Dit maak my die moer in, Oom. Die moer in! Ek het aangejaag en nou sit ek met die gemors. En dit gaan nog vir jare so wees. Dis wat gebeur, Oom. Dit! As jy ander mense vertrou en as jy sukkel om 'n ou geldjie bymekaar te maak, dan maak mense so met jou. Skop 'n man wanneer hy lê, sê ek altyd, Oom!
Ek wil ook graag trou en 'n familie van my eie hê, maar nou lyk dit of ek dit nooit gaan regkry nie.
Ek het 'n girl ontmoet, Oom. So 'n paar maande terug. En sy's awesome. Haar naam's Tania.
Ek wil met haar trou, maar ek het niks geld nie. Die salaris wat ek hier verdien, gaan net so na my skuld toe. Ek moes geld leen want by Sun City, toe ek daar gewerk het, het die baas my geld gevat. Mý geld! En toe verdwyn hy daarmee. Hy't gesê dis 'n belegging wat vinnig kan groei. Ek moes die bliksem nie geglo het nie. Ek was onnosel. So blêddie stupid! Nou sit ek met niks. Ek het nie eens 'n kar nie, en ek wil graag vir Tania gaan oplaai en haar iewers heen vat. Spur toe of iets, Oom weet mos. My suster wil nie vir my haar kar leen nie want ek het nie ’n license nie. Nou moet Tania se ma ons Spur toe vat soos twee skoolkinders. Dis embarrassing, Oom!
Nee, Oom. Ek kan sien sy's die een vir my, Oom. Nee, regtig.
Ja, Oom, sy's mooi. En sy's oulik ook.
Nee, my pa wil nie help nie, Oom. Dis eintlik my stiefpa en hy voel vere vir my. As hy nugter is, wil hy niks met my te doen hê nie en as hy gesuip is, wil hy net foeter. Dis nog altyd so, vandat ek klein is. Hy sal aan die suip gaan en as my kamer deurmekaar is of iets, sal hy my byna dood donner en dan vir my sê hy's gatvol om 'n ander man se kind groot te maak. Nog altyd so.
Ek kan dit mos nie help nie, Oom! Dis mos nie my skuld nie!
Kyk, ek was 'n stout bliksem en ek het swak gedoen op skool, maar ek't goed rugby gespeel. Losskakel vir die eerstes. Ek kon skop, Oom. In een wedstryd het ek twee-en-twintig punte aangeteken met die boot. Daai was die beste dag van my lewe. Dis al wat ek nog ooit in my lewe reggekry het. Eerstepan-losskakel in die hoërskool.
Nee, my stiefpa het glad nie belang gestel nie. Hy was ’n PF, in die army. Hy wou my altyd groot maak soos 'n troep. Dissipline en alles, maar ek wou nooit hoor nie. As hy gesuip was, het hy harder geslaan maar nie raker nie. Hy was te dronk! Hê, hê.
Nee, my eie pa is dood toe ek vier was. Kanker het hom gevat. Ek't hom nie juis geken nie.
My ma ly aan 'n een of ander sielkundige ding. Sy is in 'n inrigting vandat ek twaalf was. Sy gebruik meds wat haar gevoelloos maak. Ek gaan kuier maar so een keer ’n week. Party dae herken sy my nie eens nie.
Die drugs? Daai was die domste ding van alles, Oom. Dis waar alles verkeerd gegaan het. En nou moet ek die prys betaal. Vir die res van my lewe.
Nee shit, Oom, nie meer nie. Nee. Nee. Ek't dit gelos. Ek's skoon nou al vir drie jaar. Maar dit bly aan my vassit, Oom. Oral waar ek gaan, selfs al het dit niks uit te waai met die drugs nie, loop ek in 'n verdomde muur vas. Geld. Tjerries. Kar. Ek kan niks doen nie, want ek het ’n record.
Dis toe ek uit die huis ge-geepad het, wat alles begin het. Ek het weggeloop na 'n pêl van my. My stiefpa het my nie eens kom soek nie.
Wat was daai plek nou weer? Kissers. Ja. Kissers. Dis waar ek en my pêl gaan uithang het.
