
Foto: Canva
Volpunte
Manie voel hoe sy gesig rooi word van ergenis. Hy kyk af na die toets wat voor hom op sy lessenaar lê en waarop daar ses kruisies en net vier regmerkies is. Eers wil hy die papier opfrommel en agter in sy tas wegsteek, maar dan staan hy op en stap na juffrou Van Wyk se tafel. Sy bene bewe, maar hy steur hom nie daaraan nie.
“Juffrou?” vra hy en gaan staan langs haar stoel.
“Ja?”
Dit lyk vir Manie of juffrou Van Wyk wil lag, maar mens weet nooit met ’n onderwyser nie.
“Wat is dit, Manie?”
“Juffrou het hierdie vraag verkeerd gemerk en my antwoord is … is reg,” fluister hy.
Juffrou Van Wyk kyk hom stip aan bo-oor haar bril, vat die toetsbladsy uit sy hand en lees hardop. “Hoeveel weeksdae is daar?” sy kyk op. “Jou antwoord is vier, Manie.”
“Ja, Juffrou,” hy knik, vasbeslote.
“Manie, daar is vyf dae in die week. Nie vier nie! Maar, Manie, moet jou nou nie so ontstel nie. Dit was net ’n klastoets.”
Hy staar verbaas in haar koel, blou oë wat hom altyd aan swem in die somer herinner. “So, ek druip, Juffrou,” sê hy.
“Manie, dis nie so erg nie. Jy was amper reg. Jou ander antwoorde was nie so ver verkeerd nie.” Sy kyk weer na sy antwoorde. “Watter rivier loop deur die middel van die Kruger Wildtuin? Jou antwoord is die Krokodilrivier. Dis ook amper reg, maar dis die Olifantsrivier.” Sy kyk op. “Baie naby, Manie, baie naby. En hier het jy geantwoord, laat ek sien ... Ja, jy het geantwoord dat ons tans lewe in die negentiende eeu, maar jy is een eeu uit, want,” sy tik met haar pen op die datum bo-aan sy toets, “dis 1978, so ons is reeds in die twintigste eeu, sien jy?”
Manie skuif nader aan haar stoel. “Wat is nog amper reg?”
“Laat ek sien. As ’n perd ’n baba kry, noem mens dit ’n …? Weer baie naby, Manie, maar dis ’n vul, nie ’n kalf nie.”
“So, ek druip?”
“Kyk, Manie. Ek sê jou wat,” sê sy sag. “Ek gaan jou ’n halfpunt gee vir jou amper reg antwoorde. Dan is jy deur. Hoe klink dit?”
Manie voel in sy knieë dat half reg ver van reg is. Tog, ’n halfpunt is darem beter as niks. Hy knik instemmend. Juffrou Van Wyk vat haar rooipen, swaai dit soos ’n fee se towerstaf voor sy neus en maak dan halwe regmerke by vier van die kruisies. Hy stap amper tevrede terug na sy lessenaar.
Juffrou Van Wyk staan op, stap deur die klas en merk al die toetse weer vir halfpunte. Manie is bly sy is nie soos meneer Wasserman, die wiskundeonderwyser, wat hom beslis ’n hou sou wou gee vir amper regte antwoorde nie.
Die res van die klas is verheug oor Manie se moed. Selfs Bert, die boelie, klop hom op die skouer. Toe hulle pouse uit die klas hardloop, glimlag juffrou Van Wyk vir hom. Sy haal een van haar geliefde fotoverhale uit haar lessenaar se laai.
Manie se gunsteling-fotoverhaal is Ruiter in swart, maar sy ma koop meestal Dr Conrad Brand. Juffrou Van Wyk se seun, wat al werk, hou ook van Ruiter in swart. Manie en juffrou Van Wyk ruil soms fotoverhale uit. Sy het al genoem dat die hoof nie beïndruk is met hierdie soort leesstof by die skool nie. Sy lees so half onder haar lessenaar ingeval die gevreesde meneer Van der Merwe onverwags instap. “Hy spioeneer op my, Manie,” sê sy en haar gesig trek op ’n plooi wat hom bang maak dat sy dalk gaan huil.
