Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Blufgesig

$
0
0

Dis nog donker wanneer sy by die oprit van die glanskompleks indraai.

Sy stop by die elektriese hek en druk haar kaartjie teen die gloeiende rooi glasie; die hek beweeg stadig na die kant toe.

Die veiligheidswag is half aan die slaap en kyk ongeïnteresseerd op.

“Môre mevrou Van Niekerk,” knik hy sy kop en kyk terug na sy skerm sonder om vir ’n antwoord te wag. Sy aksent laat dit klink of hy “my vrou van néékerk” sê.

“Môre …” Sy is nie seker of hy Bryan of Gawie of Doepa is nie. Hulle almal lyk vir haar dieselfde.

Sy gee nie regtig aandag nie. In haar geestesoog is sy al klaar binne-in die gebou.

Bryan/Gawie/Doepa sien elke dag honderde skarrelende skaduwees soos sy wat by die gebou inglip en eers baie ure later weer uitgeslomp kom, “Carpe diem” in uitgebleikte hoofletters op elkeen se voorkop gestempel. Elkeen met dieselfde glinsterende vegboelterriër-kyk in sy oë as die volgende of vorige een.

Die uitkringende rimpeleffek van materialisme en motivering en mega-ego’s.

Sy klim vinnig uit haar motor en stap inderhaas na die blink glasvoordeure.

Al haar bewegings is vinnig en ekonomies en net-net duskant desperaat.

In haar wêreld van glans en goud is tyd geld, en geld is god. En tussen die lyne van die drie-eenheid van Tyd, Geld en God is die foutgrens weglaatbaar klein.

Moenie laat ons jou ooit vang dat jy dit vergeet nie, oorkoepel die stille slagspreuk die sielkundige mynveld waar Mammon koning kraai.

Sy is emosioneel en psigies sorgvuldig afgestomp sodat mynvelde haar nie meer traak nie. As die beursie swaar genoeg is, is die gemoed lig.

Agter die plek se glasvoordeure is die bekende reuke en gedempte geluide ’n lafenis wat sagkens streel oor naakte sinapse en uitgetorringde gemoedere.

Die ingewande van die gebou is die domein van die Masjien, en word fyn beheer om slinks op die metromens se psige te speel.

Sorg dat hulle gemaklik en begeerlik voel, maar die belangrikste: optimisties.

Of meer akkuraat gestel: Hou hulle intens optimisties, veral in die verstikkende afwesigheid van wat hulle glo.

Die Masjien loop klopdisselboom op hul rasende hoopvolheid vir ’n beter môre.

Wat hulle glo is irrelevant.

“Geloof is die opiaat van die massas,” spook Karl Marx se fluisterwoorde in die gange van gister.

Geloof het platgeval toe die regering nie meer die kerk se kettings nodig gehad het nie.

In die moderne sfeer van flikkers en blinkers is optimisme die opium van die metromens, en as jou natuurlike vlakke daarvan laag loop, maak jy maar staat op die witgepoeierde vorm daarvan in jou sak.

In die gebou sal jy nie die tik-tok-bewegings van wysers teen die muur sien nie.

Die getinte vensters gee die lig in die gebou ’n wasemrige kwaliteit. Van binne kan mens nooit seker wees of dit vroegoggend of aand in die gebleikte, pastelkleurige buitewêreld is nie.

Dik Van Dyck-matte demp ongewenste klanke en sluk voetstappe.

Smaakvolle room en donker houtskoolskakerings met fyn goue lyntjies kleur mure in, terwyl mooi portrette en duur standbeelde hier en daar paai en tooi.

Die huis van die Masjien is mooi, want as jy nie mooi het nie, het jy niks.

Sy, en al die ander gaste van die huis, word sagkens toegevou deur die sagte linte van nieverbale kommunikasie dat hiérdie plek die plek van wenners is.

Op elkeen se mees basiese vlak, ongeag of hul groot of klein somme op die spel plaas, is hul aangetrokke tot hierdie blufferige vertonings van flambojansie en oortollige rykdom.

Dit skep die slinkse indruk dat álmal besig is om te wen, terwyl hulle in werklikheid besig is om meer te verloor as net Tyd en Geld.

