Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Lag

$
0
0

 

Fotobron: http://www.diorellamirasol.com

"Jy kan maar met Jos trou," sê haar ma, "die man lag maklik."

Haar ma is reg. Selfs in sy briewe terg hy: "Die taalmanne kan gerus ter wille van ons ingenieurs standaardiseer op f’s en v’s. Hoe foel jy daaroor?"

Marguerite is ’n taaljuffrou. Sy kan nie anders as om die taalglipse en opsetlike flaters raak te sien nie. In dieselfde trant stuur sy sy briewe terug. Verbeteringe in rooi, met ’n punt uit tien en tong-in-die-kies-kommentaar.

Vir Jos word sy Magriet, want, skryf hy, "Maguritte is te moeilik vir my".

Op ’n dag haal sy ’n kartonhuls uit haar posbus. Binne-in is ’n brief, geskryf op ’n kasregisterrolletjie: "Hierdie is die langste brief wat jy nog ooit gekry het." Sy lees van bo tot onder, al met die rolletjie af. Hy vertel van sy week by die werk en saans by die huis en hoe laat hy opgestaan en gaan slaap het en wat hy geëet en aangetrek het en hoe hy sy hele tuin vol afrikanersaadjies gesaai het en hoe sy huishulp vir hom oranje lappies vir sy sitkamerbank gehekel het en hoe hy hoop om gou van haar te hoor. Sy woorde een lang huppelende sin wat gly en sing en dans – al met die papierlint in haar hande langs, bo-oor die leuning van haar stoel, dwarsoor die uitgetrapte mat in die middel van die vloer – tot op haar lessenaar in die skemer hoek van die klein losieshuiskamer waar haar enkelbed en verniste klerekas staan.

Sy trek die geskifte blomgordyne oop en kyk uit op die stoep met sy sink-oorhangdak en lae baksteenmuur. Die wit pilare aan die voordeurkant se verf dop af, en daar waar die verfskilfers omkrul, loer die vuilgeel onderlaag uit.

Jos en Marguerite leer mekaar deur die pos ken. Laataand in haar losieshuiskamerbed lees sy sy briewe weer en weer. Sy soek na iets wat sy dalk kon gemis het. ’n Woordspeling. ’n Verskuilde boodskap. Saans praat hulle oor die muntfoon in die gang waar die gloeilamp onder die raffialampkap sy lig in yl strepe teen die mure gooi.

Jos woon op ’n Bolandse dorp tussen wingerde en vrugteboorde. Sy in die Vaaldriehoek. Vliegtuie is duur en vakansies min. Daarom is die kuiers skraps. Een langnaweek vlieg Marguerite af Kaap toe om ’n familietroue by te woon. Sy en Jos maak hulle eie herinneringe van wind en see en sonsondergange bymekaar. ’n Ander keer kuier hy ’n paar dae by haar en haar mense op haar tuisdorp in die Oos-Vrystaat. Skemertyd loop hulle deur die strate. Kinders lag agter hoë sandsteenmure. Aan die straatkant tuimel trosse geel en pienk en wit banksiarose tot op die sypaadjie.

"’n Ewige optimis," merk haar ma ná die kuier in die verbygaan op. "En dan dink hy boonop uit die boks uit!"

Soos die dag toe hy vra: "En wat wil jy vir jou verjaarsdag hê?"

Sy terg: "’n Verkeerslig by daai ellendige skoolkruising. Dis elke oggend ’n nagmerrie om oor die pad te kom. Dit gaan nog my dood kos."

Jos sê niks. Lag ook nie. Hy skryf vir die verkeersdepartement op haar dorp. En ses maande later het sy haar verkeerslig.  

Een Vrydagaand vra Jos skuinsweg oor die foon: "Gestel die hipotetiese Suid-Afrikaanse man vra die hipotetiese Suid-Afrikaanse meisie om oor twee maande te trou, wat sou sy antwoord?"

"Sy sou sê dis te min tyd om alles reg te kry. Die rok en  die saal en die blomme? Nee. Sy sou sê nee."

"Hmm," lag hy, "solank die meisie hom net inlig as sy van mening verander."

Die ganse naweek tob Marguerite. Hierdie man is bang die antwoord is nee. Hy gaan nie reguit vra as hy nie doodseker is van ’n ja nie. Sy kan haar nie haar lewe vorentoe indink sonder sy plesierigheid nie.

Die Sondagaand na Jos se bedekte huweliksaansoek bel Marguerite hom: "Jy weet, daardie hipotetiese Suid-Afrikaanse meisie? Ek dink sy sou sê sy kan ’n plan maak. Met die rok en die saal en so aan."

