My luck het uitgeloop, nes my hoop. Eers het ek elke sent wat ek kon kry, uit meneer Van der Merwe gepers, maar later moes ek my maar na die brugmense wend. Hier sit ek nou sonder kind of kraai met my voete in die koel rivierwater. My regtervoet is geswel. James het my mos gister met ’n baksteen gegooi en dit alles net omdat ek vir Richie ’n beter lewe wou gee. Hy en van die ander brugmense het vir my geskreeu: “Nie eens ’n hond gee haar kleintjies weg nie! Ons kan mos na hom kyk.”
My ma is kort na my geboorte dood, dus het ek by ouma en oupa Karolus op Kleinwater grootgeword. Ook maar moeilik gegaan, maar darem ’n dak oor my kop en altyd iets in die maag gehad. Oupa het ons kleintjies gereeld met die lat geslaan om ons maniere te leer. Ouma het ons rou duiwelskjenners genoem.
Op agtien het ek ’n lewe hier in dié dorp kom soek en half kontak met hulle verloor. Ek gaan net oor Krismis na hulle en sidestep enige gesprekke oor my lewe. Ouma sal my uitskel as sy moet weet ek woon onder die brug. Hier is 25 stormwaterpype. Elkeen van ons het sy eie pyp. Die pype loop onder deur die teerpad en is helwarm bedags. Daarom sit-lê ek maar so onder ’n bos hier langs die rivier. Vandag kan ek nie ver loop nie.
Saans maak ons almal saam vuur. Dan praat ons oor wat ons alles die dag gescore het toe ons in die dorp rondgeskarrel het en die wit mense se klokkies gedruk het. Ons deel die kos met mekaar en party brag oor hoeveel geld hulle vir hulle scrap metal gekry het. Meeste hier is dustbin diggers. Ek het al twee keer in vullisdromme gekrap, maar dis nie my scene nie. Ek het vroeër baie beter maniere gehad om geld te maak.
Dit was voor McDonald’s waar ek vir meneer Van der Merwe opgetel het. “Meneer, kan Meneer vir my ook ’n ietsie koop ’seblief.” Hy het met twee strawberry milkshakes, burgers en chips uitgekom.
“Dis koud buite. Kom sit in die motor.”
Ek het gulsig geëet en hy het oor ditjies en datjies gepraat. Vertel hoe hy geskei is en hoe eensaam hy is. Toe kom dit.
“Hoeveel vra jy?”
Ek het my tarief gesê en ons het na sy huis gery. Op pad het hy by die ATM gestop om geld te trek.
Dit het ’n gereelde ding geraak. Elke Woensdagaand. Na drie maande het hy nie meer opgedaag nie. Ek het my nie daaraan gesteur nie. Ek het genoeg klandisie gehad.
Toe die oggendnaarheid.
Ek het hom Richie genoem. Skielik moes ek oor meer as myself worry. ’n Baby benodig kimbies en melk. Bedags wil ek slaap en saans moet ek werk, so ek moes ’n babysitter vir Richie kry. Alles kos geld. Dis toe dat ek weer aan meneer Van der Merwe gedink het.
Ek het met Richie in die pram by sy huis opgedaag en die hekklokkie gedruk. Meneer van der Merwe het by die voordeur uitgekom en asvaal geword toe hy my herken. Hy het met ’n frons op sy gesig na die hekkie gekom.
“Ja?”
“Dis jou geskenkpakkie aan my dié,” het ek snedig met ’n effense dreiging in my stem gesê.
“Hoe kan dit my kind wees as jý hoer?”
“Jy hoer ook, meneer Van der Merwe,” het ek hom getroef. “Kimbies en papgeld val nie uit die lug nie. Ek soek geld.”
“Jy vat kanse.”
“Carel!” ’n Blonde vrou het by die oop voordeur uitgeloer.
Meneer Van der Merwe het vinnig in sy broeksak gegrawe. “Dè,” het hy gesê. “Maak dat jy wegkom en jy kom nooit weer hierheen nie.”
Hy het omgedraai en voordeur toe geloop.
R100! Wat kon ek daarmee doen? Dis nie eens genoeg kimbies vir ’n maand by Pep Stores nie. Ek het Huggies vir Richie gesoek en blikmelk en pap. Dan moet hy nog bedags en snags na die babysitter toe ook gaan.
’n Week later het ek weer laatmiddag met Richie na meneer Van der Merwe se huis gegaan. Sy BMW het in die inrypad gestaan. Ek het die klokkie gedruk. Niks. Weer gedruk. Niks. Ek kon sien hoe die blindings in die sitkamer effens lig asof iemand daardeur loer. Toe lê ek op die klokkie. Niks. Om die boom voor die heining was rivierklippe, bietjie groter as eiers, mooi in die rondte gepak. Ek het een opgetel en oor die heining na die huis gegooi. Dit het die venster rakelings gemis. Die volgende een het op die dak geval. Toe gooi ek een na die BMW. Dit het die venster aan die bestuurderskant getref en gekraak. Die voordeur het oopgevlieg en meneer Van der Merwe het uitgestorm.
