Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Stienie

$
0
0

“Stienie” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

*

Stienie

Dis vroegoggend in Johannesburg. Winters op die Hoëveld is altyd koud, maar dis asof hierdie een kwaad is vir die wêreld. Ek sien dit aan die mense op straat. Aan hulle klere, die skouers wat hang en koppe gedraai teen die wind; die vaal lug en dooie blare wat heen en weer dans.

In die Mercedes is dit natuurlik so warm dat ek wens ek het my baadjie uitgetrek voor ek in die kar geklim het. Ek stel die lugverkoeling effens kouer terwyl ’n vrou met gekruiste arms oor die pad skarrel.

Die nostalgie ry altyd saam met my so deur Brixton se strate. Sien, ek het net hier om die draai grootgeword. Hier was ’n groot munisipale swembad waar ons as kinders uitgehang het. Hier skuins af, net voor die universiteit, was Naas Botes se boksklub gewees. Die Brixton-moord-en-roof-eenheid het vele beroemde (en berugte) figure opgelewer.

Dit was ’n leeftyd gelede. Ja, ek het ver gekom.

Maar Brixton het agtergebly. Die geboue is voos: stukkende vensters, ou verf, hout wat vrot en yster wat roes. Die mense se klere is gehawend. Aan die oorkant buite die drankwinkel staan ’n man gekokon in ’n vuil kombers. Die Augustus-winde waai ’n blou Checkers-sak oor my voorruit; vullis lê en waai die wêreld vol. Iemand het my vertel Brixton is aan die herstel, maar daar is min bewyse daarvan in die hoofpad.

Ek loer na links om te kyk of Ruan sy skooltrui aan het. Sy kop beweeg ritmies op en af, oë toe, vasgevang in die musiek wat uit sy oorfone stroom van iewers in die wêreld af. Verby is die dae van CD’s en plate.

Hy het darem sy trui aan. Ek tik teen sy been met ’n vinger. Hy trek die oorfone af en lig sy wenkbroue.

“Het jy jou baadjie?”

“Ja, Pa. Agterin.”

Hy klink heel gemoedelik. Ek rem effens vir ’n voetganger wat tentatief mik na die pad. Nou moet ek saggies trap. Hulle sê mos Abraham het vir Isak geoffer want Isak was ’n tiener.

“Waarna luister jy?”

“Musiek.”

“Watse musiek?” probeer ek.

“Pa … wat is dit?”

Ek knik. Uitgevang.

“Het jy intussen weer gedink oor universiteite? Ons moet begin aansoek doen – die tyd stap aan.”

Sonder ’n verdere woord is die oorfone terug op sy kop, maar ten minste is dit min of meer die reaksie wat ek verwag het. Ek druk ’n knoppie op die stuurwiel om die radio harder te stel vir die nuus terwyl ek by die verkeerslig stop.

Op die sypaadjie trek iets my aandag. Iets wat uit sy plek is. Dis ’n vrou met ’n kind aan elke hand. Haar jas lyk soos ’n aapjas wat ek laas in die weermag gesien het en haar hare is vol krullers. Dit kan nie wees nie. Krullers? Regtig? Uit die hoek van haar mond hang ’n sigaret. Dit voel of ek terug is in die tagtigs, besig om vir antie Stienie te kyk op Agter elke man. Haar skouers is breed vir ’n vrou en dit lyk asof sy nie ’n nek het nie. Sy wag nie vir die verkeerslig om te verander nie; blaf net ’n kort bevel en stap dan oor die straat. Die kinders weerskante van haar val in terwyl die ystergreep hulle saamsleep.

My oë trek op skrefies. Die seuntjie kan nie ouer as tien wees nie, die dogtertjie dalk ’n bietjie jonger. Stienie lyk te oud om hulle ma te wees en te jonk om hulle ouma te wees; maar hulle is onmiskenbaar familie (een waarin nekke nie uitgedeel is nie).

Ek herken nie die skoolklere nie. Waar op aarde is hulle op pad heen? Daar is tog nie skole hier rond nie? In elk geval, nie waarvan ek weet nie.

Ek wip vir die toeter wat agter my blaas. Die lig is groen en ek trap die versneller met ’n tikkie venyn. In my truspieëltjie sien ek die Toyota se bestuurder wat vir my iets beduie. Verder af stap die drietal flink, en ek merk op dat die kinders nie truie aan het nie. Ek sluk.

Dis te vroeg om my vir die Toyota te vererg en ek trap eenvoudig die versneller in die vloer in. Kom nou, jy wil mos toeter blaas – hoekom hang jy nou so ver terug?

*

Twintig minute later is ek op pad terug, reeds langer as ’n uur op die pad vandag. Ek werk darem tuis, maar die skole is lankal terug na normaal. Google maps vermy Brixton se hoofstraat dié slag en neem my op ’n parallelle paadjie. Ek hoop maar die verdomde foon weet wat hy doen.

