Die ander motte was dom en dwaas, maar ek sal ver van die kers af bly.
Toe CJ Langenhoven hierdie gedig geskryf het, was al die swakkelinge van die wêreld seker in sy gedagtes, ek inkluis.
“Ek is Wiegla, Wiegla Meyer. Gaan ek … hier in?”
“Ek weet wie jy is.” Sy stem is fors, maar opreg. “Hoe het jy hier beland?”
“Weet U nie alreeds nie? Ek bedoel ... U is dan ...”
“Vertel my nogtans … in jou eie woorde.”
Ek frons en begin dan my storie, eers huiwerig ... Hier is dit.
Elke tree van my lewe was beplan. Uitgelê soos ’n padkaart. Dit was nie altyd kreef en kaviaar nie, maar ek het altyd geweet waar my volgende maaltyd vandaan sou kom en ek het gedoen wat ek moes om die korporatiewe leer te klim. Ek het ’n goeie bestaan gemaak en was reg vir meer. Maar ’n winter terug het dinge gebeur ... dinge wat nie deel was van my beplande roete nie.
“Meneer Retief wil jou sien …” So is ek begroet op daardie gedoemde Maandagoggend deur die snip by ontvangs.
“Hoekom? Wat het ek gesondig?” het ek gegrap. Ironies hoe valsheid met vrees gepaard gaan.
Sy het met haar beplakte gesig na my gestaar, emosieloos. Daardie ou grappie was beslis bekend aan haar.
“Josie, wat’s fout?” het ek gevis.
“Niks is fout nie, Wiegie. Jy word gesoek. Boonste vloer. Maak gou!”
Ek moes toe al geweet het. Nee wag, ek hét geweet. Iets is aan die broei. Die trappe boontoe was stil. My kollegas het my oë vermy. Almal het geweet wat op my wag, maar niemand wou iets sê nie. In die gang staan oop bokse met my persoonlike besittings in.
“Dit spyt my...” Dis hoe die gesprek begin het. “’n Week se salaris vir elke voltooide jaar gewerk” was al wat ek verder gehoor het. Vyf jaar. Net so – verby.
Die dae het verander in weke en die weke in maande. My geld was min en my opsies nog minder. Ma se gekerm en Pa se gesuip was my voorland. Ek kon dit sien. Terug in ons bedompige huis met my onveranderde slaapkamer in ’n dorp waaruit ek ontsnap het voor die ink op my matrieksertifikaat droog was. Onder húlle dak, waar ek húlle reëls moes gehoorsaam en Sondag vir Sondag in die voorste gestoeltes moes sit en voorgee ...
Ek kon nie teruggaan nie. Ek kon net nie.
Hier ver uit die skemerte sal ek kyk. Hier ver is dit veilig en kyk is vry.
Ná nog ’n teleurstellende “Jy’s oorgekwalifiseerd” stap ek een middag die hoekkafee binne vir ’n pakkie Vogue Slims, want terwyl ek sente moes ek omdraai, was my kankerstokkies ’n moet.
Skielik voel ek ’n hand op my skouer.
Dit was die begin van die einde …
“Wiegla Meyer? Wil jy nou meer!” Sy stem so helder soos die daglig waarin ons gestaan het.
“Neon Botha.” Net sy naam alleen is ’n rooi lig. (Neem die wiel, Here!)
Hy is netjies aangetrek, soos ’n makelaar of iets, met ’n deftige snyerspak en ’n pers das. Die skoolboelie het grootgeword, en nogal mooi ook. Hy nooi my vir koffie dieselfde middag. Nuuskierigheid en eensaamheid dryf my na dié ongewenste afspraak.
Hy was aangenaam, nie meer die skobbejak van jare terug nie. Maar die bekende stoutgatkepe was nog sigbaar langs die hoeke van sy mond.
Die stemme in my kop het aanhou skree: Vat pad, Wiegie! Maar al het rillings op en af teen my rugstring beweeg, het ek hom geken – die beeld wat ek wóú sien, geken. Hy was … ’n vriend. ’n Vriend wat ek nodig gehad het in die huidige omstandighede.
Ons derde koffie-afspraak is opgegradeer na aandete en ek was dankbaar vir die geselskap. Die restaurant was deftig (nie my smaak nie) maar ek het dit beskou as ’n plek waar ’n man met sy rykdom kon spog. Ná die ete het hy my genooi vir ’n drankie by sy huis en ek was inskiklik.
In ’n spogbuurt buite die stad het die dubbelverdieping hemel toe getoring. Ek kon skaars glo dat een mens, alleen, in so huis wil bly. Die in- en uitvoer van goedere wat hy as beroep aan my voorgehou het, moes hom goed behandel het, want weelde was oral sigbaar. Ek is op ’n toer deur die kasarm geneem, en hy was die perfekte gasheer.