Oom moet Oom se kinders sê, om nooit iets van iemand te vat nie. As jy koeldrank vat, moet dit nog toe wees. Belowe my, Oom sal vir hulle sê!
Nee, daar was 'n ou wat my agtervolg het na die mensroom toe die een aand. Toe sê hy vir my, “vat 'n skêggie my ou. Net enetjie”. Hy sê dit sal niks maak nie. Ek hou aan nee sê en hy hou aan en aan. Ek sê vir hom ek het nie geld vir die goed nie maar hy sê, nee, dis verniet. Naderhand vat ek toe maar die skêg net om van die ou ontslae te raak. En toe’s dit verby.
Jis, Oom, dit laat jou só relax. En jy dans die hele aand en jy vergeet van alles, Oom. Jy vergeet van al jou probleme. Dit was so lekker. En die ou het vir my gesê dis nie erg om dit te gebruik nie. Jy moet net nie te veel gebruik nie, dan kan jy lekker party. Dit wás ook so. Ek het toe amper elke aand gaan jol by Kissers maar toe wou hy hê ek moes betaal. Daai goed is duur. Hulle begin eers goedkoop maar as hulle sien jy's ge-hook dan sit hulle die prys op. En dis net so, dan's jy ge-hook. Gou-gou dan werk een pilletjie nie meer nie. Dan het jy meer geld nodig want jy't meer pille nodig. Ek leen toe geld by my pêl maar ek kon hom nie terugbetaal nie want ek het nie 'n werk gehad nie. Naderhand wou hy nie meer vir my leen nie. Toe steel ek eenkeer van sy geld en toe vang hy my uit en skop my uit sy plek uit. Ek wou terug na my stiefpa maar dié wou niks van my weet nie. Toe gaan bly ek maar by my suster. Ek het haar geld ook gesteel maar sy het dit nie agtergekom nie. Haar man is in die polisie en ek moes lig loop vir hom.
Dis toe dat ek begin om die goed te verkoop, die skêggies, sodat ek geld kon maak om meer te koop. Ek het 'n hele netwerk gehad. Klomp ouens. Maar ek sê mos, die ouens dink dis groot geld, maar alles gaan weer net so terug in die goed in. Jy score niks nie, Oom.
Hoe meer skêg ek gebruik hoe slegter gaan dit en hoe meer geld het ek nodig. Daar was aande wat ek nie huis toe gekom het nie. My suster vra my waar was ek, dan kan ek nie onthou nie. Hulle't toe al vermoed, Oom.
Die polisie is toe al agter my aan, en my swaer is mos in die polisie en so het hulle uitgevind. Hulle't gepraat en praat maar hulle kon my nie regkry nie. Ek was al te vêr met die goed. My swaer het elke dag gedreig om my in te vat maar ek kon nie stop nie.
Dis toe, een aand, dat die polisie daar opdaag en my kom vat. My swaer het alles gereël. Ek was in groot stront, Oom. Groot stront! Ek het gedink, nou's dit verby met my. Alles is verby. My swaer oorreed hulle toe om my te help, maar dan moes ek húlle help. Ek moes hulle sê van al my dealers.
Ja, Oom, die hele works en ek moes commit om vir rehab te gaan. Toe trek hulle die klag terug en ek gaan vir rehab.
Ek het met 'n shrink moes praat. Ek vertel hom toe alles. Net soos ek nou vir Oom vertel. Net so. Maar ek het gehuil, Oom. Soos 'n kind het ek gehuil. Ek het vir hom gesê dis moeilik, want wat moet ek nou doen? Waar gaan ek nou heen? Ek is drie-en-twintig en ek het niks. Hy vra my toe wat wil ek die graagste hê.
Ek sê toe vir hom ek wil twee dinge graag hê. Ek sê toe vir hom ek wil weer rugby speel, losskakel, soos toe ek in die skool was en ôk wil ek 'n laaitie hê. Sy naam sal Hendrik wees, soos myne en my regte pa s'n. En ek gaan hom leer rugby speel, net soos ek gespeel het. Net so, sê ek toe vir daai kopdokter.
Lees ook