“Tannie sien, as ons nou saam na haar toe gaan, kan Tannie mos die gesprek begin. Tannie kan verneem na die familie en hoe dit met die tuin gaan. As dit moet, kan Tannie selfs sê dat Tannie graag Tannie se blare gelees wil hê. Ek weet dis ’n bose ding om te doen, maar soms moet ’n mens maar alle weë kies om iemand te red.”
“Dominee, ek weet darm nie so lekker van die blare lees nie,” sê Ouma en gooi die kookwater in die silwer teepot met die swart handvatseltjie.
“Het Ouma toe Ouma se blare laat lees?” vra ek vinnig voordat sy verder kon vertel.
“Nee wag jy nou, moenie vooruitloop nie,” het Ouma my vinnig stilgemaak. Die teepot is al ingeduik en getjip op plekke.
“Kom ek skink Dominee se tee.” Ouma gooi sommer twee lepels suiker en melk in, en roer dit ook sommer. In die piering twee peanutbutterkoekies, sommer net so. Hy hou die piering met die koppie so in die palm van sy hand vas, met ’n slap buig in sy pols, om dit te balanseer.
“Dominee, kom ons pak maar die bul by die horings. Ek sal saamgaan, maar as sy ons jaag, draai ek om en loop weg. Ek gaan my nie deur ’n baie verlangse niggie laat beledig nie,” het Ouma gesê. “Sit net hier, ek kom nou,” en Ouma stap haastig-heupe die kombuis uit en los die verwarde Dominee net daar.
Dominee sluit sy oë, so asof in gebed en drink sy tee. Ouma kom terug, hare netjies agtertoe gekam, ruik soos die blommetjies en haar plathakskoene aan.
“Kom Dominee.” My mens, ek kan al in my geestesoog sien hoe Ouma vir Dominee aanpraat. En daar stap Dominee en Ouma by die deur uit, rooi trappies af, sementpaadjie, verby die Pride of India en rankroos, by die hekkie uit en straat-af na Fay toe. Ouma stap voor, nog steeds haastig, maar toe sy by Fay se sementpaatjie kom, bedaar sy bietjie en stap stadiger. Dominee net so paar duim agter haar.
“Die Gees sal met ons wees,” het Dominee saggies gesê.
“Stadig nou Dominee. Los nou maar die Gees en die Woord en die Kerk en bly net stil. Ek sal die praatwerk doen,” praat Ouma vir Dominee aan. Ouma lig haar hand en Dominee kan sien haar kneukels is spierwit soos haar vel styf om haar hand span van pure senuwees. “Soos ek gesê het, as ek gespot word, loop ek,” het Ouma my vertel.
“Dis reg Tannie, klop nou maar.” Ouma klop eers sag en stadig. Drie kloppe. Niks nie. Dominee wil iets sê maar Ouma maak hom stil.
“Sjuut, Dominee, wees stil,” sê Ouma. Klop klop klop, bietjie harder die keer. Nog steeds niks nie.
“Wat het ek jou gesê, geen maniere. Sy weet tog te goed dat ons hier is en maak nie oop nie ... Ek gaan my nie so bespotlik maak nie. Ek kan nie heeldag aan ’n deur staan en klop met die hoop iets gaan gebeur nie.” Ek ken vir Ouma as sy die dag, soos sy dit noem, duiwel vat. Dit kan ’n lelike ding word.
“Klop nog net een keer Tannie, ons is mos nou hier,” praat Dominee haar moed in. Hy hoop tog net nie dat Ouma nou sal omdraai en wegloop nie.
Klop, klop, saggies en net twee keer. Nog steeds niks nie. Dit voel asof die ongeduld in Ouma opbou en enige oomblik gaan bars soos ’n oorryp granaat wat sy rooi pitte die wêreld vol gaan uitspoeg.
“Ag nee my magtag man, jammer vir daai woord Dominee, maar ek kan nie hier soos ’n stout kind staan wat prinsipaal moet gaan sien nie,” en Ouma klop daai deur so hard dat Dominee sy ore wil toedruk, omdraai en weghol. Dit smaak my of sy die deur uit sy kosyn gaan klop.
“Fay, maak oop die deur, ek kan nie hier staan soos ’n skaap wat wag om geslag te word nie. Ek en Dominee wil jou kom aanpraat. Maak oop,” skreeu Ouma met haar mond so naby aan die sleutelgat.
En daar gaan die deur stadig oop. Fay staan in die deurkosyn. Baie lappe aan, gekoekte kop, bleek soos sneeu.
“Hallo Fay,” het Dominee heel skaflik gegroet. Die arme Dominee het seker teen hierdie tyd soos ’n riet gebewe.
