In hierdie opwindende reeks skryf ’n gepubliseerde skrywer ’n kortverhaal oor ’n ander gepubliseerde skrywer se karakters. Jaco Wolmarans gebruik ’n karakter van Dibi Breytenbach vir hierdie verhaal.
Mocímboa da Praia-lughawe,
Noorde van Mosambiek
Helena gryp my arm. Moenie nou omkyk nie, sê sy. Iemand hou ons dop. ’n Man, naby die skuifdeur. Hy’t so rukkie terug ingekom en gaan sit.
Ek probeer die vertreksaal agter my visualiseer, die man plaas daarin. Skuifdeure aan een kant, rye lae metaalbanke, die glasdeure na die vliegveld aan die ander kant. Toilette skuins voor ons. Daarbinne, vensters wat na buite lei, indien ons vinnig hier moet uit en moet verdwyn.
Nee. Ek het genoeg hiervan gehad. My lomerigheid van vroeër is weg.
“Beskryf hom.”
“Net onder een punt agt. Groot gebou. Swart man, maar nie van hier rond nie. Lyk eerder … ek weet nie … miskien Zoeloe?”
“Wapen?”
“Moontlik. Dra ’n baadjie.” Dis warm. Nie nodig daarvoor tensy hy ’n wapen wil wegsteek nie.
Mosambiekse intelligensie? Een van die militia? Ek het geen idee nie, en ek moet bieg, ná ’n week se koes vir koeëls hier was ek nie vanaand op my skerpste nie.
Ek is tot die dood toe moeg. Gisternag se slaap was ’n doodruk, my eerste in amper vier dae. Maar ek is ver agter. Krapperig. Sielmoeg. Te veel bloed. Hopeloos te veel adrenalien. Ek is nou nog nie regtig oor gisternag se skietgeveg by die polisiekantoor nie. En my nek brand waar ’n AK-ronde sy streep getrek het.
Daniel en Fausto is met ’n militêre heli terug Maputo toe. Jan Botes en Cor Buitendag met die Huey nog in Palma. Hy wag vir klaring om die vliegtuig vir die Amerikaanse ambassade Pretoria toe te vlieg. Ek en Helena wou nie wag nie. Ons vlug vertrek oor ’n uur. Maputo, Johannesburg, huis toe.
Fok weet, ek roer nie uit ons plek vir ’n week nie. As ons dit maak soontoe. Ek het die man by die deur glad nie raakgesien nie. Helena het. Goed, dis haar werk, maar tog … Dit krap.
Ná ’n week van amper-amper leef, moet my geluk een of ander tyd verkeerde kant toe draai.
Ek maak die kamera op my foon oop en swaai dit om agter my op te neem. Knyp met twee vingers om in te zoem. Kry hom, die beeld bewerig voor ek dit stabiliseer op die man in die khaki-groen baadjie. Die soort wat wildwagters dra.
Ek herken die gelaatstrekke, die lyf skraler, die skouers gebuig onder dit wat duidelik ook al die lewe uit sy oë gesuig het.
Ons het ’n gedeelde verlede. Sweet, bloed en derms. Angola.
“Ek ken hom.”
Haar oë rek. Hoe? Ek sit die foon neer, leun terug in my stoel, laat die herinneringe terugspoel.
“Domingos Magadzi. Ons was saam op ’n ops by 5 Recce. Angola.”
Domingos was ’n kleinspan-operateur, soos ek en Carlos, sy buddy, Markus Gerlach. Domingos was ’n demolisie-ekspert, Markus in bevel van ons operasie.
“Ons moes die spoorlyn opblaas. Toe blaas ’n PB ons. Middel van die nag met sy fiets in ons vasgery.”
Die plaaslike bevolking was ’n alomteenwoordige euwel. Hoewel hulle nie noodwendig die infiltrerende SWAPO-magte gesteun het nie, was hulle aansienlik vriendeliker met daardie span as ons.
Dit het lelik geëindig. Domingos het die PB geklits, ons het soos beplan uitmekaar gespat en ure later by ons bombshell-RV ingekruip, die Angolese magte die moer in en kort op ons hakke. Nou nie juis wat ons beplan het nie. Ons moes die aftog blaas, die demolisie vergete.
Domingos was langs my op die grond toe die eerste rondes inkom. Ek sal sy gesig nooit vergeet nie. Blou-blink in die naglig, natgesweet, sy oë wit oopgesper. Nie van vrees nie. Net totale fokus.
Asof hy alles om hom gelyktydig wou inneem.
Dis wat jou uitbrand. Ek het hom dit gesê, ná die tyd. Proe net bietjies-bietjies, of jy gaan dit nie maak nie. En dis wat ek in my foon se skerm gesien het. Daai dooie oë. Staar in die middel-distansie, sien niks, die gedagtes ver. Dis vertwyfeling. Die begin van die einde van jou selfvertroue. Net omdat daardie oë al hopeloos te veel gesien het en nie meer kan prosesseer nie.
“Gaan jy hom groet, Tex?”
Ek weet nie. Domingos het, soos ek, ná die oorlog vryskutwerk gedoen. Private militêre kontrakteurs, lughawens ons deurgangskampe na nuwe avonture. Of jou laaste ops.
Daar was ’n onuitgesproke reël as ons mekaar op lughawens gesien het: Ignoreer mekaar. Vermy oogkontak. Sit eenkant van mekaar. Almal reis met vals paspoorte. Almal is senuweeagtig. Moenie dit moeiliker maak deur die man op sy regte naam aan te spreek nie.
