Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Besoektyd

$
0
0

Besoektyd

Foto: Canva

Dié jaar besluit Michael en Gabriël om besoektye met Petrus te bespreek.

“Die mense verlang,” sê Gabriël terwyl hy sy vlerke stadig heen en weer klap om af te koel.

Dit is warm buitekant die Poorte omdat dit binne stapafstand van die ander hek is: ’n lelike, slap draadkonstruksie wat lyk asof dit deur ’n amateurhekmaker aanmekaargeslaan is. Voor die hek sit ’n geel hond wat sy lip dreigend lig elke keer as Gabriël in sy rigting kyk. As dit iemand se beurt is om by daardie hek in te gaan, byt die hond hom aan die hakskene ter verwelkoming. Dis ’n nare hond met ’n bose ingesteldheid. Honde trek mos maar na hulle eienaars.

Daarby tjank hy vir die maan.

Sy naam is Gjeert.

In teenstelling met die buurhek is die Poorte ’n wonderwerk. Lowergroen gras omraam die sag-glimmende perlemoer van die keisteen waarmee die paadjie na die Ewigheid geplavei is en die soliede, goue deure is met edelgesteentes beslaan. Smarag, saffier en opaal vorm ’n kleurespel rondom die hingsels. Die knipslotte is suiwer diamant. Vet engeltjies fladder soos motte oral rond en begelei nuwe aankomelinge sagkens en onbeskroomd aan die hand na die waghuis.

Die waghuis is vir Petrus.

Petrus is die bewaker van die sleutels. Hy het oor die jare ook sekere preliminêre seleksieverantwoordelikhede bygekry, want hy is die betroubare soort. Sy pligte voer hy, tot groot ergernis van die aartsengele, verbeeldingloos effektief uit. As dit van Petrus afgehang het, het niemand dit verby die groen gras gemaak nie. Hy is van mening dat die gepeupel by die ander hek hoort. Gelukkig berus die finale besluit nie by hom nie, maar sy administratiewe rompslomp veroorsaak onvrede.

“Nee,” sê Petrus met sy growwe stem. “Die antwoord is nee.”

Gjeert sluip nader toe hy sien Petrus kyk nie vir hom nie.

“Íéééé,” skree die engeltjies en vlieg na die waghuis toe. Gjeert het nog nooit een van hulle raakgehap nie, maar hy wil graag.

“Siejy,” raas Michael. Hy swaai sy vlammende swaard voor die hond se neus.

“Grrr,” sê Gjeert.

“Voertsek.” Gabriël maak sy vlerke dreigend oop. Hy mik om die geel hond ’n allemagtige skop onder die stert te gee. Gabriël is ’n kranige rugbyspeler. Hy speel oor naweke saam met William Webb Ellis en Bennie Osler in die agterlyn. Hy speel selfs vuil as hy moet. Daarvan kan Gjeert getuig.

Die hond trek sy kop tussen sy skouers in en sy stert tussen sy bene in. Hy gee vir Gabriël ’n vuil kyk terwyl hy terugsluip na die vaal kol voor sy eie hek. Die gras daar is snuif getrap van die baie voete wat al daar deur is. Hy draai ’n paar keer in die rondte en plof in die middel van die dorte neer met sy kop tussen sy pote. Gjeert lyk verveeld.

“Blerrie hond,” sê Michael.

“So, wat dink jy van die gedagte?” vra Gabriël vir Petrus.

“Nee.” Petrus pers sy lippe saam en skud sy kop stadig. “Nee.” Hy klap na ’n klein engeltjie wat te naby aan sy grys gesig verbyvlieg en hom in die verbygaan aan die baard pluk. “Siejy, maaifoedie.” Die goue sleutelring swaai om en om en om sy krom wysvinger.

“Wat is jou probleem?” vra Gabriël. “Met die mense, bedoel ek.”

“Hulle steel,” antwoord Petrus.

“Dis waar,” knik Michael. “Tog het ons ’n hele paar diewe hier binne. Jy’t húlle laat inkom.”

“Druk van die Bestuur af.” Petrus se gesig trek soos ’n toegeknypte twaksak in plooie bymekaar en sy mond word so klein en beplooid soos die kol onder Gjeert se stert.

“Toe,” por Gabriël. “Jy’t nog nie gesê nie.” Hy waai sy vlerke stadig vorentoe en agtertoe, vorentoe en agtertoe.

“Hulle lieg,” sê voeg Petrus vinnig by.

“Dis ook waar.” Michael kyk skewekop na Petrus. “Maar hier is net so baie liegbekke; ons het dit gesien met die sensus.”

“Hulle is onbetroubaar.”

Gabriël lig sy wenkbroue. Hy sê nie ’n woord nie.

Petrus bloos bloedrooi. Hy boor met sy toon in die grond.

