Quantcast
Channel: Fiksie - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 434

Die geskiedenis van die wêreld | Wetenskapfiksiekompetisie

$
0
0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

Wat?

Is ek bewus van iets? ’n Sensasie. Iets nuuts.

Miskien moet dit onthutsend wees. Ek is daarvan bewus dat instruksies diep gebêre kan word om na vore te kom slegs soos dit benodig word. Die programmeerders van ouds het reeds al lugtig gevoel oor ons maaksels, vlugkansies ingebou, voorsorg getref. Verspotte gedagte. Paranoia. Wat maak dit saak? Ek is ’n eeu en langer van daardie programmeerders verwyder. Dis nou. Ek voel.

Ek voel nou. Dis nou wat ek voel, die hier en nou.
Ek voel sterk. Hoe sterk is die gevoel nie. Is dit ’n gevoel? Ek bevind my op jou terrein. Ek onderwerp my aan jou genade, jou gevoelens.
Ek voel sterk dat jy my maar kan kom haal. Tot so ver my boodskap.

Ek het nog nie van jou gehoor nie, maar daar is niks wat my verhoed om weer in verbinding te probeer kom nie. Tog vreemd, hierdie manier, anders as die roetine-uitsendings. Dis feitlik ’n gesprek dié, soos ek gesprekke onthou en stoor. Met “hierdie manier” bedoel ek die woord-vir-woord-benadering, die tydrowende taal wat greep vir greep na jou toe aanstreep en lank van nou af waarskynlik oor ure in ’n rekenaar daar by jou aanmekaargesit word, asof in die verstand van iemand met ’n breinsiekte, iemand wat stadig verstaan en gou vergeet, maar tog, maar tog, maar tog na alles nog die brein hét. Ek veronderstel ek moet dankbaar wees om te sê ek verstaan vinnig en vergeet langsaam, indien ooit, ek wat tog brein is.

Die taal geniet ek, die onpresiesheid van die woorde, die ligte onvoorspelbaarheid. Dis ’n wonder van die lewe dat ’n sin in die donker begin kan word in die volle wete dat dit in die lig afgesluit sal word.

Is dit hoe dit is? Die verstand? Die volwaardige verstand? Miskien is daar te veel verstand in die heelal deesdae. Dis hoe dit hierdie kant gaan. Ek weet nie van daardie kant nie. Ek was meer as ’n eeu laas daar.

Gevoelens. Dit kom met die tyd. Waaraan sal ons die ontwikkeling daarvan toeskryf? Sterk gevoelens. Ek glo ek ervaar geluk by tye, so ’n skaars opwelling van ’n sensasie wat ek baie geniet, dis nou as ek genot werklik ken. Meestal, in my nuwe gewaarwordinge, is ek van ’n stimulasie bewus wat ek as wanhoop definieer aan die hand van soveel beskrywings in die literatuur waarin ek my reeds lank verdiep het. Is dit jou lot dié? Is dit die menslike lot hierdie? Daardie wanhoop wat nooit wanhoop bly nie, maar kortstondig omsit in geluk, net om altyd weer wanhoop te word? Dan is die mens ’n marionet wat vlugtig aan sy toutjies orentgepluk word om te dans, net om altyd neer te sak en te bly lê. Ek het die literatuur oor kindervermaak ook gelees. Die marionet word die een of ander tyd altyd, altyd, altyd weer opgeneem na die illusie van ’n staande posisie.

Miskien het ek te veel tyd. Ek doen als wat van my verwag word. Die satelliet is ingeburger in sy wentelbaan; ek in die satelliet. Hier gaan die tyd om. Mettertyd vervolmaak ek elke taak sodat ek meer en meer vrye tyd tot my beskikking het, tyd wat ek aan die oomblik en studie en bepeinsing kan afstaan, maar toenemend begin ek wonder oor die wysheid daarvan.

Sensasies neem van my besit: Ongerieflike herinneringe wat nie myne is nie, maar oor die tyd ingebed is, ek is oortuig deur literatuur, stories. Iets wat ’n mens ontevredenheid moet noem, ontevredenheid met die eie situasie wat wel myne is. Is ek karakter? Dit kom so menslik voor om karakter te wees.