Dan sien ek haar skielik weer, besig om haar kinders af te sien met deernis wat nie pas by haar bou, of die krullers nie. Die sigaret is ten minste iets van die verlede. Bo die hek waar die kinders deurloop, pryk “Laerskool Piet van Vuuren”, in ’n boog van blou geskrif. Nou onthou ek die skooltjie. Ek het geen benul wie Piet van Vuuren was nie, maar ek is wel verstom dat die naam van die skool nog nie verander is nie. Afrikaanse plekname is mos besig om soos renosters te kwyn.

Ek wens Ruan kon besef watter geleenthede hy het. Die kinders in hierdie skool … ek wonder hoeveel sal dit kan bekostig om universiteit toe te gaan. En hier sit ek – my kind het soveel geleenthede, maar koes vir elke gesprek oor sy toekoms.

Stienie het intussen haar kinders klaar gegroet en is op pad terug stad se kant toe. Dis darem ’n helse ent om elke dag na ’n skool toe te stap. Sy wil seker ook maar net die beste wat sy kan vir haar kinders gee.

*

Teen die tyd dat ek hom gaan oplaai na werk, is dit reeds donker by Helpmekaar Akademie. Daar is nog ’n halfuur se oefening oor; ek besluit om in te loer.

Ek loop geruisloos by die ouditorium in. Dit lyk nie of enigiemand my bemerk het nie en ek gaan sit in ’n donker hoek heel agter. Die gewoontemisdadigers sit in die middelry en gesels met gedempte stemme. Elkeen van hulle is ’n kenner en kritikus vanaand. As hulle so baie van toneelspel af weet, hoekom is hulle dan nie beroemd nie? Ek skud my kop.

Die groepie lag saggies. Ek besef dis vir Ruan, maar ek het nie eers gehoor wat die kind sê nie. Dit maak nie saak nie, ek weet dit was vir hom. Hy kon nog altyd mense laat lag.

Teen die einde van die oefening voel ek ontspanne, en ek kan sien Ruan is ook in ’n goeie luim.

“Het jy die oefening geniet?” vra ek op pad na die kar toe en trek my baadjie effens stywer.

“Dit was great. Ek’s seker ons gaan hierdie jaar wen.” Sy glimlag verdwyn. “Dis nou as die fokken judges nie weer teen ons is net omdat ons ’n privaatskool is nie.”

“Ruan …”

“Ja, sorry Pappa. Maar jy kan nie stry nie, ons moes laas jaar gewen het!”

“Ja, ja, julle was great.”

Ons klim in die kar en tot my verbasing bly die oorfone vanaand af. Ons het vir ’n verandering iets wat dalk selfs ’n normale gesprek kan weerspieël. Ek besluit om weer te probeer.

“Ruan, ons moet binne die volgende twee maande die universiteitsaansoeke doen. Jy moet asseblief hierdie naweek baie mooi gaan dink.”

“Ek hoef nie, Pa. Ek weet wat ek gaan doen.”

My hart sak. “Ja?” Ek probeer hoopvol klink.

“Hoeveel keer moet ons nog hierdeur gaan? Ek gaan drama swot.”

“Ruan …”

“Asseblief, Pa. Dis my lewe, nie julle s’n nie. Ek wil nie ’n fokken dokter wees nie.”

“Wat van …?”

“Of ’n ingenieur nie.”

Ek sug. “Al wat ek vir jou wil hê, is dat jy gelukkig moet wees. Maar met drama gaan jy nie kan gelukkig wees nie.”

“Hoe weet Pa dit? Wie ken Pa wat ’n actor is?”

“Niemand nie, en ek hoef nie. Dis een ding om ’n akteur te wees – dis ’n ander ding om finansieel selfstandig te wees – en ek weet genoeg om te weet dat bitter min akteurs ooit daarby uitkom.”

“Wat het geword van ‘doen wat jou gelukkig maak’? Is Pa so verskriklik gelukkig met Pa se werk?”

“Ek wil hê dat jy drome moet hê. En ek dink net jou drome is nie groot genoeg nie. My pa het altyd gesê: ‘Dream big.’ Jy sal eendag sien, dis wat enige ouer vir hulle kinders wil hê.”

Hy kyk weg van my af, by die venster uit. Die frustrasie is opmerklik en ek is nie seker of hy huil nie. Ek kyk ook anderkant toe om hom die verleentheid te spaar en sien uit die hoek van my oog hoe die oorfone opkom.

Ek ry stadiger en stop onder die rooi verkeerslig. Dit is die derde maal vandag dat ek vir Stienie sien. Ten spyte van haar metamorfose, herken ek die silhoeët van ’n neklose vlinder. Sy dra rooi hoëhakskoene wat saam met rooi lippe uitstaan onder die rooi lig; ook ’n blink romp wat te kort is, ’n oop baadjie en goue handsakkie wat oor haar regterskouer hang. Die aggressiewe houding is weg; sy leun smeulend agteroor teen die verkeerslig, een been gebuig. Haar T-hemp span asof dit gaan bars oor haar borste wat die baadjie oopdruk. Haar oë wink vraend na my.

Op die T-hemp, in goue kursiewe blinkers, staan geskryf “Dream Big”.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

The post Stienie first appeared on LitNet.

The post Stienie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>