“Wat de hel dink jy doen jy?”
“Ek soek R1 000 per maand vir blikmelk, pap en kimbies,” het ek gegil.
“Ek gaan jou vir saakbeskadiging aankla en vir teistering!”
Ek tel nog ’n klip op en mik weer na die BMW.
’n Motor het verby gery en stadig by die huis langs meneer Van der Merwe s’n ingedraai.
Die vrou het haar venster laat sak. “Alles reg Carel?”
“Ja dankie.”
Hy het hard probeer om te glimlag. Sweet het op sy voorkop gepêrel.
“Ek het nie nou geld op my nie. Kry my môremiddag 5 nm voor Jet. Ek sal dan vir jou die geld gee.”
Ek het my vinger vir hom geswaai.
“R1 000 en niks minder nie! Anders gaan jy dit berou.”
Vir vyf maande het ek vir meneer Van der Merwe elke laaste dag van die maand klokslag om 5 nm voor Jet ontmoet. Ons het nie gepraat nie. Die eerste keer het hy ’n koevert vir my gegee. Ek het dit net daar oopgemaak en die geld afgetel. Hy het daarna ’n deurskynende plastieksakkie met vyf R200-note in my hand gedruk. Hy het nooit na Richie in die pram gekyk nie.
Toe kondig hy mos eendag aan: “Volgende Woensdag gaan ons vir DNS-toetse. Ek wil weet of dit rêrig my kind is. Ek tel julle 10-uur hier voor Jet op.”
“Ek weet nie eens waarom jy bodder nie, meneer Van der Merwe. Richie lyk presies nes jy, maar goed, dan kan jy vir jouself sien,” het ek windmakerig geantwoord.
Hulle het mondswabs gedoen met sulke watte-oorstokkies en bloed getrek. Die volgende maand het ek voor Jet gewag. Meneer Van der Merwe het met papiere daar aangekom en ’n afskrif vir my gegee. My bene het soos jellie gevoel toe ek daarna kyk.
“Hier is jou laaste R1 000. Ek wil nooit weer iets van jou hoor of sien nie, gehoor.”
Toe die geld op was, het ek saam met die brugmense begin skarrel, maar jy sou my nie in ’n vullisblik sien krap nie. Ek het dit net twee maal probeer. Na drie maande van sukkel het ek begin wonder of meneer Van der Merwe nie dalk die DNA-uitslae geforge het nie. Hy kon mos net toutjies trek of hulle gebribe het en nou sit ek en Richie met die gebakte pere. Die gedagte het al hoe meer vorm gekry. Ek was oortuig dit is wat hy gedoen het en ek was woedend! Die vark!
Ek het die aand na sy huis gegaan. Sy BMW het weer in die inrypad gestaan. Daar was ander motors in die straat geparkeer. Die voordeur was oop en musiek het uit die huis gekom. Dit het gelyk of daar ’n paartie by sy huis was, maar ek het my nie laat afsit nie. Niemand vat my vir ’n gat nie. Ek het die klokkie gedruk. Meneer Van der Merwe het uitgekom. Toe hy my sien, het hy omgedraai en in die huis in met sy drankie geloop. Ek het die klokkie gedruk en gedruk. Hy het weer uitgekom en vir my geskreeu: “Voertsek!” Dis toe dat ek die klip in die kettie sit wat James gemaak het. Dit was ’n kolskoot teen sy agterkop. Ek het nie my touch verloor nie! Ek het altyd die seuns met kettieskiet gewen toe ek nog by Ouma gebly het.
Niemand het my gesien nie, so ek het net verder rustig met Richie in sy pram aangestroll.
Die volgende middag het ’n plakkaat teen ’n lamppaal my aandag getrek.
Ons Kontrei KLIP: |
Ses maande later en hier sit ek nou sonder kind of kraai en met ’n seer voet. Meneer Van der Merwe het ’n klag van poging tot moord, teistering, beskadiging van eiendom, blackmailing en wie weet wat nog teen my gemaak. Hy was mos ses dae in ’n koma. Toe hy uit die hospitaal kom, het hy my oral laat soek. Ek het uit die oog gebly, maar daar is mos baie snitches in die rondte. Die Boere het my een nag in my pyp kom arresteer. James het rondgeskarrel en al die brugmense het saamgegooi om my bail te betaal. Hulle het na Richie gekyk terwyl ek vir agt dae in Pollsmoor was.
Môre kom ons weer voor. My lawyer sê my saak lyk nie goed nie. Daarom het ek oor die naweek maar vir Richie vir Ouma gaan gee vir just-in-case. Toe Ouma hom sien, het sy haar hand oor haar mond geslaan. “Jirre Sussiepop, die klonkie het dan potblou oë nes ’n witmens!”
The post In ’n koma appeared first on LitNet.