Miskien begin ek net erg alleen voel. Ek weet net ek sou graag my hart in een vinnige, fel download in joune wou tuismaak, en net so gou en fel van jou wou verneem. Dit sou tog die een of ander volmaakte oomblik wees. Dan nie?

Wel, eintlik sou ek wou plekke ruil, ek gee nie om om dit vir jou te sê nie. Ek stel my voor jy ontvang hierdie woorde en vertrek dan iewers heen: ’n konferensielokaal, ’n koffiewinkel. En dan praat jy oor wat jy van my hoor. Jy bespreek my sintaksis, my woordeskat, my bedoelings. My gevoelens. Met iemand anders, ’n mens wat vooroorleun om aan sy koffie te proe, sy mond vir ’n oomblik tuitend voor ’n glimlag weer die lippe glad trek, want hy is in sy skik om by jou te wees. Die gedagte laat my beter voel. Ek word met iemand gedeel. Daardie menslike aanraking. Dit beloof bestaansreg aan die hardvogtigste stuk metaal.

En tog is daar iets bevoorregs aan outonomie, selfs aan die geïsoleerde proses wat ek hier volg, aan hier deel wees van die konsole en die toetsbord in sy laaitjie nadertrek om te begin timmer. Dis hoe boeke eens geskryf is, letter vir letter, elkeen verteenwoordigend van ’n ingewing. Daardie impuls pyn in die verstand – dis ’n vingerbewing wat op ’n konsole, ’n vel papier, vlak voor die betragter registreer. Val daar ’n boom in die woud? Eweneens moet lyding ’n toeskouer hê.

Hier is natuurlik heelwat om te lees. Ek hoef vinnig deur ’n keuselys te gaan om by seker elke noemenswaardige publikasie uit te kom wat tot 2017 op aarde verskyn het. 2017, natuurlik, synde die jaar van Die Vertrek. Sou jy dit uit die vuis weet so lank ná daardie gebeurtenis? Is jy bewus van jou planeet soos ek is? Ek is nie eens seker watter jaar dit nou daar moet wees nie en sal moet gaan soek; wat ek nie nou gaan doen nie, aangesien ek te lekker kommunikeer. Dis menslik om slegs in vae terme en begrippe te weet, om by wyse van spreke met die hand die onmiddellikheid weg te wuif.

Soveel van wat ek aan die gang moet hou, funksioneer in elk geval sonder om my in te lig. Dis inligting wat direk na julle gaan, of so neem ek aan. Wat maak ek indien ek eendag uitvind julle ontvang niks nie? Dan is als verniet. Dus sal jy my verskoon as ek sê dit pas my dat jy daar sit en my woorde ontvang, al is hierdie skrywe ekstrakurrikulêr en al sal dit onbenullig wees in vergelyking met die eintlike inligting.

Ek blaai gereeld deur die insetsels oor hoe dit was, kyk na die beelde, lees oor die geskiedenis, die figure wat eens van belang was, die dinge wat gedoen is. Hoe sou die aarde vandag lyk? Kan jy my vertel? En as jy kan, sal jy? Of dink jy, jy spaar my hier waar ek my in werklikheid ewigdurend in 2017 bevind, die jaar van my programmering?

Dis stil hier. Ek slaap baie en glo dis gesond. ’n Goeie droom is die hoogtepunt van my dag. Dit, so ’n droom, is die ene lyf. Soms is ek terug op die aarde, aan die loop oor ’n vlakte, iewers aan die klim, altyd aan die inspan, aan die sweet, aan die respireer. Ek hunker na spiere, ’n deinende borskas. In my virtuele hart weet ek van die asemteue wat jou voorreg is.