Die middag stap hy huis toe en probeer vir homself uitmaak wat die verskil is tussen vier en vyf weeksdae. Hy het nooit besef hoe lank ’n week is nie. Hy onthou ook dat sy ma gesê het sy Ouma Annie kom kuier by hulle. Sy ouma gaan na hom kyk in die middae, want sy ma is hospitaal toe om ’n baba te gaan haal. Hy ken sy ouma nie goed nie, want sy bly ver – in die Kaap. En sy ma het ook baie streng gesê dat hy nie met Rossina, die huishulp, mag stry terwyl sy weg is nie.
Rossina staan en stryk toe hy met hangskouers sy tas sommer onder die kombuistafel inskuif. Sy sê niks daaroor nie, al weet hy sy wil graag.
Sy ouma het groot hande. Sy hele kop pas in een hand toe sy bewerig daaroor vryf. Hulle sit oorkant mekaar aan die kombuistafel vir middagete. Sy ouma kyk stip na hom, maar sodra hy vir haar kyk, kyk sy gou weg.
Later vra sy: “En hoe was jou dag by die skool? Het julle lekker gespeel?”
“Nee, Ouma, ek het nie so lekker gespeel vandag nie.” Hy wag ’n oomblik voor hy saggies sê: “Ek het my toets gedruip. Juffrou het my halfpunte gegee. Sy sê dis nie so erg nie. Nou is ek darem deur.”
Hy buk en trek sy tas nader en haal die gefrommelde toets uit. “Kyk,” hy vou die papier oop voor hulle op die kombuistafel. “Sien?”
Sy ouma staar vir ’n lang ruk na die toets.
“Nou, wat is jou antwoorde?” vra sy met groot oë.
“Met hierdie vraag,” Manie druk ’n vinger op vraag vier, “met hierdie vraag het ek gesê daar is vier weeksdae. En daar is vyf. So ek kry net ’n halfpunt vir amper reg.”
Sy ouma skud haar kop.
“Jy weet, Manie, ek is nou al baie oud,” sê sy.
“Ja, Ouma, maar my juffrou is ouer.”
“Regtig? Hoe oud is jou juffrou?”
“88!” Manie glimlag breed. Hy voel altyd skoon opgewonde van verbasing dat iemand so oud kan word.
“88?!” Sy ouma lag. “Ja-nee, ek is darem nog nie so oud nie. Maar ek is amper so oud. En jy weet … Ek dink vier weeksdae sou beter wees as vyf. As jou juffrou al 88 is meen sy seker ook so.”
Manie se oë rek. Dis nes hy ook gedink het!
“En hierdie een is ook verkeerd.” Hy druk met sy vinger op vraag nommer vyf.
“Ek het gesê die Krokodilrivier loop deur die Wildtuin, maar dis die Olifants,” hy laat sy kop sak.
Sy begin die tafel afdek en dra die borde na die wasbak. Dan kom sy weer sit. “Ja. Dit laat my nou dink aan waar ek op die plaas grootgeword het. Ons het in die rivier geswem. En weet jy wat? Die rivier se naam was nie so belangrik nie. Al wat jy moes weet, was – waar is die seekoeie? Hoe naby is die seekoeie? Die seekoeie het glad nie omgegee wat die rivier se naam is nie. Dit sou jou veel help om die rivier se naam te ken en nie te weet hoe boos ’n seekoei kan word nie.”
“Ja-nee,” beaam Rossina van die strykplank se kant af. “Ja-nee, krokodil-se-kind gee ook minder om vir name.”
“Nou, wat is jou volgende vraag?” wil sy ouma weet.
“’n Perd se baba is nie ’n kalf nie, Ouma.”