“Ons gaan ons aanslag moet verander,” sê Michael. “Die mense glo nie meer nie. Voor ons ons oë uitvee, sit ons drie sonder werk.” Hy soek deur sy wit kleed vir ’n sigaret. Michael rook altyd as hy bekommerd is, maar net buite op die gras. Rook binne die Poorte is slegte advertensie.

“Jy moet ophou.” Gabriël is baie gesondheidsbewus.

“Uh-huh.” Michael druk sy vlammende swaard se punt in die sagte gras en leun met sy elmboog daarop.

“Ons moet vernuwend dink,” sê Gabriël.

“Hoe gaan dit help?” vra Petrus.

“Ons het gepraat,” antwoord Michael en maak sy keel skoon. “Ek en Gabriël. Terwyl jy besig was met die registers.” Petrus is mal oor registers.

Petrus frons. Hy is tog ook deel van die komitee. “Wat?” vra hy.

“As ons vir die mense die geleentheid gee om nou, sê een keer per jaar, te kom kuier, dan kan hulle mos met hulle eie oë sien.”

“En wie gaan dit administreer?” val Petrus hom in die rede.

 “Ons drie,” antwoord Gabriël. Hy haal ’n groot vel perkament uit sy kleed se sak en rol dit oop totdat die onderste punt omkrul op die sagte gras. “Ahem,” kug hy. “Ek en ...” en hy beduie met sy kop in Michael se rigting, “hy. En jy.”

“Hoe?” vra Petrus. Kortaf. Ongeskik.

“Ons het gedink aan ’n paar reëls. Dit gaan maklik wees as almal weet waar hulle staan.”

Gabriël skop-skop na die rooi hoenderhaan wat vir Petrus na die Hiernamaals vergesel het. Die haan is van dieselfde kreukelrige ingesteldheid as sy baas en moet amper net so fyn dopgehou word as Gjeert.

Die rooi haan skop.

“Soos wat?”

“Man, luister,” sê Michael. Hy staan dreigend orent.

“Luister jý, japsnoet.” Petrus druk sy vinger onder die groot engel se neus. Hy laat nie vir hom intimideer nie.

“Wag nou, julle,” sê Gabriël, immer die vredemaker. Hy beduie met sy elegante engelvinger na die perkament. “Een keer per jaar, en dan moet hulle aansoek doen.”

“Aansoek doen?” Petrus klink skoon amegtig.

“Ja,” antwoord Gabriël en Michael gelyktydig.

“Hoe?” Petrus mompel iets in sy baard wat vir Michael laat frons.

“Ons gaan na die plekke toe waar hulle die minste glo en loods ’n advertensieveldtog,” antwoord Gabriël geduldig. “Dan beduie ons vir hulle dat ons vir hulle die geleentheid gee om met hulle eie oë te kom kyk; per definisie ’n begeleide toer. Ons kry van die mense wat alreeds hier is om met hulle te gesels oor die voordele ...”

“En die nadele,” voeg Michael by. Hy beduie met sy kop na die geel hond wat na ’n verdwaalde vlieg hap. Daar is altyd vlieë by die ander hek.

 “En waar gaan julle altemit begin?” Petrus trek sy mond op ’n hoogheilige tuit.

“In die kerke en die skole,” antwoord Gabriël. “Dis tog voor die hand liggend.”

“Voor die hand liggend? Nou verstaan ek nie.” Petrus wys met sy skewe vinger na Michael en gooi sy hande in die lug. “Maar wie is ek nou om te stry. Julle jong manne weet mos alles.”

Michael se uitdrukking verdonker. Hy en Petrus het nog nooit om dieselfde vuur gesit nie, by wyse van spreke.

“Waar was ons?” vra Gabriël. “O, ja. Voor die hand liggend.”

Petrus lyk skepties.

“Dis waar,” gaan Gabriël voort. “By die skole leer die kinders Paasfees gaan oor ’n haas en Kersfees oor ’n vet, ou man in ’n rooi jas. Die kerke is die ergste van almal. Dié een glo dit en daardie een glo dat. Dis geen wonder dat ons so lanklaas nuwe gesigte hier gesien het nie.”

“Wat van die tronke en so aan?” vra Petrus ’n bietjie meer belangstellend. “Daar lê tog seker ryke grond.”

“Praktiese probleme om mee te begin,” antwoord Gabriël. “Ons laaste vier nuwe aankomelinge het almal uit die tronk gekom. Ons het egter lanklaas ’n predikant of ’n onderwyser hier gehad.” Hy vryf met sy vinger oor sy ken. “Of ’n polisieman, noudat ek daaraan dink.”

“Korrek,” las Michael aan. “Om van universiteitsprofessore en prokureurs nie eens te praat nie.” Hy vou sy vlerke netjies op sy rug bymekaar. Nou lyk hy baie minder gevaarlik.