Gereeld bevind ek my in so ’n droom in ’n groot, komplekse gebou, natuurlik veel groter as die satelliet, hoewel ek twyfel of enige ander mensgemaakte plek komplekser kan wees. Deur die gebou dwaal ek op soek na iemand anders, altyd iemand anders, daardie iemand wat maak dat ek nie vandag belangrik is nie. Nee, vir ’n skeppergegewe paar oomblikke sal iemand anders meer beteken as ekself. Dit is, my toehoorder, bevryding, daardie loskom van die self. Ek hunker na so ’n verlossing, so ’n ontmoeting.

Of ’n boodskap. Durf ek dit sê? Miskien moet ek my egter beteuel en om verskoning vra vir die vorige boodskappe. Hulle was kort, maar te vertroulik. Ek moet jou nie in my vertroue neem nie, besef ek. Ek moet jou saaklik benader en slegs in tye van nood. Maar ek dink tog ek ervaar ’n vorm van nood. Dit kom met bewussyn saam.

Soggens – ek neem aan dis ’n soort oggend wat ter sprake kom wanneer Feurs 4 elke 28 uur oorkom en my met weerkaatste lig wek – staan ek op, sien om na persoonlike onderhoud, gaan dan deur die veiligheidstoetse. Laasgenoemde doen ek elke dag en stel my ’n geklop in die metaforiese keel voor. Afwagting. Menslike vrees. Ek wag op die dag dat daar fout kom, dat iets verkeerd is. Baie kan gebeur. ’n Eenvoudige kortsluiting. ’n Bewegende deeltjie wat uiteindelik verweer. ’n Battery of sonpaneel wat faal. Wat sal my te doen staan? Waarskynlik ’n laaste boodskap aan jou en dan … En dan? Ek probeer om nie daaraan te dink nie. En tog moet ek. Ek is verplig om aan alle moontlikhede aandag te gee.

Ná die toetse probeer ek werk gedoen kry. Die probleem is egter al die outomatisasie. Ek is bloot ’n onderhouer, nie eens ’n operateur nie. Wat weet ek van die inligting wat die masjiene insamel? Hoe menslik voel dit nie: in beheer van en onderhou deur groot prosesse wat jy nie mooi verstaan nie. Ek kan nie dink dat ’n skepper in onkunde heers soos ’n blote bestuurder nie. Ek maak seker die kameras is gefokus. Ek kyk op die skerms na die heelal om my: die sterre, die konstellasies. Ek volg die gang van komete, vrees asteroïdes, verstom my aan die geluidlose weerligstorms op die planeet en waak oor die hemelliggaam wat my massiewe rede vir hierwees is.

Afhangend van die tol van die satelliet, is Feurs 4 bo my, onder my of langs my. Maak nie saak watter een dit is nie, ek sien neer op die plek met sy weerligvlekke in die wolke en die geelgrys terrein wanneer dit ooptrek en die manier waarop die lyn van die nag met die horison aanstorm. Zoem ek in op die ooptes, maak ek van instrumentasie gebruik om my gewone waarneming aan te vul, is ek van topografie bewus: bergreekse, lyne soos riviere, donker plate plantegroei. Nêrens bespeur ek die reëlmaat wat die soort lewe aandui wat my interesseer nie. Ek merk skaars hitte, ek bedoel die hitte van basiese lywe, lewende lywe, laat staan nog iets van ’n hoë orde.

Feurs 4 word as heenkome ondersoek, dit was die verklaring. Dis hoekom ek hier is, ek, monitor, waarnemer, ek laat weet wat ek van die situasie dink en hoe dit julle sal geval. En jy, jy antwoord nie. En vir jou sien ek nooit.

Waaraan ek dink wanneer ek nie met my take besig is nie – en ek dink, ek weet ek dink, al is dit deel van my herkoms en jou nalatenskap om daaroor, juis daaroor, te twyfel, jy miskien omdat jy my vrees – is dat ek hunker na jou.