Nie soos nou nie. Domingos staar. Hy wil kontak maak. Ek staan op, stap oor na die deur. Hy is op sy voete voor ek halfpad is. Vleg tussen die banke deur na my kant toe.
“Domingos.” Hy vat my hand, sy ander hand onder my elmboog. Druk hard. Sy gesig is strak.
“Tex.”
Ons laat die stilte hang. In die middel van die saal, neutrale terrein vir albei. Maar iemand gaan dit moet oorsteek. Mense soos ons kruis nie ligtelik paaie in plekke soos hierdie nie. Daar’s ’n storie agter elke toevalligheid.
Ek vou eerste. Ek wil weet.
“Jy op ’n job?” Hy skud sy kop, antwoord woordeloos, die storie in hooftrekke in sy oë. Dood. Slagting. Verlies. Die detail sal weldra volg.
“En jy?”
Ek is pas klaar met een. Hier, in Mosambiek, wys ek. Ek sien sy oë op die verband teen my nek.
“Bietjie naby, daai. Jy moet versigtiger wees.”
“Dit brand soos die hel.”
Hy glimlag, maar sy oë speel nie saam nie.
“Die majoor het dit nie gemaak nie, Tex.”
“Gerlach?” Dit vat my ’n oomblik om in die prentjie te kom. Gerlach was kaptein op ons ops. Hy is waarskynlik as majoor uit die mag. En die twee was destyds al onafskeidbaar. Ek weet nie hoe Gerlach se pad geloop het nie, maar ek sou geld wed dat Domingos se spore al daardie jare in Gerlach s’n sou gevolg het. Daar is nou ’n mistigheid oor sy oë.
“Ek’s jammer, Domingos.” Dis net nie genoeg nie. Dis nooit genoeg nie.
Ons weet daardie dag kom. Dis ons werk. Dis gevaarlik. Ons is voorbereid. Of ons bullshit onsself dat ons is. En tog, wanneer een naby ons weggevat word, is daardie aanvaarding van die onafwendbare altyd skoonveld.
In plek daarvan, die bevraagtekening. Hoekom hy, hoekom nie jy nie. Net ’n fraksie van ’n sekonde verskil, ’n koeël se pad versteur deur ’n grashalm. Toevallig of bestem? Kon jy gehelp het? Dit gekeer het?
Domingos is daar, sien ek. ’n Eiland voor my. ’n Mens alleen in die middel van ’n vertreksaal. Ek kan sien hy soek na sy volgende bestemming.
Kom, wys ek met die kop, en lei hom aan die elmboog na ons tafel toe.
“Ek kry vir ons koffie. Helena, Domingos Magadzi. My vrou, Helena.”
Haar oë flits tussen ons. Wag, sein ek terug, ek sal verduidelik. Sy knik.
“Domingos. Wat het gebeur? Met Markus?”
Die storie kom stamelend, dan tuimelend. Nog bloedlustige militia, hul eie Ibn Sulayfa-klone, private kontrakteurs en ’n mal man op hol onder die PB’s. Markus Gerlach in die middel daarvan. Verkeerde tyd, verkeerde plek. Hy het in die Mosambiekse sand uitgebloei. En as ek so na Domingos kyk, is daar baie van sy trane saam met daai vloed sand-in.
“In die rug geskiet, Tex. Hy’t dit nooit sien kom nie. Hy moes nooit nie hier gewees het nie. Dis my skuld. Ek het hom gemaak vlug.”
Ons koffiebestelling kom. Domingos staar stom vooruit terwyl hy suiker inroer. En nou? Wat is sy planne? Nou gaan hy aanhou vlug. Afrika-in. Laaglê. Hy kan nie terug Suid-Afrika toe nie.
“Jy weet tog hulle kan jou niks doen nie, Domingos? Die parkhoof het eerste op julle geskiet, as ek jou reg verstaan het? Dis selfverdediging.”
“En ek is ’n swart man, alleen, die enigste getuie. Gevlug van die toneel af. Onwettig oor die draad. Nee, Tex, wie de fok gaan my glo? Ek vat nie daai kans nie.”
Sy oë is weer terug in die middel-distansie. Helena is stom. Ek kan sien sy wil vrae vra, maar hou terug. Dis jou vriend. Praat met hom, sein sy.
“Domingos. Jy weet dit help nie? Vlug? Jy vat jou bagasie saam.” Hy bly kyk voor hom, sy roer ’n hipnotiese nimmereindigheid.
“Jy gaan daai bagasie hier moet los, Domingos. Of dit nou jou skuld was of nie. Jy moet dit hier parkeer voor jy ’n kaartjie koop. Gerlach is nie die eerste een wat ons begrawe nie. Jy was saam daar. Angola. Ons het mense verloor. Ons was almal op een of ander manier verantwoordelik, Domingos. Hierdie hande het bloed op. Ons almal s’n.
“Dis hoekom Carlos nou terug is daar. Hy soek landmyne en Claymores. Hy pak sy bagasie daar uit, Domingos, en hy gaan dit alles daar los as hy klaar is. By Lost and Found. Ek sou voorstel jy doen dieselfde. Kom terug. Maar bring net die nodigste terug saam met jou. Net jou herinneringe van die majoor. Nie jou skuld nie.”
Sy lepel klingel in die piering.
“Net handbagasie?”
“Net handbagasie.”
The post Net handbagasie appeared first on LitNet.