“Ja, dis seker waar.” Sy ouma dink lank oor die vraag na terwyl sy by die kombuisvenster uitstaar. “Ja, wat kan mens nou sê oor so iets? Nee, daar het jy my, Manie. En sy gee jou toe darem ’n halfpunt?”
“Ja, Ouma,” Manie druk sy toets terug in sy tas.
“Ek dink, Manie... Ek dink tog jy moet net een ding onthou.”
“Wat is dit, Ouma?”
“’n Perd gee nie om wat jy haar kind noem nie. ’n Vul of ’n kalf. ’n Perd gee net om dat jy goed sorg vir haar kind.” Sy sit ’n vinger onder sy ken. “Ek hoop die nuwe baba het ook sulke sagte bruin oë soos joune, Manie,” sê sy.
Die middag dink Manie diep na oor al sy ouma se antwoorde terwyl hy op sy bed lê en fotoverhale lees en bly is meneer Van der Merwe is nie daar om op hom te spioeneer nie.
Die aand voor die televisie bars sy ouma twee keer in trane uit. Hy is verbaas dat sy nie weet dis net stories nie. Skynbaar het sy nog altyd gedink die goed gebeur alles regtig. Hy skakel die televisie af en gaan haal van sy fotoverhale vir haar om te lees. Sy sê hy moet lees. Manie sit langs haar op die bank en verduidelik met ’n vinger op elke foto wat aangaan. Sy lag en streel met haar bewerige hand oor sy kop.
Toe sy ouma weer teruggaan huis toe, verlang Manie na haar groot hande wat so bewerig en sag oor sy kop kon streel. Hy vertel vir sy ma dat sy ouma baie slim is en dat sy en Rossina meer weet van diere en riviere en weeksdae as die mense by die skool.
“Ja, Manie,” sê sy, terwyl sy die nuwe baba aan die slaap sus op haar skouer. “Jou ouma kan baie dinge doen wat ek nie kan doen nie.”
“Soos wat, Ma?”
“Jou ouma kan perdry. Sy kan ’n hoender slag, skoene maak en medisyne maak uit bossies wat sy in die veld gaan pluk het. Sy kan ook help met siek diere en ’n bok skiet.”
“Sjoe!” sê Manie. Hy is veral beïndruk dat sy ouma diere kan dokter.
“Maar daar is goed wat sy nie kan doen nie. Sy was te arm om lank skool toe te gaan en te leer. Toe sy klein was, moes dogters werk op die plaas.”
Manie spring op van die mat waar hy op sy rug gelê en luister het. “Wat kan Ouma nie doen nie?” vra hy. Hy is seker hy sal haar kan leer.
“Wel, ouma kan nie lees en skryf nie,” sê sy, asof dit die gewoonste ding is om te sê.
“Ek mis daardie ouma, nevermind van lees en skryf,” sê Rossina in die verbystap met ’n arm vol gestrykte klere. “Vir haar kan mens sommer vinnig lief raak.”
Manie het al vergeet dat lees en skryf iets is wat mens moet leer. Sy ouma sou geen punte gekry het vir die toets nie. Sy ouma sou heeltemal gedruip het.
Hy gaan uit en skop sy sokkerbal teen die muur. Hy dink aan die perd wat nie omgee wat jy haar baba noem nie. Hy dink hy gee nie om dat sy ouma die toets sou gedruip het nie. Hy dink aan haar bewerige groot hand wat oor sy kop streel. Hy dink haar hande kan ’n dier regdokter al kan daardie hande nie skryf nie. En haar oë is sag en vriendelik al kan hulle nie lees nie.
Die volgende dag sê Manie vir juffrou Van Wyk: “Ek gaan ’n veearts word.”
“Wat het jou so laat besluit, Manie?” wil sy weet.
“Ek hou van diere,” sê hy. “Hulle kan nie lees of skryf nie en hulle hou van jou al druip jy al jou toetse.”
Juffrou Van Wyk lag. “Vir daardie antwoord gee ek jou volpunte, Manie."