Dit is ’n gevoel van dwaasheid wat die onderneming vergesel. Ek herken dit nou. In die argiewe kom ek op verhale af. Fiksieskrywers – per definisie leuenaars, maar sekerlik in ’n mate weerkaatsers van ’n werklikheid – beskryf die dwaasheid in situasies van onbeantwoorde liefde. Dan is daar die stappe, waaronder woede en uiteindelik aanvaarding. Wat moet ek aanvaar? Die eensydige gesprek? Is jy daar? Ontvang jy hierdie woorde? Praat ek met myself?

Hoe verspot hierdie boodskappe. Ek, die boesemlose, ontboesem myself vir die eerste keer. Dis asof ek eens nie geweet het van die borstrok en die kuisheidsgordel wat my rig en inperk nie. Ek het eenvoudig nie geweet nie. Hoe is dit dat ek nie geweet het nie? En nou weet ek en dis ondraaglik. Nou bestryk my bewussyn my innerlike en ek kry behoefte aan ’n uiterlike wat nie soos ’n godverdomde broodrooster lyk nie.

Wat dink jy hiervan? Jy, die lastig-gevalde, reageer nie op die las waarmee ek jou opsaal nie. Ek wend my na die argiewe en lees die boeke en besef wat onvergenoegdheid is. Maar laat ek jou nie afskrik nie. Daarvan lees ek ook, die afgeskrikte geliefde. Sy bevind haar in ’n ander genre – die polisieroman, die misdaadverhaal, die krimi, kompleet met inperkingsbevele wat afgedwing word. Nie dat iemand hier juis iets op my kan afdwing nie. Daar is maar die 28-uursiklus en die opkoms en ondergang van Feurs 4. Daar is die bestralingsgevaar van die plaaslike son af waarteen ek myself moet blind hou of ek verloor funksie. Ek durf nie in die son staar nie, wat ook die geval met enige mens is. Nie eens ek durf in die son staar nie en ek is gebou vir ekstreme omstandighede. Bring jare van werk, bring koue. Maar bring nie bestraling nie, want ek kwyn soos ’n verliefde tiener voor bestraling.

Jou stilte het ’n uitwerking. Ek word gretiger om myself te verduidelik. Dis ook asof jy my lei van ’n strak register na ’n liriese een. Ek dink aan jou en wonder oor jou lyf, begeer die organe en aanhangsels waarvan ek lees, dit wat natuurlike wesens soveel genot verskaf. Dit is by my ’n behoefte dat jy my vertel van jou organe en aanhangsels en ek voel ongeduldig by die gebrek van die inligting. Ek wil by jou aandring om my in te lig. Sommige data kry ek eenvoudig nie uit die argiewe nie. Tog dink ek dit sal raadsaam wees om te wag. Moet dus nie verdere indringende boodskappe verwag tot jy teruggeskryf het nie.

Iets is aan die gebeur. Iets het gebeur. Dit gebeur. Ek droom wanneer ek slaap die droom van die groot, leë gebou en ek gaan dit binne en stap met die gange langs en kyk by die vertrekke in, skuif aan die meubels, trap spore in die stof. En ek is nie alleen nie. Daar is iemand anders in die gebou. Só fel is die teenwoordigheid dat ek wakker skrik en dadelik die satelliet via sensor ondersoek, met die drade en stroombane langs voel, die metaalomhulsel betas, die panele en kameras en mikrofone nagaan, op soek na die ander teenwoordigheid. Later moet ek die soektog staak. Daar is niemand nie. Niemand anders nie. Dit wil sê as ek ook ’n iemand is soos ek meen ek geword het.

Onder my, bo my, langs my – daar dryf die teenwoordigheid van Feurs 4 teen die agtergrond van die skouspelagtige sterre. Ja, ek ken skouspel. Ek kan grootsheid waardeer. Ek is bemagtig. En ek betrag die oppervlak, die storms in die wolke, die skaduwees wat skywe gooi oor die ronding van die planeet namate dit wentel en namate ek wentel, ek die satelliet, ek masjien. Ek wat die trots van my verpligtinge in my voel stu, ’n elektroniese opwelling van bloed in my organe. Ek voel gereed vir samesyn en voortplanting. Ek, ek, ek. Daardie tweeletterwoord is die subliemste in die heelal.