Die sagte, geel beligting skep ’n gemaklike, veilige atmosfeer wat mens subtiel aanmoedig om nog ’n bietjie langer te bly.

Nog bietjie meer te belê in die Masjien.

Die helder skerms en flitsende liggies gaan nie huis toe nie, so hoekom wil jý?

“Klik klak klik klak” klink haar hakke belangrik oor die gepoleerde marmervloer tot by die hysbak.

Sy hou daarvan om belangrik te voel.

Sy is op pad na die VIP-vloer. Die vloer waar die risiko’s groot is en die pot aan die einde van die spreekwoordelike reënboog nóg groter.

Hier het reënboë niks met beloftes te doen nie, maar alles te doen met wie die beste kan bluf en die waarheid die verste kan buig.

Deur die hysbak se glaskante staar sy blindelings oor die stad se liggies uit.

Klein, geroeste naaldjies van vrees krap genadeloos en aanhoudend teen haar ruggraat op en teen die kante van haar nek uit.

Maar saam met die vrees druis adrenalien, en in die Dobbelhuis is adrenalien maar net die minder stabiele boetie van optimisme.

“Dienggg!!” maak die hysbak se deure oop.

Oral sit ander met strak uitdrukkings na helderbeligte skerms en staar. Deur verskuilde lense van tallose sekuriteitskameras lyk hul bewegings motories en moronies.

Manies.

Sy stap in die gang af sonder om oogkontak te maak met enige van die ander.

Niemand neem notisie van haar nie.

Lee oë hou getalle en liggies en prentjies dop. Adrenalien- en stresvlakke word sagkens gepaai deur die ligsinnige, onophoudelike getinkel van onopvallende note wat deur weggesteekte klankstelsels speel. Die temperatuur word versigtig gemanipuleer om tussen die gemaklike grense van 18 en 22 grade Celsius te bly.

Goedberekende wit geraas vul die lug so sorgvuldig dat jy genoodsaak is om nader as drie meter vanaf ’n geselskap te moet staan om te kan hoor.

Enigeen buite die driemeter-ysterradius kan net ’n aangename maar onverstaanbare murmurering hoor.

Want hier het die mure ore en die dak het oë, en selfs die vlieg teen die muur rapporteer direk aan Die Mense aan die Bokant.

Die lug word gespuit met lekkerruik-laboratoriumferomone wat deur gesiglose, gewetenlose slimkoppe geskep is om die kollektiewe bewussyn in die gebou te beheer en buig.

Maar die meganiese binnewerkinge en hondesielkunde traak haar min. Sy het haar oog op die prys.

Sy besluit om eers voor haar masjien te gaan sit om haarself rustig te maak vir die uiteindelike spel wat voorlê.

Die metromens is sosiaal gekondisioneer om te glo dat helder kleure en aanhoudende beweging iets van groot belang aandui.

Dat flitsende ligte die brandmerk van sukses is, en glans en blinkers ’n plaasvervanger vir skoonheid en rykdom is.

Die Masjien skep die indruk dat die wennery aanhoudend en progressief rondom jou plaasvind.

Te midde van al hierdie beweging en sukses is dit vanselfsprekend dat dit binnekort jóú beurt gaan wees om te wen.

Daar word aan elkeen met ’n silwerteelepel gevoer dat hul nog net een syfertjie, nog net een prentjie weg is van hul wildste drome.

Verheerlikte batteryhoenders dronk op die stank van skuld.

Sy kyk af na haar horlosie.

Dis tyd.

Sy dwing haarself om stadiger asem te haal terwyl haar gesig niks van haar binneste struweling verklap nie.

Daar is oral kameras.

Die Dobbelhuis hou nooit op om jou dop te hou nie. Sy is op die drumpel van die hoogste liga.

Selfs ’n druppel senuweesweet op jou bolip, of ’n twyfelagtige stemtoon, en jy word vir die straathonde gegooi.

Sy trek haar skouers terug en stap teen ’n waardige pas in die gang af tot by die pragtige swarthoutdeure.

Sy weet dat die ander ten minste ’n uur gelede al rondom die tafel  ingeskuif het. Sy is die nuwe een.

