
Foto: Canva
Ma. Ma, ek is onrustig vanaand. Soos wanneer die wind waai en dit aan die vensters ruk en ek ’n bietjie bang raak maar weet alles gaan reg en veilig wees. Ek kan nie ophou dink aan die plaas nie en aan julle.
Waarom sê Pa ons het vreemd geraak op ons erfgrond? Ander noem dit bloedgrond. Gee-grond, oesgrond, leefgrond.
Dit was altyd sommer net grond; die tyd toe ek en Fransie daarin gespeel het dan word ons altwee dofgrys en jy kan nie meer sien wie is wit of swart nie.
Fransie is nou weg. Hy is gesteek by ’n tavern en ek weet nie hoekom nie, maar die skuldige het gesê hy wat Frans was, het moeilikheid gesoek en toe moes hy homself verdedig en toe steek hy. Dit klink mos nie soos Frans nie, Ma?
Tshidiso sê hy was ook by die tavern die aand en dis omdat die ander gesê het Frans hou hom ’n coconut saam met die baas se kind. Tshidiso sê Frans wou nie moeilikheid maak op die plaas nie en het gesê ons is goeie mense en dis toe hulle kwaad raak vir hom en hom seermaak. Tshidiso het gesê hulle almal is bang vir die Rooihemde wat kom praat oor baklei en grond vat en dat Frans die enigste een was wat gesê het hulle moet loop. En nou is Frans ses voet onder die grond. Dis wat Tshidiso alles sê.
Ek mis my vriend. Hy was my beste vriend. Hy het verstaan as ek nie altyd verstaan het nie en nie omgegee dat ek anders is nie.
Ta’Zwai het gehuil by sy graf en ek ook. Pa het vêr gekyk en kort-kort na goed geskop wat nie daar is nie. Hy was kwaad vir iets maar ek weet nie wat nie, want daar was net hartseer.
Pa het ook nie gebly vir die after tears nie, maar ek het. Tshidiso het gesê hy is bly ek is daar, maar Ma Bhettie het soos Pa vêr gekyk en nie na my nie.
Is dit my skuld dat Frans gesteek is? En hoekom sê die kinders se ma’s ek mag nie met hulle speel nie, want ek is te groot?
Ma? Is dit die waarheid dat die plaas verkoop word?
Sussa dink ek verstaan nie alles nie, maar ek hoor wat sy praat. Sy huil partykeer en sug terwyl Harris haar vashou. Harris huil soms saam en as ek dan inkom, gesels hulle ander goed. Harris probeer grappies vertel sodat almal weer vrolik raak, maar dis eers as ek een van my grappies vertel dat ons almal lekker lag. My grappies is beter as Harris s’n, maar ek het gesê hy moet net oefen. Fransie het ook altyd lekker vir my grappies gelag.
Ek lag nie meer so baie nie. My vriend is dood en ek is weg van my speelgrond en verlang na julle. Soms as ek daaraan dink, sing ek: “Koljander, koljander so deur die bos, my ma en pa maak lekker kos.”
Maar ek bly hartseer, want die laaste een se kop word afgekap.
Ek sukkel om te slaap vanaand. Sus doen moeite om my tuis te laat voel, maar haar beddens was nog altyd te hard en haar komberse pof te veel. Ek is nie ondankbaar nie, maar ek slaap beter op die plaas, Ma.
Sussa sê dis lekker in die stad, maar ek hoor te veel goed en kry nie altyd asem nie.
Ma, ek mis die plaas soos ek Frans verlang.
Sussa laat my in die tuin werk en dit is lekker. Ek plant nou spinasie. Daar is nie baie grond op die erf nie en die water is ook min. Maar spinasie sal werk.
Dinge het te vinnig verander, Ma, ek kan nie meer alles onthou nie. Fransie was daar, Fransie is weg, die mense met die rooi hemde het kwaad gedans voor die hek terwyl Pa en die bure met gewere staan en ek het Tshidiso ook sien dans. Toe ek vir hom waai het hy skaam weggekyk maar aanhou dans. Ek was baie bang, want dit het gelyk asof hulle Koljander-koljander speel met die byle wat hulle hoog geswaai het.
Dis toe alles deurmekaar raak en ek nie meer trekker kan ry nie en net sit en wag vir spinasie om te groei.
Wanneer ek so sit en wag dan kyk ek ook vêr soos Pa en Ma Bhet. Ek verstaan nou hoekom hulle so gekyk het; dis wanneer jou hart so seer is, maar jy ook kwaad is vir iets wat jy nog nie die naam van leer ken het nie. En jy weet nie meer wie jy is nie.
The post Wie is ek, Ma? appeared first on LitNet.