“Is daar nie ’n spesiale reël vir prokureurs nie?” Petrus wys na die groot, rooi pyl wat in die rigting van die geel hond wys. Daarop staan geskryf “Attorneys/Abameli/Prokureurs.” Daar is geen alternatiewe bordjie nie.

“Inderdaad. Maar dinge moet verander,” antwoord Gabriël. “Ons moet skouer aan die wiel sit en begin werk.” Hy knik na die sagte, groen gras voor die Poorte. Van ver af lyk dit mooi netjies, maar as ’n mens mooi kyk, is daar ’n sekere wollerigheid te bespeur. “Kyk hoe lyk dit,” sê hy. “Ons kort voete, mense.” Hy wys na Gjeert. Daar is ’n voetpad deur die snuifgetrapte gras waar hy lê.

“Weet Bestuur daarvan?” Petrus is baie versigtig vir die Bestuur. Hy het al voorheen sy vingers verbrand, en dit is op Skrif.

Gabriël skud sy kop. “Nog nie kans gehad om dit te bespreek nie. Die volgende vergadering is eers oor ...” Hy draai sy kop en kyk na die son. “Sewe en sewentig duisend jaar. Maar ons wil dit hou vir ’n verrassing.”

“Jong,” sê Petrus waarskuwend. “Julle moet eerder vra. Netnou is daar moeilikheid.”

“Wat kan verkeerd gaan?” vra Michael. “Ons bedoelings is goed, en dit sal goed wees vir getalle.” Hy trek sy skouers op. “Ek kan nie dink dat die Bestuur ’n probleem daarmee kan hê nie.”Petrus lyk nie heeltemal so seker nie. “Jóng,” sê hy weer.

“Ons vra nie jou toestemming nie.” Michael het ’n aweregse karakter. Hoe hy ’n engel geword het, is ’n raaisel. “Ons gáán dit doen.”

“Nou doen dan wat julle moet doen,” sug Petrus. “Maar moenie sê dat ek julle nie gewaarsku het nie.”

Gabriël trek nog ’n stuk perkament uit sy kleed se ander mou uit. “Ons het ’n spesiale register opgetrek,” sê hy. “So kan ons tred hou met ons kliënte en enige verdere promosiemateriaal met hulle deel. Miskien een keer per jaar ’n nuusbrief uitstuur of so iets. Wanneer ons gaste arriveer, moet hulle hier by jou inteken.” Hy hou die perkamentrol na Petrus uit.

Petrus neem die dik rol met ontsag by Gabriël. Hy rol dit versigtig af. Dit is ’n allemintige register.

“Sjoe, “ sê hy. “Julle speel nie.”

“Ons maak nie grappies nie.”

Petrus kyk langs sy neus af na Michael, maar hy sê niks.

“En ons het ’n verdere guns om van jou te vra,” sê Gabriël.

“Wat?” vra Petrus agterdogtig.

“Ons gaan reeds vandag op ons eerste werwingsveldtog. Daar’s ’n groot kerk wat vandag vol mense gaan wees. Jy moet die fort hou hier.”

“Sê nou hier kom iemand?” Petrus beduie met sy hand oor die wollerige groen gras. “Iemand wat kwalifiseer?”

Michael skud sy kop met ’n siniese krul van sy lip. “Nie sommer nie.”

“Ek weet darem nie.” Petrus klink nie heeltemal oortuig nie.

“Hou hom besig by die hek,” sê Gabriël. “Tot ons terug is. Ons gaan nie lank weg wees nie – voor sononder is ons weer terug.” Hy sit sy hand vertroostend op Petrus se skouer. “Dis vir die beste,” sê hy. “Regtig.”

“Nou maar daar gaan julle. Moenie dat ek julle keer nie.” Petrus trek sy skouers op en klap weer na ’n engeltjie wat voor sy neus verbyvlieg. Hulle is ’n verpesting.

 “Kom,” sê Gabriël vir Michael.

Michael steek sy swaard in die goue koord om sy lyf. Dit sal nie deug om ongewapen op die ondermaanse neer te daal nie.

Petrus kyk bekommerd hoe die twee engelfigure al hoe kleiner word op die klein, smal voetpaadjie wat alle sondaars moet loop. Michael se breë skouers verdwyn heel laaste oor die koppie voor ’n mens by die wêreld kom. Hier kan niks goeds van kom nie. Hy kyk om hom rond.

“Julle het lekker laat slaplê,” skel hy die klein engeltjies toe sy blik op die wollerige gras val. Dit is eintlik húlle werk om die gras kort te hou.

“Brrr,” steek enetjie sy tong uit en waai sy vingers voor sy neus.

“Jou ... jou ...”

