Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 436

Om ’n klip af te sluk

$
0
0

Foto: Canva

Om ’n klip af te sluk

Deur die venster van Dawid se woonstelkamer lê Kaapstad in ’n meer van neonlig onderdompel, ’n helder gloed wat in ’n boog teen die donker hemel pols. Hy tree stadig agteruit, weg van die venster. Die stad doof geleidelik uit sig en sy weerkaatsing in die ruit kom in fokus. Hy is bleek in die swak lig. Sy oogkaste is donker kolle in sy gesig, sy wange is effens ingesak en sy styl, blonde hare staan in alle rigtings op sy kop. Die kooltjie aan die punt van sy sigaret gloei helder oranje toe hy ’n trek daarvan neem. Hy skakel die ligte af, sy beeld verdwyn en die stad word weer openbaar, dit flikker vleiend. Hy gooi die halfgerookte sigaret in die leë Coke-bottel wat op die vensterbank staan. Dit was ’n lang dag en hy sleep homself bed toe.

Die stad het gekrioel en geraas toe hy ná werk terugstap huis toe. Die son het reeds anderkant die baai gesak, maar dit was helder lig tussen die geboue.

Mense kom soos miere uit gate by hoë kantoorgeboue uit en loop teen mekaar vas sonder om verskoning te maak. Die lug is warm en geswolle, hang swaar oor die stad. ’n Ambulans se sirene loei êrens op ’n hoofweg en helder beelde van wegneemetes word op reuse skerms teen geboue geadverteer, energiedrankies op baniere wat teen straatlampe afhang. Hoog bo die stad se wolkekrabbers proes ’n vliegtuig verby wat ’n nagklub adverteer. Dawid loop verby ’n raafagtige kreatuur wat hulself teen ’n goedkoop tarief per uur verkoop. Dit voel of die skerp ligte hom soos ’n mot probeer vang, asof die taaierige sypaadjie hom anker aan die bodem van die stad. Hy beur voort.

Dawid steek ’n sigaret aan terwyl hy aanstap. Dit is stiller op die ander sypaadjie; hy sien ’n gaping in die verkeer, skiet oor die pad.

Nader aan sy woonstelblok neem Dawid kortpad deur die agterstrate waar smouse met oorvol stalletjies ’n lewe in die stad probeer verdien. Van hardeware tot speelgoed tot handwapens is te koop, en as jy die regte vrae op die regte manier vra, kan hulle verbode produkte en middels van enige aard vir jou onder hul tafels uitgrawe.

“Ja, ja, ja, meester, ek sort jou uit, moenie worry nie,” antwoord Smokey toe Dawid vra of hy Nokia 3310’s verkoop. “But wait a minute, ek het iets wat meester dalk sal interest vanaand. Check gou hier.” In die Kersfeesliggies wat sy stalletjie omraam, sien Dawid die swart onder Smokey se naels. Hy is altyd vuil, stukkende kort hemp, vaal denimbroek, en plakkies wat hy winter en somer deur dra. Krap altyd sy stoppelbaard met sy vuil duimnael, met ’n sigaret tussen die pinkie en ringvinger. “Ja, ja, ja, ek dink jy sallit likes.” Hy krap die stoppels.

“Asseblief, Smokey, ek is op pad huis toe. Net die Nokia,” sê Dawid vieserig en maak sy keel versigtig skoon.

Hy hou nogal van Smokey. Daar is iets aan hom wat Dawid al ’n ruk aangryp, maar hy kan dit nie uitpluis nie. Is dit onskuld? Nee. Beskik hy oor ’n wysheid wat vir hom wat Dawid is, verborge is? Miskien herinner Smokey hom aan iéts, nie aan iémand nie, maar aan iets wat in die troebel verlede bestaan. Smokey kom uit ’n ouer wêreld, met reëls en dogmas wat hom sentimenteel maak, kwesbaar maak. Dalk sterk maak?

Wat hy wel van Smokey kan eien, is dat hy lééf, en dat die lewe by sy mond uitborrel.