Hy koop summier vir haar ’n vliegtuigkaartjie Kaap toe. By ’n klein ringmaker op die sewende verdieping van ’n ou gebou in die middestad soek hulle ’n verloofring uit, hul koppe naby mekaar bo die glaskas met sy rye ringe op middernagblou fluweel. In die hysbak op pad ondertoe sê sy: "Ek kan regtig nie wag nie, Jos, regtig. Gee asseblief sommer nóú die ring vir my, toe!"

Net daar – in die hysbak tussen skoonmakers met stoflappe en besems en ’n dweil in ’n emmer water – steek hy die ring aan haar vinger.

"Oeejinne! Dinge loep met springe en konnêk met ringe," lag die vrou met die dweil.

"Net soe!" juig die res van die troppie. 

Twee maande later trou Marguerite met die man wat haar laat lag. Die een wat nooit lank kwaad bly nie. Die een wat haar uit haar grys losieshuiskamer - weg van Stasiestraat met sy papiere en sukkeltuine vol ou rankroosstokke en posbusse sonder nommers - kom haal het en na sy huis op die groen dorp in die vou van die berge gebring het.

Sy geel huis is vol son. Die gordyne almal geel. Van die kombuis tot in die slaapkamers. Die sitkamer s’n dik en swaar, met die goue draad mildelik in die blompatroon ingeweef. Sy studeerkamer s’n gemaak van vetkrytgeel goiing. Die hoofslaapkamer s’n lang stringe rosies – donsgeel soos stuifmeel. Oral op die sitkamerboekrakke, tussen ensiklopedieë en ingenieurstydskrifte, staan Jos se geel model-laaigrawe wat die son opskep en daglank vashou.

Jos verkneuter hom aan Marguerite wat met ’n veerligte hand sy manne-geel huis vol blomme en skilderye en musiek maak. Sy gooi die geel blokkieslap oor die kombuistafel en pak haar ma se groen emaljeskottel vol vrugte. Sy trek die gordyne weg nooi die tuin deur die oop vensters binne.

Jos se lag klink deur die huis.

Soos die tyd aanstap, kom die lag van kinders by. Kleinseuntjielag soos onverwagse windklokke op ’n helderskoon oggend. Die koperstemme van tienerseuns. Die dieper dreunlag van jongmanne, donker en loomwarm soos die klank van tjello’s op ’n laatmiddagstoep.

Die lag woon tussen hulle. ’n Geliefde huisgenoot. Die een wat gereeld ’n situasie ontlont en ’n veronregte weer vir homself laat lag. Wat ligvoets deur sy dae reis en skoorvoetiges en bedremmeldes saamsleep tot op hoë uitkykpunte van waar dít wat groot en swaar en vol dreigende lawaai was, skielik klein en skadeloos en geluidloos lig word.

Tot daardie dag.

Daardie dag het die see een van hulle kinders gevat. Die lag het ook weggeraak.

As haar ma tog net nog gelewe het! Watter raad sou sy, wat so fyn kon kyk, nou vir haar gee?

Die stilte word haar metgesel. En die dreuning van die helikopter soos hy soek na haar kind. In haar opstaan en wakkerwees en diepnagdinke is dit daar. Die lemme se fyn kap-kap-kap in elke senuvesel ingekerf. Die opskiet-brandertjies onder die helikopter se maag ’n skuimwit blomkrans op die diepblou see.

Een nag droom sy van haar kind. Hy is nog klein. Vars gebad, met sy blou skippiesnagklere aan. Sy oë is blou vonkies. Terwyl sy hom voed, lag hy óp na haar. Sy ruik sy soet melkasempie en druk haar gesig in sy donswit krulle. Die lag borrel in haar keel op. Dis ’n onbevange lag. Nuutgebore.

Die matras by haar voete gee effens mee, ongemerk soos ’n trae seedeining. Iemand is by my, dink sy. Sy wil nie terugkom nie. Sy wil die loom weldadigheid van die droom sussend vashou.

Maar dit glip los en dryf weg. Sy maak haar oë oop. Die lig van die nuwe dag stroom deur die venster. Jos sit by haar op die bed. Hy glimlag.

"Jy het hardop in jou slaap gelag, Magrietjie," sê hy, "ek het gedink jy gaan nooit weer lag nie."

 

The post Lag appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Trending Articles


Slimmer maniere om jou hoofpyn te klop


7 waarskuwingstekens wat jou lippe jou gee


Taalgebruik: lei, ly


Die beste tyd van my lewe


’n Behoefte aan die integrering van tegnologie in die Afrikaans...


LêNet: Seks


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


LêNet: In die tent


T Minus …. 6


Ken jy bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se regte naam?