy sal dit beter bestudeer onder die mikroskoop in die klokglas. Reia gee ’n paar tree die water in om meer monsters dieper uit die water te trek. Sy neem ook ’n paar deppers langs die waterlyn.

Op die oewer pak sy al haar toerusting en proefbuise terug in die sak en swaai dit oor haar skouer. Die bagasie is effens swaarder as voorheen.

’n Rukwind stoot haar van balans af. Sy struikel en laat val die sak. Toe sy regop kom, sien sy ’n stofwolk ver anderkant die klokglas saampak. Dis nie goed nie. Die suurstofmeter wys dat daar genoeg suurstof is, maar wat as iets skeefloop? Die wind raak sterker en waai die lug vol stof. Sy gaan staan eers geboë, haar hande op haar knieë, en veg teen die benoude gevoel. Sy tel die sak weer op. Reia moet in die rigting van die stofstorm hardloop om by die klokglas te kom. Sy kyk op. Deur die waas sien sy die son se weerkaatsing op die klokglas, ’n vlymende sinjaal wat haar rigting aanwys.

Sy kom regop en begin vorentoe beur.

Die stofwolk kom aangestorm, dreigend. Haar knieë swik onder die gewig van die ruimtepak, maar sy probeer haar pas hou. Haar liggaam stoei teen die weerstand van die wind en sy struikel oor ’n klip, maar behou haar balans. Die sein in die verte begin dofweg flikker soos die stofstorm oor die klokglas trek. Haar bors brand. Sy begin hardloop. Binne oomblikke is die geswolle stofstorm oor haar. Sy kan niks nie. Niks! Die wind stoot haar gewelddadig terug. Meteens verdwyn die lig wat teen die klokglas weerkaats. Beweeg sy steeds in die regte rigting? Die wind ruk haar van balans af. Sy trap skeef op ’n klip.

Reia val.

Haar kop tref ’n skerp klip op die grond en die skerm van haar helm kraak en bars. Haar gereedskap en die talle proefbuise lê om haar liggaam rondgestrooi. Reia word deur die swaartekrag van Kileen omvou. Vasgewortel aan die grond. Waanbeelde van ’n ou wêreld, ruie woude, silwer riviere, diep oseane eb en vloei by haar verby. Bloed loop warm teen haar voorkop af en stadig word dit pikdonker rondom haar. Sy verloor haar bewussyn.

Die suurstofmeter se alarm tuit en die liggie op haar gewrig flikker rooi. Sy skrik wakker en snak na haar asem. Sy stik. Hoe lank was sy bewusteloos? Sy kyk na die suurstofmeter, maar kan nie uitmaak wat die wysers aandui nie. Die storm het effens bedaar, maar die lug is steeds oortrokke van die stof en die wind waai steeds verwoed. Sy bly op die grond lê, haar liggaam is gedaan.

Reia probeer diep teue suurstof uit die stofbelaaide lug neem. Sy verstik weer.

Die loei van die alarm op haar pols verdof en raak dan stil. Reia sien Kileen se oranje atmosfeer deur ’n tonnel wat nouer en nouer raak en uiteindelik die lig totaal uitwerp. Sy kreun en blaas haar asem uit. Haar ruimtepak hang verlep oor haar liggaam.

Uit die rigting van die klokglas, hoog in die lug, kom Reia se wit oorpak leweloos op die wind aangewaai. Die klokglas is in skerwe.

Die oorpak word heen en weer geruk, val dan pap na benede om net weer in die lug in opgepluk te word. ’n Teësinnige dans.

Kinkel en konkel en wapper in die wieke. Swaai in die rondte en draai in ’n baan. Verwring, geknoop, draai weer los uit die greep. ’n Leë bekleedsel in die arms van die wind.

Hoër op, bokant hierdie lugspel, draal Jupiter in doodse stilte oor Kileen.

Die wind bedaar.

Die son breek liggies deur die oranje atmosfeer en stofdeeltjies glinster in sy goue strale.

In ’n glasbuis wat ongeskonde tussen klippe op die grond lê, is ’n liggroen neerslag wat die sonlig absorbeer.

The post Moeder van Kileen appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>