Ek het nie ongemaklik gevoel in sy teenwoordigheid nie en vanaf ons eerste ontmoeting het hy geen aanduiding gegee dat ek vir meer as vriendskap begeer word nie. Nog ’n rooi lig, want mans ís nie net vriende met ’n vrou nie …
Hoekom het hierdie man oor my pad gekom?
Ons het lank gesels in sy studeerkamer en aan duur whiskey in bolglase geteug.
“Hoe vorder die werksoekery?” Sy houding was skielik ernstig; saaklik.
“Ek was vir twee onderhoude dié week, maar sover nog niks. Ek sal dringend iets moet kry, Neon; my geld raak op en ek kan nie teruggaan na my ouers toe nie.”
Dit moes desperaat geklink het, want sy antwoord het dit so bevestig. “As jy wil, kan ek jou help.”
“Ek gaan nie jou geld vat nie, Neon. Ek is nie ’n liefdadigheidsgeval nie.”
“Ek het nie gesê jy is nie. Dis, ’n geleentheid.”
Maar ek hoef nie van eenkant net te kyk. Ek vlieg op dieselfde afstand om.
“Watse geleentheid?” het ek gevra; waarom weet ek nie.
“Easy money ... Ek het ’n pakkie wat oorsee moet gaan.”
“’n Pakkie? Nee dankie, ek smokkel nie dwelms nie. Ek mag dalk desperaat klink, maar ek is beslis nie dom nie. En in elk geval, is dit nie hoe jy jou geld verdien nie – uitvoere?”
“Dis nie dwelms nie, en ja, daar is ander wat ek kan vra, maar die inhoud is persoonlik, en nie iets wat ek wil bespreek nie. Dis nie heeltemal bo verdenking nie, so jy sal mooi moet dink voor jy antwoord. Ek vertrou jou en jy sal natuurlik mildelik vergoed word.”
“Dit klink ...” Ek het nie die sin voltooi nie, want ek was te skaam om die woord “skelm” te sê. Hoe sou dit klink? Wat dink ek dan van hóm?
“Kom nou, Wieg, van wanneer af is jy ’n bangbroek? ’n Avontuur is net wat jy nou nodig het.”
En so is die saadjie geplant.
Dan weet ek van alkant hoe hy lyk om beter te sorg om nie nader te kom.
Ons gesprek het die hele nag in my kop gemaal. Easy money is nooit easy nie. Niks is ooit gratis of sonder gevolge nie. En die “pakkie” alleen is mos net moeilikheid soek. Maar ek is ’n grootmens, selfstandig en goed opgevoed – genoeg om die verskil te ken tussen reg en verkeerd. En as dit nie dwelms is nie, hoe erg kan dit wees?
Miskien, as daar nie ’n finale kennisgewing onder my woonsteldeur gestoot is, of as my kar nie voor die aangesig van die bure weggesleep was in die dae wat gevolg het nie, kon my hart my kop beter oortuig het om nie die geleentheid te oorweeg nie, maar as is verbrande hout.
“Vertel my meer van die geleentheid met die pakkie ...” My stem is sag oor die telefoon, want al was ek alleen in my woonstel, wou ek nie hê iemand moes my hoor nie. Ek kan aanvoel iets is verkeerd. Gal stoot in my keel op soos ek na sy woorde luister.
“Here, wáár was U toe ek sy stories gehoor het? Hoekom het U nie my hande geboei, of my stem gesnoer sodat ek nie die oproep kon maak nie?”
’n Maand later is ek op ’n laataandvlug Bangladesj toe. Al wat ek saamgeneem het, was ’n rugsak met een nag se klere, want ek sou net in en uit wees. Neon het iemand by doeane geken wat my papierwerk goedgekeur het. ’n Huurmotor het by die lughawe gewag, my na ’n huis geneem en ek het die pakkie aan ’n ou vrou oorhandig.
Die hotel waarin ek oornag het, was in ’n donker deel van die stad, dus was rondloop en verken nie ’n opsie nie. Ek het gedoen wat hy gesê het ek moes: eet, slaap en vroeg opstaan die volgende oggend. Dis al.
Alles vir meer as vier maande se salaris! Maklik: easy money – en ’n groot, flikkerende waarskuwingslig. Maar wie sou weet – behalwe ek?
My sirkel was skeef en ingebuig, Maar dáár ook nag, waar ek naaste was.
Alles het volgens plan verloop. Geen onnodige vrae is gevra nie en ek het geen misstappe gedoen nie. Ek is in en uit en duisende ryker met geen idee wat in die pakkie was nie, want wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie ... of in hierdie geval, maak die skuldgevoel minder. Al wat ek geweet het, is dat my geldelike probleme iets van die verlede was, en ek kon weer leef. Dit was genoeg vir my.
Het niks gebeur – ek maak verniet my velling so groot en so ver van die as.
Ons kommunikasie was daarna beperk tot ditjies en datjies en ek het hom min gesien.
Ek het ’n halfdagpos by ’n galery in die stad aanvaar, want met die geld in my bankrekening kon ek uiteindelik iets doen wat my vervul.