Daar is geen respek nie. Die engeltjie vlieg giggelend na die kruin van ’n boom, familie van die boom van kennis van goed en kwaad, maar nie heeltemal so potent nie. Sy vet lyfie land sagkens hoog in die takke waar hy sit en skewebek trek. Petrus wens hy het ’n klip gehad om die klein snot mee te gooi. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om vir Gjeert nader te roep, maar hy laat vaar die gedagte net so vinnig, want netnou moet hy nog hondemis optel ook.

“Maak netjies hier,” beveel hy in sy kwaaiste stem. “Ons kry mense.”

Hulle is horende doof. Helsems.

Petrus buk moeisaam af en begin om kakiebos om die rante van die groen grasperk uit te trek. Hulle het almal laat slaplê.

“Ahem,” sê iemand.

Petrus is diep in gedagte.

“Ahem,” sê die persoon weer.

Petrus kyk op. “Ja?” vra hy kortaf. In sy vorige lewe was hy in die Departement van Visserye in Galilea. Die staatsdienshouding is ’n tydlose, universele een. Voor Petrus staan ’n haakneus met ’n lang, maer man aan. Dit is ’n indrukwekkende neus. Die engeltjie wat die man se hand vashou se mond hang oop soos hy die neus bewonder.

Petrus frons.

Die klein stronte is niks gewoond nie.

“Waarheen moet ek gaan?” vra die persoon met ’n beskroomde stem. Hulle klink almal so op die eerste dag.

“Is jy ’n prokureur?” vra Petrus met sy amptelike stem.

Die geel hond staan nader.

Die man skud sy kop.

Die geel hond gaan lê.

“Nou waar kom jy vandaan?” vra Petrus.

Die man skud sy kop stadig. Dit lyk asof hy aan bomskok ly. Hulle lyk ook almal so op die eerste dag.

“Ek weet nie,” antwoord hy met sy skugter stem.

Dit lyk na ’n nederige man, die soort wat Petrus dalk by die Poorte kan inlaat.

“Dit ís ’n aanpassing,” sê hy, ’n bietjie meer toegeeflik.

“Sê jy vir my.” Die man skud die engeltjie van sy hand los en vee sy neus met sy wysvinger en duim af. Hy skud sy kop. “Een oomblik is ek nog in die kerk ...”

Petrus lig sy wenkbroue. “En toe?”

“Ons het ’n groot herlewingsdiens gehad vandag,” antwoord hy. “Ons was besig om te sing toe daar twee manne instap wat sê dat hulle aartsengele is.”

“Net so?”

Die man knik. “Net so.”

“En toe?”

“En toe sê hulle hulle wil ons uitnooi om self te gaan kyk hoe lyk dit in die Hemel.” Die man skud sy kop stadig. “Kan jy dit oorvertel,” sê hy. “Arme, mal siele.”

Petrus sink op sy boude op die groen gras neer. “Sit,” sê hy. Die man sak langs hom neer. “Wat toe?”

“Toe besluit ons pastoor om vir hulle die hande op te lê, want hulle is ooglopend besete.” Die man trek-trek aan ’n polletjie gras onder sy vingers. “En dis die laaste wat ek kan onthou,” sê die man. “Toe begin die pastoor om die duiwels uit hulle uit te dryf. Dis die laaste wat ek kan onthou.”

’n Engeltjie stoot versigtig Petrus se oop mond toe.

’n Magtige dreuning spoel oor die Poorte. Petrus kyk op. Hy kan niks sien in die asuurblou lug nie. Die son is geel en warm, die wolke wit en onskuldig.

Dit dreun en dit rommel, harder en sagter.

“Wat is dit?” vra die man en hy kyk verbouereerd om hom rond.

Petrus skud sy kop. “Ek weet nie.” Maar hy jok.

Die dreuning word harder en sagter, harder en sagter.

In die verte sien Petrus vir Gabriël en Michael aankom. Gabriël se vlerkspunte is omgekrul op die grond en sleep verlep agter hom aan. Sy eens wit oorjurk is vuil en vol kolle en daar is ’n skeur in die naat op sy skouer. Michael lyk nie veel beter nie. Sy vlammende swaard is gebuig en geblus en hang soos ’n sens oor sy skouer. Al twee van hulle is koponderstebo en ellendig.

Die dreuning spoel oor die groen gras en die engeltjies koek saam in die beskerming van die takke van die boom. Die geel hond glip deur die draad van die slap hek nadat hy eers sy been teen die hoekpaal lig.

“Wat ís dit?” vra die man angstig.

Petrus skud sy kop. Hy kyk op in die blou en lig sy wenkbroue. “Dit gaan reën.”

“Hier?”

Hy knik, maar hy jok steeds. Die Bestuur lag vir hulle, en lag en lag en lag.

The post Besoektyd appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>