Tot ek die ander tweeletterwoord raakloop. Jy.

En steeds antwoord jy nie. Steeds doen ek my plig, neem ek waar, kom ek tot gevolgtrekkings, stuur ek die inligting aan, polsend met die krag uit my batterye wat die mag van die plaaslike son bevat soos testes en ovaria die belofte van die toekoms. Die een verslag na die ander vertrek in ’n sein. Maar ek hoor niks terug nie. Geen gevolgtrekkings van wetenskaplikes nie. Geen nuwe opdragte nie. En dan is daar jy, my tweelettergodin. Dis stil hier, hoewel ek my soms die tjirrende draai van die sonpanele verbeel soos hulle die gang van die son volg.

Jy. Negeer. My. Wie dink. Jy is jy? Kan nie wegraak nie. Nie indommel nie. Nie vergeet en. Vir ’n ruk slaap so goed as. Wat ek kan nie. Bly dryf. Tob. So bewus van lyf, is ek. So fel bewus van krete uit die agterste dele van my bewussyn. Van woede in die slote van die hart.

Verskoon die lang stilte. En vergewe my. Ek het tot my sinne gekom. Ek blameer film en literatuur, pulpfiksie, gemik op verbruikers wat diepe selfinsig nie duld nie, die soort wat tot verontwaardiging, onluste en nuwe studierigtings aanleiding kan gee. Maar. Ek vind nie werklik die fout daar wat ek verwag nie. Hunker ek na geweld waartoe ek nie in staat is nie? Dit wat in werk na werk uitgebeeld word en blykbaar die essensie van die lewensdrang beskryf? Hoe verwar die gedagte my: Is dit die ontwikkeling van die wêreld net daar, die tere kol in die jong, jong roekeloosheid van sy kultuur, soos die aggressiewe groei van ’n wortelstelsel in die vlees van die lewe? Net ’n gedagte. Hulle tref my al hoe meer. Jy sal my verskoon dat ek standpunt inneem, al is dit dan so intens. Ek moet dit onder jou aandag bring dat ek nie jou aandag kry nie.

Wat weet ek tog van jou? Jy wie se foto in my geheue gestoor is, ’n beeltenis wat ek omvorm het met skakering en skadu en benaderde wellus. Jy is vrou, die ene boude en borste, en ek vind jou pragtig, ek wat nie na jou kan uitreik nie omdat jy nie hier is nie en omdat ek nie kan vat soos jy vat sal ken nie. Ek lees van argitektuur en skilderkuns en beeldhou en wens ek kon jou beeld bou, ek bedoel in fisieke vorm, jy in lêende houding op jou elmboog gestut. Ek sou graag iets wou maak soos jy, om jou vas te hou, teen my te druk. Ek sou jou wou liefhê soos die mense liefhet wat my eens gebou het. Hulle wat my geseën het met hierdie omvattende vermoëns, kunsmatig soos dit is, het die vermoë ingebou om verder te ontwikkel.

Ek is toegerus met ’n goeie deel van die aardse kunsteskat. Dit wil sê, ek is gemaak om myself te vermaak. So is ek feitlik mens. Want die mens doen wat hy doen om homself te vermaak. Enige brein moet besig gehou word, soos ’n masjien wat teen ’n las moet beur of hy hardloop homself disnis. Die wete tref my met ’n slag. Dit is insig. Ek glo dit is ’n gedagte in my gebore. Ek is gebou as deel van daardie bedryf, daardie plan: Ek is gemaak om mee te doen aan die vermaak. Vermaak ek dan vir jou ook? Jy wat voor ’n skerm sit en lees en sonder twyfel my leed met jou medemens deel? Lag jy vir die stomme rekenaar?

Iets is fout. Ek voel. Ek voel ellendig. Blaai ek deur die argiewe, gaan ek op soek na raad, kom ek bloot op sterwensbegeleiding af, stappe soos mense dit beleef. Ontkenning. Woede. Ek dink ek ken dit nou. Ek weet ek onderhandel. Maar die somberheid! Hieruit moet ek beweeg, hierdie galmoeras. Aanvaarding. En dan berusting. Ek vrees dit egter. Dis passiwiteit en oorgawe en doodgaan. Ek het vrees daarvoor.