“Ja, ja, ja, ek weet meester is altyd haastig, maar check hier.”

Smokey knyp die sigaret tussen sy lippe vas, sy oë trek op skrefies teen die rook. Uit sy broeksak haal hy ’n klein fluweelsakkie en gooi die inhoud daarvan in sy hand.

“Nice, Smokey. ’n Klip. Kan ek vir jou ’n duisend rand aanbied daarvoor of is dit te min?” sê Dawid sarkasties.

“Meester” – sigaret tussen die vingers krap hy sy wang met sy duimnael – “dis nie ’n joke nie. Hie’t ’n wit man annedag aangekom met die ding. Gesê hy’t dit in Ethiopia êrens gekry. Hy sê ...”

“Smokey, ek gaan loop,” val Dawid hom in die rede.

“Meester, hy sê die ding kom uit space uit.”

Dawid swig, neem die steen by Smokey en probeer in die Kersliggies uitmaak wat hy sien.

Dit neem hom ’n oomblik, maar hy sien dit uiteindelik. Diep in die steen is lewe, ’n hart wat dieprooi in die middel van die steen pols en in fyn rooi aartjies na die blink oppervlak uitvloei. Tussen die rooi are vleg geel linte soos sonstraaltjies in sy boesem en skiet in skerp puntjies uit teen die sagte blougroen mengsel wat die res van die steen beslaan. Dawid poleer dit met sy duim en vryf dit blink teen sy hemp se mou. Hy kyk weer. Dit lyk nes ’n albaster uit sy kleintyd, maar dieper, voller, mooier. Dit is die eerste keer in baie jare dat hy weer aan sy albasters dink. Die geheue het verborge dieptes waarin vroeë lewens soos oliebronne op die bodem van die see lê.

Terwyl Dawid swym in die kleure van die steen, maak Smokey die man van Ethiopië na wat dit een nag vir hom as geskenk gegee het.

Smokey maak sy keel skoon, lig sy ken op en loer oor sy neus. “Dit is ’n merkwaardige artefak wat jy daar het, seun. Wees ... um ... thankful ... oh yes ... wees dankbaar.” Hy stryk sy hemp met sy hande plat, trek sy broek tot by sy naeltjie op en vryf sy stowwerige hare plat. “Hierdie besondere geo-something-se vonds is al vir ages diep in die aarde se kors verborge.” Smokey beweeg stadig, dieper in sy stalletjie in soos hy aanhou praat. Sy hande is in vuiste op sy bors asof hy kruisbande vashou. “Hierdie steen het diep vanuit die matriks van die ruimte hier op aarde sy landing kom maak.” Tydsaam beweeg hy na die tafel waarop al sy voorraad uitgestal lê en neem sy staanplek daaragter in. “En dit is ons besondere voorreg om die steen te ontvang” – hy neem ’n oordramatiese pouse, maak sy rug reguit, loer weer oor sy neus – “en dit saam met ons te dra.”

Dawid se aandag word afgetrek van Smokey se leerrede, want die steen begin in sy hand beweeg. Dit vibreer, kraak oop. ’n Helder lig skiet uit die opening en die rooi en geel en blougroen kleure wat in die steentjie verborge was, skiet meteens soos vuurwerke na buite. Dit bons en spat teen die seile van die stalletjie en bars in vlekkies teen die dun plastiekdak. Smokey praat al harder en harder, maar sy woorde klink vreemd en Dawid kry nie daarop gefokus nie. Klein spikkeltjies lig spat oor sy hand, oor sy liggaam en teen sy gesig. Dit spat oor sy oë.

“Dit moet jy altyd onthou, seun. Hou my woorde, saam met hierdie steen, vir altyd styf vas en na aan jou hart.” Smokey se bors sak in soos hy ’n asemteug uitblaas. Hy kom staan weer langs Dawid voor die tafel en sy skraal liggaam gooi ’n skaduwee oor die steen wat die vuurwerke meteens uitdoof. Dawid staan verbysterd.