Die inkommer.

Jong bok.

Sy maak haar gesig, lyftaal en gees doelbewus leeg.

Marmer-blufgesig.

Wanneer sy by die kamer instap, sit die twaalf rondom die gepoleerde tafel. Sy beweeg haar mondhoeke effens op en knik vir die groep voordat sy gaan sit.

Hulle gesigte verklap niks.

Elkeen ’n refleksie van die ander se uitdrukking van berekende verveeldheid.

Na ’n paar minute se luisterryke formaliteite en kommersiële grappies staan meneer Erhellen op.

Hy laat sy kop effens sak sodat hy strak na haar kyk oor die glase van sy bril.

“Laura, ons het besluit dat jy die regte kandidaat is om ’n vennoot te word van die Eskut Vermell Groep. Baie geluk. Jy is die jongste vennoot in die 250 jaar van ons firma. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om op sulke jong skouers te rus, maar die direksie het addisionele faktore soos jou indrukwekkende kwalifikasies, jou aristokratiese bloedlyn en vorige professionele toekennings in ag geneem. Welgedaan en welkom.”

Meneer Erhellen stap om die tafel om haar hand in syne toe te vou in gelukwensing. Sy hande is oortrek met lewervlekke, en sy vingerpunte is so koud soos sy oë.

Hy herinner haar pynlik baie aan haar pa.

Die wêreld rondom haar draai soos ’n mallemeule, en adrenalien pols deur haar are en druis in haar ore.

Hierdie keer glimlag sy net-net breed genoeg dat spierwit tande deur bloedgeverfde lippe wys.

Die res van die vergadering smelt met die res van die dag saam, en toe word dit nag.

’n Kakofoniese kaleidoskoop van gelukwense, papierwerk, oproepe, lugsoene en koue grinnikke.

Teen die tyd dat sy haar rekenaar se skerm afskakel, klop daar ’n dowwe hoofpyn reg agter haar oë en haar mond is kurkdroog.

Deur haar hoekkantoor se vensters glinster en dans die stad se liggies soos ’n elektriese, fluoresserende see onder haar. Dit lyk of die liggies beweeg en pols, selfs al staan dit in werklikheid stil.

Konstante glansgolwe van beweging, vasgevang in die vals sin van veiligheid van die stad.

Sy is oorweldigend bewus daarvan dat sy vandag deel geword het van die Masjien. Deel van die Dobbelhuis se oë in die dak.

Sy het uiteindelik haar goue stokkies gekry, en daar sal ongetwyfeld vlugtig van haar verwag word om die toutjies te trek en die poppe te laat dans.

Dis vreemd. Sy het gedink dat dit anders gaan voel.

Dat dit meer afsluiting sou bied vir haar eindelose persoonlike en professionele onsekerhede, en bedekte wonde.

Na ’n oomblik van koel besinning besef sy dat dáárdie soort diepgewortelde afsluiting sal kan geskied eers wanneer sy eendag aan die helm van die direksie is.

Wanneer sy in meneer Erhellen se skoene klim.

Háár reënboog loop tot aan die absolute bopunt.

Vandag was net nog ’n trappie.

Sy het nodig om dít te glo, ten spyte daarvan dat sy nie daarin glo om aan iets te glo nie.

Maar wat sy glo is irrelevant.

Die Masjien loop klopdisselboom op haar rasende, materialistiese hoopvolheid vir ’n beter môre.

Sy stap by haar kantoor uit en vee haar vingerpunte saggies oor die nuwe goue naamplaat teen die muur.

“Laura Whitmore – Vennoot, Eskut Vermell Groep”.

Sy lig haar mondhoeke effens op.

Wanneer sy in haar voertuig klim, besluit sy op die ingewing van die oomblik om by haar gunsteling Italiaanse restaurant te gaan eet om die dag te vier.

Daar is niemand wat haar gaan inwag by die voordeur van haar reusehuis in Plattekloof nie. Nie eens ’n hond nie.

“Totsiens Mevrou …” groet Bryan/Gawie/Doepa.

Hy kan nie haar naam onthou nie. Hulle lyk almal vir hom dieselfde.

The post Blufgesig appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Trending Articles



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>