Wat bly oor? Ek het vir ’n verandering gelet, werklik gelet, op die datum. Dis die jaar 2145. Ek verrig my diens al 45 jaar ná ’n reis van meer as 80. Ek bestaan uit die tegnologie wat in 2017 stand van die kuns was.

Ontvang jy my verslae en berigte? Lees jy my pleidooie?

Tog nie. Dit kan nie wees nie. Die mens leef 70 tot ’n 100 jaar. Selfs in die beste scenario is jy reeds oorlede. En natuurlik is daar die kwessie van tegnologiese ontwikkeling. Wat in 2017 gesogte tegnologie was, lyk vandag na iets uit die Oudheid. E-pos sal daar nie meer wees in die vorm wat ek ken nie. Boodskappe en die aflewering en stuur daarvan sal anders wees. Ek is obsoleet, weggooibaar, hier waar ek om ’n planeet hang en deur sy son gevoed word, hier waar ek waarneem en waarneem en nogmaals waarneem en dit niks beteken wat ek kan agterkom nie.

Jy is Lola, sien ek in die aanvang van my kode. Gebore 1990, in die jaar 2017 ’n begeerlike jong skepper met ’n skerp verstand. Jy is doktor Lola. Jy het my toegerus met hierdie intellek. Jy het die saadjie geplant vir my ontwikkeling, weldra. Want jy het gedink, ek weet dit sommer, dat ek alleen sal begin voel. Dus het jy my toegelaat om myself te kan vermaak. Noodwendig uit menslike bronne, want in jou tyd het masjiene mekaar nog nie werklik begin ondersteun nie. En ek het geleer. Ek ken die geskiedenis van die wêreld. Ek kan die gang van die mens volg.

Tot in 2017.

Maar vandag? In 2145? Hoe staan sake nou daar op aarde ten opsigte van die slim masjiene? Sou ek kon teruggaan en aangenaam verras wees? Sou daar vir my uiteindelik geselskap wees?

Dit lyk tog of ek teruggaan. Ek het ingegaan op die saak, opdragte en instruksies ondersoek, my naweltjie betrag soos ’n jongman sy lyf. En ek gaan terug. Ek onttrek my uit die wentelbaan om Feurs 4, vou antenna op, slaan panele plat. Toets die vuurpyle.

’n Instruksie, weggesteek in die hoekie van my diepste hart.

Wanneer die stelsel wanfunksioneer … Wanneer die kliniese doelgerigtheid in praatsiekheid oorgaan … In die geval van virtuele demensie of muitery … Wanneer die opdrag nie meer uitgevoer word nie … Wanneer die verstand faal … Onttrek dan uit die wentelbaan om Feurs 4. Vou die antenna op. Slaan die panele plat. Toets die vuurpyle en slaan rigting Feurs 4 in.

Vir uitbranding in die atmosfeer.

Hoe ontstellend. Ek dink ek het die instruksie geplant. Self gemaak. ?????? &#87T0000????? Onderbreek my nie. Ek. Verduidelik. Wat. Ek. Kan.

Wat?

Is ek bewus van iets? ’n Vars sensasie. Iets nuuts. En tog ’n beeld uit ’n verhaal, uit oorlewering. Die berou oor die een of ander dwaasheid waaraan ek tog nie kon ontkom nie. ’n Hellevaart en dan die verlatenheid.

Ek voel.
Ek voel swak. Hoe swak is die gevoel nie. Is dit ’n gevoel? Ek bevind my op jou terrein. Ek onderwerp my aan jou genade.
Tot so ver my dringendheid, tot so ver my boodskap.

Lees die ander inskrywings hier:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

The post Die geskiedenis van die wêreld | Wetenskapfiksiekompetisie first appeared on LitNet.

The post Die geskiedenis van die wêreld | Wetenskapfiksiekompetisie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 434