“Hallo Dominee,” het Fay met ’n sagte stem gegroet. Ouma vertel my dat sy so verbaas was dat Fay nog “ge-dominee” het.
“More Fay, dis Dominee Jonkers,” het Ouma gegroet.
“More Suster,” groet Dominee met sy kerk-praat-manier vir die tweede keer.
“Kom in, ek is agter in die tuin,” het Fay nog steeds baie saggies gesê. Ouma vertel my dit het gelyk asof die stomme vrou in ’n dwaal of ’n ding is, en sy stoot vir Dominee sommer so aan die skouer vorentoe. My mens, ek sou graag ’n vlieg teen daai muur wou wees.
“Ag Vader, hou tog U hand oor ons,” bid Dominee saggies.
“Ag stadig nou Dominee, dis nie so erg nie,” en Ouma swaai haar hand woes na Dominee se kant toe. As jy my vra, het Ouma die stukkie van die teeblare sommer bygelas om die storie so klein bietjie in te kleur. Ouma vertel my toe, soos sy nou deur Fay se huis stap, trek sy strepe so dik soos voetpaaie oor die meubels, so is die stof opgegaar. Dit lyk soos ’n hele woestyn wat op haar meubels kom lê het.
Ek dink Ouma dik dit ook maar bietjie aan, maar ek sê niks. Tjoepstil stap die drie deur Fay se huis, by die agterdeur uit. En daar in die agtertuin is die mooiste draadstoeltjies, so onder ’n wilgerboom, wat sy slap takke al om die stoeltjies laat hang. Die son loer deur die takke. In ’n bedding langs ’n opvoutafeltjie is petunias geplant, aan die ander kant, die mooiste renonkels en dan fyn veldblomme, fynbos, namakwaland-daisies, pietsnotte, kambro en al wat blomsoort is.
Dominee sak sy kop effens en loer met opgetrekte wenkbroue na Ouma. Ouma wys toe vir my hoe sy maar net haar skouers opgetrek het. Ek wou uitbars van die lag van lekkerkry, maar hou dit terug.
“Suster, die blomme is besonders,” het Dominee toe maar saggies gesê. Ouma vertel my dat sy haar eers vir Dominee wou vererg, omdat hy hier sit en komplimente maak, in plaas van die vrou bekeer. Dalk was Ouma so klein bietjie jaloers omdat Dominee Fay se tuin komplimenteer. Mens sal nie weet nie. Anyway ...
“Fay, dit lyk soos ’n paradys hier agter,” het Ouma ook toe maar bygelas.
“Kom sit hier,” sê Fay en beduie na die draadstoeltjies. Ouma sê vir my dat sy net gewag het dat ’n klein voëltjie sy koppie by daai nes van gekoekte hare uitsteek. Ouma en Dominee gaan sit, so op die punte van hulle stoele. So asof hulle gereed is vir opspring en weghol.
“Dis die tuin van Eden. Dis die plek van vrede. Dis waar die mens se siel stil word,” begin Fay praat asof sy in ’n preek is of dalk bid. Ouma en Dominee kyk na mekaar. Dominee hou sy hoed op sy skoot vas en Ouma vou haar hande op haar skoot, kompleet soos mens in die kerk sal sit. En daar begin Fay teksversies opsê, so uit haar kop uit. Sy ken selfs dele uit die Heidelbergse Kategismus. Sy sing die Psalmdigters se Psalms met ’n suiwer stem. Sy bid asof die gebed vir haar geskryf is deur ’n digter uit die Bybel. Ouma vertel my dat dit vir haar eerlikwaar baie mooi was. So sonder aansitterigheid, bid Fay daar in die tuin.
Ouma vertel my dat Dominee sy kop laat sak, in eerbied, totdat sy ken sommer so op sy bors loop lê het. Ouma sluit haar oë.
“Sien, ons almal het maar ons eie kerk iewers. Julle kerk is die ou klipgebou, myne is die tuin waar die voëls na my luister, die oggendson my groet, die rooidag my troos en die blomme vir my vreugde bring. Dis hier waar ek rus kry,” vertel Ouma toe vir my woord vir woord wat Fay gesê het.
As dit iemand anders was en nie Ouma wat hierdie storie vertel het nie, sou ek reguit gesê het dat dit ’n lieg is. Ouma vertel dat dit tjoepstil was om hulle. ’n Heilige stilte. Net die klank van die voëls. Siestog, ek kan sommer in my gees hoor hoe die groenvlerkduif sing …
“My ma is dood, my pa is dood, my kinders is dood, almal is dood ... dood ... dood,” en dan die grysduif wat hom antwoord gee, “God sorre, God sorre”.
Lees ook
The post Fay se bekering (Deel 2) appeared first on LitNet.