Ses maande na die eerste pakkie verskyn hy weer voor my deur.
“Sien jy weer kans? Nog net een keer.” Sy gesig was strak, onleesbaar.
“Ek weet nie, Neon, my senuwees was gedaan die laaste trip. Dalk moet iemand anders dit doen. Netnou word ek gevang, of iets. Sê my wat in die pakkie is, dan kan ek myself voorberei.”
“Daar’s niks in om jou oor te bekommer nie, Wiegie. Vertrou my. Dis dieselfde reëls as die vorige keer. Wat kan verkeerd loop? En die ouvrou vertrou jou en, dis dubbel die geld!”
Dollartekens in iemand se oë is nooit ’n goeie teken nie. Nooit. Maar ek het ingestem, vir ’n laaste keer.
Was dit gierigheid? Beslis!
Die wieletjie draai al vinniger om. En die lig en die gloed word al groter genot.
Die weer is guur op pad lughawe toe dié aand en stormwinde ruk aan die huurmotor se vensters. Ek gooi die swart rugsak oor my skouer en hardloop vinnig deur die reën tot binne. Ek kry my kaartjie by die toonbank en stap na die volgende plek. Dis besig. Besiger as die vorige keer.
’n Man by die doeanepunt vat my sak en paspoort en knipoog slu terwyl hy met sy kop wys ek moet deurloop. Dit voel asof almal na my staar, of iemand weet van die pakkie, toegedraai in vaalpapier en weggesteek tussen my klere in die sak. My hart klop in my keel tot ek by die vliegtuig instap.
’n Lugwaardin wys my sitplek uit en hierdie keer is dit nie die een by die venster nie. Ek kon nie uitkyk en tussen die sterre verdwyn nie. Die spasie in die oorhangkompartement is min en ek sukkel om die swart rugsak in die hoek weg te steek. Die vroutjie langs die venster groet vriendelik. Sy probeer ’n gesprek aanknoop terwyl haar kneukels wit aan die armleunings vasklou toe ons rukkerig opstyg. Ek maak my oë toe en gee voor om te slaap, want ek kon nie die angs in my stem verder verbloem nie.
Met ons aankoms in die vreemde hou ek my kop laag om oogkontak te vermy en stap tussen die mense deur, rugsak in my arms. ’n Jong dame by die toonbank neem my paspoort en vroetel in die sak. Sy glimlag en stoot dit langs die skandeerder verby.
“Good luck!” hoor ek haar sê. Het sy geweet?
’n Onbekende man met ’n “Miss Meyer”-bordjie in sy hand staan langs die huurmotor en wag. Hy sê niks, maar die skadu’s in sy oë maak my bang. Ek klim by die passasierskant in en druk die rugsak tussen my bene vas. My asem jaag terwyl sweet teen my nek afloop. Hy stop voor dieselfde huis, klim uit en maak my deur oop. Ek stap na die voordeur en wag vir ’n oomblik voor die trappie. Stadig rits ek die sak oop en steek my hand tussen die klere in, op soek na die pakkie. My arms voel lam. Hoekom is ek so bang?
Met die pakkie styf in my hand tree ek vorentoe en klop aan die deur.
Drie kloppe, wag. Klop weer. Die afgedopte, roesbruin deur swaai oop en dieselfde, lelike, maer ou vroutjie, omring deur ’n flou lig wat vanuit die portaal flikker, verskyn in die opening. Ek hou die pakkie na haar toe uit, maar sy staan net daar en staar, met ’n tevrede blik op haar gesig. Sy draai om en begin wegstap, stop skielik en roep oor haar skouer: “Come.”
Ek wou nie. Maar die pakkie ... die geld ...
“Come in!” beveel sy.
Met die pakkie steeds in my hand tree ek huiwerend vorentoe, in die huis in, in die lig in.
Toe raak dit donker!
En die vellings word nouer al rondom die as ...
“Waar was U? Hoekom was U nie daar om my te beskerm nie, Here? My stop voor ek – voor hulle my ...”
“Ek wás daar, Wiegla. Ek was die twyfel in jou hart en die vrees in jou gemoed. Ek het jou hande laat bewe en die stemme in jou kop laat roep. Ek was langs jou, vóór die deur. Maar jy het alleen ingegaan; dit was jou keuse. Jy het die besluite geneem, van die eerste versoeking af, sonder om aan die gevolge te dink.”
“Maar hoe moes ek weet? Ek wou net ...”
“Jy hét geweet, maar gekies om nie te luister nie. Nie na my of na jouself nie.”
“Ek is jammer … Ek ... Dis te laat ... nè? Waar gaan ek nou heen?”
“Jy weet waarheen.”
“Wag, Here ... Sê my asseblief net: wat was in die pakkie?”
Hy kyk my verwytend aan. “Jou siel.”
En die end van die wiel is die as van die mot.
The post Die pakkie appeared first on LitNet.