“Ja, ja, ja, wat die man bedoel het, sal ekkie weet nie, meester.” Hy krap sy wang met sy vuil duim en die as van sy sigaret breek af en daal stadig tot op sy kaal voete neer. “Maar dit was baie mysterious, meester. Toe dink ek Dawid sal dié mos nou likes.”

 

Terug in die woonstel, op sy bed, voel Dawid weer die klippie in sy sak.

“Misterie.”

Die woord hang verleidelik bo sy kop, soos ’n oorryp vrug aan ’n tak. Was misterie nie die oorsprong van die sonde nie? Of was dit lustigheid? Miskien was dit hongerte. Smokey sou ook so iets sê.

Hy hou die steen teen die bedlampie se flou lig, rol dit tussen sy vingers. Wat hom vroeër, onder Smokey se stalletjie, in oorbluf gehad het weerkaats nou amber, brons en vuilgroen kleure wat sukkel om deur die halflig te breek.

Was dit net sy verbeelding? Het die moegheid van die dag se werk hom weerloos gemaak?

Hy weet, sou hy die lig afskakel, sal die klip ’n donker kol tussen sy vingers wees.

Dawid skakel die bedlamp af. In die donker van sy woonstelkamer is die steen ’n swart gat tussen sy vingers. Hulle sê ’n swartgat is ’n ster wat gesterf het. Aan die einde van ’n ster se lewe raak sy massa so geweldig groot dat dit uiteindelik in homself inval en inkrimp tot ’n klein swart gat, soos groot soos die palm van sy hand, so groot soos die steen. ’n Swartgat se massa is so astronomies dat dit álles aantrek en intrek. Niks kan uit die gravitasiekolk ontsnap nie. Nie eens lig nie.

Wat gebeur binne-in hierdie gat? As jy in ’n swartgat ingetrek word, wat sal met jou gebeur? Hy keer sy gedagtes.

In een ratse beweging kom hy regop. Hy prop die steen in sy mond en probeer dit afsluk. Dit voel glad en slymerig teen sy tong en ’n flou, sout smaak maak hom naar. Die steen is te groot om af te sluk en hy begin stik. Woedend forseer hy die steen met twee vingers by sy keel af, maar saam met die inhoud van sy maag braak hy dit op die mat langs sy bed uit. Verwoed spring hy van die bed af op en staan wydsbeen oor die steen wat in die braaksel op die vloer lê. Hy buk stadig af en tel die steen op.

Hy mik na sy kamervenster en gooi die steen kragdadig deur die ruit na buite.

Uitasem staar hy na die gat in die ruit, die glasskerwe op die vloer. ’n Ligte bries wat deur die gat instroom, is koel teen die trane wat by sy wange afrol.

Hy sluit sy oë.

Deur die gat in die ruit vloei die stad se lig in strome by sy woonstelkamer in. Dit kabbel in golwe oor die vloer, stroom oor die bed en vloei stadig op teen die mure, tot by die plafon. Helder lig verspoel sy woonstel.

Dan, daar waar Dawid staan, lig sy voete stadig van die vloer af op en in die middel van sy kamer begin hy in die golwe en golwe lig te dryf. Sy ligte hare sweef in die lig. Sy arms strek uit en dryf loodreg met sy liggaam. Sy bene hang gewigloos bo die bodem van sy kamer. Die glasskerwe op die vloer word ’n prisma wat die stad se neonligte in sy rigting weerkaats. Soos linte strek dit uit na hom. Dit krul om sy arms en vou om sy bene. Dis sag en soel teen sy lyf. Tydsaam trek die linte hom deur die lug, nader en nader aan die opening in die ruit. Dawid gee homself oor aan die ligte stroom.

Sag vleg die linte om sy nek, minsaam streel dit sy gesig.

The post Om ’n klip af te sluk first appeared on LitNet.

The post Om ’n klip af te sluk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 436

Latest Images

<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>